Prof. Johan Malan (Mei 2006)
Die volgende uittreksels uit artikels toon duidelik die gevare van misleiding wat in Dan Brown se verhaal, The Da Vinci Code, vervat is:
In sy artikel, A Study of the Book The Da Vinci Code, sê dr. Errol Wagner van die Baptiste-kerk onder meer die volgende:
“Gedurende die afgelope paar dekades was daar toenemende aanvalle op die Christendom in die algemeen, en op die persoon van Jesus Christus in die besonder. Hierdie aanvalle kom van buite én binne die kerk... Nou het ons die boek, Die Da Vinci-kode, waarin die godheid van Christus en die geloofwaardigheid van die Evangelies in die Nuwe Testament openlik bevraagteken word.
“Die eerste sin in die boek se voorwoord lui só: ‘FEIT: Alle beskrywings van kunswerke, argitektuur, dokumente en geheime rituele in die boek is akkuraat.’ Dan Brown wil dus hê dat ons sy boek ernstig moet opneem – dit is fiksie wat as feite voorgehou word. In sy boek verwys hy na die Gnostiese Evangelies, die Kerkvergadering van Nicea, die kanonisering van die Nuwe Testament, die bekering van Konstantyn, en die skilderye oor Mona Lisa en die Laaste Avondmaal. Hy beskryf ook die oorsprong, doelstellings en aktiwiteite van Opus Dei, ‘n Katolieke sekte, en Die Kloosterorde van Sion, asook Jesus Christus se verhouding met Maria Magdalena, met wie Hy na bewering getroud was.
“Hierdie is almal sentrale temas in die verhaal, en baie Christene word as gevolg hiervan verwar... Moet ons die boek ernstig opneem? Ja. Selfs al is hierdie boek vol historiese foute, moet ons onthou dat ons in ‘n eeu van Bybelse ongeletterdheid leef waarin die Bybelse Christendom venynig aangeval word. Daar is baie leierspersone wat hierdie nuwe, verwronge vorm van die Christendom aanvaar omdat dit by vandag se postmoderne samelewing en Nuwe Era filosofie aansluiting vind. Hulle verkies ‘n nuwe, sinkretistiese godsdiens met ‘n nuwe moraliteit – of liewer, ‘n geheiligde immoraliteit. Dit is deur boeke soos Die Da Vinci-kode dat hierdie nuwe vorm van godsdiens bevorder word...
“Wanneer ‘n mens hierdie verhaal lees, is dit duidelik dat Brown geskiedenis en onbybelse fiksie laat saamvloei en daardeur die indruk skep dat dit albei deel van dieselfde werklikheid is. Die implikasie hiervan is dat die Christendom op ‘n leuen gebaseer is. Watter bewyse bied hy aan? ‘n Gnostiese Evangelie met sy leuens en verdraaide feite, asook Leonardo Da Vinci se skildery van die Laaste Avondmaal. Wat die skildery betref, maak hy die bewering dat die persoon wat langs Jesus sit, ‘n vrou is, naamlik Maria Magdalena. Wat hy in hierdie verband buite rekening laat, is dat daar ‘n lang tradisie was om Jesus se geliefde dissipel, Johannes, met ‘n baie ligte vel en ligte of rooierige hare voor te stel. Indien ons sou aanvaar dat hierdie figuur Maria Magdalena is, dan ontstaan die vraag waar die twaalfde apostel is? In elk geval, wat Da Vinci ook al in gedagte gehad het, is nie regtig van belang oor wat by die Laaste Avondmaal gebeur het nie, omdat ons nie ons kennis hiervan op ‘n 16de eeuse skildery baseer nie.
“Verder word daar in die boek beweer dat Maria Magdalena se reputasie as ‘n prostituut deur kerkleiers uitgedink is om haar invloed in die vroeë kerk, en ook die status van vroue in die algemeen, te ondermyn. Die werklike verhaal is glo deur ‘n geheime organisasie, die Kloosterorde van Sion, bewaar, waaraan verskeie beroemde Europeërs, soos onder andere Leonardo Da Vinci, behoort het.
“Brown maak verskeie aansprake oor die oorsprong van die Christendom en sy teologiese ontwikkeling. Die sentrale aanspraak in sy verhaal is dat omtrent alles wat ons vaders ons van Christus geleer het, vals is. Waarom? As gevolg van ‘n enkele kerkvergadering wat biskoppe in 325 n.C. in die stad Nicea in die huidige Turkye gehou het. Hy argumenteer dat kerkleiers wat by daardie geleentheid hulle magsbasis wou verstewig, die godheid van Jesus en die onfeilbaarheid van die Bybel versin het – beide daarvan nuwighede wat na bewering nie vroeër deur Christene gehuldig is nie.
