Die Eeu-Oue Aanslag op Geloof

Prof Johan Malan, Middelburg (Augustus 2008)

‘n Bybelse geloof verwys na die essensiële geestelike band of verhouding tussen ‘n geredde persoon en God: “Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Heb. 11:6). As ons van harte in God glo, dan moet ons Hom erken en aanvaar vir wat Hy is, naamlik die almagtige, Drie-enige God wat alles geskape het en steeds sy skepping onderhou. Ons moet ook erken dat ons sondige wesens is wat net deur sy genade vergewe en vernuwe kan word. Ons moet dus ‘n saligmakende geloof in God hê, omdat die ewige lewe net deur sy Seun, Jesus Christus, geskenk word aan almal wat glo. Ná ons redding moet ons geloofsverhouding met die Here daagliks deur ons wandel in Hom, deur die bestudering van sy Woord en die navolging van die Heilige Gees, versterk word.

Dit sal ons niks baat as ons net verstandelik daartoe instem dat daar ‘n God is en dat Hy ook ‘n Seun het wat die Verlosser van die wêreld is nie, terwyl dit ons nie geestelik raak en ons lewe verander het nie. Die duiwels glo ook in die bestaan van die Here, en hulle sidder (Jak. 2:19). Ons moet ‘n lewende geloof hê waardeur ons die Here Jesus as Koning en Verlosser erken, eer en dien. Saam met Hom eer en dien ons ook God die Vader en God die Heilige Gees. Dit is ‘n ware geloof. Almal wat dit nie beoefen nie, word ongelowiges genoem in wie die valse god van hierdie wêreld [Satan] die sinne verblind het (2 Kor. 4:4). Selfs al glo sulke mense in afgode, word hulle uit God se oogpunt as ongelowiges beskou omdat hulle nie in die ware God glo nie.

Ongeloof beteken die verwerping van die Drie-enige God se posisie as Opperheerser en Verlosser. Die groot teëstander van God is Satan, wat aanvanklik as ‘n beeldskone engel, Lucifer, ‘n verhewe posisie in die hemel beklee het. Daar het egter hoogmoed in sy hart gekom en hy het homself ten koste van God begin verhef om uiteindelik in die plek van God oor die heelal te regeer. Hierdeur is sy geloof in God as Opperheerser verbreek en het hy ‘n vyand en teëstander van God geword. Deur sy optrede het hy ook die geloof van ‘n derde van die engele in die hemel vernietig, sodat hulle aan sy rebellie teen God deelgeneem het. Dit het van hulle ook teëstanders en lasteraars van God gemaak.

Lucifer is saam met sy groot gevolg van gevalle engele uit die hemel gegooi en hulle het van die ruimtes rondom die aarde hulle tuiste gemaak. As hoof van die opponerende koninkryk van die duisternis was dit sedertdien Satan se groot doel om verwoestingswerk in God se skepping te doen en wanorde te skep waar daar vroeër orde was. Dit is die enigste voor-die-hand-liggende verklaring waarom die toenmalige aarde woes en leeg was en in duisternis gehul (vgl. 2 Pet. 3:6). Op die eerste dag van die skepping van die teenswoordige aarde (vgl. 2 Pet. 3:7) het die Here lig geskape om die duisternis te verdryf. Op die sesde dag het God se skeppingswerk sy hoogtepunt bereik toe die mens na sy beeld geskape is.

