Briewe uit die Hemel

Prof. Johan Malan, Middelburg (Junie 2009)

In Openbaring 2 en 3 is daar sewe briewe wat die Hoof van die Christelike kerk – dit is Jesus Christus self – deur middel van sy dienskneg Johannes aan die ganse kerk van alle eeue rig. Die briewe is ongedateer en daarom tydlose geskrifte aan alle volgelinge van Christus: die getroues én die dwalendes. Hierdie briewe bevat kosbare beloftes en liefdevolle bemoediging aan dié wat op die regte weg volhard, maar ook duidelike teregwysing en ernstige waarskuwings aan almal wat van die waarheid afgewyk en begin dwaal het. Baie van hulle het heeltemal die koers byster geraak.

Waarom is daar net briewe aan sewe gemeentes gerig? Omdat hulle die tipiese sterk en swak punte van die ganse Christelike kerk op aarde verteenwoordig. In die stadium toe Johannes hierdie briewe omstreeks die jaar 95 n.C. uitgestuur het, was die vroeë Christelike kerk al etlike jare lank gevestig en het verskillende vorms van afvalligheid reeds duidelik posgevat. Dieselfde soort dwalings kom vandag nog voor – dikwels nog erger as in daardie vroeë jare – daarom kan ons ook nou, amper 20 eeue later, steeds hierdie briewe op onsself toepas om te sien waar ons met die Here staan.

Die algemene trant van die briewe is sterk teregwysend en skilder ‘n redelike donker prentjie van geestelike afvalligheid, dooie vormgodsdiens, wêreldgesindheid en kompromie met valse gelowe. Die ware gelowiges was in vyf van die sewe gemeentes ‘n klein minderheidsgroep wat opgeroep word om te midde van al die dwalings van hulle tyd op die regte pad te volhard. Uiterlike omstandighede was dikwels haglik, maar dit het nie ‘n merkbare tol onder lidmate se geestelikheid geëis nie. Laodicea se materialisme en Pergamus se kompromie met ‘n heidense wêreld het egter verwoestende gevolge in die gemeentes gehad. Dit is vandag nog so.

Die groot uitdaging wat in die briewe aan die ware gelowiges gerig word, is dat hulle deur volharding daarna moet streef om nie geestelik terug te val nie, maar onder die oorwinnaars te wees. Hulle sal waardig wees om in Christus se toekomstige vrederyk met Hom te regeer: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee” (Op. 2:25-26). Daar is oneindig baie op die spel, en ware kinders van die Here moet seker maak dat hulle in die strawwe geestelike wedloop onder die oorwinnaars sal eindig.

Die volgende is uitstaande kenmerke van die boodskappe aan die sewe gemeentes:

1. Éfese: Die skrikwekkende gevolge van ‘n dooie vormgodsdiens

Die gemeente in Éfese is tipies van die groot, groeiende kerke van moderne tye waarin daar baie aktiwiteite aangebied word soos basaars, seminare, jeugprogramme en naweekkampe. Hulle arbei in die naam van Christus en word nie moeg nie (Op. 2:3). Hierdie kerke huldig ‘n duidelike Christelike leerstelling, in die lig waarvan sektes en valse profete maklik geïdentifiseer en verwerp kan word (Op. 2:2,6). Dit gee aan lidmate ‘n valse gevoel van geestelike sekuriteit.

Daar is egter ‘n groot probleem in dié soort kerke, en dit is dat hulle mens-gesentreerd eerder as Christus-gesentreerd is. Hulle belangrikste dryfkrag is ‘n humanistiese liefde vir die saak van die Here en al die voordele wat dit vir persoonlike geluk en die Christelike bestuur van menslike samelewings inhou, eerder as goddelike liefde om heiligmaking in ons verhouding met die Here Jesus na te streef en die boodskap van verlossing aan ‘n sterwende wêreld te verkondig.

