Die Laaste Geslag

Johan Malan, Universiteit van die Noorde

Opsomming: Christus het in sy profetiese rede na die laaste geslag voor sy wederkoms verwys. Waar begin en eindig hierdie geslag, en hoe vergelyk dit met ander geslagte?

Een van die belangrikste profesieë oor die eindtyd het die afgelope aantal dekades voor ons oë in vervulling gegaan, naamlik die herstel van die volk Israel na die land wat die Here met ‘n eed aan hulle vaders beloof het. Hierdeur word die betroubaarheid en letterlike vervulling van God se beloftes aan Israel bo enige twyfel bewys, en daarmee saam die absolute geloofwaardigheid van die hele Bybel as God se geïnspireerde Woord. Terselfdertyd is die herstel van Israel, en meer spesifiek die herstel van Jerusalem as Israel se hoofstad, vir ons ‘n teken dat die kerkdispensasie na sy einde spoed omdat ons in die laaste geslag voor die wederkoms van Jesus Christus leef.

Daar is drie uitstaande reekse gebeurtenisse in Israel se vierduisend jaar lange bestaan waaraan baie aandag in die Bybel geskenk word, naamlik hulle vestiging in die Beloofde Land, hulle internasionale verstrooiing weens ongeloof, en hulle eindtydse herstel met die oog op die loutering en geestelike lewendmaking van ‘n oorblyfsel in Israel. Elkeen van hierdie belangrike gebeurtenisse vind binne die raamwerk van ‘n geslag plaas en verteenwoordig ingrypende veranderings in hulle volksbestaan. ‘n Groot deel van die Bybel handel oor Israel omdat hulle in ‘n baie besondere sin die volk van God is. Hy het hulle geroep en vir sy diens afgesonder, hulle weens hul voortgesette ongehoorsaamheid onder die nasies verstrooi, en dit is dieselfde, onveranderlike verbondsgod van Abraham, Isak en Jakob wat die volk in die eindtyd weer in die land van hulle vaders herstel.

Ten einde die regte Bybelse beeld van ’n geslag te verkry, sal ons na die vervulling van die eerste twee van hierdie geslagte moet kyk, en in die lig daarvan die verloop van die laaste geslag beoordeel.

Die begrip “geslag”

Die begrip “geslag” dui in die oorspronklike tale dikwels ‘n groep mense aan – ‘n familie, stam, volk of verskeie ander groepe, bv. ‘n bose en ongelowige geslag mense (Luk. 11:29). In ander gevalle het dit op ’n bepaalde generasie binne só ‘n groep betrekking. In hierdie sin is daar ‘n chronologie, of opeenvolging, van geslagte soos wat die ouer geslagte deur jonger geslagte opgevolg word. Dit is in hierdie verband dat daar in Mattheus 1:17 staan: “Al die geslagte van Abraham tot Dawid is 14 geslagte.” In dieselfde volk is daar dus baie geslagte mense, afhangende van hoe oud die volk is. Hierdie geslagte oorvleuel mekaar omdat die ou en jong geslag in enige samelewing vir ‘n sekere aantal jare saam bestaan. Wanneer dus histories na geslagte verwys word, word daar net sowat ‘n 40-jaar periode aan elkeen gekoppel, wat die volwasse jare van daardie geslag is. In die Bybel is dit in baie gevalle juis net die volwasse geslag wat aangespreek word, omdat hulle deur die Here vir hul besluite en dade verantwoordelik gehou word.

Wanneer daar egter na die hele leeftyd van ‘n geslag sedert geboorte gekyk word, word ‘n tydperk van omtrent 70 jaar bedoel (Ps. 90:10). ‘n Volwasse geslag, daarenteen, verteenwoordig ‘n tydperk van omtrent 40 jaar tussen die ouderdomme van 30 en 70 jaar. Tydens Israel se uittog uit Egipte is volwassenheid op 20-jarige ouderdom bereik, toe jongmanne militêr dienspligtig was en op kommando moes uittrek (Num. 26:2,4). Later, in die woestyn, is ’n ouderdomsperk van 30 vir diensplig as priesters ingestel (Num. 4:3). Dit het uiteindelik ook staatkundige betekenis gekry toe Israel deur ’n raad van godsdiensleiers regeer is. Hulle moes 30 jaar oud wees voordat hulle as priesters en politieke leiers kon optree. Jesus moes as Jood ook hierdie reël eerbiedig voordat Hy met sy openbare bediening as ’n profeet en geestelike leier kon begin (Luk. 3:23).

Binne die chronologiese verloop van tyd is daar dus verskeie geslagte wat mekaar opvolg. Die 28 geslagte van Dawid af tot by Jesus (Matt. 1:17) strek vanaf 1042 v.C. tot in die jaar 32 n.C., en werk op ’n gemiddeld van 38.4 jaar per geslag uit.

