Johan Malan
Opsomming: Die Dag van die Here verwys na 'n tydperk van net meer as 'n duisend jaar wanneer die Here Jesus as Regter en Koning openbaar sal word.
‘n Begrip wat veral in die konteks van Bybelse profesieë baie gebruik word, is die dag van die Here (Jom Jahweh). Dit staan met die volgende twee sake in verband:
· Eerstens verwys dit na ‘n tyd wat deur God bepaal is, wanneer Hy Homself gaan openbaar.
· Tweedens verwys dit na die vorm van God se openbaringe. Dit kan met toorn en oordele in verband staan, maar ook met seëninge, heerlikheid en uitredding.
Deur middel van profesieë wat aan die dag van die Here gekoppel is, word dit altyd beklemtoon dat daar seker en gewis ‘n tyd kom wanneer die Here Homself, afhangend van die omstandighede, óf in toorn óf in heerlikheid sal openbaar. In die Ou Testament word daar verskillende sulke tye beskryf toe strafmaatreëls en oordele van God oor Israel, sy vyande, en ook oor stede soos Jerusalem en Babilon, in vervulling gegaan het.
By verre die meeste profetiese uitsprake oor die dag van die Here word egter aan die eindtyd gekoppel. Dit is ‘n lang periode wat in die komende groot verdrukking sal begin, dwarsdeur die duisendjarige vrederyk strek, en daarna in die oordeelsdag eindig. Sekere van die profesieë dui op die eindtydse herstel van Israel, ander op die oordele van die groot verdrukking, die slag van Armagéddon en die dag wanneer die Here Jesus sy voet op die Olyfberg sal sit, terwyl ander op die die vrederyk betrekking het en ‘n verdere aantal op die eindoordeel.
Die verskillende tydselemente van die dag van die Here sal eers bespreek word, en daarna die inhoud van bepaalde profesieë wat daaraan gekoppel is. Hieruit behoort die onderlinge samehang daarvan duidelik te blyk.
‘n Dag word in baie gevalle in verband gebring met die week waarvan dit ‘n deel is, en sodoende dus verder gekwalifiseer. In Israel se tydsberekening is daar verskillende weke waarvan kennis geneem moet word. Elkeen daarvan eindig in ‘n tyd wat spesiaal vir die eer van die Here gereserveer word:
· ‘n Week van dae. Elke dag is 24 uur lank. In die Ou Testament was die sewende dag van elke week die dag van die Here [die sabbatdag] (Lev. 23:3). “…die sewende dag is die sabbat van die Here” (Ex. 20:10).
· ‘n Week van weke. Elke dag verteenwoordig ‘n week, gevolglik is die hele periode 49 dae. In Israel se fees van die eerste vrugte word die 50ste dag ná die sewe weke as die pinksterfees tot eer van die Here gevier (Lev. 23:10-11, 15-17).
· ‘n Week van jare, of ‘n jaarweek, waarin elke dag ‘n jaar voorstel, m.a.w. ‘n totaal van 7 jaar (Lev. 25:8). Die sewende jaar in elke jaarweek is ‘n sabbatsjaar tot eer van die Here (Lev. 25:3-4).
· ‘n Week van jaarweke wat op ‘n periode van 49 jaar dui. Die 50ste jaar ná so ‘n siklus van 49 jaar word godsdienstig as ‘n jubeljaar gevier (Lev. 25:8-12).
· ‘n Week van millennia, waarin elke dag ‘n duisend jaar voorstel (2 Pet. 3:8). In die week van menslike geskiedenis stel die sewende duisend jaar die Messiasryk, of duisendjarige vrederyk, voor wanneer die Here Jesus op die troon van Dawid in Jerusalem as Koning sal regeer (Luk. 1:32-33; Hand. 15:16-17).
Daar is dus verskillende kontekste waarin die begrip die dag van die Here gebruik word. Die volgende is die belangrikste:
· Dit kan na ‘n tyd van ongedefinieerde lengte binne die breër raamwerk van die dag van die Here verwys wanneer iets gaan gebeur. Die volgende is ‘n voorbeeld hiervan: “Daar kom ‘n dag vir die Here; dan sal wat van jou buitgemaak is, binne-in jou verdeel word, o Jerusalem!” (Sag. 14:1).
