Johan Malan, Mosselbaai (April 2010)
Die beginsel van wysheid is die kennis van God (Spr. 9:10). Die beginsel van dwaasheid, daarenteen, is om God te ontken en volgens jou eie, beperkte insig te dink en te leef. ‘n Mens se natuurlike insig en begeertes is verwronge as gevolg van die sondeval. ‘n Lewe sonder die kennis van God is ‘n teelaarde vir misleiding, dwaling en verkeerde prioriteite. Die Bybel praat van die volgende tien soorte geestelike dwaasheid, en aan sommige hiervan maak selfs Christene hulle ook skuldig:
“Die dwaas sê in sy hart: daar is geen God nie! Hulle het sleg gehandel en hul onreg afskuwelik gemaak; daar is niemand wat goed doen nie. God het uit die hemel neergesien op die mensekinders om te sien of daar iemand verstandig is wat na God vra. Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen nie, ook nie een nie” (Ps. 53:2-4). Paulus brei verder uit op hierdie morele ontaarding: “Met hul tonge pleeg hulle bedrog... Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is in hul paaie, en die weg van vrede ken hulle nie. Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie” (Rom. 3:13-18).
God het op ‘n heidenwêreld neergekyk waarin daar nie een was wat na Hom gesoek het nie. Die mens is na die beeld van God geskape en word geroep om aan sy heiligheid en geregtigheid gelykvormig te word. Almal het egter van Hom afgewyk en in goddeloosheid verval. In plaas van God se beeld van heiligheid het hulle in immorele en sondige lewens verval wat gaandeweg al hoe erger geraak het. Sommige van hulle het nietige afgode nagejaag wat met hande gemaak is. Ander het aan niks geglo nie en vrye teuels aan hulle bose hartstogte gegee.
Die vervalle mens het sy eie god geword. Hy het selfs die skepping van God ontken en sy eie afkoms op grond van afstamming uit die diereryk verklaar. Hieruit is die teorie van unilineêre biologiese evolusie gebore. God is sodoende aan viervoetige diere gelykvormig gemaak. Omdat die mens dit gedoen het, het God hom aan die verdraaide waardes van sy perverse natuur oorgegee en hieruit het allerlei bose dade voortgespruit, asook seksperversies soos homoseksualiteit:
“Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ‘n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer – hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen. Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang. En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ‘n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie” (Rom. 1:18-28).
Die ontkenning van God lei noodwendig na rebellie en opstand teen Hom. Dit is egter ‘n sinnelose oefening om die bestaan van God te ontken, omdat Hy Homself op baie maniere aan die mensdom bekend maak. Hy het Homself openbaar deur sy skepping, die roeping van Israel, die prediking en waarskuwings van sy profete, die oordele oor sy vyande, sy genade en uitredding aan dié wat Hom vrees, die menswording en bediening van sy Seun, en ook deur die getuienisse van miljoene Christene deur die eeue heen. Diegene wat nie hierop wil ag slaan nie, verwerp God en sy woorde met minagting en kom openlik teen Hom in opstand:
“Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle. Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik: Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg. Ek wil vertel van die besluit: Die Here het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting. U sal hulle verpletter met ‘n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ‘n erdepot. Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die Here met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!” (Ps. 2:2-12).
Dit is duidelik dat daar in die eindtyd ‘n wêreldwye sameswering teen God en sy Seun sal wees. Die Drie-enige God word uit grondwette uitgeskryf, uit onderwysstelsels verban en sy Woord aan die geskrifte van heidense gelowe gelykgestel. Bybelse moraliteit word verwerp omdat dit mense se vryheid aan bande lê, hulle sondige dade veroordeel, en eerbare optrede van almal vereis. ‘n Rebelse mensdom aanvaar nie hierdie beperkings nie en verwerp die oppergesag van God. Dit is egter ‘n stap van totale dwaasheid omdat die Here alle rebelle met ‘n ysterstaf sal verpletter. In die komende verdrukking sal die toorn van die Lam oor hulle uitgestort word.
Die Here Jesus het gesê: “En daar sal tekens wees aan die son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom, want die kragte van die hemele sal geskud word” (Luk. 21:25-26). Mense sal in hierdie tyd van ongekende natuurrampe na die berge vlug en tot die rotse uitroep: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17).
