Johan Malan
Uit die oogpunt van Bybelse profesieë is Irak geweldig belangrik. Hierdie land is só belangrik dat daar om goeie redes verwag word dat die Antichris hier sy verskyning sal maak. Volgens die Bybel sal daar in die eindtyd nie net een van die grootste bedreigings vir wêreldvrede uit Irak kom nie, maar ook die inisiatief vir ‘n valse vrede waardeur die hele wêreld 3½ jaar lank verenig sal word.
In Bybelse tye het die huidige Irak in verskillende tydperke verskillende name gehad. Dit het bekend gestaan as Mesopotamië (Dit beteken “Land tussen die twee riviere” – dit is die Eufraat- en Tigrisriviere). In antieke tye was die land ook as Chaldea, Sinear en Babilonië bekend. Die eeerste wêreldryk is hier deur Nimrod gestig, wat die bouer van die stad Babilon teenaan die Eufraatrivier was. Babilonië was toe ‘n veel groter gebied as die huidige Irak. Daarna het die Assiriërs die Babiloniërs oorwin en het hulle ryksgebied as Assirië bekend gestaan. Dit het van die Middellandse See af tot aan die Persiese Golf gestrek. In 612 v.C. het die Chaldeërs die Siriërs oorwin en sodoende die nieu-Babiloniese ryk gestig. Nebukadnesar was die tweede koning van die herstelde ryk, met Babilon as hoofstad. In 586 v.C. is Jerusalem deur die Babiloniërs verwoes en is talle Jode as ballinge na Babel weggevoer. In 539 v.C. is Babel deur die Perse verower. Daarna was Babilonië onder verskillende ander volke se beheer. In beide die Griekse en Romeinse ryke het dit as die Siriese Provinsie bekend gestaan. Uiteindelik het hierdie gebied in die sewende eeu n.C. in die hande van die Arabiere geval, en het later in aparte lande verdeel geraak, naamlik Irak, Sirië, Libanon en Koeweit.
In die boek Daniël kry ons ‘n duidelike aanduiding dat die Antichris uit die antieke Babilonië sal verrys, wat later ook as Assirië en die Sriese Provinsie bekend gestaan het:
· In Daniël 7:7-8 word die Antichris se herkoms binne die verband van die ou Romeinse ryk as een uit tien voorgestel. Hieruit alleen is dit nie duidelik uit watter een van die tien lande die Antichris sal kom nie, en kan dit bv. ook Italië of Engeland wees. Hou egter in gedagte dat die Siriese provinsie (wat die huidige Irak insluit) ‘n deel van die Romeinse ryk was.
· Daarna word die Antichris in Daniël 8:8-9 as een uit vier voorgestel, wat die vier provinsies in die verdeelde Griekse ryk is. Nou word die kring nouer getrek en tot Oos-Europa en die Midde-Ooste beperk. Sirië (wat die huidige Irak insluit) was een van dié vier provinsies.
· Uiteindelik word die Antichris in Daniël 11 as een uit twee voorgestel, wat die gebiede van die koning van die Noorde en die koning van die Suide in die verdeelde Griekse ryk ná Alexander die Grote was. Die noordelike provinsie was Sirië en die suidelike een Egipte. Die historiese stryd tussen hulle word in Daniël 11:2-35 beskryf, en die eindtydse koning van die Noorde, wat ‘n tipe van die Antichris is, in Daniël 11:36-45. Hy sal dus uit Irak of Sirië kom.
In Jesaja 10 is ook ‘n duidelike profesie oor die herstelde Assiriese ryk van die eindtyd. Dit word in Jesaja 10:20 duidelik binne die verband van die dag van die Here geplaas, wat ‘n verwysing na die komende groot verdrukking is. In hierdie gedeelte is die koning van Assirië ‘n verwysing na die Antichris. Ek haal vir u aan uit Jesaja 10:12-14:
“Maar as die Here sy werk voltooi het op die berg Sion en in Jerusalem, dan sal Ek besoeking doen oor die vrug van die grootsheid van die hart van Assirië se koning en oor die gepraal van sy hoë oë. Want hy sê: Deur die krag van my hand het ek dit gedoen en deur my wysheid, want ek is verstandig; en die grense van die volke het ek verwyder, en hulle voorrade het ek geplunder; en die wat op trone sit, het ek soos ‘n maghebber neergewerp. En my hand het na die rykdom van die volke gegryp soos na ‘n voëlnes, en ék het die hele aarde bymekaargeskraap soos ‘n mens eiers bymekaarskraap wat verlaat is; en daar was niemand wat ‘n vlerk verroer of ‘n bek oopgemaak of gepiep het nie” (Jes. 10:12-14).
