Johan Malan
Opsomming: 'n Ware geloof moet duidelik van valse weergawes daarvan onderskei word. Laasgenoemde lei na verwerping en eersgenoemde na beloning deur God.
Een van die grootste geestelike probleme in Suid-Afrika – en moontlik in die hele wêreld – is vormgodsdiens. Baie mense is nominale gelowiges wat die Christendom met hulle lippe bely, maar hulle harte is koud en onweergebore. Dit beteken dat hulle nie ‘n Bybelse geloof het nie en dus as ongelowiges beskryf moet word. In die lig van dit wat in hierdie boek geskryf is, moet elke leser in die eerste plek seker maak of hy ‘n ware geloof het, en tweedens of hy met vrymoedigheid van sy werke van geloof rekenskap voor die regterstoel van Christus sal kan gee.
Daar is wyd uiteenlopende betekenisse wat aan die begrip geloof gekoppel word. Mense van verskillende geloofsoortuigings noem hulleself gelowiges, terwyl daar ook in die intergeloofsbeweging skakeling tussen gelowiges uit ‘n groot aantal wêreldgodsdienste is.
Benewens die algemene gebruik van die term geloof is daar die Bybelse, uitdruklik Christelike, definisie van hierdie begrip. In terme hiervan is daar net een ware geloof en dit is ‘n saligmakende geloof in God deur sy Seun, Jesus Christus. Dit word deur die instaatstelling van die Heilige Gees beoefen en lei na ‘n geestelike wedergeboorte. Alles buite dit word as ongeloof, geestelike misleiding of afgodediens beskryf.
Geloof is nie ‘n onpersoonlike, psigiese of mistiese krag waardeur ‘n mens in staat is om sekere geloofshandelinge te doen nie. Dit is geloof ín God wat ons in verbinding met Hom stel en op grond waarvan Hy aan ons gebedsversoeke voldoen as dit binne sy wil gevra is. Die Here Jesus sê die groot doel met die verkondiging van die evangelie is:
Wanneer Jesus dus vir mense sê: “Jou geloof het jou gered” (Luk. 7:50; 17:19; 18:42), dan verwys dit spesifiek na die geloof wat hulle in Hom as die Messias en Verlosser gestel het.
Deur die geloof betree ek die onsigbare wêreld waar God woon, en maak ek kontak met Hom:
‘n Bybelse geloof kan nie deur ‘n mens gegenereer word nie, omdat dit van God af kom. Geloof het uit die hemel gekom en is aan ons geopenbaar (Gal. 3:23-26). Wanneer ons die evangelie hoor, dan ontvang ons deur die werking van die Heilige Gees bekeringsgenade om in die Here Jesus te kan glo en Hom as Verlosser in ons lewe te ontvang as ons wil:
Die Heilige Gees skenk aan ons geloof (1 Kor. 12:9). Hy oortuig ons van sonde en van geregtigheid en van oordeel (Joh. 16:8).
Ons kom eerstens onder die oortuiging van ons sonde en verlorenheid. Hierna word ons van die geregtigheid van God oortuig wat deur die kruisdood van sy Seun aan ons gebied word. Ons word in staat gestel om dit in die geloof te aanvaar deur ons sondes aan Hom te bely en sodoende deur die geloof in Hom geregverdig te word. Ons word derdens oortuig van die feit dat Satan en die sondige mensdom onder die oordele van God is, daarom word dit ons hoofdoel om redding in die Naam van Jesus Christus aan almal te verkondig.
Wanneer ons ons sonde bely en die Here Jesus deur die geloof as ons Verlosser ontvang, kom Hy én die Vader deur die Heilige Gees in ons harte woon (Joh. 14:16, 23). Dit is dus nie net ‘n blote geloof in die bestaan van God wat ons beoefen nie, want dit is nie ‘n saligmakende geloof nie. Die duiwels glo dit ook, en hulle sidder (Jak. 2:19).
Mense wat bloot met hulle verstand in die bestaan van God glo, sonder bekering, sondebelydenis en wedergeboorte, verval almal in ‘n dooie vormgodsdiens. Hulle dien die Here slegs met hulle lippe, maar hulle harte is ver van Hom af (Matt. 15:8; Mark. 7:6).