By die slag van Armageddon aan die einde van die verdrukking sal miljoene mense wat opgetrek het om teen Christus te veg, met hulle lewens daarvoor boet: “En ek het die dier [die Antichris] en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit [Christus], en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit” (Op. 19:19-21).
Dit is uiterste dwaasheid om teen God in opstand te kom, omdat Hy alle mag in die hemel en op aarde het. Hy is die een wat gevrees en gedien moet word, daarom het Jesus Christus gesê: “Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel” (Matt. 10:28).
Die Bybel sê: “Die sonde is ‘n dwase voorneme” (Spr. 24:9). Sonde is ‘n oortreding van God se morele eienskappe soos geregtigheid, liefde, waarheid en heiligheid, wat Hy ook van mense verwag wat na sy beeld geskape is. Hy sê: “Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet 1:16; Lev. 11:44). Weens die sondeval is die beeld van God in mense egter geskend en het hulle almal ‘n verdorwe, sonde-geneigde natuur gekry (Rom. 5:12).
Die pad na geestelike ontwaking is om die gebroke verhouding met die Here te herstel, uit sy genade te leef, volgens sy geregtigheid te wandel en voortdurend die neiging tot sonde te weerstaan. “Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie – die sonde lê en loer voor die deur en sy begeerte is na jou, maar jý moet daaroor heers” (Gen. 4:7).
Dit is dwase optrede om aan sondige neigings en versoekings toe te gee. Ongeredde mense leef permanent in sonde omdat hulle weens die sondeval onder die heerskappy daarvan leef. Hulle stuur op die ewige verderf af, want die loon van die sonde is die dood (Rom. 6:23).
Christene kan egter ook versoek word om te sondig, maar is onder die verpligting om dit dadelik te bely en te laat staan (Spr. 28:13; 1 Joh. 1:8-9; 2:1). Indien hulle egter moedswillig met hulle sonde volhard, beweeg hulle onder die genade van die Here uit: “Want as julle na die vlees [die ou, sondige natuur] lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe” (Rom. 8:13).
Dit is groot dwaasheid om die Here Jesus se liefde en vergewensgesindheid te versmaai en sy toorn oor jou te haal. Sondaars gaan nie hemel toe nie – net verloste mense.
Dit is uiterste dwaasheid om die knie in aanbidding te buig voor enige ander god as die ware, Drie-enige God. Dwaasheid van hierdie aard is sterk aan die toeneem en word deur die multigodsdienstige denke van moderne tye gedryf. In terme van hierdie humanistiese dogma is daar ‘n universele God van alle gelowe en dit maak nie regtig saak deur watter middelaars hy genader word nie. Die pad na hom toe kan deur Jesus Christus gaan, maar ook deur Moeder Maria, Boeddha, Krishna, Mohammed, die voorvadergeeste of enige ander afgode.
‘n Baie algemene vorm van afgodediens wat in die komende verdrukking sal voorkom, is die aanbidding van die Antichris se beeld. Dit sal in ‘n stadium wêreldwyd verpligtend gemaak word, en weiering om hieraan te voldoen, sal met die dood strafbaar wees (Op. 13:14-15). Die ewige straf van die Here wag egter op al hierdie afgodedienaars (Op. 14:9-11).
Die genadetroon van die Vader kan slegs deur sy Seun, Jesus Christus, genader word (Joh. 14:6). Alle ander paaie wat aan mense gebied word, is dwaalweë wat nie by die ware God uitkom nie, maar by die valse god van hierdie wêreld – Satan. Hy doen homself as die ware God voor en is daarop uit om mense te mislei deur hulle van die ware God en enigste Verlosser van die wêreld, Jesus Christus, weg te hou. Paulus verwys na die misleides “in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Kor. 4:4).
Omdat die idee van Satan, wat ‘n lasteraar en teëstander van God is, vir die meeste mense onaanvaarbaar is, verbloem hy homself in die gedaante van ‘n groot aantal gode. In hierdie ander hoedanighede het hy en sy demone reeds daarin geslaag om hulleself in alle nie-Christelike godsdienste te vestig. Mense aanbid en dien dan hierdie vreemde gode, totaal onbewus van die feit dat hulle eintlik die duiwel dien.
Paulus het dit nodig gevind om selfs die gelowige Korinthiërs daarop te wys dat hulle eintlik die duiwel eer indien hulle aan die heidene se afgodsoffers meedoen: “Wat sê ek dan? Dat ‘n afgod iets is, of dat ‘n afgodsoffer iets is? Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie” (1 Kor. 10:19-20).