· Dit kan op ‘n enkele dag van 24 uur betrekking hê, soos bv. die dag van Jesus se wederkoms: “In dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant… En in dié dag sal daar geen lig wees nie… maar teen die aand sal dit lig word” (Sag. 14:4, 6-7).
· Dit kan na die sewe jaar van die verdrukking verwys, wat die 70ste jaarweek van Daniël is. Uit die volgende teks is dit duidelik dat dié dag ‘n sekere tyd in Israel se geskiedenis voorstel: “Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jer. 30:7).
· Die dag van die Here verwys soms na die duisendjarige vrederyk. In dié geval is dit ‘n ‘dag’ wat somers en winters het, en by implikasie dus uit baie jare bestaan: “En in dié dag sal daar lewende waters uit Jerusalem uitvloei, die een helfte daarvan na die Oostelike en die ander helfte daarvan na die Westelike See; somer en winter sal dit so wees. En die Here sal Koning wees oor die hele aarde; en in dié dag sal die Here een wees, en sy Naam een” (Sag. 14:8-9).
Die breë raamwerk van die dag van die Here in ‘n eindtydse konteks begin net ná die wegraping en strek deur die sewe jaar van die verdrukking, die wederkoms van Jesus, die 1000 jaar van die vrederyk, en eindig by die vernietiging van die huidige hemel en aarde, die eindoordeel en die skepping van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde. Dit beslaan dus ‘n tydperk van nagenoeg eenduisend jaar.
Indien ‘n dag in sy breedste sin ‘n tydperk van eenduisend jaar voorstel, dan sal dit baie duidelik uit die konteks van ‘n profesie afgelei moet word wanneer só ‘n periode ter sprake is. Hierdeur sal daar nuwe lig op verskeie profesieë gewerp word deurdat hulle in die korrekte tydsraamwerk geplaas word.
Petrus bevestig dat die Here ook ‘n tydsraamwerk het waarin een dag soos ‘n duisend jaar is:
"Laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is" (2 Pet. 3:8).
Die verwysings na die Messiasryk as deel van ‘die dag van die Here’ in die Ou Testament, en die kwalifisering daarvan as 1000 jaar in Openbaring 20:1-6, stel die saak bo enige twyfel dat hierdie ‘dag’ in sy breedste sin 'n duisend jaar lank is.
|
1 O Adam |
2 O |
3 O Abraham |
4 O |
5 O Christus |
6 O |
7 O Millennium |
Die week van menslike heilsgeskiedenis (7000 jaar)
Soos in die skets hierbo uiteengesit, kan daar binne ‘n Bybelse perspektief sewe dae, of seweduisend jaar, van menslike geskiedenis onderskei word. Daar is verskeie verwysings in die Bybel na hierdie dae van ‘n duisend jaar elk. Die volgende is voorbeelde hiervan:
“Want Ek [die Messias] is soos ‘n leeu vir Efraim, en soos ‘n jong leeu vir die huis van Juda; Ek, Ek verskeur en gaan heen, Ek dra weg sonder dat iemand red [Israel se verskeuring omdat hulle die Messias verwerp het]. Dan gaan Ek heen, Ek keer na my woonplek terug [die hemelvaart], totdat hulle skuld beken en my aangesig soek. In hulle nood [in die groot verdrukking] sal hulle My soek. Kom en laat ons terugkeer tot die Here; want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind [Hy wat Israel verstrooi het, sal hom weer versamel – vgl. Jer. 31:10]. Hy sal ons ná twee dae lewend maak [Israel sal ná 2000 jaar van sy verstrooiing en geestelike doodsheid as volk herstel word], op die derde dag [in die duisendjarige vrederyk] ons laat opstaan, sodat ons voor sy aangesig kan lewe” (Hos. 5:14-6:2).
“Kyk, Ek dryf duiwels uit en maak gesond, vandag en môre, en op die derde dag is Ek klaar” (Luk. 13:32).