“Brown bevraagteken die gesag van die Nuwe Testament soos wat ons dit ken. Om gewig aan sy storie te verleen, maak hy die aanspraak dat die kanonieke Evangelies van Mattheus, Markus, Lukas en Johannes nie die vroegste Evangelies is nie. Die vroegste Evangelies is volgens hom die onderdrukte Gnostiese Evangelies soos die Evangelie van Filippus en die Evangelie van Maria. Hy maak hierdie stelling meer as een keer in die boek.
“Daar is egter geen geloofwaardige bewyse dat hierdie ander Evangelies voor of gedurende die tyd waarin die Nuwe Testament se Evangelies geskryf is, bestaan het nie. Die Gnostiese Evangelies is laat in die tweede eeu, of selfs in die derde eeu, geskryf, en lewer bewys van ernstige dwalings wat toe posgevat het. Aangesien Gnostiese denke eers in die middel en tweede helfte van die tweede eeu sterk na vore gekom het, is dit glad nie verbasend dat die Evangelies van Filippus en Maria nie vroeër geskryf is nie.
“Wat Brown ook nie in ag neem nie, is die feit dat die proses van kanonisering eeue voor Nicea reeds aan die gang was. Die gevolg hiervan was dat daar voor Nicea, en selfs ook voor Konstantyn se wettiging van die Christendom in 313 n.C., reeds ‘n byna voltooide kanon van die Nuwe Testament was. Saam met die uitklaring van hulle begrip oor die Persoon van Christus, het die vroeë kerkvaders ook vrae oor die geloofwaardigheid van dokumente gehad wat onder gemeentes gesirkuleer en in byeenkomste gelees is. Om hierdie rede is die Gnostiese Evangelies wat geskryf is, nooit deur kerke in die Westelike óf Oostelike sektore van die kerk in die Romeinse Ryk as gesaghebbend beskou en aanvaar nie.
“In Die Da Vinci-kode sê Leigh Teabing: ‘Gelukkig vir historici het sommige van die Evangelies wat Konstantyn probeer het om te vernietig, behoue gebly. Die Dooie See-rolle is in die 1950’s in ‘n grot naby Qumram gevind... en natuurlik die Koptiese rolle in 1945. Benewens die feit dat hulle die ware verhaal van die Graal (die beker waaruit Jesus by die Laaste Avondmaal gedrink het) vertel, beskryf hierdie dokumente Jesus se bediening in eg menslike terme... Die rolle beklemtoon die historiese onjuisthede en versinsels in die Bybel, en bevestig daardeur dat die moderne Bybel opgestel en geredigeer is deur mense met ‘n politieke agenda – om die mens Jesus Christus tot God te verklaar en sy verhoogde status te gebruik om hulle eie magsbasis uit te brei.’
“Wat Brown nalaat om te sê is dat die Dooie See-rolle niks van die Christendom in hulle het nie. Dit was die dokumente en biblioteek van ortodokse Jode wat naby die Dooie See gewoon het. Geen Christelike dokumente is daar gevind nie, gevolg word geen uitsprake oor Christus se bediening daarin gemaak nie. Wat van die Koptiese rolle? Hoewel hulle na Nuwe Testamentiese gebeure verwys, het hulle nie ‘n kritiek van die NT bevat nie. Hierdie valse Evangelies is dus nie onderdruk of vernietig nie – hulle is bloot net nie erken nie.
“Die Da Vinci-kode lewer bewys daarvan dat sommige valse teorieë nooit heeltemal uitsterf nie – hulle verskyn altyd weer in ‘n ander gedaante. Brown se aansprake stem met dié van Arius en ander ketters in die kerkgeskiedenis ooreen, waardeur die getuienis van die apostels en die vroeë kerk wat op hulle leer gebou is, ontken word. Hierdie gelowiges het altyd bely dat Jesus Christus self God is. Daar was nie kerkvergaderings nodig om hierdie waarheid te bevestig nie. Die vergaderings het bloot die reeds bestaande waarhede erken en bevestig.”
In sy artikel, The Da Vinci Code: Ancient Heresies for Modern Audiences, sê Dr. Larry Spargimino onder andere die volgende:
“Die wêreld soek na oortuigende bewyse dat die Bybel nie die Woord van God is nie. Geleerdes soek al lank na geloofwaardige redes op grond waarvan hulle die aansprake van die Bybel kan verwerp. Die publiek is honger vir sulke inligting. Indien die Bybel nie die Woord van God is nie, dan is mense vry om sonder enige vrees vir straf in hierdie lewe óf die lewe hierna hulle eie lewenswyses en gedragspatrone te kies... Deur Jesus as ‘n blote sterfling voor te stel, herbevestig Brown se verhaal – wat volgens hom noukeurig nagevors en histories akkuraat is – die aansprake van verskeie ketters en afvalliges...
