Prof. Johan Malan, Middelburg (Julie 2008)
Een van die bekendste Messiaanse Jode van ons tyd, Joel C. Rosenberg (kyk www.joelrosenberg.com) het ‘n boek met die titel Epicenter geskryf. Hierin word die stygende spanning in die Midde-Ooste, as ‘n voorspel tot die groot oorlog van Esegiël 38 en 39, dramaties beskryf. Hierdie blitsverkoper het reeds na ‘n dokumentêre dvd-produksie met dieselfde titel gelei (www.epicenterdvd.com). Epicenter bou voort op temas wat Rosenberg in verhaaltrant ontgin het in sy vorige boeke, The Last Jihad, The Last Days, The Ezekiel Option en The Copper Scroll.
Die woord episentrum (Grieks: epi-kentros) beteken in of op ‘n middelpunt. Dit kan bv. die middelpunt of uitgangspunt van ‘n aardbewing wees, vanwaar dit verder versprei. Joel Rosenberg gebruik hierdie begrip om aan te toon dat Israel die middelpunt van die aarde is, dat Jerusalem die middelpunt van Israel is, en dat die Tempelberg die middelpunt van Jerusalem is.
Rondom hierdie middelpunt of episentrum van die wêreld is groot spanning besig om op te bou. Aan die een kant van die stryd is daar Israel en die Christendom, en aan die ander kant die Moslems en hulle bondgenote. Vir al hierdie gelowe is Jerusalem ‘n heilige plek:
Vir die Jode is Israel ‘n Godgegewe land (Gen. 13:14-15), met Jerusalem as die 3000 jaar oue hoofstad daarvan. Die Here het hierdie stad verkies om sy Naam vir altyd daar te vestig (1 Kon. 9:3 en 11:36). Salomo het die eerste tempel op die Tempelberg gebou. Dit is deur Nebukadnésar verwoes en weer ná die Babiloniese ballingskap herbou, maar het later vervalle geraak. Herodes het die tweede tempel hier gebou, maar dit is in 70 ná Christus deur die Romeine verwoes. Tans beplan ortodokse Jode om die derde tempel hier in die episentrum te bou – dit mag nie op enige ander plek gebou word nie (2 Kron. 3:1; Esra 6:7).
Die Christene beskou Jerusalem as ‘n heilige plek en die oorsprong van hulle geloof omdat Jesus hier vir ons sonde gely het, gekruisig is en uit die dood opgestaan het. Die Heilige Gees is hier uitgestort en dit het die formele begin van die Christelike geloof in Jerusalem tot gevolg gehad. Die Here Jesus het van Jerusalem af na die hemel opgevaar en kom met sy wederkoms weer na hierdie stad toe terug (Hand. 1:8-12; Sag. 14:4-5).
Vir die Moslems is Jerusalem die derde heiligste plek ná Mekka en Medina. Twee van hulle beroemde moskees staan op die Tempelberg, nl. die Rotskoepel en die Al Aksa-moskee. Hulle is fanaties teen alle Jode en Christene gekant en streef daarna om ‘n Islamitiese wêreldstaat in die Midde-Ooste te vestig, met Jerusalem as hoofstad. Om plek hiervoor te maak, moet Israel volgens radikale Moslems uit hulle land verdryf word. Verder moet Israel se bondgenote (veral Amerika) ook beveg en verdelg word indien hulle nie die knie voor Islam buig en dit as die enigste ware geloof aanvaar nie.
Joel Rosenberg toon besondere insig in die geestelike en ideologiese dimensie van die stryd om die beheer oor die wêreld se episentrum. Die stryd tussen Israel en die noordelike Moslemstate wat deur Rusland gesteun word, gaan om die beheer oor die Tempelberg, Jerusalem sowel as die hele land Israel. Daar word geglo dat die godsdiens wat sy heiligdomme en beheerstrukture in die episentrum van die wêreld kan vestig, die enigste outentieke godsdiens is wat namens God geestelike voorskrifte aan die ganse mensdom kan gee.
