‘n Nuwe Bedeling Breek Skielik Węreldwyd Aan

Johan Malan, Middelburg (Oktober 2008)

Die onlangse ineenstorting van reuse finansiële instellings in Amerika (banke, bougenootskappe en ook ‘n multinasionale versekeringsmaatskappy met bates van meer as ‘n triljoen dollar) het tot ‘n ongekende vlak van regeringsondersteuning gelei om dié ondernemings van gewisse ondergang te red. Hierdeur is die vinnige afwaartse spiraal van effektebeurse oral in die węreld effens gestuit, maar geensins op die lang termyn afgeweer nie. Finansiële instellings tot in Rusland was onder só ‘n geweldige druk, dat die Russiese regering hulle effektebeurs tydelik gesluit en ‘n grootskaalse finansiële reddingsoperasie uitgevoer het om chaos te voorkom.

Wat is die implikasies van hierdie buitengewone finansiële krisis in die węreld, asook die regeringsinmenging wat daarop gevolg het? Verskeie kenners meen dit is die einde van die kapitalistiese vryemarkstelsel soos ons dit geken het. Die omvang van hulppakkette aan sinkende ondernemings was só groot dat dit effektief op die nasionalisering van die betrokke instellings neerkom. Wanneer ‘n regering beheer oor ‘n land se ekonomie begin oorneem, baan dit onwrikbaar die weg na ‘n sosialistiese stelsel.

In die lig hiervan kan ons verwag dat toekomstige ekonomiese tendense in die węreld nie meer hoofsaaklik deur markkragte bepaal sal word nie, maar in baie gevalle deur regeringsinmenging in die ekonomie. Sentrale banke wat onder groot druk van hulle lande se regeringsbeleid is, speel ‘n groot rol hierin. Hulle het die geldvoorraad té vinnig laat groei en geld té goedkoop aan banke voorsien. Dit het daartoe gelei dat selfs beginners met ‘n lae salaris ver bokant hul inkomste begin leef het. Omtrent almal kon groot lenings kry om huise en duur voertuie mee te koop. Wanneer hulle as gevolg daarvan kontantvloeiprobleme het, kry hulle kredietkaarte om nog meer op skuld te kan koop.

Skerp stygende inflasie is hierdeur geskep, want alles wat in die mark aangebied word, word vinnig met goedkoop krediet gekoop. ‘n Ander faktor wat die inflasie opgejaag het, was die stygende olieprys. Dit alles het miljoene mense wat tot oor hulle ore in die skuld was, finansieel laat sink omdat hulle nie die hoër paaiemente kon bekostig nie. Motors en huise is deur banke teruggeneem en teen ‘n verlies herverkoop. Dit het uiteindelik ook baie banke laat vou.

‘n Soortgelyke proses in SA

In Suid-Afrika het die drastiese verlaging van rentekoerse deur die Reserwebank tot goedkoop krediet aan miljoene mense gelei, en dit het die vraag na eiendom die hoogte laat inskiet. Skielik het dit vir almal gelyk of die ANC-regering ‘n reuse voorspoedgolf vir die land geskep het. In die proses het die groot aanvraag deur koorsagtige kopers die prys van eiendom die hoogte laat inskiet. Huispryse het tussen die jare 2000 en 2006 met tussen 300% en 400% gestyg. Huise wat in 2000 vir R400 000.00 gekoop is, het teen 2006 vir meer as R1.3 miljoen verkoop. Hierdie skerp styging was só onrealisties dat huispryse die afgelope jaar begin val het. Saam met ‘n groot afname in die boubedryf het die ekonomie van die land ook begin afkoel en stuur nou op ‘n resessie af. Banke is druk besig om huise en motors terug te neem wat weens stygende rentekoerse nie meer deur hulle eienaars betaal kan word nie. Nuwe kopers sukkel ook om huislenings te bekom omdat die meeste van hulle se inkomste volgens die nuwe kredietwet te laag is.