Dit is misleiding van die ergste graad om God met die afgode gelyk te stel, en dus ook die Christelike geloof met die nie-Christelike gelowe, soos wat daar in die intergeloofsbeweging gedoen word. Die dwalende Korinthiërs is by herhaling teen intergeloofsassosiasies gewaarsku:
“Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige” (2 Kor. 6:14-18).
Ons moet in staat wees om intellektueel én geestelik ‘n baie duidelike onderskeid tussen die ware God en die groot aantal valse gode te tref. Ons moet onsself duidelik van afgode distansieer en ook ons kinders leer om dieselfde te doen. Die kompromie wat op hierdie terrein gemaak word, gaan noodwendig op die aanvaarding en aanbidding van die Antichris as die god van hierdie wêreld uitloop.
Daar is baie persone oral in die wêreld wat die humanistiese idee van die inherente goedheid van die mens huldig. Hulle sê dat die mens die bepaler van sy eie lotgevalle is, self die kwaad moet oorwin en sy lewe verbeter. Enige prestasies wat hulle bereik, bv. op die terreine van sport, geleerdheid, politiek, die bereiking van hoë professionele posisies en die verkryging van groot rykdom, word tot hulle eie verheerliking aan die groot klok gehang. Sulke mense roem ook op hulle eie moraliteit en goeie, suksesvolle lewens.
Die feit is egter dat alle mense geestelik dood en moreel verdorwe is as gevolg van die sondeval, en dat daar uit God se oogpunt nie een is wat regtig goed is nie (Rom. 3:10-12). Dit is dus ‘n nuttelose oefening om op al hierdie persoonlike prestasies te roem. Die Here Jesus sê dit is soos om jou lewe op die sand van selfmisleiding te bou: “Elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ‘n dwase man wat sy huis op die sand gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot” (Matt. 7:26-27).
Selfs die mooiste en mees suksesvolle lewe denkbaar sal uiteindelik tot ‘n val kom as dit nie op die Rots, Jesus Christus, gebou is nie (1 Kor. 3:11). Mense wat vol van hulleself en hulle eie prestasies is, is nog steeds brose en nietige mense wat nie genoegsame krisisbestandheid teen al die storms van die lewe het nie. Selfs al gaan hulle oënskynlik suksesvol deur hulle aardse lewe, sal hulle voor die troon van die Here tot ‘n val kom wanneer hulle geweeg en té lig bevind sal word. Al hulle aardse besittings sal agterbly en hulle sal van al hulle selfgeregtigheid gestroop wees wanneer hulle voor die Here se troon verskyn. Niemand kan homself red nie.
Daar is groot gevaar verbonde aan ‘n materialistiese lewe, omdat selfverheerliking en selfverryking na morele verdorwenheid lei. Só ‘n persoon sak moreel en geestelik al hoe dieper in ‘n moeras van sonde weg, selfs al probeer hy ook hoe hard om dit te ontken: “Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins. Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees. Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor. Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid. Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het” (1 Tim. 6:6-12).
Die ryk dwaas het vir homself gesê: “Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik. Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit wees? So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie” (Luk. 12:19-21). Die Here Jesus het die gevaar van materialisme só in hierdie gelykenis beklemtoon: “Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie” (Luk. 12:15; vgl. 1 Pet. 1:14).
Dit is groot dwaasheid om ‘n lewe van ongeloof te lei en jouself net met die verganklike dinge van hierdie wêreld besig te hou.
Hoe dwaas is dit nie om ‘n uiterlike skyn van godsdiens voor te hou, terwyl jou hart donker en ver van die Here af is! Die skrifgeleerdes en Fariseërs het dit tot ‘n fyn kuns ontwikkel om hulle innerlike verdorwenheid agter ‘n vroom voorkoms te verberg. Hulle het kopkennis van die Here se Woord gehad, maar dit was net ‘n intellektuele oefening – geestelik was hulle steeds dood. Die Here Jesus het hulle as witgepleisterde grafte beskryf wat van buite af wel mooi gelyk het, maar van binne was hulle vol doodsbeendere: “So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid” (Matt. 23:27-28).