Positiewe Christelike waardes word verkondig en ook deur selfbeeldontwikkelingsprogramme bevorder, sonder om aan die donker kant van menslike probleme aandag te gee, naamlik sonde. Om hierdie rede ontvang die kruis van Christus waar Hy die straf vir ons sonde gedra het, nie enige prominensie in sulke kerke nie. Die hart van die Christelike evangelie word uitgesny deur dit te verswyg, en dan bly daar vir gelowiges net ‘n gedaante van godsaligheid oor. Dit kom basies op die ontkenning of negering van God se agape-liefde neer, wat daartoe gelei het dat Hy sy Seun na die aarde gestuur het om die losprys vir ons sonde te betaal. Om dit te vergeet en van ‘n kerk ‘n menslike instelling te maak waar net goeie menseverhoudings en positiewe waardes nagestreef word, is om die kerk geestelik kragteloos en dood te maak.

Die Here Jesus spreek hierdie mense met hulle skewe beeld van goddelike liefde baie hard aan en roep hulle tot bekering uit hul geestelik verwarde en vervalle toestand op: “Ek het dit teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Op. 2:4-5).

‘n Ware gemeente van Christus word as ‘n kandelaar voorgestel (Op. 1:12-20) waarin olie, wat ‘n simbool van die Heilige Gees is, gegooi moet word sodat die sewe klein lampies kan brand en hulle lig in ‘n donker wêreld laat skyn. Indien die gemeente (of ‘n individu) egter van kardinale aspekte van die waarheid van die evangelie afwyk, sal die Here sy Gees aan só ‘n gemeente of persoon onttrek. Hulle moet hulle uit hierdie afvallige toestand bekeer.

Uit die geskiedenis van die gemeente in Éfese is dit duidelik dat ernstige verval by hulle ingetree het. Hulle het na die leerstellings van valse profete (“wrede wolwe”) geluister, dit aanvaar en ook self begin verkondig. Die leraar en ouderlinge het hierdie skewe perspektiewe en valse evangelie in die gemeente gepropageer en sodoende die geloofslewe van lidmate ondermyn. Nadat Paulus hierdie gemeente lank en intensief in die volle raad van God onderrig het, het hy besef dat daar probleme aan die ontwikkel was en die volgende afskeidswoorde aan hulle gerig:

“Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het. Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julleself sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie” (Hand. 20:28-31).

Dit is duidelik dat die evangelie van die bloed en die kruis deur die kerk verwerp is en deur ‘n evangelie van goeie werke, Ou Testamentiese wetsonderhouding en kerklike ritualisering vervang is. In 1 Timótheus 1:3-7 beveel Paulus vir Timótheus om die skuldige persone in die gemeente in Éfese aan te spreek om nie die evangelie van Christus se genade te verander deur leraars van die wet te word nie. As gevolg hiervan is sekere lidmate se geloof heeltemal vernietig: “Sommige het dit [die geloof] van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely, onder wie daar is Himeneus en Alexander” (1 Tim. 1:19-20). Hierdie valse leraars het onder meer beweer dat die opstanding al plaasgevind het (2 Tim. 2:17-18).

Daar was ook ‘n paar getroues in Éfese, en hulle word aangemoedig om vas te staan in die waarheid en te oorwin (Op. 2:7). Hulle was ‘n onpopulêre minderheidsgroep. Die kerkgeskiedenis het bewys dat leerstellige dwalings wat in gemeentes ingesluip het, groot openbare steun geniet en baie kerke se teologie heeltemal vervals het. Selfs valse leraars wat die kruisevangelie verloën, het dikwels “baie” volgelinge (2 Pet. 2:1-2).

2. Smirna: Bemoediging aan die vervolgdes

Smirna beteken Bitterheid. Van die vroegste tye af was daar gemeentes van Christus, of soms net enkele lidmate, wat weens hulle geloof vervolg is en in die proses erg gely het. Baie van hulle het as martelare gesterf. Hierdie vervolging is meesal deur onderdrukkende regerings ingestel wat in assosiasie met ‘n vyandige heidense godsdiens regeer het, bv. die Romeinse Ryk in die tydperk voor Konstantyn. Vir ‘n baie lang tyd in die Donker Middeleeue was die Rooms-Katolieke Kerk die vervolger van Christene wat nie gesag en leerstellings van die pous wou erken nie. Duisende gelowiges is deur die ‘heilige leërs’ van die Vatikaan doodgemaak. As gevolg hiervan het talle van die oorlewende evangeliese Christene uit Italië na Frankryk en ander lande gevlug. Later is Protestantse gelowiges wat die Roomse Kerk verlaat het, ook hewig in Frankryk vervolg en het baie van hulle na Holland gevlug, van waar hulle as koloniste na die suidpunt van Afrika gestuur is.

