Vroeë Begin van die Derde Wêreldoorlog

21 April 2006

Die eerste maand ná die Hamas-oorname van die Palestynse owerheid het reeds ontstellende aanduidings opgelewer van stygende spanning in die Midde-Ooste. Verskeie kenners noem dit die vroeë begin van die Derde Wêreldoorlog.

Hamas is ‘n radikale beweging vir die bevryding van Palestina, wat volgens hulle ook die hele Israel insluit. Hulle weier steeds om erkenning aan Israel as ‘n staat te gee, en aanvaar dus nie Amerika, die Europese Unie en die VN se tweestaat-oplossing nie. Hulle weier ook om geweld as ‘n metode vir die bevryding van Palestina af te sweer.

‘n Opvallende kenmerk van die situasie in Israel is dat dit meer as ooit tevore in die arena van wêreldpolitiek afspeel. Die stryd tussen die Jode en Palestyne word geheel en al geïnternasionaliseer. Die groot politieke magsblokke in die Weste én Ooste, asook die VN, is almal direk met die situasie in die Midde-Ooste gemoeid – veral by gebeure in Israel, Irak en Iran.

Wat Israel betref, het die land se nuwe eerste minister, Ehud Olmert, homself daartoe verbind om teen die einde van die Amerikaanse president se ampstermyn in November 2008, die onttrekking van 90% van alle Joodse nedersettings uit die Wesbankgebied in Israel af te handel, en teen 2010 wanneer Olmert se eie ampstermyn verstryk, heeltemal met die onttrekking klaar te wees – dit sluit ook groot dele van Jerusalem in. Dit is egter net ‘n vertraagde proses van politieke selfmoord vir Israel om uit belangrike dele van hulle godgegewe land én uit Oos-Jerusalem te onttrek. Aan die ander kant toon Israel hulle wil om te oorleef deur onverpoosd met aanvalle op terroriste-skuilings in Gasa voort te gaan, waaruit hulle reeds onttrek het. Hulle is dus terselfdertyd by ‘n toegeebeleid én ‘n gewelddadige oorlewingstryd betrokke.

Wat die Palestyne betref, word groot druk van twee kante af op hulle uitgeoefen. Amerika en die Europese Unie het alle finansiële hulp aan die Palestynse Owerheid opgeskort totdat hulle Israel erken en van ‘n gewelddadige bevrydingstryd afsien. As gevolg hiervan is hulle op die randjie van bankrotskap en kan nie eers hierdie maand duisende amptenare en polisiemanne se salarisse betaal nie.

Aan die ander kant word Hamas se revolusionêre ingesteldheid teenoor Israel en die Weste deur Sirië en Iran aangeblaas. Dit is Iran se verklaarde beleid om Israel totaal uit te wis, en hulle sien die Hamas-regering as ‘n bondgenoot om uitvoering aan die vernietiging van Israel te gee. Iran is ook besig om grootskaalse finansiële steun vir die Palestyne in die Arabiese wêreld te werf.

Intussen versterk Rusland en Sjina ook die posisie van Hamas deur erkenning aan hulle te gee en steun aan hulle te beloof. ‘n Hamas-afvaardiging was reeds in Moskou, en daarna het die Russiese minister van buitelandse sake, Sergei Lavrov, sy land se ondersteuning vir die Palestyne herbevestig. Hy versoek hulle egter om Israel te erken en met hulle te begin onderhandel. Dit is dusver nie vir Hamas aanvaarbaar nie.

Hamas moet dus nou op die kort termyn besluit of hulle die gematigde weg gaan inslaan deur Israel te erken, geweld af te lê en sodoende baie geld en ander hulp uit die Weste te kry, en of hulle Iran se pad van oorlogvoering en die uitwissing van Israel gaan volg. Die afgelope week was daar verskeie gebeurtenisse wat die toestand in Israel aansienlik laat versleg het:

·       Op die vyfde dag van Israel se Paasfees was daar ‘n selfmoordbomaanval by ‘n kitskos restaurant in Tel Aviv waarin 9 Israeli’s dood en meer as 60 gewond is – tien van hulle ernstig. Dit was die ernstigste bomaanval die afgelope jaar.

