Johan Malan
Die internasionale Gay Pride beweging wat sy vorige groot byeenkoms in 2000 in Rome gehou het, wil die volgende een in 2005 in Jerusalem hou. Vir die byeenkoms in Rome het 250 000 gays opgedaag, maar hulle meen dat die saamtrek volgende jaar groter sal wees.
Die uitvoerende direkteur van Jerusalem se Gay and Lesbian Center, Hagai El-Ad, sê dat opposisie deur godsdiensgroepe (Jode, Christene en Moslems) só ’n byeenkoms in die verlede onmoontlik gemaak het. Op 7 Junie 2002, slegs enkele ure voordat die sabbat sou aanbreek, het omtrent 4000 Israeli gays aan ’n optog deur die strate van Jerusalem deelgeneem. Die optog is deur die onder-burgemeester, ‘n rabbi, ‘n skande genoem, maar hy kon niks doen om dit te keer nie.
Omdat Jerusalem steeds nie sy Messiaanse status as “die Stad van die groot Koning” (Ps. 48:3) erken nie, word dit al hoe meer ‘n tuiste vir antichristelike ideologië en gebruike. In die middel van die verdrukking sal die geestelike en morele verval hier só erg wees, dat die stad tereg deur die Here as “Sodom en Egipte” bestempel sal word (Op. 11:8). Dit is ‘n aanduiding dat die vyande van die Here die septer hier sal swaai en dat immorele dade, soos dié van gays, algemeen sal voorkom.
Dit is ‘n internasionale tendens dat politieke leiers hierdie perverse beweging erken en selfs aanmoedig. In Parys, Frankryk, het die burgemeester saam met ‘n groot gay optog deur die stad se strate geloop. President Bush van Amerika laat ook nie na om sulke groepe te ondersteun nie. Hy het ‘n brief van gelukwensing aan ‘n kerk gestuur wat deur homoseksuele aktiviste gestig is, en 6000 huwelike tussen lede van dieselfde geslag per jaar voltrek. In sy brief het hy gesê: “By encouraging the celebration of faith and sharing of God’s love and boundless mercy, churches like yours put hope in people’s hearts and a sense of purpose in their lives.”