Dit is binne die verband van sulke chronologiese geslagte dat hoogtepunte in Israel se nasionale lewe bespreek word, asook die begin en die einde van die Christelike bedeling. Dit sou hoogs onrealisties wees om hierdie geslagte slegs as “die volk Israel” te vertaal, want dit sou geen aanduiding van ’n tyd wees, waarvan die Bybel sê dat dit nie sou verbygaan voordat sekere profesieë vervul is nie. Israel se voortbestaan was, ten spyte van die volk se internasionale verstrooiing, nooit in die gedrang nie (Lev. 26:44-45; Jer. 46:28).

Die eerste geslag: volksplanting

Die volwasse geslag wat uit Egipte na die Beloofde Land gelei is, was 20 jaar of ouer. Die beginpunt van dié geslag is dus 20 jaar voor die uittog, gevolg deur die 40 jaar van omswerwinge in die woestyn. Slegs twee lede van die geslag wat as volwassenes deur die woestyn geswerf het, het geleef om die sewe jaar van oorloë om Kanaän in besit te neem, mee te maak. Hulle was Josua en Kaleb.

Josua sê dat hy 40 jaar oud was toe hy as een van die verspieders deur Moses van Kades af gestuur is, m.a.w. hy was 38 tydens die uittog uit Egipte. Op 85-jarige ouderdom (40 plus 7 jaar ná die uittog) het hy die Beloofde Land onder die stamme van Israel verdeel (Jos. 14:7,10). In totaal het daar dus 67 jaar verloop vandat die geslag wat bevry is, in Egipte gebore is, totdat die land aan hulle toegeken is. Indien die volwasse geslag wat in die woestyn gesterf het, nie in ongehoorsaamheid verval en meesal aan onnatuurlike oorsake gesterf het nie, sou baie van hulle die land saam met Josua en Kaleb beërf het (Num. 32:11-13).

In die geval van Israel se volksplanting, het die Here nie die hele volk in die woestyn laat sterf nie, maar slegs die volwasse geslag wat Egipte verlaat het. Hulle is vir hul dade van geestelike afvalligheid en murmurering teenoor die Here aanspreeklik gehou (Num. 32:11).

Die tweede geslag: internaionale verstrooiing

Die volksleiers wat in 32 n.C. deur die Here Jesus aangespreek is, was die volwasse geslag van 30 jaar en ouer. Hierdie geslag het dus in die jaar 2 n.C. begin. Binne hulle totale leeftyd van 70 jaar, of binne hulle volwasse lewe van 40 jaar, sou die vernietiging van Jerusalem en die verstrooiing van sy inwoners plaasvind (Matt. 23: 35-38). Dit het inderdaad in die jaar 70 n.C. gebeur, 68 jaar ná die geboorte van die betrokke geslag en 38 jaar nadat Jesus met die volwasse geslag in gesprek was. Hy het vir sy Joodse tydgenote gesê dat die vernietiging van Jerusalem en die begin van die volk se internasionale verstrooiing in hulle leeftyd sou plaasvind.

In Mattheus 23 is die Messias direk met die afvallige volksleiers in gesprek oor die feit dat hulle Hom én al die ander gesante van God wat voor Hom gekom het, verwerp het: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle bou die grafte van die profete en versier die grafstene van die regverdiges… Maak die maat van julle vaders dan vol! Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug? Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg, sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaria, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar. Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom. Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Matt. 23:29-38).

Jerusalem is in 70 n.C. verwoes. Tydens die daaropvolgende twee jaar is duisende Joodse krygsgevangenes weggevoer en baie van hulle as slawe in ander lande verkoop. Hulle kon toe terugdink hoe merkwaardig en absoluut letterlik elke woord vervul is wat die Messias 40 jaar vroeër, pas voor sy verwerping en kruisiging, aan hulle en hul vaders (die vorige geslag) gerig het.

Die laaste geslag: eindtydse herstel

Die eindtydse geslag kan ook binne sy totale verloop van 70 jaar bekyk word, of binne die verband van die 40 jaar van die volwasse geslag. Die begin van die laaste geslag het met die geboorte van die moderne staat van Israel in Mei 1948 saamgeval. Dié geslag sal dus 70 jaar later in 2018 ten einde loop. Teen 1980, toe Jerusalem tot die ewige en onverdeelbare hoofstad van Israel verklaar is, was hierdie geslag wat in 1948 begin het, volwasse (m.a.w. 30 jaar of ouer). Van hierdie oomblik af, toe Israel ook sy staakundige en godsdienstige volwassenheid bereik het, het die aftelling van ‘n volwasse geslag van 40 jaar begin. Die Here Jesus het van hierdie geslag gesê dat dit sekerlik nie sou verbygaan voordat alles, insluitendei die verdrukking van sewe jaar, plaasgevind het nie (Luk. 21:32; Matt. 24:34).

