Jerusalem se Eindtydse Herstel

Prof. Johan Malan, Middelburg, RSA (Augustus 2007)

Daar is ‘n moontlikheid dat die tydperk van Jerusalem se herstel ná die Babiloniese ballingskap profeties ook op die huidige herstel van die stad ná Israel se internasionale ballingskap toegepas kan word. In sy profesie oor Israel se toekoms ná die Babiloniese ballingskap gebruik Daniël jaarweke waarin elke week uit sewe profetiese jare van 360 dae elk bestaan (elke maand het 30 dae). Die sewentigste jaarweek is in twee helftes van 42 maande elk verdeel, wat periodes van 1260 dae elk verteenwoordig (Op 11:2-3; 12:6; 13:5). Dit beteken dat elke maand 30 dae lank is. Profetiese jare sny dus oor seisoens- en maanjare en bied ‘n vaste raamwerk vir die vervulling van profesieë wat daarmee in verband staan, ongeag watter tipe jaartelling gevolg word.

Daniël sê oor die herstel van Jerusalem: “Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors [die Messias] is sewe sewetalle; en 62 sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word” (Dan. 9:25). Gedurende die eerste sewe sewetalle (49 profetiese jare) is die stad weer opgebou en daarna is dit in tye van benoudheid verder uitgebrei en bewoon, totdat die Messias gekruisig is. Die aanvanklike herstel en herbouing van die byna verwoeste stad en tempel het 7 jaarweke lank geduur.

Indien die eindtydse herstel van Jerusalem en die herbouing van die tempel ook 7 jaarweke lank sal duur, sal daar ‘n interessante korrelasie tussen die twee tydperke van herstel en heropbouing wees. In hierdie verband moet ons in ag neem dat Israel tydens hulle staatkundige herstel in Mei 1948 nie beheer oor die ou deel van Jerusalem (dit is Bybelse Jerusalem op die berg Sion, wat die Stad van Dawid is) gehad het nie. Hierdie deel van die stad was toe nog onder Jordaniese beheer. In die Sesdaagse Oorlog, van 5 tot 10 Junie 1967, het Israel egter die ou stad herower en het dit deel van die herstelde Israel geword.

Ná 10 Junie 1967 het Jerusalem onder Joodse beheer vinnig uitgebrei en die Joodse bevolking daarvan het aansienlik toegeneem. In Augustus 1980 is die stad tot die ewige en onverdeelde hoofstad van Israel verklaar en het die eerste minister, Menachem Begin, sy kantoor van Tel Aviv af na Jerusalem verskuif. Die tempelberg in die stad is egter ná die 1967-oorlog aan die beheer van ‘n Moslem komitee oorgegee omdat twee van hulle beroemde moskees (Al Aksa en die Rotskoepel) hier staan. Intussen is nog ‘n moskee bygebou.

In die komende verdrukking (Daniël se sewentigste jaarweek) sal die Joodse tempel egter hier herbou word en die offerdiens ingestel word (Dan. 9:27). In die middel van hierdie week sal die valse messias (die Antichris) homself in die herboude tempel tot God verklaar (2 Thess. 2:4) en dan die Jode vervolg wat hom nie in hierdie hoedanigheid wil aanvaar nie. Aan die einde van hierdie jaarweek sal die Antichris die stad én die land Israel beleër omdat hy sal weet dat die Jode se ware Koning, Jesus Christus, sal kom om sy vyande te verdelg, die oorblyfsel van Israel te red en die troon van Dawid in Jerusalem te herstel (Sag. 14:2,4-5,12-13; Op. 19:19; Hand. 15:16-17; Jes. 2:1-3).

Eers dan, wanneer die ware Messias in Israel terug is, sal Jerusalem se herstel in alle opsigte ‘n voldonge feit wees. Daarna sal dit nog aansienlike uitbreidings ondergaan en met groot heerlikheid beklee word. Hiervoor moet ons bid: “O julle wat die Here herinner aan sy beloftes, moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde” (Jes. 62:6-7; vgl. Jes. 60:11-14).

