Prof. Johan Malan (Hersien in Januarie 2007)
Dit is opvallend dat wanneer die totale menslike geskiedenis in oënskou geneem word, daar geestelik gesproke ‘n duidelike ‘n patroon van opeenvolgende dae en nagte onderskei kan word. Hierdie tydperke van afwisselende lig en duisternis staan in verband met tye van geestelike herstel of toenadering tot die Here, gevolg deur tye van groot geestelike afvalligheid. Op ‘n kleiner skaal gaan alle volke en individue deur sulke tydperke, omdat almal van hulle keuses tussen die lig van God se teenwoordigheid en die duisternis van sonde en ongeregtigheid moet maak. Afhangende van hoe hierdie keuses uitgeoefen word, tree daar sekere gevolge vir almal van hulle in. Kom ons kyk nou in ‘n breë verband na sulke dae en nagte in die hele menslike geskiedenis. Dit sal aan ons beter begrip vir ons eie tydsomstandighede gee.
Die dag van die skepping. God het die mens goed gemaak, en volkome geluk het in die Tuin van Eden geheers waar Adam en Eva in die Here se teenwoordigheid gewandel het. Hulle het egter ‘n vrye wil gehad, daarom het die moontlikheid bestaan dat hulle wel kon sondig deur God se gesag te minag en sy wette te verbreek.
Die nag van die sondeval. Adam en Eva is deur Satan mislei om aan God ongehoorsaam te wees. Daardeur het hulle ‘n gevalle, sondige natuur gekry wat weg van God af geneig het. Hierdeur het Satan aansienlike mag gekry, want hy het die god van ‘n verdorwe, God-verwerpende mensdom geword (Rom. 5:12; 2 Kor. 4:4). As gevolg van die sondeval is die eerste mense uit die paradys verdryf om ‘n moeitevolle bestaan daarbuite te voer. Die aarde is ook deur die sondeval getref; dit het dorings en distels voortgebring, is deur plae en peste geteister en word nadelig deur onstabiele weersomstandighede en natuurrampe beïnvloed.
Die dag van nuwe moontlikhede. God het die geestelik gevalle mense nie as slawe van sonde aan hulle lot oorgelaat nie, maar aan hulle deur hul gewete ‘n aanvoeling tussen reg en verkeerd laat behou en aan hulle die moontlikheid gebied om deur offers en gebede met God te kommunikeer en die weg van geregtigheid te bewandel. Die Here het vir Kain gesê: “Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie – die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jý moet daaroor heers” (Gen. 4:7). Mense kon dus wilsbesluite neem en die goeie bo die kwaad verkies. Die teendeel is egter ook waar: hulle kon hulleself teen die Here verhard, die pad van sonde verkies, verder van Hom af wegdwaal, en sodoende geestelik totaal verdorwe raak.
Die nag van die sondvloed. Die neiging tot sonde het sodanig die oorhand gekry dat alle mense op aarde, met die uitsondering van net Noag en sy gesin, geheel en al van die Here afvallig geraak en as gevolg daarvan in totale geestelike en morele verdorwenheid beland het. Hulle geestelike verduistering het só erg geraak dat die Here hulle deur ‘n groot vloed van die aardbodem af uitgedelg het (Gen. 6:5-13). Dit het inderdaad, deur hulle eie toedoen, vir hierdie sondaars nag geword.
Die dag van Israel se roeping. Ná die sondvloed het daar weer ‘n nuwe geslag mense uit Noag en sy drie seuns en skoondogters voortgekom. Die Here het volgens Génesis 9:1-17 met Noag en sy seuns ‘n verbond gesluit en hulle geseën. Gaandeweg het goddeloosheid egter só toegeneem dat die Here vir Abraham uit die heidendom geroep het om vir Homself ‘n volk tot stand te bring wat afgesonderd van die heidene sou leef. Deur hulle sou die lig van die Here in ‘n donker wêreld skyn omdat Hy Homself aan hulle sou openbaar. Abraham, Isak en Jakob was die stamvaders van hierdie volk, waaruit die Verlosser van die mensdom in die volheid van die tyd gebore sou word.
