Prof. Johan Malan. Universiteit van die Noorde
Elke ware kind van God (jonk of oud, manlik of vroulik, geleerd of ongeleerd, ryk of arm, leraar, evangelis of net ‘n gewone gelowige) word tot heiligmaking geroep sodat hy of sy gereinig en geestelik toegerus kan word om ‘n getuie te wees deur wie die Here die wêreld kan aanspreek (Hand. 1:8). Jou lewenswyse, jou houding, jou gesprekke en jou optrede moet die boodskap van die Here Jesus se liefde en reddende genade uitstraal. Mense moet onteenseglik in jou lewe kan sien dat die Here jou nuut gemaak het. Jy moet ook ‘n verkondiger van die boodskap wees dat Jesus Christus die enigste Verlosser van die wêreld is. Paulus sê aan die gemeente: “Julle is ‘n brief… geken en gelees deur alle mense omdat julle duidelik ‘n brief van Christus is… geskrywe nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op die vleestafels van die hart” (2 Kor. 3:2-3).
Of jy daarvan hou of nie, die wêreld kyk na jou lewe as jy daarop aanspraak maak om ‘n Christen te wees. Jy ís ‘n brief wat deur ander gelees word. Dit is tot die eer van die Here, én beslis ook in jou eie belang, dat jy baie seker moet maak dat jy nie net ‘n vormgodsdienstige is nie – ‘n onweergebore naamchristen wat net ‘n gedaante van godsaligheid het en ondanks jou beste pogings besig is om ander mense geestelik te mislei (2 Tim. 3:5).
Tweedens moet jy seker maak dat jy nie ‘n vleeslike Christen is wat wél ‘n getuienis van redding het, maar nog steeds onder die mag van die ongekruisigde vlees lewe en dus die selfsugtige, afstootlike en ondermynende werke van die vlees doen nie (1 Kor. 3:1-3; Gal. 5:17). Só ‘n persoon probeer wél om ‘n beeld van Christenskap uit te dra, maar is terselfdertyd op eer, rykdom en die grootsheid van die lewe ingestel.
Sommige van die Here Jesus se dissipels het in ‘n stadium, voor die vervulling met die Heilige Gees, aan die kwaal van geestelike hoogmoed gely. Christus het dit net daar in die kiem gesmoor: “Elkeen wat onder julle eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie” (Matt. 20:27-28). ‘n Vleeslike Christen lei ‘n lewe van val en opstaan en dra dus ‘n teenstrydige boodskap aan die wêreld uit. Al probeer jy ook hoe hard, jy sal nooit regtig weet waar jy met só ‘n persoon staan nie. Hoe meer jy te wete kom, hoe groter en meer onverklaarbaar raak die teenstrydighede. Voordat die oplossing van ‘n volle oorgawe, hartsreiniging en vervulling met die Heilige Gees gevolg is, sal dié probleem nie vanself regkom nie (Luk. 9:23; Gal. 6:14; Ef. 4:22-24).
Eers wanneer die Heilige Gees volle beheer oor jou lewe verkry het en die woorde van God as lewensreëls op die tafels van jou hart gegrafeer is, kan jou lewe ‘n brief van Christus wees wat die wêreld sal aanspreek. Jy sal gou agterkom dat die krag van die Here in swakheid volbring word, dat jy met veel vrees, bewing en die bewussyn van jou eie onwaardigheid sal preek, maar dat die Here se seën ryklik op jou en jou bediening sal rus. Jou prediking sal nie oorredende woorde van menslike wysheid wees nie, maar die in die betoning van Gees en krag (1 Kor. 2:4).
Die ware profete van God het nog nooit met die wêreld gekompeteer om te kyk wie die populêrste, mooiste, slimste, rykste, geleerdste of magtigste is nie. Hulle was eenvoudige manne op wie die salwing van die Here duidelik gerus het. Die gesag van hulle boodskap het nie uit hulle eie posisie, voorkoms of aansien voortgevloei nie, maar by die Gewer – God self – berus. Hulle het nie net God se boodskap afgelewer nie, maar dit ook uitgeleef. Hulle is egter altyd deur die wêreld verwerp.