Islam is ‘n godsdiens wat militêre geweld as die belangrikste metode beskou om die doel van wêreldoorheersing te bereik. Volgens radikale Islam is dit geregverdig om alle ongelowiges (dit is diegene wat weier om Islam en die Koran te aanvaar) dood te maak. Vir hulle is dit ‘n ‘heilige oorlog’ (jihad) wat teen ander gelowe gevoer moet word. Die president van Iran, asook geestelike leiers in daardie land, sê openlik dat ‘n jihad teen Israel gevoer moet word om dié land en volk te verdelg en van die wêreldkaart af uit te wis. Hulle het ook ‘n jihad teen Amerika verklaar, wat Israel se belangrikste bondgenoot is. Dit is met die oog op die bevordering van hierdie militante oogmerke dat Iran besig is om kernwapens te ontwikkel. Hulle glo dat die Islamitiese mahdi (messias) binnekort sal verskyn om Islam militêr te laat triomfeer sodat hulle onbetwiste wêreldleiers kan wees.
Israel is met geheime militêre planne besig om hierdie groot bedreiging vir sy voortbestaan te weerstaan en uit te skakel, en dit verhoog die gespanne verhoudings in die Midde-Ooste aansienlik. Vir Israel gaan dit om oorlewing teen ‘n bose en moorddadige vyand met verskeie frontorganisasies en terroristegroepe waardeur hulle werk.
Te midde van die militêre spanning berei ortodokse Jode in Israel voor om die derde tempel op die Tempelberg te bou, maar hierdie terrein word deur ‘n Moslemkomitee beheer wat besig is om verdere moskees hier te bou. Hulle weerstaan die idee van ‘n Joodse tempel geheel en al, omdat hulle daarvan bewus is dat Israel hulle Messias se verskyning op die Olyfberg verwag, waarna Hy volgens profetiese beloftes in die Bybel die troon van Dawid in Jerusalem sal herstel en dan die hele wêreld daarvandaan sal regeer.
Christene weet dat die Messias Jesus Christus is, wat nog nie deur Israel as volk aanvaar is nie. Ons het dus ‘n groot belang by dit wat in die toekoms in Jerusalem en op die Tempelberg gaan gebeur. Daar is ‘n toenemende aantal Moslems wat ook besef dat Jesus die Messias is, en duisende bekeer hulle tot die Christelike geloof. Joel Rosenberg bied verbasende inligting hieroor aan. Hy sê selfs in ‘n fundamentele Islamitiese land soos Iran, het die aantal Christene van sowat vyfduisend af na meer as ‘n miljoen toegeneem.
Die stryd duur egter voort, en tot ‘n groot mate is dit op beheer oor die episentrum en sy onmiddellike omgewing toegespits. Israel se ondergang word deur sy vyande gesoek.
‘n Belangrike perspektief wat Joel Rosenberg nie in sy boek en dvd bespreek nie, is die beloftes oor ‘n ten volle geopenbaarde goddelike beheerstelsel wat met die wederkoms van Jesus Christus in die wêreld se episentrum in Israel gevestig gaan word – spesifiek in Jerusalem. In die millennium sal die wêreld hiervandaan regeer word. Sagaria sê die volgende oor hierdie hoogs dramatiese gebeurtenis:
“In dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant... Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U! ... En die Here sal Koning wees oor die hele aarde... En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier” (Sag. 14:4,5,9,16). Gesag sal dan van die aarde se middelpunt af uitgeoefen word waar die Here se troon is, en geestelike verligting sal daarvandaan kom.
In Handelinge 15:16-17 sê die Here: “Daarna sal ek terugkom en die vervalle hut van Dawid [in Jerusalem] weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen.” Ná ‘n lang tyd waarin die episentrum in ‘n verwoeste en vervalle toestand was, sal die Here kom en dit herstel. In daardie tyd sal Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde (Jes. 62:7).
Jeremia sluit hierby aan: “In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17). Die verleier van die nasies, Satan, sal in dié tyd gebind wees, “sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie” (Op. 20:3).
Hierdie nuwe bedeling sal groot seën vir Israel én die nasies meebring: “So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die Here van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die Here om genade te smeek... In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ‘n Joodse man gryp en dit vashou en sê: ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:22-23). Van die heilige land af, in die middelpunt van die aarde, sal seën oor die hele wêreld uitgaan. Jesaja sê dat Israel in daardie tyd sal bloei en uitbot en die hele wêreld vol vrugte maak (Jes. 27:6).