In die 20ste eeu was kommunistiese regerings, asook kommunistiese rebellegroepe in ander lande, die grootste vervolgers van Christene. Verskeie sendelinge is ook in heidense lande vervolg en vermoor waar die regerings met gelowe soos Boeddhisme, Hindoeïsme en Islam in bondgenootskap is of was. Steeds duur die vervolging van Christene in baie lande voort, veral in radikale Moslemlande.

Die Here Jesus het ‘n baie duidelike boodskap aan sy getuies wat in die vuur van vervolging is: “Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee... Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie” (Op. 2:10-11). As hulle enduit aan die Here getrou bly, sal hulle die ewige lewe verkry; dan sal die tweede dood (die ewige dood wat op alle sondaars wag) geen mag oor hulle hê nie. Diegene wat Jesus verloën net om swaarkry te vermy, bring groot skade en skande oor hulleself omdat hulle nie in die stryd oorwin het nie.

Omdat die martelare weens hulle geloof in Jesus Christus ly, is hulle op die voorste front in die stryd tussen die koninkryke van God en van Satan. Dit is ‘n eervolle posisie om in te wees, en nie iets om oor sleg te voel nie: “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel” (1 Pet. 4:12-13; vgl. Luk. 6:22-23; Rom. 8:17; 2 Tim. 2:12).

3. Pergamus: Die gevare van vriendskap met ‘n verdorwe wêreld

In hierdie brief word ‘n baie ernstige leerstellige probleem aangespreek, wat as die leer van Bileam beskryf word. Met die uitsondering van ‘n klein kerngroep wat vasgestaan het in die waarheid van God se Woord, het die Christelike gemeente in Pergamus baie liberaal geraak en openlik met die heidendom rondom hulle geassosieer. Die kerk het ook kompromie met die sekulêre wêreld gemaak en dit lei noodwendig na geestelike afvalligheid en ontrouheid teenoor die Here. Hierdie verskynsel word ook duidelik deur die naam Pergamus weerspieël, wat troue beteken – ‘n troue tussen die kerk en die wêreld. In die oë van die Here kom vriendskap van hierdie aard op geestelike hoerery neer (Jak. 4:4).

Die Here verwys na hierdie kompromiemakery as “die leer van Bileam wat Balak geleer het om ‘n struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer” (Op. 2:14). Volgens Numeri 22 tot 24 is Bileam deur Balak, die koning van die Moabiete, gehuur om Israel te vervloek. Bileam het dit egter nie gedoen nie en vir Balak oorgehaal om, in plaas van vervloeking en militêre konfrontasie, eerder vir Israel te verlei om geestelike kompromie met vreemde gode te maak deur ‘n Baälfees by te woon. Hierdie strategie het gewerk, en in Numeri 25 lees ons dat Israel op uitnodiging ‘n Baälfees in Moab bygewoon het.

Dit is in moderne tye ook duidelik dat Satan deur ‘n strategie van kompromie ‘n groot slag onder Christene in die Weste slaan. Hierdeur het hy selfs meer sukses as met sy strategie van konfrontasie behaal in lande waar Christene vervolg en gemartel word. Die Christelike kerk in Pergamus is aan die geweldige druk van godsdienstige kompromie blootgestel en daardeur tot geestelike ontrouheid verlei. Die uiteinde van diegene wat nie met hierdie bose sisteme kompromie wou maak nie, was dikwels ‘n marteldood. ‘n Voorbeeld van só ‘n persoon is Antipas (Op. 2:13). Sy naam beteken Teen alles. Hy was ‘n predikant in hierdie gemeente, en is doodgebrand binne-in ‘n hol bronskalf waaronder daar vuur gemaak is.

