Prof. Johan Malan
Dit is belangrik om die aard en funksies van God se koninkryk te ken, en ook hoe dit in verskillende bedelings op aarde funksioneer. Hoe regeer God en waarom is sy koninkryk nie van hierdie węreld nie? Hoe lank sal sy koninkryk op aarde nog in die harte van gelowiges verborge bly voordat dit in die openbaar geproklameer word? Hieruit vloei daar ook verskeie ander vrae: wat is koninkryksteologie en waarom het so baie christenleiers die verwagting dat God se koninkryk voor die wederkoms van die Koning, Jesus Christus, sigbaar deur menslike pogings soos rekonstruksionisme, transformasie en strategiese geestelike oorlogvoering, asook tekens en wonders, op aarde geopenbaar sal word?
Aanhangers van die koninkryk-nou teologie wil nie aanvaar dat ons in die voetspore van Christus moet volg en in sy lyding deel, sodat ons eendag ook sy heerskappy met Hom kan deel nie. Die dissipels kon ook nie verstaan dat daar ‘n verskil tussen die geestelike en politieke (of fisiese) aspekte van die koninkryk is nie. Volgens Lukas 19:11 het hulle gedink dat die koninkryk in daardie tyd geopenbaar en ingestel sou word. Jesus het in ‘n gelykenis aan hulle verduidelik dat hulle Koning na ‘n ver land (die hemel) sou gaan en eers later sou terugkom om loon in sy koninkryk aan hulle te gee (Luk. 19:15-19; vgl. Op. 22:12). In Handelinge 1:6 het hulle spesifiek gevra of Jesus die koninkryk van Israel sou instel. Sy antwoord was dat die tyd daarvoor nog nie gekom het nie, maar dat hulle krag sou ontvang om sy getuies in die hele węreld te wees. Dit het vir die meeste van hulle martelaarskap in ‘n vyandige węreld beteken. Ons moet verstaan hoe die koninkryk van die hemel beskryf en progressief aan ons geopenbaar word.
‘n Duidelike begrip is van die hemel nodig, wat die setel van die koninkryk is waaraan ons behoort.
Die hoogste hemel is die woonplek van die Drie-enige God – God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees. In ‘n gebed het Moses gesę: “Kyk tog uit u heilige woning, uit die hemel, neer en seën u volk Israel” (Deut. 26:15). Tydens Jesus se geboorte het die engele gesę: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde” (Luk. 2:14). In Christus se Bergpredikasie kry ons die opdrag om só op die aarde te leef dat dit ons Vader wat in die hemel is, sal verheerlik (Matt. 5:16). Ná sy aardse bediening is die Here Jesus weer terug na die hemel toe: “En terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle geskei en is in die hemel opgeneem” (Luk. 24:51). In die hemel sit Hy aan die regterhand van God die Vader waar Hy altyd leef om vir ons in te tree (Rom. 8:34; Heb. 7:25; 8:1). Jesus is in die hemelse Vaderhuis met sy baie wonings besig om vir ons plek te berei (Joh. 14:2). Hiervandaan sal Hy terugkom aarde toe om ons te kom haal: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep... en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees” (1 Thess. 4:16-17). Die hemel is ook die woonplek van die engele (Luk. 2:15; 22:43).
Die koninkryk van die hemel heers oor die ganse heelal, en word van die troon van God af beheer wat in die hemel is. In Psalm 103:19 staan daar: “Die Here het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles.” Ons moet van die hemelse heerskappy oor ons lewens bewus wees en ons gedagtes altyd daarop rig: “As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie” (Kol. 3:1-2).
God het ‘n ewige koninkryk: “Sy koninkryk is ‘n ewige koninkryk, en sy heerskappy is van geslag tot geslag! (Dan. 4:3). Ná die sondeval en die vestiging van Satan se mag op aarde is die koninkryk van die hemel net in ‘n beperkte, verborge vorm op aarde gevestig. Navolgers van hierdie koninkryk doen dit deur die geloof en nie deur aanskoue nie: “Geloof is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie” (Heb. 11:1) Die Here Jesus het aan sy dissipels gesę dat dit aan hulle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar hierdie kennis is nie aan die ongelowiges gegee nie (Matt. 13:11). Jesus het ook gesę dat die koninkryk van die hemele soos ‘n skat is wat in ‘n saailand verborge is, en wat ons moet soek. Dit is soos ‘n baie kosbare pęrel wat jy ontdek en dan alles wat jy het, verkoop om dit te kan koop (Matt. 13:44-46).
Hierdie verborge koninkryk sál later, tydens die wederkoms van Christus, sigbaar op aarde geopenbaar word. In ‘n profesie oor die Messias het Jesaja gesę: “Die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid” (Jes. 9:5-6; vgl. Dan. 7:14,27).