In dié geval verwys Jesus nie na dae van 24 uur elk nie, omdat Hy ná hierdie uitspraak vir nog veel meer as twee dae duiwels uitgedryf en gesond gemaak het. Hy verwys hier na die tweeduisend jaar tussen sy eerste en tweede koms. Dwarsdeur die ganse kerkbedeling bevry die Here Jesus mense van satansmag, en genees hulle ook van allerlei soorte krankheid.
Die uitdrukking “op die derde dag is Ek klaar,” het ‘n effens verskraalde betekenis in Afrikaans. Mens kan nogtans hieruit aflei dat in die derde duisend jaar ná sy eerste koms, die werke waarna Hy verwys het, afgehandel sal wees. Die duiwel sal dan gebind wees en die Here Jesus as Koning op die troon van Dawid regeer.
Daar is egter ‘n ryker betekenis aan hierdie woord, wat vier keer in die Nuwe Testament gebruik word. Dit beteken voltooi en ook om tot volheid of volmaaktheid te voer. In Hebreërs 10:14 staan daar dat Jesus deur sy offer aan die kruis vir altyd “volmaak” het die wat geheilig word. In 1 Joh. 2:5 en 4:12 word na Christene verwys in wie die liefde van God “volmaak” geword het.
Jesus sê dus dat Hy op die derde dag (in die vrederyk) sy bediening waarvoor Hy aarde toe gekom het, tot volheid of volmaaktheid sal voer. Hoewel Hy vir ewig Profeet, Priester en Koning is, is daar ook ‘n duidelike chronologiese vervulling van hierdie ampte. Tydens sy eerste koms was Hy ‘n Profeet. Ná sy hemelvaart is Hy die Hoëpriester wat net leef om vir ons in te tree. Met sy wederkoms, in die derde duisend jaar ná sy eerste koms, sal Hy ten aanskoue van almal Koning wees. Dan sal Hy in al sy ampte geopenbaar wees.
Die King James vertaling is dus meer korek as dit sê dat Jesus op die derde dag vervolmaak sal word (the third day I shall be perfected). As mens geen begrip van dae van ‘n duisend jaar het nie, kan jy nie sulke tekste bevredigend verklaar nie.
Dit is betekenisvol dat etlike van die kerkvaders ook die siening van ses dae, of sesduisend jaar, van menslike heilsgeskiedenis gehuldig het, waarna die Here sal verskyn en die beloofde Messiasryk van 'n duisend jaar op aarde sal verloop. Hierdie siening word teruggevoer tot by Johannes, die skrywer van die boek Openbaring. Nadat sy ballingskap op die eiland Patmos beëindig is, het hy na Klein Asië teruggekeer en sy bediening daar voortgesit. Verskeie van sy leerlinge, onder andere Papias en Polikarpus, het duidelik hierdie siening gehuldig. Hulle verwys ook na Jerusalem as hoofstad van die wêreld gedurende die vrederyk van 'n duisend jaar.
Wanneer mens aan die dag van die Here dink, moet die klem veral op die redes en aard van God se openbaring geplaas word. Dit is juis sý dag omdat Hy Homself baie duidelik aan mense openbaar en sy raadsplan verder tot volvoering bring.
Daar is ‘n groot aantal sake wat in verband met die dag van die Here genoem word. Dit sluit oordele, straf, beloning, verheerliking en ook besondere seëninge in. Die volgende onderwerpe word met betrekking tot die komende dag van die Here in die Bybel genoem:
Die eerste openbaring van Christus nadat die dag van die Here met die beëindiging van die kerkbedeling ‘n aanvang geneem het, sal aan die wedergebore Christene wees wat deur die wegraping na Hom toe geneem is. Daar sal hulle voor sy regterstoel verskyn om verantwoording van hulle lewens te doen. “Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word… So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee” (Rom. 14:10, 12). Op “dié dag” (die dag van die Here) sal ons genadeloon ontvang terwyl die oordele in die verdrukking oor ‘n goddelose en Christusverwerpende wêreld uitgegiet word.
“Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?” (1 Pet. 4:17-18).
Paulus sê:
“Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het” (2 Tim. 4:7-8).