Die Here Jesus stel Homself aan hierdie gemeente voor as die Een wat die skerp tweesnydende swaard het (Op. 2:12). Die swaard van sy Woord maak absolute skeiding tussen geregtigheid en ongeregtigheid. Dit werk saam met die gewete van die mens om hom te help om dit wat reg is van dit wat verkeerd is, te kan onderskei.

Die moderne kompromiemakers in die ekumeniese beweging moet op hierdie waarskuwings ag slaan. Hulle vat hande met ander gelowe én met sekulêre, wêreldse regerings in ‘n poging om vrede en eenheid in die wêreld te bevorder. Dit is egter ‘n vrede buite Christus. Hy het gesê: “My vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie” (Joh. 14:27).

4. Thiatire: Die Misleide kerk en haar tragiese uiteinde

Hierdie is ‘n brief aan ‘n gemeente waarin die meerderheid lede totaal van die waarheid afvallig geraak het en hulle met demoniese misleiding besig hou. Hierdie verskynsel het deur die eeue heen voorgekom, en is veral ook ‘n prominente eienskap van die eindtyd: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1). Die handlangers wat Satan vir sy misleidingswerk gebruik, is valse profete en profetesse (Op. 2:20):

“Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Kor. 11:13-15). Die valse apostels en profete van Satan doen hulleself as gesante van Christus voor sodat hulle Christelike gemeentes kan binnedring en mislei. Hulle spesialiseer in buite-Bybelse openbarings van God deur drome, visioene en stemme wat met hulle praat. Dit is alles kanale waardeur Satan se gekamoefleerde leuens maklik in gemeentes ingedra kan word.

Deur hierdie profete se valse boodskappe leer mense nie die Here beter ken nie, maar hulle leer die dieptes van Satan ken (Op. 2:24). Okkultiese tekens en wonders vind plaas waardeur mense verbyster word om die leuen te glo, valse profesieë word uitgespreek oor groot herlewings en ‘n wonderlike toekoms op aarde, ekumeniese bande word met alle kerke én ander gelowe aangeknoop, en gebed word deur meditasie vervang. Mense wat hulleself hiervoor oopstel, ontvang die krag van die dwaling om die leuens van die groot misleier te glo (2 Thess. 2:8-12).

Die oordele van God in die komende verdrukking wag vir lidmate van hierdie valse, misleide gemeentes (Op. 2:22). Diegene van hulle wat sal leef wanneer die Here Jesus sy getroue diensknegte tydens die wegraping kom haal, sal agterbly en heelhartige navolgers en aanbidders van die Antichris wees (Op. 13:3-4). Dié wat reeds dood is, sal ná die tweede opstanding voor die groot wit troon verskyn om tot die ewige poel van vuur veroordeel te word (Op. 20:11-15). Hulle valse godsdiens wat in die naam van Jesus bedryf is, sal hulle op daardie oomblik niks help nie (Matt. 7:22-23).

Die Here Jesus gee ‘n wonderlike belofte aan die minderheid getroue gelowiges in goddelose Thiatire: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee” (Op. 2:25-26).

5. Sardis: Beoefenaars van ‘n dooie vormgodsdiens

‘n Kort en kragtige boodskap word aan dooie, vormgodsdienstige gemeentes gerig, waarin daar net ‘n klein groepie ware gelowiges is. Die Here Jesus is reguit en op die punt af met sy beoordeling: “Jy het die naam dat jy leef, en jy is dood. Wees wakker en versterk die wat oorbly, wat op die punt staan om te sterwe, want Ek het jou werke nie volkome voor God gevind nie. Onthou dan hoe jy dit ontvang en gehoor het, en bewaar dit en bekeer jou” (Op. 3:1-3).

Hierdie kerk het die naam gehad dat hulle leef. Hulle is dus deur die samelewing as ‘n lewendige en goeie kerk beskou. Dit was egter net ‘n uiterlike skyn, want innerlik was hulle geestelik morsdood. As gevolg van hulle geestelike doodsheid het dié gemeente nie na die heidenwêreld rondom hulle uitgereik om die evangelie aan sterwende mense te verkondig nie. Die Here Jesus wys die gemeente daarop dat hulle geestelike standaard onaanvaarbaar laag is omdat dit nie aan God se standaard vir redding voldoen nie – daarom is daar geen vrug nie. ‘n Dooie, ritualistiese vormgodsdiens word deur die predikant verkondig, waarin almal op die maklikste moontlike manier saliggespreek word. Dit maak hom én sy kerk sosiaal baie aanvaarbaar, maar is in die oë van die Here totaal verwerplik.