Daarna sou Satan en sy ryk voortgaan om deur hulle handlangers verwoestingswerk in die natuurlike aarde te doen, maar sy grootste teiken sou die mens wees wat na die beeld van God geskape is. Hy probeer met alle mag voorkom dat die gebroke beeld van God in die gevalle mens deur bekering en ‘n geloofsverhouding met God herstel word. Wanneer daar wél ‘n geloofsband tussen mense en God bestaan, val hy dit deur middel van geestelike misleiding en negatiewe ervarings aan, sodat mense nie meer in die Here moet glo en Hom dien nie. Hy het groot welslae met hierdie pogings behaal, tot só ‘n mate dat al die bedelings in die mens se heilsgeskiedenis dusver in grootskaalse ongeloof geëindig het. Volgens Bybelse profesieë sal die toekomstige bedelings ook in groot ongeloof onder die meerderheid van die mensdom eindig. Die sewe bedelings is die volgende:

1. Die bedeling van onskuld in die Tuin van Eden. Adam en Eva het geen kennis van kwaad gehad nie. Hulle het in die tuin gewandel, geglo wat God vir hulle gesê het en ‘n gespreksverhouding met Hom gehad. Satan het egter op ‘n listige manier op hulle toegeslaan. Hy het homself as ‘n slang vermom en die saad van ongeloof in hulle harte gesaai. Die Here het vir hulle gesê dat hulle nie van die boom van die kennis van goed en kwaad mag eet nie, en dat indien hulle dit doen, hulle sekerlik sou sterwe (Gen. 2:17). Satan het vir Eva mislei deur te sê dat hulle gewis nie sou sterwe as hulle van die vrugte eet nie, maar soos God sou wees. Dit is die twee groot leuens wat hy vandag nog verkondig, veral in die Nuwe Era Beweging: die mens moet homself vergoddelik en ook glo dat hy onsterflik is omdat hy altyd weer in ‘n nuwe lewensiklus na die lewendes toe terug sal keer (reïnkarnasie).

Hierdie misleiding het verreikende gevolge gehad, want Adam en Eva se geloofsband met God wat die gewer van alle lewe is, is verbreek. Hulle het onmiddellik geestelik gesterf en ook biologies sterflike mense geword. In plaas van gehoorsaamheid aan God het hulle aan ‘n vreemde god, die duiwel, gehoorsaam geword. Dit het aan hulle ‘n gevalle natuur besorg wat ook deur al hulle afstammelinge geërf is (Rom. 5:12). Dit is die erfsonde en lei steeds daartoe dat alle mense as sondaars gebore word. As hulle nie deur Jesus Christus lewend gemaak word nie, leef hulle onder die heerskappy van die god van hierdie wêreld en stuur op die ewige dood af (Rom. 5:13-19). Hulle bly onder God se oordeel.

Adam en Eva is weens hulle ongeloof uit die Tuin van Eden verdryf. Só het die bedeling van onskuld in ‘n tragedie vir die hele mensdom geëindig.

2. Die bedeling van die gewete. Die Here het dit vir die gevalle mensdom moontlik gemaak om deur hulle gewete tussen goed en kwaad te kan onderskei. Hulle kon deur gebed en offers met God kommunikeer en dus weer ‘n verhouding met Hom opbou. Keuses kon tussen regte en verkeerde lewenstyle gemaak word. Die Here het vir Kain gesê: “Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie – die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jý moet daaroor heers” (Gen. 4:7). Die neiging tot sonde het egter sodanig die oorhand gekry dat die hele mensdom, behalwe net vir Noag en sy gesin, in totale ongeloof en goddeloosheid verval het. “Die boosheid van die mens op die aarde was groot en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg” (Gen. 6:5). Hulle het voortdurende vyande van God geword en deur hulle uiterste boosheid die toorn van God uitgelok. Hulle het selfs met Noag se profetiese waarskuwings die spot gedryf en sodoende hulle harte verder verhard.

Die ongeloof en verdorwenheid waarmee hierdie bedeling geëindig het, het tot ‘n groot ingryping deur God gelei waarin Hy sy toorn oor die sondaars uitgegiet en almal van hulle verdelg het: “En God sê vir Noag: Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld. En kyk, Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg. Maak vir jou ‘n ark” (Gen. 6:13-14).  Reeds in hierdie vroeë stadium van die menslike geskiedenis was dit duidelik dat God nie die regverdiges saam met die sondaars oordeel nie, want Noag en sy gesin het die rampe ontvlug.

