Prof. Johan Malan, Universiteit van Limpopo (22 Desember 2005)
Ná ‘n verblyf van drie jaar in Johannesburg het dr. Bruce Wilkinson vroeg in Julie 2005 na die voormalige Britse kolonie, Swaziland, verhuis om praktiese uitvoering aan sy “Droom vir Afrika” te gee. Gedurende sy uitgebreide reise op die subkontinent het hy diep onder die indruk van die desperate posisie van miljoene werklose, arm, siek en verhongerde swartmense gekom wat sonder hulp van buite af min hoop op ‘n beter toekoms het. Hy was veral baie bekommerd oor die lot van die meer as ‘n miljoen kinders wat as gevolg van die Vigs-epidemie wees gelaat is – meer as ‘n honderdduisend van hulle in Swaziland.
As ‘n baie bekwame, invloedryke en welvarende man het Bruce besluit om hulp te verleen en spoedig ‘n indrukwekkende plan vir die opheffing van behoeftige gemeenskappe en individue op die onderontwikkelde vasteland opgestel. Hy het ‘n droom, ‘n visie, ‘n ambisieuse plan gehad om grootskaalse humanitêre hulp uit Amerika na die arm mense van Afrika te kanaliseer. Hy wou die arm landjie, Swaziland, as ‘n rolmodel vir die res van Afrika ontwikkel oor hoe lewenstyle suksesvol verander, en armoede en lyding uitgeskakel kon word. Swaziland het een van die hoogste koerse van HIV-besmetting in die wêreld.
Bruce het ‘n aansienlike ondersteuningsbasis onder private maatskappye en kerke opgebou, en ook ‘n groot finansiële bydrae by die Amerikaanse regering gekry om Vigs in Afrika te bekamp. Baie plaaslike en Amerikaanse vrywilligers het ook by projekte soos Nimmereindigende Tuine ingeskakel en die plaaslike mense geleer om twee tuine per gesin aan te lê om genoeg voedsame groente te kan hê. Die droom van Bruce het al die nodige ondersteuning gehad om ‘n werklikheid te word, as dit net deur die teikengemeenskappe gedeel en aanvaar sou word.
As ‘n volkekundige en die seun van ‘n voormalige sendeling in Swaziland, het ek die pogings van Bruce Wilkinson met belangstelling dopgehou. Ek het verskeie ontwikkelingsprojekte in Afrika bestudeer, en was bewus van die redes vir die mislukking van baie daarvan. Sou Bruce se projek onder die baie mislukkings of onder die enkele suksesverhale van Afrika tel? Ek het my bedenkinge gehad, ook uit ‘n Bybelse oogpunt, maar nooit besef dat hy soveel probleme sou ervaar en so gou sou tou opgooi nie. Hy het ernstige foute begaan en in ‘n kort tydjie gesien hoedat sy droom verpletter is.
Wat het verkeerd gegaan? Op 19 Desember 2005 het die Wall Street Journal ‘n lang artikel gepubliseer oor hoe Bruce se droom in ‘n nagmerrie verander het. Die artikel is getiteld: “Onbeantwoorde gebede: ‘n Amerikaanse prediker sien hoedat sy droom in Afrika verdwyn.” In hierdie artikel word ook daarop gewys dat Bruce selfs teen die advies van die Amerikaanse ambassadeur in Swaziland opgetree het:
“In Meimaand het mnr. Wilkinson probeer om die Bush-administrasie na sy kant toe oor te wen. Hy het die Amerikaanse ambassadeur, Lewis Lucke, in ‘n konvooi luukse 4X4 voertuie na die terrein vir sy voorgestelde droomdorp geneem. Mnr. Lucke het vroeër in Haïti, Jordanië en Irak gewerk, meesal in diens van die Amerikaanse Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling. Hy het mnr. Wilkinson se entoesiasme en onbaatsugtigheid bewonder, maar was skepties oor organisasies met min buitelandse ervaring, wat nogtans daarop aanspraak maak dat hulle Afrika se probleme kan oplos. ‘n Paar dae later het mnr. Lucke ‘n besoek by mnr. Wilkinson afgelê en hom meegedeel dat dit onwys sou wees om weeskinders van hulle tuisgemeenskappe af weg te neem. ‘Dit is prysenswaardig dat u probeer om iets vir Swaziland se weeskinders te doen,’ het mnr. Lucke gesê, ‘maar doen dit op ‘n manier wat nie in konflik met die Swazi-kultuur is nie.’
