Geagte pastoor Hagee
Evangeliese Christene in baie lande het ernstige probleme met die manier waarop u die Messias, Jesus, vermy in u pogings om Israel te seën en te ondersteun. U doen sterk Bybelse oproepe aan gelowiges om Israel op verskillende maniere materieel te ondersteun, sonder enige verwysing na Jesus as die enigste ware bron van alle seëninge aan Israel en die nasies. Sou die Messias werklik nie-Jode motiveer om Israel te ondersteun sonder enige verwysing na die evangelie van verlossing wat “in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” verkondig moet word? (Hand. 1:8).
Hoe kan u Jerusalem en Judéa van die Groot Opdrag uitsluit en die siening huldig dat Jode in Nuwe Testamentiese tye gered kan word deur slegs die wet te onderhou? Johannes het gesê: “Die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom” (Joh. 1:17). Paulus het aan mede-Joodse gelowiges gesê: “Ons wat van nature Jode en nie sondaars uit die heidene is nie; terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie” (Gal. 2:15-16).
Die werke van die wet, soos bv. die herhalende offers van die Ou Verbond, was slegs skaduwees wat na die eenmalige offer van die Messias as die vlekkelose Lam van God heengewys het. Johannes die Doper het Hom bekendgestel as “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Joh. 1:29; vgl. 1 Pet. 1:18-19). “Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo” (Rom. 10:4). Ná sy koms en kruisiging kom dit op growwe ongeloof neer indien mense hulleself tot “die swakke en armoedige eerste beginsels” van die wet sou beperk (Gal. 4:9).
Pastoor Hagee, u is aan die Messias self aanspreeklik vir die onbybelse idees wat u oor die redding van Israel huldig en bevorder. Jesus het reguit aan die geestelike leiers van Israel gesê: “As julle nie glo dat dit Ek Is nie, sal julle in jul sondes sterwe... Wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, dan sal julle weet dat dit Ek Is... Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek” (Joh. 8:24,28,58). Israel sal in hulle sondes sterf as hulle nie tot bekering kom en Jesus in die geloof as hulle Verlosser aanneem nie. Hy is die vervulling van die wet (Matt. 5:17). “As daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe” (Gal. 2:21). Die Messias is ook Israel se sterke God en Vredevors wat van die troon van Dawid af sal regeer (Jes. 9:5-6).
Ek stem saam met u dat dit jou nie populêr onder ortodokse Jode sal maak wanneer jy Jesus as Messias verkondig nie. Ek verkies egter om saam met Christus verwerp te word as om net op grond van uitgebreide humanitêre hulp ‘n vriend van Israel genoem te word. Humanisme sal nie hulle geestelike blindheid genees nie, en hulle ook nie na die Messias toe trek nie. Slegs kompromielose Christelike hulp wat aan die evangelie gekoppel is, bied ‘n oplossing vir die diep geestelike probleme van hierdie volk aan. Ons moet hulle jaloers maak deur die manier waarop ons die God van Abraham, Isak en Jakob deur die Messias, Jesus Christus, dien.
U het aan ‘n verslaggewer van die Houston Chronicle gesê dat Paulus die idee verwerp het dat Jode op grond van geloof in Jesus gered kan word, en homself toe tot die heidene gewend. Dit is nie waar nie. Hoewel die meerderheid van hulle (soos ook onder alle volke) hardkoppig en onbekeerlik is, was daar altyd ‘n gelowige oorblyfsel onder hulle (vgl. Rom. 11:2-5). Paulus het gesê dat “die evangelie van Christus... ‘n krag van God tot redding is vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek” (Rom. 1:16). Hy het altyd eers vir die Jode gepreek voordat hy homself tot die heidene gewend het, en gesê: “As ek tog maar net my eie volk jaloers kan maak en sommige uit hulle kan red!” (Rom. 11:14).
Israel se geskiedenis kan net in die lig van hulle verhouding met die Messias reg verstaan word. Hoe kan ons die byna twee millennia van Israel internasionale verstrooiing en die onbeskryflike ellendes wat hulle te beurt geval het, verklaar as ons dit nie aan hulle verwerping van die Messias koppel nie? Hy het aan Jode in die eerste eeu gesê: “Jerusalem, Jerusalem... hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak... en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat! Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:37-39).
Die vertrapping van Jerusalem het vir bykans 2000 jaar voortgeduur. Die Here Jesus het gesê dat die inwoners van Jerusalem “deur die skerpte van die swaard sal val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24).
