Prof. Johan Malan
Gebed is een van die belangrikste Christelike aktiwiteite wat daar is. Hierdeur beoefen jy ‘n intieme wandel met die Here en lê die grondslag vir sukses in ander geestelike aktiwiteite. Dit plaas jou ook op oorwinningsgrond in die stryd teen die Bose, omdat jy jouself in die geloof aan die beskerming en sorg van die Groot Oorwinnaar, Jesus Christus, toevertrou. Dr. Andrew Murray het gesê: “Ek is daar seker van dat ons nooit ten volle sal weet wat die gebed bedoel is om te wees nie, solank as wat ons dit hoofsaaklik beskou as ‘n middel om ons eie Christelike lewe te onderhou. Maar as ons leer om dit te beskou as die belangrikste deel van die werk wat aan ons toevertrou is, die grond en sterkte vir al ons werk, dan sal ons sien dat daar niks is wat ons so moet bestudeer en beoefen as die kuns om reg te bid nie.”
Die versoek van die dissipels was: “Here, leer ons bid” (Luk. 11:1). Die kuns van ware gebed en voorbidding kan ons alleen by die Groot Voorbidder, Jesus Christus, leer. Dit is ‘n leerskool waarin ons ook moet toeneem in genade en kennis (2 Pet. 3:18). Hoewel die gebed in sy beginstadium so eenvoudig is dat die kleinste kind kan bid, is dit terselfdertyd ook die hoogste vorm van toewyding waartoe gelowiges geroep word.
Daar is drie werklikhede omtrent die mens se bestaan wat ons as volgelinge van Christus in ag moet neem wanneer die rol en noodsaaklikheid van gebed in ons lewe bestudeer word:
Vrye wil: God het ‘n soewereine besluit geneem dat die mens ‘n vrye wil moet hê om morele keuses te maak. Deur sy Woord en deur die inwonende Heilige Gees het die Here aan sy kinders verligte oë van die verstand gegee om sy wil te kan verstaan en die regte besluite te neem. Hy toets ons om te kyk of ons ooreenkomstig sy wil optree. As ons dit nie doen nie, tree ons volgens die vlees op en weerstaan sodoende sy wil (vgl. Gal. 5:16-17). Hoe meer ons met die kennis van sy wil vervul is (Kol. 1:9), hoe meer wil ons dit doen. Om in só ‘n toestand te wees, moet ons die vlees kruisig en verander word deur die vernuwing van ons gemoed sodat ons kan verstaan wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is (Rom. 12:2). Ons moet ons volle oorgawe aan Christus gereeld hernu en meer aan Hom gelykvormig word. Om hierdie ideaal te kan bereik, is gebed en Bybelstudie op ‘n daaglikse basis nodig.
Die swakheid van ons vlees. Selfs wanneer ons ou natuur (die vlees) gekruisig is, is ons as Christene steeds aan die swakhede van ons menslike liggaam, wat ook “die vlees” genoem word, onderworpe. Heiligmaking is die enigste oplossing vir hierdie probleem. Paulus sê: “Ek spreek menslikerwys ter wille van die swakheid van julle vlees... julle moet nou jul lede diensbaar stel aan die geregtigheid tot heiligmaking” (Rom. 6:19). Hierdie swakhede verwys na die beperkings op ons krag en kennis, ons emosionele broosheid en ook die moontlikheid dat ons deur ons sintuie versoek kan word. Omdat menslike swakhede as sodanig nie sondes is nie, het Christus daarmee meegevoel. “Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Heb. 4:15-16). Wat ‘n rede vir aanhoudende gebed en vertroue in die Here!
Oorwinning oor ‘n bose wêreld. Ons leef in ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê (Joh. 14:30; 2 Kor. 4:4; 1 Joh. 5:19), daarom moet ons bid dat die Here ons van die Satan sal bewaar. Hy is die owerste oor “die teenwoordige bose wêreld” (Gal. 1:4), daarom moet ons vir God se ingryping in ons lewens bid, en geestelik sterk word in die Here sodat ons staande kan bly teen die liste van die duiwel (Ef. 6:10-12). Veral in “die dag van onheil” (Ef. 6:13), wanneer Satan ‘n intensiewe poging mag loods om ons skade aan te doen, geestelik te mislei of ‘n verkeerde besluit te laat neem, moet ons sterk staan in die Here en nie swig voor sy aanvalle nie. Ons moet onsself in gebed aan God onderwerp (Jak. 4:7), dan sal Hy as die een wat oppergesag het, ingryp en Satan verhoed om sy bose doel met ons te bereik. Dit is geestelike oorlogvoering. Sonder die Here se ingryping wat op ons gebede volg, gehoorsaamheid aan sy Woord en die bereidwilligheid om die leiding van die Heilige Gees getrou te volg, kan dinge lelik skeef loop in ons lewens.
