Drie Stappe na Hoër Hoogtes

Johan Malan

Ons het die opdrag om in die genade en kennis van ons Here Jesus toe te neem (2 Pet. 3:18), en moet dus geestelik van ‘n basiese na ‘n meer gevorderde kennis van God en sy Woord streef. Die implikasie is dat ons nie klein kinders in Christus moet bly, wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering nie, maar dat ons deur verskillende stadiums moet opgroei tot die volwasse man of vrou in Christus (Ef. 4:13-14). Ons gaan in die Bybel kyk na voorbeelde van hoe die beginsel van groei en progressiewe ontwikkeling gewoonlik in drie stadiums plaasvind terwyl dit na hoër vlakke vorder. Dit sal ons help om die dinamiek van ons geestelike lewe beter te verstaan, omdat daar nooit ‘n punt van stagnasie moet wees nie maar altyd ‘n uitdaging om na hoër hoogtes te reik.

In die Bybelse getalleleer is daar verskillende getalle wat ‘n duidelike geestelike betekenis het en dikwels in die Bybel gebruik word, bv. 3 wat op die Drie-enige God se wese en baie van sy werke dui, 7 wat die getal van volheid of finaliteit is, bv. die 7 dae van die week, die 7 gemeentes, die 7 seëls, die 7 basuine en die 7 laaste plae in Openbaring, die getal 12 wat op Israel se 12 stamme dui, en op die kerkbedeling se 12 apostels, die getal 40 wat op beproewing dui, bv. die 40 jaar waarin Israel in die woestyn rondgeswerf het, en die 40 dae waarin Jesus in die woestyn deur die Satan versoek is. In hierdie artikel gaan ons die aandag op die geestelike betekenis van die getal 3 vestig, wat baie algemeen in die Bybel voorkom.

Drie vlakke van ons Christelike roeping

Wanneer ons uit die duisternis geroep word tot die Here se wonderbare lig (1 Pet. 2:9), is dit net die begin van die hoë roeping van God in Christus Jesus (Fil. 3:14). In ons geestelike lewe is daar duidelik van drie stadiums of vlakke van ontwikkeling sprake. Hulle is:

1. Gelowiges. Tydens ons redding word ons gelowiges omdat ons die Here Jesus in die geloof as ons Saligmaker aangeneem het en deur sy Gees herskep is. Dit is egter net die begin van ‘n lang ontwikkelingsproses na geestelike volwassenheid. Aanvanklik is ons soos klein kindertjies wat met onvaste treë loop, min kennis van die Here en sy Woord het, en ook nog nie ons ou natuur ten volle afgelê het nie. Paulus noem sulke gelowiges “vleeslike” Christene wat nog vol van verkeerde gesindhede is (1 Kor. 3:1-3). Indien hulle nie die ou natuur aflê om gekruisig te word nie, sal hulle nie geestelik vorder nie en niks vir die Here kan doen nie (Gal. 5:17). Dit is dalk maklik om te kan sê dat jy ‘n gelowige is, maar is jy ook ‘n dissipel van Christus en ‘n lid van sy bruidsgemeente?

2. Dissipels of heiliges. Ná die eerste reiniging van ons sondes het almal van ons ‘n tweede genadewerk van heiligmaking nodig. Ons moet op die punt kom waar ons onsself só met die kruisdood van die Here Jesus vereenselwig dat ons die ou, vleeslike natuur sal oorlewer om gekruisig te word sodat ons van al sy sondige werke en neigings gereinig kan word. Dit is die rede waarom die Here Jesus van al sy dissipels die opneem van die kruis van selfverloëning vereis (Luk. 9:23; 14:27; Gal. 6:14). Wanneer dit gedoen is, vervul die Here ons met die nuwe natuur van Christus en maak van ons bruikbare instrumente in sy hand (vgl. Ef. 4:22-24). Eers dan het ons die regte ingesteldheid én geestelike krag om dissipels van Christus te wees. Dit is ook die rede waarom die Here Jesus aan sy geredde dissipels gesê het dat hulle in Jerusalem moes bly totdat hulle met die Heilige Gees vervul is (Luk. 24:49; Hand. 1:8). Sonder hierdie toerusting met krag uit die hoogte sou hulle nie dissipels vir Christus kon wees en vir Hom kon werk nie.

3. Lede van die bruidsgemeente. Die Here Jesus het nie net gekom om van ons gelowiges en diensknegte te maak nie, maar ook intieme vriende wat lede van sy bruidsgemeente en mede-regeerders in sy koninkryk is (Joh. 15:15; 2 Tim. 2:12; 2 Kor. 11:2). Dit word van alle dissipels van Christus verwag om só met Hom een te word dat hulle nie net ‘n formele dienskneg-heer-verhouding met Hom sal hê nie, maar ‘n innige vriendskaps- en liefdesverhouding waaruit daar absolute getrouheid aan Hom sal spruit, asook ‘n besondere liefde vir sy wederkoms. Ons moet as die bruid van die Lam gereed maak om sonder vlek of rimpel voor die hemelse Bruidegom te verskyn wanneer Hy ons by die wegraping kom haal (Ef. 5:25-27; 1 Joh. 3:3; Op. 19:7-8). Sy verheerlikte bruid sal in al sy heerlikheid deel (Kol. 3:4) en saam met Hom in sy koninkryk regeer (Op. 5:9-10).