Die nag van Israel se lang slawerny in Egipte. Grootskaalse geestelike afvalligheid het egter ook in die volk van God voorgekom, en dit het tot die nag van hulle vierhonderd jaar lange slawerny onder die juk van die heidense Egiptenare gelei. Hier het hulle geleer om afgode te aanbid terwyl hulle gaandeweg al hoe meer deur die vyande van God onderdruk en verneder is.
Die dag van Israel se bevryding en volksplanting in die Beloofde Land. Met Israel se uittog uit Egipte, nadat die paaslam geslag en die bloed aan hulle deurposte gesprinkel is, het hulle weer die lig van God se teenwoordigheid betree. Onder Moses se leierskap en die Tien Gebooie wat hulle by Sinai gekry het, is hulle geleer om in God se weë te wandel en ook voorberei om as volk van God die Beloofde Land in besit te neem. Hoewel nie almal van hulle die Here van harte gedien het nie, het Israel tot groot hoogtes onder leiers soos Moses en Josua, profete soos Samuel, en konings soos Dawid, Salomo, Hiskia, Asa en Josia uitgestyg.
Die nag van die Assiriese en Babiloniese ballingskap. Mettertyd het goddeloosheid totaal die oorhand in Israel gekry en is ‘n groot groep van die noordelike tienstammeryk in die 8ste eeu v.C. as krygsgevangenes na Assirië weggevoer, terwyl die ballingskap van die suidelike ryk van Juda in die 6de eeu voor Christus plaasgevind het. Jerusalem en die tempel is verwoes en Israel het as ballinge tussen hulle vyande gebly.
Die dag van Israel se herstel uit die ballingskap. ‘n Tyd van geestelike herstel het weer vir Israel uit die ballingskap aangebreek, en hulle het ook die stad Jerusalem en die tempel herbou. Die Pasga is in Jerusalem gevier en die volk het hulleself opnuut aan die Here toegewy. Die lig van hierdie dag van geestelike herstel het egter weer gekwyn en in duisternis geëindig.
Die nag van Israel se vervreemding van God. Die volk van God het geestelik só verval dat hulle mettertyd heeltemal van die Here vervreemd geraak het. Maleági was die laaste profeet wat die Here in die Ou Testament na sy volk gestuur het, en toe hulle na hom ook nie wou luister nie, het die Here se stem stil geraak in Israel en was daar vir die daaropvolgende 400 jaar nie ‘n profeet wat God se woord aan die volk verkondig het nie.
Die dag van die Messias se koms. Met die koms van die Messias het die lig van Here weer helder oor Israel geskyn: “Die volk wat in duisternis wandel, het ‘n groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het ‘n lig geskyn” (Jes. 9:1). Lukas het die Messias beskryf as “die opgaande Lig uit die hoogte... om te skyn oor die wat in duisternis en doodskaduwee sit, om ons voete na die pad van vrede te rig” (Luk. 1:78-79). Hy het die koninkryk van God aan Israel verkondig, en daarna sy lewe as ‘n soenoffer vir die sondes van die hele wêreld aan die kruis afgelê. Voor sy hemelvaart het Hy aan sy dissipels opdrag gegee om die boodskap van sy reddende genade in Israel uit te dra, en daarvandaan verder tot aan die uiterste van die aarde. Die lig van Jesus Christus moes dus deur sy dissipels oral op aarde skyn.
Die nag van Israel se internasionale verstrooiing. Israel het weens hul wettiese vormgodsdiens en die verhardheid van hul harte as volk die Messias verwerp en daardeur die pad van geestelike duisternis en swaarkry verkies. Hierdie nag in hulle volksgeskiedenis het by die kruisiging van die Messias begin en in die jaar 70 tot die verwoesting van Jerusalem en die internasionale verstrooiing van Israel gelei. Dié toestand het tot in die 20ste eeu voortgeduur toe Israel in 1948 weer in hulle land herstel is as ‘n voorbereiding vir hulle geestelike herstel wanneer die Messias weer kom. Oor hierdie lang tyd van verstrooiing het die Here Jesus vir hulle gesê: “[julle] sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Hy het ook na sy wederkoms en toekomstige versoening met die volk Israel verwys toe Hy vir hulle gesê het: “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23: 39; vgl. Ps. 118:26).
