Die Sonde van Homoseksualiteit

Die volgende is ‘n kort opsomming van gedeeltes uit dr. Ed Murphy se The Handbook for Spiritual Warfare (Thomas Nelson Publishers Inc., Nashville, 1992). Aanvullende inligting is uit ander bronne bygevoeg. Skrifaanhalings kom uit die 1933-vertaling van die Afrikaanse Bybel, soos in 1953 hersien. Aanhalings uit die Nuwe Afrikaanse Vertaling (1983) word as NAV aangedui.

Die Bybel veroordeel alle vorms van homoseksuele aktiwiteite ten sterkste. Die eerste verwysing daarna is met betrekking tot die stede van Sodom en Gomorra in Genesis 19. Die woord sodomiet is afgelei van die bose gewoontes van dié twee stede se inwoners. Hierdie woord word dikwels in die King James Version van die Ou Testament gebruik: “There shall be no whore of  the daughters of Israel, nor a sodomite of the sons of Israel” (Deut. 23:17; vgl. 1 Kon. 14:24; 15:12; 22:46 (22:47 in die Afrikaanse Bybel); 2 Kon. 23:7). In die 1933/53 vertaling van die Afrikaanse Bybel word “sodomiete” in die genoemde tekste as “skandseuns” vertaal en in die NAV as “manlike prostitute”.

Homoseksualiteit word uitdruklik deur God verbied in die Ou Testamentiese wette wat die seksuele gedrag van sy volk reël: “Met ‘n manspersoon mag jy geen gemeenskap hê soos ‘n mens met ‘n vrou het nie. Dit is ‘n gruwel” (Lev. 18:22). Die NAV sê: “Jy mag nie ‘n homoseksuele verhouding hê nie. Dit is ‘n afstootlike sonde.”

Die verwerping van hierdie praktyk blyk ook uit die volgende teks: “Jy mag geen hoereloon of hondeprys in die huis van die Here jou God as enige gelofte-offer bring nie; want dié is altwee vir die Here jou God ‘n gruwel” (Deut. 23:18). Die Hebreeuse woord vir ‘n sodomiet of manlike prostituut is keleb, wat letterlik hond beteken. Die NAV vertaal hierdie teks só: “Wanneer jy ‘n gelofte afgelê het, mag jy nie die loon van ‘n prostituut, of dit nou dié van ‘n man of ‘n vrou is, na die huis van die Here jou God toe bring nie. Hy het ‘n afkeer van hierdie twee dinge.”

In Levitikus 18:22-30 word homoseksualiteit vyf keer ‘n gruwel genoem. Dit was só afstootlik in die oë van die Here dat die doodstraf deur steniging daarop gevolg het: “As ‘n man met ‘n manspersoon gemeenskap het soos ‘n mens met ‘n vrou het, het hulle altwee iets gruweliks gedoen. Hulle moet sekerlik gedood word. Hulle bloedskuld is op hulle” (Lev. 20:13). Die NAV sê: “Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ‘n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood.”

In die Nuwe Testament, in Romeine 1:18-32, word hierdie seksuele sonde as een van die skrikwekkende gevolge van die mensdom se rebellie teen die heerskappy van God beskryf. In verse 26-28 sê die apostel: “Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang. En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ‘n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie.”

Homoseksualiteit het net so algemeen in Nuwe Testamentiese tye as in die Ou Testament voorgekom, daarom Paulus se verwysing hierna in Romeine 1:26-28 en 1 Timoteus 1:9-10. Homoseksualiteit is ‘n probleem wat onder beide geslagte voorkom. Homo beteken dieselfde of  gelyk. Dit verwys nie uitsluitlik na manlikheid nie. ‘Lesbianisme’ is bloot ‘n woord wat vroulike homoseksualiteit beskryf.

Proff. Walvoord & Zuck (The Bible Knowledge Commentary, bl. 516), sê: “Homoseksualiteit en manlike prostitusie was veral kenmerkend van die Griekse en Romeinse samelewings. Plato het die lof van homoseksuele liefde in Die Simposium besing. Nero, wat keiser was in die tyd toe Paulus sy brief aan die Korinthiërs geskryf het, het op die punt gestaan om met die seun Sporus in die huwelik te tree. Dis net die uiterlike formaliteit van hierdie verbintenis wat buitengewoon was, aangesien 14 van die eerste 15 Romeinse keisers óf homoseksueel óf biseksueel was.” Biseksualiteit dui op een persoon se seksuele verhoudings met beide mans én vroue.

Homoseksuele aktiwiteite is nie die gevolg van die biologiese samestelling van sekere mans of vroue nie, aangesien daar geen gay-gene is wat iemand kan erf nie. Dit is aangeleerde gedrag. Enige gedrag of ingesteldheid wat aangeleer is, kan – met hulp indien nodig – weer afgeleer word. Homoseksuele kan dus hulle sondige seksuele gedrag afleer net soos wat heteroseksuele wat aanhoudend immorele dade pleeg, hulle gedrag moet afleer. Homoseksuele gedrag kan net soos ander sondes volkome vergewe word.

