Prof. Johan Malan, Universiteit van die Noorde
Opsomming: Die grondbeginsels van die Christelike geloof word toenemend deur teoloë verwerp. Dit is net ‘n kwessie van tyd voordat verskeie predikante ook hierdie voorbeeld sal navolg.
Daar is die afgelope aantal jare ‘n groeiende beweging in die tradisioneel Christelike wêreld aan die gang om die Drie-enige God en sy Woord te verwerp. Die leiers van die beweging noem dit ‘n nuwe hervorming. Dit is egter nie ‘n nuwe reformasie nie, maar ‘n deformasie, m.a.w. die verwerping van Christus en Christelike beginsels, sodat die weg na ‘n mistiese en multigodsdienstige wêreldgodsdiens gebaan kan word. Die nuwe universele god word in ‘n meditatiewe transtoestand geestelik ervaar. Die formele aanbidding van God word dus gestaak.
‘n Toekomskundige, dr. Piet Muller, sê in ‘n artikel oor die nuwe hervorming dat daar ‘n grondverskuiwing in die Christendom aan die gang is (“Nuwe hervorming veroorsaak opskudding”: Die Burger 08.03.2002). Hy vertel van ‘n universiteitsvriend van hom wat glo nog net die eerste vier woorde van die geloofsbelydenis kan opsê, naamlik “Ek glo in God…” Die res van die belydenis betwyfel hy heeltemal, dus ook die posisie van Jesus as die Seun van God. Ná ‘n gesprek met sy predikant het die dominee gebieg dat hy eintlik nét so voel. Saam het hulle toe “’n studiegroep van twyfelaars” begin.
Verskeie voorbeelde word in die artikel aangehaal van mense wat sê dat hulle nie alles kan glo wat in die Bybel staan nie, dat God ‘n misterie bly wat hulle selfs “nie vaagweg in ‘n Paulus se dowwe spieël kan herken nie,” en dat ‘n godsbelewenis ‘n ontwykende ideaal bly.
Prof. Adrio König, ‘n teoloog van Unisa, het onlangs ‘n artikel oor die nuwe hervorming geskryf (Beeld, 28.03. 2002). Hierin sê hy onder meer die volgende:
Hierdie stellings is só openlik onbybels, godslasterlik en gruwelik dat enige verdere verduideliking van die inherente boosheid daarvan onnodig is. Dit kom op ‘n totale verwerping van die basiese beginsels van die Christelike geloof neer. Die naïewe argumente van moderne spotters en agnostici word gebruik om belangrike godsopenbarings en tydlose geestelike waarhede in diskrediet te bring en te verwerp.
Sulke vyande van die Drie-enige God, wat ook die Here Jesus se genadewerk aan die kruis verag, aanvaar klaarblyklik nie die volgende waarskuwing in die Bybel nie. Vol van hulle eie teorieë, gaan hulle voort om die waarheid van God se Woord stelselmatig af te breek:
Saam met die bogenoemde artikel deur prof. König het ook ‘n artikel deur prof. Sakkie Spangenberg van Unisa verskyn. Hy is jare lank al bekend vir die wyse waarop hy die Bybel as die unieke en onfeilbare Woord van God verdraai en onder verdenking bring. In hierdie verdere artikel verswyg hy ook die goddelike inspirasie van die Bybel (2 Tim. 3:16-17; 2 Pet. 1:21), en dis ‘n teorie oor die oorsprong van die drie sinoptiese Evangelies op.
Volgens prof. Sakkie het Mattheus en Lukas hulle inligting by Markus gekry en oorgeskryf. Verdere inligting wat nie in die Evangelie van Markus voorkom nie, kom na bewering uit ‘n onbekende en verlore manuskrip wat hy die Q-dokument noem. In elk geval het hy in die verlede al gesê dat die Bybel net menslike insigte en opinies oor God bevat, en dat hierdie insigte oor tyd heen verander het. Die Bybel is dus, volgens hom, nie die letterlik geïnspireerde Woord van God nie.
Dit is ook die taal van die nuwe hervormers, wat daarop uit is om die mat heeltemal onder die Christendom uit te trek. Hulle reduseer Jesus tot die vlak van die heidense gelowe se messiasse, soos Boeddha en Krishna, verwerp die kruisboodskap, skiet die Bybel in vlamme af en vervang gebed met Hindoeïstiese meditasie.