Deur geloof in Christus verkry ons toegang tot hierdie ewige koninkryk: “Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 1:11). Die kenmerke van hierdie koninkryk is geregtigheid en vrede. Tydelike dinge moet nie vooropgestel word nie, “want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees” (Rom. 14:17). Dit moet ‘n saak van die hoogste prioriteit by ons wees om die Here te dien, daarom moet ons eers die koninkryk van God en sy geregtigheid soek, dan sal die ander dinge vir ons bygevoeg word (Matt. 6:33).
Seën én oordeel kom uit die hemel. Die Here verskaf aan ons geestelike voedsel uit die hemel deur sy Seun se genadewerk, en ook deur sy Woord (Joh. 6:31-35; Luk. 4:4). Christene wat die goddelike voorskrifte van die Woord oortree, sondig teen die hemel (Luk. 15:18,21). Oordele word ook uit die hemel op die goddeloses uitgestort (Luk. 17:29; Rom. 1:18; Op. 6:12; 16:1). In die komende verdrukking sal sondaars in paniek tot die berge en rotse uitroep: “Val op ons en verberg ons vir aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam” (Op. 6:16).
Christene het ‘n hemelse bestemming. Ons burgerskap is in die hemel (Fil. 3:20) omdat ons name ook daar opgeskryf is (Luk. 10:20). Ons het ‘n onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemele vir ons bewaar word, en gereed is om in die laaste dae aan ons geopenbaar te word (1 Pet. 1:4-5). Dit is onbeskryflik mooi: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van die mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet” (1 Kor. 2:9).
Loon sal in die hemel aan diegene gegee word wat hulle roeping as getuies vir Christus vervul het en ook op aarde verdrukking ter wille van sy Naam verduur het (Luk. 6:22-23; 2 Kor. 5:10). Hulle word aangemoedig om vir hulle skatte in die hemel bymekaar te maak deur die werk van die Here te ondersteun en só dinge te doen wat ewigheidswaarde het (Luk. 12:33; 2 Kor. 9:6-7).
Daar is blydskap in die hemel oor elke persoon wat gered word en sodoende ‘n lid van hierdie wonderlike koninkryk word (Luk. 15:7). Die blydskap van die heiliges sal volkome wees wanneer hulle met hemelse opstandingsliggame beklee is wat ver bokant die beperkings van hulle aardse bestaan verhewe is (2 Kor. 5:1-2; Fil. 3:21).
God is die verpersoonliking van liefde (1 Joh. 4:8) en heiligheid (1 Pet. 1:15-16). Hierdie goddelike beginsels geld vir almal wat deel van sy koninkryk is (1 Joh. 4:7,16). Liefde is ‘n vrywillige en spontane houding van aangetrokkenheid tot en die volle aanvaarding van ‘n ander persoon of persone. Liefde is nie net ‘n houding nie omdat dit ook tot dade van omgee, versorging, gereelde kommunikasie, getrouheid, onderlinge respekbetoning en hulp in tye van benoudheid verbind is. Liefde soek nie net sy eie belange nie, maar ook dié van ander (1 Kor. 13:4-5; Fil. 2:4).
Ware liefde kan nooit gedwonge wees nie, omdat dit diep uit die hart voortvloei. Om hierdie rede het die engele en mense wat die Here geskape het, almal ‘n volkome vrye wil. Hulle word nie gemanipuleer of gedwing om die Here lief te hę nie, maar tot die eer van ‘n liefdevolle God én in hulle eie belang gevra om dit te doen.
Die vryheid om te kán liefhę, sluit die moontlikheid in om nié lief te hę nie, m.a.w. om te haat. Die engele in die hemel het God vrywillig lief omdat Hy ‘n goeie God is, maar hulle was van die begin af vry om ook anders op te tree. Baie van hulle het inderdaad gesondig en is op grond daarvan deur God geoordeel (2 Pet. 2:4). Hierdie rampspoedige keuse het tot die begin van die koninkryk van die duisternis gelei.
Rebellie het in God se koninkryk plaasgevind deurdat Lucifer homself in hoogmoed verhef en met God probeer gelykstel het (Jes. 14:12-17). Hy is met ‘n derde van die engele wat saam met hom gerebelleer het, op die aarde neergewerp (Op. 12:3-4). Lucifer het “Satan” (“Teëstander”) geword en as sodanig die hoof van die opponerende koninkryk van die duisternis. Die gevalle engele het bose geeste, of duiwels, geword wat deur hom gebruik word.
