Die Mens se Nood is God se Geleentheid

Deur Anton Bosch

Waarom lyk dit of God nie ons gebede beantwoord wanneer ons dringend op ‘n antwoord wag nie? Waarom is dit dat wanneer ons deur die donkerste tye gaan, dit lyk of die Here ons nie uit ons probleme verlos nie, behalwe wanneer dit amper té laat is? Waarom word ander mense se gebede beantwoord nog voordat hulle gevra het, maar ek moet geduldig my beurt afwag om gehelp te word? Gee die Here nie om nie? Is dit nie wreed van Hom om ons so te laat ly terwyl Hy die probleem in ‘n oomblik kan oplos nie?

Dit mag dalk help om te weet dat jy nie die enigste een is wat só voel nie, want dit is presies die manier waarop die Here met sy kinders werk. Dit is nie omdat Hy nie omgee nie of omdat Hy wil hê ons moet swaarkry nie. Kom ons kyk na die ondervindings van ‘n paar mense.

Abram en Sarai wou dringend kinders hê, want God het beloof om hulle ‘n groot volk te maak. Hoe ouer hulle geword het, hoe meer onwaarskynlik het die moontlikheid geraak. Sarah was onvrugbaar; uiteindelik het sy ook verby die ouderdom gegaan waarin sy kinders kon hê, en steeds het daar niks gebeur nie. Eers toe het die Here tot hulle hulp gekom.

Later het die Here vir Abraham gesê dat hy sy geliefde seun deur wie hy ‘n nageslag sou hê, moes offer. Sou dit die einde van die pad vir die seun van die belofte wees? Abraham was egter gehoorsaam en het vir Isak met toue op die altaar gebind. Op die laaste oomblik, toe Abraham al die mes uitgetrek het om die seun te offer, het die Here in die vorm van ‘n ram uitkoms gegee.

God het vir Moses op die ouderdom van 40 jaar na die woestyn gedryf. Hier moes hy ‘n verdere 40 jaar lank wag totdat al sy vermoëns wat hy in Egipte geleer het, vergete was en sy kragte ook aansienlik afgeneem het. Eers toe het die Here hom geroep om sy volk uit Egipte te lei.

Gideon het 32 000 soldate gehad, wat vier maal minder as dié van die vyand was, en nogtans het die Here gesê dat hy té veel manskappe het! Uiteindelik is die getal na 300 afgebring, totdat die oormag van die vyand 106 teen 1 was. Toe eers het die Here tussenbeide getree en aan hulle die oorwinning gegee!

Een aand het die Here Jesus sy dissipels met ‘n boot oor die See van Galilea gestuur terwyl Hy alleen op die berg gaan bid het. Hy het gesien hoedat hulle laat in die nag, met die wind van voor af, teen die golwe moes beur, maar het aangehou om met sy Vader te praat. Eers nadat hulle vir die langste deel van die nag die aanslae van die onstuimige see moes verduur, het Hy in die vierde nagwaak – dit is ná drie in die oggend – op die toneel verskyn en die storm stilgemaak.

In Johannes 21 lees ons van die dissipels se onsuksesvolle poging om vis te vang. Jesus het eers aan hulle verskyn nadat hulle die hele nag lank tevergeefs probeer het om iets te vang. Hy rig toe die vreemde versoek aan hulle om die net weer in te gooi waar hulle dit alreeds gedoen het. Eers toe het die wonderwerk gebeur.

Hierdie is slegs ‘n paar voorbeelde oor hoe God wag totdat die mens eers al sy eie pogings aangewend het voordat Hy ingryp om hulle nood te verlig. Waarom doen Hy dit? In ons arrogansie dink ons gewoonlik dat ons self die situasie kan hanteer, daarom wag die Here eers vir ons om agter te kom dat ons nie so oulik en sterk is as wat ons gedink het nie. Hy het vir Gideon gesê: “Die manskappe by jou is te veel vir My om die Midianiete in hulle hand te gee; anders kan Israel hom teen My beroem deur te sê: My eie hand het my verlos” (Rig. 7:2).

Elke keer as ons self ‘n probleem oplos, voel ons baie goed oor ons eie vermoëns. Ons kry dan ‘n opgeblase selfbeeld en besef nie dat ons in vergelyking met die Here swak en klein is nie. Ons mag dalk in staat wees om kleiner probleme self op te los, maar dit laat ons verkeerdelik tot die gevolgtrekking kom dat ons die groot krisisse van die lewe self kan hanteer. Daar is egter probleme wat die Here alleen kan oplos. Hy wil ons daarmee help, maar wag vir ons om op te hou om dit deur ons eie krag te doen, anders maak ons net ‘n gemors van sy werk. Dink maar aan Abraham en Sarah se doen-dit-self manier om hulle probleem van kinderloosheid op te los. Hulle eie planne het tot die geboorte van Ismael gelei, en sy nasate (die Arabiere) skep vandag nog die grootste probleme denkbaar vir Abraham se afstammelinge deur Isak.

Dit beteken nie dat ons fatalisties moet wees en niks doen nie. Wanneer die Here by ‘n saak betrokke is, moet ons gereed wees om te doen wat Hy ook al van ons verwag. Hy sal die moeilike deel van die taak verrig, terwyl ons die maklikste deel daarvan moet doen. Hy het nog steeds vir Abraham, Sarah, Gideon en  die dissipels gebruik om op sy eie tyd die regte dinge te doen. Die seuntjie moes ook die vyf brode en twee visse aan die dissipels gee voordat die skare gevoed is. Die Here doen die wonderwerke en ons is sy assistente. Ek wil liewer ‘n assistent in ‘n wonderwerk as die meester van ‘n gemors wees!

Die Here wil nie hê dat ons moet sukkel nie, maar ongelukkig neem dit die meeste van ons baie lank om agter te kom hoe onvolkome ons eie pogings is. Ons probeer altyd eers om self ‘n probleem op te los, in plaas daarvan om dit aan die Here toe te vertrou: “As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die Here die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter. Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, laat opbly, brood van smarte eet – net so goed gee Hy dit aan sy beminde in die slaap!” (Ps. 127:1-2).

Maak seker dat jy as ‘n getroue dissipel guns in die oë van die Here gevind het en Hom ken in al jou weë. Sy beminde is dié een wat die Here Jesus met sy hele hart liefhet en Hom ten volle vir die oplossing van al sy probleme vertrou – in die eerste plek jou geestelike probleme, dan sal Hy uit genade ook al die ander dinge vir jou byvoeg.