Heiligmaking: Wat Verwag die Here van Ons?

Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Augustus 2010)

Die Bybel stel dit onomwonde dat ons volkome heilig moet wees met die oog op die wederkoms van Jesus Christus. Dit vereis ‘n verdere genadewerk van heiligmaking in ons lewe. Paulus sê ons harte moet “versterk word om onberispelik te wees in heiligheid voor onse God en Vader by die wederkoms van onse Here Jesus Christus met al sy heiliges” (1 Thess. 3:13). Op die dag wanneer die Here Jesus uit die hemel neerdaal om ons te kom haal, sal Hy al die ontslape heiliges saam met Hom bring. Dan moet ons geestelik waardig wees en nie beskaamd staan weens ons vleeslikheid nie.

Kom ons kyk na die groot verskil wat heiligmaking in ‘n Christen se lewe kan maak, en stel ook vas hoe ver ons op hierdie pad gevorder het.

1. ‘n Rein hart

Dit is die wil van die Here dat sy kinders nie net gered sal wees nie, maar ook rein harte sal hê waaruit rein gedagtes en begeertes voortkom. Nadat ons die seën van hartsreiniging ervaar het, moet ons elke dag ons harte van besoedeling deur sonde en vleeslike begeerlikhede bewaar omdat dié dinge aanhoudend teen ons siele stryd voer. “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe” (Spr. 4:23). As ons nalatig is, kan ons rein hart deur sonde besoedel raak.

Ons ken die voorbeeld van koning Dawid wat homself in ‘n stadium volkome in die Here verlustig het, maar daarna die slagoffer van verleiding geword het. Hy het sy buurman se vrou begeer en gruwelike sondes gepleeg om haar in die hande te kry. Hy het in ‘n kort rukkie se tyd geestelik ver teruggeval. Diepe berou het oor hom gekom nadat die profeet van die Here hom oor sy sonde aangespreek het, en hy het dit met trane bely. Dawid het besef dat hy in ‘n toestand van rebellie teen God en sy Woord verkeer. Hy het ook geweet dat die Here die Heilige Gees weggeneem het van sy voorganger, Saul, omdat hy die Here se opdragte geminag en doelbewus in sonde begin leef het.

Dawid het ernstig gebid: “Delg uit al my ongeregtighede. Skep vir my ‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees. Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur ‘n gewillige gees” (Ps. 51:11-14). Hy het besef dat sy hart onrein en besoedeld geraak het. Dawid is geestelik volkome herstel en hy het weer uit ‘n rein hart die lof van die Here verkondig. Hy het daarna nougeset teen versoekings gewaak (Ps. 19:13-15).

Het jy al die gebed vir hartsreiniging gebid – vir die eerste keer of by hernuwing? Baie Christene se harte word deur sondige begeertes gekenmerk – nie net vir ander vrouens nie, maar ook vir rykdom, aansien en plesier. Hierdie gedagtes raak deur die mag van die gewoonte só gevestig dat dit jou denke, prioriteite en optrede mettertyd heeltemal oorheers. Dit blokkeer jou geestelike lewe omdat liefde vir die wêreld en liefde vir God nie saam kan bestaan nie (1 Joh. 2:15). God kan net met ‘n onverdeelde hart gedien word.

‘n Hart wat gereinig is deur die bloed van die Lam en vervul is met die Heilige Gees, gee aan jou totaal ander waardes in die lewe. Dit help jou om gedagtes te bedink wat bo in die hemel is, waar Christus vir ons intree. So alleen kan ons oorwinning oor aardse, materialistiese gedagtes kry. Die toestand van jou hart word aan jou geopenbaar deur dit wat jy elke dag bedink, veral wanneer jy ontspan en aan jou gedagtes vrye teuels gee. As jou diepste begeertes eerbaar en in die belang van die Here se koninkryk is, sal jy dit ‘n saak van gebed maak. Paulus sê: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus. Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit” (Fil. 4:6-8).