Die groot deurbraak wat hierdie wonderlike nuwe bedeling moontlik sal maak, is die wederkoms van Israel se Messias-Koning, Jesus, wat ook die Verlosser en Koning van die hele wêreld is. Dit is belangrik om te weet dat die bedeling van die wet in die Ou Testament net ‘n skaduagtige voorbereiding vir die koms van die Messias was: “Want die wet, wat ‘n skaduwee het van die toekomstige weldade... kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree tot volmaaktheid lei nie... want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem... Toe het Ek [die Messias] gesê: Kyk, Ek kom... om u wil te doen, o God... Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal” (Heb. 10:1-4,7,10). Al die offers in die tempeldiens was tipologiese heenwysings na die eenmalige, volmaakte offer van die Lam van God wat die sonde van die hele wêreld wegneem (Joh. 1:29).
Dit sou hoogs misleidend wees indien ons Israel se herstel en beheer oor die Tempelberg as ‘n einddoel voorstel en nie as ‘n voorbereidende fase vir die koms van die Messias nie. In daardie geval word Israel met hulle Ou Testamentiese geloof die modelnasie vir alle volke, en die herboude tempel die simbool en hartklop van hulle godsdiensstelsel. Ortodokse Jode wag juis vir ‘n Messias wat die tempel in al sy glorie sal herstel – nie vir ‘n Messias wat al die offers van die tempeldiens vervul en daardeur afgeskaf het nie.
Die werklike stryd gaan beslis nie oor Israel en hulle uitgediende nasionale godsdiens nie, maar oor die Messias van Israel. As ons net vir Israel self in die brandpunt van die eindtydse wêreldkonflik stel, dan moedig ons hulle in werklikheid aan om die tempel te herbou en met die komende valse messias ‘n verbond te sluit, want hy sal die gebruike van die ou verbond aanmoedig. Om Israel in die brandpunt te plaas, gee aan hulle ‘n handige verskoning om met hulle verwerping van die ware Messias voort te gaan en sodoende die weg na ‘n verbond met die valse messias te baan. Jesus het hulle 2000 jaar gelede op die volle implikasies gewys indien hulle Hom sou verwerp – dit sal hulle in die arms van die valse messias laat beland: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43).
Een van die eerste dinge wat die valse messias sal doen, is om Israel die reg te gee om die derde tempel in Jerusalem te bou. Hy sal twee doelstellings hiermee hê. Die eerste een is die versekering van Israel se voortgesette verwerping van die Here Jesus se eenmalige offer aan die kruis, en sy tweede doel sal die geleentheid wees om homself in die herboude tempel tot God te verklaar. Paulus sê die Antichris is “die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word... sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:4). Daniël sê hy sal slagoffer en spysoffer (die offers in die herboude tempel) laat ophou en ‘n gruwelike afgodsbeeld van homself in die tempel laat oprig (Dan. 9:27; 11:31; Matt. 24:15-21). Almal sal gedwing word om die dier se beeld te aanbid (Op. 13:15).
Dit sal die Antichris se groot doel wees om homself hier, in die episentrum, tot God te verklaar – m.a.w. tot die hoogste gesagspersoon in die heelal. Dit sal die uiterste daad van rebellie teen God wees. Die Antichris sal weet dat die ware Christus sal kom om hom en sy miljoene volgelinge vir hulle verraad teen God en sy koninkryk te straf. Daarom sal hy alle nasies met die behulp van demone aanhits om met hulle leërs na Israel op te trek en hulle daar vir die groot eindstryd te ontplooi (Op. 16:13-16). Dit sal op die slag van Armageddon uitloop.
Die Antichris en sy wêreldmagte sal optrek “om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swael brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit” (Op. 19:19-21).
Ná die vernietiging van die Antichris en sy sataniese beheerstelsel oor die wêreld, sal die ware Koning van die heelal sy regeringsetel in die episentrum in Jerusalem vestig. Dit sal die verdere vervulling wees van ’n belofte wat die Here meer as drieduisend jaar gelede gemaak het toe Hy vir Salomo gesê het: “Jerusalem [is] die stad wat Ek vir My verkies het om my Naam daar te vestig” (1 Kon. 11:36).