Ons geloof in die Here Jesus, soos in Johannes 6:47 beskryf word, lei na ‘n vaste verhouding met Hom. Die skeidsmuur van sonde moet deur bekering en sondebelydenis afgebreek en die nuwe lewe deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort word. Deur die geloof sal Christus dan in ons harte woon (Ef. 3:17).
Het jy só ‘n geloof? “Ondersoek julleself of julle in die geloof is; stel julself op die proef. Of is julle nie seker van julleself dat Jesus Christus in julle is nie – as julle ten minste nie verwerplik is nie!” (2 Kor. 13:5). As ons ‘n ware geloof het, is ons nuwe mense: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor. 5:17).
Omdat ons in die eeu van die rede leef, volstaan baie mense by ‘n verstandelike aanname van die feite in die Bybel sonder ‘n geloofsaanvaarding daarvan met hulle harte. Godsdienstige opinies en standpunte word intellektueel beredeneer, maar geestelik bly hierdie mense onaangeraak daardeur. Hulle het nog nie ‘n saligmakende geloof nie, en weerstaan die Heilige Gees deur selfregverdiging en humanistiese argumente as Hy hulle van hulle sonde oortuig.
Tydens ‘n persoon se wedergeboorte word hy deur die Heilige Gees in ‘n geloofsverhouding aan God verbind deur sy Seun, Jesus Christus. Dit is ‘n wesenseienskap van geloof dat dit ons dring om geestelik na buite uit te leef en vrug te dra wat by die bekering pas. Dit is waarom godsvrug in ‘n persoon se lewe ‘n bewys van sy geloof is. Jakobus sê: “Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon” (Jak. 2:18).
Wanneer daar nie werke ná ons bekering volg nie, kom die geloof nie tot sy reg in ons lewe nie. Dan onderdruk ons die geloof deur ‘n maatemmer daaroor te plaas sodat die lig van ons getuienis nie kan skyn nie. ‘n Groter waarskynlikheid is dat die gebrek aan werke ‘n aanduiding is dat só ‘n persoon hoegenaamd nie ‘n ware geloof het nie:
Werke moet die regte plek in ons lewe inneem, en ook die regte soort werke wees. ‘n Ongeredde persoon wat goeie werke doen om God te probeer behaag, mors sy tyd. Ons word nie déúr [menslike] werke gered nie, maar vír werke [van die geloof]:
Is werke van die geloof, as die vrug van bekering, sigbaar in jou lewe? As die loot geen vrug dra nie, voer dit ‘n nuttelose bestaan en word ná ‘n tyd van volhardende onvrugbaarheid afgekap en in die vuur gegooi (Joh. 15:2, 6; Luk. 3:9).
As die belydenis van geloof op jou lippe wegsterf en die nuwe lewe ook nie in jou optrede gesien kan word nie, dan kan die egtheid van jou geloof met goeie reg betwyfel word. Wanneer dit nodig is om pertinent vir iemand te vra of hy ‘n kind van die Here is, is daar ‘n groot probleem. Dit beteken dat dit nie bo enige twyfel uit sy gesprekke of lewenswyse blyk dat hy wél gered is nie. Ongelukkig dink baie mense dat as jy nét met jou hart glo, dan is jou Christenskap bevestig. Vir hulle hoef dit nie deur getuienis en ander werke bevestig te word nie. Paulus weerlê dié siening baie duidelik:
My eie geestelike lewe het ook nie as ‘n duidelike werklikheid gerealiseer voordat ek begin getuig het en die Here die eer gegee het omdat Hy my siel gered en my van ‘n menigte besoedelings van die gees én die vlees gereinig het nie. Eers bely ons ons sondes met die mond teenoor God, en daarna bely ons ons geloof in God teenoor mense en laat só ons lig in die wêreld skyn.
Geloof is nie staties nie, maar moet groei en sterker word. Ons moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, en sodoende opgebou word in die allerheiligste geloof (2 Pet. 3:18; Judas 1:20).