Laat die oordenking van jou hart altyd vir die Here welgevallig wees. Dit kan net gebeur as jy die Woord van die Here in jou hart bêre en dag en nag die diep betekenis daarvan bepeins. Die psalmis sê: “Ek het u woord in my hart gebêre dat ek teen U nie sal sondig nie... leer my die weg van u insettinge, sodat ek dit tot die einde toe kan bewaar... Neig my hart tot u getuienisse en nie tot winsbejag nie. Wend my oë af, dat ek geen nietigheid sien nie” (Ps. 119:11,33,36-37). Die Here Jesus het in sy Bergpredikasie gesê: “Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien” (Matt. 5:8). Hulle sal in die lig van sy aangesig wandel. Paulus sê vir ‘n jong evangelis: “Vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met dié wat die Here uit ‘n rein hart aanroep” (2 Tim. 2:22).

‘n Rein hart onder die beheer van God se Gees is die geheim vir ‘n skoon en godvrugtige lewe. Benewens die heiligmaking wat die Here vir ons doen, het ons ook ‘n verpligting om aktief in die praktiese realisering van ons heiligmaking saam te werk. Ons moet wegvlug van die sonde en ons vir die dinge van die Here beywer. “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor. 7:1).

2. ‘n Geesbeheerde lewe

Die Here roep ons nie net tot bekering op nie, maar ook tot heiligmaking: “Dit is die wil van God, julle heiligmaking... hy wat dit verwerp, verwerp nie ‘n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het” (1 Thess. 4:3,8). ‘n Lewe onder die beheer van God se Gees is die enigste manier waarop ons die struikelblok van ons ou, vleeslike natuur kan oorkom: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie; want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:16-17). Dit is ‘n geestelike skaakmatposisie.

Hoe kan hierdie struikelblok uit die weg geruim word? Deur die kruis van Christus. Hy het nie net gesterf om die straf vir ons sonde te betaal nie, maar het dit ook vir ons moontlik gemaak om die ou lewe af te sterf en saam met Hom in ‘n nuwe lewe opgewek te word. Paulus sê: “Ek is met Christus gekruisig, en ék [dit is die ou Paulus] leef nie meer nie, maar Christus leef in my” (Gal. 2:20). Hy is vir die wêreld gekruisig en die wêreld vir hom (Gal. 6:14).

Ons doen hierdie stap van volkome identifikasie met Christus se kruis, in ‘n volle oorgawe. Bely en laat staan alle sondes waarvan die Heilige Gees jou oortuig, en gee jou ou natuur oor om gekruisig te word. Daarna moet jy bid dat die Heilige Gees jou sal vervul en met die natuur van Christus beklee. Hy sal sy vernuwende werk in jou doen en die beeld van Christus in jou gestalte laat aanneem. Dit is ook wat Paulus aan die Efésiërs gesê het, naamlik “dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Ef. 4:22-24).

Wat gebeur as ‘n Christen nie oorgaan tot hierdie stap in die geloof nie? Dan bly hy ‘n vleeslike Christen wat ‘n lewe van val en opstaan lei. Paulus het vir gelowiges wat geestelik gestagneer en nie deur die Gees gewandel het nie, gesê: “Ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus” (1 Kor. 3:1). Hulle was vol twis, jaloersheid en tweedrag en het gevolglik nie die vrug van die Gees in hulle lewens vertoon nie.

Wanneer sulke mense agterkom dat daar iets in hulle lewe kortkom, dan wend hulle hul dikwels tot tegnieke soos duiweluitdrywing, die verbreking van bloedlynvloeke of innerlike genesing, ten einde vermeende blokkasies wat in die weg van geestelike groei staan, te probeer verwyder. Hierdeur begaan hulle ‘n baie groot oordeelsfout, want hulle verwerp implisiet die algenoegsaamheid van Christus se verlossingswerk op grond van sy versoening aan die kruis. Kinders van die Here kan nie duiwelbesete wees nie, en hulle boet ook nie vir die sondes van vorige geslagte nie.

Wat ‘n jong Christen wél nodig het, is die kruisiging van die vlees en vervulling deur die Heilige Gees. Dit is die ervaring van heiligmaking wat ná regverdigmaking volg. As hy homself verloën en sy kruis daagliks opneem, sal die Here hom deur sy Gees met ‘n hemelse lewe beklee, wat die oorheersende lewensbeginsel in hom sal word. Dit beteken nie dat hy nooit foute sal maak of sal sondig nie, maar hy sal dadelik deur belydenis teenoor die Here Jesus daarvan afstand doen en die sonde sal oor hom nie heers nie.