“Volgens ‘n onlangse Reuters-verslag was Die Da Vinci-kode sedert die publikasie daarvan in 2003 feitlik deurlopend op die lys van beste verkopers, onder andere vir 87 weke bo-aan die New York Times se beste verkope-lys. Aan die begin van 2005 was daar reeds meer as 10 miljoen kopieë verkoop. Brown se verhaal, saam met Rick Warren se Doelgerigte Lewe, bepaal nou die denke van miljoene mense... Brown se sienings kry in 2006 nog veel wyer blootstelling as gevolg van die film wat oor sy boek gemaak is.
“Die verhaal begin by die moord op ‘n bejaarde kurator van die Louvre, die wêreldberoemde museum in Parys, Frankryk. Die kurator bewaar ‘n geheim wat, indien dit openbaar gemaak sou word, die fondamente van die Christendom omver sou werp. In die oomblikke voor hy gesterf het, het hy ‘n aantal numeriese en kriptografiese aanduidings nagelaat wat die kode van hierdie noodlottige geheim sou ontsluit.
“Die ondersoek na die moord het ‘n aantal raaiselagtige leidrade opgelewer wat na die Heilige Graal sou lei. Dit het duidelik geword dat die Graal nie die beker is waaruit Jesus tydens die Laaste Avondmaal gedrink het nie. Die ware Graal is volgens die boek Maria Magdalena wat die bloed van Jesus in haar baarmoeder gehad het toe sy aan Jesus se kinders geboorte geskenk het. Uit vrees dat dit hulle eie gesag sou ondermyn, het die kerk vir Maria as ‘n prostituut voorgestel. Hulle het die dokumente verander waarin Christus se huwelik met haar gerapporteer is ten einde daardeur enige aanspraak dat Hy ‘n oorlewende bloedlyn het, asook die feit dat Hy net ‘n blote mens was, te onderdruk. Die sentrale aanspraak wat Brown in sy boek oor die Christelike geloof maak, is dat omtrent alles wat ons oor Jesus geleer het, vals is.
“Verskeie vraagstukke word in die boek aangespreek. Een daarvan is dié van die betroubaarheid van die Nuwe Testament. Ontbreek daar sekere boeke in die Nuwe Testament? Het ons ‘n onvolledige Bybel wat deur antieke Gnostiese Evangelies aangevul moet word, waarin tipiese Nuwe Era-idees verkondig word?
“Die verhaal opper ook vrae oor die identiteit van Jesus. Is die Jesus van geloof, van wie ons in die kanonieke Nuwe Testament lees, verskillend van die historiese Jesus wat na bewering die werklike Jesus is? Die verhaal voer aan dat die historiese Jesus deur die vierde eeuse kerkvergadering van Nicea tot die status van Seun van God opgegradeer is...
“Brown se verhaal steun swaar op inligting wat uit die sogenaamde “verlore” Gnostiese Evangelies afkomstig is. Ten eerste moet die feit duidelik gestel word dat daar nie die geringste bewys is dat enige Evangelies ooit verlore geraak het nie, of dat daar sekere belangrike boeke in die Nuwe Testament ontbreek nie. Die geskrewe boeke wat ons as die Nuwe Testament ken, het eeue lank al bestaan voordat enige van die geheime en verlore Gnostiese Evangelies ontdek is. Hoewel kerkvergaderings in die vierde eeu amptelike erkenning aan die kanon van die Bybel (die lys van amptelik erkende en gesaghebbende geskrifte) gegee het, het Nuwe Testamentiese gemeentes reeds teen die einde van die eerste eeu ‘n funksionele kanon gehad.
“Ons het bewyse hiervan in die Nuwe Testament self. In 2 Petrus 3:16, wat waarskynlik in die jaar 60 n.C. geskryf is, noem Petrus die briewe van Paulus deel van die “Skrif.” In 1 Timotheus 5:18 verwys Paulus na ‘n gedeelte in die Evangelie van Lukas en noem dit “Skrif.” Die kerkvergaderings het dus slegs amptelike erkenning aan boeke gegee wat reeds sedert die eerste eeu as gesaghebbende Skrif beskou en gebruik is. Geen boeke is tot die kanon van die Skrif toegevoeg wat nie reeds in gebruik was nie.
