Johan Malan, Middelburg (April 2009)
Die verhouding tussen Jesus Christus en sy bruidsgemeente word op treffende wyse na analogie van Joodse huweliksgebruike in Bybelse tye beskryf. In hierdie artikel val die klem hoofsaaklik op die verpligtings wat tydens die bruidegom se lang afwesigheid op die bruid gerus het. Haar lewe in heiligheid en daaglikse toewyding aan die bruidegom was van deurslaggewende belang vir die dag wanneer hy haar sou kom haal, en dus ook vir die finale voltrekking van hulle huwelik.
Nadat ‘n jongman ‘n meisie ontmoet het van wie hy hou, en sy ingestem het om ‘n vaste verhouding met hom te sluit wat tot ‘n huwelik sou lei, het die voorbereidings vir ‘n verlowingsplegtigheid begin.
Die jongman moes eers sy pa se toestemming verkry om die huwelik te sluit. Spoedig daarna het die jongman en sy pa by die huis van die voornemende bruid opgedaag en aangeklop. Die vader in die huis, wat reeds van die beplande besoek bewus was, het van binne af deur ‘n klein venstertjie geloer om te sien wie buite was. Dan het hy na sy dogter gekyk wat eers moes “ja” sê voordat hy die deur vir die besoekers oopgemaak het. Indien sy nie met die huweliksonderhandelings wou voortgaan nie, het sy “nee” gesê. Die deur is dan nie oopgemaak nie en die jongman en sy pa het onverrigtersake teruggegaan huis toe.
Wanneer die meisie egter ingestem het, is die deur oopgemaak en was die sluiting van die verlowing en huwelikskontrak ‘n blote formaliteit. Die jongman en sy pa het die verwagte bruidsprys saam met hulle gebring, asook ‘n beker en ongegiste wyn. Hulle het by verskillende geleenthede gedurende hulle besoek wyn uit die beker gedrink om aspekte van die ooreenkoms wat tussen die twee individue en hul gesinne aangegaan is, seremonieel te beklink en te vier.
Die eerste was die beker van aanvaarding. Die lede van albei gesinne (insluitend kinders wat reeds die ouderdom van aanspreeklikheid bereik het), het uit die beker gedrink, daardeur ‘n bloedverbond gesluit, en onderneem om mekaar lewenslank te dien. Hierdie beker is rondgestuur pas nadat die besoekers ingekom het en die deur toegemaak is.
Die tweede was die beker van verlowing en vriendskap. Net die voornemende bruid en bruidegom en die twee gesinshoofde het hieruit gedrink. Die gesinne het hierdeur verklaar dat hulle ewige vriende van hulle gemeenskaplike seun en dogter word, asook van mekaar. Hierna is die ete bedien en is daar tussendeur oor die bruidsprys onderhandel. Indien die twee gesinne nie hieroor kon ooreenkom nie, kon die onderhandelings skipbreuk ly en die huwelikskontrak nie gesluit word nie. Wanneer die voorwaardes egter ten volle aanvaar is, is daar voortgegaan om die kontrak te sluit en uit die tweede beker te drink.
Die derde was die beker van erfgenaamskap. Aan die einde van die ete het slegs die bruid en bruidegom hieruit gedrink. Beide van hulle het hierdeur die voorwaardes van die huwelikskontrak aanvaar en hulle verhouding as toekomstige egpaar verseël. Die meisie het nou eers werklik die bruid geword. Jongmans in die gesin het ramshorings in die strate geblaas en die verlowing in die openbaar bekend gemaak. Van hierdie oomblik af het die paartjie aan mekaar behoort en ook ‘n gedeelde erfenis gehad. Indien enigeen van die twee hierna sou sterf, sou die ander een al sy of haar besittings erf, al was die huwelik nog nie seremonieel finaal voltrek nie. Die huwelikskontrak tussen hulle was bindend en kon slegs onder uiterste omstandighede verbreek word, bv. deur huweliksontrouheid. Josef en Maria was só ‘n verloofde paartjie toe hy hom voorgeneem het om weens haar vermeende ontrouheid van haar te skei: “Toe Maria verloof was aan Josef, voordat hulle saamgekom het, is sy swanger bevind uit die Heilige Gees. En Josef, haar man, omdat hy regverdig was en onwillig om haar openbaar te maak, het hom voorgeneem om in die geheim van haar te skei” (Matt. 1:18-19).