3. Die bedeling van menslike regering ná die vloed. In hierdie stadium van die wêreldgeskiedenis het volke met onafhanklike regerings tot stand gekom. Hulle het die keuse gehad of hulle die Here wou dien of nie. Hulle het egter almal heidense nasies geword wat afgode aanbid het. Tydens die bou van die toring van Babel het hulle probeer om ‘n heidense wêreldregering onder die beheer van ‘n selfvergoddelikte koning te vestig. Die Here het hierdie poging deur die taalverwarring verydel, maar die verskillende volke het steeds met hulle afgodery en ongeloof in die ware God voortgegaan.

Die Here het Homself in hierdie geestelik donker situasie laat geld deur vir Homself ‘n volk uit die heidendom te roep en af te sonder. Dit was Israel. Hierdie volk is deur ‘n groot droogte gedwing om Egipte toe te trek waar hulle die slawe van die heidense Egiptenare geword en self geestelik grootliks verval het. Nêrens in die bewoonde wêreld was daar ‘n groep mense oor wat in die Here geglo en Hom gedien het nie.

4. Die bedeling van die wet. Die Here het ‘n nuwe bedeling begin deur Israel uit Egipte te verlos sodat hulle Hom as ‘n afgesonderde en onafhanklike volk in die Beloofde Land kon dien. Hy het aan hulle sy wet gegee en deur middel van die priesters se diens in die tabernakel was Hy in sy volk se midde om hulle te seën en te lei. Hy het streng voorskrifte aan Israel gegee om nie met die heidennasies te meng en hulleself sodoende deur die verering van afgode te besoedel nie.

Israel se lang geskiedenis in die Ou Testament is egter hoofsaaklik deur geestelike afvalligheid, ongehoorsaamheid aan die wet, ongeloof in die ware God en die aanbidding van afgode gekenmerk. Die Here het hulle dikwels aan hulle vyande oorgegee, en in een stadium vir 70 jaar lank as ballinge na Babilonië laat wegvoer. Telkens het die goddeloosheid maar weer die oorhand gekry, en het hulle soms die profete van die Here verdryf of doodgemaak. Die gevolg hiervan was dat die Here ná Maleági vir 400 jaar nie weer ‘n profeet na Israel gestuur het nie. Die volk van God het in geestelike duisternis en ongeloof verval.

5. Die bedeling van die kerk. Met die geboorte van die Messias het ‘n groot lig oor die volk geskyn wat in geestelike duisternis wandel. “Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld. Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie. Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie” (Joh. 1:9-11). In die Nuwe Testament het daar ‘n groot openbaring van God en sy koninkryk deur die koms van Jesus Christus na die aarde plaasgevind, asook deur die uitstorting van die Heilige Gees. Deur die prediking van die evangelie en die werking van die Heilige Gees het baie mense tot geloof in Christus gekom. As gevolg van Israel se ongeloof in die Messias het die opdrag gekom om die evangelie onder alle nasies te verkondig, van Jerusalem af en verder. Só het die wêreldwye kerk van Christus gestalte aangeneem.

Saam met die groter openbaring van God se koninkryk in die Nuwe Testament het daar ook aansienlik meer kennis van Satan se koninkryk gekom. Die stryd tussen hierdie twee koninkryke het ‘n nuwe dimensie aangeneem omdat die Bose alles in die stryd gewerp het om mense daarvan te weerhou om geloof in Christus as hulle Verlosser te stel. Diegene wat Christus reeds bely het, se geloof is aangeval in ‘n poging om dit te vervals, te verswak of selfs te vernietig. Daar moes aktief teen Satan en sy ondermynende werke weerstand gebied word.

