Prof. Johan Malan, Middelburg, RSA
Lees Openbaring 13:1-18
In Openbaring 13 word daar drie magsbasisse beskryf wat die Antichris in sy węreldregering tydens die komende verdrukking van sewe jaar sal gebruik. Dit het betrekking op politieke, godsdienstige en ekonomiese mag.
Eerstens, politieke mag. Ons lees in Openbaring 13:2 dat Satan aan die Antichris sy krag en sy troon en groot mag sal gee. Hierdie troon dui op ’n węreldregering waardeur daar groot mag oor alle nasies uitgeoefen sal word. Gedurende die hele Nuwe Testamentiese bedeling was die duiwel en sy demone vanuit geestelike sfere ’n regerende mag in die węreld. In Efesiërs 6:12 staan daar: “Ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die węreldheersers van die duisternis van hierdie eeu (of bedeling), teen die bose geeste in die lug.” Johannes sę die hele węreld lę in die mag van die Bose (1 Joh. 5:19). Die Here Jesus verwys ook na die duiwel as “die owerste van hierdie węreld” (Joh. 14:30), en Paulus sę hy is “die owerste van die mag van die lug” (Ef. 2:2). Dit is die rede waarom Christus gekom het om ons “uit die teenwoordige bose węreld” te red (Gal. 1:4).
Ons stuur egter nou af op die donkerste uur van die węreldgeskiedenis, wanneer die geestelike beheer wat Satan oor die gevalle węreld uitoefen, in ’n sigbare węreldregering geopenbaar gaan word. Ons het nog altyd met die verborgenheid van die ongeregtigheid te kampe gehad, maar daar kom ’n tyd wanneer die Antichris as die ongeregtige geopenbaar sal word. Hy sal dan ’n węreldregering instel wat tydens Christus se wederkoms verdelg sal word. Paulus sę: “Dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen” (2 Thess. 2:8-9). Die Antichris sal dus in die eindtyd, kort voor die sigbare wederkoms van Jesus Christus, sy verskyning op die aarde maak en met al die mag en hulp van die duiwel ’n bose węreldregering vestig. Hy sal die verpersoonliking van die duiwel self wees, want hy sal op Satan se troon sit en sy ondermynende mag beoefen. Sy invloed sal oor die hele węreld strek. Johannes sę: “Aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Op. 13:7). Dit is politieke globalisme. Ons staan op die drumpel van hierdie bedeling, want ’n komitee van die VN het reeds gesę dat ’n węreldregering met uitvoerende magte die enigste oplossing vir die hantering van węreldvraagstukke is. Hulle beywer hulle hiervoor, maar weet nie dat dit eintlik die duiwel se plan is nie!
Tweedens, godsdienstige mag. Satan streef nie net daarna om in God se plek die koning en heerser van die węreld te wees nie, maar ook om deur alle mense aanbid te word. Almal gaan dus mislei word om onder die Antichris se leierskap te verenig en ook die Antichris en die duiwel te aanbid: “En die hele węreld het verwonderd agter die dier aan gegaan. En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesę: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?” (Op. 13:3-4). Hulle bewondering sal in openlike aanbidding oorgaan.
Die einddoel met die huidige proses van godsdienstige globalisme is die algemene aanbidding van Satan as die god van hierdie węreld (2 Kor. 4:4), asook die aanbidding van sy spesiale verteenwoordiger, die Antichris. Die ekumeniese beweging het reeds die voorbereidende werk vir hierdie sinistere einddoel gedoen. Eers is net Christelike ekumene onder die vaandel van die Węreldraad van Kerke beoefen, maar gou het dit in multigodsdienstige ekumene oorgegaan, waarin nouer bande tussen alle godsdienste aangeknoop word. Die idee word nou deur ekumeniese kompromiemakers gehuldig dat alle gelowe dieselfde God aanbid, daarom kan hulle almal onder die leiding van dieselfde, multigodsdienstige Christus verenig word. Hulle besef egter nie dat die duiwel die god van hierdie gevalle węreld is nie, met die Antichris as die universele christus vir alle gelowe, agter wie die hele węreld verwonderd sal aangaan.