Wanneer die huwelikskontrak aanvaar is en die paartjie uit die derde beker gedrink het, het die bruidegom aan sy bruid geskenke gegee en ook die belofte aan haar gemaak dat hy haar sou kom haal nadat hy vir haar ‘n plek by sy vaderhuis gaan berei het. In die tussentyd het die bruid haarself besig gehou met voorbereidings vir haar huwelik. Sy het ook ‘n olielampie in haar kamer gehad wat in die aande moes brand. Sy moes toesien dat sy genoeg olie het, sodat haar lamp nie sou uitgaan wanneer die bruidegom haar kom haal nie. Wanneer sy bedags in die strate uitgegaan het, moes sy ‘n sluier dra sodat ander kon sien dat sy reeds gekoop is en aan ‘n man behoort.
Die bruidegom het intussen ‘n woonplek by sy vaderhuis gaan bou. Dikwels was dit net een vertrek wat aan die vader se huis gebou is. Dit het as die bruidsvertrek (Heb. huppah) bekend gestaan. Die vader van die huis moes eers sy tevredenheid met die vertrek uitspreek voordat die bruidegom sy bruid kon gaan haal. As iemand die bruidegom sou vra wanneer hy sy bruid gaan haal, het hy geantwoord dat net sy vader alleen weet op watter dag dit sou gebeur.
Die bruidegom het sy bruid in die aand of in die nag kom haal – gewoonlik tussen 6-uur die aand en middernag. Wanneer hy en sy geselskap van jongmanne naby die bruid se huis was, het hulle hardop geroep en ook op ‘n ramshoring geblaas sodat die bruid en die meisies wat haar vergesel, dadelik moes uitkom om die bruidegom buite op die pad te ontmoet. Diegene wat op daardie kritieke oomblik nie genoeg olie in hulle lampe gehad het nie, was laat vir die afspraak en het agtergebly.
Dit het soms ook gebeur dat die bruid belangstelling in die voltrekking van die huwelik verloor het – dalk as gevolg van ontrouheid teenoor haar verloofde – en dan haar voorbereidings om hom te ontmoet, gestaak het. In daardie geval sou sy nie ‘n brandende lamp gehad het nie. As die bruidegom gesien het dat haar kamer donker was, het hy haar net so in die duisternis gelaat en omgedraai huis toe. Die bruidsprys moes dan aan hom terugbetaal word. Indien dit aan die lig sou kom dat die bruid in sy afwesigheid owerspel gepleeg het, was sy skuldig aan die doodstraf.
Wanneer alles egter volgens plan verloop het, het die bruid ‘n brandende lamp in haar kamer gehad wanneer die bruidegom in die nag opdaag. Sy sou hom dan buitekant die huis tegemoetgaan en dadelik saam met hom na sy vaderhuis vertrek. Daar sou hy en sy sewe dae lank alleen in die bruidsvertrek wees waar hulle as man en vrou verenig is. Gedurende die sewe dae het die gaste wat na die bruilofsfees uitgenooi is, begin opdaag. Aan die einde van die sewe dae het die bruidegom sy vrou ongesluierd aan die gaste voorgestel en het die feestelikheid begin.
Tydens die fees het die getroude paar alleen uit die vierde beker ongegiste wyn gedrink, wat as die beker van danksegging bekend was. Dit was die groot oomblik van blydskap en danksegging vir die volvoering van hulle huwelik ná die lang tydperk van afsondering, wag en voorbereidings tref. Omdat hulle aan mekaar getrou gebly het, het die glansryke geleentheid van die huweliksfees vir hulle aangebreek.
Die Here Jesus het sy aanbod tot redding aan ‘n verloregaande mensdom dikwels na analogie van tradisionele Joodse huweliksgebruike gemaak. Hy is die hemelse Bruidegom wat van sy Vaderhuis af uit die hemel gekom het om diegene te soek en te red wat verlore is (Luk. 19:10). Sy doel is nie slegs om verlorenes te red en in sy diens te gebruik nie, maar ook om hulle volkome te heilig en lede van sy bruidsgemeente te maak, sodat hulle die erfenis van sy hemelse koninkryk met Hom kan deel. Alle Christene het met hulle redding hierdie hoë roeping van God in Christus Jesus ontvang, maar nie almal voldoen aan die voorwaardes om dit wél te verkry nie. Dit is iets waarvoor ons ons van harte moet beywer (Fil. 3:14).
Soos wat die voornemende Joodse bruidegom aangeklop het by die huis van die meisie met wie hy wou trou, klop die Here Jesus in ‘n geestelike sin aan die deur van ons harte en stel ons voor ‘n keuse of ons vir Hom wil oopmaak of nie. Hy sê: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My” (Op. 3:20). Elke mens het ‘n vrye wil en moet self besluit of hy/sy die Here Jesus in hulle lewe wil innooi. Johannes sê: “Almal wat Hom aangeneem het [wat Jesus as Verlosser in hulle lewe ontvang het], aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo” (Joh. 1:12).
