Godsbegrip in die Bybel en in die Koran

Deur Dave Hunt

Opsomming: In hierdie artikel bewys Dave Hunt dat daar geen ooreenstemming tussen die God van die Bybel en Allah van die Koran is nie.

Daar is uit verskillende oorde intensiewe pogings aan die gang om godsdienste te verenig met die oog op die skepping van ‘n alliansie van wêreldgodsdienste. Die pous erken alle godsdienste en wil hulle almal by een ekumeniese struktuur betrek. Hy sien egter die Christendom, Islam en Jadaïsme as die nouste aan mekaar verbonde omdat hulle al drie monoteïstiese godsdienste is wat volgens hom dieselfde God aanbid.

Die feit is egter dat die Christendom met sy Drie-enige godsbegrip uniek is en radikaal van alle ander gelowe verskil. Daar is geen sprake daarvan dat die God van die Bybel dieselfde as Allah van die Koran is nie. Daar moet onthou word dat Allah ‘n generiese term is, met ander woorde dit dui net “God” aan sonder om te sê watter god bedoel word. Volgens 1 Korinthiërs 8:5 is daar baie “gode” en baie “here.” Uit die verband moet ons dus aflei van watter “god” daar gepraat word. Selfs die duiwel is die “god” van hierdie wêreld (2 Kor. 4:4).

‘n Moslem het vir Dave Hunt uitgedaag om sy stelling te bewys dat Allah van die Koran nie die ware God is nie. Die volgende is die hoofpunte van Dave Hunt se antwoord, soos ook op internet gelees kan word:

Islam se Allah is nie die God van die Bybel nie

Dit is baie duidelik dat Allah van die Moslems nie die God van die Bybel is nie. Die bybelse God word bykans 9 000 keer Jahweh (JHWH) genoem, maar in die Koran word Allah nie eers een keer by dié naam genoem nie. Waarom word dit nie gedoen nie, as Allah dan dieselfde God is? In die Bybel word God ook meer as 2 500 keer Elohim genoem, maar hierdie naam word nêrens in die Koran aan Allah verbind nie. Waarom nie?

Die God van die Bybel word “Die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob [of Israel]” genoem (Jakob se naam is later in sy lewe deur God na Israel verander, daarom verwys albei dié name na hom). Jakob is die vader van die Jode. Die God van die Bybel het Homself by die brandende doringbos aan Moses openbaar en opdrag gegee dat hy na die volk moes teruggaan en sê: “Die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag” (Deut. 3:15). Indien Allah die God van die Bybel is, waarom word hy nooit volgens dié name genoem nie?

Die God van die Bybel sê by herhaling aan ons dat Hy die God van die Jode is. Hy word dikwels “die God van Israel” genoem (vgl. Jes. 45:3 en Matt. 15:31). Nogtans is daar sulke geweldige haat vir Israel onder die Moslems! Die Koran verwys na Abraham en Ismael en beweer selfs dat hulle die Kaäba in Mekka gebou het, maar verleen geen prominensie aan Isak nie. Die Bybel verwys meer as 150 keer in ‘n positiewe en prominente sin na Isak. God beweer uitdruklik dat Hy sy verbond met Isak oprig en nie met Ismael nie (Gen. 17:19-21), van wie die Arabiere sê dat hulle afstam.

Die God van die Bybel noem die Jode sy uitverkore volk. Hy het hulle lief en het die land Israel as ‘n ewige erfenis aan hulle gegee, soos deur honderde verse in die Bybel bevestig word (vgl. Gen. 17:8). Islam ontken hierdie basiese bybelse waarheid. Die Jode is beslis nie Allah se uitverkore volk nie! Hoe kan Allah die God van die Bybel wees en nogtans nie die Jode uitverkies nie?

In die Koran gee Allah aan die Moslems opdrag: “Moenie Jode of Christene as vriende aanvaar nie” (Surah 5:51, Al Hil-ali, v. 54, Jusuf Ali), daarom is Allah ook nie die God van die Christene nie. In die hadith het Mohammed self gesê: “Die laaste uur sal nie aanbreek voordat die Moslems die Jode beveg en hulle doodmaak nie” (Mishkat al Masabih Sh. M. Ashraf, 1990, bl. 147, 721, 810-811, 1130, ens.). Islam se god haat die Jode, terwyl die God van die Bybel hulle as sy uitverkore volk liefhet! Islam se Allah is beslis nie Jahweh, Elohim, die God van Abraham, Isak en Jakob, die God van die Bybel nie!

