Deur Bernard Reeves, Londen (2009)
(Hierdie artikel is ‘n verkorte weergawe van Charles Darwin: Devil’s Chaplain or Pardoned Prodigal? wat in Februarie en Maart 2009 in twee dele in die tydskrif Prophetic Witness verskyn het. Die klem van die artikel val op omstrede bewerings oor Darwin se bekering kort voor die einde van sy lewe – Red.)
Die jaar 2009 was die 200ste herdenking van Charles Darwin se geboorte in 1809 en die 150ste herdenking van die bekendstelling van die evolusieteorie deur die publikasie van sy boek, The Origin of Species, in 1859. Die geloof in evolusie, as sou dit bo enige twyfel op feite gebaseer wees, is sekerlik die grootste enkele rede vir die rampspoedige afname van geloof in God, die Bybel en die Christelike geloof die afgelope 150 jaar. Romeine 1:25 verwys na diegene wat “die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper.” Die evolusieteorie is ‘n kragtige wapen in Satan se hande, en dit moet ‘n bron van kommer vir alle ware Christene wees wat geroep is om die goeie stryd van die geloof te stry (1 Tim. 6:12).
Meer as 90 Britse organisasies het Darwin se 200ste geboortedag hierdie jaar gevier om die sukses te konsolideer wat hulle sedert die publikasie van The Origin of Species met die ondermyning van geloof in ‘n Skepper-God gehad het. Die ateïstiese evolusioniste kry egter ook teëstand want groepe wat die skeppingsleer ondersteun, het ook oral in Brittanje spesiale byeenkomste, seminare en debatte gereël om hulle standpunt te bevorder. Hulle aksies het tot groot kommer onder die ateïste gelei. ‘n Sondagkoerant (The Independent on Sunday) het ‘n artikel geplaas waarin hulle berig dat toenemende steun vir die skeppingsleer in Brittanje tot groot kommer onder wetenskaplikes lei. Dr. Bob Bloomfield van die Britse Museum sê dat statistieke in die Verenigde Koninkryk ontstellend is omdat dit aandui dat byna 40% van die mense in die skepping of intelligente ontwerp glo. ‘n Leidende militante ateïs, prof. Steve Jones, professor in genetika aan die Universiteitskollege van Londen, wat vir baie jare lank ‘n gereelde rubriek in The Daily Telegraph gehad het, is bekommerd omdat studente al hoe meer in die klaskamer hulle besware teen die evolusieleer opper.
Charles Darwin het nooit ‘n graad in wetenskap behaal nie – net in die teologie. Hy het egter ‘n groot belangstelling in die natuurwetenskappe gehad, by navorsing in die geskiedenis van die natuur betrokke geraak en spoedig sy idees oor evolusie ontwikkel. Hy is met ‘n toegewyde Christendame, Emma, getroud. In 1850 het hulle geliefde oudste dogter, Annie, siek geword en is ten spyte van goeie mediese sorg die volgende jaar op die ouderdom van slegs 10 jaar oorlede. Sy was Charles se oogappel, sy lieflingkind, en haar dood het hom diep geraak. Annie se voortydige dood het sy geloof in ‘n moreel regverdige heelal vernietig. Hy het later gesê dat dit die doodsklok oor sy Christelike geloof laat lui het, selfs al was dit net die einde van ‘n lang en uitgerekte proses van geestelike verbrokkeling totdat hy die posisie van ‘n ongelowige ingeneem het. Hy het egter nooit die Christelike geloof van ander mense gekritiseer nie. Aan ‘n persoon wat by hom navraag oor geloofsake gedoen het, het hy geskryf dat die vraag oor God se bestaan bokant die vlak van die menslike verstand is om te kan beantwoord. Aan ‘n ander persoon het hy geskryf: “Ek glo nie in die Bybel as ‘n goddelike openbaring nie en dus ook nie in Jesus Christus as die Seun van God nie.” Later, in 1879, het hy egter gesê dat hy nooit ‘n ateïs was in die sin dat hy die bestaan van God verwerp het nie. Hy het gesê dat die term “agnostikus” ‘n beter beskrywing van sy geestelike toestand was.