Baie mense se geloof is nog swak, met die gevolg dat hulle maklik twyfel en vrees – veral in krisissituasies. Dit was tydens ‘n storm op die see vir Jesus nodig om sy dissipels as kleingelowiges te bestempel en ook vir hulle te vra: “Het julle dan geen geloof nie?” (Mark. 4:40; Luk 8:25). Die dissipels het hulle behoefte aan ‘n sterker geloof besef, en vir die Here Jesus gesê: “Gee ons meer geloof” (Luk. 17:5).
Tydens geloofstoetse ontdek ‘n mens soms diep in jou hart dat jy nog ‘n twyfelaar is. Dan is jou geloof in die Here Jesus nie sterk genoeg om jou deur die krisis te dra nie. Versterk jou geloof dan deur ‘n nuwe aanvaarding van die belofte dat Hy jou nooit sal begewe of verlaat nie (Heb. 13:5).
Diegene wat nog swak in die geloof is, moet geestelik versorg en opgebou word (Rom. 14:1; 1 Thess. 3:10). Die doel hiermee is dat hulle geloof sal toeneem en oorvloedig word (2 Kor. 8:7; 10:15; 2 Thess. 1:3). Christene moet vol van die gloof wees, sodat hulle in volle geloofsversekerdheid tot die Here sal bid en Hom ook met oorgawe sal dien. Om vol van die geloof te wees, is ‘n uitdrukking wat met ‘n Geesvervulde lewe in verband staan. Dit was ‘n vereiste vir geestelike leiers in die gemeentes van die vroeë kerk (Hand. 6:5; 11:24).
Die Here het deur die Heilige Gees voorsiening gemaak dat ons deur die lewe kan gaan sonder dat ons geloof ooit verswak (Rom. 4:19-20). Dit is ‘n anker vir jou siel om ‘n groot en sterk geloof in Christus te hê. Hy sien dit raak en eer só ‘n persoon se geloof (Matt. 15:28). Iemand wat nie ‘n sterk en vaste geloof in die Here en sy beloftes het nie, en daardeur vir twyfel plek maak, se gebede sal nie verhoor word nie (Jak. 1:6-8).
Een van die tragiese verskynsels onder Christene is dat sommige van hulle se geloof verswak en, in sekere gevalle, selfs heeltemal ophou. Die Here wil nie hê dat dit moet gebeur nie, daarom word ons duidelik teen só ‘n moontlikheid gewaarsku. Jesus het vir Petrus gesê: “Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie” (Luk. 22:31-32). Ons moet aan die geloof en ons belydenis vashou.
Paulus sê vir die Kolossese: “…as julle ten minste gegrond en vas bly in die geloof en julle nie laat afbring van die hoop van die evangelie nie” (Kol. 1:23). Daar was mense wat die geloof verloën het. Paulus noem die name van twee valse leraars “wat van die waarheid afgedwaal het… en hulle keer die geloof van sommige om” (2 Tim. 2:18). Hy sê aan Timotheus dat hy die goeie stryd van die geloof moet stry “en aan die geloof en ‘n goeie gewete vashou. Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely” (1 Tim. 1:19).
In hierdie laaste dae word daar ‘n venynige aanval deur Satan op die geloof van mense gemaak, sodat hulle skipbreukelinge in die geloofslewe kan word. Hy stuur sy valse profete in Christelike kerke in om deur hulle misleidingswerk mense se geloof totaal te verander sodat dit deur ‘n verdraaide en vervalste vorm van geloof (eintlik bygeloof) vervang kan word (2 Kor. 11:2-4, 13-15). Ons word ernstig teen hierdie demonies-geïnspireerde geloofsverval gewaarsku:
Een van die gevolge hiervan is dat daar baie “godsdiens” in die wêreld is, maar dit gaan nie noodwendig met ‘n saligmakende geloof in die Drie-enige God en sy Woord gepaard nie. Dit is waarom die Here Jesus gesê het: “As die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Luk. 18:8). Wat ‘n toestand van geestelike misleiding heers daar nie by mense nie – party beoefen ‘n dooie vormgodsdiens, terwyl andere agter die vreemde manifestasies van ‘n valse “herlewing” aanhardloop!