Die moderne predikers en “profete” (baie van hulle is selfaangestelde profete) wil nie die weg van die kruis volg en met ‘n middelmatige bestaan tevrede wees nie. Hulle aanvaar nie die feit dat ons vreemdelinge en bywoners in hierdie bedeling is, en dat ons ons beloning eers in die koninkryksbedeling van die vrederyk sal ontvang nie. Ten einde hulleself te kan behaag en openlik mag, majesteit, rykdom en eer na te jaag, verdraai hulle die Bybel deur te verklaar dat ons nóú reeds in die koninkryksbedeling is en dus ons verhewe posisie moet najaag, bevorder en bevestig.
Die feit is dat daar ná die wederkoms van Christus ‘n duisendjarige vrederyk sal wees wanneer die duiwel gebind sal wees en ons as konings saam met die Here Jesus sal regeer. Mense wat dit egter nie glo nie, probeer om van die kerkbedeling ook ‘n koninkryksbedeling te maak. Dit beteken dat die duiwel nóú gebind en van alle mag op aarde gestroop moet word, dat ons nie verwerpte diensknegte nie maar heersende konings moet wees, dat ons nooit siek of arm hoef te wees nie, en dat ons onbeperkte tekens en wonders moet doen om ons posisie as konings of “klein godjies” te bewys.
Is jy ‘n slagoffer van koninkryksteologie? Kom dan baie vinnig daar uit en bewandel weer die smal weg. Moenie toelaat dat tekens, wonders, val of lag in die gees, die voorspoedsevangelie, en enige vorm van geestelike magsvertoon jou van die kruisweg af laat wegdwaal nie. Waak aan die ander kant ook teen ‘n dooie vormgodsdiens waarin jy salig gespreek word sonder dat jy jou deur sondebelydenis tot die lewende God hoef te bekeer deur Jesus Christus. Hy staan gereed om jou te vergewe, maar jy moet in die gebed tot Hom nader deur jou sondes te bely (1 Joh. 1:8-9; Spr. 28:13). Ook Christene wat teruggeval het, moet met die belydenis van hulle sonde na die Here terugkeer (Luk. 15:18).
Soek daarna na die vervulling met die Heilige Gees sodat jy met krag uit die hoogte beklee kan word (Luk. 24:49). Die krag van die Heilige Gees sal aan jou oorwinning oor sonde gee (Gal. 5:16), krag in die stryd teen die Bose (Ef. 6:10-11) asook krag en vrymoedigheid om die evangelie te kan verkondig (Hand. 1:8 en 4:31). Eers dán sal jy ‘n brief van God wees wat deur die Heilige Gees op die tafels van jou hart geskryf is. Dit is wat die salwing van God oor jou lewe behels – dit is dieselfde salwing wat ook op die Here se Woord berus, want Hy het gesê: “Die woorde wat Ek tot julle spreek, is Gees en is lewe” (Joh. 6:63). Wanneer die lewendmakende Gees van God ook vir jou vervul en bekragtig het, sal jy as ‘n mondstuk en getuie vir Christus in die huidige goddelose wêreld gebruik kan word.
In die Bybel word daar verskeie beelde gebruik om aan ons te toon op watter wyse ons lewe en getuienis die wêreld namens die koninkryk van God moet aanspreek. Beoordeel jouself aan die hand daarvan om vas te stel of jy aan jou hoë roeping in Christus voldoen.
Die Here Jesus, wat self die lig van die wêreld is, sê vir sy dissipels: “Julle is die lig van die wêreld” (Matt. 5:14). Uit onsself is ons nie die lig nie, maar ons moet van die lig getuig (Joh. 1:8). As Christus in ons harte woon, dan skyn die lig van sy teenwoordigheid en kennis in en deur ons. Deur ons optrede en getuienis kán ons die lig van ‘n geestelik donker wêreld wees en skyn soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag (Fil. 2:15).