Darwin was bekommerd dat hy as ‘n prediker van die duiwel veroordeel sou word indien hy sy boek oor die oorsprong van spesies sou publiseer, daarom het hy sy voete gesleep en sy geheim 20 jaar lank bewaar. Hy het egter later besluit om die boek te publiseer omdat daar ander natuurkundiges was wat ooreenstemmende idees gehad het en hom kon voorspring. Terwyl hy aan die finale wysigings van sy omstrede boek gewerk het, het hy geskryf: “Ek word deur ‘n obsessionele begeerte gedryf om my vervloekte boek te voltooi en die hele onderwerp uit my gemoed te verban.” Twee weke voor die publikasiedatum is hy sodanig deur twyfel oormeester oor dit wat hy geskryf het, dat hy gesê het hy vrees dat hy sy lewe aan ‘n fantasie gewy het – en ‘n baie gevaarlike een. Sy boek is in November 1859 gepubliseer onder die volle titel: On the Origin of Species by means of Natural Selection. Hoewel die mensdom nouliks in die boek genoem word, was die pers en lesers vinnig om die implikasies daarvan vir die ontstaan van die menslike ras te besef.
Die boek het gemengde reaksie ontlok, maar die ateïste was oorstelp van vreugde oor die verskyning daarvan. Soos verwag kon word, het die boek na ‘n vurige debat gelei wat vandag nog steeds voortduur, en ook verder sal voortgaan as deel van die eeue-oue stryd tussen God en Satan, goed en kwaad, waarheid en leuen, totdat Satan se finale verdoemenis sal plaasvind soos in Openbaring 20:10 beskryf word.
In 1876, ses jaar voor sy dood, het Charles Darwin ‘n boodskap aan sy familie geskryf wat eers ná sy dood deur hulle gelees moes word. Dit het ‘n afdeling onder die opskrif “Godsdienstige geloof” ingesluit, waaruit dit duidelik was dat hy na sy verskille met Emma verwys het. Gedurende jare van twyfel oor geloofsake het sy betrokkenheid by die kerk ‘n stadige, natuurlike dood gesterf. In hierdie tyd het sy geloof in die Christendom as ‘n goddelike openbaring geleidelik gekwyn. Uiteindelik kon hy nie sien hoedat enigeen kon hoop dat die Christelike geloof waar was nie. Hy het gesê: “Indien dit waar is, dan dui die Nuwe Testament duidelik aan dat almal wat nie glo nie – en dit sou my pa, broer en omtrent al my beste vriende insluit – vir ewig gestraf gaan word. Dit is ‘n verwerplike leerstelling.”
Nieteenstaande Charles Darwin se geestelike verval, doen gerugte vir baie jare al die rondte dat hy kort voor sy dood ‘n hartsverandering ondergaan en homself tot Christus bekeer het. As gevolg van die lang tydsverloop sedert dit gebeur het, is dit moeilik om die waarheid van die gerugte bo alle twyfel te bevestig. Dit blyk dat die ouers van die evangelis James Fegan afgetree en in Downe gaan woon het. Omdat Darwin as Downe se landheer beskou is, sou hy gou met die nuwe intrekkers kennis gemaak het. Hulle het hom van die werk van hulle seun, James, vertel. Omdat Darwin se ouma én oumagrootjie albei weens alkoholisme dood is, het hy ‘n afsku aan drank gehad en gereeld sy seuns teen die gevare daarvan gewaarsku. As ‘n distriksmagistraat vir 25 jaar was hy baie bewus van die nadelige gevolge van alkoholisme in sy eie omgewing.
James Fegan was ook ‘n leidende persoon in die Afskaffingsbeweging. Toe hy sy ouers kom besoek het, het Darwin hom gevra om met die probleem van drankmisbruik in die omgewing te help. Hy het later in ‘n brief aan James geskryf: “U het met u dienste in die dorp in net ‘n paar maande veel meer uitgerig as wat ons in baie jare bereik het. Ons kon nog nooit ‘n dronkaard rehabiliteer nie.”