Persone met ernstige homoseksuele binding het ‘n ondersteuningsgroep nodig om hulle te help om daarvan bevry te raak. Baie min homoseksuele sal dit op hulle eie kan doen. Hulle moet hulle binding teenoor ‘n vriend of ondersteuningsgroep bely wat die nodige begrip daarvoor sal hê. ‘n Homoseksuele binding wat in ‘n persoon se gedagtes óf in die praktyk bestaan, is een van die ergste vorms van seksuele binding wat aan die mens bekend is.

Paulus sê die volgende oor verlossing van hierdie en ander sondes: “Weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God” (1 Kor. 6:9-11).

Dr. Ed Murphy sê: “Hoewel ek nie die groot bindende krag van homoseksualiteit en homoseksuele fantasering onderskat nie, wil ek sonder huiwering verklaar dat God se verlossende krag beskikbaar is vir almal wat praktiserende homoseksuele is, asook vir diegene wat deur homoseksuele begeertes geteister word. Dieselfde God wat in Paulus se tyd nuwe mense van homoseksuele gemaak het, is nog steeds besig om mense te wederbaar en nuut te maak (2 Kor. 5:17).”

Oorwinning oor hierdie sonde

‘n Hollywoodse meisie is na die Here Jesus gelei toe sy reeds vyf jaar lank ‘n praktiserende lesbiër was. Sy vertel die volgende verhaal oor haar bekering en die geleidelike genesing van haar seksualiteit:

“’n Groep Christene het naby Hollywood vir Christus getuig. Terwyl hulle die evangelie met my gedeel het, het daar ‘n begeerte by my ontstaan om die Here te ken soos wat hulle Hom ken. Vir die eerste keer in my lewe het ek die liefde wat God vir my het, verstaan. Ek was baie opgewonde: God het selfs vir my lief! Jesus het my só lief dat Hy selfs sy lewe aan die kruis vir my afglê het; ja, vir my. Ek het hom net daar as my Verlosser aangeneem en huis toe gegaan met vrede in my hart. Ek het ‘n groot blydskap ervaar oor die werklikheid van sy liefde vir my. Soos in die geval van die vrou wat owerspel gepleeg het (Joh. 8:1-11), het die Here my nie veroordeel nie, maar vergewe.

“Die mense wat my na Christus gelei het, het nie van my lesbiese vriendin geweet nie. Hulle het niks oor homoseksualiteit gesê nie. Op pad huis toe het die Here egter in my hart met my gepraat. Ek het geweet dat hierdie verhouding vir Hom onaanvaarbaar was en dat ek daarmee sou moes breek as ek in sy koninkryk wou leef. Dit was een van die moeilikste dinge wat ek ooit in my lewe gedoen het, maar ek was vasberade, en het volgens God se wil opgetree. My vriendin het dit nie verstaan nie en haar hart was gebroke. Ek was ook baie hartseer, maar het haar verlaat.

“Ek het by die groep Christene aangesluit wat die evangelie aan my verkondig het. Hulle was jong volwassenes. Ek het hulle later van my homoseksuele probleem vertel. Hulle het soos familie vir my geword en as ‘n ondersteuningsgroep vir my opgetree. Ek sou nie geestelik oorleef het as dit nie vir hulle ondersteuning was nie. Hulle het die Woord van die Here aan my geleer, en ook hoe om te bid en van my Verlosser te getuig. Ek het vir omtrent drie jaar deur ‘n emosionele storm gegaan, en het nie besef hoe sterk die homoseksuele emosies in my gedagtes, my liggaam en in my hele wese was nie. Soms het ek gedink dat ek dit nie sou maak nie, maar deur die Here se genade hét ek.

“Ek het my weerhou van alle seksuele verhoudings. Wanneer die begeertes sterk in my opgekom het, het ek vir krag na die Here geroep en Hy was getrou. Ek het ook vir my Christelike ondersteuningsgroep vertel wanneer die versoekings byna ondraaglik geraak het. Die Here het stadig maar seker my seksuele oriëntasie begin verander. Hy moes my geheel en al verander, veral ook emosioneel. Ons seksualiteit is só met ons emosies, selfbeeld, verstand en wil verweef, dat hierdie transformasieproses my hele persoonlikheid verander het.

“Ek het besef dat my seksuele oriëntasie nie primêr biologies was nie. Dit was die gevolg van omgewingsinvloede, emosies en ook verkeerde besluite wat ek oor ‘n lang tyd geneem het. Deur die genade van God het ek besef dat ek kon verander om seksueel teenoor mans te reageer, en nie teenoor vrouens nie. Die verandering het deur drie fases gegaan wat mekaar oorvleuel het:

·       “Ek het begin om vrouens anders te sien – hulle was my susters en nie my minnaresse nie. Ek het geleidelik my seksuele drang na ander vrouens verloor.

·       “Daarna het ek vir die eerste keer begin om mans op ‘n positiewe manier raak te sien. Sommige van die broeders was só mooi as mans en ook as my persoonlike vriende, dat ek die negatiewe oriëntasie verloor het wat ek vroeër teenoor mans gekoester het.