Sedert die sondeval beheer en intimideer hy ook die ongeredde mense wat geestelik in sy mag is. Uit hierdie bose mag verlos die Here ons (Kol. 1:13). Die duiwel probeer alles moontlik om die beheer oor God se skepping oor te neem en dit te verwoes. Hy probeer ook voorkom dat die beeld van God in mense herstel word. Dit doen hy deur hulle geestelik te verblind en van hulle slawe van die sonde te maak. Sy einddoel is om in die plek van God deur alle mense vereer, aanbid en gedien te word (Op. 13:2,4). Hy wil die Antichris in die plek van Christus in ‘n posisie van heerskappy op aarde plaas. In die plek van die Heilige Gees se werk probeer hy om mense deur verleidende geeste te mislei en te laat dwaal. Ons het die wapenrusting van God nodig sodat ons teen die liste van die duiwel staande kan bly, omdat hy en sy demone węreldheersers in hierdie bedeling is (Ef. 6:11-12).
Die geestelike magsposisie wat Satan op aarde verkry het, is die gevolg van die sondeval. Alle mense word met ‘n sonde-geneigde natuur gebore en rebelleer saam met die duiwel teen God. Hulle is geestelik dood en moreel verdorwe (Rom. 3:10-18). Selfs ná die koms van Jesus Christus verkies die meeste van hulle die duisternis bó die lig omdat hulle werke boos is (Joh. 3:19). Dit is die rede waarom die duiwel die owerste en ook die god van hierdie gevalle, bose węreld genoem word (Joh. 14:30; 2 Kor. 4:4). Johannes sę dat die hele węreld in die mag van die Bose lę (1 Joh. 5:19). Sy invloed is baie groot.
Die feit dat Satan en sy gevolg van gevalle engele uit die hemel gegooi is, het na ‘n oorlogsverklaring teen God en sy ewige koninkryk gelei. Satan wil wraak neem oor wat met hom gebeur het, en streef ook steeds daarna om homself met God gelyk te stel en deur mense aanbid te word. Deur sy groot vermoë tot misleiding het hy die meerderheid mense in sy mag gekry. Hy het van ons eerste ouers, Adam en Eva, mede-rebelle teen God en sy heerskappy gemaak. Die eienskap van geestelike verdorwenheid is deur al Adam se afstammelinge geërf (die sg. erfsonde) wat beteken dat alle mense op aarde as sondaars gebore word (Rom. 5:12).
Verder het die Here ook aan Adam en Eva gesag oor die natuurlike węreld verleen, tesame met die opdrag om die aarde te onderwerp en daaroor te heers (Gen. 1:26,28). Die feit dat hulle die raad van die duiwel aanvaar het, het meegebring dat hulle daardeur ook die gesag wat hulle verkry het, aan hom afgestaan het. As gevolg hiervan, asook die feit dat die meeste mense steeds die duisternis van sonde liewer as die lig van God se heilige teenwoordigheid het (Joh. 3:19), is Satan die owerste van die węreld.
Paulus sę: “Ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die węreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Ef. 6:12). Satan het inderdaad sy heerskappy hier gevestig en van die węreld ‘n verdorwe en sondige plek gemaak wat geheel en al teen God se koninkryk gekant is. Hy het selfs vir Jesus probeer versoek om hom te aanbid en sodoende deel van sy bose koninkryk te word:
“Toe bring die duiwel Hom [vir Jesus] op ‘n hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die węreld in ‘n oomblik se tyd. En die duiwel sę vir Hom: Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. As U my dan aanbid, sal alles aan U behoort. En Jesus antwoord en sę vir hom: Gaan weg agter My, Satan, want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien” (Luk. 4:5-8).
Jesus het nie Satan se heerskappy oor die koninkryke van die węreld betwis nie maar sy eis om as die god van hierdie węreld (2 Kor. 4:4) erken en aanbid te word, verwerp. Uit hierdie oogpunt beskou, is die węreld deel van ‘n bose koninkryk wat vyandig teenoor die koninkryk van God is. God het nie die mensdom in hierdie omstandighede aan hulle eie lot oorgelaat nie, maar hulle tot bekering en gehoorsaamheid aan Hom opgeroep. Dit is die rede waarom die Here Jesus vir ons sondes gesterf het, “sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose węreld” (Gal. 1:4).
Die Here Jesus het só vir sy dissipels gebid, wat hulleself in die koninkryk van die duisternis op aarde bevind: “Hulle is in die węreld… Die węreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die węreld is nie, net soos Ek nie van die węreld is nie… Hulle is nie van die węreld nie, net soos Ek nie van die węreld is nie” (Joh. 17:11,14,16). Dr. Andrew Murray maak in sy boek, Soos Christus, die volgende opmerkings oor hierdie skrifgedeelte:
“As Jesus nie van die węreld was nie, waarom was Hy dan in die węreld? Hy was hier om die verlossingsplan vir ‘n gevalle mensdom uit te werk. Hy was in stryd teen die magte wat die węreld regeer, om hier ‘n weg tot geestelike lewe en oorwinning uit te werk. Hy het gekom om die lewe wat daar in God is, wat deur die mens verloor is, te vertoon en naby aan ons te bring sodat mense dit kon sien en begeer. Hy het ook gekom om ‘n koninkryk te vestig wat volkome hemels in sy oorsprong is, heeltemal onafhanklik van alles wat deur die węreld as begeerlik en nodig beskou word, en waarvan die beginsels en wette die teenoorgestelde is van dit waardeur die węreld regeer word.