As ‘n heilige priesterdom moet ons leer wat dit is om volhardend by die genadetroon van God vir die redding van siele te pleit. ‘n Priester leef net vir die eer van God en die redding van mense. Sy gebed gaan dus nie om eiebelang nie. Ons moet in dié opsig van ons getroue Hoëpriester leer. Soos wat Christus Homself vir ons opgeoffer het, moet ons ook in ons gebedslewe onsself vir die geestelike belange van andere opoffer.
Charles Finney sê: “Dikwels is hulle wat die besigste is om die waarheid te verkondig, nie die besigste as dit by gebed kom nie. Dit is jammer, want behalwe as hulle of iemand anders die gees van gebed het, sal die waarheid alleen niks bereik anders as om mense in hulle onbekeerlikheid te verhard nie. Ek glo dat voor die troon van die Here dit sal blyk dat niks ooit deur die waarheid alleen bereik is nie, al was dit ook met watter ywer verkondig, tensy gebed op een of ander wyse aan die aanbieding daarvan gekoppel was. Prediking en gebed moet hand aan hand gaan.”
Leiding vir gebed kom van die Heilige Gees af: “En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge” (Rom. 8:26). Ons moet onsself gedurig aan die leiding van die Heilige Gees oorgee om ons gedagtes, gebede en ons hele lewe te oorheers. Hiersonder sal ons nie die vurige gebed van ‘n regverdige kan bid, wat groot krag het nie (Jak. 5:16).
Gebedsversoeke moet spesifiek en duidelik omskrewe wees. Die Here Jesus se vraag is: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” (Mark. 10:36). Ons gebede moet nie vaag en doelloos wees nie. Moenie net in die algemeen bid dat die Here jou sonde moet vergewe nie, maar noem jou sondes en ongeregtighede by die naam.
Ook in jou taak van voorbidding vir andere moet jy daarteen waak om ongeïdentifiseerde gebede vir die redding van siele te bid, asook versoeke dat die Here alle mense op aarde moet seën. Sulke gebede is op geen spesifieke land, gemeenskap, groep, familie, individu of probleem gerig nie, dus sal jy nie weet waar om vir die antwoord op jou gebedsversoeke te kyk nie.
Elke Christen móét ‘n persoonlike gebedsverhouding met die Here Jesus handhaaf. Sorg daarvoor dat daar tye en plekke is waar jy gereeld alleen met die Here praat: “Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde” (Matt. 6:6).
Die persoonlike gebed is ‘n verborge geestelike kragbron in jou lewe. As dit ‘n gereelde instelling in jou lewe is, sal die Here Jesus jou in die openbaar vergeld. Wanneer jy tussen mense is en met versoekings en aanslae te kampe het, sal Hy jou beloon deur aan jou krag tot oorwinning te skenk. Jou vriende, familie en kollegas sal sien dat jy ‘n mate van selfbeheersing, kalmte, vertroue, vasberadenheid, opregtheid en beginselvastheid het wat net van die Here af kom.
‘n Besondere seën rus op gebedsbyeenkomste: “As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, dit sal hulle ten deel val van my Vader wat in die hemele is. Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hulle midde” (Matt. 18:19-20).
‘n Kind van die Here het nie alleen ’n behoefte aan die verborge, eensame gebed nie, maar ook aan openbare gebede saam met ander Christene. Ons word deur dieselfde Gees tot lede van een liggaam saamgebind, daarom moet ons ook as ‘n groep funksioneer en vir die verwesenliking van ‘n bepaalde doel saamwerk. Uit die genoemde teks is dit duidelik dat ons oor ‘n saak moet saamstem. Die geheim van gesamentlike gebed moet ontdek en beoefen word, naamlik dat almal teenwoordig in hulle gemoed sal saambid en saamstem terwyl een persoon aan die woord is. ‘n Biduur bestaan dus nie uit die opstapeling van ‘n aantal individuele gebede nie, maar uit die onderlinge deelname aan één gebed.