Die God van die Bybel het Jerusalem as sy heilige stad verkies. Veertig keer noem Hy Jerusalem “die stad van Dawid.” Hy beloof ook by herhaling dat die Messias in die geslag van Dawid gebore sou word, en dat Hy van die troon van Dawid af in Jerusalem oor die hele wêreld sal regeer (2 Chron. 6:6; 33:7; 2 Sam. 7:16; Ps. 89:3-29, Luk. 1:32-33; Hand. 15:16-17, ens.). Die Bybel (of die God van die Bybel) noem Mekka of Medina nooit nie, maar Jerusalem word meer as 800 keer genoem. Allah noem Jerusalem egter nooit nie. Hoe kan dit wees, indien Allah die God van die Bybel is? En hoe kan die Moslems Jerusalem vandag as ‘n heilige stad vir Islam opeis terwyl dit nie eers in die Koran genoem word nie? Hulle dreig steeds om Jerusalem by die Jode af te neem.

Die feit dat Allah nie ‘n seun het nie, is verdere bewys daarvan dat Hy nie die God van die Bybel is nie. Volgens die Nuwe én Ou Testamente het God beslis ‘n Seun. Psalm 2 sê: “U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer” (Ps. 2:7). Verwysende na die God van die Bybel, vra Salomo: “…hoe is die Naam van sy Seun?” (Spr. 30:4). Die engel Gabriël, wat ook deur Islam erken word, het aan die maagd Maria gesê: “En kyk, jy sal swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee” (Luk. 1:32-32). Daardie troon is in Jerusalem en nie in Mekka nie.

Oorsprong van die naam Allah

Die Moslems dring daarop aan dat die naam “Allah” in elke taal gebruik word. Dit kan nie as “Dios” in Spaans, “Dieu” in Frans, of “God” in Engels vertaal word nie. Hulle beskou “Allah” dus nie as ‘n generiese term vir God nie, maar as die naam van ‘n spesifieke god.

Allah was inderdaad die god van die Kuraish-stam in die pre-Islamitiese tydperk, eeue voordat Mohammed gebore is. Hy was die hoof-god van die Kaäba waar daar 360 gode aanbid is. Allah was een van hulle. Wat doen Allah in ‘n tempel tussen 360 afgode as hy die God van die Bybel is wat afgodediens verbied? Waarom behou Islam hierdie heidense tempel, en waarom moet Moslems vandag nog pelgrimstogte daarheen onderneem?

Die feit dat Allah die hoof-afgod in die Kaäba was, is ‘n histories gedokumenteerde feit. Laat ek een van die grootste historici aanhaal:

"Die woestyn-Arabiere het ontelbare afgode in die maan en sterre gevrees en aanbid… Soms het hulle menslike offers gebring en soms heilige klippe aanbid. Die sentrum vir die aanbidding van klippe was Mekka waar die Kaäba met sy heilige swart klip is. Die klip is in die suidoostelike hoek van die Kaäba, vyf voet van die grond af, net die regte hoogte om gesoen te kan word…

"In die pre-Islamitiese tydperk was daar in die Kaäba verskeie afgode wat gode voorgestel het. Een van hulle se naam was Allah. Drie van die ander was Allah se dogters – al-Uzza, al-Lat en Manah. Ons kan die Arabiese panteon beoordeel na aanleiding van Herodotus, ‘n 5de eeuse Griekse historikus, se verwysing na al-Lat as ‘n belangrike Arabiese godin. Die Kuraish-stam (Mohammed se stam wat in beheer van Mekka was) het die weg na monoteïsme gebaan deur Allah as die hoofgod in die Kaäba te aanbid. Hy is aan die inwoners van Mekka voorgehou as die god van die grond, aan wie hulle ‘n tiende van hulle oeste moes gee asook die eersgeborenes van hulle vee. Die Kuraish-stam, as die beweerde afstammelinge van Abraham en Ismael, het priesters as die opsigters van die heiligdom aangestel en dit ook aan hulle opgedra om die inkomste te beheer" (Will Durant: The story of civilization, Deel IV:160-161).