Op die oomblik is ons in ‘n gevorderde fase van Israel en Jerusalem se herstel, waarin hierdie volk, hulle land en hulle hoofstad gedurig deur hulle vyande aangeval word. By verre die grootste aanslag sal gedurende die tweede helfte van Daniël se sewentigste jaarweek plaasvind, wat die groot verdrukking onder die bewind van die valse messias sal wees. Gedurende die eerste helfte van dié jaarweek sal Israel die valse messias as Messias aanvaar (Joh. 5:43) en ook by hom die reg verkry om die tempel in Jerusalem te herbou.

Jerusalem is hierdie jaar (2007) vir 40 jaar lank weer in Joodse hande. Die groot vraag is: wanneer gaan die daardie dramatiese en baie donker jaarweek van die Antichris se regering aanbreek? Wanneer dit eers begin het, sal selfs die Antichris volgens Bybelse profesieë weet dat die ware Koning van Israel aan die einde van die jaarweek sal kom.

Die moontlike scenario dat die eindtydse herstel van Jerusalem tot en met die koms van die Messias ook oor sewe jaarweke sal strek, plaas nie net vir Israel nie, maar ook die hele Christendom, in ‘n terminale en en baie belangrike situasie. Die kerkbedeling gaan deur middel van die wegraping afgesluit word, waarna die Here Israel geestelik as ‘n volk sal begin herstel. Dit is nou, soos nooit tevore nie, ‘n tyd om seker te maak dat ons waak en bid sodat ons waardig kan wees om die oordele van die Here wat beslis in die verdrukking kom, te kan ontvlug en voor die Seun van die mens te staan (Luk. 21:36). Israel sal ook hulle harte moet ondersoek, want as hulle aanhou om die ware Messias te verwerp, sal hulle beslis aan die diktatuur van die valse messias uitgelewer word (Joh. 5:43). Hieruit sal ‘n oorblyfsel gered word, nadat miljoene van hulle in die verdrukking gesterf het (Jer. 30:7; Sag. 12:10; 13:8-9; Matt. 24:15-22; Rom. 11:26).

Sewe jaarweke sedert 10 Junie 1967 toe Jerusalem herower is, sal op 26 September 2015 verstreke wees. Israel het ‘n geruime tyd gelede weer hulle Bybelse tydsberekening van jaarweke ingestel: dit bestaan uit ses werksjare gevolg deur ‘n sabbatsjaar (Lev. 25:3-4). Hulle volg egter maanjare wat korter as profetiese én seisoensjare is. Ten einde met die seisoene tred te hou, het hulle dikwels skrikkeljare met ‘n dertiende maand. Hulle volgende jaarweek sal met die Rosh Hashanah in September 2008 begin en in September 2015 ten einde loop. Dan sal daar terselfdertyd sewe profetiese jaarweke sedert Jerusalem se herowering in Junie 1967 verstreke wees.

Die jaarweek van Sept. 2008 tot Sept. 2015 is ook uit die oogpunt van die laaste geslag baie belangrik (Luk. 21:32). ‘n Laaste geslag van 70 jaar (Ps. 90:10) het met die geboorte van die moderne Joodse staat in Mei 1948 begin, en sal in Mei 2018 ten einde loop. Die laaste volle jaarweek wat in hierdie geslag geakkommodeer kan word, is die een wat van Sept. 2008 tot Sept. 2015 strek. Uit hierdie oogpunt beskou, is tyd vinnig besig om vir ons uit te loop.

Dit sal binnekort duidelik word of die Antichris se sewe jaar lange verbond met Israel en die nasies (Dan. 9:27) wél met Israel se huidige jaarweeksiklus sal saamval. Wat ons in hierdie stadium goed moet begryp, is dat die geroep vir die ware gelowiges enige oomblik kan weerklink: “Daar kom die Bruidegom, gaan uit Hom tegemoet!” (Matt. 25:6). Dan sal dit té laat vir die dwase maagde (die vormgodsdienstiges en die vleeslikes) wees om vir sy koms gereed te maak. Hulle sal deur hulle eie toedoen die donker nag van die verdrukking onder die bewind van die Antichris in die gesig staar, wanneer hulle wél nog te midde van groot onheile gered en geheilig kan word. Die Here wil ons hierdie vervolging en oordele spaar (Luk. 21:36).