Briewe wat deur Charles Darwin en lede van sy huishouding geskryf is, dui aan dat hy sy perseel vir mnr. Fegan en lede van die Gospel Hall in Downe oopgestel het. Dit is deur ‘n tentbediening in die lente van 1880 gevolg, waaroor mnr. Fegan geskryf het: “Die dienste wat ek gehou het, is soms deur mnr. Darwin se familie bygewoon, en dikwels deur lede van sy huishouding.”
Lady Hope was ook ‘n lid van die Evangeliese en Afskaffingsbeweging. Een van Darwin se biograwe, James Moore, het oor haar evangelisasiewerk gesê: “In kroeë en skole, in huise en kastele, het sy vir dronkaards, geestelik sterwendes en arm mense gepreek, gebid en Bybel gelees.” Toe Lady Hope byeenkomste naby Downe gehou het, is sy deur Charles Darwin gevra om hom te kom sien. Baie jare later, nadat sy na die VSA geëmigreer het, het sy oor haar besoek aan hom geskryf:
“Dit was op een van daardie wonderlike herfs-agtermiddae wat ons soms in Engeland gehad het, toe ek gevra is om Charles Darwin te besoek. Hy het op sy bed gesit, deur kussings ondersteun, en uitgekyk oor ‘n verruklike toneel van woude en koringlande wat in die strale van die ondergaande son gehul was. Sy gelaat het opgehelder toe ek in die kamer instap. In sy hande het hy ‘n oop Bybel gehad wat hy voortdurend besig was om te bestudeer. ‘Wat is u nou besig om te lees,’ het ek gevra. ‘Hebreërs,’ antwoord hy. ‘Ek noem dit die Koninklike Boek. Is dit nie so nie? O, ek word nooit vir hierdie boek moeg nie.’ Hy het toe oor die groot evangelie-waarhede kommentaar gelewer. Hy het na Christus as Koning, Verlosser en Voorbidder verwys, en ook na sy dood en opstanding.
“Ek het hom gevra: ‘Wat van Genesis, die heel eerste boek in die Ou Testament? U naam word altyd in ‘n mens se gedagtes met twyfelvrae oor die skepping verbind – ek bedoel u siening daaroor.’ Hy het ongemaklik voorgekom, sy vingers senuweeagtig heen en weer beweeg en ‘n uitdrukking van ontsteltenis op sy gesig gehad toe hy gesê het: ‘Ek was ‘n jongman met onvaste idees. Ek het dinge bevraagteken, voorstelle oor ‘n teorie gemaak en die hele tyd oor alles gewonder. Hy het in ‘n sterker stem met groot ongelukkigheid op sy gesig uitgeroep: ‘Mense het ‘n godsdiens daarvan gemaak.’ Daarna het ons weer rustig verder gesels.
“Dit was óf by hierdie geleentheid óf kort daarna dat hy na my toe gedraai en met glimlag gesê het: ‘Was jy al in my tuin gewees? Ek het ‘n somerhuis in die tuin waarin omtrent dertig mense kan sit. Ek wil graag hê dat jy daar moet praat. Ek weet dat jy Bybelklasse in verskillende dorpies aanbied. Ek wil graag hê dat die bediendes, sommige van die huurders en ‘n paar bure môremiddag daar moet saamkom. Ek kan nie self gaan nie, maar my venster sal oop wees en ek sal alles kan hoor. Sal jy met hulle praat?’ ‘Waaroor moet ek praat?’ het ek gevra. ‘Oor Jesus Christus,’ het hy op ‘n duidelike en besliste manier gesê, ‘en oor sy verlossing. Is dit nie die beste tema nie?’ Ek was natuurlik gewillig om dit te doen, maar die byeenkoms het nooit plaasgevind nie. Ek is seker dat daar in Darwin se huis nie genoeg ondersteuning vir dié idee was nie” (einde van brief).