Die Kaäba staan nog steeds – sonder sy afgode maar mét sy swart klip. Die pelgrimstogte na die Kaäba om die swart klip te soen, om tussen die Safa en Murwa te hardloop en op die Arafa-berg te klim, is vir eeue deur heidense Arabiere gedoen voordat Mohammed op die toneel verskyn het. Waarom het hy hierdie heidense rituele as deel van Islam behou?

Nie Adam, Noag, Abraham, Moses of enige volgeling van die God van die Bybel het ooit naby die Kaäba gekom en die heilige klip gesoen nie, omdat die Bybel afgodediens verbied. Daar is geen verwysing in die Bybel na Islam of enige soortgelyke godsdiens nie. Hoe kan Islam sonder die Koran of Mohammed bestaan?

Die enigste mense wat na die Kaäba gereis en die swart klip gesoen het, was heidense Arabiere wat een of meer van die afgode gedien het. Mohammed het met ‘n nuwe godsdiens begin, wat Islam genoem is. Arabiere, Turke, Persiërs, Egiptenare en alle ander groepe in die streek is voor die punt van ‘n swaard gedwing om hulle tot die nuwe geloof te bekeer. Hulle het Moslems geword, en daar is geen manier om te beweer dat Islam die oorspronklike godsdiens van daardie of enige ander streek was nie.

Die wese van God

Die God van die Bybel is liefde, en dit is ‘n onmoontlikheid vir Allah. Indien Allah ‘n enkelvoudige wese is, soos wat die Moslems beweer, dan kan hy nie liefde wees in en van homself nie omdat hy niemand gehad het om lief te hê voordat hy mense geskape het nie. Die God van die Bybel is egter liefde in en van Homself omdat Hy drie Persone is, maar een God. Die Vader, die Seun en die Heilige Gees het persoonsverhoudinge met mekaar gehad nog voordat mense of engele geskape is.

Hoewel die Jode weet dat Allah nie Jahweh is nie, sê hulle nogtans (soos wat die Moslems van Allah sê) dat Jahweh ‘n enkelvoudige wese is. Indien dit die geval was, waarom verwys die Bybel dan meer as 2 500 keer in die meervoud na Hom as Elohim (gode)? Dit is egter interessant dat daar altyd ‘n enkelvoudige werkwoord saam met die meervoudige naamwoord gebruik word. Mens kom nie weg van die meervoudigheid van God se Naam wat telkens in gebruik met enkelvoudige optrede gekombineer word nie.

Die welbekende shema (Deut. 6:4), die mees fundamentele uitdrukking oor God vir die Jode, lui só: “Hoor, Israel, die Here onse God is ‘n enige Here.” Ver van die verklaring dat die God van die Bybel ‘n enkelvoudige wese is, beteken die Hebreeuse woord vir een (of enige), nl. echad, die eenheid van verskeie dinge wat saam een word. Voorbeelde hiervan is wanneer God sê dat die man en die vrou saam “een (echad) vlees” sal wees (Gen. 2:24); wanneer baie mense saam “een (echad) skare” is (2 Sam. 2:25); of wanneer twee stukke hout saam “een (echad) stuk hout” word (Eseg. 37:17), ens.

Die Bybel leer ons dat die werklike wese van God liefde is, en sê: “God is liefde” (1 Joh. 4:8). Dit is nie waar van Allah nie. Die Bybel verwys herhaaldelik na God se liefde vir mense, en ook na die liefde wat ons vir Hom moet hê. Liefde word egter nouliks in die Koran genoem. Die woord “liefde” word nie eers een keer in die indeks van die populêre Marmaduke Pickthall vertaling van die Koran genoem nie. Liefde is nie een van Allah se 99 attribute nie.

Die Koran sê wél dat Allah diegene liefhet wat goed doen (Surah 2:195; 3:146-148), asook hulle wat ‘n stryd vir sy saak voer (Surah 61:4). Nêrens word egter gesê dat hy alle mense liefhet nie – nog minder die sondaars. Die God van die Bybel het sondaars lief, selfs diegene wat Hom haat. Allah word as genadig beskryf, maar hy betoon geen genade aan dié wat dit nodig het nie. Die God van die Bybel betoon genade aan almal, en vergewe alle belyde sondes.

