In Beeld van 26 November 2007 se rubriek Godsdiens-aktueel, is ‘n artikel deur prof. Yolanda Dreyer van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria geplaas onder die opskrif: Afrikanervolk het bang geword. Sy sę hierin:
Die kaalvoet-oor-die-Drakensberg-nasie het bang geword. En ’n benoude kat maak benoude spronge, lui die spreekwoord.
Verdwaas sit ek en aanskou die petalje in ’n onlangse kerklike vergadering (sinode). Ek luister na my volksgenote. Hulle is bang vir medegelowiges. Nie dié daar ver weg nie. Nee, dié wat “op dieselfde belydenisgrondslag as ons” staan. Die Węreldbond van Reformatoriese Kerke wil glo “die Afrikanervolk vernietig”.
Hulle is bang vir ander rasse. Want ook hulle wil “die Afrikanervolk vernietig”. Hulle is bang vir die internasionale teologiese wetenskap. Weg by die universiteit. Liewer ’n eie opleiding. Alle ander “gevaarlike” stemme kan so die swye opgelę word. Dis soveel veiliger as ons net onsself kan hoor. Hulle is bang vir die plaaslike teologiese wetenskap. Met ’n woord soos “kaf” word die insigte van mense in eie geledere wat wyd en breed gestudeer het, afgekam.
Dis nogal ironies. As dit oor hulle liggaam gaan, soek bang mense die beste spesialiste in die land. Dit is dié wat die verste gestudeer het en die meeste internasionale konferensies bywoon. Maar as dit kom by die geloof, is studie gevaarlik! Hoe minder ‘n mens weet en internasionaal kennis uitruil, hoe beter. Dis soveel veiliger.
Hulle is bang vir die liefde. Hulle waarsku: Pasop vir dié wat “te veel liefde praat”. Luister fyn. Hulle wil julle mislei. En les bes is my volks- en geloofsgenote bang vir gay mense. Doodbang. Kyk net die argumente. God het alles geskape. Dit sluit die liggame van gay mense in. God het mense seksuele wesens gemaak. Dit sluit gay mense in.
Eeue lank is seks gesien as sondig en boos – veral deur die kerk. Vandag word dit gevier as “’n gawe van God”. Maar pasop! Dié gawe is net vir ’n sekere groep mense beskore. Vir dié wat hou by die reëls van die meerderheidsgroep: Jy moet heteroseksueel wees. As jy nie heteroseksueel is nie (deel van ’n minderheidsgroep), moet jy selibaat bly.
Hoe wreed! Om mense opsetlik te skape vir so ’n double bind! Jy is nie heteroseksueel nie – so gemaak. Jy is wel ’n seksuele wese – so gemaak. Maar jy mag nie jou seksualiteit uitleef nie. Jy moet dit onderdruk, ontken. Gevonnis tot ’n leeftyd van ontneming. Is God so wreed? Nee, nee. Dit is mense! Dit is weer mense wat wrede dinge aan mekaar doen. Veral wanneer hulle bang is. Dan maak hulle dood. Hulle oordeel. Hulle laai “ondraaglike laste” op ander. Laste wat hulle nie self bereid is om te dra nie. Vir hulself het heteroseksuele gelowiges in die Protestantse tradisie die selibaat verwerp as “Rooms”. Vir ander lę hulle dit op. Die selibaat word verplig vir gay Protestante. Dubbele standaarde. Dubbele boodskappe.
Fisiek mislik. Emosioneel moedeloos. Geestelik donker. So voel ek ná die gay-fiasko in die vergadering. “Hartseer” is die woord wat opkom in baie gesprekke met ander afgevaardigdes. Hy voel nie hartseer nie, sę ’n jong predikant. Hy is woedend. Hy vertel van ’n gay persoon in sy gemeente wat ’n preek oor die radio gehoor en toe ’n skietding teen sy hart gedruk het. Hoe kan mense in die naam van God dit aan mekaar doen, vra (gelukkig) amper die helfte van die afgevaardigdes by die kerkvergadering.