·       Op Maandag 17 April was daar ‘n skerp verwisseling van woorde tussen Joodse en Palestynse afvaardigings by ‘n oop sitting van die Veiligheidsraad. Israel het na die bondgenootskap van terreur verwys, en gesê dat Iran, Sirië en die Hamas-regering van die Palestyne die saad van die eerste wêreldoorlog van die 21ste eeu saai. Hamas het gereageer deur te sê dat Israel sy besetting van Palestynse gebiede deur geweld versterk, en bygevoeg dat die Palestyne die reg het om hulleself deur bomaanvalle teen Israel se aggressie te verdedig. Dit is egter moeilik om te verstaan hoe hulle dit regverdig om onskuldige burgerlikes te teiken.

·       Gedurende Paasnaweek het Sheik Raed Salah, hoof van die Islamitiese Beweging in Israel, gesê dat Jerusalem die hoofstad van ‘n Moslem/Arabiese Kalifaat sal wees, waaroor Mohammed se opvolger sal regeer. Dit sal ‘n Arabiese superstaat wees waarvan alle Arabiese Moslemlande deel sal wees. Salah sê dat daar van Joodse pogings om Jerusalem te Judaïseer en die derde tempel in die plek van die Al-Aksa moskee te bou, niks sal kom nie.

In die lig van al hierdie gebeure is dit duidelik dat Hamas nie in isolasie beskou moet word nie, maar as ‘n handlanger van hulle revolusionêre ondersteuners, aanhitsers en finansierders in ander lande. Hulle is dus nie net ‘n Palestynse regering nie, maar ook ‘n front vir die internasionale Islamitiese Jihad teen Israel en die Weste. ‘n Groot konfrontasie tussen hierdie magsblokke kom elke dag nader.

Volgens Meir Amit, ‘n voormalige direkteur van Israel se intelligensiediens, Mossad, is die wêreldbeskawing reeds op die drumpel van die Derde Wêreldoorlog, wat ‘n grootskaalse konflik met die Islamitiese wêreld sal wees wat sy ideologie op die res van die wêreld probeer afdwing. Hy sê dat die Islamitiese nasies, sowel as internasionale Islamitiese drukgroepe, sal voortgaan om aanvalle op Westerse state te doen. Volgens hom is dit van die uiterste belang dat die internasionale gemeenskap teen hierdie groot bedreiging vir vrede sal verenig.

Volgens Amit moet die terroriste-aanvalle teen Amerika, Engeland, Spanje, Frankryk en ander lande in ‘n breër verband as die vroeë begin van die Derde Wêreldoorlog gesien word. Hy sê verder dat die nasies ongelukkig nie verenig teen hierdie groot bedreiging staan nie en dus nie doeltreffende weerstand daarteen kan bied nie. Die twee grootste sondebokke is volgens hom Rusland en Sjina wat nie wil saamwerk nie. Hulle help inteendeel nog vir Iran om sy kerntegnologie verder te ontwikkel. Dit sal Iran in staat stel om sy beplande uitwissingsoorlog teen Israel te voer, en ook grootskaalse aanvalle op Amerika en ander Westerse lande te doen wat Israel ondersteun. Die verhouding tussen Iran en Amerika is tans baie gespanne.

Die verwerping en ondermyning van Israel het ernstige Bybelse implikasies vir lande, soos onder andere Suid-Afrika, wat erkenning en ondersteuning aan Israel se vyande gee. In Genesis 12:3 sê die Here aan Abraham, met spesifieke verwysing na sy afstammelinge deur Isak en Jakob: “Ek sal seën diegene wat jou seën en hom vervloek wat jou vervloek.” In Jeremia 31:10 staan daar: “Hy wat Israel verstrooi het, sal hom vergader en hom bewaak.” Die Here is dus die bewaker van Israel; Hy sluimer of slaap nie en sal hard teen Israel se vyande optree. “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God” (Heb. 10:31).

Die Here sal Israel ook straf en in benoudheid bring totdat hulle as volk die Messias aanvaar (Jer. 30:7; Hos. 5:15–6:2). Dan eers sal die vrederyk begin met Jerusalem as hoofstad van die wêreld (Hand. 15:16-17; Jes. 2:2-4; Jer. 3:17). Voor die tyd vind die groot konfrontasie tussen die magte van lig en duisternis in die Midde-Ooste plaas. In Sagaria 12 en 14 sê die Here dat Hy alle nasies teen Jerusalem sal vergader om met hulle in die gerig te tree oor hulle vyandigheid teen die koninkryk van God én ook teen God se verbondsvolk, Israel. Dit is dus ‘n saak van die grootste erns dat ons Israel nie sal verwerp en vervolg nie, maar sal seën en die verlossingswerk van die Messias, Jesus, aan hulle sal verkondig – ook aan die Arabiere wat ‘n dringende behoefte aan die Here se reddende genade het.