Derdens, ekonomiese mag. Openbaring 13 sluit af met ’n beskrywing van die Antichris as die hoof van ’n węreldekonomie, waarin daar net een elektroniesbeheerde monetęre stelsel sal wees. Sy beheer van die węreldekonomie sal só absoluut wees dat niemand sonder sy merk en nommer op hulle hand of voorkop sal kan koop of verkoop nie. Ons weet almal dat die tegnologie reeds ontwikkel is om ’n klein prosesseerdertjie op ’n mikroskyfie binne-in ’n glaskapsule te sit en onder mense se vel in te spuit. Hiersonder sal niemand kan koop of verkoop nie, omdat hulle sonder hierdie persoonlike identiteitsnommer geen toegang tot die stelsel van elektroniese fondsoorplasing sal verkry nie. Daar is reeds ver gevorder met die proses van ekonomiese globalisering wat sal lei na een, sentraalbeheerde geldstelsel vir die hele węreld. Niemand sal sonder hierdie stelsel kan handel dryf of enige ekonomiese transaksies sluit nie.
Die duiwel sal nie net met politieke en godsdienstige mag oor die węreld tevrede wees nie. Hy wil ook die rykdomme van die węreld, asook die besteding daarvan deur elke mens, beheer. Dit is om hierdie rede dat hy in die Nuwe Testament ook Mammon genoem word – die geldgod.
Die woord mammon het oorspronklik in Aramees net rykdom beteken. Die Here Jesus het hierdie begrip egter verpersoonlik en daarvan ’n persoonlike naam van die duiwel as die heer of god van geld gemaak. Hy het gesę: “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees... Niemand kan twee here dien nie; want ňf hy sal die een haat en die ander liefhę, ňf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie!” (Matt. 6:19-21,24).
In Lukas 16:9 praat Jesus van die onregverdige Mammon. Sy rykdom is verdorwe en hy gebruik dit om mense oral op aarde geestelik én moreel bedorwe te maak. Wanneer mense rykdom ten alle koste najaag en dit ’n afgod in hulle lewe word, gaan dit gewoonlik gepaard met onregverdigheid soos woekerwinste, korrupsie, omkopery, grootheidswaan, magsug en vele ander sondes en wanpraktyke. Dit is ’n aanduiding dat Mammon beheer oor hulle lewens verkry het. Daar is egter ook rykdom wat nie bedorwe is nie omdat dit op ’n eerbare manier verkry is en ook ruim tot die voordeel van ander mense en die uitbreiding van God se koninkryk aangewend word.
Dit is egter die uitsondering. In die meeste gevalle neem Mammon beheer oor van ryk mense se lewens en beloof aan hulle nog meer rykdom, mag en invloed. Tydens die vroeë Christelike kerk én ook in die Middeleeue is Mammon algemeen as die demoon van hebsug, rykdom en korrupsie gesien. In Milton se boek, Paradise Lost, word Mammon as ’n gevalle engel beskryf wat aardse rykdom bo alle ander dinge stel. In De Plancy se boek oor die koninkryk van die duisternis, Dictionnaire Infernal, word Mammon as die hel se ambassadeur in Engeland beskryf. Dit was na aanleiding van die geweldige materialisme wat in die 19de eeu in Engeland posgevat het. Volgens Thomas Carlyle, in sy boek, Past and Present, is die evangelie van Mammonisme – dit is die evangelie van voorspoed en rykdom – ’n metaforiese uitdrukking van die gees van materialisme wat oor die Westerse węreld gekom het. In verskeie kunswerke oor die mitologie is Mammon uitgebeeld as ’n wolfagtige demoon wat van die hel af gekom het om mense se harte met hebsug te vervul.
Volgens die Bybel is dit duidelik dat arm mense net so materialisties as die rykes kan wees, omdat hulle met hulle hele hart begeer om ryk te wees. Paulus sę: “Die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor” (1 Tim. 6:9-10). Om dit net te begeer, plaas jou geestelik op die verkeerde pad. Mammon wil nie net jou eie lewe oorneem nie, maar ook die hele węreld.