Laat jy jou lig skyn, of is jy deur jou stilswye en die lae profiel wat jy as ‘n Christen handhaaf, besig om ‘n emmer oor die lig te plaas en dit sodoende uit te doof? (Matt. 5:15). Wandel in die lig en laat die lig van God se teenwoordigheid elke dag oor jou weë skyn. ‘n Christen is soos ‘n kandelaar waarin die olie van die Heilige Gees gegiet en daagliks opgevul word. Die lamppit moet ook gereeld skoongemaak en al die roet verwyder word. Sorg dat jy altyd vol van die Heilige Gees is en ‘n rein lewe lei sodat jy deur die Here gebruik kan word. Laat julle heupe omgord wees (gereed vir diens) en julle lampe aan die brand (die vlam van geloof, hoop en liefde wat hoog brand ) sodat jy uitgestuur kan word om verlore skape op hulle dwaalweë te gaan soek.
Ons leef in ‘n moreel en geestelik verrottende wêreld wat ál hoe slegter word na die einde toe (1 Tiim. 4:1; 2 Tim. 3:1-5). Dit is die Christen se taak om bederfwerend op te tree en nie hierdie afwaartse tendens gelate te aanvaar nie. “Moet geen gemeenskap hê met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer” (Ef. 5:11). Ons moet onsself vlekkeloos van die wêreld bewaar deur niks met hierdie sondige dinge te doen te hê nie. Dit is slegs wanneer ons rein van hande en suiwer van hart is dat ons vrymoedigheid sal hê om in die heilige teenwoordigheid van die Here te verskyn en gereeld vir andere te bid.
Ons moet geestelike vrymoedigheid hê om op die nuwe en lewende weg na die genadetroon toe te tree, “met ‘n waaragtige hart in volle geloofsekerheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water” (Heb. 10:22). Dit is slegs wanneer ons waarlik rein gewas is deur die bloed van die Lam en deur die krag van die Heilige Gees wandel, dat ons vir ander kan bid en bederfwerend kan optree. As ons nie die balk uit ons eie oog haal nie, sal ons nie goed genoeg kan sien om probleme in ander mense se lewens te identifiseer en te help oplos nie.
Elke Christen het ‘n bepaalde roeping en doel in die koninkryk van die Here. Ons is nie in kompetisie met mekaar nie, maar moet aanvullend tot mekaar optree sodat die hele liggaam goed kan funksioneer en die oorhoofse doel van die uitbreiding van God se koninkryk op aarde meer effektief nagestreef kan word. Dien en versterk jy die ander lede in die liggaam van Christus deur die besondere gawes en talente wat die Here aan jou gegee het? Indien wel, dan sal jy nie eendag met leë hande voor die Here staan nie (1 Kor. 3:15).
Doen net jou plig, veral op dié terreine waar die Here jou bekwaam gemaak het. ‘n Talent of gawe word deur geestelike toewyding (gebed en Bybelstudie) en intensiewe gebruik (diensbaarheid) verbeter. Sommige Christene laat egter ná om dit te doen, daarom die vermaning: “Verwaarloos nie die genadegawe wat in jou is nie” (1 Tim. 4:14). Veral in hierdie tyd van permissiwiteit, dissiplineloosheid en biddeloosheid moet ons onsself des te meer beywer om kwaliteitdiens aan die Here én aan mekaar te lewer: “Die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter om te kan bid. Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê… Namate elkeen ‘n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God” (1 Pet. 4:7-10). Só alleen kan die liggaam van Christus op aarde goed funksioneer.
Alle Christene word geroep om geestelik produktief te wees deur vrugte te dra wat by die bekering pas (Matt. 3:8). Die Here maak dit vir ons moontlik om hierdie doel te bereik. Die regverdige is “soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit” (Ps. 1:3). Dit is net die seën en genade van die Here wat só ‘n lewe moontlik maak: “Geseënd is die man wat op die Here vertrou, en wie se vertroue die Here is. Want hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ‘n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie” (Jer. 17:7-8).
Die geheim van ‘n vrugbare lewe, selfs ook in uiters moeilike omstandighede, is die waterstroom waarby die boom van ons lewe geplant is. Die Here Jesus is self die water van die lewe (Joh. 6:35). Sy geestelike seëninge skenk Hy deur die Heilige Gees aan ons. Jesus het gesê: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Heilige Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo” (Joh. 7:37-39). Wanneer ons Geesvervulde lewens lei, sal die vrug van die Heilige Gees in ons lewe gedy.