“Die twee uitdrukkings, ‘in die węreld’ en ‘nie van die węreld nie’ openbaar aan ons die groot misterie van die persoon en werk van die Verlosser. Hy is nie van die węreld nie omdat Hy die węreld in die krag van sy goddelike heiligheid oordeel en oorwin; maar Hy was in die węreld sodat Hy deur sy menslikheid en liefde die verlorenes kon soek en red. Die mees volkome afgesonderdheid van die węreld, en die mees intieme gemeenskap met diegene in die węreld – hierdie twee uiterstes ontmoet mekaar in Jesus. In sy eie persoon het Hy hulle versoen. Dit is die roeping van elke Christen om in sy lewe te bewys dat hierdie twee ingesteldhede, hoe botsend hulle ook al mag voorkom, ook in sy lewe in volkome harmonie kan bestaan. In elke gelowige moet daar ‘n hemelse lewe wees wat in aardse vorme geopenbaar word.
“Die ware volgeling van Jesus moet albei hierdie beginsels kombineer. As hy nie duidelik wys dat hy nie van die węreld is terwyl hy die groter seën van ‘n hemelse lewe voorstaan nie, hoe sal hy die węreld van sonde oortuig en aan hulle bewys dat daar ‘n beter lewe is, of aan hulle leer om te begeer wat hulle nog nie het nie? Opregtheid, heiligheid en afgesonderdheid van die gees van die węreld moet die Christen kenmerk. Sy hemelse gees moet hom onderskei as iemand wat aan ‘n ander koninkryk as dié van die węreld behoort.
“Die gelowige is net so min van die węreld as wat Christus was. In sy nuwe natuur is hy van bo gebore en het die lewe en liefde van die hemel in hom. Sy bonatuurlike, hemelse lewe skenk aan hom die vermoë om in die węreld te wees sonder om van die węreld te wees. ‘Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here.’ Dan sal die belofte vervul word: ‘Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel’ (2 Kor. 6:16-17). Christus stuur jou, soos die Vader Hom gestuur het, om in die węreld te wees as ‘n plek wat deur God bepaal is om sy liefde daar bekend te maak. Is jy bereid om die hemelse lewe hier op aarde te lei?”
Die feit dat ons hier op aarde as vreemdelinge in die koninkryk van Satan is, laat by baie mense vrae oor God se soewereiniteit ontstaan. Is Hy dan nie aan die bewind nie? God is inderdaad oppermagtig. Hoewel hy die mens met gesag beklee het, wat dit op sy beurt in die hande van Satan laat beland het, kan God te enigertyd in Satan se koninkryk ingryp (Eng. “overrule”). Dit is die rede waarom Christene gereeld bid dat die Here hulle sal lei en van die Bose bewaar. Die Here Jesus leef altyd om vir ons in te tree (Heb. 7:25). In sy hoëpriesterlike gebed op aarde het Hy al vir ons gebid: “Ek het hulle u woord gegee, en die węreld het hulle gehaat... Ek bid nie dat U hulle uit die węreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar” (Joh. 17:14-15). Dit is hieruit baie duidelik dat ons in ‘n vyandelike koninkryk is, en dat ons diep van die Here se seën, leiding en bewaring afhanklik is as ons geestelik wil oorwin.
Ten spyte van hierdie ingrypings leef ons elke dag in ‘n goddelose węreld wat in die mag van die Bose lę. Ons het ook steeds ons vrye wil waarmee ons besluite neem. Ons kan God nie blameer vir negatiewe dinge wat met ons gebeur nie. Hy het niks daarvan oor ons gepredestineer nie. Die verkeerde besluite wat ons self neem, die besoedelende effek van die węreld waarin ons leef, die hartstogte van die vlees, asook die versoekings en aanvalle van Satan, moet die skuld vir rampe en teëspoed kry. In die lig hiervan is dit duidelik dat God nie ‘n aandeel in die węreld se ellendes het nie. Hy veroorsaak of bepaal dit nie.