Die boodskap van die evangelie is dat die Here Jesus die volle straf vir ons sonde aan die kruis betaal het – dit is die goddelike bruidsprys waarmee Hy elke sondaar loskoop wat hom/haar vir redding tot Hom wend en aan Hom wil behoort (1 Kor. 6:20; 1 Pet. 1:18-19; Op. 5:9). Wanneer ons die Nagmaalbeker as die beker van aanvaarding opneem, dan vier ons die feit dat ons vrygekoop is, aan die Here Jesus behoort en Hom lewenslank sal dien. Hy is ons Verlosser en ons is sy dissipels of diensknegte.
Baie Christene berus ongelukkig by hierdie aanvanklike oorgawe. Hulle soek nie na ‘n dieper en meer intieme verhouding met Christus, sodat hulle al sy beloftes kan verkry nie. Hulle kyk die feit mis dat Hy nie net ons Verlossing wil wees nie, maar ook ons Heiligmaking en ons Bruidegom.
Voor die finale bekragtiging van die Joodse huwelikskontrak het die twee partye saam geëet en verder oor die voorwaardes van hierdie ooreenkoms en nuwe verhouding gesels. Wanneer hulle oor alles saamgestem het, is die beker van verlowing en vriendskap opgeneem.
Die Woord van God is vir ons geestelike voedsel – die brood van die lewe – en ons sit by ‘n tafel aan wat vir ons berei is. Wanneer ons intensiewe Bybelstudie doen, leer ons die Here Jesus beter ken en verkry ‘n behae in sy Woord. Ons begryp ten volle wat Hy vir ons gedoen het en wat die voorwaardes van ons verhouding met Hom alles behels. Hierdie opdragte word met graagte uitgevoer. Dan kom die dissipel van Christus nóg nader aan Hom en word ook sy verloofde en vriend wat sy Woord beter verstaan en gehoorsaam. Dit is veel meer as die verhouding tussen ‘n dienskneg en sy heer. Christus het gesê: “Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het” (Joh. 15:15). Hy deel aan ons wonderlike dinge mee oor die dieper aspekte van ons vriendskaps- en verlowingsverhouding met Hom. Herbevestig jy by die gebruik van die Nagmaal jou vriendskap en intieme verbintenis met die Here Jesus?
Ons moet ook nie by die begin van hierdie toewyding bly vassteek nie, want die Here Jesus het ‘n hoë roeping vir sy dissipels as lede van sy bruidsgemeente. Dit vereis dat hulle absoluut afgesonderd van die wêreld sal leef en hulle daagliks sal voorberei vir die verskyning van die hemelse Bruidegom en hulle vereniging met Hom. ‘n Belangrike aspek van hierdie voorbereidings is om ‘n brandende lamp met genoeg olie te hê. Dit dui op ‘n Geesvervulde lewe. Die lamppit moet ook voortdurend skoongemaak word om helder te kan brand. Ons doen daadwerklike stappe om ons van alle besoedeling van die gees en vlees te reinig, en met sy Heilige Gees vervul te word sodat ons die heiligmaking in die vrees van die Here kan volbring (2 Kor. 7:1; Ef. 5:18; 1 Joh. 1:7). As ons ten volle aan die Bruidegom oorgegee en toegewy is, sal ons onder die leiding van die Heilige Gees werke doen wat aan ons ‘n bruilofskleed sal besorg. Dié werke word as “die regverdige dade van die heiliges” beskryf (Op. 19:7-8).
Wanneer hierdie vlak van toewyding bereik is, word die beker van erfgenaamskap opgeneem. Daar is dan ‘n diepe bewussyn by gelowiges dat hulle vreemdelinge en bywoners in die huidige, goddelose wêreld is, omdat hulle hul uitstrek na Christus se koninkryk waarin hulle saam met Hom as konings sal regeer. Paulus sê dat ons “erfgename van God en mede-erfgename van Christus [is], as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word” (Rom. 8:17; vgl. 2 Tim. 2:12). By die instelling van die Nagmaal het Jesus gesê: “Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed” (1 Kor. 11:25). ‘n Testament is ‘n erflating wat eers van krag is nadat die testamentmaker gesterf het (Heb. 9:16-18). Toe Jesus sy lewe afgelê en sy bloed aan die kruis gestort het, het Hy van ons mede-erfgename in sy ewige hemelse koninkryk gemaak, waar ons sy “vrou” sal wees en ook saam met Hom sal regeer.