Hoe banger die Afrikanervolk word, hoe wreder gebruik hy die Bybel. Dan teen gays. Dan weer teen teologiese professore. Maar daardie selfde Bybel bevat die blye boodskap. Die evangelie van Jesus Christus. Hy is die weg, die waarheid en die lewe. Die lig vir die nasies. Mag die lig weer eendag skyn in die verduisterde bestaan van bang mense. Mag vrees en wrede Bybelgebruik deur die liefde uitgedryf word en vervang word deur vertroue in God.
Ja, die liefde is inderdaad gevaarlik. Dit omgord ons en bring ons waar ons nie gedink het ons wil wees nie. Met die eis van die liefde word die beheer en mag uit ons menslike hande gehaal en in God se hande teruggesit. Liefde is en bly die grootste gebod in God se wet, volgens Jesus. Tel Jesus nog in die “kerk van Christus?” (Einde van berig uit Beeld).
Christene is met goeie reg bang vir die leerstellings van die moderne, liberale teoloë. Die volgende is die belangrikste redes waarom hulle Bybelgetrouheid bevraagteken word:
Die “liefde van Jesus” waarvan Yolanda Dreyer praat, staan in geen verband met Christus se kruisdood nie, omdat sy nie kan aanvaar dat ‘n Vader sy Seun aan soveel marteling en lyding aan die kruis kon oorgee nie. Sy het in ‘n lesing gesę: “Ek het probleme met ‘n dogmatiese konstruk dat Hy met sy lewe moes betaal om God tevrede te stel oor ons sonde. Ek kan dink hoeveel probleme mense moet hę wat nie teoloë is nie.” Die Bybelse versoeningsboodskap word dus deur haar verloën. Sy het net ‘n blinde, generiese liefde van God vir alle mense in gedagte – ‘n totale aanvaarding van alles en almal sonder om veroordelend of negatief te wees.
Dit is duidelik net die evangeliese Christene wat nie in haar denkraamwerk wil inpas nie, omdat hulle haar afwykende teologiese sienings uit die Bybel aan die lig bring. Nou beskryf sy ons as “bang mense” omdat ons ‘n weerstand teen die postmoderne, ekumeniese denke het wat heeltemal uit pas met Bybelse waarhede is. Geen wonder nie dat liberale teoloë ook ‘n probleem met Bybelse stellings oor die duiwel, sonde, Jesus se godheid en maagdelike geboorte, sy lyding, kruisdood, opstanding, hemelvaart en wederkoms het.
Die moderne neiging onder teoloë is om hulleself glad nie aan die Bybel se vaste waarhede gebonde te ag nie. Wanneer die Bybel bv. sę dat Jesus God is, dat Hy liggaamlik uit die dood opgestaan het, en daar ‘n duiwel en ‘n hel is, dan verwerp hulle hierdie stellings omdat dit na bewering in terme van ‘n antieke węreldbeeld geskryf is. Vir hulle moet die waarheid subjektief op grond van ‘n postmoderne węreldbeeld bepaal word. Hierin speel die natuurwetenskappe, filosofie en sielkunde, asook die idees van ander teoloë, ‘n groot rol.
‘n Teoloog soos Sakkie Spangenberg gaan selfs so ver om te sę dat die moderne ketters diegene is wat sę dat die waarheid vas is en geglo moet word net soos wat dit in die “ouwęreldse” geskrifte van die Bybel staan, wat in terme van ‘n antieke węreldbeeld geskryf is. Wat dan van die moderne mens se węreldbeeld waarin daar vir ander godsdienste (die meeste van hulle baie antiek), die agnostiese evolusieteorie, mistiese nuwe era-praktyke soos meditasie, hipnotiese terapie en ander holistiese praktyke ruimte geskep word? Volgens hulle moet ons God net as ‘n bron van liefde ervaar en op ons eie manier met behulp van die moderne wetenskap ons weg deur die lewe vind.