Hierdie valse geestelik leiers het die volk geleer om ook net so op te tree en te midde van al hulle godsdienstige aktiwiteite met ‘n lewe van vleeslikheid en sonde voort te gaan. Jesus het vir hulle gesê: “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van my af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Matt. 15:8-9). Dit was die werk van die Fariseërs, want “hulle is blinde leiers van blindes. En as ‘n blinde ‘n ander blinde lei, sal altwee in die sloot val” (Matt. 15:14).
Presies dieselfde situasie bestaan vandag nog in baie kerke waar ongeredde, vormgodsdienstige predikante hul lidmate mislei en aan hulle ‘n valse gerustheid gee dat hulle saak met die Here reg is. Hierdie predikers is dikwels baie populêr omdat hulle mense op ‘n maklike manier salig spreek deur die waarheid te verdraai. Paulus sê: “...daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim. 4:3-4). Hulle sal leuens aan mense verkondig wat die hoorders baie goed sal laat voel. Daar sal bv. aan lidmate gesê word dat as hulle gedoop en aangeneem is, hulle aan die Here behoort en niemand hulle uit sy hand kan ruk nie. Hulle hoef dus nie regtig ‘n getuienis van wedergeboorte te hê nie. Sondaars wat op ‘n maklike manier hemel toe wil gaan, hou van sulke gerusstellende uitsprake.
Wat sal die uiteinde wees van predikante wat hulle lidmate op hierdie manier in “Christelike” kerke mislei? Die Here Jesus het gesê: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer [gepreek] en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matt. 7:21-23).
Wanneer hulle eendag hierdie woorde voor die Here se troon hoor, sal dit vir die valse leraars té laat wees om hulle dwaasheid reg te stel, en die kennis van die waarheid te aanvaar en aan hulle misleide volgelinge te verkondig.
Baie Christene tree dwaas op deur te versuim om na die tweede genadewerk van vervulling met die Heilige Gees te soek. Die gevolg hiervan is dat hulle steeds deur die vlees (hulle ou natuur) oorheers word en dus nie Geesvervulde of Geesbeheerde lewens lei nie. Paulus sê vir die vleeslike Korinthiërs: “En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?” (1 Kor. 3:1-3).
Hierdie mense het nodig om ‘n volle oorgawe te doen sodat hulle met God se Gees vervul kan word. Sommige Christene het wél tot hierdie stap oorgegaan, maar val dan later weer in ‘n lewe van vleeslikheid terug. Die heel eerste geestelike bate wat ‘n teruggevalle Christen verloor, is sy heiligmaking. Deurdat hy aan die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede toegee, gaan hy willens en wetens onder die beheer van die Heilige Gees uit en begin om weer onder die mag en invloed van die vlees te lewe. Die Galásiërs het ná ‘n goeie begin leerstellig veragter en in die mag van die vlees geëindig: “O, onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie? … Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?” (Gal. 3:1,3).
Wanneer ‘n mens in hierdie toestand verval het, beland jy in ‘n geestelike skaakmatposisie. Jy kan nie meer jou goeie voornemens uitvoer nie, omdat die vlees weer ‘n vastrapplek en ‘n groot mate van beheer in jou lewe gekry het en ‘n ernstige struikelblok in jou geestelike lewe is: “Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17).
Sulke vleeslike Christene het ook nie die krag van die Heilige Gees wat nodig is om geestelik weerbaar te kan wees nie. Paulus sê: “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Ef. 6:10-11). Vleeslike Christene is nie kragtig in die Here nie en kan dus nie doeltreffend teen versoekings weerstand bied nie.
Die dwase maagde van Mattheus 25:1-13 het godsdiens sonder die vervulling met die Heilige Gees probeer bedryf. In hierdie gelykenis dui die olie op die Heilige Gees. Hierdie vyf maagde het egter nie ekstra olie in kanne met hulle saamgeneem nie, met die gevolg dat hulle lampies om middernag uitgegaan het. Christene wat nalaat om met die Heilige Gees vervul te word, sal vind dat hulle nie regtig geestelik paraat en gereed vir die wederkoms kan wees nie. Daar kort iets in hulle lewe, en dit is die heiligmaking waarsonder niemand die Here Jesus as Bruidegom sal sien nie (Heb. 12:14; 2 Kor. 7:1). Hoe dwaas is dit nie om na te laat om in hierdie belangrike behoefte te voorsien nie!