‘n Groepsgebed behoort ‘n doel en ‘n begrensing te hê deur gebedsversoeke en -temas vooraf te noem. By hierdie onderwerpe moet dan gehou en onnodige herhaling voorkom word. As een persoon ‘n saak noem en die ander het in hulle gees saamgestem, hoef dit nie weer in dieselfde vorm deur iemand anders herhaal te word nie. Indien die saak baie belangrik is en weer genoem word, moet die volgende gebed aanvullend tot die voriges wees deur bv. verdere aspekte van die probleem te beklemtoon. Kort, kernagtige gebede is die ideaal, anders verloor jy die betrokkenheid en belangstelling van ander. Moenie alleen vir alle sake bid wat vooraf genoem is, en sodoende die biduur oorheers en ‘doodbid’ nie. Bid liewer meer as een keer, ten einde saam met ander ‘n ketting te vorm waarin alle gebede tot fasette van dieselfde gebed saamvloei.
Die Here Jesus is self die waarborg vir gebede wat in sy Naam gebid word: “En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word” (Joh. 14:13; vgl. ook Joh. 16:23). Bybelse beloftes oor gebedsverhoring is egter voorwaardelik, en dit is in elkeen van ons se belang om ‘n studie van die volgende voorwaardes te maak en nougeset daaraan te voldoen:
· Gebedsversoeke moet altyd op die verheerliking van die Vader gerig wees (Joh. 14:13; Matt. 6:9-10).
· Dit moet in ooreenstemming met sy wil wees (1 Joh. 5:14; Rom. 8:27), daarom moet ons in die Bybel vasstel wat die Here se wil oor verskeie sake is (Rom. 12:2; Kol. 1:9).
· Alle struikelblokke van sonde en ongehoorsaamheid moet uit ons eie lewe verwyder word as ons die Here oor ander sake wil vertrou (1 Joh. 3:22).
· Ons lewe en begeertes moet in die Here Jesus wees, en sy woorde in ons harte, sodat ons geen selfsugtige motiewe van selfverheerliking sal koester nie (Joh. 15:7; Jak. 4:3).
· Ons móét andere vergewe as ons om die vergifnis van sonde tot die Vader bid, anders sal Hy óns sonde nie vergewe nie (Matt. 6:12; Mark. 11:25-26).
· Gebede moet op die bevordering van ‘n lewe van reinheid en godsvrug gerig wees (1 Thess. 4:3,7; Joh. 15:16). Daar moet niks in ons lewe wees wat ‘n skeidsmuur tussen ons en die Here vorm nie, sodat ons gebede nie verhinder sal word nie (vgl. 1 Pet. 3:7).
· ‘n Heilige en God welgevallige lewe is ‘n vereiste vir gebedsverhoring (1 Joh. 3:22). Ons eie lewe moet eers reg wees voordat ons vir ander kan begin bid.
· Ons moet in die geloof bid sonder om te twyfel (Heb. 11:6; Jak. 1:6-8). Om dit te kan doen, moet ons opgebou word in ons allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid (Judas 1:20). Ons moet ons geloof op vaste beloftes van die Here in sy Woord baseer en op grond daarvan met vertroue bid.
Die volgende is Bybelse voorskrifte oor gebedstemas:
Lofprysing: Prys die Here vir al sy grootheid en goedheid en guns. Verheerlik sy Naam en bring aan Hom die lof wat Hom toekom. Gebruik grepe uit die Psalms, bv. Psalm 103, vir hierdie doel.
Danksegging: Sê vir die Here dankie vir alles wat Hy vir die redding van die gevalle mensdom, en ook vir jou persoonlik, gedoen het. Dank Hom vir al die wonderlike beloftes in sy Woord. Hy het belowe om jou nooit te begewe en jou nooit te verlaat nie, om nooit te laat vaar die werke van sy hande nie, om in elke behoefte van jou te voorsien na die rykdom van sy genade, en om met jou te wees tot aan die voleinding van die wêreld.
Voortgesette reiniging: Christene het ‘n lewensreël dat hulle nie moet sondig nie. Die moontlikheid vir sonde bestaan egter steeds, daarom moet ons dadelik in gebed na die genadetroon van die Here gaan wanneer ons hierdie reël oortree deur te sondig: “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is ‘n versoening vir ons sondes” (1 Joh. 2:1-2). Sonde wat ons ná ons bekering doen, is nie outomatiese vergewe nie – dit móét in gebed bely en afgelê word. As ons in die lig wandel en gedurig alle sondes wat deur swakheid en onkunde begaan word, bely, dan geniet ons die voortgesette reiniging deur die bloed van Christus: “As ons [voortdurend] in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons [voortdurend] van alle sonde” (1 Joh. 1:7). Ons leef onder die bloed, maar gebed en belydenis is nodig om hierdie verhouding reg te hou. As ‘n gelowige moedswillig sondig en nalaat om dit te bely en reg te stel, dan val hy of sy geestelik terug (Heb. 3:12-13). Onbelyde sondes verhard jou hart en maak dit al hoe meer ongevoelig vir die oortuigingswerk van die Heilige Gees.