Het jy al by die punt gekom waar die Here Jesus en die wonderlike beloftes in sy Woord vir jou alles is, en jou waardes só verander het dat jy eerder skatte in die hemel as hier op aarde sal bymekaarmaak? Dan sal die lig van jou getuienis helder in ‘n donker wêreld skyn en sal jy geen kompromie met ‘n verdorwe wêreld maak nie. Jy sal nie na aardse rykdom (die voorspoedsevangelie) en ‘n mensgemaakte koninkryk op aarde vóór die koms van Christus soek nie. Ons strek ons uit na ‘n koninkryk wat eers geopenbaar sal word wanneer die Koning kom!
Die Joodse bruidegom het seker gemaak dat sy bruid presies weet waarom hy weggaan, en dat hy beslis weer sou kom om haar te kom haal. Ons het ‘n soortgelyke belofte ontvang. Jesus het gesê: “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh. 14:2-3).
Ons moet duidelik besef dat ons toekoms by Jesus Christus lê, en dat ons as lede van sy bruidsgemeente in die onsigbare werklikheid van sy hemelse koninkryk leef, wat tans op aarde verborge is omdat die Koning nog nie gekom het nie. Ons pas nie in die huidige wêreld in nie en verwerp sy bose praktyke (Ef. 5:11), daarom haat die wêreld ons (Joh. 15:18-20). Ons strek ons uit na ‘n heerlike toekoms wanneer ons met die hemelse Bruidegom verenig sal wees: “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam” (Fil. 3:20-21).
Dit is uiters belangrik dat ons die volle implikasies daarvan sal besef om kinders van ons hemelse Vader te wees en deur sy Gees bekragtig te word om onder alle omstandighede aan Hom getrou te bly terwyl ons op die skielike koms van die Bruidegom wag. Ons moenie die Here Jesus slegs as ons Verlosser en Heiligmaking vereer en dien nie, maar ook as ons Bruidegom en Koning saam met wie ons sal regeer indien ons waardig bevind word. Ken jy die Messias in al hierdie hoedanighede, of is jy dalk nog net ‘n dienskneg van Hom? Ons moet besef wat die hoë roeping is wat ons in Hom het, en daarvolgens lewe.
Gelowiges wat nie ‘n duidelike begrip van hulle stand in Christus het nie, het ‘n gebrekkige geestelike perspektief, ‘n onvolkome toewyding aan hulle Verlosser, ‘n twyfelagtige verwagting op sy wederkoms, en gevolglik ‘n verswakte motivering om enduit aan Hom getrou te bly. Hulle loop gevaar om te versuim om deur God se Gees te wandel, en as gevolg daarvan deur die wêreld en sy begeerlikhede tot geestelike afvalligheid verlei te word. Dit kan tot ‘n ernstige situasie van ontrouheid teenoor die hemelse Bruidegom lei. Paulus sê: “Ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus” (2 Kor. 11:2-3).
Hoewel die huwelikskontrak wat ons met Christus gesluit het, bedoel is om permanent en bindend te wees, en ook deur die Gees van God verseël is, plaas dit voorwaardes op beide partye en kan dus steeds deur kontrakbreuk vernietig en ongeldig verklaar word. Die Bruidegom kan nie ontrou raak nie en sal altyd sy beloftes nakom (2 Tim. 2:13), maar óns kan wel ontrou raak en selfs verloor wat ons deur die geloof in Hom verkry het (vgl. Joh. 15:4-6; Kol. 1:23; Heb. 3:12-14). Die Joodse bruidegom het sy voormalige bruid verwerp indien dit by sy terugkoms geblyk het dat sy ontrou aan hom geraak en nie meer ‘n brandende lamp gehad het nie.
Christene kan ook hulle eerste liefde verlaat en in geestelike duisternis verval. Die Here Jesus sê: “Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Op. 2:4-5). Die kandelaar was die houer waarin die olie gegiet is wat simbolies op die Heilige Gees dui. Dit het ‘n persoon toegelaat om die lig van die Messias se teenwoordigheid in ‘n donker wêreld te laat skyn. Indien so ‘n persoon egter sy liefde vir die Messias verloor het en deur die liefde vir wêreldse dinge oorkom is, loop hy gevaar om die kandelaar met sy lig (die Heilige Gees) heeltemal te verloor. Sulke persone sal nie met die wegraping saamgaan om in die hemelse ivoorpaleis as die bruid van die Lam met Hom verenig te word nie (vgl. Ps. 45:9-10, 15-17). Die afvalliges het die Messias deur hulle optrede voor die mense verloën, daarom sal Hy hulle ook in die hemel voor sy Vader verloën (Matt. 10:32-33).
