Rampe tref Amerika

Vooraanstaande Amerikaanse Christene, asook nuusagentskappe, sê die volgende oor orkaan Katrina en ander rampe wat Amerika tref:

‘n Voorspel tot groter rampe

Jerry Golden (The Golden Report, 1 Sept. 2005) berig as volg: Toe 3000 mense in die Moslem-aanval op die handelsentrum se tweetoringgebou in New York dood is, het ons gedink dat dit die ergste ramp is wat Amerika ooit getref het. Dit was ook die ergste tot nou toe. Wat ons egter vandag aanskou, is veel erger – daar is duisende dood en duisende beseerdes. Meer as ‘n miljoen mense het hulle huise en werk verloor, nie vir ‘n week of twee nie, maar vir jare lank. Dit is nie net mense in New Orleans wat getref is nie, maar ook in Mississippi, Alabama en Florida. Ons kan die natuur hiervoor blameer, ons kan dit aan swak voorsorgmaatreëls toeskryf, of aan George Bush se Padkaart na die hel. Vir wie u ook al blameer, moet u die ramp aan die uiterste goddeloosheid en wetteloosheid van die mense in die streek verbind, dan sal u weet wat om te verwag in die omgewing waar u self woon.

Wat ek op die horison kan sien, is die ideale omstandighede vir ‘n al-Qaida aanval op een van ons groot stede, en ek dink dat hulle besig is om sulke planne te beraam. Die VSA se ekonomie het ‘n groot knou gekry as gevolg van die oorlog teen Irak, en nou ook weens Katrina se verwoestingswerk. Al Qaida kan egter ook besluit om Saoedi-Arabië se olievelde aan te val, of hulle twee groot olie-uitvoerhawens in die Persiese Golf, ten einde uitvoere na die VSA af te sny. Dit sal Amerika ekonomies op sy knieë bring.

Kyk na die goddeloosheid in New Orleans en Biloxi om te kan begryp hoe dit met ander stede in Amerika sal gaan. Daar is verskeie militêre kenners wat glo dat al-Qaida reeds kernwapens in Amerika versteek het, en net vir die regte tyd wag om dit te gebruik. Dit kan nou die regte tyd wees indien hulle die totale vernietiging van Amerika wil bewerk. Die meeste mense het nie ‘n idee wat die gevolg van ‘n kernaanval op ‘n groot stad sal wees nie. Duisende mense sal onmiddellik sterf en baie duisende later as gevolg van kernbestraling. Soos in New Orleans, sal kriminele elemente die res doen wanneer die land bankrot is, of wanneer die olietoevoer afgesny is en nywerhede moet sluit. Werkloosheid sal die onmiddellike gevolg hiervan wees. Diegene wat dink dat hulle veilig in Amerika is, is verkeerd. Hulle moet wakker skrik, en gou ook.

Daar is ook iets anders wat oor hierdie rampe gesê moet word. Een van die belangrikste doelwitte van Satan is om Israel te vernietig, en die vernietiging van Amerika is ‘n middel tot die vernietiging van Israel. George Bush is dalk nie ‘n groot vriend van Israel nie, maar baie van die Christene in Amerika is wel. Die duiwel is van hulle bewus, asook van hulle kennis van die feit dat hulle Israel moet seën om self geseën te word. Dit is waarom die duiwel besig is om oral in Amerika Jodehaat aan te blaas. Die belangrikste behoefte in ‘n tyd soos hierdie is om die Here Jesus te ken. As jy Hom nie ken nie, is dit nou ‘n goeie tyd om op jou knieë te gaan en Hom as Here aan te neem.

Bron: http://www.thegoldenreport.com/

Jerry Golden doen uit Israel verslag

Hier in Israel, wat deur die Here sy land en sy volk genoem word, dink ons terug aan die volgende, onlangse gebeure:

·       Byna ‘n miljoen Jode het by die Klaagmuur op die Tempelberg byeengekom om vir ‘n wonderwerk te bid sodat Sharon en Bush se planne gestuit kon word.

·       Duisende het in die warm son van die Negef-woestyn aan ‘n optog deelgeneem in die hoop om Sharon en Bush daarvan te laat afsien om hulle uit hul huise te sit.