Die dag van Israel se eindtydse herstel. Ten spyte van Israel se lang internasionale verstrooiing het God volgens Levitikus 26:44-45 nooit sy verbond met hulle as volk verbreek nie. In Esegiël 37: 21 staan daar: “...en sê vir hulle: So spreek die Here Here: Kyk, Ek gaan die kinders van Israel haal tussen die nasies uit waarheen hulle getrek het, en Ek sal hulle van alle kante bymekaar laat kom en hulle bring in hul land.” Hierdie proses het met Israel se onafhanklikwording in Mei 1948 begin, en het ‘n belangrike verdere stadium bereik toe die ou deel van Jerusalem in die 1967-oorlog herower en die hele stad in Aug. 1980 tot Israel se ewige en onverdeelbare hoofstad verklaar is. Die doel met hulle fisiese en staatkundige herstel is dat hulle ook geestelik as God se volk in hulle land sal herleef. Jesus se Messiasskap word egter nog steeds deur die herstelde Israel verwerp, met die gevolg dat die volle lig en vrede van God nog nie oor hulle deurgebreek het nie. Inteendeel – die glans van hulle onafhanklikwording in 1948 en die groot oorwinnings wat hulle sedertdien in oorloë teen vyandiggesinde Arabiese state behaal het, verdof vinnig terwyl Jodehaat internasionaal besig is om tot groot hoogtes op te bou.
Die nag van die benoudheid van Jakob. Die geestelik verharde Israel sal, terug in hulle land, deur ‘n besonder donker tyd van verdrukking en benoudheid gaan sodat ‘n oorblyfsel van die volk gered kan word. Jeremia sê: “Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jer. 30:7). In Esegiël 22:19-22 staan daar: “Daarom, so sê die Here Here: Omdat julle almal skuim geword het, kyk, daarom sal Ek julle binne-in Jerusalem bymekaarmaak. Soos silwer en koper en yster en lood en tin binne-in ‘n smeltoond bymekaargemaak word om daarteen ‘n vuur aan te blaas en dit te smelt, so sal Ek julle bymekaarmaak in my toorn en in my grimmigheid en julle ingooi en smelt… en julle sal weet dat Ek, die Here, my grimmigheid oor julle uitgegiet het.” In Sagaria 13:8-9 word gesê: “En in die ganse land, spreek die Here – twee-derdes sal daarin uitgeroei word, sal sterwe, maar een-derde daarin oorbly. Dan sal Ek die derde deel in die vuur bring en hulle smelt soos ‘n mens silwer smelt en hulle toets soos ‘n mens goud toets. Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die Here, my God!”
Die dag van die geestelik herstelde Israel in die Messiasryk. Die Here sê: “Oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind. In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem” (Sag. 12:10-11). Op grond van hulle opregte berou sal die Here Jesus al die volk se sondes vergewe – dit is die hele oorblyfsel wat die groot verdrukking sal oorleef. Vir Israel sal dit inderdaad ‘n Groot Versoendag wees, want die hele volk sal op een dag geestelik gebore en tot nuwe lewe opgewek word. Hierna sal die lank verwagte Messiasryk ‘n aanvang neem met Jerusalem as die hoofstad van die wêreld (Jes. 2:1-4; 27:6; Jer. 3:17).
Dit is die wisselende ervarings van Israel deur die eeue heen en, volgens die Bybel, ook dit wat in die toekoms met hierdie volk gaan gebeur. Nou moet ons na die eerste koms van Christus terugkeer, want die volgelinge van die Here Jesus onder die nie-Joodse volke was geestelik op ‘n heel ander pad as dié van Israel.
Die dag van die vroeë Christelike kerk. Johannes sê van die Here Jesus: “Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld” (Joh. 1:9). Ná die uitstorting van die Heilige Gees het die Christelike kerk vinnig in die destyds bekende wêreld uitgebrei. Die Here is gedien en groot getalle mense het tot bekering gekom. Hulle het die vlam van geloof te midde van ‘n vyandige wêreld omhoog gehou en sodoende die lig van die wêreld geword. Hoewel die meeste mense steeds die duisternis liewer gehad het as die lig (Joh. 3:19), het die duisternis die lig nie oorweldig nie (Joh. 1:5).