Die wanordelike en sondige situasie op aarde beteken geensins dat die Here beheer verloor het, of dat Hy nie soewerein is nie. Hy het juis ‘n soewereine besluit geneem om aan mense ‘n vrye wil te gee, asook beheer oor die węreld. As hulle ‘n gemors daarvan maak, sal Hy hulle oordeel en sodoende die finale seggenskap oor hulle lewens uitoefen. God is steeds die finale oppergesag in die heelal. Hy is lankmoedig en genadig, maar daar kom ‘n tyd wanneer Hy die węreld in geregtigheid sal oordeel. Sonde en ongeregtigheid sal nie ongestraf bly nie.
Satan se koninkryk sal heeltemal verdelg word, maar tans is dit nog ‘n aaklige werklikheid waarmee ons beslis rekening moet hou.
Jesus Christus is die Regter en Koning in God se koninkryk (Ps. 2:6; Hand. 17:31). Die uitvoering van sy taak hou ten nouste verband met die stryd tussen die twee koninkryke, asook die verlossing van mense uit die mag van Satan. Om hierdie rede is daar twee komste van die Here Jesus na die aarde toe – die eerste keer om as lydende Messias in die plek van verlore mense te sterf om die prys vir ons sonde te betaal, en die tweede keer as die Koning van die konings om die koninkryk van God sigbaar op aarde te vestig.
Tydens sy eerste koms het die Here Jesus die beginsels van sy koninkryk duidelik bekend gemaak, maar Hy het Homself in die gedaante van ‘n dienskneg verborge gehou en nie uiterlik as koning oor Israel en die węreld regeer nie. Hy het hier, in vyandige terrein, ‘n weg van verlossing voorsien sodat alle berouvolle sondaars wat Hom as Verlosser aanvaar, toegang tot sy ewige koninkryk kan verkry. Hy het ook aan sy dissipels ‘n voorbeeld gestel oor hoe hulle as lede van die hemelse koninkryk in ‘n verdorwe aarde moet leef (1 Pet. 2:21; 1 Joh. 2:6).
Jesus het tydens sy eerste koms wel te kenne gegee dat Hy God én Koning is, en dat daar ‘n toekomstige bedeling van heerlikheid en heerskappy sal aanbreek, maar het Homself nie in die hoedanigheid van sy toekomstige koningskap geopenbaar nie. Dit sal eers tydens sy wederkoms gebeur. Die verlossingswerk wat Hy tydens sy eerste koms gedoen het, sou sy koninkryk nie uiterlik op aarde vestig nie, maar net in die harte van die gelowiges (Luk. 17:21).
Gedurende die hele bedeling tussen Christus se eerste en tweede koms is sy dissipels die volgelinge van die lydende Christus wat deur die węreld verwerp word. Dit beteken noodwendig dat ons deur ‘n goddelose węreld verwerp en vervolg sal word (Joh. 15:18-20; 16:33). Alle gelowiges moet langs die weg van vele verdrukkings die koninkryk van God ingaan (Hand. 14:22; 2 Tim. 2:3; 3:12; 4:5).
Wanneer Jesus vir die tweede keer kom, sal dit in mag en majesteit wees om sy koninkryk sigbaar op aarde te openbaar (Op. 19:11-16). Omdat daar geen uiterlike naasbestaan tussen die koninkryke van die lig en die duisternis kan wees nie, sal Hy eers die ryk van Satan moet verbreek. Dit sal tydens die slag van Armageddon gebeur wanneer die vyandelike magte verdelg, die Antichris en die valse profeet lewend in die hel gewerp en Satan ook gevang en vir ‘n duisend jaar lank in ‘n bodemlose put gebind sal word (Op. 16:14,16; 19:19-21; 20:1-3).
“En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sę: Die koninkryke van die węreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Op. 11:15). Daniël sę: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie” (Dan. 2:44).
Slegs dan, en nie ‘n oomblik voor die tyd nie, sal die koninkryk van God sigbaar op aarde geopenbaar word. Jesus se wederkoms staan ook in verband met die opstanding van alle gelowiges omdat ons almal saam met hom in sy koninkryk sal regeer (2 Tim. 2:12; Rom. 8:17). Dan sal ons “konings en priesters” wees en “as konings regeer saam met Christus” (Op. 1:6; 5:10; 20:4). Die goddeloses moet eers verdelg word (Jes. 11:4; 13:9; 24:3-6) voordat Jesus sy koninkryk van geregtigheid sal openbaar. Die oorlewendes van die groot verdrukking sal Hom almal as Koning en Verlosser aanvaar (Matt. 24:30).
Tydens die millennium sal Jesus van die troon van Dawid af uit Jerusalem regeer (Hand. 15:16-17; Jes. 9:5-6; 16:5). Reg en geregtigheid sal op aarde geskied (Ps. 45:7-10; Jer. 23:5). Die wet van die Here sal uit Jerusalem uitgaan en “Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jes. 2:3-4). Sy heerskappy sal wees “tot vrede sonder einde op die troon van Dawid... deur reg en deur geregtigheid” (Jes. 9:6).
