Babilon se Herstel en Verwoesting

Dit is uit die Bybel baie duidelik dat die Babiloniese godsdiensstelsel as ‘n ekumeniese liggaam (Op. 17) én Babilon as ‘n handelstad (Op. 18) herstel moet word sodat hulle in die komende verdrukking finaal tot ‘n val kan kom en totaal vernietig word wanneer die oordele van die dag van die Here oor hulle uitgestort word. Dit sal die einde van die opstandige nasies se lang geskiedenis wees wat deur selfverheffing, magsmisbruik, rebellie teen God en die beoefening van valse godsdienste gekenmerk is.

Die geskiedenis van die nasies het ná die sondvloed in die land Sinear (die huidige Irak) begin, waar Nimrod die stad Babel teenaan die Eufraatrivier gebou het (Gen. 10:8-10). Dit was die eerste goddelose wêreldryk, wat daarna deur ander soortgelyke wêreldryke opgevolg is, naamlik die Assiriese, neo-Babiloniese, Medo-Persiese, Griekse en Romeinse ryke. Die sewende en laaste wêreldryk sal in ‘n sekere sin die herlewing van al die vorige wêreldryke wees omdat hulle gemeenskaplike doelstellings gehad en almal in assosiasie met valse godsdienste regeer het. Die Bybel verwys na die eindtydse ryk as “Babilon” omdat dit die vroegste oorsprong van die misleide mensdom se politieke, godsdienstige en ekonomiese rebellie teen God en sy ryk (insluitende sy volk Israel) was, én ook die laaste manifestasie daarvan sal wees.

Nimrod, wat die bouer van die antieke stad Babilon en die vestiging van die Babiloniese wêreldryk was, is ‘n tipe van die eindtydse Babiloniese koning, wat die Antichris sal wees. Soos wat Nimrod die stad Babel gebou het, sal die Antichris dit herbou. Dit sal in groot haas met internasionale deelname gebeur. Deur die bou van die tempel van Mardoek en die toring van Babel, het Nimrod in sy ryk ‘n magsposisie aan ‘n valse godsdiens verleen. Die Antichris sal dit ook doen, daarom sal die vrou wat verborge Babilon, die moeder van al die afvallige gelowe genoem word, op sy rug ry (Op. 17:3-5). Hierdie ekumeniese organisasie van valse godsdienste (die goddelose vrou) sal baie aangetrokke tot die plek van haar vroegste oorsprong in die land Sinear wees, daarom sal haar hoofkwartier inderdaad weer hierheen verskuif word (Sag. 5:5-11). Soos wat Nimrod nog met die bou van die toring besig was toe die oordele van God dit getref het, sal die eindtydse Nimrod (die Antichris) ook nog met Babilon se opbouing besig wees wanneer dit finaal vernietig sal word.

Babilon se herbouing?

Daar is mense wat ernstige bedenkings het of Babilon ooit weer as ‘n stad opgebou sal word van waar die wêreldhandel beheer kan word. Die bewering word gemaak dat Irak so ‘n agterlike land is dat dit onwaarskynlik is dat die Antichris dit as ‘n tuisbasis vir sy wêreldryk sal gebruik. Die mening word deur verskeie mense uitgespreek dat Rome, New York, of selfs die hele Amerika, eerder as die “moderne Babilon” gesien moet word.

Ons is egter daartoe verbind om die eindtydse vervulling van profesieë oor Babilon se herstel en vernietiging letterlik op te neem. Die Here het van die histories bekende stad Babilon gesê dat dit ná sy finale vernietiging ‘n ewige wildernis soos Sodom en Gomorra sal wees, wat nooit weer deur enige mense bewoon sal word nie (Jes. 13:19-22; Jer. 50:39-40; 51:61-62). Dit sal eers in die dag van die Here gebeur (Jes. 13:9), wat met die komende groot verdrukking onder die bewind van die Antichris sal saamval. Jeremia 51:63-64 sê dat Babilon permanent sal verdwyn soos ‘n klip wat in die water gegooi word en in die dieptes wegsink.