Baie Christene het die Here net ter wille van aardse seëninge lief. Dit is die dwaasheid van kortsigtigheid. Paulus sê: “As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense” (1 Kor. 15:19). As ons prioriteite en toekomsverwagting reg is, sal ons verby ons aardse belange kyk en skatte in die hemel bymekaarmaak. Dit kan gedoen word deur werke te doen wat ewigheidswaarde het. Ons moet die Here nie net ter wille van die vervulling van ons verganklike, aardse behoeftes dien nie, maar aktief by die uitbreiding van sy ewige, hemelse koninkryk betrokke raak.
Indien ons net tydelike belange najaag, sal ons soos die nege melaatses wees wat van Jesus af weggedraai het nadat hulle genesing verkry het (Luk. 17:11-18). Die Here Jesus het baie populêre volgelinge gehad toe Hy wonderwerke gedoen het, maar toe Hy die eise van ware dissipelskap verduidelik het, naamlik selfverloëning en volle identifisering met Hom, het daar min volgelinge oorgebly (Luk. 9:23; Joh. 6:47-71).
Het jy die Here Jesus in onverganklikheid, ter wille van Hom en sy koninkryk lief, of is jy dalk net op die vervulling van jou onmiddellike behoeftes ingestel? Ons tree dwaas op as ons nie ‘n vergesig het van die stad wat fondamente het nie, waarvan God die boumeester en oprigter is. Ons ewige belange is daar en dit is waar ons grootste beleggings moet wees.
Dit is onbegryplike dwaasheid wanneer ‘n Christen van die pad van die Here af afdwaal en in ‘n lewe van sonde en wêreldgesindheid terugval. Hierdie terugwaartse beweging lei eers na veragtering in die genade (Heb. 12:15), maar indien dit voortduur, kan dit na ‘n situasie van totale geloofsverval lei (1 Tim. 4:1). ‘n Goeie voorbeeld van dwaasheid van hierdie aard is dié van die verlore seun (Luk. 15:11-32). Gedurende die seun se afdwalinge was hy geestelik dood en verlore (Luk. 15:32), maar nadat hy hom bekeer het en met sy vader versoen is, is hy weer volkome herstel soos aan die begin.
Die stelling: “... hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword” (Luk. 15:24), beteken letterlik: “My seun het aanvanklik geleef, daarna het hy geestelik gesterf, maar nou leef hy weer.” Die uitdrukking “leef weer” (anazao in Grieks) word deur die Strong’s Konkordansie vertaal: “to recover life; live again; revive.” Dit is dus moontlik om na ‘n toestand van geestelike doodsheid terug te val, en weer daaruit herstel te word. Dit is slegs mense wat in ‘n berekende daad teen Christus rebelleer en Hom belaster deur die bloed van die kruis onrein te ag en die Gees van genade te smaad, wat nie weer geestelik herstel kan word nie (vgl. Heb. 6:4-6; 10:26-29). Die meeste teruggevallenes gaan egter nie tot hierdie uiterstes nie en word slegs die slagoffers van morele verleiding of leerstellige misleiding.
Daar is baie verskillende vorms van geestelike verval waarna die Bybel verwys:
· Persone wat verval, bly nie in Christus nie en dit beteken noodwendig die einde van hulle geestelike lewe. Die Here Jesus sê: “Bly in My, soos Ek in julle... Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug... As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand” (Joh. 15:4-6). Waarom bly sommige mense nie in Christus nie? Hulle word verlei om sonde te doen, en as hulle aanhoudend daardeur oorkom word, vernietig dit mettertyd hulle geloof: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (Heb. 3:12-13). Dit is die pad van geestelike verval wat die verlore seun, asook duisende ander mense oral in die wêreld, geloop het. Paulus se voormalige vriend, Demas, het ook die wêreld met sy verdorwe praktyke liefgekry en as gevolg daarvan die pad van die Here verlaat (2 Tim. 4:10). Ons kan nie wêreldgesind leef én tersefdertyd die Here Jesus volg nie – ons móét ‘n keuse maak (Jak. 4:4; 1 Joh. 2:15-17). Christene wat in sonde leef, tree uiters dwaas op en kry mettertyd bose en ongelowige harte.