“Mnr. Wilkinson het gemeen die saak is só dringend dat daar nie tyd vir ‘n meer versigtige benadering is nie. Mnr. Lucke was egter nie hiervan oortuig nie, en hy het ook nie gemeen dat die Swazi-regering so sou dink nie. ‘U sal nooit die grond kry nie,’ het hy gewaarsku. Mnr. Lucke se woorde was profeties, want ‘n paar weke later het die konsep plan van ‘n Droom vir Afrika in Swaziland se koerante verskyn en ‘n skerp openbare reaksie teen mnr. Wilkinson veroorsaak. Onder die opskrif ‘Britse kolonie of dr. Bruce kolonie?’ het die Swazi News ‘n artikel geplaas waarin daar gesê is: ‘Waarom sê hy nie net vir ons dat hy die hele land wil hê sodat hy by sy vriende oorsee kan spog dat hy ‘n moderne kolonie in Afrika, Swaziland, besit nie?’”
Die droom van Bruce, sowel as die metodes wat hy gebruik het om sy Droom vir Afrika te verwesenlik, was in direkte botsing met die Swazi-kultuur. Die volgende is die ernstigste foute wat hy gemaak het:
Onkunde oor Afrika se eie droom. Die ontluikende Afrika Renaissance verteenwoordig ‘n terugkeer na Afrika se kulturele wortels. Dit is ook ‘n oproep aan Afrika om saam te werk en die verantwoordelikheid vir sy eie toekoms ter wille van die voordeel van almal te aanvaar. Afrika het sy eie politici en filosowe wat inhoud aan hulle toekomsdroom gee en die weg vorentoe aanwys deur nasionale doelwitte te stel. In die lig hiervan is dit duidelik waarom hulle nie oor die Afrika-droom van ‘n Amerikaanse miljoenêr opgewonde sal raak nie. Hulle beskou dit as arrogansie aan die kant van die buitelandse dromer, want dit impliseer dat hulle nie ‘n droom of plan van hulle eie het nie. Afrika wil sy eie probleme op sy eie manier oplos. Hulp word verwelkom, maar nie onafhanklike programme waarin die krediet vir prestasies na die buitelandse entrepreneurs en hulle buitelandse borge gaan nie. Dit is een van die redes waarom die droom van Bruce in ‘n vroeë stadium verwerp is.
Onkunde oor die aard van Afrika-politiek. Die nasionale bewussyn in die meeste Afrika-lande is baie sterk. Hulle is trots op die verkryging van volle onafhanklikheid en het ‘n absolute weerstand teen enige vorm van neo-kolonialisme. Hoewel die meeste lande dringend ontwikkelingshulp van die ryk lande af nodig het, is hulle nogtans skepties oor hoë profiel projekte wat deur buitestanders aangepak en beheer word. Laasgenoemde is daartoe geneig om die eer vir dit wat op ‘n nasionale vlak bereik word, vir hulleself toe te eien, en sodoende ‘n mate van beheer oor die land te verkry. Hulle sal dan die krediet kry vir dit wat die regering nie kon doen nie. In die Afrika-benadering moet groot ontwikkelingsprojekte onder die beheer van die nasionale regering uitgevoer word, sodat swart bemagtiging van die begin af ‘n wesenlike deel van die projek is. Bruce het nie daarna gestreef om op die Swazi-regering se voorwaardes met hulle saam te werk nie, maar wou ‘n Amerikaanse plan van sosiale verandering op die Swazi’s afdwing.
Verontagsaming van die beginsels van NEPAD. Die ontwikkelingsmodel wat deur Afrika-leiers gekies is, is dié van NEPAD – New Partnership for Africa’s Development. NEPAD is ‘n verbintenis deur Afrika-leiers om armoede uit te wis en hulle lande op die pad van volhoubare groei en ontwikkeling te plaas. Hulle soek na vennote om hulle met die oplossing van probleme te help wat reeds deur hulleself bepaal is. Hulle soek nie na mense wat vir hulle wil vertel wat om te doen nie, of wat dinge onafhanklik van hulle wil doen nie. Bruce het gefouteer deur nie ‘n aktiewe vennootskap met Afrika-leiers en regeringsdepartemente te soek nie. Hy het hulle ook nie oor die uitvoerbaarheid van sy droom geraadpleeg nie. Hierdie droom het beslis elemente bevat wat nie vir hulle aanvaar is nie.