Aangesien die huidige geslag Jode, met die uitsondering van ‘n minderheid Messiaanse Jode, nog steeds vir Jesus as Messias verwerp, hoe kan groot seëninge aan hulle belowe word sonder dat hulle met Hom versoen is? Hulle is in dieselfde situasie as hulle eerste eeuse voorvaders wat God se seëninge as gevolg van ongeloof en die leerstellings van mense verbeur het (Matt. 15:8-9).
Israel is weens hulle goddelike roeping ‘n messiaanse volk. Moses het aan hulle gesê: “’n Profeet uit jou midde, uit jou broers, soos ek is, sal die Here jou God vir jou verwek; na Hom moet julle luister” (Deut. 18:15). Dit was God se plan dat sy Seun, die Verlosser Israel én die geestelik verblinde nasies, uit hierdie volk gebore sou word. Die wet van Moses (die Torah) moes slegs tydens die voorbereidende fase voor die koms van die Lam van God nagevolg word. Hierdie skaduagtige offers was net ‘n middel tot ‘n doel om die groot betekenis van die storting van die Messias se bloed vir die vergifnis van sondes te beklemtoon (Heb. 9:14,22). “Daarom is Hy Middelaar van ‘n nuwe testament, sodat, terwyl daar ‘n dood plaasgevind het vir die verlossing van die oortredinge onder die eerste testament, die wat geroepe is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang” (Heb. 9:15).
Die belofte aan Israel dat die Messias in hulle midde verwek sal word, het van hulle vyand nommer een in Satan se stryd teen die koninkryk van God gemaak. Heidense volke is gebruik om Israel deur afgodediens te mislei, om hulle na ‘n materialistiese lewenswyse te lok, en hulle ook by tye hewig te vervolg. Al hierdie metodes is gevolg om die belofte van die Messias te probeer verydel. Die belofte van die komende Messias het heelhartige toewyding van Israel vereis, en ook die bereidwilligheid om vir sy naam te ly: “Moses... het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ‘n tyd lank die genot van die sonde te hê, en die smaad van Christus groter rykdom geag as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning” (Heb. 11:24-26).
Hoeveel te meer behoort die Jode ná die koms van Christus bereid te wees om ter wille van Hom te ly. Dit is presies wat die vroeë dissipels gedoen het! Paulus sê: “Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra” (Heb. 13:13). Die laer van Judaïsme moet verlaat word ten einde ‘n volgeling van die Messias te word, want alleen Hy kan ons heilig. “Die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem” (Heb. 10:4)
Dit is tragies dat ortodokse Jode hierdie groot waarheid verloën deur te verkies om die voorbereidende gebruike van die wet voort te sit, en daarvan ‘n doel in sigself te maak. Hulle kan nie die vervulling daarvan in Jesus raaksien nie, gevolglik kyk hulle uit vir ‘n ander messias wat hulle sal toelaat om die derde tempel te bou en ook na die gebruik van diereoffers terug te keer. Hierdie onbybelse houding sal deur die duiwel uitgebuit word, wat aan Israel ‘n “messias” volgens hulle eie begeertes sal bied.
Indien ons as Christene nie op ‘n duidelike en oortuigende wyse die Messias aan hulle verkondig nie, en in teendeel hulle wettiese spiritualiteit goedpraat, sal Israel slagoffers van die valse messias word. Hierdie vervalser sal hulle toewyding aan die wet uitbuit, hulle toelaat om die tempel te herbou en hulle ook aanmoedig om weer diere-offers in te stel (Dan. 9:27). Hy sal weet dat deur só op te tree die Jode daarvan weerhou sal word om die eenmalige offer van Christus vir hulle sondes te aanvaar. Jesus het hulle teen hierdie noodlottige besluit van die aanvaarding van ‘n valse messias gewaarsku (Joh. 5:43).
Een van die ernstige implikasies van Israel se voortgesette verwerping van die Messias is dat hulle deur die tyd van die benoudheid van Jakob sal moet gaan, wat die verdrukking van sewe jaar is (Jer. 30:7). Jesus het ook ‘n komende groot verdrukking voorspel soos wat daar van die begin van die wêreld af nog nooit was nie (Matt. 24:21). Twee-derdes van alle Jode sal in die groot verdrukking sterf, en net ‘n derde van hulle sal dit oorleef en die Here Jesus as Messias aanneem (Sag. 13:8-9). Die oorblyfsel wat sal opsien na Hom vir wie hulle deurboor het, en bitterlik oor Hom ween, sal gered word (Sag. 12:10).