· Geestelike misleiding is ook ‘n baie algemene pad van verval. Misleiers word onder die aanstigting van Satan gebruik om valse leerstellings te verkondig. Paulus sê: “Ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Kor. 11:3-4). ‘n Ander Jesus is die gevolg van growwe wanvoorstellings van die ware Jesus, waarin kardinale aspekte soos sy maagdelike geboorte, godheid, en die betekenis van sy kruisdood verloën word, asook sy opstanding uit die dood en sy hemelvaart. So ‘n ander Jesus is nie “die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus” (Tit. 2:13) nie, omdat hy afgeskaal is tot op die vlak van ‘n gewone mens wat niemand se siel kan red nie. ‘n Ander gees is nie die Heilige Gees wat mense van sonde oortuig en wederbaar nie, maar ‘n verleidende gees van Satan. Hy bring ongeredde mense onder die valse indruk dat hulle saak met God reg is. ‘n Ander evangelie kom altyd neer op die verloëning van die kruisevangelie. In vals evangelies word die algenoegsaamheid van Christus se genade tot verlossing, redding en heiligmaking ontken. Die Bybelse verlossingsleer word op verskillende maniere vervang, bv. deur wetsnakoming, kerklike rituele soos die doop, asook vreemde fisiese manifestasies. ‘n Ander manier waardeur die Here se Woord soms verander en verdraai word, is in nuwe Bybelvertalings wat swak gedoen is en misleidende stellings bevat. Die oordele van die Here rus op dwase wat hulleself hieraan skuldig maak (Op. 22:18-19).
· Sedert die vroeë Christelike kerk was daar altyd groepe mense en gemeentes wat Ou Testamentiese wetsnakoming saam met Christus se genade verkondig het. Nou, in die eindtyd, leef hierdie dwase optrede weer baie sterk op. Dit is ‘n valse evangelie omdat dit afbreuk doen aan redding deur genade op grond van Jesus Christus se soendood aan die kruis. Paulus het die Galásiërs as onverstandig en dwaas beskryf omdat hulle dit doen (Gal. 3:1-3). Hy het selfs gesê dat predikers wat die evangelie verander deur dit met wetsnakoming te vermeng, ‘n vervloeking genoem moet word (Gal. 1:6-8). Hy het gelowiges in die gemeente duidelik laat verstaan dat hulle van die genade sou verval indien hulle die algenoegsaamheid van die kruisevangelie sou verloën deur dit aan wetsnakoming onderworpe te maak: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 5:4).
· Geloofsversaking is die gevolg van geestelike verval – ongeag of die verval weens immorele optrede of weens geestelike dwalings plaasvind. Wanneer ‘n persoon sy verhouding met die Here Jesus verbreek, vernietig hy sy geloof. Dit is gewoonlik die einde van ‘n proses waarin sy geloof eers verswak raak en begin wankel, en dan later heeltemal verdwyn. Dit is ‘n algemene kenmerk van die eindtyd. Eers verkoel mense net in hulle liefde teenoor die Here Jesus weens al die ongeregtigheid in die wêreld (Matt. 24:12). Indien hulle dwaas genoeg is om verder op hierdie pad voort te gaan, verval hulle heeltemal van die geloof en word navolgers van die duiwel: “Die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1). ‘n Mens moet eers ‘n gelowige wees voordat jy van die geloof afvallig kan raak. Dit is ‘n doelbewuste daad waarin ‘n persoon ‘n dwaas word omdat hy die ware geloof van homself af wegstoot. Paulus sê: “Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely” (1 Tim. 1:19). Daar is baie van hierdie geestelike skipbreukelinge in die moderne wêreld (vgl. 2 Tim. 3:1-5; 2 Thess. 2:3).
· ‘n Gebrek aan volharding op die Here se pad lei tot die geestelike ondergang van baie mense. “Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb. 3:14). Die duiwel gaan allerlei pogings aanwend om ons van die pad van die Here af te kry, maar ons moet dit volhardend weerstaan. “... as julle ten minste gegrond en vas bly in die geloof en julle nie laat afbring van die hoop van die evangelie nie” (Kol. 1:23). Dit verg voortgesette toewyding van ons kant af: “Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou” (Heb. 10:23). Slegs indien ons in Christus bly, aan Hom vashou en Hom navolg, kan ons op die belofte aanspraak maak dat niemand (geen eksterne mag) ons uit die Here se hand kan ruk nie. “Elkeen wat ‘n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hý het die Vader sowel as die Seun” (2 Joh. 1:9). Diegene wat nie in Christus bly nie, loop gevaar om die lig van die Heilige Gees heeltemal in hulle lewe uit te blus (1 Thess. 5:19). Die Here Jesus sê aan ‘n teruggevalle gemeente: “Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Op. 2:4-5). Teruggevallenes moet hulle van hul dwaalweë bekeer en na die Here toe terugkom. Indien hulle dit nie doen nie, sal die duisternis hulle mettertyd totaal oorval. Dwaasheid staan oor hulle koppe geskryf as hulle nie op hierdie pad van selfvernietiging omdraai nie.