·       Meer as 500 000 Jode het in Tel Aviv vergader om teen die planne van Sharon en Bush te betoog, maar dié leiers het weer hulle koppe weggedraai. Dit was die grootste demonstrasie in die geskiedenis van Israel.

·       Die land waarvoor Israel geveg het, behoort aan die Jode en nie aan die Islamitiese vyande van God nie.

·       Lede van die Israelse weermag het trane in hulle oë gehad omdat hulle nie kon verstaan waarom hulle eerste minister, en ook die president van Amerika, geëis het dat hulle in Joodse huise ingaan om die inwoners te dwing om hulle eiendom aan die Islamitiese vyande van God oor te gee nie.

Terselfdertyd het Hamas en die Islamitiese Jihad in die strate van Gasa gemarsjeer en die dood van alle Jode geëis. Sharon en Bush het nie hierop ag geslaan nie. Ons weet egter dat Sharon en Bush daarvan bewus is dat daar spoedig ‘n oorlog in die Midde-Ooste gaan uitbreek. Die bewys hiervan is die oprigting van ‘n groot Amerikaanse basis in die middel van Israel. Hierdie feit word nie eers verbloem nie, want die Amerikaanse vlag wapper voor die ingang daarvan.

Is daar nog iemand wat nie weet dat Saoedi-Arabië die belangrikste ondersteuner van terrorisme in die wêreld is nie, en dat hulle die hartland van die Wahabitiese Moslem Broederskap is? Kyk net na die manier waarop hulle hande vat – is dit dalk ‘n geheime handdruk?

Genesis 12:3 word deesdae met groot aandag gelees. Hierin sê die Here reguit dat hy diegene sal vervloek wat vir Israel vervloek. Het enige iemand opgemerk hoedat die orkaan Katrina skynbaar van nêrens af gekom het en nouliks ‘n orkaan was toe dit Florida getref het? Binne enkele dae, terwyl die Joodse onttrekking in Israel aan die gang was, het die Here dit tot ‘n kategorie 5 orkaan laat versterk wat reguit op New Orleans afgepeil het – die plek wat as “die stad van sonde” bekend staan. Dit was geen toeval dat die orkaan met die gedwonge onttrekking in Israel saamgeval het nie. Die Here is besig om hard en duidelik met Amerika te praat, maar die vraag is of president Bush daarna sal luister?

Wanneer u aan hierdie gebeure dink, dink aan die meer as ‘n miljoen dakloses, asook die ondraaglike smarte van duisende mense. Dink aan al die dooies en beseerdes. U sien, die Here laat Hom nie bespot nie, selfs nie eers deur die president van Amerika of die eerste minister van Israel nie.

Baie dinge gaan binnekort in die wêreld gebeur, en dit sal die geloof van almal behalwe die ware kinders van die Here skud. Diegene wat net kerk speel en deur mensgemaakte denominasies gebreinspoel is, sal tot ‘n val kom. Diegene wat die Here as hulle God erken en met Hom wandel, sal weet dat hierdie orkaan erger as al die ander was, en dat die Here op dié manier praat met hulle wat ore het om te hoor. Dit is nou tyd vir ons en ons gesinne om onsself voor te berei en die leiding van die Heilige Gees te gehoorsaam. Bid ook om die vrede van Jerusalem.

Bron: http://www.thegoldenreport.com/

Twintig drywende oliebore word in die Golf van Mexico vermis

Volgens Agency France Press word ten minste 20 drywende oliebore in die Golf van Mexico vermis, terwyl ‘n gebreekte gaspypleiding aan die brand is nadat orkaan Katrina die gebied getref het. Uit die Golf van Mexico kom 25% van Amerika se oliebehoeftes. Meer as 90% van die normale daaglikse produksie van 1,5 miljoen vate uit dié gebied is tans as gevolg van die stormskade gestaak. Die toevoer van natuurlike gas is ook erg ontwrig.