Dit is opvallend dat die eerste eeu se skrifgeleerdes ook nie Jesus se geestelike onderrig of sy Messiasskap kon verstaan en aanvaar nie. Ten spyte van hulle skrifkennis was dit vir hulle ‘n onaanvaarbare dogmatiese konstruk, bloot omdat hulle dit nie geestelik kon verstaan nie. Hulle teologiese tradisies en humanistiese rasionalisering van die verlossingsleer het hulle by heel ander gevolgtrekkings as die Bybelse leer uitgebring.
Hierdie tipiese benadering van die skrifgeleerdes het in ‘n mindere of meerdere mate deur die eeue heen voortbestaan. Vandag is hulle ook nog steeds met ons. Die Here Jesus het teen die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs gewaarsku (Matt. 16:6,12). Die grootste dwaling van hierdie twee groepe gelowiges was dat hulle nie geglo het dat Jesus die Messias is nie, en die Sadduseërs het verder ook nie in die opstanding van die dode geglo nie. Dit klink bekend, né?
Al hierdie “skrifgeleerdes” het die Here Jesus verloën, die diep geestelike betekenis van sy kruisdood verwerp en ook sy opstanding uit die dood heftig ontken. Hulle het beweer dat sy dissipels die lyk uit die graf gesteel het. Al hierdie leuens word vandag nog steeds deur sg. “skrifgeleerdes” verkondig. Uit die aard van die saak is diegene wat dit doen, nie weergebore nie omdat hulle nie glo in dit wat die Here Jesus vir die vergifnis van ons sonde aan die kruis gedoen het nie. Hulle ontken ook sy godheid en maagdelike geboorte.
In die plek van die Bybelse leer oor versoening verkondig hulle net ‘n vaag gedefinieerde vorm van liefde wat vereis dat daar geen normatiewe beoordeling van mense en hulle lewenstyl gedoen mag word nie. Dit is volgens hulle verkeerd om negatief en krities te wees, daarom is hulle die slagoffers van ‘n humanistiese vorm van positiewe denke waarin niks meer as sonde beskou word nie – behalwe die handhawing van waardes. Hulle intellektuele rasionalisering oor godsdiens bring hulle nie by die diep geestelike waarhede van die Bybel uit nie, daarom is hierdie waarhede vir hulle dwaasheid en kan hulle dit nie verstaan nie (Luk. 10:21; 1 Kor. 1:19; 1 Kor. 2:14).
In een opsig is Yolanda reg, en dit is dat evangeliese Christene bang is om die dwaalweë te bewandel wat afvallige teoloë as die regte pad aan hulle voorhou. Ons vrees die gevolge van sulke sienings en gewoontes, want “daar is ‘n weg wat vir die mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spr. 16:25; vgl. Matt. 23:13).
Enige poging om na behoudende, evangeliese standaarde en die erkenning van Skrifgesag terug te keer, word met mening deur die Nuwe Hervormers en hulle geesgenote teëgestaan. Die NG Kerk se kweekskool in Pretoria volhard onwrikbaar op die pad van die postmoderne hervertolking van die Bybel. Gaan lees maar die talle artikels op hulle webwerf: www.teo.co.za
In een van die onlangse artikels, wat op 30.08.2007 deur James Kirkpatrick geskryf is, vra hy: Bestaan die duiwel? Hierin sę hy onder meer: “Prof. Yolanda Dreyer (ook van Tukkies) het ‘n aantal goeie redes gegee waarom só ‘n gesprek dalk eerder vermy moet word. Jy loop net eenvoudig die risiko om verspot gemaak of verketter te word... Verder, soos ek die evangelie verstaan, is dit in sy diepste wese ‘n positiewe boodskap. Wie al na een van Rodney Seale of Kobus Jonker se praatjies geluister het, weet hoe vreesaanjaend dit kan wees om oor die duiwel te praat. Amper soos die dominee van my kinderjare wat só oor die wederkoms gepreek het dat die sweet op jou hande uitslaan van die vrees. Ek verstaan die evangelie as ‘n boodskap van vrede en nie van vrees nie... Ek het oorweeg om te maak soos die groep wat sterk teen die kinderdoop gekant was. Hulle het ‘n boekie gemaak met ‘n titel op die buiteblad wat lui: Wat die Bybel oor die kinderdoop leer. Wanneer jy die boekie oopgemaak het, was daar net ‘n paar leë bladsye in. ‘n Soortgelyke ding sou myns insiens ‘n gepaste protes wees teen die klem wat in sekere kringe op die duiwel geplaas word... Ek glo nie in die bestaan van ‘n persoonlike wese met die naam duiwel nie.” Kirkpatrick glo net in ‘n onpersoonlike element van boosheid.