Lady Hope was baie moedig om die saak van Darwin se beskouing oor die skepping op te haal. Toon sy reaksie aan dat hy sy siening verander het? Sommige mense vra waarom sy so lank gewag het voordat sy oor haar besoek aan hom geskryf het. Moore sê: “Daar is geen twyfel nie dat Lady Hope met haar godsdienstige vriende oor Darwin gepraat het lank voordat die storie gepubliseer is.” Sy was dalk nie gewillig om haar storie te publiseer tot lank ná Darwin se dood nie, omdat dit verleentheid vir onsimpatieke familielede sou veroorsaak. Sy vier seuns was almal evolusioniste en vrydenkers wat hulle pa se beroemdheid as die vader van evolusionisme beskerm het.
‘n Ander aanduiding van ‘n moontlike hartsverandering kom van mnr. Huntington, ‘n prediker van Tenby in Suid-Wallis, wat ‘n maand ná Darwin se dood gesê het dat hy met sy laaste woorde ‘n ware geloof in Jesus Christus bely het. Daar is ook die getuienis van mnr. A.H. Nicholls, ‘n voormalige posman in Downe, wat in 1881 tydens James Fegan se dienste gered is. Hy was goed bevriend met die bediendes in Darwin se huishouding wat hom tot met sy dood versorg het. Volgens hom het Darwin die vrou wat hom deur sy siekte bygestaan het, gevra om die Nuwe Testament vir hom te lees. Hy het haar ook gevra om die Sondagskoolklas te versoek om te sing: There is a green hill far away outside a city hall where the dear Lord was crucified, who died to save us all. He died that we might be forgiven; He died to make us good, that we may go at last to heaven, saved by His precious blood. Dit is gedoen en Darwin was baie aangedaan toe hy gesê het: “Hoe wens ek dat ek nooit my teorie oor evolusie verkondig het soos wat ek gedoen het nie.”
Dit mag wees dat Darwin, soos baie ander wyse manne, die eenvoudige evangelie van Jesus Christus meer bevredigend as evolusie gevind het. Charles Darwin het op 15 April 1882 ernstig siek geword, maar Emma verseker dat hy nie in die minste bang was om dood te gaan nie. Naby aan die einde toe hy in hewige pyn was, het hy uitgeroep: “ O Here, my God!” en op 19 April in Emma se arms gesterf – omtrent ses maande ná die besoek van Lady Hope.
Die biograaf, James Moore, het in The Darwin Legend geskryf: “Vir sy terughoudendheid, sy karakter en sy epogmakende bydrae tot die wetenskap is Darwin nadoods met die hoogste Britse eer beklee. Hy het in 1882 onsterflikheid verkry toe sy oorskot met volle godsdienstige seremonie in Engeland se beroemdste heiligdom, Westminster Abbey, begrawe is. Priesters het by sy graf saamgekom, asook politici van alle partye, sowel as Huxley en sy bondgenote. Hulle het respek aan hom betoon, want Darwin het die natuur én die eindbestemming van die mens in hulle hande geplaas. Evolusie was ‘n gerespekteerde siening... Professionele wetenskaplikes het die priesters vervang... Die samelewing sou nooit weer dieselfde wees nie. Die duiwel se prediker het sy werk gedoen.”
Ander kommentaar oor ‘n groot oorwinning is gehoor, soos: “Die kerk het Darwin se lyk, maar dit is al waarop hulle kan roem. Hulle het nie Darwin se idees begrawe nie. Hierdie idees is steeds aan die werk en hulle laat die fondamente van die kerk verbrokkel.” Edward Aveling, ‘n militante ateïs en buite-egtelike seun van Karl Marx, het gesê: “Alle vrydenkers eer Darwin as ‘n broer en ‘n bondgenoot,” en het bygevoeg dat Darwin se idees altyd die saak van ateïsme sou ondersteun. Die Bybel sê: “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie” (Ps. 14:1).