Hierdie absolute en finale verwoesting van Babilon, wat ten spyte van verskeie gedeeltelike verwoestings nog nooit gebeur het nie, word ook in Openbaring 18 beskryf. Die stad sal in een uur met vuur verwoes word en dan in ‘n brandende sinkgat verdwyn (Op. 18:2,8-10,20-21). Proff. Walvoord en Zuck sê in hulle Bible Knowledge Commentary die volgende oor Openbaring 18: “The question remains as to what city is in view here. A common view is that it refers to the city of Rome, because of the prominence of Rome as the seat of the Roman Catholic Church and the capital of the ancient Roman Empire... Evidence seems to point to the fact that it is Babylon itself, located on the Euphrates River. When all the evidence is studied, the conclusion seems to point to Babylon being rebuilt as the capital of the world empire in the end time.”

In hulle kommentaar oor Jeremia 50 en 51, verwys hierdie kenners na sowel die aanvanklike, gedeeltelike verwoesting van Babilon as die eindtydse, finale verwoesting daarvan: “Jeremiah’s prophecy looked beyond the destruction of Babylon in 539 to an eschatological destruction that will reverse the fortunes of Israel and Judah... The destruction of Babylon will be the climax of God’s judgements on the Gentile powers that have oppressed His people and will open the way for the fulfilling of God’s promises to Israel. Other portions of Scripture also point to this still-future rebuilding of Israel and destruction of Babylon. The city of Babylon will be rebuilt only to be destroyed at the end of the tribulation period before Christ returns to establish His millennial reign.” In hulle kommentaar oor Jesaja 13:19-22 sê hulle: “Ultimately Babylon will again be rebuilt and then destroyed by God a final time.”

Olierykdomme

Ten spyte van Irak se ekonomiese agterlikheid is daar ‘n uiters belangrike faktor wat nie uit die oog verloor moet word nie, en dit is die groot olierykdom van die Arabiese state rondom die Persiese Golf. Saoedi-Arabië, Irak, Iran, Koeweit, die Verenigde Arabiese Emirate, Katar en Bahrain beskik saam oor 57% van die wêreld se totale oliereserwes. Hiervan het Saoedi-Arabië by verre die grootste reserwes (261 biljoen vate), gevolg deur Irak met 113 biljoen vate. Irak se bronne word weens die onstabiliteit in die land, baie swak ontgin. Net 27% van die wêreld se gelewerde ruolie kom uit die Persiese Golf-gebied, dus is daar ‘n geweldige potensiaal vir groter lewering hiervandaan.

Die rol wat olie in die wêreldekonomie speel, is besig om vinnig toe te neem. Twee jaar gelede het ‘n vat Brent ruolie $24 gekos. ‘n Maand gelede het dit tot by $56 gestyg en tans kos dit in die omgewing van $50. Sjina se hoë ekonomiese groeikoers, asook die ekonomiese herstel van die VSA, het die vraag na olie, asook die prys daarvan, drasties opgejaag. Die verhoogde pryse het reeds na die verlangsaming van ekonomiese groei in die VSA en Europa gelei. Die industriële en tegnologiese basis van die meeste lande is op die beskikbaarheid val olieprodukte (veral brandstof) gebaseer, en die vraag hierna sal in die volgende dekade aansienlik styg.

Uit hierdie oogpunt gesien, gaan die ryk olievelde in die Midde-Ooste ‘n deurslaggewende rol in die ekonomiese toekoms van die hele wêreld speel. As gevolg hiervan beskou die groot nywerheidslande dit as in hulle direkte belang om vrede hier te handhaaf en selfs ‘n permanente, VN gebaseerde vredesmag in die Midde-Ooste te vestig. Dit word by die dag duideliker dat die ekonomiese én politieke toekoms van die wêreld regstreeks aan gebeure in die Midde-Ooste gekoppel is. Dit is net ‘n kwessie van tyd voordat internasionale beheerstelsels vir vrede en ekonomiese groei na hierdie streek verskuif sal word.

Die VSA en Irak

Dit is ‘n algemeen bekende feit dat die Amerikaanse inval in Irak nie weens dié land se wapens vir massa-vernietiging gedoen is nie, maar om beheer oor Irak se olievelde te verkry, asook oor die roetes wat toegang daartoe verleen. In toesprake wat in die VSA en Amerika gelewer word, word die slagspreuke “geen bloed vir olie” en “geen oorlog vir olie” dikwels gebruik. Om goeie redes is Amerika besorg oor die voortgesette lewering van genoegsame hoeveelhede bekostigbare olie. Hiersonder sal die VSA én baie ander lande ekonomies ondergaan.