Die kunsmatig-geskepte voorspoedgolf het platgeval en armoede is besig om vinniger as in die verlede toe te neem. Die Reserwebank het teen 2006 besef dat hulle ‘n reuse fout begaan het om geld so goedkoop beskikbaar te stel, en het toe weer die rentekoerse begin verhoog om die inflasie, wat hulle self help skep het, hok te slaan. Die skade is egter klaar gedoen. Hoe meer die rentekoers nou verhoog word, hoe meer huise en ander eiendom sal weens wanbetaling teruggeneem word. Wat gaan die banke doen met al die teruggeneemde eiendom  wat minder werd is as die bedrae wat nog daarop uitstaande is? Wat in die finansiële markte in Amerika gebeur het, gaan ook hier gebeur – banke gaan miljoene rand verloor.

Sedert Suid-Afrika op nasionale, provinsiale én plaaslike vlakke (munisipaliteite) deur die ANC oorgeneem is, het die regeerders op die vettigheid van die land geteer. Deur hulle onvermoë, magsug, swak bestuurstyl en korrupsie, het hulle die land op die punt van ‘n byna totale disintegrasie van dienste laat beland. In baie gevalle word basiese dienste nie meer op ‘n redelike basis gelewer nie. Dieselfde het gebeur met groot korporasies soos Evkom, wat op grond van “regstellende aksie” ook deur swak-gekwalifiseerdes en onervarenes oorgeneem is. Bestuurslui kry vergoedingspakkette van tot vyf maal meer as wat in die tyd van die vorige bewind betaal is. Al hierdie ongeregtigheid en swak dienste, saam met die nuwe regering se onvermoë om wet en orde te handhaaf, het meer as ‘n miljoen blankes die land laat verlaat – baie van hulle hoogs geskoold. Die spreekwoordelike gans wat die goue eiers lę, is verwilder.

Noudat die welvaart van jare se harde werk en toewyding verteer is en die infrastruktuur van die land by die dag verder vervalle raak, bly nog net die geraamtes van eens florerende ondernemings, en die skerwe van ‘n goed geordende samelewing van weleer, in die bleek maanskyn van donker Afrika se somber landskap oor. Die “vet koeie” van die Westerse beskawing is in Afrika geslag, geëet, en die blankes daarna doelbewus gemarginaliseer. Nou draai swart belangegroepe in Afrika teen mekaar en voer ‘n bitter stryd vir opperheerskappy oor dit wat nog oorbly. ‘n Morele plig word steeds op die “ryk lande” gelę om vir hulle te sorg.

‘n Nuwe Węreldorde

Op die internasionale terrein is dit meer as ooit tevore duidelik dat ‘n nuwe węreldorde as ‘n saak van dringendheid oorweeg word ten einde węreldprobleme van ‘n sentrale magsbasis af te hanteer. ‘n Verdere motivering hiervoor is dat ryk lande soos Amerika soveel huishoudelike probleme het om op te los, en ook onnodige oorloë voer wat baie duur is, dat daar nie meer geld oor is om arm lande te help nie. Soos wat Amerika en Rusland hulle ekonomieë deur nasionalisering begin oorneem, sal die ontluikende węreldregering ook volle beheer oor die toekomstige węreldekonomie uitoefen. Volgens die Bybel sal die Antichris die hoof van hierdie regering wees, en hy sal ‘n kontantlose ekonomie instel waarin niemand sonder ‘n spesiale nommer sal kan koop of verkoop nie (Op. 13:1-18). Daar sal dus nie meer onafhanklike banke en ander finansiële instellings wees nie.

Uit die oogpunt van arm, derdewęreldlande is ‘n nuwe węreldorde nog meer onafwendbaar, omdat hulle hoegenaamd nie op alle lewensterreine (ekonomies, tegnologies, ens.), sonder aansienlike internasionale hulp sal kan voortbestaan nie. Kyk maar net na verskillende Afrika-regerings waar verdeeldheid, magsug, selfverryking, oneerlikheid en die onvermoë om demokraties met ander saam te werk, besig is om hierdie kontinent na die Donker Middeleeue terug te sleep. Hulle sal enige internasionale bedeling aanvaar indien dit voordele vir hulle sou inhou.

