Dave Hunt deur Calviniste Weerlê

Prof. Johan Malan, Middelburg, RSA (Okt. 2009)

Dave Hunt se boek, What Love is This? – Calvinism’s Misrepresentation of God, het al baie goeie én negatiewe kritiek ontlok. Calvinisme is ‘n hoogs omstrede onderwerp, maar juis daarom is dit nodig om albei kante van die saak objektief te ondersoek. Uit die aard van die saak stem die Calviniste nie een met Dave Hunt saam nie. Phil Johnson het in die volgende artikel fel kritiek teen hom gelewer, en selfs bygevoeg dat hy hoegenaamd nie in een opsig positiewe kommentaar op die boek kan lewer nie:

http://www.thegracelifepulpit.com/philsermons.htm

[2003-03-06-PJ Calvinism on Trial (Dave Hunt Critique) Conference Seminar]

Phil Johnson het sy bes probeer om tot die verdediging van Calvinisme te kom. Omdat Dave Hunt (met uitsondering van sy eie gemotiveerde siening oor ewige sekerheid) fundamentele Calvinisme absoluut en sonder voorbehoud verwerp, is Phil se verwerping van Hunt ewe radikaal. Phil bied egter nie naastenby genoeg feite aan om die dwalings van Calvinisme te regverdig nie.

Dit is ‘n onaanvegbare feit dat hiper-Calvinisme nie die Blye Boodskap van die evangelie is nie. Hulle siening van God se soewereiniteit, nl. dat Hy voor die grondlegging van die wêreld besluit het wie gered sal word en wie nie, vorm die grondslag van die uitverkiesingsleer, en trek volledig ‘n streep deur die mens se vrye wil en al die verantwoordelikhede wat hy in terme van die evangelie het. Dave Hunt het ‘n geweldige diens aan die Christendom bewys deur hierdie dwalings uit te wys. Dit is onbillik om te beweer dat hy dit op ‘n subjektiewe, kras en veroordelende manier doen, want hy baseer juis sy gevolgtrekkings op feite. Phil was verplig om te erken dat Hunt sy argumente op ‘n baie akademiese en oorredende manier (objektief en met die vermelding van baie bronne) aanbied, maar hy beskou die bronne as eensydig.

Ons moet onthou dat Hunt besig is om ‘n valse teologiese konstruksie te ontmasker, daarom spreek hy in werklikheid hiper-Calvinisme aan, m.a.w. Calvinisme in sy “rou” vorm. Uit sy oorsig blyk dit duidelik dat Calvinisme baie sterk op Augustinus as kerkvader leun, dieselfde as wat die Rooms-Katolieke Kerk ook doen. Is dit nie al klaar genoeg rede tot kommer dat die Calviniste en Katolieke dieselfde kerkvader aanhang en navolg nie?

Kyk in watter toestand het Calvinistiese kerke mettertyd verval. Die evangelie het omtrent totaal in die Anglikaanse Kerk in Engeland uitgesterf toe John Wesley op die toneel verskyn en met herlewingsdienste begin het. Dieselfde kan van Gereformeerde kerke in Nederland en elders gesê word. Die feit dat daar wel ‘n aantal evangeliese Calviniste was, bv. Whitefield en Spurgeon, kan geensins as regverdiging vir die Calvinistiese teologie in sy geheel aangebied word nie. Hulle was nie hiper-Calviniste nie!

Dit sou dalk goed gewees het as Dave Hunt ‘n bietjie meer oor hierdie evangeliese Calviniste uitgewei het, naamlik dat hulle nie vyfpunt-Calviniste was nie, en net sekere van Calvyn se grondstellings aangehang het – ook net gedeeltelik. Tydens die Kerkhervorming het sekere van die evangeliese Christene wat lankal reeds die rug op die Vatikaan gedraai het, by Calvinistiese of Lutherse kerke aangesluit, bloot omdat hulle van Katolisisme  af weggebreek het. Baie ander (bv. die Anabaptiste) het nie by die kerke van die hervormers aangesluit nie omdat hulle nie regtig met die leer van Calvyn en ander hervormers kon saamstem nie.

Calviniste soos Spurgeon het in vele opsigte van hiper-Calvinisme afgewyk, sonder om egter die Calvinistiese teologie in sy geheel te verwerp. Calviniste gryp na strooihalms indien hulle hul teologie n.a.v. sulke evangeliese predikers wil regverdig. Indien Spurgeon in die tyd van Calvyn geleef het, sou hy waarskynlik as ‘n ketter tereggestel gewees het. Hy het hom op mense se vrye wil beroep om ‘n keuse vir Christus te maak, en daarop gewys dat indien hulle nie die stap doen nie, hulle deur hulle eie nalatigheid verlore sou gaan. Dit is nie Calvinisme nie! Spurgeon het die bekeerlinge ná hulle belydenis as gelowiges deur onderdompeling gedoop. Calvyn het talle mense op grond hiervan tot ketters verklaar en verban of vervolg. Dit is dus op baie geringe en twyfelagtige gronde dat Spurgeon homself ‘n ware Calvinis genoem het.

‘n Mens sou selfs nog verder as Dave Hunt kon gaan om hiper-Calvinisme te weerlê. Op die vyfde grondstelling van Calvinisme, nl. ewige sekerheid (eenmaal-gered-altyd-gered) stem Dave Hunt met die Calviniste saam, hoewel hy ander redes daarvoor aanbied. Hy glo ook dat ‘n Christen nie só ver kan verval dat hy sy saligheid verloor nie. Die hele Bybel spreek homself teen hierdie verkeerde siening uit. Ewige saligheid is net in Christus, en solank ons in Hom bly, is ons hiervan verseker. Indien ons egter nie in Hom bly nie, verbeur ons dit (vgl. Joh. 15:4-6).

Dit is duidelik dat Dave Hunt in hierdie opsig die reël van die vrye wil oor die hoof sien. Volgens die Bybel kan Christene inderdaad verkeerde besluite neem, soms tot hulle eie ondergang. Selfs Timótheus is daarteen gewaarsku en aangemoedig om voortdurend aan die geloof en ‘n rein lewe vas te hou (1 Tim. 1:19; vgl. Heb. 3:6,14). Kyk in watter toestand kerke beland waar daar aan lidmate gesê word dat hulle nooit verlore kan gaan nie, al doen hulle ook wat!

Gelukkig het ons nie vir Calvyn, Augustinus of enige van die kerkvaders in ons lewe en teologiese oortuigings nodig nie. Die Here Jesus, sy Woord en die leiding van die Heilige Gees is meer as genoeg.

In die volgende artikel word die kritiek teen Calvinisme meer breedvoerig verduidelik, asook die posisie van evangeliese Christene binne die verband van Calvinisme:

http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Davehunt.htm