Dit is dus baie duidelik dat die Antichris die moderne koning van Assirië sal wees. Let daarop dat hy ‘n nuwe wêreldorde van internasionale eenheid gaan instel waarin grense tussen vroeëre soewereinse state weggeneem en die magte van hulle regerings ingekort sal word. Hy sal ook sonder enige teëstand beheer oor die wêreldekonomie verkry. Hiermee saam sal hy ‘n huwelik tussen godsdiens en politiek bewerkstelling deur homself as wêreldleier ook te vergoddelik. In Daniël 11 word na hierdie selfde eindtydse koning as die koning van die noorde verwys wat homself tot God sal verklaar. Ek haal aan: “En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel… en dié koning sal doen net wat hy wil en homself verhef en hom groot hou bo enige god… en op die gode van sy vaders sal hy geen ag slaan nie, want hy sal homself bo alles groot hou.”
Die voortdurende offer wat die Antichris sal afskaf, dui op die offers in die herboude tempel in Jerusalem wat hy sal afskaf sodat hy ‘n ontsettende gruwel in die plek daarvan kan opstel. Hierdie ontsettende gruwel dui op ‘n afgodsbeeld van homself wat in die tempel ingebring sal word en tot verpligte afgodediens sal lei. Volgens Daniël 9:27 sal hy dit in die middel van ‘n jaarweek doen, met ander woorde presies in die middel van sy regering van sewe jaar. Toe die dissipels aan die Here Jesus ‘n teken oor sy wederkoms gevra het, het Hy in Mattheus 24 van vers 15 af gesê: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom… dan moet dié wat in Judea is na die berge vlug… want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie.” Die gruwel van die verwoesting verwys na die Antichris wat as ‘n gruwelike verwoester die herboude tempel sal betree, homself bo alle gode en godsdienste op aarde sal verhef deur homself tot God te verklaar, en ook die aanbidding van ‘n beeld van hom sal gelas. Hierdie scenario is beslis eindtyds, want in sy profetiese rede in Mattheus 24:29-30 sê die Here Jesus dat sy wederkoms dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal plaasvind. Paulus het ook in 2 Thessalonicense 2 na die selfverheffing en selfvergoddeliking van die Antichris verwys toe hy hom beskryf het as “die teëstander wat homself verhef bo al wat god genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.” Dit dui op ‘n daad deur ‘n eindtydse Antichris, want Paulus voeg in vers 8 by dat die Here Jesus die Antichris deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak. Dit wat in die laaste deel van Daniël 11 beskryf word, gaan dus eers in die eindtyd in vervulling.
Dit is dus duidelik dat daar in die eindtyd ‘n valse vredevors in die ou Babilonië of Assirië sal verrys wat homself tot God sal verklaar en die aanbidding van alle mense sal opeis. Soos Nebukadnesar van ouds sal almal wat weier om neer te val en sy beeld te aanbid, in ‘n vuuroond van vervolging sterf. Openbaring 13:15 sê dat almal wat sal weier om die Antichris se beeld te aanbid, gedood sal word. Die vrede en eenheid wat hy sal bring, sal op godsdienstige misleiding gebaseer wees. Hy sal homself bo alle gode groot hou deur hom bo alle godsdienste te verhef. Hy sal dus ‘n multigodsdienstige ideologie propageer en homself as die universele messias van alle gelowe voorhou. Wanneer hy dit gedoen het, sal hy kort daarna tot die stap oorgaan om homself nie net slegs as wêreldmessias nie maar as God te verklaar. Hy sal genadeloos op al sy teëstanders toeslaan, en dan sal 1 Thessalonicense 5:3 vervul word: Hulle sal sê: Vrede en veiligheid, dan oorval ‘n skielike verderf hulle.”