Ons is nou in só ’n gevorderde stadium van globalisering dat ’n węreldregering, ’n alliansie van węreldgodsdienste en ’n sentraalbeheerde węreldekonomie binne die afsienbare toekoms ’n werklikheid kan word. Dit is duidelik dat die politieke en ekonomiese strukture vir węreldleierskap eers gevestig sal word. Dit sal spoedig gevolg word deur die algemene godsdienstige verering en aanbidding van die komende messias, in reaksie op sy groot politieke en ekonomiese deurbrake om die mensdom uit die kake van ’n dreigende kernoorlog en ook uit die greep van ’n onafwendbare depressie en ekonomiese ineenstorting te red.
Mammon het baie listig te werk gegaan om die internasionale ekonomiese verknorsing te skep, waardeur alle lande nou op węreldvlak tot vereniging en samewerking gedwing word. Die strategie wat hy gevolg het, gaan deur die volgende stadiums:
1. ’n Kapitalistiese stelsel met ’n vrye mark is gevestig, omdat dit die beste moontlikhede vir die vinnige generering van rykdom bied. Hierdie proses het met minimum inmenging voortgegaan totdat groot rykdom en tegnologiese vooruitgang geskep is – tot só ’n mate dat kapitalisme oral ’n begeerlike toonbeeld van ontwikkeling geword het.
2. Regerings is deur liberale, materialistiese en magshonger leiers oorgeneem. Saam met multinasionale maatskappye en groot banke, asook ’n reuse-inkomste deur belastings, het hulle hul eie lande én die res van die węreld onder die beheer van die internasionale geldmag gebring. Die koorsagtige gejaag na rykdom het gepaard gegaan met die oorbenutting van natuurlike hulpbronne, asook die grootskaalse besoedeling van die atmosfeer en waterbronne. Hieroor is Mammon egter geensins bekommerd nie. Uitbuiting en verwoesting is deel van sy bose karakter.
3. Regerings se sukses word slegs op die kort termyn gemeet – afhangende van die mate van ekonomiese voorspoed wat hulle vir hul mense kan bring. Dit lei daartoe dat doeltreffende ekonomiese bestuur, finansiële dissipline, en streng beheer oor regeringsinstellings én die private sektor ten einde korrupte praktyke en lae produktiwiteit uit te skakel, nagelaat word. Sodoende word vinnige rykdom binne baie mense se bereik gebring. Huise, werk en voorspoed word in verkiesingsveldtogte aan almal beloof, maar dit is ten koste van volhoubare ekonomiese groei en sinvolle omgewingsbewaring.
4. Die metode waardeur onrealistiese politieke en ekonomiese doelwitte verwesenlik is, was die vinnige groei van ’n land se geldvoorraad deur sentrale banke, en die verskaffing van goedkoop krediet aan die handelsbanke. Die banke het met mekaar begin meeding om krediet so goedkoop as moontlik aan al hulle klante te bied, ongeag of hulle kredietwaardig is of nie. Elke bank wou sy eie markaandeel verhoog. Die gevolg was dat jongmense wat pas begin werk het, geen moeite ondervind het om selfs 100% lenings te kry om duur huise en motors te koop nie. Wanneer hulle kontantvloeiprobleme as gevolg van die hoë paaiemente ervaar, kry hulle net meer kredietkaarte om alle ander benodighede op skuld te koop.
5. Feitlik alles wat die mark kon aanbied, is gekoop – motors, huise, luukse artikels en baie ander kommoditeite. Pryse is deur die goedkoop krediet opgejaag, veral eiendom. In Suid-Afrika het huispryse sedert die jaar 2000 met meer as 300% gestyg. Die prys van brandstof het weens die skerp stygende vraag ook die hoogte ingeskiet. Dit alles het die probleem van inflasie laat ontstaan, wat daartoe gelei het dat sentrale banke later weer hulle uitleenkoers begin verhoog het om oorbesteding en ekonomiese chaos te voorkom. Verbandkostes het gestyg, en mettertyd kon baie mense nie meer die verhoogde paaiemente op hulle huise en motors betaal nie, ook nie hulle ander skuld nie.