Omdat Satan gebind en van al sy magsbasisse op aarde ontneem sal wees, sal die nasies in daardie tyd nie in sonde en rebellie teenoor God leef nie: “In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17). Sagaria sę: “So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die Here van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die Here om genade te smeek” (Sag. 8:22). Die geredde Israel sal die leidende nasie in die węreld wees (Sag. 8:23) en Jerusalem sal verhef word tot ‘n lof op aarde (Jes. 62:7).
Hoewel Satan in die komende duisendjarige vrederyk gebind sal wees “sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie” (Op. 20:3), sal hulle nog sterflike mense wees wat in sonde ontvang en gebore word. Al die lede van die opkomende geslagte sal dus geëvangeliseer en gered moet word as hulle lede van God se koninkryk wil wees. Die gebrek aan gedissiplineerdheid en geestelik toewyding wat deel van die mens se gevalle natuur is, sal daartoe lei dat die Here in die vrederyk hierdie nasies met ‘n ystersepter sal regeer (Op. 19:15).
Die verheerlikte heiliges wat saam met Christus regeer, sal ook dié styl van streng beheer handhaaf. Aan sy getroue dissipels sę die Here Jesus: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ‘n ysterstaf; soos erdewerk word hulle verbrysel” (Op. 2:26-27).
Die toestande wat in die vrederyk sal heers, sal egter nog nie die einde van Satan se rebellie teen God se koninkryk beteken nie. Aan die einde van Christus se vrederyk op die huidige aarde sal Satan vir ‘n kort tydjie losgelaat word om die mense op aarde te versoek (Op. 20:7-10). Al die ongereddes sal dadelik in sy mag val en saam met hom aan die laaste groot rebellie teen God se koninkryk deelneem. Hulle sal egter deur vuur uit die hemel verdelg word, die duiwel sal vir ewig in die poel van vuur gegooi word en daarna sal die eindoordeel plaasvind wanneer alle ongelowiges van alle tye ook tot die ewige poel van vuur veroordeel sal word (Op. 20:11-15).
Hierna sal die huidige hemel en aarde vergaan en ‘n nuwe hemel en aarde geskep word (2 Pet. 3:10; Op. 21:1). Die nuwe Jerusalem sal op die nuwe aarde neerdaal, en dit sal die ewige woonplek van die heiliges wees waar hulle saam met die Here sal woon (Op. 21:2-3). “Daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Op. 21:4). In hierdie stad “sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam” (Op. 21:27).
In die nuwe hemel en op die nuwe aarde sal daar nooit weer enige vorm van rebellie teen die ewige koninkryk van die Here wees nie.
Dit is baie duidelik dat ons tans nog nie as konings saam met Christus regeer nie. Die kinders van God het beslis nog nie die aarde beërf nie (Matt. 5:5). Eers wanneer die vyand deur die Here verdryf is, sal “die ootmoediges die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede” (Ps. 37:11). Tans is alle Christene steeds in vyandelike gebied, daarom is ons in dié bedeling vreemdelinge en bywoners op aarde (1 Pet. 2:11). In hierdie goddelose węreld moet ons getuies vir Christus wees, want ons woon te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie ons moet skyn soos ligte in die węreld (Fil. 2:15).
Ons moet bedag wees op die feit dat die huidige węreld in die mag van die Bose lę (1 Joh. 5:19), daarom moet ons aktief teen hom weerstand bied en bid dat die Here ons van die Bose sal bewaar. Gebed is van die allergrootste belang in ons daaglikse lewens, omdat ons voor talle probleme te staan kom wat ons nie sonder die Here se hulp en ingryping te bowe kan kom nie. Ons is feilbare mense met beperkte insig en krag, daarom moet ons nie ons lewens sonder ‘n aktiewe, daaglikse toewyding aan die Here lei nie. Indien ons sou nalaat om te waak en bid, sal ons die vyand se versoekings ten prooi val en sodoende die Heilige Gees bedroef (Ef. 4:30). Ons kan ook deur eie insig verkeerde besluite neem waardeur groot skade aan onsself, aan andere én aan God se koninkryk aangerig kan word.
Die feit dat Satan beheer oor die węreld verkry het, beteken dat hy sy magsbasisse hier nog verder sal uitbrei sodat hy ‘n volskaalse oorlog teen God se koninkryk kan voer in ‘n poging om dit te vernietig. In die komende verdrukking sal alle nasies onder demoniese misleiding na Israel optrek om teen die komende Messias te veg. Johannes verwys na “duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele węreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God... En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armageddon... En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër” (Op. 16:14,16; 19:19). Dan eers sal Satan en die Antichris, asook hulle misleide meelopers, se mag deur die komende Christus gebreek word, wat op ‘n wit perd tot die oorlog tot toetree. Ons is nou in die aanloopfase na hierdie groot konflik voor die koms van Christus.