Daar is ook verskeie artikels deur prof. Julian Müller op die NG webblad. Hy staan ‘n panenteďstiese węreldbeeld voor waarin teďsme (‘n transendente God wat bokant sy skepping verhewe is) en panteďsme (‘n immanente, onpersoonlike God wat oral in sy skepping teenwoordig is) met mekaar versoen word: pan-en-teďsme. Dit staan as ‘n integrale węreldbeeld bekend. God is vir hom oral in die natuur én in mense teenwoordig, Hy deel ons lot en red ons “van binne af.” God se węreld en ons węreld vloei saam, daarom sę hy dat hy Jesus nie as “‘n soort ruimtereisiger” sien wat tussen verskillende węrelde reis nie – ook nie as ‘n “half-god” wat liggaamlik uit die dood opgestaan het nie.
Die integrale węreldbeeld maak vir sinkretisme en multigodsdienstige denke voorsiening. In ‘n artikel, Panenteďsme: ‘n nuwe verstaan van God (Jan. ‘07) sę prof. Julian Müller: “Hierdie węreldbeeld word uit verskillende oorde gevoed: die nuwe fisika, nuwere ontwikkelinge in die teologie, die proses-filosowe en Oosterse en Afrika węreldbeelde, ens.” Die Bybel word glad nie meer as ‘n vaste openbaringsbron van God gesien of aanvaar nie.
Prof. Müller is eerlik genoeg om die spekulatiewe aard van sy teorieë te erken, en gevolglik die onkunde waaruit dit gebore is: “Uiteindelik moet ons aanvaar dat al ons pogings om oor God te praat en om die verhouding tussen God en die skepping in taal vas te vang, gebrekkig is. Als is voorlopig.” Een van sy kollegas het in ‘n klas gesę: “Die Bybel is die produk van die gekonkel van mense.” ‘n Ander een het gesę: “Almal wat aan die Here behoort, kyk in ‘n dowwe spieël.”
Dit is die gevolg daarvan as die Woord van God, en die kennis van God soos dit daarin verduidelik word, nie meer vir ons die beginsel van die wysheid is nie (vgl. Spr. 1:7; 9:10; Kol. 2:2-3). Dan verstaan ons niks meer reg nie, al is ons ook hoe geleerd en slim in ons eie oë (1 Kor. 3:19-20). Teologiese geleerdheid is van geen nut hoegenaamd as ons die Bybel nie onvoorwaardelik as God se Woord aanvaar en ook deur die werking van die Heilige Gees verligte oë van die verstand het nie (Ef. 1:18). Sonder dit kan die Bybel nie verstaan word nie.
‘n Voormalige nagraadse teologiese student aan Tukkies, Ferdie Mulder, het in 2005 ‘n lywige dokument, Skrif- en Belydenisgetrouheid in Teologiese Opleiding, aan die kuratorium van die Kweekskool én ook aan verskeie NG predikante gestuur. Hierin het hy sistematies al die leerstellige dwalings in die opleiding van predikante gedokumenteer. Dit is egter alles verwerp en die deur is in sy gesig toegeklap om ‘n NG predikant te kan word. Hy is tans in Engeland waar sy vrou ‘n werk gekry het. As dít is soos die waarheid in hierdie land se gereformeerde kerke onderdruk en uitgewerk word, dan is groot geestelike misleiding die voorland van miljoene kerkgangers.