Dit is belangrik om te begryp dat die tye van die nasies tussen die vernietiging van Jerusalem en die herstel van Jerusalem plaasvind: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Die stad is in die jaar 70 n.C. vernietig. Wat die herstel van die stad betref, moet in gedagte gehou word dat met die onafhanklikheidswording van Israel in 1948 hulle nie beheer oor Bybelse Jerusalem (die Ou Stad) gehad het nie, omdat dit toe nog onder Jordaniese beheer was. Die Ou Stad en die aangrensende Wesbankgebied is eers in die Sesdaagse Oorlog in 1967 verower. In Augustus 1980 het die destydse premier, mnr. Menachem Begin, Jerusalem tot die ewige en onverdeelbare hoofstad van Israel verklaar en dadelik sy kantoor daarheen verskuif. Tot in daardie stadium was Tel Aviv die administratiewe hoofstad van Israel. In 1980 was Jerusalem vir die eerste keer sedert die Babiloniese ballingskap in 586 v.C. die hoofstad van ‘n onafhanklike Israel, en het hulle vlag, die Ster van Dawid, oor die stad gewapper. In die tyd van Jesus was Jerusalem deel van die Romeinse Ryk en het ‘n Romeinse goewerneur die oppergesag oor die stad én Judea gehad.

‘n Verdere belangrike feit in verband met die eerste en laaste geslag van die Christelike bedeling tussen die eerste en tweede koms van Christus, is dat daar in hierdie twee geslagte ‘n naasbestaan tussen Israel en die kerk is. Hierdie twee geslagte val saam met die geslagte van Israel se verstrooiing en herstel. Uit die aard van die saak het die kerkbedeling nie met die vernietiging van Jerusalem in jaar 70 begin nie, maar in die jaar 32 tydens die gebeure rondom die kruisiging en opstanding van die Here Jesus, asook sy hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees. In die eerste geslag het die kerk en Israel dus saam bestaan. Dit was egter ‘n transisionele fase, want die kerk was geleidelik besig om onder alle nasies ingefaseer te word, terwyl die skrif vir Israel as volk aan die muur was om weens hulle ongeloof deur die vernietiging van Jerusalem en die aanbreek van die diaspora uitgefaseer te word.

Ons is in die laaste geslag ook in ‘n oorgangsfase waarin die kerk en Israel saam bestaan. Israel is besig om ingefaseer te word met die oog op hulle loutering tot redding sodat hulle hul volle, Bybelse posisie aan die einde van hierdie geslag as die volk van die Messias kan inneem. In dieselfde tyd spoed die kerkbedeling na sy einde en moet die kerk homself gereed maak om nog voor die einde van hierdie geslag deur middel van die wegraping uitgefaseer te word.

‘n Verdere aanduiding wat ons van die laaste geslag het, is die feit dat die laaste sewe jaar van die geslag, wat eers ná die wegraping sal verloop, met Israel se jaarweke sal saamval. Daar word dikwels van ’n week van sewe jaar, of van ’n halwe week van 42 maande (1260 dae) gepraat (Dan. 9:27; Op. 11:3; 13:5). Dit mag dus wees dat die jaarweek van die Antichris se bewind met ’n jaarweeksiklus van Israel sal saamval, vandaar die stelling dat hy vir een week lank ’n sterk verbond met baie nasies sal sluit, en spesifiek ook met Israel (Dan. 9:27; Joh. 5:43).

Israel se huidige jaarweek het in September 2001 begin, dus sal die volgende jaarweeksiklus met die Rosh Hashanah in September 2008 begin en in September 2015 ten einde loop. Die jaarweek wat daarna volg, sal van 2015 tot 2022 verloop, wat verby die einde van die huidige geslag sal strek. Daar kan dus met meer as net gewone belangstelling na die begin van die volgende jaarweek gekyk word. Indien dit profeties as die tyd van benoudheid vir Jakob in vervulling gaan, sal dit beteken dat die laaste geslag vanaf sy begin in 1948, oor 67 jaar tot in 2015 sal strek. Dit sal dieselfde as die 67 jaar van die geslag tydens die uittog en baie naby aan die 68 jaar van die geslag tydens Israel se internasionale verstrooiing wees.

Hierdie datums bly egter net moontlikhede omdat ons, wat hierdie sake betref, net ten dele ken. Die feit dat die Here Jesus baie duidelik met ons oor ’n laaste geslag voor sy wederkoms gepraat het, plaas ’n verpligting op ons om ten minste die raamwerk en verloop van hierdie geslag in ag te neem, al weet ons ook nie presies hoe lank voor die einde daarvan Hy sal kom om sy bruidsgemeente te kom haal nie.