3. Die hervorming van ons hele lewe

Die Here se roeping tot heiligmaking sluit elke aspek van ons lewe in: “Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig word” (1 Pet. 1:15). Paulus brei nog verder op die volle omvang van heiligmaking uit, sodat daar geen twyfel daaroor kan wees nie: “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus! Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen” (1 Thess. 5:23-24). Hy kan en wil ‘n volkome werk vir ons doen.

Die terreine van ons lewe wat geheilig moet word, sluit ons gees, siel én liggaam in, m.a.w. ons hele bestaan as mense. Die geestelike lewe van ‘n Christen word deur geloof, hoop en liefde gekenmerk. Wanneer hy volkome heilig gemaak word, word al drie hierdie eienskappe aansienlik versterk. Ons moet ‘n sterk en onwankelbare geloof hê, daarom moet ons opgebou word in ons allerheiligste geloof (Judas 1:20), anders is ons kleingelowiges wat soos die golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering (Ef. 4:14). Ons moet ‘n vaste hoop en vertroue in die Here Jesus hê – nie net vir sy wederkoms nie, maar ook vir sy daaglikse voorsiening in ons lewens. “Hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus” (1 Pet. 1:13). Ons liefde moet ook volmaak word, want die Heilige Gees stort dit vryelik in ons harte uit (Rom. 5:5). Ons moet daarin gewortel en gegrond wees, sodat dit ons optrede in elke opsig kan bepaal.

Die siel van die mens sluit sy wil, denke en emosies in. Deur heiligmaking word ons in staat gestel om ons wil volkome ondergeskik te stel aan die Here se wil en dit doelgerig na te streef. Paulus sê vir die Kolossense dat hulle volmaak en volkome moet staan in die ganse wil van God (Kol. 4:12). Die Here wil ons denke heilig sodat ons die sin van Christus kan hê (1 Kor. 2:16). Die Heilige Gees help ons hiertoe want Hy gee ons verligte oë van die verstand, sodat ons ons geestelike erfdeel ten volle kan verstaan (Ef. 1:18). Ons emosies kom ook onder die beheer van die Heilige Gees, daarom ervaar ons die blydskap van die Here in ons lewe, en verkry die geestelike krag en selfbeheersing om negatiewe, vleeslike emosies te kan weerstaan. Ons hele temperament moet dié van ‘n ware Christen wees.

Die liggaam van die mens is eweneens ‘n belangrike terrein vir heiligmaking. Paulus sê: “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie” (Rom. 12:1-2). Ons moet ons liggame oppas, dit skoon, rein, fiks en gesond hou, en ons lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God stel. Ons moenie aan die wêreld gelykvormig word nie, ook nie in oneerbare vorms van kleredrag, eet- en drinkgewoontes nie. Paulus sê: “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle” (1 Kor. 3:16-17). Daar is mense wat hierdie tempel skend deur ongesonde en oordadige eetgewoontes, die gebruik van dwelms, waaronder ook tabak en drank, die aanbring van tatoeëermerke, ens. Sulke mense is nie toonbeelde van heiligheid nie, maar hulle ondermyn hulle eie lewe en stel ‘n slegte voorbeeld aan ander.

Heiligmaking is nie iets wat ons van buite af op ander mense kan afdwing deur bv. wettiese reëls in te stel nie. Ons moet die Bybelse leer van heiligmaking verkondig, dan sal mense uit innerlike oortuiging anders optree. ‘n Geestelike geneigdheid moet by hulle aangekweek word om in hulle houding, gesindheid en optrede aan die beeld van hulle Verlosser gelykvormig te word.

4. Oorwinning in die stryd

Deur heiligmaking kry ons die krag om teen versoekings en die Bose te kan oorwin, omdat die krag van die Heilige Gees ook in hierdie opsig tot ons beskikking is: “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Ef. 6:10-11).