Versoeke vir grond. Bruce het vir ‘n groot stuk grond gevra, en daardeur het hy die Swazi-regering en publiek negatief gestem. Grond word in Afrika as ‘n nasionale bate gesien. Tradisioneel is daar geen voorsiening vir private besitreg gemaak nie. ‘n Tradisionele leier is die trustee van sy stam se grondgebied, en hy ken slegs okkupasie- en bewerkingsregte aan individuele gesinne toe. Die weidingsgebiede word kommunaal benut. In die meeste Afrka-lande is daar nog steeds baie plase en ander grondgebiede wat in die besit is van persone wat as buitelanders beskou word. Groot druk word deur swart onderdane op hulle regerings uitgeoefen om die grond op ‘n meer regverdige basis te verdeel. Onder dié omstandighede was dit nie wys van Bruce om vir ‘n groot stuk grond te vra, insluitende die beheer oor ‘n wildtuin nie. Baie mense was hoogs ontsteld hieroor.
‘n Onafwendbare botsing met Afrika se sosiale gebruike. Die weeshuise (sg. droomdorpe) wat Bruce wou laat oprig, was in botsing met Afrika se verwantskapstelsels en gebruike oor die versorging van hulle lede. Tradisioneel was daar geen weeshuise en ouetehuise in Afrika nie, omdat elke familie vir die versorging van sy eie lede verantwoordelik is. In die Afrika-kulture word daar ‘n baie meer uitgebreide stelsel van verwantskapsverpligtinge gehandhaaf as wat in die individualistiese Westerse samelewings die geval is. Op dié manier word daar gesorg dat lede nie van hulle families vervreem raak nie. Hoewel die ouers van weeskinders dood is, is daar gewoonlik ander lede van hulle uitgebreide gesinne, bv. die broers en susters van die oorledenes, of selfs die grootouers, wat vir die kinders sal sorg. Bruce was nie hiervan bewus nie, en wou 10 000 weeskinders uit verskillende gemeenskappe en stamgebiede in ‘n enkele weeshuis saamgooi. Dit was vir die Swazi-regering en publiek heeltemal onaanvaarbaar. Hulle het ook aangedui dat die toekomstige okkupasieregte van sulke kinders in die gedrang sou kom indien hulle vir ‘n lang tyd van hulle woongebiede en groter gesinne-eenhede af verwyder word. In Afrika moet die versorging van weeskinders op ‘n kleiner skaal in plaaslike gemeenskappe gedoen word, sonder dat kinders van hulle gemeenskappe van oorsprong af vervreem word.
‘n Verkeerde benadering tot ontwikkeling. Onder die huidige omstandighede is die korrekte benadering tot ontwikkeling in Afrika ‘n indirekte (onregstreekse) benadering waardeur basiese probleme op die plaaslike vlak aangespreek word. Bruce moes hierdie benadering gevolg het deur plaaslike Swazi-predikante en ander gemeenskapsleiers op te lei en te bemagtig om self die inisiatief vir ontwikkeling in hulle eie gemeenskappe te neem. Daardeur sou hy die pyne uitgeskakel het wat met regstreekse ontwikkelingsprojekte op die nasionale vlak gepaard gaan. Die vernietiging van Bruce se droom en die beëindiging van sy projekte is op ‘n hoogs traumatiese wyse deur die Swazi-predikante ervaar met wie hy reeds ‘n werksverhouding opgebou het. Hulle voel dat hulle deur Bruce in die steek gelaat is nadat sy oorhoofse plan in Swaziland verwerp is.