Die eerste van die Tien Gebooie is dat ons die God van die Bybel met ons hele hart moet liefhê. Nêrens in die Koran word ‘n Moslem beveel om Allah lief te hê nie. Dit is onmoontlik om Allah lief te hê, omdat hy nie geken kan word nie. Ons kan die God van die Bybel ken, en Hy roep mense herhaaldelik op om Hom te ken. Hierteenoor sê die Koran dat niemand vir Allah kan ken nie omdat hy té groot is.

Ten spyte van die oneindigheid van God, dat Hy die Skepper van die heelal is wat sonder begin of einde is, openbaar die Bybelse God Homself tot só ‘n mate dat mense Hom kan ken. Die Here Jesus het self gesê: “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Joh. 17:3). Diegene wat die God van die Bybel nie ken nie, is vir ewig verlore. Niemand ken vir Allah nie, daarom word liefde nie uitdruklik aan hom gekoppel nie.

Die Messias en die redding van sondaars

Die Bybel het talle profesieë oor die koms van die Messias, Jesus, maar daar is nie een profesie in die Koran oor die koms van Jesus of van Mohammed nie. Die Koran is eers geskryf nadat Mohammed gekom het, daarom kon sy koms nie daarin geprofeteer word nie. Die Ou Testament het Jesus se koms egter eeue, en selfs duisende jare, voor die tyd geprofeteer.

Die Joodse profete het in die Ou Testament gesê dat die Messias gekruisig sou word en op die derde dag uit die dood opstaan. Jesus het op die presiese tyd gekom wat geprofeteer is (Dan. 9:25-26) en vir die sondes van die hele wêreld gesterf, soos wat die Bybel oor en oor sê (vgl. Jes. 53:5; Joh. 1:29; 3:16-17; Rom. 3:23-25; Kol. 2:14-15; Heb. 2:14). Die Koran ontken egter hierdie feite en sê dat Jesus glad nie aan die kruis gesterf het nie – nog minder vir ons sondes. Die Bybel sê dat die straf vir sonde betaal moet word, en dat God self mens geword het om vir ons sondes te sterf. Allah het dit nie gedoen nie.

Hoe red Allah sondaars? Dit sou nie reg wees om sonde te vergewe sonder dat die straf daarvoor betaal is nie. Waar verduidelik Allah die kwessie van straf? Wanneer en deur wie is die straf gedra? Indien Allah vergewe, hoe vergeef hy? Allah weier eenvoudig om te vergewe, of hy vergewe net wie hy wil. Daar is geen konsekwente of regverdige basis vir enige van dié twee optredes van hom nie.

Geen Moslem kan seker wees dat Allah hom sal vergewe nie. As ‘n Christen weet ek verseker dat al my sondes vergewe is, en dat ek die ewige lewe het as ‘n gawe van God deur die dood en opstanding van Christus. Ek gaan hemel toe – nie op grond van my goeie werke nie, maar omdat Jesus Christus die straf vir my sonde betaal en ek dit in die geloof aanvaar het. Allah is net genadig aan dié wat goed doen. Die Bybel sê dat daar niemand is wat goed nie omdat almal gesondig het (Rom. 3:11-12), en dat God sondaars red as hulle glo in Christus wat vir hulle gesterf het (Rom. 3:23-25).

Daar is talle weersprekings ín die Koran, en ook tussen die Bybel en die Koran. (Vir meer besonderhede hieroor, lees Dave Hunt se boek: A Cup of Trembling. Dit kan teen R60,00 bestel word by: The Berean Call, Posbus 2336, Krugersdorp 1740).

Epiloog: ‘n Lewende en dinamiese geloof

Daar is net een grondslag vir saligheid en ‘n lewe van volgehoue toewyding aan die Here daarna:

“Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke” (Titus 2:11-14).

Net Jesus Christus alleen kan ons van die mag van die duisternis verlos en ons van alle ongeregtigheid reinig deur sy bloed, sodat ons aan Hom kan behoort:

“Die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Hand. 4:12).

Hierna vervul Hy ons met sy Heilige Gees sodat ons in staat kan wees om vrugte te dra wat by die bekering pas (Hand. 1:8; Matt. 3:8). Ons kan nie uit eie krag en deur menslike pogings vir God probeer behaag nie, maar ons gee uitvoering aan ons roeping as Christene deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees wat op grond van die genadewerk van Christus aan ons verleen word. Deur die wedergeboorte is ons “geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel” (Ef. 2:10).