“Die vrees van die Here is die beginsel van die wysheid; almal wat dit beoefen, het ‘n goeie verstand. Sy lof bestaan tot in ewigheid” (Ps. 111:10; vgl. Spr. 1:7; 9:10).
Alle mense tree dwaas op indien hulle in onkunde oor die Here en sy Woord voortleef, want dit is die ideale teelaarde vir misleiding en afvalligheid. Dit was Israel se groot probleem in Ou Testamentiese tye: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis” (Hos. 4:6). Ons moet die dwaasheid van onkunde vermy. Die Here Jesus het gesê: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8:31-32). Paulus maan ons ook tot die regte optrede in die lig van God se Woord: “Wees nugter op die regte manier en sondig nie, want sommige het geen kennis van God nie. Ek sê dit tot julle beskaming” (1 Kor. 15:34). Verkeer ons nie dalk ook in gevaar om geestelik ten gronde te gaan weens ‘n gebrek aan kennis nie? Sonder genoegsame kennis van God se geregtigheid werk mense hulle eie geregtigheid uit wat ver te kort skiet aan God se standaard.
Die Efésiërs word toegebid “dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, verligte oë van julle verstand” (Ef. 1:17-18). As ons God en sy Woord ken, dan funksioneer ons verstand ook reg om dinge in die lig van God se Woord te kan verstaan en te beoordeel. Toenemende kennis sal ook tot toenemende godsvrug in ons lewe lei. Die Kolossense word toegebid: “dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat julle waardig voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei” (Kol. 1:9-10). Groei jy daagliks in die kennis van God, in wie alle skatte van wysheid en kennis verborge is? (Kol. 2:3). Mense sonder hierdie goddelike kennis is geestelike dwase.
Petrus sluit sy brief af met dieselfde oproep tot vermeerderde kennis, asook ’n ernstige waarskuwing aan gelowiges oor misleiding weens onkunde: “... [wees] op jul hoede dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit julle eie vastigheid nie. Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 3:17-18). Dit is ‘n opdrag waaraan ons almal uitvoering moet gee. Dit gaan iets van ons verg, want ‘n toename in kennis gaan met gedissiplineerde en volgehoue Bybelstudie gepaard, asook met ‘n toename in heiligheid en toewyding aan die Here. Dit is die uitdaging waarvoor elke Christen te staan kom.
Akademiese kennis alleen is nie genoeg nie, want ons moet in kennis én genade toeneem. Daar moet nie net ‘n verbreding van ons verstandelike kennis van die Here en sy Woord wees nie, maar ook ‘n verdieping van ons geestelike ervaring deur die werking van die Heilige Gees. Hy is die Gees van die waarheid wat ons in die hele waarheid sal lei (Joh. 16:13) en ook sal herinner aan alles wat die Here Jesus gesê het (Joh. 14:26). Ons moet deur hertoewyding aan Christus en ‘n dieper persoonlike aanvaarding van die Here en sy Woord, seker maak dat ons ook geestelik verryk word deur ‘n toename in kennis, want kennis alleen maak opgeblase (1 Kor. 8:1).
Dit was die hoofdoel van Paulus om ‘n beter kennis van die Here Jesus op te doen, want daardeur kon hy tot ‘n groter mate ‘n deelgenoot aan die dood en opstandingslewe van Jesus word. Paulus het besef dat hy ‘n prys moes betaal om hierdie kennis en dieper geestelike ervaring te kon verkry – hy moes vir die begeerlikhede van die wêreld sterf: “Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het… om Christus as wins te verkry… sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word” (Fil. 3:8-10).
Dit moet die groot dryfkrag in ‘n Christen se lewe wees: “…totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering” (Ef. 4:13-14). Die kennis van God bring wysheid en sal ons teen al die slaggate en ewige gevare van dwaasheid beskerm.