Baie mense se lewens is egter totaal onvrugbaar omdat hulle ver van die waterstroom van God se genade af staan en dus glad nie daaruit put nie. Hulle ervaar nie die warmte en versorging van sy teenwoordigheid nie en voer ‘n kwynende bestaan weg van Hom af – sonder God en sonder hoop in die wêreld. In die droogte en koue verloor hierdie bome selfs ook al hulle blare en staan met kaalgestroopte takke op die vlakte van verlatenheid, waar hulle soos met lang, krom vingers na ‘n troostelose lug gryp. Hulle het ‘n diep verlange na ‘n beter lewe, maar weet nie hoe om dit te kry nie.
Dit is ook die beeld van die teruggevalle Christen. Hy weet van beter dae in sy lewe, en verlang hartstogtelik daarna terug. Iemand het dié situasie in gedigvorm só beskryf: “Hier waar ek in die snerpende koue langs jou staan, o grote boom, hoor ek hoe die winterwind deur jou kaalgestroopte takke loei; en krakende, sugtende roep jy: Gee tog weer terug aan my al my groen blare en blommeweelde!”
Keer terug na die hemelse Landbouer sodat Hy jou weer by die stroom van sy genade kan plant waar jy in sy liefde gewortel en gegrond kan word. Dan sal jy wees soos ‘n tuin wat goed besproei is en die lentegeur van bloeisels oral versprei (Jes. 58:11). Selfs op ‘n hoë ouderdom sal jy nie ophou om vrugte te dra nie: “Die regverdige sal groei soos ‘n palmboom; hy sal opgroei soos ‘n seder op die Libanon. Geplant in die huis van die Here, sal hulle groei in die voorhowe van onse God. In die gryse ouderdom sal hulle nog vrugte dra, hulle sal vet en groen wees, om te verkondig dat die Here reg is, my rots, en in Hom is geen onreg nie” (Ps. 92:13-16).
Die kerk van Christus word as sy bruidsgemeente beskryf. Ons moet nóú, in hierdie sondige wêreld, gereinig en geheilig word sodat ons sonder vlek of rimpel by die bruilofsmaal van die Lam aan die hemelse Bruidegom voorgestel kan word. Die Here maak dit vir ons moontlik: “Christus [het] ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig… sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5: 25-27).
Baie min Christene leef egter heilige en toegewyde lewens. Hulle laat toe dat die duiwel hulle verlei om sonde te doen en wêreldgelykvormig te leef deur rykdom, eer en roem na te jaag. In die proses ly hulle skade aan hul siele en deurboor hulleself met baie smarte. ‘n Ander slaggat van Satan waarin miljoene Christene trap, is om leerstellige dwalings ten prooi te val en sodoende ook van hulle opregtheid in Christus weg te val. Paulus waarsku die gemeente baie ernstig teen geestelike verval:
Wat behels hierdie wanvoorstellings waardeur die gemeente van Christus afvallig gemaak en die boodskap wat hulle aan die wêreld moet uitdra, vervals word?
· Dit is skewe voorstellings van Jesus waarin die klem meer op tekens en wonders as op geestelike seëninge en die gawe van wedergeboorte en heiligmaking geplaas word.
· Dit is skewe voorstellings van die Heilige Gees, deur Hom aan absurde en onbybelse manifestasies soos onbeheerste lagbuie, dronkenskap, dieregeluide en ander ervarings te koppel.
· Dit is skewe voorstellings van die evangelie deur die betekenis van die kruis en die bloed van Christus te verloën en in die plek daarvan sakramente of bonatuurlike ervarings tot die norm te verhef.
Deur hierdie vervalsings bevlek Christene hulself geestelik en maak hulleself onwaardig om in die ivoorpaleis van die Koning aan die hemelse Bruidegom voorgestel te word. Hoe sien jou kleed daar uit en het jy dit in gereedheid gebring? Johannes sê: “Laat ons bly wees en ons verheug… want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges”(Op. 19:7-8). Sal jy ‘n lid van hierdie geseënde groep wees?
Leef elke dag op na die hoë roeping van God in Christus Jesus. Die instaatstellende krag van die Heilige Gees is tot jou beskikking. As jy bereid is om nederig en gehoorsaam in die voetspore van die Here Jesus te volg, sal jy vrymoedigheid hê op die dag wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie (1 Joh. 2:28).