Ons word dus nie net uit die duisternis geroep tot die wonderbare lig van Christus nie, maar ontvang ook ‘n roeping om daarna sy dissipels en getuies te wees. In die Christendom werk ons nie om gered te word nie, maar omdat ons gered is. Ons het ‘n dinamiese geloof wat sy lewenskragtigheid deur ‘n lewe van toewyding bewys. Mense wie se lewens nie van hierdie aktiewe diens getuig nie, beoefen ‘n dooie vormgodsdiens want “geloof sonder die werke is dood” (Jak. 2:26).

Die duisende nominale Christene van ons tyd het nog nooit eerlik hulle sondes bely en ‘n geloofsaanvaarding van die Here Jesus as hulle Verlosser gedoen nie. Hulle “geloof” bestaan slegs uit ‘n “opinie” omtrent die aanvaarbaarheid van die Christendom. Dit lei egter net na ‘n gedaante van godsaligheid sonder die wederbarende krag van die Heilige Gees (2 Tim. 3:5). Weens só ‘n persoon se geestelike kragteloosheid kan hy nie vir die Here werk nie, omdat hy nog steeds geestelik dood is:

"Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie?" (Jak. 2:14).

Het jy ‘n ware geloof wat nie net van redding getuig nie, maar ook van die toewyding (werke) daarna? Indien wél, dan sal die Here se reddende genade jou “leer” (aanspoor, of motiveer) om ingetoë en regverdig te lewe, en ook ywerig te wees in goeie werke. Terselfdertyd sal hierdie genade ‘n groot verlange na die wederkoms van die Here Jesus in jou binneste opwek. Jy sal nie die profesieë oor die wederkoms van Christus ignoreer of bevraagteken nie, maar dit sal vir jou die “salige hoop” op sy verskyning wees.

Spoedig sal Hy kom, dan sal die mag van die vyand (die Antichris en sy ryk) verdelg en ‘n Christelike nuwe wêreldorde met Jerusalem as hoofstad gevestig word. Met verheerlikte opstandingsliggame sal ons in daardie ryk saam met Christus regeer (Fil. 3:20-21; Op. 5:9-10).

Geen ander godsdiens bied hierdie konkrete, bybelse vooruitsig aan ons nie. Ons aanbid ‘n lewende God wat Homself deur Jesus Christus aan ons geopenbaar het. Omdat Christus uit die dood opgestaan het, aanbid ons ook ‘n lewende Verlosser wat in ons belang stel, ons help, lei en elke dag vir ons intree. Hy staan op die punt om na die aarde terug te keer en God se raadsplan verder in vervulling te laat gaan. Ons moet aanhou om sý lof te verkondig totdat Hy kom!

Dit is nie nou die tyd om die Bybel te bevraagteken deur ander godsdienste te begin bestudeer en met hulle hande te vat nie. Ons moet ook nie die dwaasheid begaan om die heidene op grond van Romeine 2:14-15 te probeer regverdig nie. Daar staan dat die heidene “van nature” ‘n wet het, omdat hulle deur hulle gewete weet wat reg en verkeerd is. Hulle weet dat dit verkeerd is om te moor en te steel, al het hulle nog nie die Bybel gelees nie. Die Here kan hulle dus ook oor hulle sondes oordeel. Sonder die Here Jesus kan hulle nie uit die dilemma van Romeine 7:20-24 kom nie. Selfs al weet hulle dat hulle verkeerd doen, is hulle nogtans uitgelewer aan hulle gevalle, sondige natuur. Hulle móét van Jesus Christus en sy verlossingskrag hoor, want “wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie” (1 Joh. 5:12).

Volgens Lukas 12:47-48 sal diegene wat nie van Christus geweet het nie, met min slae geslaan word. Hulle sal dus nog steeds verlore gaan, maar hulle straf sal ligter wees. Aan die ander kant is daar verswarende omstandighede vir dié wat van die Here Jesus geweet en Hom doelbewustelik as Verlosser en Seun van God verwerp het. Hulle sal met dubbele slae geslaan word. Mense wat van Christus weet maar sy Godheid ontken en sy kruisdood verwerp, sal swaarder gestraf word.