Indien ons nalaat om Christus aan Israel te verkondig, moedig ons nie net ‘n lewelose vorm van wettisisme onder hulle aan nie, maar lewer hulle ook aan die Antichris uit. Pastoor Hagee, watter nut het dit om op TV onderhoude met ortodokse Jode te voer en hulle eerbetoon vir u groot hulppakette te aanvaar, maar te swyg oor Jesus wat hulle enigste hoop is? By een geleentheid het ‘n ortodokse Jood in ‘n onderhoud op TV teenoor u opgemerk dat die huidige gebeure in Israel sekere tekens van die Messias se spoedige koms is. U moes sekerlik daarvan bewus gewees het dat hy ‘n ander messias as Jesus bedoel het.
Dit was die ideale geleentheid om u geloof met hom te deel deur aan hom te vertel dat die Messias 2000 jaar gelede as die lydende Dienskneg gekom het om vir ons sondes geoffer te word, en dat Hy weer in mag en majesteit as die Koning van die konings sal kom om van die troon van Dawid af uit Jerusalem te regeer (Hand. 15:16-17; Jer. 3:17). U het egter niks hieroor gesê nie omdat u nie aan die Jode aanstoot wou gee deur hulle ortodokse beskouings in twyfel te trek nie. Wat sou die Here Jesus aan sulke skynheiliges gesê het wat mense daarvan afraai om volgelinge van Hom te word? Hy het gesê: “Salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie” (Luk. 7:23).
Ons kan nie ‘n werklike en blywende seën vir Israel wees as ons nie ons hulp aan hulle op ‘n duidelike wyse aan ons geloof in die Here Jesus koppel, en ook aan sy liefde vir sy volk Israel nie. Dit is hoogs misleidend om net Israel se vyande te waarsku dat die Here hulle op die berge van Israel sal verslaan, soos wat u tydens Israel se onlangse inval in Libanon gedoen het, sonder om ook vir Israel te waarsku dat die Here as gevolg van hulle verharde harte groot benoudheid oor hulle sal toelaat. Hulle het skuim in die oë van God geword, en vir daardie rede sal Hy hulle binne-in Jerusalem vergader om die vuur van sy toorn teen hulle te blaas (Eseg. 22:18-22).
Dit word in Messiaanse profesieë duidelik gestel dat Israel eers in hulle benoudheid hulle oortredings sal erken en die Messias sal soek (vgl. Hos. 5:14-15; Jer. 30:7). Dit is ons plig om hulle teen die gevolge van die verwerping van die Messias te waarsku. Die vrede van God sal alleen op hulle neerdaal wanneer hulle sal ween oor die Een wat die wonde in sy hande het, en wanneer hulle aan Hom sal sê: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!”
Die Jode het die Here Jesus net so nodig as wat u en ek Hom het. Hulle moet vermaan word om hulle geloof in die Messias te stel, en nie in die wet nie. Paulus het gesê: “Ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is” (Fil. 3:8-9).
In Christus “woon al die volheid van die Godheid liggaamlik” (Kol. 2:9). Ná sy eerste koms was daar nooit ‘n moontlikheid dat enige persoon op aarde, Jood of nie-Jood, vir God sonder Christus kon nader, eer en dien nie. Niemand gaan na die Vader behalwe deur Hom nie (Joh. 14:6). Israel sal slegs voorspoedig wees nadat hulle hulleself heelhartig aan Hom oorgegee het.
Ons is as Christene daartoe verplig om die Messiaanse beweging in Israel te steun, want dit is die klein begin van ‘n nasionale geestelike ontwaking waarby uiteindelik die hele oorblyfsel van Israel betrek sal word. Met die koms van die valse messias sal die meerderheid van die volk wél ‘n verbond met hom sluit, maar onder die werking van die Heilige Gees sal die Messiaanse groep dramaties deur die redding van 144 000 Jode uit al twaalf stamme van Israel uitgebrei word (Op. 7:1-8). Nadat die misleide meerderheid hulle verbond met die valse messias verbreek het, sal hulle erg deur hom vervolg word en vir oorlewing na ‘n plek in die woestyn moet vlug (Matt. 24:15-22). ‘n Oorblyfsel van hulle sal gered word wanneer die ware Messias kom.
Hierdie oorblyfsel sal nie gered word omdat hulle die derde tempel gebou en weer die Ou Testamentiese offerdiens ingestel het nie, maar omdat hulle sal drink uit die fontein van heil wat deur die ware Messias op Gólgota geopen is toe sy hande, voete en sy aan die kruis deurboor is en Hy sy lewe vir die sonde van die hele wêreld afgelê het. Die engel van die Here het aan Jesus se aardse vader, Josef, gesê: “Jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (Matt. 1:21). Dit wat die wet nie vir Israel kon doen nie, het die Messias vir hulle kom doen.