Daar is geen kosteberekening, berou en sondebelydenis aan die moderne, vervalste Christendom verbonde nie. Die kruis en die bloed van Christus ontvang ook nie meer prominensie nie. Al wat oorbly is mensgemaakte gebooie waarmee die Here tevergeefs gedien word (Mark. 7:7-9).
Ons, wie se harte gereinig is deur die geloof, word vermaan om te midde van verdrukkinge in die geloof te bly (Hand. 14:22; 15:9). Vir Timotheus sê Paulus: “Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het” (1 Tim. 6:12). Nét voor sy dood deur onthoofding in Rome, het Paulus oor sy eie geloofstryd geskryf: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou…” (2 Tim. 4:7).
Ons moet vasberade en doelgerig in die geloofstryd wees – nie net wanneer ons groot dinge vir die Here in die geloof aanpak nie, maar ook wanneer ons vir ons geloof moet ly (Heb. 12:32-40). Ons moet altyd die einddoel van die ewige lewe in die hemel in gedagte hou wanneer ons hierdie stryd stry. Abraham het as ‘n vreemdeling in tente gewoon, want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is (Heb. 12:9-10).
Het jy ook ‘n geestelike vergesig van die nuwe Jerusalem, daardie wonderstad wat die Here vir gelowiges gaan voorberei het? Tans is jy ‘n vreemdeling en ‘n verbyganger in ‘n verganklike wêreld wat vol ongeregtigheid is. Hierdie wêreld is nie jou tuiste nie, want in die geloof het jy die beloftes van ‘n hemelse stad ontvang waarheen jy op pad is. Aangespoor deur die vasberade stryd wat so baie geloofshelde reeds gestry het, moet ons ook doelgerig voortgaan tot op daardie dag wanneer geloof sal oorgaan in aanskoue:
In die lig van die goed omskrewe Bybelse definisie van geloof, is dit duidelik dat baie van die lidmate van Christelike kerke nie daaraan voldoen nie en dus slegs naamgelowiges is. Hulle glo net met hulle verstand en nie met hulle harte nie. Hulle gees is onaangeraak deur hulle verstandelike aannames, daarom bly hulle geestelik dood en onwedergebore. Die gevolg hiervan is die beoefening van ‘n lewelose vormgodsdiens wat net uit lippediens, moralisering en intellektuele bespiegelinge oor die Bybel bestaan. Uiterlik mag hulle na Christene lyk, maar hulle harte is koud en dood.
Paulus waarsku Timótheus teen sulke mense en sê dat hy hom van hulle moet distansieer. Hulle is “mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan [die wederbarende krag van die Heilige Gees] verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Tim. 3:5). Hulle bely dat hulle God ken [hulle sê: “ons glo”] maar hulle verloën Hom deur hulle lewenswandel en ook deur die uitsprake wat hulle oor God en die Bybel maak (Titus 1:16).
Baie van hulle sê dat die Bybel nie die letterlike en foutlose Woord van God is nie, en dat Jesus nie maagdelik gebore is en ook nie God is nie. Baie ander predikers skryf weer vreemde, onbybelse manifestasies, aan ‘n “nuwe” werkswyse van die Heilige Gees toe. Wedergeboorte en sondebelydenis word egter nie genoem nie – net sekere morele sondes wat mense teenoor mekaar begaan het, bv. ongelykhede en diskriminasie in die samelewing. Dit word bely, maar nie hulle gebroke verhouding met God nie.
Toe die Here Jesus aan ‘n vooraanstaande teoloog gesê het dat hy weergebore moet word voordat hy die koninkryk van die hemel kan beërf, het hy nie eers geweet wat Jesus daarmee bedoel nie (Joh. 3:1-10). Hy het nie besef dat sy teologiese kennis en die onderhouding van godsdienstige wette hom nie kan red nie. Hy sal eers met berou sy sonde moet bely, waarna die Here hom dit sal vergewe en hom deur die Heilige Gees sal wederbaar. Dan eers sal hy geestelik gesproke ‘n nuwe mens wees – ‘n ware gelowige wat die Here nie net met sy lippe bely nie. Hierdie reël geld vir alle mense (Gal. 6:15-16).
