Die Koringkorrel Moet Sterf

Prof. Johan Malan. Universiteit van die Noorde

As ons nie bereid is om te sterf vir die wêreld, die vlees en die sonde nie, kan ons nie bruikbare dissipels van Jesus word nie. In só ‘n toestand sal ons “alleen” en “onvrugbaar” wees en nie aan ons doel as Christene beantwoord nie. Die Here Jesus het gesê:

“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug” (Joh. 12:24).

Daar is ’n baie belangrike stap wat enige Christen moet neem voordat hy werklik vrugte kan dra wat by die bekering pas, en dit is die stap van verootmoediging (selfontlediging) en ’n volle oorgawe aan die Here. Die Here Jesus het sy dissipels beveel om ’n tyd lank in gebed en selfondersoek op die vervulling met die Heilige Gees te wag voordat hulle vir Hom kon begin werk:

“En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge. En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Luk. 24:46-49).

Die dissipels was in hierdie stadium reeds gered en het deur die Heilige Gees die vrede van sondevergifnis geken. Op die aand van sy opstandingsdag het die Here Jesus in hulle midde verskyn en gesê: “Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur ek julle ook. En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees” (Joh. 20:21-22). Net een dissipel, nl. Thomas, was in daardie stadium ongelowig en het nie hierdie eerste byeenkoms bygewoon nie. Die volgende Sondag was hy egter by en het uitdruklik sy geloof in die Here Jesus bely (Joh. 20:24-29).

Ten spyte van hul geloof in Christus, wat slegs deur die inwerking van die Heilige Gees moontlik is (1 Kor. 12:3), het die dissipels nog nie die volheid van die Heilige Gees se krag gehad nie. Ná tien dae van verootmoediging en gebed is die Heilige Gees egter uitgestort en is die belofte van vervulling met krag uit die hoogte in hulle lewens vervul:

“Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8).

Vandag geld dieselfde reël van verootmoediging en gebed voordat ons met die instaatstellende krag van die Heilige Gees vervul sal word. Ons móét sterwe aan onsself sodat God se Gees volle beheer oor ons lewe kan verkry. Ons het wél in beginsel vir die ou lewe gesterf toe ons weergebore is (Gal. 5:24), maar by die volle oorgawe pas ons hierdie beginsel daadwerklik toe deur niks te word nie en die volle beheer van ons lewe aan die Here oor te gee. Die vlees (die ou, sondige natuur) is deur die mag van die gewoonte gevestig, en wil voortgaan om die dominante lewensbeginsel in ons te wees.

Voordat innerlike heiligheid ook uiterlike heiligheid kan wees, moet die vlees, of eie-ek, eers oorgelewer word om gekruisig te word. Die koringkorrel van die selflewe moet sterwe, sodat die Gees my kan vervul en ek veel vrug vir die Here kan dra. Hierdie selfverloëning en kruisiging van die ou lewe is ’n absolute voorwaarde vir dissipelskap. Die Here Jesus het gesê:

“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg” (Luk. 9:23).

Aan die ander kant is dit ’n absolute diskwalifikasie vir dissipelskap indien iemand sou nalaat om homself te verootmoedig en die ou lewe te kruisig: “En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie” (Luk. 14:27).

Hoe verloën ek myself? Paulus sê hy roem nie in homself nie, maar in die kruis van die Here Jesus, “deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld” (Gal. 6:14). Paulus roem nie in homself en sy prestasies nie, maar net in die kruis van die Here Jesus. In ’n volle oorgawe lê hy die ou lewe af sodat hy saam met Christus kan sterf (Gal. 2:20). Saam met dit lê hy ook sy liefde vir die wêreld af sodat daar ’n kruis tussen hom en die wêreld ingeplant kan word en hy net vir Christus as wins kan verkry (Fil. 3:7-8).

Baie min Christene is werklik bereid om aan hulleself en vir die wêreld te sterf. Hulle wil die beste van twee wêrelde hê, daarom probeer hulle ook om twee here te dien. Dit is egter totaal onmoontlik om die vlees en die wêreld te behaag, én daarmee saam ook die Here Jesus te behaag. Die vlees (die ou lewe) en die Gees (die nuwe lewe) is totaal onversoenbaar omdat hulle wesenlik teenoor mekaar staan: “Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17).

Dit is eers nadat ek in ’n volle oorgawe die kruis van selfverloëning en selfsterwe opgeneem het, dat die Here my met sy Heilige Gees sal vervul. Dan het ek die krag om die volgende opdrag uit te voer: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16).

Die Korinthiërs was nie Geesvervulde Christene nie en kon glad nie die Here dien deur vrug te dra wat by die bekering pas nie, omdat hulle nog in die vlees was (1 Kor. 3:1-3). Die ongekruisigde vlees was ’n struikelblok in hulle lewe. Die Galásiërs het die Here net ’n rukkie lank in die krag van Gees gedien, en toe weer in ’n vleeslike lewenswyse teruggeval (Gal. 3:3). By die Hebreërs het soortgelyke geestelike stagnasie ingetree, daarom was daar geen geestelike groei en vrugbare diens in die Here nie (Heb. 5:12–6:1).

Het jy al in jou lewe by die punt van ’n ware selfverootmoediging en selfkruisiging gekom? Indien nie, dan het jy nog nie ernstig op die Here gewag totdat Hy jou met krag uit die hoogte vervul nie. As die koringkorrel nie sterf nie, bly dit alleen. As jy by redding uit genade volstaan en nie ernstig na heiligmaking soek nie, kan jy nie ’n godvrugtige lewe lei nie. Jy sal alleen bly en eendag met leë hande voor die Here staan – gered asof deur vuur heen (1 Kor. 3:15). Só ’n persoon se probleem is dat hy nie weet dat hy ’n tempel van die Heilige Gees is, en dat die Gees hom wil bekragtig om veel vrug te dra nie (1 Kor. 3:16).

Indien jy reeds met die Heilige Gees vervul is en daarna in die genade veragter het (Heb. 12:15), kan jy weer met die Heilige Gees vervul word. Oor só ’n tweede vervulling van die dissipels lees ons: “Hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek” (Hand. 4:31). Hulle sal nie met leë hande voor die Here verskyn nie.