Christene wat nie met die Heilige Gees vervul is nie, is kragteloos om teen Satan se versoekings en aanslae te kan stry. Hulle beweer soms dat hulle weerloos teen sonde en versoekings is, en dat die Here ons maar bestem het om sondaars te bly totdat ons eendag hemel toe gaan. Dit is ‘n totaal verkeerde persepsie, want ons is geroepe om hier op aarde meer as oorwinnaars in die Naam van Jesus Christus te wees.

“God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Kor. 10:13). Die uitkoms wat ons kry, word deur die Heilige Gees aan ons gegee. Indien ons egter nie met Hom vervul is en deur die Gees wandel nie, maar in plaas daarvan die Heilige Gees bedroef en teëstaan, sal ons nie die krag hê om teen versoekings staande te kan bly nie. Leef jy in die krag en oorwinning van die Heilige Gees?

Die Heilige Gees stel ons ook in staat om alle probleme, beproewings en verdrukking wat oor ons pad mag kom, te kan hanteer, siektes ingesluit. Soms kom hierdie dinge as geloofstoetse oor ons: “Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet” (Jak. 1:12).

Die Heilige Gees stel gelowiges wat ten volle aan Hom oorgegee is, in staat om onder die ergste moontlike omstandighede aan die Here getrou te bly. Wanneer hulle verdruk word ter wille van hulle geloof, word hulle nie met wraakgedagtes vervul nie maar bid vir hulle vervolgers. Sommige Christene word aan swaar toetse onderwerp by hulle werk, deur kinders wat in goddeloosheid verval, deur finansiële terugslae, ongelukke of siektes wat hulle tref. In al hierdie dinge kan hulle egter nog steeds meer as oorwinnaars wees as die krag van die Heilige Gees in hulle lewe werksaam is sonder dat dit deur vleeslike gesindhede beperk word. Soms verlos die Here mense uit hulle siektes en kwellinge, maar in ander gevalle gee hy hulle krag om te berus en aan te hou om hulle kruis te dra. Paulus het ook liggaamlike kwellinge gehad, maar die Here het hom nie genees nie en gesê: “My genade is vir jou genoeg” (2 Kor. 12:9).

Moenie verbitterd raak terwyl jy deur vele verdrukkings in die koninkryk van God ingaan nie, maar volhard blymoedig tot die einde toe. Sommige mense veragter in die genade en raak dan teen omstandighede, teen familielede, teen die samelewing én selfs teen die Here verbitterd (Heb. 12:15). Ons moet volhard in die geloof, selfs al is alles rondom ons donker: “Julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie” (Heb. 12:3).

5. Volmaak in liefde

Heiligmaking verhoog die vlak van God se agape liefde in ons lewe en stel ons in staat om dit daadwerklik in ons gesindhede, verhoudings en werke te openbaar. Is die eienskappe van God se liefde kenmerkend van jou lewe? “Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles” (1 Kor. 13:4-7).

Alle geredde mense het ‘n mate van God se liefde in hulle, maar nie almal is vervul daarmee nie. Liefde is ‘n vrug van die Gees, en ons het die opdrag om met die Gees vervul te word (Ef. 5:18). Wat sal ‘n persoon doen wat met God se liefde vervul is?

·       Hy sal ‘n liefde vir die Woord en vir Bybelstudie hê: “Elkeen wat sy Woord bewaar, in hom het die liefde waarlik volmaak geword” (1 Joh. 2:5).

·       Hy sal behae in sy medebroeders hê, hulle besoek, ondersteun en saam met hulle die Here dien: “As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword” (1 Joh. 4:12).

·       Hy sal na die wederkoms van die Here Jesus uitsien en met vrymoedigheid voor die regterstoel van Christus rekenskap van sy lewe gee: “Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag” (1 Joh. 4:17). Christene kom nie in die eindoordeel voor die groot wit troon nie, maar sal wél voor Christus se regterstoel verskyn waar hulle werke beoordeel sal word. Hy wat met hout, hooi en stoppels gebou het, m.a.w. wat ná sy bekering niks gedoen het wat ewigheidswaarde het nie, sal met leë hande voor die troon staan, gered asof deur vuur heen (1 Kor. 3:11-15). Deur die vervulling met die Heilige Gees en die uitleef van God se liefde het ons vrymoedigheid om voor die hemelse Regter te verskyn, omdat die vrug van die Gees in ons lewens deur die Here se genade loon sal bring. Paulus sê: “...elkeen sal sy eie loon volgens sy arbeid ontvang” (1 Kor. 3:8). Aan suksesvolle dissipels sal gesê word: “Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (Luk. 19:17).