Buite die groep vormgodsdienstiges is daar die miljoene mense wat die evangelie van Jesus Christus tot hulle eie ondergang met hulle verstand én met hulle gees verwerp. Die mees kosbare bate in die hele wêreld, om ín Christus ‘n nuwe mens te wees, verwerp hulle. Petrus sê: “Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, het ‘n hoeksteen geword; en: ‘n Steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling” (1 Pet. 2:7). As Christus nie die rots en fondament van jou lewe is nie (1 Kor. 3: 11), en jy aanstoot aan Hom neem, word Hy vir jou ‘n rots van struikeling. Hy is dus óf jou Verlosser, óf jou Regter wat jou weens jou ongeloof sal veroordeel. Voor Hom sál elke knie buig – die ware gelowiges sal die koninkryk van die hemel beërf en die ongelowiges tot die vlamme van die hel veroordeel word.
Waarom sou mense die Here Jesus verwerp as die ewige lewe net in Hom te vinde is en daar geen ander naam onder die hemel gegee is waardeur ons gered kan word nie? (Hand. 4:12). Hulle is deur Satan mislei, daarom sê die Bybel hulle is “die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld [die duiwel] die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Kor. 4:4).
Sulke mense verhard hulleself teen die evangelie en bly dus ongelowig (Hand. 19:9; 28:24). Al “glo” hulle ook in ander gode, is dit nie ‘n ware geloof wat van God af kom nie, maar ‘n nabootsel, ongeloof of bygeloof wat van die duiwel af kom. Christene moet geensins godsdienstig met hulle assosieer, soos nou in die intergeloofsbeweging deur nominale Christene gedoen word nie:
Almal wat God nie ken nie, en dus nie deur die geloof in Christus met Hom verbonde is nie, word nie net “ongelowiges” nie maar ook “heidene” genoem (1 Thess. 4:5). Hulle aanbid afgode en dien nie die ware God nie. In werklikheid is die afgode wat hulle aanbid, gekamoefleerde demone (1 Kor. 10:19-20), en sodoende word hulle sinne verder deur die god van hierdie wêreld verblind.
“Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin” (Hand. 16:31). “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed” (Ef. 1:7). Hy is die opstanding en die lewe (Joh. 11:25). Niemand kom tot die Vader behalwe deur Hom nie (Joh. 14:6). Wanneer jy deur Jesus Christus met God versoen is, moet jy alle ander ideale, opinies en aktiwiteite ter syde skuif en Hom die hoofdoel van jou lewe maak. Paulus het gesê:
In Paulus se geloofslewe was sy aanvanklike geloof wat tot redding gelei het, net die beginpunt van ‘n geestelike wedloop waarin hy betrokke was. Hy het geweet dat die regverdige uit die geloof moet lewe, en het homself heelhartiglik aan die volle realisering van hierdie lewe toegewy. Hiervoor was dit nodig dat hy dít wat die verganklike wêreld aan hom gebied het, van die hand wys. Sy een groot doel was om die Here Jesus beter te leer ken en Hom voluit te dien. Hy het homself nie as volmaak beskou en teruggesit nie, maar besef dat daar nog veel meer was wat hy kon bereik.
Hy het die dinge vergeet wat agter hom gelê het, en daarna gejaag om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus. Hierdie prys bestaan in die eerste plek uit die volle verlossing wat hy sal verkry wanneer hy met die opstanding van die regverdiges sy verheerlikte opstandingsliggaam sal kry en saam met die ander kinders van die Here die hemel sal beërwe. In die tweede plek bestaan hierdie prys uit die genadeloon wat die getroue diensknegte van die Here voor die regterstoel van Christus sal ontvang.