Afgesien van die verkeerde benadering en metodes wat deur Bruce gevolg is, het evangeliese Christene ook ernstige besware teen sy Bybelse beskouings, prioriteite en werkswyse. Die volgende is ter sake:
Humanitêre eerder as Christelike programme. Binne die raamwerk van die Groot Opdrag moet evangelisasie en dissipelskapsopleiding altyd voorkeur bó humanitêre werk en maatskaplike welsynsprojekte kry. Wanneer evangeliste deur gemeenskapsprojekte soos tuinmaak, mediese dienste, armoede-verligting en die beheer van weeshuise belas word, sal die las op hulle skouers só groot word dat evangelisasiewerk baie laag op hulle agenda sal wees. Bruce vertrou duidelik meer op sosio-ekonomiese opheffing en seksuele onthoudingsprogramme as op evangelisasie. As getuies vir Christus is dit ons eerste roeping om die wêreld te evangeliseer. Ongereddes moet tot bekering kom (Hand. 17:30), en gereddes moet geheilig en as dissipels opgelei word om tot in die mees afgeleë dorpies in Afrika te gaan om die evangelie aan verlorenes te verkondig. Slegs dan sal die morele beginsels en lewenswyse van mense sodanig verander word dat hulle hulself nie meer weens immorele, sondige gedrag aan besmetting deur die dodelike HIV-virus sal blootstel nie.
Rekonstruksionisme. Sedert sy aankoms in Suid-Afrika, het Bruce aktief aan die jaarlikse transformasie-byeenkomste deelgeneem. Hierdie byeenkomste is ekumenies van aard en op die rekonstruksie van die samelewing in ooreenstemming met sekere Christelike en morele waardes ingestel, asook op die bevordering van ‘n lewenskragtige ekonomie wat werksgeleenthede aan almal sal bied. Dit is ‘n koninkryksvisie vir die wêreld en dus deel van die koninkryksteologie wat op heerskappy ingestel is. Volgens hierdie siening moet daar ‘n sigbare manifestasie van God se koninkryk op aarde wees, wat beteken dat daar van hele nasies dissipels gemaak moet word om deel van die koninkryk te word. Dit is in botsing met die Bybelse aard van die kerkbedeling, en dus ‘n menslik bedinkte visie wat nie kan uitwerk nie. Ons is vreemdelinge en bywoners in ‘n bose wêreld wat in die mag van die duiwel lê (1 Joh. 5:19). In hierdie bedeling word net ‘n minderheid van die mensdom gered (Matt. 7:13-14; Luk. 13:23-24). Hierdie scenario kan nie met die grandiose koninkryksprogramme met hulle nie-veroordelende evangelie en populêre aanvaarbaarheid versoen word nie, en is eerder op intensiewe evangelisasie in kleingroepsverbande ingestel.
Misleidende Jabes-gebede. Bruce het ‘n Ou Testamentiese voorspoedsgebed gepopulariseer waarin die Naam van Jesus natuurlik nie voorkom nie. Hy het mense geleer om hierdie gebed van 36 woorde uit 1 Kronieke 4:10 gereeld elke dag op te sê om groot seëninge in hulle lewens te ontvang. Bruce het hierdie gebed daagliks gedurende die afgelope 35 jaar opgesê, en sê dat dit die geheim is waarom 22 miljoen van sy boeke wêreldwyd verkoop is. Hy sê egter dat hy nou die groot probleem het om te verklaar waarom die wonderwerk in Swaziland nie gebeur het nie, ten spyte van sy onophoudelike opsê van die Jabes-gebed. Het dit hom só lank geneem om die waarheid van Mattheus 6:7 agter te kom? “En as julle bid, gebruik nie ‘n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word.” ‘n Nuwe Testamentiese gebed moet in die Naam van die Here Jesus en in ooreenstemming met God se wil gebid word (Joh. 14:13; 1 Joh. 5:14).
Assosiasie met Robert Schuller. Baie Christene het ‘n probleem daarmee dat Bruce aan byeenkomste van Robert Schuller se Instituut vir Suksesvolle Kerkleierskap deelneem. Schuller vertrou op sielkundige selfagtingsprogramme om mense se lewens te verander, eerder as op die boodskap van die evangelie wat sê dat mense eers onder die oortuiging van hulle sondes, mislukkings en verlore toestand voor God moet kom (die teenoorgestelde van selfagting) voordat hulle vergewe en gered kan word. Positiewe denke is van geen nut in evangelisasie nie omdat dit die prediker daarvan weerhou om God se oordele oor die sondaars te verkondig, en hom ook kondisioneer om nie die aandag op die groot gevaar van geestelike misleiding te vestig nie. Positiewe denke lei ook na hoogmoed. Selfs uiterlik suksesvolle Christene moet hulleself voor die Here verneder en duidelik by sy opdragte bly oor hoe om verlore siele vir sy koninkryk te wen, wat nie van hierdie wêreld is nie. Hulle moet hulself daarvan weerhou om in hulle eie prestasies te roem (vgl. Op. 3:17).