Die evangelie is aanvanklik in hierdie gemeente reg verkondig, maar die meeste lidmate het net verstandelik daarvan kennis geneem en nagelaat om hulle grondig tot die Here Jesus te bekeer sodat sy Heilige Gees hulle kan wederbaar. Dit is waarom hulle werke (hulle reaksie op die verkondiging van die evangelie) nie volkome voor God gevind is nie. ‘n Klein groepie lidmate het wél ‘n getuienis van wedergeboorte gehad en daarin volhard. Die Here Jesus sê van hulle: “[Daar is] enkele persone ook in Sardis wat hulle klere nie besoedel het nie, en hulle sal saam met My in wit klere wandel, omdat hulle dit waardig is” (Op. 3:4).

‘n Baie belangrike belofte word aan die klein groepie ware bekeerlinge gemaak: “Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele” (Op. 3:5). Slegs die oorwinnaars sal met wit klere beklee word. Dit is diegene wat enduit op die pad van die Here volhard: “Laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof” (Heb. 12:1-2). Diegene wat deur laste en sonde oorkom en ten gronde gerig word, sal nie die wedloop as oorwinnaars beëindig nie. Baie van hulle verloor hulle geloof en verval in ‘n dooie vormgodsdiens net om hulle gewete te sus dat hulle saak met die Here nog reg is.

Daar is baie Christene wat weens afvalligheid die pad byster raak en dus nie geestelik oorwin nie. Sommige verloor hulle geloof en status as gereddenes weens ‘n verskeidenheid redes:

        Paulus sê vir Timótheus dat hy “aan die geloof en ‘n goeie gewete moet vashou. Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely” (1 Tim. 1:19). Mense verwerp ‘n ware geloof wanneer hulle onbybelse opvattings begin huldig.

        Die Heilige Gees vestig ons aandag pertinent op die groot eindtydse geloofsverval wat weens die verkondiging van valse leerstellings sal plaasvind (1 Tim. 4:1).

        Sommige van die Joodse bekeerlinge het aan Satan se versoekings toegegee om weer in sonde te begin leef. As gevolg van hulle teruggevallenheid het hulle “bose en ongelowige harte” gekry omdat hulle van die lewende God afvallig geword het (Heb. 3:12-13).

        Die boek Openbaring sluit met ‘n ernstige waarskuwing af dat gelowiges wat as gevolg van geestelike misleiding aspekte van God se Woord betwyfel en weglaat, of wat voorbarig genoeg is om dinge daarby te voeg, hulle saligheid sal verloor omdat God hulle name uit die boek van die lewe sal wegneem (Op. 22:18-19).

Die getroue gelowiges in Sardis wat in die oorwinning van die kruis leef, kry egter die versekering dat hulle name nie uit die boek van die lewe uitgewis sal word nie. Die Here Jesus sal hulle name in die hemel bely, omdat hulle sý Naam op aarde voor die mense bely en eer.

Volhard jy in die geloof sodat jy ook ‘n oorwinnaar kan wees? “Ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb. 3:14). “Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou” (Heb. 10:23). Paulus stel die vereiste van volharding ook aan die Kolossense indien hulle heilig en sonder gebrek voor die Here wil verskyn: “...as julle ten minste gegrond en vas bly in die geloof en julle nie laat afbring van die hoop van die evangelie nie” (Kol. 1:23). “Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit julle eie vastigheid nie” (2 Pet. 3:17).

Die leraar van die gemeente in Sardis was duidelik een van diegene wat die standaard van die Here se Woord afgebring en vormgodsdienstiges salig verklaar het om hulle gehoor te streel.

6. Filadelfia: Bemoediging aan getroue dissipels van Christus

Dit is ‘n baie besondere brief aan ‘n klein, evangeliese gemeente wat nie veel erkenning geniet nie en min invloed in ‘n bose, agnostiese en vormgodsdienstige samelewing het. Hulle moet die Here vir al hulle behoeftes vertrou, ook finansieel. Hy lei hulle egter en skep ook vir hulle die nodige geleenthede vir evangelisering omdat hulle aan Hom getrou is: “Ek het voor jou ‘n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie” (Op. 3:8).