Die werke van geloof wat ‘n Christen doen, sal voor die regterstoel van Christus beloon word. Dan sal die diensknegte van Here rekenskap van hulle lewens ná bekering moet gee. Voor die regterstoel sal nét gelowiges verskyn – hulle wat uit genade gered is deur die geloof – om vas te stel hoedanig hulle hul tyd en talente deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees in die diens van die Here gebruik het:
Paulus vermaan alle Christene ernstig om seker te maak dat hulle werke doen met ewigheidswaarde, want net dít sal beloon word. Dit is werke wat by die bekering pas, wat op die fondament van die nuwe lewe in Christus gebou word. Die werke wat uit ‘n ewigheidsoogpunt nutteloos is, sal verbrand word:
Om werke te doen wat die Here behaag, verg altyd ‘n kosteberekening. Die Here Jesus het gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg” (Luk. 9:23). Ons kan nie onsself wil behaag, met die ongekruisigde eie-ek op die troon van ons harte, en die Here in die krag van die vlees probeer dien nie. ‘n Kruis van selfverloëning moet opgeneem word, en in die krag van die Heilige Gees moet ons vasberade die hand aan die ploeg slaan. In hierdie hoedanigheid sal die wêreld ons verwerp, bespot en selfs vervolg, maar ons moet nie daardeur van stryk gebring word nie. Die Here Jesus het gesê:
Ou Testamentiese gelowiges moes dieselfde kosteberekening doen:
Is jy bereid om buitekant die laer te gaan en die smaad van Christus te dra? (Heb. 13:13). Dikwels is ons “veilig” in ‘n laer waar ons kan wegkruip en sosiaal aanvaar word terwyl ons ‘n lae profiel hou en glad nie vir die Here uitstaan nie. Miskien is hierdie laer ‘n kerk wat deur lae standaarde en vormgodsdiens gekenmerk word. Hier word jy as ‘n “Christen” aanvaar sonder dat jy ‘n kruis opneem en uitgaan om vir Jesus Christus te getuig en jou lig in ‘n donker wêreld te laat skyn. Ons moenie vir ‘n kosteberekening terugdeins en met ons passiewe en onvrugbare lewens voortgaan nie. Dit is tot oneer van die Here, en sal ook veroorsaak dat ons eendag met leë hande voor Hom verskyn.
Wanneer ons onsself aan die volle beheer van die Heilige Gees onderwerp en die Here begin dien, moet ons volharding aan die dag lê en nie die stryd gewonne gegee wanneer die pad moeilik raak nie. Christene wat terugval en van die Here af wegdryf, kan hulle genadeloon verbeur; daarom die ernstige vermaning: “Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ‘n volle loon ontvang” (2 Joh. 1:8; kyk ook Gal. 6:9).
Daar word vyf kategorieë van geloofswerke genoem woorvoor ons onsself in die diens van die Here kan beywer. Hiervoor sal daar voor die regterstoel van Christus krone aan die oorwinnaars toegeken word:
Daar is bepaalde reëls wat ons in die wedloop van die lewe moet eerbiedig indien ons oorwinnaars wil wees wat iets konkreets vir die saak van die Here bereik. Na analogie van atlete se toewyding het Paulus die volgende gesê:
Die atlete sorg dat hulle gesond bly, hulle rook of drink nie en eet reg. In die wedloop van die lewe moet jy jouself ook van alle skadelike [sondige] gewoontes weerhou wat jou vordering kan vertraag: “…laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê” (Heb. 12:1).
Toewyding van hierdie aard gaan met hartsreiniging en die vervulling met die Heilige Gees gepaard: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor. 7:1). Dit vereis selfdissipline, daarom oefen ek myself in die godsaligheid (1 Tim. 4:7) en kasty my liggaam om dit diensbaar te maak. Hiervoor sal ek ‘n onverwelklike kroon ontvang – nie, soos die atlete, net ‘n verwelklike lourierkrans en ‘n kort oomblik van glorie nie.
Daar is baie terreine in die koninkryk van die Here waarop ‘n Christen homself kan diensbaar maak. Behalwe diegene wat die woord fisies verkondig, is daar omvangryke ondersteuningsdienste nodig soos administrasie, finansiering, voorbidding, die voorsiening van hulpmiddels soos Bybels, Christelike leesstof, voertuie, kommunikasie-apparaat, ens. Elke persoon moet egter daarna streef om self ook die evangelie te verkondig, al is dit net deur persoonlike gesprekke of die verspreiding van boeke, Bybels en traktaatjies.