Wat ek in hierdie artikel oor Bruce Wilkinson gesê het, word in die gees van 2 Timotheus 2 gesê: “’n Dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra. Hy moet die weerspanniges in sagmoedigheid teregwys” 2 Tim. 2:24-25). “Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (1 Kor. 10:12).
Dear Professor Malan:
Today I was led to the Discernment Ministries web site regarding the Dream for Africa project. I had no idea that Mr. Wilkinson had left the "Dream" and possibly the ministry. I reverted back to the Wall Street Journal article and was truly amazed at what I read. More so, your article considerably put the Dream for Africa project in proper light. This morning I read it three times over and sent it to many friends of mine in the ministry and college.
You see, I was one of the students from Dallas Baptist University who joined over 100 students on the pilot project in May-June 2004. He came to speak at our school in Fall 2003 and asked 100 students to come forth. I felt called. The following winter I interned in Washington, DC with the House International Relations Committee-Subcommittee on Africa under Congressman Henry Hyde. This experience was delivered to me by the grace of God. I learned so much about Africa and US relations, and met many dignitaries.
After this came the trip to Africa. I started to realize that God was birthing a ministry of reconciliation for me, not like others where peace and prosperity came before the Word – as with Rick Warren's PEACE initiative, but true reconciliation between God and Man, repentance, and belief in Christ. I have been trying to strike a balance regarding humanitarian aid/development and evangelism-wanting to get off on the right footing and establish a God driven ministry from the start. I would like to thank you for being a vessel used by God, and delivering many from deception. This was my cue from God to learn from Wilkinson's mistakes and pursue evangelism full speed, discipleship considered, and humanitarian development following.
We were trained in one week by his ministry. Ironically, we were told not to minister the Word of God and the atoning sacrifice of Christ to the school children. We were completely baffled, we simply excused what we heard and pursued the Great Commission with fervent passion. And a handful of children came to know Christ. We were not willing to compromise the Word for the sake of the making of a name, or represent the programs of man sustained by flesh. It was also confusing for me as a Christian. Was I disobeying authority?
It has been the most difficult season of my walk with the Lord thus far. But this seemingly has put an ending to the questioning of Dream for Africa. Again, thank you for preaching repentance, Godly truth, and delivering it in such an upright matter. I would just like to encourage you to continue the excellent work. I look forward to reading the other articles you have published. Press on, press on.
Kindest Regards, and in His service,
Andrew Knutson
Prof. Malan
I was recently forwarded an Article which you wrote regarding the "Dream for Africa." It was a stunning article, because I was a participant in the "Beat the Drum" month long project held in the summer of 2004. I was one of over a hundred American college students, who joined with Swazi, and South African students, to teach abstinence in High Schools around Swaziland. In truth, the experience was a great lesson in faith, and created in me a heart for souls.
Your article however described in perfect detail, the reasons why I felt, that our time and effectiveness in that project was greatly diminished. We were told that we had not come there to preach Christ, which was a surprise to me, because that was exactly why I had joined the team. Thus we were told to approach the terrible HIV/AIDS problem from a secular perspective. I have to say that I rebelled against that, because I took every chance I had to tell people what the real problem was, Sin.
By God’s grace I was able to lead dozens to Christ, and on one occasion an entire class made the life changing decision. I told those whom I preached to that "Christ was the only one who could give us power to live in abstinence before marriage, and faithfulness after. The flesh which wars against God does not have to power to keep such a commitment, but through Christ, we have victory over the flesh. I appreciate your article, because in confirms my thoughts about the approach that was taken, and encourages me to continue preaching repentance.
Since then I have graduated from Dallas Baptis University and am developing an Evangelistic Ministry called Cross Power, in which I travel around the US and Latin America, preaching the message of repentace. Thank you for speaking the truth in this matter and encouraging my ministry in the process. I have also read quite a few of your other articles and have enjoyed them very much.
In Christ
Isaac De Los Santos