Prof. Johan Malan, Universiteit van Limpopo (April 2006)
Daar is duidelike Bybelse aanduidings dat die Antichris uit die Midde-Ooste sal kom, uit ‘n land ten noorde van Israel. Sommige van sy name dui onmiskenbaar hierop, bv. die Assiriër (Jes. 10:12-14) en die koning van die Noorde (Dan. 11:36-45). Hy sal ook die eindtydse koning van Babel wees wat aan die hoof van ‘n Babiloniese alliansie van valse gelowe sal staan (Op. 17) en ook die węreldekonomie sal beheer (Op. 18).
Dit bring mee dat die Antichris uit die hart van die moderne Islamitiese węreld sal kom. Wanneer sy węreldryk tydens die wederkoms van Christus vernietig word (Op. 19:19-21), sal dit terselfdertyd ook ‘n finale vernietiging van Islam se mag wees, wat deur die herstelde Babiloniese ryk verteenwoordig sal word (Jer. 50 en 51; Op. 18).
Met die oog hierop moet verwikkelinge in die Islamitiese węreld in die lig van Bybelse profesieë oor die eindtydse opmars van die Antichris beoordeel word. Moenie die fout maak om die pous as die Antichris te beskou nie, want uit Israel se oogpunt kan hy nooit die Assiriër of die koning van die Noorde wees nie. Nie een van die afgeleefde ou mans wat gewoonlik as pous verkies word, sal ooit die tipiese rol van die Antichris kan vervul nie. Hy sal ‘n jong, dinamiese leier en oorwinnaar wees wat die verbeelding van die massas sal aangryp (Op. 13:3-4).
Verskeie kenners van Bybelse profesieë, onder andere ook Hal Lindsey, maak die fout om die pous as die Antichris te sien. Hulle argumenteer dat die herstelde Romeinse ryk die magsbasis van die Antichris sal wees, en dat Rome ook in die eindtyd hierdie ryk se hoofsetel sal wees. Die groot fout wat hulle begaan, is dat die Antichris nie net die hoof van die herstelde Romeinse ryk sal wees nie, maar terselfdertyd ook die hoof van die herstelde Babilonies/Assiriese ryk, die Medo-Persiese ryk en die Griekse ryk.
Hy word in Openbaring 13:1 voorgestel as ‘n dier met sewe koppe en tien horings. Die sewe koppe dui op sewe węreldregerings wat almal antichristelike regerings gehad het wat die volke onderdruk en in assosiasie met valse godsdienste regeer het. Hulle was deur dieselfde gees deurdronge. In die jaar 95 n.C. toe Johannes sy profesieë oor Openbaring op die eiland Patmos geskryf het, het vyf van hierdie sewe ryke reeds geval, die sesde een, die Romeinse ryk, was aan die bewind en die sewende een, die eindtydse ryk van die Antichris, was nog toekomstig (Op. 17:8-10). Die eerste vyf wat reeds geval het, is die ou Babiloniese węreldryk van Nimrod, die Assiriese ryk, die herstelde Babiloniese ryk van Nebukadnesar, die Medo-Persiese ryk en die Griekse ryk.
Die sewe berge waar die vrou (valse węreldgodsdienste) op sit, is dus sewe opeenvolgende węreldryke en nie die sewe berge van Rome nie. Hierdie berge stel konings (of koninkryke) voor en nie sewe Romeine keisers nie. Tussen Nero en Konstantyn alleen was daar tien keisers in Rome.
In elk geval word die dier (die Antichris) nie aan die Romeinse ryk alleen gekoppel nie. Hy het wel tien horings en tien krone op sy kop (Op. 13:1) wat op ‘n vennootskapsregering in die herstelde Romeinse ryk dui. Hy het egter ook die kop van ‘n leeu waardeur sy Babiloniese assosiasie aangedui word (Op. 13:2; Dan. 7:4), die pote van ‘n beer wat op sy Medo-Persiese verband dui (Op. 13:2; Dan. 7:5) en die lyf van ‘n luiperd wat op sy Griekse oorsprong dui (Op. 13:2; Dan. 7:6). Die Assiries/Babiloniese gebied (die huidige Sirië en Irak) is gemeenskaplik in al hierdie ryke. Hierdie gebied, saam met sy omringende Islamitiese vestings, bied aan die Antichris die terrein vir sy eindtydse openbaring.