Tans word Satan beperk in dit wat hy kan doen, omdat die Heilige Gees wat in ons is, groter is as hy (Satan) wat in die węreld is (1 Joh. 4:4). Alle ware Christene is die tempel van die Heilige Gees, en as sodanig die lig van ‘n donker węreld en die sout van ‘n bedorwe aarde. Hoewel die ware kerk deur die krag van die Heilige Gees ‘n teëhouende rol vervul, beteken dit nie dat ons Satan kan onttroon en die węreld oorneem, soos wat daar in die transformasie-beweging gepoog word om te doen nie. Ons bly steeds soldate vir Christus wat die volle wapenrusting van God moet aantrek sodat ons staande kan bly teen die liste van die duiwel (Ef. 6:11).
Ons moet daarop bedag wees dat Satan alle moontlike metodes sal gebruik om die Christendom te mislei en in sy mag te kry. Hy probeer om Christene ontrou aan die Here en afvallig van die geloof te maak, sodat hulle die valse messias sal aanvaar en aanbid wanneer hy kom. Daar is nie ‘n terrein van ons geloofslewe wat nie deur hom vervals word in ‘n poging om hierdie doel te bereik nie. Die volgende tien vervalsings is algemeen bekend en neem elke dag verder in omvang en intensiteit toe:
‘n Valse Jesus: Die persoon en versoeningswerk van die Here Jesus word vervals ten einde Hom van sy godheid en maagdelike geboorte te ontneem, wat beteken dat Hy nie die volmaakte Lam van God is wat die enigste weg van verlossing aan ons bied nie (2 Kor. 11:4). Volg jy die ware Jesus na, of dalk ‘n ander Jesus wat deur misleide mense vervals is?
Valse geeste: Die werk van die Heilige Gees word vervals deurdat verleidende geeste van Satan onder gelowiges werksaam is om hulle in leuens te laat glo (2 Kor. 11:4; 1 Tim. 4:1) en ook vreemde, onbybelse ervarings te laat beleef.
Valse evangelie: Satan span alles in om vervalste weergawes van die evangelie van Christus te laat verkondig sodat mense nie gered sal word nie (2 Kor. 11:4). Valse fondamente vir saligheid word aan mense gebied, bv. wetsnakoming, ‘n goeie lewe, die uitverkiesingsleer, die doop, ens., terwyl die eis van wedergeboorte op grond van Christus se kruisdood verswyg word.
Valse spiritualiteit: Geestelike toewyding deur middel van gebed, Bybelstudie, geloof en waaksaamheid word deur ‘n mistiese spiritualiteit vervang waarin mense na binne keer en meditasie (of kontemplasie) beoefen. ‘n Ydele herhaling van woorde (mantras) word gebruik om ‘n geestelike ervaring en innerlike bewussyn van God se teenwoordigheid te verkry (Matt. 6:7).
Valse leraars: ‘n Groot menigte valse leraars verkondig leuens aan hulle lidmate (2 Tim. 4:3-4) en verloën selfs openlik die godheid en versoeningsdood van Christus (2 Pet. 2:1-2). Hulle preek in Jesus se naam, doen wonderwerke en dryf duiwels uit, maar alles is vervalsings en dus nie van die Here af nie (Matt. 7:22-23). As gevolg van hulle toedoen gaan miljoene mense verlore.
Valse kerke: Verskeie Christelike kerke het al só ver van die waarheid afgewyk dat die Here Jesus aan hulle sę: “Ek het dit teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Op. 2:4-5). Vir ‘n ander valse kerk sę Hy: “Omdat jy lou is... sal Ek jou uit my mond spuug. Want jy sę: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (Op. 3:16-17).
Valse heiligheid: Daar is ‘n vorm van valse vroomheid wat slegs op uiterlike vertoon ingestel is, sonder dat die betrokke persone se harte hoegenaamd deur die evangelie van Christus verander is (Matt. 23:27). Hulle het net ‘n uiterlike gedaante van godsaligheid en is met ‘n valse vorm van godsdiensbeoefening besig (2 Tim. 3:5). Sulke mense bewys net lippediens aan die Here en behoort glad nie aan Hom nie (Matt. 15:8-9). Hulle blokkeer die pad hemel toe vir ander mense (Matt. 23:13) en dit pas volmaak by die duiwel se plan van misleiding in. Die Here sę vir die skynheiliges: “Dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar God ken julle harte: want wat by die mens hoog geag word, is ‘n gruwel voor God” (Luk. 16:15).