Evangeliese Christene moet ag slaan op die drie grondliggende redes waarom hierdie gemeente die guns van die Here geniet: (1) hulle roem nie op hulle eie vermoëns om dinge te kan doen nie; (2) hulle hou die Bybel as die geïnspireerde Woord van God in ere; en (3) hulle bely en verkondig Jesus Christus as Here, Seun van God en Verlosser van die wêreld.

Hierdie getroue dissipels van Christus word aangemoedig om vas te hou wat hulle het, sodat hulle eendag genadeloon in die hemel kan ontvang (Op. 3:11). Hulle kry ook die versekering dat hulle nie in die verdrukking sal kom nie en dit sal ontvlug (vgl. Luk. 21:36). Die Here Jesus sê hulle sal bewaar word uit die uur van beproewing (nie in die uur van beproewing nie) wat oor die hele wêreld kom (Op. 3:10). Die Griekse voorsetsel apo beteken volgens Strong’s “away from something” (vgl. Op. 3:10 in die KJV). Ware Christene is beslis nie bestem om in of deur die tyd van verdrukking op aarde te gaan nie.

Ons leef in ‘n postmoderne wêreld waarin mense op hulle eie insig en rykdom vertrou om dinge te kan doen. Hulle glo nie in die Bybel as God se onfeilbare Woord nie, maar as ‘n menslik-geproduseerde boek wat vol teenstrydighede, Joodse volksverhale, vreemde simbole en mitologie is. Verder verwerp hedendaagse teoloë toenemend die maagdelike geboorte en godheid van Jesus, asook sy versoeningswerk aan die kruis en die meeste van sy goddelike attribute. Hulle huiwer selfs nie om lasterlike dinge van Hom te sê nie. Sodoende verloën hulle die Bybelse Jesus en skaar hulleself tot hulle eie ondergang by sy kritici en vyande.

7: Laodicea: Die verwerpte, selfregverdigende en materialistiese kerk

Die Here Jesus sê in hierdie brief waarom Hy Homself distansieer van gemeentes wat só erg in hulleself en hulle eie prestasie roem dat die kruisevangelie geen erkenning of prominensie in hulle selfbeoordeling ontvang nie: “Omdat jy lou is... sal Ek jou uit my mond spuug. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (Op. 3:16-17).

Hierdie gemeente en sy leraar(s) is só vol van hulle eie prestasies, populariteit en groot inkomste dat hulle nie eers agterkom dat hulle geestelik bankrot is nie. Hulle kom verkeerdelik tot die gevolgtrekking dat dit die Here is wat hulle ryk en voorspoedig maak. Menslik gesproke het hulle geen gebrek nie, maar volgens God se maatstaf skiet hulle ver tekort omdat hulle volgens hulle eie siening nie eers ‘n Verlosser nodig het nie. Hulle gebruik wél sy Naam, maar daar eindig hulle praktiese verbintenis met Hom. Hulle is nie ware dissipels wat ‘n kruis van selfverloëning opneem en Christus daagliks volg nie, want hulle verdiep hulle in hul menslik-bedinkte belydenisskrifte waarin almal op grond van uitverkiesing en ritualisering saliggespreek word. Verder streef hulle sekulêre doelstellings na wat gerig is op groter geboue, meer beleggings, buitengewoon hoë salarisse aan ampsdraers, asook duur sale vir vermaaklikheid, sport, ontspanning en die hou van politieke vergaderings, vendusies en basaars.

Hierdie kerk kom nie agter dat die Here Jesus hulle verlaat het, sy Gees aan hulle onttrek het en nou buite by die deur staan en klop nie. Hy is steeds begaan oor die verloregaande menigtes wie se lewens binne-in die kerk op ‘n valse fondament gebou word. Hy sê vir hulle: “Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou. Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop...” (Op. 3:19-20). As “iemand” (m.a.w. individue in die kerk) sy stem hoor en die deur na hulle harte oopmaak, sal Hy inkom en met hulle maaltyd hou.