Orkaan Katrina keer groot homoseksuele partytjie

Iets waarvan u waarskynlik nie in die media sal hoor nie, is die kansellasie van een van die Suide se grootste homoseksuele orgies wat die naweek in die strate van New Orleans sou plaasvind. Die “Southern Decadence Celebration 2005” is afgelas omdat die tienduisend uitspattige homoseksuele nie ‘n plek in New Orleans het waar hulle hul booshede en perverte gedrag kan beoefen nie. Terwyl die media Amerika se behoefte aan hulp bekend maak, is dit opvallend hoe die arrogansie van die mensdom in uiterste nood kan verander wanneer rampe hulle tref. Die Here se oordele is in die verlede dikwels van hierdie land afgeweer, en sy genade is waarlik oor ons uitgestort. Hoe lank kan die Here nog sy toorn oor Amerika terughou wanneer die bloed van 40 miljoen ongebore babas ons  grond as gevolg van aborsie bevlek? Hierdie rivier van bloed word slegs deur die vuil stroom van pornografie uit die put van die hel oortref waardeur Amerikaners daagliks besmet word. Ons het in ‘n moderne Sodom ontaard waarin tienduisende homoseksuele deur die strate van ons stede marsjeer terwyl hulle daarop aandring om aanvaar te word, en ook dié politici dreig wat hulle probeer teëstaan. Te midde van hierdie sondekultuur is daar ook openlike rebellie en ongehoorsaamheid in baie Christelike kerke – tot só ‘n mate dat hulle na “I Love Lucy” video’s kyk en in die naam van die evangelie rock-konserte borg. Die Here is genadig, maar die beker van sy oordele moet sekerlik begin vol raak as Hy na Amerika kyk.

Terwyl ons vir die slagoffers bid wat alles in hierdie ramp verloor het, en daar so baie onskuldige gesinne is wat niks oor het nie, moet ons ook vir die geestelike toestand van hierdie volk bid. Die sombere tonele van verlatenheid in New Orleans is ver verwyderd van die ligsinnigheid, uitspattigheid en losbandigheid wat vir hierdie naweek beplan was. Dit is ‘n tyd om te rou, nie net vir diegene wat hulle lewens of besittings verloor het nie, maar ook vir hulle wat geestelik bankrot is as gevolg van die stygende gety van boosheid waardeur Amerika verswelg word. Dit is ‘n tyd van diep nadenke omdat die onskuldiges so dikwels saam met die skuldiges ly. Ons sal gedurigdeur moet waak en bid.

Op 30 Augustus 2005 deur Ingrid gepos na www.sliceoflaodicea.com/

Casino’s verwoes

Volgens ‘n berig in www.foxnews.com het casino’s aan die kus ook erg onder die storm deurgeloop. Terwyl Amerika baie Israeli’s uit hulle huise en gedeeltes van hulle land gedwing het, het orkaan Katrina in die Atlantiese Oseaan opgebou. ‘n Verslaggewer van Fox het gesê: “Dit moes ‘n emosionele ondervinding vir baie Amerikaners gewees het om van hulle verwoeste huise af weg te stap met die wete dat hulle nooit weer daarin sal woon nie.” Dieselfde geld vir die Israeli’s wat uit hulle huise verdryf is. Terwyl Israeli-huise verwoes is, is Amerikaners se huise in die Golf-gebied verwoes.

Dit was Amerika se grootste “ontruiming” in sy geskiedenis. Nou het ons ook “vlugtelinge.” Baie Israeli’s moes hulle huise ontruim en leef nou as vlugtelinge in tentdorpe wat vir hulle opgerig is, danksy Amerika se optrede. Hierdie gedwonge verskuiwing en ontworteling van mense sal ‘n effek op Israel se ekonomie hê omdat sommige van hulle bes ontwikkelde uitvoerbedrywe agtergelaat is. Amerika se ekonomie kan ook ‘n fase van resessie beleef as gevolg van al die raffinaderye wat beskadig is. Prysverhogings kan binne dae ingestel word.

Lukas 21:25-26 praat van die see en branders wat dreun, terwyl mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Ons moet egter nie hier ophou lees nie, want daar staan ook: “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Luk. 21:28).