Dit is goed om die ortodokse en ongelowige (nie-praktiserende) Jode te seën, hulle goddelike mandaat oor die land te erken en immigrasie na Israel te befonds en aan te moedig. Onthou egter dat die ryke beloftes van God nét deur die Messias aan Israel vervul kan word. Hulle huis (Jerusalem) en hulle hele land is woes gelaat omdat hulle die Messias 2000 jaar gelede verwerp het. Hierdie erfenis sal slegs in al sy heerlikheid herstel kan word as die volk hulle geestelike lewe op die Rots, Jesus Christus, bou. Totdat hulle dit doen, is groot benoudheid en onbeskryflike ellende hulle voorland.
Selfs grootskaalse Amerikaanse hulp sal Israel niks help nie, want die Here gaan alle nasies teen Jerusalem versamel (Sag. 12:3). Hy gaan dit beslis nie net doen om die nasies vir hulle Jode-haat te straf nie, maar ook om Israel in ongekende benoudheid te bring sodat hulle by hulle verwerpte Messias om genade sal smeek. Die Here sê dat in die komende benoudheid, nét voordat die Messias sy voete op die Olyfberg sit, Jerusalem weer geplunder en die helfte van sy inwoners verdryf sal word (Sag. 14:2).
Al hierdie ellendes kan voorkom word indien Jode én nie-Jode nóú na Hom toe kom op wie die straf vir ons oortredinge gelê is (Jes. 53:5). Indien hulle dit nie doen nie, kan hulle groot strafgerigte van die Here te wagte wees. Dit sal nie tot hulle verdelging wees nie, maar die oorblyfsel sal deur vuur gelouter word totdat hulle in diepe berou voor die Messias neerbuig. Indien hulle dit nou reeds doen, en ook waak en bid, sal hulle waardig wees om al hierdie dinge wat sekerlik in die groot verdrukking oor Israel en die nasies sal kom, te ontvlug en in hemelse heerlikheid voor die Seun van die mens te staan (Luk. 21:36).
21ste eeuse Joodse leiers moet dieselfde boodskap hoor wat aan dié van die eerste eeu gerig is: “Daarop sê Petrus, vervul met die Heilige Gees, aan hulle: Owerstes van die volk en ouderlinge van Israel, as ons vandag ondervra word oor ‘n weldaad aan ‘n siek man, waardeur hy gesond geword het, laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus , die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan. Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ‘n hoeksteen geword het. En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Hand. 4:8-12).
Daar is duidelik geen ander grondslag vir verlore siele in Israel én die heidense nasies om gered te word nie. Mag ons dan uit vrees dat mense met ‘n ander geloofsoortuiging aanstoot sal neem, hierdie groot waarheid verswyg of selfs ontken? Jesus het gesê: “Elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is” (Matt. 10:33). Daar is geen uitsondering op hierdie reël nie, “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is” (Rom. 3:23-24). Dit geld sekerlik ook vir Israel!
Shalom
Prof. Johan Malan
NS. Hierdie brief is aan John Hagee Ministries gepos, en die volgende reaksie is op 24 September van hulle af ontvang. Ek waardeer Edward Martinez se opmerkings, maar dit is steeds nie duidelik of John Hagee self die verskillende stellings ter harte sal neem nie. Dit is jammer dat hy nie die tyd kon vind om kortliks op die voorlegging te reageer nie.
September 24, 2006
Dear Professor Malan,
Greetings in the name of our Lord and Savior Jesus Christ. On behalf of John Hagee Ministries we thank you for your support and the confidence you have in some of Pastor Hagee's teachings.
We acknowledge receipt of your e-mail letter to Pastor Hagee entitled, "Open Letter to John Hagee: Does Israel need Jesus". You want Pastor Hagee to review and respond to the various points addressed in your letter. The Lord has blessed our ministry and Pastor Hagee's time is stretched to the limit. Please understand why he is unable to personally contact you with a response to your message.
It is obvious that the interpretations and conclusions you address in your letter were well researched and well documented. It is apparent you have researched this matter regarding the Jews and believe you are correct in your conclusions.
Please understand that your concerns are important to us but we just do not have the resources to respond to the specific points you present in your analysis.
We thank you for sharing these thought provoking conclusions with Pastor Hagee.
We at John Hagee Ministries pray for you in the name of our Lord. May God bless you and guide you in all your ways. Isaiah 26:3 reminds us, "And He will keep him in perfect peace whose mind is stayed on Thee".
God bless you!
Sincerely,
Edward Martinez
John Hagee Ministries