Sommige gelowiges het dit nie gedoen nie, en ‘n duur prys hiervoor betaal. Paulus sê vir die Korinthiërs: “Ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Kor. 11:3-4). Die Galásiërs het ook van ‘n ware geloof afgewyk deur terselfdertyd onder die genade én onder die wet te probeer leef. Hulle het benewens geloof in Christus ook nog hulleself laat besny en die Joodse sabbat onderhou. Paulus het gesê: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 5:4). Hy het homself baie sterk hierteen uitgespreek en gesê dat iemand wat ‘n valse evangelie verkondig, ‘n vervloeking is (Gal. 1:8).

Paulus het uit eie ervaring besef dat die Christene se geloof meedoënloos deur die duiwel aangeval word. As hulle nie hierteen weerstand bied nie, kan dit verwoestende gevolge in hulle lewe hê. Hy het vir Timotheus gesê dat hy “aan die geloof en ‘n goeie gewete [moet] vashou. Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely” (1 Tim. 1:19). Hulle het nie die geloof behou nie.

As gevolg van grootskaalse misleiding het die vroeë Christelike kerk gou ontrou teenoor die Here geword en in verskillende dwalings verval (vgl. Op. 2 & 3). Dit het daartoe gelei dat die lig van die evangelie grootliks uitgedoof geraak het in die wêreld en op die duisend jaar van die Donker Middeleeue uitgeloop het. Daar word soms na hierdie duisend jaar as Satan se millennium verwys omdat geestelike dwalings so oorheersend was. In dié tyd was daar net klein groepies vervolgde Christene soos die Waldensers in Italië, wat in die berge en in grotte teen die sogenaamde ‘heilige leërs’ van die Vatikaan skuiling moes soek.

Ná die Kerkhervorming in die 16de eeu is die gebruik van ‘n staatskerk wat andersdenkes vervolg en selfs laat teregstel het, ook deur sekere van die Protestantse kerke voortgesit. Die ware Christene het ook onder hulle gely. Daar was eers in die 18de en 19de eeue groot herlewings waarin sendelinge opgewek is wat die evangelie oral in die wêreld uitgedra het. Die 20ste eeu was egter die eeu van grootskaalse geestelike verval in die wêreld – nie net as gevolg van materialisme en humanistiese denke nie, maar as gevolg van die vinnige verspreiding van valse leerstellings. Hierdie verval is nou besig om reuse afmetings aan te neem. Sommige daarvan, soos in die Word of Faith-beweging, word in die naam van die Heilige Gees verkondig en in die proses word talle vreemde manifestasies aan die Heilige Gees verbind. Dit is met die oog hierop dat die Heilige Gees self teen hierdie ernstige, eindtydse dwalings waarsku en dit as werke van die duiwel openbaar: “Die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1).

Behalwe leerstellige dwalings kan geloofsverval ook deur sonde in mense se lewens veroorsaak word. “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (Heb. 3:12-13).

Wanneer daar om watter rede ook al verval in ‘n gemeente intree, dan raak hulle van die Here Jesus en sy liefde vervreem. Hy sê vir só ‘n gemeente: “Ek het dit teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Op. 2:4-5). Die Here Jesus het sy dissipels lank gelede al teen die gevolge van verval gewaarsku: “Bly in My, soos Ek in julle... As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur” (Joh. 15:4,6).

In die lig van die grootskaalse geloofsverval wat die Bybel vir die eindtyd voorspel, is dit duidelik dat die wêreld op ‘n herhaling afstuur van dit wat in die vorige bedelings gebeur het. Die Here Jesus het gewaarsku dat dit kort voor sy wederkoms weer soos die tyd van Noag en Lot sal wees (Luk. 17:26-30). In daardie tyd was die ware gelowiges só ‘n klein minderheid dat hulle glad nie die karakter van die samelewing bepaal het nie en ook niks aan die toenemende boosheid kon doen nie. Die Here het toe gesorg dat die klein groepie gelowiges in ‘n plek van veiligheid gestel word, waarna Hy die meerderheid ongelowiges geoordeel het.