Daar is ook ‘n ander rede vir die Amerikaanse inval in Irak, en dit is die versekering van Israel se politieke én ekonomiese toekoms as ‘n onafhanklike staat. Israel word as gevolg van die destabiliserende effek van die Palestynse opstande deur ‘n totale ekonomiese ineenstorting in die gesig gestaar. Die dreigende ineenstorting kan nie meer deur die voortgesette ekonomiese, finansiële, politieke en militêre steun van die VSA voorkom word nie. Die radikale oplossing vir hierdie probleem is om die politieke en ekonomiese landskap van die Midde-Ooste deur die gebruik van geweld ingrypend te verander.

Hierdie benadering toon baie duidelik aan dat die VSA die strategiese belangrikheid van die Midde-Ooste terdeë besef. Dit is duidelik dat die strafste toets vir die implementering van die ontluikende nuwe wêreldorde in die Midde-Ooste is, en dat dit ook hiervandaan beheer sal moet word as dit vir al die wêreld se magsblokke (oos en wes, noord en suid) aanvaarbaar wil wees. Dit lyk amper of daar ‘n onsigbare mag is wat die groot moondhede nie net van die Midde-Ooste afhanklik maak nie, maar hulle ook vir direkte intervensie hierheen trek.

Ten spyte van die groot teëstand wat die multinasionale militêre intervensie in Irak tot gevolg gehad het, is president Bush in Amerika herkies, en het hy sy belangrikste militêre adviseur wat hierdie oorlog geregverdig het, Condoleeza Rice, as minister van buitelandse sake aangestel. In Engeland het Tony Blair die verkiesing gewen, en so ook die eerste minister van Australië. Die besetting en herstrukturering van Irak gaan dus voort, en sy bure moet maar daarmee genoë neem om in die skadu van ‘n wêreldmoondheid te leef. Hulle sal ‘n duur prys betaal as hulle dit nie wil doen nie.

Die nuwe wêreldorde

Dit is duidelik dat Amerika slegs ‘n wegbereider vir die nuwe wêreldorde is. Hierdie nuwe bedeling sal volgens die Bybel onder die beheer van die Antichris staan (Op. 13:2,3,7), en hy sal die wêreld saam met Europese en Midde-Oosterse bondgenote regeer (Op. 17:12-13; Dan. 7:7-8,19-26). Amerika is dus die fasiliteerder vir ‘n toekomstige bedeling en gesagstruktuur waarin hy self nie ‘n rol sal speel nie. Ander magte gaan by hulle oorneem.

Dit is trouens nou reeds duidelik dat die VSA nie deur die wêreldgemeenskap, en veral nie in die Moslemwêreld, as internasionale polisieman aanvaarbaar is nie. Die terreuraanslag teen hulle besettingsmag in Irak, asook teen die Sjiïties-oorheersde regering wat onder hulle toesig verkies is, is só hewig dat hulle nou na eerbare weg soek om uit Irak weg te kom. Hulle het die interne magstryd onder die Moslems, asook hulle gemeenskaplike verset teen Amerikaanse imperialisme, heeltemal onderskat. Hulle wag nou vir ‘n wêreldleier wat uit die VN, Europa of die Midde-Ooste moet opstaan om orde in ‘n deurmekaar en erg verdeelde wêreld te skep.

Die eindtydse rol van die herstelde Babiloniese ryk is besig om gestalte aan te neem en sal homself in ‘n kort tydjie aan die wêreldgemeenskap bied. Eers moet die groot diplomaat en leier met bonatuurlike magte, die eindtydse “Nimrod,” op die toneel verskyn. Hy sal die menslik onmoontlike ideaal verwesenlik om deur die Jode, Moslems, Boeddhiste, Hindoes én die misleide nominale Christene as hulle gemeenskaplike messias en vredevors aanvaar te word. Hy sal nie net godsdienseenheid in die wêreld skep nie, maar, net vir ‘n paar jaar, ook ekonomiese en politieke stabiliteit.

Gebrek aan vrede en eenheid

Die groot probleem waardeur olieryk Moslemstate in die Midde-Ooste geteister word, is onderlinge haat en verdeeldheid teenoor mekaar, asook ‘n verterende, godsdienstig-gebaseerde haat teen alle nie-Moslems. Hulle wag ook vir die wêreldmessias, wat deur hulle as die Imam Mahdi beskryf word, maar kan intussen nie eers met mekaar klaarkom nie.