Die behoeftes van die heiliges: Die volgende opdrag word in Efésiërs 6:18 gegee: “...terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges.” Bid vir voorsiening in die behoeftes van die heiliges. Bid dat hulle beskerm sal word teen al die aanslae van Satan. Bid dat die Here aan hulle geopende deure vir die bediening van sy Woord sal gee, en groot vrymoedigheid om die verborgenheid van die evangelie aan ‘n verloregaande wêreld te verkondig.
Jou eie behoeftes: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God” (Fil. 4:6). Dank die Here omdat Hy vir jou sorg. Onthou dat gebede vir jou eie behoeftes altyd minder belangrik as gebede vir die uitbreiding van God se koninkryk op aarde is (Matt. 6:33).
Die redding van siele: “Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was” (Luk. 19:10). Dit is die groot doel van die Here Jesus se koms na hierdie wêreld, dus moet daar baie vir die verkondiging van die evangelie en die redding van siele gebid word. Bid ook dat die Here arbeiders sal uitstuur om die oes in te samel: “Toe sê Jesus vir sy dissipels: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur” (Matt. 9:37-38).
Heiligmaking en herlewing: “...dit is die wil van God: julle heiligmaking” (1 Thess. 4:3). “Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie. Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet. 1:14-16). Maak dit ‘n gebedsaak om ‘n heilige, oorwinnende lewe te lei. Bid ook vir herlewing in teruggevalle kerke. Vir die gemeente in Éfese sê die Here: “Ek het dit teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Op. 2:4-5).
Genesing: Die Here Jesus wil ook ons liggaamlike ongesteldhede genees (Matt. 8:16-17), daarom word dit aan gemeentes opgedra om vir siekes te bid: “Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid” (Jak. 5:14). Die Here genees soms mense regstreeks, maar in baie gevalle gebruik Hy die mediese wetenskap vir hierdie doel. Die apostel Lukas was ‘n geneesheer en daar was duidelik plek vir so ‘n loopbaan. Siekes én hulle geneeshere moet in gebed aan die Here se sorg opgedra word.
Oorwinningskrag in die geestelike stryd: “Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak” (Matt. 26:41). “Verlos ons van die Bose” (Matt. 6:13). “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jak. 4:7). Vertrou die Here in gebed vir krag om die Bose te oorwin.
Die regering: “In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons 'n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid. Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word” (1 Tim. 2:1-4). Hieruit is dit duidelik dat mens nie hoef te bid dat die Here 'n goddelose regering seën nie, maar dat hulle siele gered sal word, en dat die Here hulle daarvan sal weerhou om onleefbare toestande vir hulle onderdane in die land te skep. Die Here kán bose raad verydel en enige leier besluite laat neem wat in ooreenstemming met sy wil en die gebede van sy kinders is: “Die koning se hart is in die hand van die Here soos waterstrome: Hy lei dit waarheen hy wil” (Spr. 21:1).
Israel se redding en die vrede van Jerusalem: “Sê vir die huis van Israel... Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet sodat julle rein kan word” (Eseg. 36:22-25). Die herstel van Israel is deel van God se raadsplan, en ons moet hiervoor bid, asook vir dié volk se geestelike ontwaking. Daar moet vir die vrede van Jerusalem gebid word, omdat die vyand se aanvalle in die besonder op dié stad gerig is: “Bid om die vrede van Jerusalem” (Ps. 122:6; vgl. ook Jes. 62:6-7 waarin die Here sê dat Hy Jerusalem gaan bevestig om daarvan ‘n lof op aarde te maak).
Reën en materiële seëninge: Die Here gee reën (Jer. 14:22), en weerhou dit ook indien 'n volk in goddeloosheid verval en die rug op Hom keer (Jer. 3:2-3). Wanneer daar dus om reën gebid word, moet dit met gebede van persoonlike, gemeentelike én nasionale verootmoediging gepaard gaan.
Die wederkoms: “...laat u koninkryk kom” (Matt. 6:10). Dit moet die gebedsverlange van elke gelowige wees dat Christus spoedig sal kom om sy koninkryk van geregtigheid te openbaar (Op. 22:17; Hand. 15:16-17; Jer. 3:17).