·       “Laastens het ek seksueel teenoor mans begin aangetrokke voel. Dit was ‘n wonderwerk. Die gedagte aan ‘n seksuele verhouding met ‘n man was vroeër vir my net so walglik as wat ‘n homoseksuele verhouding vir ’n heteroseksuele man of vrou is.

“Ek het nogtans nie begin om oor die moontlikheid van seks met elke aantreklike man te fantaseer nie, want dit sou ook sonde gewees het. Ek het net die feit aanvaar dat ‘n huwelik met ‘n goeie Christelike man vir my aanvaarbaar sou wees. Ek het so ‘n moontlikheid in die vooruitsig gestel, net soos wat enige normale vrou dit doen. Toe hierdie verandering begin posvat, het ek besef dat ek waarlik ‘n nuwe skepping in Christus was. Sonde het my laat ontaard en ‘n lewe laat lei wat tot die oneer van God was. Hy het my vroulikheid aan my teruggegee, en hiervoor dank ek Hom met my hele hart.”

(NS. Hierdie meisie is later getroud en het die ma van ‘n paar kinders geword).

Homoseksualiteit in die kerk

Die stryd teen homoseksualiteit is een van die belangrikste dimensies van geestelike oorlogvoering waarby die kerk vandag betrokke is. Die sg. “Gay Rights Movement” het as ‘n georganiseerde sosio-politieke beweging na vore getree om openlike homoseksualiteit in die samelewing én die kerk aanvaar te kry.

Die huidige homoseksuele beweging wend groot pogings aan om ons kerke en selfs die geledere van die Woordbedienaars binne te dring. Hulle teiken ook konserwatiewe, evangeliese kerke. Dit is een van die ernstigste probleme wat die moderne kerk teister. (Einde van opsommende uittreksels uit dr. Murphy se boek).

Die aanvaarding van ‘n homoseksuele lewenswyse word openlik deur verskeie ‘Christelike’ webtuistes bevorder. Een voorbeeld hiervan is www.mccchurch.org wat die beskouings van die Metropolitan Community Churches weerspieël. Deur die volgende stelling in ‘n artikel, The Bible and Homosexuality, openbaar dr. Mona West groot onkunde oor historiese feite: “Die woord ‘homoseksualiteit’ is ‘n moderne woord wat nie in Bybelse tye bestaan het nie. Bybelse skrywers het geen begrip van seksuele oriëntasie of seksuele ontwikkeling gehad soos wat ons dit vandag verstaan nie.” Die feit is egter dat ‘homoseksualiteit’ net ‘n moderne woord is vir die eeue oue verskynsel van sodomie.

In ‘n artikel, Homoseksualiteit; nie ‘n Sonde, nie ‘n Siekte nie,” sê eerw. Elder Don Eastman onder andere:

“Die mooiste woord in die Evangelie van Jesus Christus is ‘elkeen’. Al die beloftes van God is vir alle mense bedoel. Dit sluit gay mans en lesbiërs in. Hoe tragies is dit nie dat die Christelike kerk homoseksuele mense uitgesluit en vervolg het! Ons is almal geskape met ‘n sterk behoefte aan persoonlike verhoudings. Die kwaliteit van ons lewens hang af van die liefde wat ons met ander deel, ongeag of hulle ons familie, vriende, metgeselle of portuurgroep is. Ten spyte hiervan ervaar lesbiërs en gay mans vyandige gesindhede in die samelewing en word dikwels verbied om gesonde verhoudings aan te knoop ...

“Die houding van die Christelike kerk was vir baie eeue lank negatief teenoor menslike seksualiteit ... Hulle het homoseksuele dade as sonde bestempel ... Die Goeie Nuus is dat ... die opkoms van ‘n sterk lesbiese en gay gemeenskap, asook die bevindings van wetenskaplike studies oor homoseksualiteit, die Christelike kerk gedwing het om weer ondersoek na hierdie sake in te stel. ‘n Toenemende aantal teoloë en Bybelkenners erken nou die feit dat die Bybel nie liefdevolle, verantwoordelike, homoseksuele verhoudings veroordeel nie. Om hierdie rede behoort gay mans en lesbiërs – net soos hulle is – in Christelike kerke aanvaar te word en homoseksuele verhoudings behoort bevestig en gevier te word!”

Hierdie standpunt is die gevolg van humanistiese denke. Humanisme is ‘n onbybelse, mensgeoriënteerde ideologie wat groot inbreuk op Christelike teologie gemaak het deur duidelike leerstellings oor verskeie sake af te skaal en aan die behoeftes en idees van die moderne samelewing ondergeskik te maak. Skrifgesag word deur die hervertolking van ‘omstrede’ dogmatiese stellings ondermyn. Op dié manier word hierdie leerstellings eenkant toe gestoot of totaal verwerp deur diegene wat weier om dit te eerbiedig.

Ons is almal aan God rekenskap verskuldig oor hoe ons met sy Woord omgaan, en hoe ons sy Seun vereer wat mens geword het om ons in die weë van geregtigheid te onderrig en aan die kruis versoening te doen vir ons sonde – insluitend die hoogsveragtelike sonde van homoseksualiteit.