Ná die wegraping sal die Here Homself in toorn aan die onbekeerlike nasies op aarde openbaar. Eers sal hulle 'n tyd van valse vrede onder die leierskap van die Antichris ervaar, daarna sal die Here se oordele in die groot verdrukking oor hulle uitgestort word. Dit sal ál hoe erger word, totdat hulle sal besef dat dit Jesus Christus se dag van oordeel oor hulle is omdat hulle Hom verwerp het:
“En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ‘n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ‘n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ‘n vyeboom wat deur ‘n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ‘n boek wat toegerol word en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle versteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:12-17).
Van hierdie donker dae het Jesus in sy profetiese rede gesê:
“Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie… En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word” (Matt. 24: 21-22, 29).
Ná die wederkoms van Jesus aan die einde van die groot verdrukking, sal die duisendjarige vrederyk 'n aanvang neem. Dan sal die verheerlikte Christene saam met Christus as konings op aarde regeer, 'n duisend jaar lank (Op. 5:9-10; 20:4).
Sagaria verwys ook na dié komende dag van die Here in die millennium wanneer hy sê:
"En in dié dag sal daar lewende waters uit Jerusalem uitvloei, die een helfte daarvan na die Oostelike en die ander helfte daarvan na die Westelike See; somer en winter sal dit so wees. En die Here sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die Here een wees, en sy Naam een… En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier. En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die Here van die leërskare, te aanbid nie – hulle sal geen reën kry nie" (Sag. 14:8-9, 16-17).
Sefanja beskryf ook die toekomstige heerlikheid van Jerusalem gedurende die Messiasryk in die dag van die Here:
"In dié dag sal aan Jerusalem gesê word: Vrees nie, o Sion, laat jou hande nie slap hang nie! Die Here jou God is by jou, 'n held wat verlossing skenk. Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel" (Sef. 3:16-17).
Aan die einde van die dag van die Here sal die Satan losgelaat word en die geleentheid hê om sy laaste groot rebellie op aarde te stig (Op. 20:7-8). Dit sal terselfdertyd 'n toets wees vir diegene wat in die millennium geleef het, want as hulle nie weergebore is nie, sal hulle die duiwel nie kan weerstaan nie. Uit hulle groot getal is dit duidelik dat selfs in die geopenbaarde koninkryk van God op aarde, vormgodsdiens steeds deur die meeste mense beoefen sal word. Dit sal tot hulle ewige verdoemenis saam met die duiwel lei (Op. 20:9-10).
Hierna sal 'n groot wit troon verskyn en die eindoordeel plaasvind. Alle ongeredde mense van alle eeue sal dan in die ewige poel van vuur gewerp word. Die hemel en die aarde sal dan ook verbrand word (Op. 20:11-15).
Ons leef dus op 'n verganklike aarde wat vir die vuur van God se oordele bestem is. Ons is net verbygangers op hierdie sonde-deurdrenkte en donker wêreld. Aan die einde van die dag van die Here gaan die wêreld met alles wat daarop is, vergaan. In die lig daarvan behoort ons heilig te leef en ons vir ons ewige woning in die hemel voor te berei. Petrus sê:
"Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? – julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en 'n nuwe aarde waarin geregtigheid woon. Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede" (2 Pet. 3:11-14).
Sesduisend jaar van menslike heilsgeskiedenis is haas verby – tweeduisend jaar van Adam tot by Abraham, tweeduisend jaar van Abraham tot by Christus, en die tweeduisend jaar tussen Christus se eerste en tweede koms. Al wat voor die aanbreek van die ewigheid oorbly, is die dag van die Here: dit is die verdrukking van sewe jaar, die duisendjarige vrederyk en die eindoordeel.
Is jy geestelik gereed vir die dramatiese en beslissende gebeure wat in die nabye toekoms verwag kan word? Die ewige lewe lê vir ons almal voor, en daar is net twee bestemmings: die hemel en die hel. Maak hiervoor gereed terwyl ons nog in genadetyd is, en werk in die aandskaduwee van hierdie bedeling vir die Here. Die nag van God se oordele kom wanneer niemand kan werk nie. Dan bereik die mens sy ewige bestemming.