Daar was net beperkte, onregstreekse openbarings van God in Ou Testamentiese tye. Groot openbarings het met die eerste koms, onderrig, kruisiging, opstanding en hemelvaart van Jesus Christus plaasgevind, en ook tydens die uitstorting van die Heilige Gees. Weens die ongeloof van die Joodse volk, die vervulling en gevolglike onnodigheid vir die voortsetting van die tempeldiens in Jerusalem, asook die hemelvaart van Jesus wat na die fisiese afwesigheid van Israel se Messias-Koning gelei het, het Jerusalem tydelik sy betekenis as geestelike episentrum van Israel en die wêreld verloor. Tydens die kerkbedeling sou mense die Here nie in Jerusalem aanbid nie, maar oral op aarde in gees en in waarheid (Joh. 4:21,23). Christene self, as die liggaam van Christus, is die tempel van God (1 Kor. 3:16). In hierdie tyd het Satan dit vir homself ten doel gestel om die geloof van mense aan te val en te vernietig. Israel was oor die aarde verstrooi en Jerusalem in ‘n vertrapte en vernederde toestand.
Nou, in die eindtyd, word Israel en Jerusalem weer herstel. Die profetiese toneel word vir die wederkoms van Israel se Messias voorberei. Dit is die doel waarom Israel in hulle land terug is – om die Messias te ontvang, en nie om die tempel te herbou en daardeur verder vir Christus te verloën nie. Die herontmoeting tussen Israel en die Messias sal positiewe gevolge vir die hele volk hê. Nadat Jesus tydens sy eerste koms deur die volk verwerp is, het Hy aan hulle gesê: “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39). Met sy wederkoms sal die gebroke verhouding tussen Israel en hulle Messias herstel word, want Israel sal opsien na Hom vir wie hulle deurboor het, en bitterlik oor Hom ween (Sag. 12:10). Daarna sal die Joodse volk in die ware sin van die woord ‘n Messiaanse volk wees wat die lof van die Messias oral sal verkondig.
Die episentrum in Jerusalem sal sy volle betekenis kry soos wat God dit bedoel het, want die Here Jesus sal in al sy heerlikheid en majesteit geopenbaar word om die middelpunt van alles te wees. Hy is die Skepper van die aarde én die heelal: “Alle dinge het deur Hom ontstaan... Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie” (Joh. 1:3,10; kyk ook Kol. 1:15-17). Onder die aanstigting van Satan self word Israel mislei om steeds nie vir Jesus as Verlosser te ken en te aanvaar nie, maar om in stryd met die ware kennis van God die tempel te herbou en só die skaduagtige gebruike van die Ou Testament voort te sit.
Ná die wederkoms van Jesus sal die hele oorblyfsel van Israel met Hom versoen word (Rom. 11:26), asook die oorblyfsel van die nasies (Matt. 24:29-30). Die wêreld se episentrum sal van ‘n goddelike teenwoordigheid omstraal wees, vrede sal oral op aarde heers en die name van die afgode [die valse godsdienste] sal uitgeroei word (Sag. 13:2).
Die vyande van God is woedend oor enige verwikkelings wat die geldigheid van hierdie profetiese verwagting bevestig. Hulle weet dat Israel se herstel deel van God se plan is om sy heerskappy sigbaar op aarde te vestig. Dit is die rede waarom hulle Israel wil uitdelg (vgl. Ps. 83:2-9). Indien hulle hierin kon slaag, dan sou hulle die Bybel verkeerd bewys en sodoende die mag en leuens van ‘n valse god bevestig. Hulle verhaas egter net hulle eie ondergang.
Die hele ongelowige wêreld sal uiteindelik teen Jerusalem versamel word, sodat die Here hulle hier kan oordeel (Sag. 12:3; 14:2). Hy sê: “Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer ek die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal Josafat laat aftrek, om daar met hulle ‘n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het” (Joël 3:1-2).
Nadat die Here die vyande van Israel, wat ook die vyande van die evangeliese Christendom is, geoordeel, die Antichris en die valse profeet verdelg en Satan in ‘n bodemlose put laat bind het, sal sy koninkryk in al sy heerlikheid aan die wêreld geopenbaar en in Jerusalem gevestig word. Die Skepper van die wêreld, wat ook die Verlosser en Koning van die wêreld is, die Heilige van Israel, sal van Dawid se troon af uit Jerusalem regeer – uit die episentrum van die aarde én die heelal. Ware vrede sal dan heers!