Die nag van die donker Middeleeue. Met verloop van tyd het daar as gevolg van valse leerstellings en kompromie met die heidenwêreld groot veragtering in die Christelike kerk ingetree. Dit wat Paulus ten opsigte van die Efésiërs gesê het, het redelik algemeen voorgekom: “Ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Hand. 20: 29-30). Namate valse leerstellings en valse kerke die oorhand gekry het, is die ware dissipels van die Here Jesus toenemend vervolg, verdryf en selfs doodgemaak. As gevolg hiervan het die donker Middeleeue in die wêreld aangebreek wat van omtrent die 6de eeu tot in die 17de eeu voortgeduur het. Daar word selfs na hierdie tydperk van wydverspreide vervolging, misleiding en afdwaling as Satan se millennium verwys.
Die dag van die groot herlewings. Met die Kerkhervorming vroeg in die 16de eeu is die geestelike mag van die duisternis nog nie regtig in nominaal Christelike kringe gebreek nie. Met die herlewingsdienste wat vroeg in die 18de eeu begin het, het daar wél wêreldwyd ‘n nuwe dag vir die Christendom aangebreek. Verskeie sendingorganisasies is in die lewe geroep, en miljoene mense is met die evangelieboodskap bereik. Hierdie herlewings het vir omtrent twee eeue voortgeduur, tot vroeg in die 20ste eeu, toe ‘n dooie vormgodsdiens gaandeweg weer die oorhand gekry het.
Die nag van die laaste dae se geestelike verval. In die tweede helfte van die 20ste eeu was daar oral tekens van grootskaalse teologiese verval wat na geestelike oppervlakkigheid, materialisme, ekumeniese organisasies en verskeie soorte geestelike dwalings gelei het. Valse leraars het die kerklike toneel begin oorheers, met die gevolg dat kleiner evangeliese kerke ‘n groot stryd ervaar om by die Bybel te bly, die Here se Naam en sy Woord nie te verloën nie, en te midde van die heersende gees van kompromie en afvalligheid volgehoue groei te toon. Die wêreld het op die verswakte leerstellige posisie van die kerk gereageer deur die Christendom en die Bybel uit regerings se grondwette uit te skryf, en gevolglik ook uit skole en ander openbare instellings te verban. Dit alles laat die geestelike duisternis verdiep en verhoog ook die stryd van die evangeliese Christene aansienlik. In hierdie tyd van grootskaalse verval en misleiding verhef die mensdom homself deur middel van die wetenskap en die moderne tegnologie tot ‘n posisie van heerskappy waarin hy self sy eie wêreld van vrede en sosiale geregtigheid skep. Selfs die teologie word aan hierdie nuwe transformasiebeweging dienstig gemaak om te help om ‘n humanistiese koninkryk van vrede, eenheid en welvaart op aarde te skep. In die proses word die Bybel só eensydig toegepas dat dit moet lyk of dit God se koninkryk is wat op aarde neerdaal en hier geopenbaar word. Geestelike leiers in dié beweging draai ‘n blinde oog na die toenemende geestelike duisternis wat oor die misleide massas toesak, en weier selfs ook om God se oordele oor hulle te verkondig. Hierdie realiteit is slegte nuus vir die nuwe wêreldorde waarmee hulle besig is. Hulle wil baie graag sê: “Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie,” en luister dus nie na die Here Jesus nie wanneer Hy vir hulle sê: “Omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug” (Op. 3:16-17). Te midde van toenemende geestelike misleiding en duisternis in ‘n wêreld wat op God se oordele afstuur, sal die Here die ware gelowiges kom haal omdat hulle nie vir sy oordele bestem is nie – dit is diegene wat end-uit en ten bloede toe teen al die misleiding en afvalligheid weerstand bied.
Die dag van die ware kerk se verheerliking. Die stryd sal vir die weergebore kinders van die Here verby wees wanneer die hemelse Bruidegom hulle kom haal en na hulle woning in die hemel wegvoer (1 Thess. 4:16-17). Dan sal ewige heerlikheid vir hulle in die Here se teenwoordigheid aanbreek.