Ons is in dieselfde situasie, en evangeliese Christene kan nie meer hulle stempel op die samelewing afdruk nie. Die gevolg is dat Christelike grondwette, Christelike onderwys, Christelike moraliteit en Bybelse regspraak met gepaste strawwe vir misdadigers, alles verdwynende verskynsels is. In die plek daarvan kom normloosheid, bandeloosheid, korrupsie, gewelddadigheid en verdorwe lewenspatrone soos wat die wêreld nog nooit geken het nie – selfs erger as in die tyd van Noag en Lot. In ons geval gaan die Here ook die klein groepie ware gelowiges wegneem – hierdie keer deur middel van die wegraping – en dan die goddeloses in die verdrukking oordeel.

6. Bedeling van die Antichris se regering. Direk ná die wegraping sal die Antichris geopenbaar word, dan begin die bedeling van sy sewe jaar lange regering op aarde. Reg aan die begin daarvan sal daar geen gelowiges wees nie, wat daartoe sal lei dat die hele wêreld verwonderd agter die dier aan sal gaan en hom ook sal aanbid. Daar sal egter spoedig 144 000 Jode gered word, en deur hulle bediening ook baie ander mense op aarde (Op. 7:1-17). Die Antichris sal egter spesiaal deur Satan bemagtig word om die koninkryk van die duisternis op alle mense af te dwing. Hy sal diegene laat doodmaak wat weier om hom te aanbid en sy nommer te ontvang (Op. 13:15; 20:4). Volgens Op. 6:9-11 sal alle Christene in dié tyd ‘n marteldood sterf. Dit is met die oog hierop dat die Here Jesus gevra het: “As die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Luk. 18:8).

Hierdie bedeling sal nie net in wêreldwye ongeloof eindig nie, maar ook in ‘n demonies-geïnspireerde poging om Christus tydens sy wederkoms dood te maak. Satan weet dat Jesus ná die sewe jaar van verdrukking terugkom aarde toe en sy voete op die Olyfberg sal sit. Demone sal uitgestuur word om al die nasies in die Antichris se ryk vir hierdie konfrontasie te mobiliseer. Johannes sê: “En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom. Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God... En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon” (Op. 16:13-16). Hulle groot doel met hierdie saamtrekking word ook beskryf: “En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand” (Op. 19:19-20).

7. Bedeling van die vrederyk. Jesus Christus sal na die aarde terugkeer om sy vyande wat onder die leiding van die Antichris en die valse profeet versamel is, te oordeel en ook Satan vir 1000 jaar in ‘n put te laat bind (Op. 19:19–20:3). By daardie geleentheid sal Hy die oorblyfsel van Israel en die nasies red omdat hulle bitter berou sal hê oor hulle groot sonde deur Hom nie in geloof as die Verlosser van die wêreld aan te neem nie: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:29-30; vgl. Sag. 12:10-11).

Die Here Jesus sal van die herstelde troon van Dawid af uit Jerusalem oor die hele aarde regeer (Hand. 15:16-17; Op. 19:15). Sy heiliges sal ook in hierdie regering deel deur saam met Hom as konings te regeer (Op 2:26-27; 20:4). Die geredde Israel sal die Here se spesiale getuies wees wat in hierdie bedeling die wêreld sal evangeliseer (Jes. 27:6). Hulle sal by almal in aansien wees (Sag. 8:23). Hoewel die eerste geslag mense ná Christus se wederkoms almal gered sal wees, sal hulle kinders steeds met ‘n sondige natuur gebore word en dus geëvangeliseer moet word.

So verbasend en onwaarskynlik as wat dit ook al mag voorkom, sal vormgodsdiens mettertyd in die vrederyk intree en na grootskaalse ongeloof lei. Dit sal die regstreekse gevolg wees van die feit dat mense nie waarlik weergebore is en hulle ou, sondige natuur gekruisig het nie. Die duiwel as die verleier van die wêreld (vgl. Op. 12:9; 20:3), sowel as al sy bose geeste, sal nie daar wees om die mensdom te verlei nie, daarom sal hulle nie aktiewe dade van rebellie teen God pleeg nie. Hulle sal die voordele en voorregte van daardie besondere tyd in die wêreldgeskiedenis geniet, maar nogtans potensiële slagoffers van die duiwel wees die oomblik wanneer hy die geleentheid kry om hulle te verlei.