Daar is egter geen aanduiding dat die hele kerk sal hervorm, sy deur vir die Here Jesus sal oopmaak en aan Hom die sentrale plek in hulle eredienste en aktiwiteite sal gee nie. Ons leef in die tyd van die groot afval wat deur valse leerstellings, wêreldgesindheid, ekumeniese denke en die bou aan ‘n menslike koninkryk op aarde gekenmerk word. Dit is ‘n moderne toring van Babel. Sulke mense is wegbereiders vir die koms van die Antichris en die vestiging van sy wêreldstaat.

Lidmate wat onder die leiding van die Heilige Gees tot sondeoortuiging kom en besef dat hulle kerk op ‘n dwaalspoor is, moet onverwyld hulle saak met die Here regmaak en dan ‘n geestelike tuiste vir ware gelowiges soek – al is dit ook net ‘n klein groepie toegewyde kinders van die Here. Die argument van sommige bekeerlinge dat hulle as ‘sendelinge’ in dooie kerke aanbly, is nie volgens die Bybel geldig nie. Mens kan nie by ‘n kompromerende, louwarm of dooie ‘sendigveld’ aansluit, deur jou lidmaatskapsonderneming so ‘n dwalende kerk se verkeerde leerstellings en afwykende prediking goedkeur, en dan van binne af probeer om mense tot ander insigte te bring nie.

Die Bybelse opdrag met betrekking tot kompromiemakers, ekumeniese denkers en vormgodsdienstige groepe is baie duidelik: “Gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here... en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees” (2 Kor. 6:17-18). Die Here Jesus sê aan die getroues in Laodicea wat saam met Hom buitekant die valse strukture staan: “Aan hom wat oorwin, sal ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het” (Op.

3:21).

Ons moet deur die Here se genade ook oor geestelike dwalings oorwin en daarvan verlos word. Ons sal nêrens in ons geestelike lewe kom as ons vol van onsself en vol van menslik-bedinkte teologiese sienings is, maar ons is nie vol van die Heilige Gees en van die ware kennis van God se Woord nie. Word die Here Jesus meer in jou lewe en jy minder (vgl. Joh. 3:30)? Die kerk van Laodicea verblind sy lidmate vir die groot waarhede van die Bybel, want omtrent alle beloftes, voorskrifte en waarskuwings word vergeestelik; hulle weier om dit letterlik op te neem. Hierdie mense weet ook niks van die Here Jesus se wederkoms nie en dit sal onverwags, soos ‘n strik, oor hulle kom (Luk. 21:34-36). In daardie laat uur, te midde van groot benoudheid en honderde vrae wat hulle eie predikante nie sal kan beantwoord nie, sal hulle óf slagoffers van die Antichris so groter misleiding wees, óf vir die eerste keer ernstig na die waarheid begin soek. Die ware Christene sal dan in die hemel wees, terwyl die Antichris en valse profeet op aarde geopenbaar sal word en binne ‘n kort tyd deur geweldige misleiding die hele wêreld agter hulleself sal skaar.

Die tyd van oordeel

Petrus sê: “Die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van dié wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?” (1 Pet. 4:17-18). Die oordeel van gelowiges sal direk ná die wegraping voor die regterstoel van Christus plaasvind. Hoewel daar “geen veroordeling is vir die wat in Christus Jesus is nie” (Rom. 8:1; Joh. 5:24), sal ons werke nogtans aan ‘n vuurproef onderwerp word (vgl. 1 Kor. 3:9-16; 2 Kor. 5:10). Sommige van ons dien nie die Here soos ons moet nie en sal met leë hande voor Hom verskyn, gered asof deur vuur heen (1 Kor. 3:15). Ons sal beslis nie beloon word as ons met verganklike materiaal op die fondament, Jesus Christus, bou nie. Gebruik jy jou talente in die diens van die Here, of het jy dit dalk iewers weggebêre? Ons moet werke doen wat by die bekering pas. As ons dit nie doen nie, is die kanse groot dat ons ‘n dooie, vormgodsdienstige geloof het, want geloof sonder werke is ‘n dooie geloof. Hoe kan ‘n dooie geloof jou red (Jak. 2:14,26)?