Emma se vrese ná hulle troue dat Charles se werk besig was om hom na troebel waters te lei, is bewaarheid. Dit is veilig om te sê dat indien Darwin (a) geweet het dat die bewyse van fossiele waarvoor hy gewag het, nooit sou materialiseer nie; (b) bewus was van die groot betekenis van die verbysterende kompleksiteit van lewende organismes wat sedertdien ontdek is; en (c) die slegte gevolge kon voorsien wat die toepassing van die evolusionêre beginsel van die oorlewing van die sterkste, asook die wet van die oerwoud, op menslike samelewings sou hê, soos in Marxisme en Nazisme wat tot ‘n reuse verlies aan lewens gelei het, sou hy besef het hoe rampspoedig verkeerd hy was en nooit sy onbewese teorie gepubliseer het nie. Geen wonder nie dat hy gevrees het dat hy sy lewe aan ‘n gevaarlike fantasie gewy het, en self sy boek nog voor publikasie as “vervloek” beskryf het.
Ons kan nie absoluut daarvan seker wees dat Charles aan die einde tot bekering gekom het nie, maar ons is wel daarvan seker dat God “nie wil hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Pet. 3:9). Die enigste weg na die hemel is “die bekering tot God en die geloof in onse Here Jesus Christus” (Hand. 20:21), en “die Here ken die wat syne is” (2 Tim. 2:19). Omdat Darwin se evolusieteorie nog steeds deur Satan en die ateïste gebruik word om geloof in God te ondermyn, sou ons slegs seker kon wees dat hy tot bekering gekom het indien hy ‘n openbare verklaring uitgereik het om dit te bevestig. Vir al wat ons weet, mag hy dit aan die einde gesê het, maar sekere van sy gesinslede (veral sy seuns) sou dit nie openbaar wou maak nie omdat dit sy beroemdheid sou skaad. Hy kón egter aan die einde tot bekering gekom en Christus in sy hart vir redding vertrou het, en net vir Emma daarvan vertel het, of dalk vir niemand nie.
Ons kan maar net hoop dat ten spyte van die groot skade wat deur sy teorie aangerig is, Darwin deur die groot genade van God opreg tot bekering gekom en Christus op die elfde uur aangeneem het – net soos die sterwende rower aan die kruis langs Hom, of soos Saulus wat Paulus geword het ten spyte van die groot skade wat hy aan die saak van Christus gedoen het. Ons moet ook nie die invloed op hom deur sy goeie, toegewyde, onselfsugtige, lankmoedige en godvresende vrou, Emma, onderskat nie – veral haar Christelike getuienis teenoor hom en al die gebede dwarsdeur hulle huwelik. Sy het hom ook op sy sterfbed versorg en oor hom gewaak.
Of hy nou in die hemel is of nie, Darwin se erfenis is steeds by ons en ateïste het die geleentheid ten volle benut om hierdie teorie te gebruik om twyfel oor die bestaan van God te saai, en ook die waarheid van God se Woord én die evangelie ernstig onder verdenking te bring. Die Bybel waarsku ons dat diegene wat nie die waarheid van God se Woord glo nie, gevaar loop om die krag van die dwaling te ontvang om in leuens te glo (2 Thess. 2:11). Satan se motiewe is tweeledig, naamlik: (1) om die Here van die eer vir sy wonderlike skepping te beroof; en (2) om die mensdom van hulle waardigheid te beroof as wesens wat na God se beeld geskape is, met die voordeel om Christus as Verlosser te ken, die Heilige Gees as Trooster te hê, God die Vader as ons hemelse Vader in hierdie lewe te hê, en ook die hoop om eendag saam met hulle die hemelse heerlikheid te geniet.
Ons Here Jesus Christus, die Woord, die groot, selfbestaande EK IS, word spesifiek die Skepper genoem, “want in Hom is alle dinge geskape” (Kol. 1:16) en “sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Joh. 1:1-3). Dit is Satan se doel om Hom van die heerlikheid vir sy wonderlik ontwerpte skepping en ook sy groot verlossing te beroof. Christene verwag egter “die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus” (Titus 2:13). Satan se verdoemenis sal verseël word ná die duisendjarige vrederyk van Christus wanneer Hy as Koning van die konings en Heer van die here sal regeer (Op. 19 en 20). Aan Hom as die goddelike Skepper, Redder en Koning kom toe al die eer, van nou af tot in ewigheid.