Van Gaza tot Katrina – twee weke van vernietiging

Bill Koenig van “Koenig’s International News” het onderstaande berig op 30 Augustus gepos. In ‘n persoonlike nota sê hy: “Ek sal aanhou om die onttrekkingsaktiwiteite in Israel aan die ernstige gevolge en vernietiging van orkaan Katrina te koppel, en ook aan dit wat nog in die toekoms gaan gebeur.”

God het aan Abraham en sy afstammelinge gesê: “En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Gen. 12:3). Die nasies wat Israel in enige opsig vervloek, beveg of benadeel, sal deur God geoordeel word: “Ek sal al die nasies versamel en hulle na die dal van Josafat laat aftrek, om daar met hulle ‘n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het” (Joël 3:2).

Daar het geweldig baie gebeur sedert die ontruimingsplan in Israel op 17 Augustus in Gasa begin en op 22 Augustus afgehandel is. Die volgende is die belangrikste gebeurtenisse van die afgelope twee weke:

·       Israel tref voorbereidings vir die Gasa-onttrekking – 13-16 Augustus.

·       Die VSA waarsku oor nuwe aanvalle wat in Londen en in Amerikaanse stede kan plaasvind – 14 Augustus.

·       Amerika reik ‘n tender vir 80 miljoen dosisse pokke-entstof ten bedrae van een biljoen dollar uit, as’n voorsorgmaatreël teen terroriste-aanvalle – 17 Augustus.

·       Israel begin met die ontruiming van nedersettings in Gasa en noordelike Samaria – 17 Augustus.

·       Die Israeli weermag bestorm ‘n sinagoge in Gasa – 17 Augustus.

·       “Almal het meegevoel oor wat in Israel gebeur, maar dit kan nie tot Gasa alleen beperk word nie,” sê Amerika se minister van buitelandse sake, Condoleezza Rice – 17 Augustus.

·       Rusland wys Amerika daarop dat ‘n militêre aanval op Iran groot probleme in die wêreld sal skep – 17 Augustus.

·       Die eerste gekombineerde Russies-Sjinese militêre oefening begin, waardeur ‘n duidelike politieke sein aan Amerika getuur is – 18 Augustus.

·       Katyusha-vuurpyle word op Amerikaanse skepe in Eilat en Akkaba afgevuur – 19 Augustus.

·       Israel voltooi sy ontruiming van Gasa – 22 Augustus.

·       Ariel Sharon en die Palestynse leier Mahmoud Abbas verbind hulleself in ‘n telefoongesprek tot vrede – 22 Augustus.

·       Die sloping van huise in Gasa gaan voort – 22 Augustus.

·       Die tropiese storm Katrina begin vorm – 24 Augustus

·       Katrina ontwikkel in ‘n orkaan – 25 Augustus.

·       Orkaan Katrina tref suidoos-Florida – 26 Augustus.

·       Orkaan Katrina neem in die Golf van Mexico in sterkte toe – 27 Augustus.

·       Rusland en Sjina sluit hulle 8 dae lange militêre maneuvers af – 26 Augustus.

·       ‘n Selfmoord-bomplanter slaan by ‘n Israeli busterminus toe, die eerste aanval van dié aard ná die Gasa-ottrekking – 28 Augustus.

·       Die Amerikaanse oorlog teen terrorisme kos meer as alle ander oorloë – 29 Augustus.

·       Sharon: meer nedersettings in die Wesbank moet ter wille van vrede opgeoffer word – 29 Augustus.

·       Katrina veroorsaak grootskaalse verwoesting in Mississippi en New Orleans, en laat duisende mense dood en ander dakloos – 29 Augustus.

·       Orkaan Katrina kan die Amerikaanse ekonomie laat verlangsaam – 29 Augustus.

·       Grootskaalse reddingsoperasies word georganiseer – die grootste ooit as gevolg van ‘n natuurramp – 30 Augustus.

·       Die olieprys bereik ‘n nuwe rekordhoogte van $71 ná Katrina – 30 Augustus.

·       Die skade as gevolg van Katrina kan versekeraars $25 biljoen kos – 30 Augustus.

Bron: http://watch.org/