Hoe kan ons hierdie profetiese beskrywing in verband bring met dit wat huidiglik in Irak gebeur? Sedert 1978 is ‘n gedeelte van die ou stad Babilon op die walle van die Eufraatrivier herbou, insluitende die suidelike deel van Nebukadnesar se paleis. Tans is Babilon egter nie veel meer as ‘n toeristesentrum met hotelle, ‘n aantal geboue en die pilaargang van Isjtar nie. Volgens Openbaring 17 en 18 gaan Babilon egter weer ‘n groot rol in die wêreldgeskiedenis speel. Openbaring 17 verwys na verborge Babilon, wat die Babiloniese godsdiens is, terwyl Openbaring 18 na Babilon as ‘n florerende handelstad en sentrum vir uitspattige vermaaklikheid verwys. Hierdie twee hoofstukke staan in ‘n noue verband met mekaar, want verborge Babilon gaan ook ‘n tuiste in die herboude stad vind. Die valse Babiloniese godsdiens van antieke tye het sterrewiggelary, waarsêery, spiritisme, die verkryging van ‘n kosmiese bewussyn, die navolging van ‘n priester-orde met spesiale magte, die verering van ‘n priester-koning en die aanbidding van die songod en die hemelgodin met haar kind ingesluit. Die valse godsdienste van die wêreld het uit hierdie gebruike ontwikkel, en in die eindtyd sal hulle weer in ‘n multigodsdienstige ekumeniese liggaam as verborge Babilon, die moeder van die afvalliges, gestalte aanneem. In Sagaria 5:5-11 word na ‘n vrou in ‘n efa verwys wat as goddeloosheid beskryf word. Dit verwys na hierdie moederorganisasie van valse Babiloniese godsdienste. In vers 11 word gesê dat daar vir haar ‘n huis in die land Sineaer (dit is Babilonië in die huidige Irak) gebou word, en wanneer dit klaar is, sal sy op haar plek neergesit word. Dit is dus baie duidelik dat Babilon die finale tuiste van die multigodsdienstige organisasies van ons tyd is.
Volgens Daniël 9:27 is dit duidelik dat die Antichris vir ‘n tydperk van sewe jaar lank ‘n sterk verbond met baie nasies sal sluit. Vir die eerste 3½ jaar sal hy die wêreld as ‘n valse vredevors uit die ou Babilonië regeer en ook Babilon as sy hoofstad herbou. Daarna sal daar opstande teen sy wêreldryk wees en sal hy die laaste 3½ jaar as ‘n militêre tiran regeer. Alle mense sal dan gedwing word om hom te aanbid en sy nommer op hulle regterhand of voorkop te ontvang om te kan koop en verkoop. In daardie stadium sal die herstelde Babiloniese ryk, waarna in die Bybel soms as die Assiriese ryk verwys word, weer in elke opsig sy rol as die vesting van ‘n bose, God-verwerpende koninkryk vervul. Eers dan sal Babilon deur die oordele van God met vuur verbrand word.
Uit die hierdie skrifgedeeltes is dit duidelik dat daar nie van 'n geleidelike verval en agteruitgang van die stad oor eeue heen gepraat word nie. Die vernietiging van Babilon sal in een uur plaasvind. Soos in die geval van Sodom en Gomorra, sal dit deur vuur verteer word (Jes 13:19; Jer. 50:40). Dit sal met 'n groot aardbewing en aanhoudende donderslae en weerlig gepaard gaan, en dan sal die stad met 'n gedruis in 'n poel van vuur wegsink om nooit weer opgebou of bewoon te word nie (Op. 16:17-19; 18:21). Die rook van haar verbranding sal donker wolke oor die vlaktes van Sinear vorm wat selfs van skepe af op die Persiese Golf gesien sal kan word. Dit is die uiteinde van 'n koninkryk, 'n ideologie én 'n gemeenskap wat die rug op God gedraai, sy gesag en genade versmaai, en in openlike rebellie teen Hom geleef het.
Wat sal van die relatief klein groep inwoners van Babilonië, Sirië, Egipte en ander Arabiese lande word wat die groot verdrukking sal oorleef? Volgens Mattheus 24:30 sal al die stamme van die aarde rou bedryf wanneer hulle die ware Christus aan die einde van die groot verdrukking op die wolke van die hemel sien kom. Almal van hulle sal met diepe berou oor hulle sonde en ongeregtigheid tot bekering kom en die Here Jesus van harte dien. Die duisendjarige vrederyk sal dan aanbreek en geen valse godsdienste daaarna meer bestaan nie. Net die kraters van verwoeste Babilon sal aan hulle vroeëre bestaan en tragiese uiteinde herinner. Oor die nuwe situasie wat in die Midde-Ooste sal heers, sê Jesaja die volgende met betrekking tot die komende dag van die Here tydens die vrederyk:
Hoewel Israel volgens Jeremia 31:7 in die vrederyk die hoof van die nasies sal wees, sal Egipte en Assirië hulle voorgaan in lofbetuiging aan die Here. Eers wanneer die ware Vredevors kom, wat ook Koning van die konings sal wees, sal daar blywende vrede op aarde wees. Tot daardie tyd sal daar toenemende ongeregtigheid, oorloë, natuurrampe en ‘n valse, sataniese vrede wees waardeur die nasies mislei sal word om die duiwel en sy valse Christus te aanbid.