Heiligmaking is die sleutel tot diensbaarheid op verskeie ander terreine. Ons grootste taak is sekerlik om by evangelisasiewerk betrokke te wees – op watter wyse ook al – sodat siele gered kan word. In die koninkryk van die hemel “sal die verstandiges glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos” (Dan. 12:3). Salomo voeg hierby: “Hy wat siele win is wys” (Spr. 11:30).
Die Here sal sy diensknegte wat andere na Hom toe lei, beloon. Paulus het só na die gemeentelede in Thessalonika verwys wat onder sy bearbeiding en prediking tot bekering gekom het:
Die gemeentes van Christus moet versorg en opgebou word in die allerheiligste geloof. Die dissipels het opdrag gekry om nie net mense na die Here te lei en hulle te doop nie, maar om ook geestelike nasorg te doen: “…en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Matt. 28:19). Die herders moet self voorbeelde van ‘n heilige lewenswandel en godsvrug wees:
Hierdie werk moet op ‘n waardige en toegewyde wyse gedoen word, anders sal die gemeente geestelik stagneer en weens onkunde oor die Woord van die Here op dwaalweë beland. In die meeste gevalle kom dwalinge en verkeerde leringe van die herders self af. Só ‘n persoon is dan nie meer ‘n herder van die gemeente nie, maar ‘n wolf in skaapsklere wat verwoestingswerk doen. Paulus het ernstig teen hulle gewaarsku, want hulle verkondig nie die waarheid nie:
Die getroue herders sal vir hulle arbeid in die Here beloon word.
Miljoene Christenmartelare het al deur die eeue heen hulle lewe vir hulle geloof afgelê. In baie gevalle kon hulle hul lewens gespaar het deur die Here Jesus te verloën, maar hulle het nie – net die verraaiers het dit gedoen.
Die martelare weet van die belofte van die opstanding van die regverdiges, en van die ewige lewe daarna in die hemel. Dit is die rede waarom hulle te midde van verdrukking en doodsdreigemente “geen bevryding aanneem nie, om ‘n beter opstanding te kan verkry” (Heb. 11:35).
Die martelaarskroon sal ook aan Christene gegee word wat swaar toetse en beproewinge verduur het, en wat ten spyte daarvan blymoedige Christene was: “Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet” (Jak. 1:12).
Paulus het nie net vir hierdie lewe geleef nie, maar vir die toekomstige:
Hy het homself as ‘n vreemdeling en bywoner in die huidige wêreld beskou – as ‘n verbyganger op pad na sy ewige tuiste:
Om ‘n wederkomsgerigte lewe te ly, het die voordeel dat jou prioriteite altyd reg sal bly. Jy raak nooit só vasgevang in die verganklike dinge van die wêreld dat die belange van die ewigheid by jou verby sal gaan nie. Jy strek jou uit na dít wat voorlê, en maak in die proses vir jou skatte in die hemel bymekaar waar mot of roes nie verniel en waar diewe nie inbreek en steel nie. Waar ‘n mens se skat is, daar sal jou hart ook wees.
Die verlange na die verskyning van die Here Jesus spoor jou ook tot persoonlike heiligheid aan. “Laat jou klere altyd wit wees, en laat olie op jou hoof nie ontbreek nie” (Pred. 9:8). Ons moet onbevlek voor sy aangesig wandel, en deur ‘n vaste geloofsvertroue seker maak dat die salwing van die Heilige Gees altyd op ons lewens rus.
As ons waarlik die verskyning van die Here Jesus liefhet, sal dit ons voortdurend teen wêreldsgesindheid en wêreldgelykvormigheid bewaar. Ons sal hierdie bose wêreld nie as ons ewige tuiste beskou nie, maar uitsien na die hemelse stad wat die Here vir ons gaan berei het. Terwyl ons hier is, bevorder ons met alle ywer die koninkryk van Christus wat gaan kom, en skyn tot eer van sy Naam soos ligte in die wêreld. Maranáta!