Wanneer Satan ná die 100 jaar uit die put losgelaat word om die mensdom te toets en die verborge gesindhede van hulle harte te openbaar, sal die meeste van hulle onmiddellik in sy mag val en aan die laaste groot rebellie teen God en sy koninkryk deelneem: “En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind. En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid” (Op. 20:7-10).

Gevolgtrekking: Uit al die voorbeelde van geloofsverval deur die eeue heen leer ons dat die ware gelowiges altyd ‘n klein minderheid was. Daar is ook vandag baie mense wat graag op die smal pad wil wees, maar nie daarin slaag om deur die nou poort in te gaan nie. Die Here Jesus het gesê: “Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie” (Luk. 13:24). Baie mense probeer om Christene te word sonder om met hul sondes te breek. Dit is onmoontlik om met ‘n bagasie van onbelyde sondes deur die nou poort in te gaan.

Bely al jou sondes en breek daarmee, dan sal jy deur die nou poort van ‘n ware bekering kan ingaan. Wanneer jy dit gedoen het, moet jy ook na die tweede genadewerk van heiligmaking soek. Dit sal jou in staat stel om op die pad van die Here te volhard en diensbaar in sy koninkryk te wees. Die Here wil nie net van ons gelowiges met ‘n getuienis van redding maak nie, maar bruikbare diensknegte in sy koninkryk. Hiervoor is dit nodig om opgebou te word in die allerheiligste geloof. Dan alleen sal ons enduit staande kan bly terwyl ons die goeie stryd van die geloof stry (1 Tim. 6:12).

In Judas 1:3 het ons die opdrag om “kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.” Die heiliges is diegene wat hulleself uit hierdie verdorwe wêreld tot God bekeer, ‘n geloofsverhouding met Hom aanknoop, sy vergifnis en vryspraak aanvaar en daarna deur die geloof sy weg van geregtigheid bewandel. Satan val alle gelowiges geweldig aan – nie net in hulle persoonlike lewe nie, maar ook in hulle pogings om ander mense te oorreed om uit die koninkryk van die duisternis na die Here se wonderbare lig oor te kom. Hierdie aanvalle het deur die eeue heen voortgeduur, en word in die eindtyd hewiger omdat net ‘n ware geloof sal verhoed dat mense die Antichris as universele messias sal aanvaar en aanbid. Ons moet teen hierdie aanslag weerstand bied en te midde van groot verval rondom ons kragtig vir die ware geloof stry. Lees in Hebreërs 11 die beskrywing van geloofshelde wat in Ou Testamentiese tye groot dinge vir God se koninkryk bereik het. Moet nooit eers oorweeg om saam met die baie misleide mense van ons tyd van die geloof afvallig te raak nie.

Ons moet in die Here Jesus vas staan terwyl ons in die God-verwerpende wêreld waarin ons leef, moet skyn soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag. Moenie jou oë op die troebel waters vestig waardeur jy jou weg moet vind nie, maar hou jou oë op die Here Jesus wat die Leidsman en Voleinder van ons geloof is. Hy het gesê: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings... Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh. 14:1-3). Ons moet deur die vaste belofte van ons ewige tuiste in die hemel gemotiveer en in ons geloof versterk word.

Weens die eindtydse verskyning en totale oorname van die Antichris as die groot ongelowige en mens van sonde, is daar nie vir ware Christene enige bestaansreg op aarde tydens sy bewind nie. Ons sal deur die Here weggeneem word, en eers later saam met Christus terugkeer wanneer die Antichris en sy magte by die slag van Armageddon verdelg sal word.