6. Die banke het skielik groot probleme begin ervaar, want teruggeneemde huise en motors was minder werd as die uitstaande balanse. Die verswakte koopkrag in die mark het na groot verliese in die ekonomie gelei. Nuwe besighede kon ook nie begin word nie omdat banke óf huiwerig óf glad nie in staat was om voldoende finansiering te verleen nie. Beleggersvertroue het skerp afgeneem en effektebeurse het byna oornag miljarde dollars se verliese gely. Baie mense se rykdom het soos mis voor die son verdwyn. Mammon se planne het oënskynlik lelik begin skeefloop, maar dit was alles deel van sy langtermyn beplanning om volle beheer oor die węreldekonomie oor te neem. Die vrye mark moes verdwyn om vir sosialistiese, politieke beheer oor die ekonomie plek te maak.
7. Regerings het begin ingryp om ’n dreigende resessie af te weer, en daardeur effektief sekere banke en nywerhede deur groot lenings genasionaliseer. Hierdie proses het homself binne ’n paar maande in alle węrelddele laat geld. In Sjina het duisende fabrieke gesluit weens die kleiner vraag na hulle produkte oorsee. Groeiende ekonomieë het gestagneer en die vooruitskatting vir 2009 is dat die meeste van hulle in ’n ernstige resessie sal beland. Op die Węreld Ekonomiese Forum se byeenkoms in Switserland is in Januarie 2009 beraam dat daar dié jaar in die węreldekonomie 50 miljoen werksgeleenthede verlore sal gaan.
8. Staatsinmenging en groot reddingsoperasies in kapitalistiese ekonomieë het die weg gebaan vir politieke beheer oor die węreldekonomie van die toekoms. Dit is net hier waar Mammon se uitsoekman, die Antichris, op die toneel sal verskyn om beheer oor ’n węreldregering én die węreldekonomie oor te neem. As gevolg van sy bonatuurlike prestasies sal hy spoedig as węreldmessias aanbid word. Dit sal die finale vervulling van Openbaring 13 se profesieë wees.
Oor al hierdie verwikkelinge het ek die kommentaar van ‘n Christen gevra wat ten nouste by die bankwese in Amerika betrokke is. Hy sę:
“Regerings kan nie alleen vir die ekonomiese probleme beskuldig word nie. Hulle is daargestel met ’n mandaat om voorspoed en gemak te verseker. Sou hulle agenda enigiets anders inhou, word hulle eenvoudig nie verkies nie. In hierdie stadium is die VSA se Federale Bank baie naby aan bankrotskap. Bykans elke regering probeer die krisis afweer deur eenvoudig meer geld te leen, eerder as om die grondliggende probleem aan te spreek, naamlik: ‘as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie’ (2 Thess. 3:10). Dit lyk of die Federale Bank besig is om die boeke te kook, net soos al die banke wat ondergaan. Hierdie bank bied nou sy heel laaste bates vir borgskappe (bailouts) aan.
“Die hele węreldekonomie is op sand gebou en is reg om enige oomblik in duie te stort. Ons weet waarmee dit vervang gaan word, naamlik die nuwe ekonomiese orde en nuwe geldstelsel van die Antichris... Ons Christene is ook reeds ingekatrol deurdat ons in die algemeen ’n verkeerde siening oor geld en rykdom huldig. Ons soek waarde in geld, maar God se betaalmiddel is bloed – die lewe van sy Seun. ‘Julle is nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus’ (1 Pet. 1:18-19; vgl. Op. 5:9). Ons kan glad nie ons heil in materiële dinge soek nie. As ons dit najaag, dan besit dit ons. Ons word geroep om, soos Christus, onsself in sy diens te gee. In plaas daarvan soek baie Christene na gemak, voorspoed en aansien, en misbruik selfs hulle Christelike roeping om dit te probeer bekom.”
Christene moet beslis ekonomies aktief wees, maar hulle moet vergenoeg wees met die voorsiening in hul basiese behoeftes (1 Tim. 6:8-10).
Alles dui daarop dat daar ’n vinnige deurbraak na die finale instelling van ’n węreldregering, ’n węreldgodsdiens en ’n węreldekonomie sal wees.