“Voorstanders van Brown se idees – en hy is beslis nie die enigste een wat hierdie valse sienings huldig nie – haal gedeeltes uit die Gnostiese Evangelies aan dat Jesus ‘n vrou gehad het. Die Bybel sê egter nêrens dat Hy getroud was nie. Die kanonieke Evangelies is veel ouer as die Gnostiese Evangelies waarin hierdie bewering gemaak word. Daar is geen onweerlegbare redes waarom die getuienis van die Gnostiese Evangelies aanvaar moet word nie. Die Bybel maak geen stelling dat Jesus en Maria Magdalena getroud was nie.
“Die historiese betroubaarheid van die Nuwe Testament staan bo alle twyfel vas. Diegene wat dit ontken of probeer weerlê op grond van onbevestigde verhale en Gnostiese spekulasie, wys maar net dat hulle nie in die waarheid belangstel nie... In sy opdrag aan Timótheus verwys Paulus na die godsdienstige bedrog deur mense wat hulle fabels as die waarheid aan ander verkondig: ‘Daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels’ (2 Tim. 4:3-4). Die Da Vinci-kode is ‘n bewys daarvan dat ons ‘kragtig moet stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is’ (Jud. 1:3).”
Duisende gemeentes in Brittanje voel glad nie bedreig deur die boek of die film nie, en maak Die Da Vinci-kode ‘n deel van hulle kerkprogramme. Hierdie reaksie is bepaal in ‘n meningspeiling waarin daar vraelyste aan 4000 predikante en kerklidamte in die Britse Eilande gestuur is. Meer as ‘n driekwart van hulle wil hê dat die sake wat in Dan Brown se boek genoem is, in die kerk bespreek moet word. Hulle verwag dat daar verskeie argumente vir én teen Die Da Vinci-kode sal wees, en dat dit ‘n warm debat kan afgee.
Die bevindings van die meningspeiling was soos volg:
· Verban die boek en die film – 1.5 persent.
· Ignoreer die boek en die film – 6 persent.
· Bespreek die sake wat in die boek en film geopper word – 76 persent.
· Onbeslis – 16.5 persent.
Die volgende is uittreksels uit ‘n artikel deur Anton Bosch, getiteld Die groot verraad:
Judas het Jesus vir 30 silwerstukke verkoop. Was dit die grootste verraad? Ek dink nie so nie. Hy het ten minste geld vir sy gemene daad gekry. Die afgelope week het “Christen”-leiers bykans twee miljoen siele aan Satan uitgelewer. Hierdie keer is hulle nie betaal om die groot onreg te pleeg nie – hulle het self die duiwel ‘n honderd miljoen dollar betaal om dié siele hel toe te sleep! Ek verwys na die film Die Da Vinci-kode.
Die sukses van die film was byna sonder gelyke. In Amerika alleen het dit die eerste naweek 77 miljoen dollar verdien, en in die eerste vier dae van sy vertoning wêreldwyd 224 miljoen dollar. Baie van hierdie geld kom van Christene af wat deur die Christelike media en Christelike leiers aangemoedig is om na die film te gaan kyk en dit as ‘n platform te gebruik om die evangelie te verkondig. Indien die helfte van hierdie kykers “Christene” was, dan beteken dit dat “Christene” in die eerste vier dae ná die film se vrystelling 112 miljoen dollar aan Hollywood betaal het om hulle geloof aan te val!
Kan u aan die groot openbare reaksie dink indien die VSA sou besluit om 112 miljoen dollar aan Bin Laden te skenk om sy aanvalle op Amerika te finansier? Dit is presies wat die kerke nou doen! Hulle finansier die duiwel se ondermyning van die Bybel en die Waarheid en betaal die duiwel om mense uit die koninkryk van God te roof en hel toe te sleep!
“Aag, dit is net ‘n film en blote vermaaklikheid,” sê sommige mense. Is dit? Waarom sê Brown dan dat die feite in sy boek waar is? Die basiese uitgangspunt van die boek én die film is dat die Bybel nie waar is nie, dat Jesus nooit aan die kruis gesterf het nie, dat Hy ‘n kind by Maria Magdalena gehad het, ens. Dit is nie vermaaklikheid nie, maar ‘n volskaalse aanval op die grondbeginsels van ons geloof. ‘n Christelike navorser, George Barna, sê dat 45 miljoen mense die boek gelees het en dat net 5% hulle godsdienstige oortuigings as gevolg daarvan verander het. Net 5%? Dit beteken dat twee miljoen siele vir ewig verlore is! Jesus het vir hulle gesterf, maar hulle gaan nou as gevolg van misleiding in die hel brand. Dit is veel meer mense as wat in baie maande lank as gevolg van prediking in kerke gered word.