Byna 90% van alle Moslems is Soenniete. Sunnah beteken Tradisie en verwys na die feit dat hierdie groep ‘n versameling tradisies (die hadiths) het wat volle erkenning op dieselfde vlak as die Koran geniet. Hulle erken al die kalifs wat as opvolgers van Mohammed heersers in die Moslem wêreld was, terwyl die Sjiïete die eerste drie kalifs as indringers beskou wat wederregtelik hulle posisies verkry het, en wie se leerstellings ook verwerp word. Daar is ‘n bitter stryd tussen verskillende faksies Moslems. Soms brand een groep die moskees van ‘n ander groep af, of verwoes dit in bomontploffings saam met honderde aanbidders.

‘n Minderheidsdeel van Irak se inwoners – dié deel wat onder Saddam Hoesein se leiding die land beheer het, is Soenniete. As gevolg hiervan is die Sjiïete in Irak onderdruk, en het Saddam Hoesein ook vir agt jaar lank teen die Sjiïties-oorheerste Iran geveg. Osama Bin Laden se Al-Qaida beweging assosieer sterk met die Soennie Moslems se interne magstryd teen die Sjiïete én teen Islam se eksterne vyande.

Volgens Amerikaanse beamptes in Irak is daar in die laaste jaar honderde lede van Saoedi-Arabië se veiligheidsmagte in Irak in hegtenis geneem, waar hulle by die Al Qaida-netwerk ingeskakel het om saam met die Soennie-Moslems teen die Amerikaners en teen die Sjiïtiese regering te veg. Baie van hulle kom uit die Nasionale Wag wat onder die beheer van Saoedi-Arabië se kroonprins, Abdoella Bin Abdul Aziz, is. Die wêreld se grootste olieprodusent is dus ook by die destabilisering van Irak betrokke. Dit spel groot onheil vir die hele wêreld uit indien hierdie streek in ‘n volskaalse oorlog betrokke sou raak waardeur olieproduksie en -uitvoere ernstig beïnvloed sal word. Dit sal brandstof in die meeste lande baie skaars en onbetaalbaar duur maak.

Voorspel tot eindtydse drama

In die nabye toekoms sal die onvermoë van Amerika en al sy bondgenote om vrede, stabiliteit en voorspoed in Irak en die Midde-Ooste te bring, vir almal duidelik word. Dit sal die strategiese belangrikheid van hierdie streek verder verhoog, sodat die skep van vrede en eenheid in die Midde-Ooste ook in Europa en die VN die grootste prioriteit sal word.

Dan, op ‘n gegewe oomblik nadat die teëhouer van die koninkryk van die duisternis deur die wegraping uit die weg geruim is (2 Thess. 2:6-12), sal Satan se valse vredevors skielik op die toneel verskyn en deur almal nagevolg en aanbid word. Vir hom sal twee stede baie belangrik wees, en dit is Babilon waar hy sy regeringsetel sal vestig, en Jerusalem waar hy homself in die herboude tempel tot God sal verklaar (2 Thess. 2:4). Ná ‘n vennootskapsregering van 3½ jaar sal hy vir die laaste 3½ jaar van sy bewind ‘n militêre diktatuur instel wat op die slag van Armageddon sal uitloop.

As deel van die Here se oordele oor die rebelse nasies sal die herboude Babilon as die vesting van die Antichris se regering en tuiste van die valse godsdienste, totaal verwoes word. Die Here sal ook die Meders teen die Antichris se Babiloniese staat verwek (Jes. 13:17-18). Die huidige Koerde in Noord-Irak en omliggende lande is die afstammelinge van die Meders. Hulle het met die Sjiïtiese Moslems saamgespan om Irak se regering oor te neem, en daar is ook ‘n Koerdiese president vir die land aangewys. Dit het die haat van die Soennie Moslems nog verder laat opvlam, en daartoe gelei dat 200 mense in selfmoordbomaanvalle dood is in die eerste week nadat die nuwe kabinet in Irak bekendgemaak is.

Hierdie verwikkelings maak van vrede nog ‘n groter opsie by alle belanghebbende partye. Omdat die wêreld egter na ‘n vrede buite Christus soek, sal hulle die Antichris as vredevors omhels en aanbid wanneer hy kom. Dit sal die begin van die grootste verdrukking wees wat die wêreld ooit beleef het (Matt. 24:21). Christene moet waak en bid dat hulle waardig sal wees om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan (Luk. 21:36).