Die nag van die verdrukking. Dit sal geestelik skielik pikdonker op aarde word wanneer diegene wat soos ligte geskyn het, deur die Here weggeneem is. Dan sal die Antichris as die mens van sonde en seun van die verderf geopenbaar word. Die ongeredde nasies met hulle afvallige kerke sal dan saam met die ongeredde Israel deur die verdrukking gaan. In die eerste helfte van die verdrukking sal hulle saam met die Antichris, wat deur alle gelowe as God se gesant aanvaar en aanbid sal word (Op. 13:3-4), ‘n nuwe wêreldorde van eenheid en harmonie vestig. Soos die misleide Israeliete ná Israel se uittog uit Egipte, sal die misleide mensdom van die eindtyd ná die “uittog” van die ware gelowiges in afgodery verval en hulle eie “god” aanbid. Dit sal God se toorn oor hulle bring. Hulle sal nie alleen onder die Antichris se diktatuur ly nie, maar ook weens hulle sondes deur God geoordeel word. In die Ou Testament staan daar oor hierdie donker tyd wat kom: “Wat sal tog die dag van die Here vir julle wees? … Is die dag van die Here nie duisternis en geen lig nie, ja, donkerheid sonder ‘n ligstraal?” (Amos 5:18,20). “Dié dag is ‘n dag van grimmigheid, ‘n dag van benoudheid, ‘n dag van benoudheid en angs, ‘n dag van woestheid en verwoesting, ‘n dag van duisternis en donkerheid, ‘n dag van wolke en wolkenag” (Sef. 1:15). Dit sal die einde van die koninkryk wees waaraan die misleide mensdom nou reeds bou. Daar is geen toekoms vir enige mens buite die Here Jesus nie, daarom sal die mensdom se eie planne in duisternis eindig.
Die dag van die vrederyk. In die vrederyk, onder die bewind van Christus, sal daar geen sweem van onkunde en geestelike duisternis wees nie, “want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jes. 11:9). Satan en sy demone sal nie daar wees om mense tot sonde te verlei nie, omdat hy in ‘n bodemlose put gebind sal wees. Johannes sê: “En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp – die ou slang wat die duiwel en Satan is – en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word” (Op. 20:1-3). Die Here Jesus sal vanaf die herstelde troon van Dawid uit Jerusalem regeer: “In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17). In hierdie geseënde tyd sal die verheerlikte kerk wat saam met Christus tydens sy wederkoms in heerlikheid aan die wêreld geopenbaar sal word (Kol. 3:4), oor die wêreld regeer (Op. 2:25-27; 5:9-10). Dan eers sal die koninkryk van God ten volle geopenbaar wees.
Die nag van die laaste groot rebellie en die eindoordeel. Die dag van die vrederyk eindig ook in ‘n nag, en dit sal die nag van Satan se laaste groot rebellie teen die koninkryk van God wees nadat hy uit die put losgelaat is: “En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind. En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid” (Op. 20:7-10). Daarna sal die eindoordeel plaasvind, wanneer die sondaars van alle eeue tot die ewige poel van vuur verdoem sal word: “En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Op. 20:15).
Die dag van die ewigheid. Ná die eindoordeel en die verbranding van die huidige hemel en aarde sal die Here ‘n nuwe hemel en aarde skep waarin geregtigheid sal woon. “Daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut” (Op 21:4-5). Die nuwe Jerusalem sal op die nuwe aarde neerdaal en in ewige ligglans gehul wees: “En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.” (Op. 21:23).
Vir sommige mense, dit is dié wat die smal weg bewandel, gaan dit in die Here Jesus se teenwoordigheid vir ewig dag word. Vir ander, dit is die meerderheid wat steeds die breë weg bewandel, gaan dit vir ewig nag word in ‘n plek van pyniging waar hulle met kettings van duisternis gebind sal wees. Wandel jy in die lig van die Here se aangesig, of wandel jy in duisternis? Die tyd raak min om uit die duisternis van sonde na die Here se wonderbare lig oor te kom (1 Pet. 2:9).