Die Ou Testamentiese tempeldiens

Die bogenoemde drie vlakke van Christenskap kan ook met die drie vorms van tempeldiens in die Ou Testament vergelyk word:

1. Die voorhof. Alle gelowige Israeliete kon tot in die voorhof van die tempel kom waar die sondoffers gebring is.

2. Die Heilige. Daarna mag net die priesters die Heilige van die tempel betree het om dienswerk te doen waar die kandelaar, die tafel met toonbrode en die reukofferaltaar onderhou moes word.

3. Die Allerheiligste. Dan was daar nog die Allerheiligste agter die voorhangsel waar net die hoëpriester een maal ‘n jaar kon ingaan om versoening vir die hele volk se sonde te doen.

In die Nuwe Testament is daar ook ‘n groot groep gelowiges wat net daarvan kan getuig dat hulle sonde vergewe is. Verdere stappe van toewyding ontbreek nog in hulle lewe. Tweedens is daar die dissipels wat die Nuwe Testamentiese “priesters” is, om te verkondig die deugde van Hom wat hulle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig (1 Pet. 2:9). ‘n Priester praat namens God met die volk (verkondig de Woord) en praat ook namens die volk met God (doen voorbidding). Om dit te kan doen, moet hy deur die Heilige Gees gesalf (vervul) word en homself heelhartig aan die diens van die Here wy. Dan is daar die Allerheiligste wat die Here se genadetroon in die Nuwe Testament voorstel. Die voorhangsel het tydens die kruisiging van Christus geskeur, wat aan alle kinders van die Here toegang na die genadetroon verleen (Heb. 10:19-22). Ons kan nou in ‘n baie intieme verhouding met die Here Jesus staan wat vir Ou Testamentiese gelowiges ontoeganklik was, naamlik lede van sy bruidsgemeente en ook mede-regeerders (konings) in sy koninkryk. Ons het nie menslike middelaars nodig om in ‘n bepaalde verhouding met die Here te staan nie, daarom kan alle gelowiges op hierdie nuwe en lewende weg toetree en hulle volle erfenis in Jesus Christus ontvang. Dit moet egter duidelik gestel word dat ons tans nog in ‘n goddelose wêreld leef waarin ons die verwerpte Christus volg, daarom moet ons bereid wees om ook ter wille van sy Naam en sy verborge koninkryk vervolg te word (Luk. 6:22-28; Fil. 1:29). Wanneer Hy egter in mag en heerlikheid as Koning van die konings kom om sy koninkryk te openbaar, sal sy getroue dissipels saam met Hom regeer. Paulus sê dat as ons nou saam met Hom ly, ons ook eendag saam met Hom verheerlik sal word (Rom. 8:17; 2 Tim. 2:12). Ons kan nou in ons eie lewe, deur die krag van die Heilige Gees, oor sonde en versoekings triomfeer, maar wat ons verhouding met die verdorwe wêreld daarbuite betref, moet ons teëstand en selfs vervolging verwag (Joh. 15:18-20; Matt. 10:34).

Drie vlakke van God se wil

Daar is duidelik ook drie vlakke van die uitvoering van God se wil. Paulus sê: “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom. 12:1-2).

1. God se goeie wil. Om God se goeie wil te doen, vereis dat ek deur bekering in sy wil sal inkom vanuit ‘n ongeredde lewe wat buite sy wil gelei is: “Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” (1 Tim. 2:3-4). Hy “wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Pet. 3:9). Dit is dus God se uitdruklike wil dat jy gered moet word. In Handelinge 17:30 staan daar: “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer.” Sal jy die wil van die Here begin doen? Die “Here Jesus Christus [het] Homself gegee vir ons sondes, sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld, volgens die wil van onse God en Vader” (Gal. 1:3-4). Die mensdom is in net twee families verdeel – die kinders van God en die kinders van die duiwel. As ons die goeie wil van God doen, noem die Here Jesus ons sy familie (Mark. 3:31-35) en ook seuns en dogters van ons hemelse Vader (2 Kor. 6:17-18). Die wêreldlinge en ongeredde vormgodsdienstiges word kinders van die duiwel genoem (Joh. 8:44; Hand. 13:10). Doen God se wil en word ‘n lid van sy familie! Dit is sy versoek, begeerte én opdrag aan alle mense. Blote lippediens aan Jesus is nie genoeg nie. Hy het gesê: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Matt. 7:21). Ons gee die eerste tree in die uitvoering van God se wil wanneer ons tot bekering kom en gered word.