Is jy vervul met die liefde wat God deur sy Gees in ons harte uitstort? As jy nie met die Heilige Gees vervul is nie, sal daar baie min aanduidings van God se liefde in jou lewe wees.

6. Afsondering vir diens

Heiligmaking kan ook vertaal word as “afgesonder vir die diens van die Here”, en dui dus op ‘n verpligting om die Here te dien. Daar is geen ware diens aan die Here moontlik sonder die vooraf vervulling met die Heilige Gees nie. Die Here Jesus het vir sy dissipels gesê dat hulle eers vir hierdie noodsaaklike geestelike toerusting moes wag voordat hulle vir Hom begin werk: “Julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Luk. 24:49). Net voor sy hemelvaart het Hy die belofte van geestelike bekragtiging en heiligmaking herhaal: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees” (Hand. 1:8).

Daar is baie mense wat vir die Here werk sonder dat hulle die getuienis van heiligmaking en vervulling met die Heilige Gees het. Hulle maak op hulle eie intellektuele en vleeslike vermoëns staat om die werk te doen. Paulus was ook ‘n geleerde man, maar hy het daarteen gewaak om die evangelie uit eie krag te probeer verkondig. Hy het vir die gemeente in Korinthe gesê: “My rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag” (1 Kor. 2:4).

Maak seker dat die salwing van die Heilig Gees op jou rus voordat jy die evangelie aan ander verkondig. Menslike argumente sonder die krag en oortuigingswerk van die Heilige Gees sal geen blywende resultate oplewer nie.

7. ‘n Bruilofskleed

Heiligmaking word dikwels met die wederkoms in verband gebring. Die Here Jesus wil ons deur heiligmaking vir hierdie ontmoeting waardig maak: “Christus [het] ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:25-27).

Die Here Jesus het deur sy offer aan die kruis en deur die uitstorting van die Heilige Gees vir hierdie tweede genadewerk van heiligmaking voorsiening gemaak. Dit geskied egter op die vlak van meewerkende geregtigheid, want ons moet medewerkers van God in Christus Jesus wees (1 Kor. 3:9). As ons die hoop op die wederkoms het, dan moet ons onsself reinig soos Hy rein is (1 Joh. 3:3). Dit beteken dat ons onsself deur die krag van die Heilige Gees aan die Here moet toewy en gedissiplineerd werke doen wat by die bekering pas. Hierdie werke voorsien ook aan ons ‘n bruilofskleed. Johannes sê:

“Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:7-8).

Die regverdige dade van die heiliges is die vrug van die Heilige Gees in ‘n ten volle oorgegewe lewe. Dit is die weefstof van jou bruilofskleed. Alle Christene het weens hulle redding die kleed van geregtigheid, wat die onderpand van die geloof is. Nie almal het egter ‘n bruilofskleed nie omdat hulle nie met goud, silwer en kosbare stene op die fondament, Jesus Christus, gebou het nie, maar eerder met hout, hooi en stoppels. Die hoë roeping van God in Christus Jesus is om ‘n lid van die bruidsgemeente van die Here Jesus te wees. Hiervoor is heiligmaking onontbeerlik.

Sal jy sonder vlek of rimpel voor die hemelse Bruidegom verskyn? Vlekke verwys na besoedeling deur sonde in jou lewe waarvan jy nog nie gereinig is nie. ‘n Rimpel in jou bruilofskleed dui op kreukels. Dalk werk jy nie aan hierdie kleed nie, en het dit opgevou en in ‘n kas weggebêre waar dit kreukels sal kry. Ons moet werk aan ons verhouding met die Here Jesus en onsself daagliks toewy tot meer heiligheid en diensbaarheid. ‘n Lewe wat onder die volle beheer van die Heilige Gees is, sal die regverdige dade van die heiliges in ‘n oorvloedige mate voortbring.