Daar is twee moontlikhede vir die openbaring van die Antichris en die aanvaarding van sy rol as węreldleier. Die een moontlikheid is dat hy die huidige ekonomiese krisis sal gebruik om met węreldhervormende oplossings vorendag te kom; en dan deur almal aangehang, gevolg en uiteindelik ook aanbid sal word. Die ander moontlikheid is dat hy tydens ’n groot oorlog in Israel, moontlik die Russies-Arabiese inval van Esegiël 38 en 39, as vredemaker op die toneel sal verskyn en deur sy optrede ’n dreigende Derde Węreldoorlog sal afweer. As ’n vredevors met bomenslike vermoëns sal hy daarna ook as die politieke, ekonomiese en godsdienstige hoof van ’n węreldregering gekies word. Wat die finale toetreepunt na sy posisie as węreldleier ook al mag wees, dit sal baie vinnig na ’n breër konsolidasie van sy magsposisie lei. Hy sal die onbetwiste leier op alle terreine wees.
Die eerste helfte van die Antichris se regering sal gekenmerk word deur valse vrede en eenheid in die węreld. Die węreldekonomie sal tydelik herstel, vrede sal oral in konflikgebiede geskep word, en die hele węreld sal verwonderd agter hulle nuutgevonde leier aanloop. Volgens Daniël 9:27 sal hy vir ’n jaar-week (sewe jaar lank) ’n verbond met Israel en die nasies sluit. Dit sal die grondslag wees vir ’n nuwe węreldorde onder sy persoonlike beheer.
In die middel van die sewe jaar sal daar egter rebellie teen sy węreldregering uitbreek en hy sal ’n dodelike wond opdoen. Wanneer hierdie wond egter deur die toedoen van die valse profeet genees, sal die Antichris ’n gedaanteverwisseling ondergaan - van ’n vredevors af na ’n wrede militęre diktator. Dan sal hy al sy doelwitte deur middel van militęre geweld bereik.
Op godsdienstige terrein sal hy ook die graad van sy rebellie teenoor God verhoog en homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar (2 Thess. 2:4). Hy sal dan nie meer met die status van węreldmessias tevrede wees nie, maar daarop aanspraak maak om God te wees. Hy sal ook ’n beeld van homself in die Allerheiligste van die tempel laat oprig en almal dwing om dit te aanbid. Almal wat weier om dit te doen, sal summier tereggestel word (Op. 13:15).
Soos wat die einde van sy sewe jaar lange bewind nader kom, sal die Antichris sy węreldmagte in en om Jerusalem ontplooi om teen Christus en sy hemelse leër te veg, en sodoende sy eie węreldregering van ondergang te probeer red. Hy sal volgens Bybelse profesieë weet dat die ware Christus aan die einde van daardie jaarweek sal terugkeer aarde toe om die valse messias en sy volgelinge te verdelg, die oorblyfsel van Israel te red en dan sy duisendjarige vrederyk op aarde te vestig. Dit sal na die veelbesproke slag van Armageddon lei. Johannes sę:
“En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit [Christus], en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit” (Op. 19:19-21).
Die nuwe węreldorde waaraan die węreld tans so naarstiglik werk, is niks minder nie as ’n plan van Satan om die nasies se politieke en ekonomiese selfbeskikkingsreg weg te neem, asook hulle godsdiensvryheid. Globalisering sal wel aan hulle gebied word in die naam van vrede en groter eenheid en harmonie, maar dit sal later eindig in ’n wrede diktatuur en die verpligte aanbidding van die Antichris as God. Al die Antichris se bewonderaars en meelopers wat sy nommer aanvaar het en hom aanbid het, sal saam met hom sy ewige straf moet ondergaan:
“As iemand die dier en sy beeld aanbid en ’n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam. En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie – hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang” (Op. 14:9-11).
Die valse vredevors van globalisering sal in verwondering deur die hele węreld nagevolg word. Hy sal Satan se spesiale engel van die lig wees om miljoene mense onverhoeds in die mag van die koninkryk van die duisternis te laat beland.
Die Here wil egter hę dat ons teëhouers teen die Antichris moet wees, ook nou wanneer sy beleid van węreldeenheid op so ’n oorredende manier gepropageer word as iets wat tot die ekonomiese en politieke herstel van die hele węreld sal lei. Ons moet die bedekte misleiding van hierdie plan kan raaksien en in geen opsig deelgenote daarvan word nie.
Ons moet in hierdie donker tye aan die Here Jesus se belofte vashou dat Hy sy ware dissipels sal kom haal voordat die Antichris geopenbaar word en die gruwels van die sewe jaar lange verdrukking ’n aanvang neem: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36).