Die finale oorskakeling

Daar is net een of twee dramatiese gebeure in die węreld nodig om die finale oorskakeling na ‘n nuwe węreldorde te bewerkstellig. ‘n Groot faktor wat dit sal bevorder, is ‘n oorlog in die Midde-Ooste – waarskynlik tussen Russies-gesteunde Iran en Amerikaans-gesteunde Israel. Só ‘n oorlog sal tot ‘n blokkering van olievervoer deur die Persiese Golf lei. Iran het reeds gedreig dat die Straat van Hormuz gesluit sal word sodat geen olie uit die Golfgebiede hulle markte in die res van die węreld kan bereik nie.

Die moontlikheid van só ‘n oorlog het daartoe gelei dat daar gereeld groot Amerikaanse oorlogskepe in die Persiese Golf ontplooi word. Op sy beurt is Iran vinnig besig om kernwapens te ontwikkel. Hierdie radikale Moslemland het hulleself reeds tot die uitwissing van Israel verbind, sodat ‘n Islamitiese węreldstaat in die Midde-Ooste gestig kan word met Jerusalem (Al Quds) as hoofstad. Hulle beywer hulle ook vir die ondergang van Israel se bondgenote, veral Amerika.

Dit is vanselfsprekend dat ‘n oorlog in hierdie gebied gou wyd sal uitkring, met ander Moslemstate wat ook daaraan sal deelneem. Die gevolge op die węreldekonomie, en veral die effektebeurse, sal rampspoedig wees. Hierdie krisis sal die nasies waarskynlik deur die bemiddeling van die VN en sy Veiligheidsraad daartoe laat oorgaan om ‘n węreldregering met uitvoerende magte in te stel, insluitend die mag om verpligte belastings op lidlande te hef.

Volgens die Bybel sal die Antichris skielik as vredemaker uit die Midde-Ooste op die toneel verskyn (Op. 6:2). Die hele węreld sal verwonderd agter hom aangaan en hom ook as die verwagte messias van die węreld aanbid (Op. 13:3-4). Hy sal gou tot ‘n posisie van internasionale leierskap uitstyg en mag oor alle volke in die węreld verkry (Op. 13:7).

Voor die Antichris se verskyning sal die wegraping plaasvind omdat die ware Christene, as die tempel van die Heilige Gees, ‘n teëhouer teen sy verskyning is (2 Thess. 2:6-10). Dit sal ook groot skokgolwe deur die węreld stuur en nog meer onbetaalde huise se sleutels by die sukkelende banke laat beland. Die Antichris sal egter gou weer ‘n mate van finansiële orde en ook ‘n valse vrede in die węreld instel, sodat hy as redder en vredevors deur almal bewonder en nagevolg kan word. Dit sal egter nie blywend wees nie.

Al die dramatiese verwikkelings van die onlangse verlede is dus net ‘n voorspel tot nog meer dramatiese verwikkelings wat in die nabye toekoms verwag kan word. Die węreld staan beslis by ‘n kruispad, van waar die nuwe koers na ‘n onbekende toekoms op aarde gaan lei.

Christene het ook voor hierdie kruispad te staan gekom, maar ons toekoms is boontoe, na waar die Here Jesus vir ons ‘n plek gaan berei het (Luk. 21:28; Joh. 14:1-3). Ons weet uit Bybelse profesieë wat vir die ongeredde węreld wag, maar die verblinde dienaars van die węreld het geen insig nie. Hulle is met alle ywer besig om aan ‘n menslike koninkryk te bou, en wag net vir die groot “vredevors” wat hulle leidsman op die nuwe pad sal wees. Hulle sal hom van harte aanvaar, maar ‘n baie groot ontnugtering wag later op hulle:  “Wanneer hulle sę: Vrede en veiligheid, dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood van ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thess. 5:3). Ons as gelowiges is egter nie in die duister dat dié dag ons soos ‘n dief sou oorval nie (1 Thess. 5:4; Luk. 21:36).

Daar rus ‘n plig op ons om steeds die lig van ‘n donker węreld en die sout van ‘n bedorwe aarde te wees. Ons moet aanhou om mense te waarsku teen die ernstige gevolge van dit wat nou in die węreld besig is om te gebeur. Die eenheid waarna die węreld streef, gaan regstreeks daartoe lei dat ‘n platform vir die Antichris se węreldregering, węreldekonomie en węreldgodsdiens geskep gaan word.