Dié lede van die bruidsgemeente wat waardig is deur genoeg olie in hulle lampe te hê en dus nie in geestelike duisternis verval het nie, sal in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, weggevoer word wanneer die Bruidegom kom (Matt. 25:6-10; 1 Kor. 15:51-52; 1 Thess. 4:16-17). Daarna sal hulle vir sewe dae, wat profeties op ‘n week van sewe jaar dui (Lev. 25:8), by die hemelse Bruidegom wees en deur niemand op aarde gesien kan word nie. Dit sal die sewe jaar van die verdrukking op aarde onder die bewind van die Antichris wees.
Ná hierdie sewe jaar sal die hemelse Bruidegom saam met sy “vrou” kom met wie Hy verenig is, en sy koninkryk op aarde vestig. Nadat Hy die Antichris en sy magte verdelg het (Op. 19:19-21), ‘n oorblyfsel van Israel en die nasies gered het (Sag. 12:10; Matt. 24:29-30), en die vervalle troon van Dawid herstel het (Hand. 15:16-17), sal die bruilofsmaal van die Lam (die onthaal ná die troue) op aarde plaasvind. Lede van Israel en die nasies wat pas gered is, sal die gaste by hierdie luisterryke geleentheid wees: “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:7-8).
Dit is by hierdie geleentheid wanneer die beker van danksegging deur die bruid en die Bruidegom gedrink sal word. Die groot oomblik van die bruid se verheerliking sal aanbreek, kort nadat sy saam met Jesus Christus op aarde geopenbaar is: “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word” (Kol. 3:4). Die Here Jesus het na hierdie Nagmaal verwys wat Hy vir die eerste keer weer saam met sy ware dissipels sal vier, nadat Hy op aarde was om voorsiening te maak vir hulle redding, asook vir die sluiting van ‘n huweliksverbond met Hom: “Voorwaar Ek sê vir julle, Ek sal nooit meer van die vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit nuut sal drink in die koninkryk van God” (Mark. 14:25).
Die koninkryk van Christus sal eers ná sy wederkoms op aarde geopenbaar en gevestig word, daarom sal die bruilofsmaal van die Lam hier gevier en die beker van danksegging hier geneem word wanneer ons die koninkryk finaal sal beërf. Hierdie Nagmaal en dankseggingseremonie sal nie direk ná die wegraping gevier word nie, want die sewe jaar van die bruid se afsondering saam met die Bruidegom moet eers volg.
Diep simboliek is in hierdie komende Nagmaal verborge. Tydens die Nagmaal word ongegiste wyn gedrink wat dui op die bloed van Christus wat vir die vergifnis van ons sonde gestort is. Die Here Jesus is die wynstok en ons die lote. Ons kry ons lewensap van Hom af, deur middel van die Heilige Gees wat sy liefde in ons harte uitstort (Rom. 5:5). Ons moet dan vrugte dra wat die vrug van die Heilige Gees is. Eers wanneer al hierdie vrugte in die koninkryk van die Bruidegom ingesamel is, kan daar ‘n Nagmaal gevier word wat die geestelike vrugte van die ware wynstok verteenwoordig. ‘n Streng keuring van hierdie vrugte sal by die regterstoel van Christus plaasvind (1 Kor. 3:9-16; 2 Kor. 5:10). Net die regverdige dade van die heiliges sal as goud, silwer en kosbare stene die vuurproef deurstaan en gevolglik aanvaar en beloon word. Die vleeslike werke van Christene wat nie hulle volle erfenis in die Messias in besit geneem het nie omdat hulle by die eerste beker vasgesteek het, sal as bloot menslike werke verwerp word (1 Kor. 3:15).
Die groot vraag aan alle Christene is dit: “Het jy dalk by die eerste reiniging van jou sondes berus en nagelaat om jou volle erfenis in die Messias in besit te neem?” Dan gaan jy agteruit in jou geestelike lewe en nie vooruit nie. Petrus sê dat Christene by hulle geloof godsvrug, broederliefde en naasteliefde moet voeg, “want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie; want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet” (2 Pet. 1:6-9).
Is jy dalk onder hierdie blinde en kortsigtige Christene wat nog nie die stap van heiligmaking en toewyding tot die Here Jesus se diens geneem het nie? Dan sal jy eendag beskaamd voor Hom verskyn, omdat jou werke soos hout, hooi en stoppels sal verbrand. Aan die getroues sal die Messias sê: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer” (Matt. 25:23).