Die kerkbanke is vol van hierdie selfverklaarde maar ongeredde Christene. Jesus Christus se briewe aan die gemeentes bevat ernstige waarskuwings dat die meeste van hulle op veroordeling voor die groot wit troon afstuur. Ongereddes sal nie met die wegraping saamgaan om voor die regterstoel te verskyn nie, omdat net ware gelowiges daarheen ontbied sal word. Die Here Jesus veroordeel misleide, nominale Christene en kerke op die sterkste manier: “Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het... Ek sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie... Jy het mense wat vashou aan die leer van Bileam [kompromie met nie-Christelike gelowe]... Bekeer jou, anders kom Ek gou na jou toe en sal teen hulle oorlog voer met die swaard van my mond... Kyk, Ek werp haar [die valse profetes] op ‘n siekbed, en die wat met haar [geestelike] owerspel bedryf, in ‘n groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer nie... Jy het die naam dat jy leef, en jy is dood... Omdat jy lou is, sal Ek jou uit my mond spuug” (Op. 2:4,14-16,22; 3:1,16).

Is jy seker van jou saligheid? Die tyd van rekenskap voor die Here se troon kom elke dag nader. Ons moet werk terwyl dit dag is, want die nag van God se oordele kom, dan kan niemand werk nie. Genadetyd gaan verby, en so ook gaan die geleenthede verby om ons saak met die Here reg te maak en iets vir die uitbreiding van sy koninkryk te beteken voordat Hy kom. Diegene wat op die verkeerde pad is, sal dringend in die lig van die Woord ‘n bepaling moet doen oor waar hulle regtig met die Here staan: “Ondersoek julleself of julle in die geloof is; stel julleself op die proef” (2 Kor. 13:5).

Hoe stel ‘n mens jouself op die proef?

        Kyk na die aard van jou stiltetye. Ongeredde mense én vleeslike Christene het nie ‘n voorliefde vir Bybelstudie en gebed nie. Bid jy gereeld en het jy ook vrymoedigheid om voor ander mense te bid?

        Is jy met die Heilige Gees vervul en wandel jy deur die Gees, of is daar nog vleeslike gesindhede, hartstogte en begeertes wat die botoon in jou lewe voer (vgl. Gal. 5:16-17)? Kom maak die saak met die Here uit, kruisig en verloën die vlees en vertrou die Here om jou vir die eerste keer, óf by hernuwing, met sy Gees te vervul.

        Beoordeel jy die prediking in jou kerk vir Skrifgetrouheid, en maak jy beswaar indien dwalings verkondig word? Jy sal die Bybel redelik goed moet ken voordat jy hierdie noodsaaklike plig kan verrig. Indien jy onseker oor iets is, gaan doen navorsing en stel vas wat die waarheid is.

        Is daar geestelike vrug in jou lewe? Reik jy met die evangelie na ander mense uit en is daar van hulle wat op grond hiervan kan getuig van seën wat hulle ontvang het?

        Vervul jy jou taak om die lig van ‘n donker wêreld en die sout van ‘n bedorwe aarde te wees? Dit sal vereis dat jy deur jou optrede die lig van die evangelie moet laat skyn op plekke waar die duisternis van sonde, valse gelowe en onkunde heers. Jy sal jou ook teen geestelike dwalings, korrupsie en goddeloosheid moet uitspreek (Ef. 5:11). Voordat jy dit sal kan doen, moet jy eers seker maak dat jy stewig aan die waarheid geanker is en daagliks in die voetstappe van die Verlosser wandel.

Die Heilige Gees wil ons in die hele waarheid lei en ons herinner aan alles wat die Here Jesus ons in sy Woord leer (Joh. 14:26; 15:26; 16:13-14). Ons moet ywerige studente van hierdie ewige waarhede wees en dit ook konsekwent in ons lewens toepas en uitleef. Dan alleen sal ons met vrymoedigheid voor die regterstoel van Christus kan verskyn wanneer die kerkbedeling verby is. Daar is nie meer baie tyd oor om aan agterstallige geestelike sake aandag te gee nie.