Valse herlewings: Tekens en wonders word gebruik om ‘n valse skyn van herlewing by mense te skep wat op misleiding gebaseer is. Jesus het gesę: “Baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei... hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Matt. 24:11,24). Dit word gedoen as voorbereiding vir die verskyning van die Antichris en valse profeet, wat ook van tekens en wonders gebruik sal maak om mense te mislei (2 Thess. 2:8-9; Op. 13:13; 19:20).
Valse identiteitsbewegings: Satan spesialiseer ook daarin om aan mense ‘n valse identiteit te gee, sodat hulle iets anders van hulleself moet dink as wat hulle werklik is. Hieronder is die Israelvisie wat verkeerdelik dink dat hulle van die tien stamme van Israel afstam en dat net blanke Israeliete gered kan word. Baie kerke dink ook verkeerdelik dat hulle die “geestelike Israel” is, daarom verwerp hulle die werklike volk Israel wat nou in hulle eie land herstel word.
Valse toekomsverwagting: Die duiwel is geheel en al teen ‘n voorverdrukking-wegraping gekant, omdat hy weet dat gelowiges wat vir die Here Jesus wag, sy opdragte uitvoer en met voorbereidings besig is om in ‘n toestand van heiligheid voor Hom te verskyn (1 Joh. 3:3; 1 Thess. 3:13; 5:23-24). In die plek hiervan gee hy aan mense die verwagting op ‘n universele messias van alle gelowe wat ‘n nuwe węreldorde van godsdienstige, politieke en ekonomiese eenheid op aarde sal instel. Selfs Christene wat weet dat hulle die Antichris moet verwerp, maar nogtans glo dat hulle steeds hier sal wees wanneer hy verskyn, hou hulle met strategieë vir oorlewing in die komende moeilike tye besig. Dit is ‘n nuttelose oefening wat uit ‘n verkeerde siening van die profesieë voortspruit. Hierdie siening neem die blye verwagting op die koms van die hemelse Bruidegom weg, en konfronteer die bruidsgemeente met ‘n verdrukking soos wat daar nog nooit was nie (Matt. 24:21). Ons moet ‘n Christus-verwagting hę en nie ‘n Antichris-verwagting nie. Die Here Jesus het nie verniet sy dissipels gewaarsku nie: “Pas op dat niemand julle mislei nie” (Matt. 24:4).
Terwyl ons getuies vir Christus hier op aarde in Satan se koninkryk is, tree ons soos reisigers op wat op pad na ons hemelse bestemming is. Ons is vreemdelinge hier omdat ons nie aan die koninkryk van die duisternis behoort nie. “Ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus” (Fil. 3:20). Ons is kinders van die lig wat op die openbaring van God se koninkryk wag (Kol. 3:4). Ons weerstaan die Bose en sę saam met Paulus: “Die Here sal my verlos van elke bose werk en my red om in sy hemelse koninkryk in te gaan” (2 Tim. 4:18).
Omdat ons lewens in die hand van die Here is, beskik Hy ons lotgevalle. Dit verander egter nie aan die feit dat ons in ‘n vreemde koninkryk is nie, en dat ons daaruit beďnvloed word. Juis dit is daarvoor verantwoordelik dat ons deur vele verdrukkings in God se koninkryk moet ingaan. Ons moet hierdie realiteit vierkantig in die oë kyk en ons nie met die wensdenkery van die koninkryksteoloë besig hou nie, want volgens hulle moet God se koninkryk nog voor die wederkoms van Christus op aarde gevestig word. Ons moet besef dat die stryd vorentoe nóg hewiger gaan word, want ons is nou in die finale aanloop na die wegvoering van die gemeente en die openbaring van die Antichris.
Omdat die kerk van Christus as die teëhouer teen die opmars van die Antichris en die uitvoering van Satan se eindtydse planne vir die verdere openbaring van sy koninkryk optree, wend hy alle pogings aan om die kerk van sy krag en toewyding aan Christus te beroof. Hy probeer om die maagde te mislei, hulle sonde te laat doen, tot moedeloosheid te dryf en aan die slaap te sus. As gevolg van die stortvloed ongeregtigheid is baie van hulle se liefde besig om te verkoel (Matt. 24:12). Ook word Christus se beeld in die openbaar afgebreek en die evangelie van verlossing oral bevraagteken. Dit lei tot wydverspreide geloofsverval (1 Tim. 4:1). “As die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Luk. 18:8).
Wanneer die Koning kom sal Hy sy vyande verdelg, die oorblyfsel van Israel en die nasies red, die troon van Dawid in Jerusalem herstel en saam met sy heiliges regeer. Dan het die koninkryk van God gekom – nie net in ons harte nie, maar ook in die hele węreld daarbuite, “want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jes. 11:9).