Dit is dus nie korrek om eensydig net na die dier met die sewe horings op sy kop (Dan. 7:7-8) te kyk en oorhaastige gevolgtrekkings te maak dat die Antichris uit die herstelde Romeinse ryk na vore sal kom en dus uit Italië sal regeer nie. Ons moet ook Daniël 8 lees, waarin dieselfde Antichris se oorsprong uit die verdeelde Griekse ryk ná Alexander die Grote beskryf word (Dan. 8:5-9,21-25). Die vier horings van hierdie dier (Macedonië, Tracië, Sirië en Egipte) het nie beheer oor Italië beoefen nie en sluit dié land dus uit as ‘n plek van oorsprong vir die dier.
In Daniël 11 word die fokus verder verskerp, want hier word ‘n magstryd tussen twee konings in die Griekse ryk beskryf, naamlik die koning van die Noorde (Sirië) en die koning van die Suide (Egipte). Die Antichris is die eindtydse koning van die Noorde (Dan. 11:36-45), daarom kan daar glad nie enige twyfel oor sy Midde-Oosterse oorsprong uit ‘n Islamitiese land direk ten noorde van Israel wees nie. Die Siriese provinsie was in elk geval ook deel van die Romeinse ryk, daarom weet ons dat die eindtydse herstelde Romeinse ryk ná die koms van die Antichris uit die Midde-Ooste beheer sal word – nie uit Brussels of Rome nie.
Johannes sę dat die dier self ook ‘n unieke, agtste węreldryk sal vorm wat uit die vorige sewe voortvloei (Op. 17:11). Hy sal vir sewe jaar lank bewind oor die aarde voer (Dan. 9:27), maar dit sal binne die raamwerk van twee regeringstelsels wees. Gedurende die eerste 3˝ jaar sal hy as ‘n valse vredevors ‘n vennootskapsregering saam met tien ander konings in die Europees-Midde-Oosterse gebied vorm. Drie van hulle sal vir hom moet plek maak terwyl hy sy persoonlike magsbasis verder uitbrei (Dan. 7:8).
In die laaste 3˝ jaar sal die Antichris met die ondersteuning van die draak (Satan) en die valse profeet tot alleenheerkappy oorgaan en ‘n militęre diktatuur vir die hele węreld instel (Op. 13:2,4,7,11-18). Die konings wat in die eerste 3˝ jaar saam met hom regeer het, “sal hulle krag en mag oorgee aan die dier” (Op. 17:13).
Hierdie regering word met die ou Babiloniese ryk verbind, daarom noem die Bybel die alliansie van valse węreldgodsdienste “verborge Babilon” (Op. 17:5) en die stad van die Antichris “Babilon” (Op. 18). Die beskrywing van die finale, eindtydse vernietiging van die Babiloniese ryk tydens die komende dag van die Here (Jes. 13:9-22; Jer. 50 tot 51; Op. 18) sal terselfdertyd die val van die Antichris se Mediterreense (Europees/Midde-Oosterse) ryk, sy herstelde Babilonies/Assiriese ryk, sy herstelde Medo-Persiese ryk (Irak en Iran), sy herstelde Griekse ryk wat uit die Siriese provinsie beheer sal word, én sy węreldryk oor alle nasies wees. Dit sal tydens die koms van die ware Messias gebeur (Op. 19:19-21), en daarna sal Hy self die węreld van die herstelde troon van Dawid af uit Jerusalem regeer (Hand. 15:16-17; Jes. 2:2-4; Jer. 3:17).
Die Antichris sal veel magtiger as die pous, die president van Amerika of die hoof van die Europese Unie wees. Sy groot mag sal van Satan self af kom, want die draak sal hom sy krag gee en sy troon en groot mag (Op. 13:2; vgl. 1Joh. 5:19). Al die węreldleiers, insluitende godsdiensleiers, sal hom as God se spesiale gesant na die aarde eer en navolg (Op. 13:3).