Jesus het gesê: “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see” (Matt. 18:6). Wat sal die Here Jesus van daardie predikers sê wat mense aanmoedig om na ‘n film te gaan kyk waardeur miljoene mislei word en in die hel beland? Is daar ‘n straf wat groot genoeg vir hulle is? Indien die boek daarin geslaag het om twee miljoen mense van die geloof afvallig te maak, dan sal die film nog baie groter skade aanrig. Ons weet almal dat films veel meer invloed as boeke het om mense se menings te beïnvloed.
Hierdie is nie maar net nog ‘n film wat op die toneel verskyn het nie. Dit is uit die hel geïnspireer en daar uitgedink. Dit het net een doel voor oë, en dit is om mense se geloof om te keer. Dit is nie net ‘n geïsoleerde poging nie, maar deel van ‘n breër strategie om die Christelike geloof aan te val deur die waarheid van die evangelie te beveg. Dit is die werk van geheime agente van Satan. Paulus sê dat Satan se dienaars bedrieglike arbeiders is wat hulleself voordoen as dienaars van geregtigheid (2 Kor. 11:13-15).
Dit is nog nie die einde nie. Die volgende aanslag teen ons geloof word op 6 6 06 geloods wanneer The Omen 666 vrygestel word. Hierdie film verheerlik die Antichris en hul hom in ‘n kleed van mistieke krag. Dit kan maklik tot ‘n kultus van bewonderaars aanleiding gee. Sal predikante ook hulle lidmate aanmoedig om na hierdie film te gaan kyk? Ek is seker dat sommige van hulle dit sal doen.
Hollywood het bloed geproe – die bloed van Christene. Hulle weet nou dat die kerk hulle finansieel sal ondersteun deur miljoene Christene te stuur om vir die vernietiging van hulle eie geloof te betaal. Hollywood sal voortgaan om geweld en immoraliteit te bevorder, maar die werklike, geestelike stryd het nou begin. Die toneel word vir die openbaring van die mens van sonde voorberei, en die kerke wag net om hom te kroon en voor hom neer te buig.
Waarom is ons nie tevrede met die eenvoud van geloof, met die vreugde van ‘n persoonlike verhouding met die Here Jesus en die vervulling wat uit ‘n lewe van gehoorsaamheid aan sy Woord kom nie? Waarom is ons so beïnvloedbaar vir verkeerde dinge?
“En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei... Dan sal hulle julle aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word” (Matt. 24:4-5,9-13).
Het die krag van die dwaling al só ver gevorder dat miljoene mense ‘n openheid en belangstelling in klaarblyklike kettery het? Die reaksies en houdings wat in die meningspeiling in Brittanje oor Die Da Vinci-kode vasgestel is, onderstreep die feit dat die meeste “Christene” nie huiwer om hulleself aan die mees blatante vorms van misleiding en kettery bloot te stel nie. Die miljoene fliekgangers doen dieselfde. Hulle norm vir beoordeling is nie die objektiewe Bybelse waarheid nie, maar die sensasie wat deur twispunte teweeggebring word wat uit misleiding en agnostiese denke voortvloei. Dit is kenmerkend van die postmoderne samelewing dat mense krities teenoor alle vorms van tradisie is, insluitende die Evangelie van Jesus Christus wat nou wyd en syd bevraagteken word. Baie mense put selfs genot uit die omverwerping van die ou fondamente, insluitende die fondamente van hulle geloof (vgl. Ps. 2:2-3; 11:3).
Die boodskap van Die Da Vinci-kode bied aan hulle ‘n verdere geleentheid om die Bybel te bevraagteken en die boodskap daarvan as onvolledig en vals te verwerp. Dit bied ook aan hulle die geleentheid om Jesus Christus se godheid en die betekenis van sy kruisdood en opstanding te verloën en buite rekening te laat. Sodoende word hulle bevry om te leef soos hulle wil en die bepalers van hulle eie lotgevalle te word. Hulle belangstelling word egter in donker godsdienstige komplotte aangewakker, asook in ‘n geheime orde van geestelikes wat in ‘n stadium aan die mensdom geopenbaar sal word.
Die Antichris sal hierdie denkklimaat tot sy eie voordeel uitbuit, want hy is “die verborgenheid van ongeregtigheid” wat aan die wêreld geopenbaar sal word en homself bo alle bestaande godsdienstige tradisies sal verhef (2 Thess. 2:3-8). Sy koms sal wees “volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde van die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie” (2 Thess. 2:9-10).