2. God se welgevallige wil. ‘n Persoon wat gered is, het die opdrag om ‘n heilige, diensbare en God welgevallige lewe te lei. Dit is sy redelike godsdiens, en die Here is met niks minder as dit tevrede nie. ‘n Marginale Christelike lewe van vleeslikheid en onvrugbaarheid word as onredelik beskou en is nie vir die Here aanvaarbaar nie. Sulke mense sal eendag met leë hande voor Hom staan, gered asof deur vuur heen (1 Kor. 3:1-3,9-17). Doen jy die Here se wil m.b.t. heiligmaking en diensbaarheid? “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom. 12:1-2). ‘n Geheiligde lewe, gees siel én liggaam, is nodig ten einde insig in God se wil te hê en ‘n lewe te kan lei wat vir Hom welgevallig is. Is jou hart gereinig en dra jy vrug wat by die bekering pas, of bedroef jy die Heilige Gees in hierdie opsig? Onderwerp jou dan aan God se wil wat dié saak betref: “Want dit is die wil van God: julle heiligmaking dat julle jul moet onthou van die hoerery… Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking. Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie ‘n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het” (1 Thess. 4:3, 7-8). Nog ‘n algemene struikelblok in die weg van ‘n heilige, Geesvervulde lewe, is drankgebruik: “Julle [moet] nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is. Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul” (Ef. 5:17-18). Moenie met hierdie besoedeling saamleef nie, maar doen daarvan afstand en stel jou liggaam as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer in sy diens: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor. 7:1).

3. God se volmaakte wil. ‘n Persoon wat in ‘n volle oorgawe die stap van heiligmaking geneem en in die kennis en genade van Christus begin groei het, sal noodwendig na die volmaakte wil van die Here vir sy of haar lewe begin soek. Dit behels onder meer duidelikheid oor jou roeping, asook die beste wyse waarop dit uitgeleef kan word. Paulus sê: “Ek vermaan julle dan… om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is” (Ef. 4:1). Ons moenie die Here net nou en dan behaag en slegs met tussenposes onsself aan Hom wy nie. Ons moet ook nie met min vrug tevrede wees as ons veel meer vir die Here kan bereik nie. Daar moet na die volmaakte wil van die Here vir ons lewe gesoek word. Paulus se gebed vir die Kolossense is: “dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei” (Kol. 1:9-10). Die doel van hierdie gebed vir die Kolossense is: “dat julle volmaak en volkome mag staan in die ganse wil van God” (Kol. 4:12). Hulle moet dus daarna streef om ook God se volmaakte wil te ken en te doen – nie net sy goeie en welgevallige wil nie. Het jy al die Here se volmaakte plan vir jou lewe ontdek? Die Bybel sê dat jy onder die leiding van God se Gees verligte oë van die verstand moet hê sodat jy jou geestelike roeping en erfdeel onder die heiliges kan verstaan (Ef. 1:18). Jy moet ook bid dat die Heilige Gees jou met krag versterk in die innerlike mens, sodat jy in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte, lengte, diepte en hoogte van Christus se liefde is wat die kennis oortref, sodat jy daarin gewortel en gegrond kan word en vervul kan word tot al die volheid van God (Ef. 3:16-19). Dit is ‘n bereikbare ideaal en ons moet doelgerig daarna streef.

Drie vlakke van vrugbaarheid

“En by wie op die goeie grond gesaai is – dit is hy wat die woord hoor en verstaan, wat dan ook vrug dra en oplewer: die een honderd-, die ander sestig-, en die ander dertigvoudig” (Matt. 13:23). Ons kan slegs vrugte dra wat by die bekering pas nadat ons met die Heilige Gees vervul is, omdat hierdie werke ook die vrug van die Gees genoem word (Gal. 5:22). Dit beteken dat ons eers dissipels moet word wat die Here Jesus deur die krag van die Heilige Gees dien. Dit is ‘n groot uitdaging wat aan ons gestel word om diensbaar in die koninkryk van die hemel te wees, en daar kan op verskillende maniere uitvoering hieraan gegee word. Sommige dissipels is meer toegewyd en vasberade as ander, en dra gevolglik meer vrug.

Wanneer ‘n persoon die tweede genadewerk deelagtig geword het (die stap van selfverloëning en vervulling met die Heilige Gees) kan hy in die ware sin van die woord as ‘n dissipel van die Here Jesus beskou word. Hy het die kosteberekening vir dissipelskap gedoen en vir diens aangemeld. Die moontlikheid is dan daar om, afhangende van die graad van sy toewyding en heelhartige oorgawe:

1. minder vrug (dertigvoudig);

2. meer vrug (sestigvoudig); of

3. oorvloedige (honderdvoudige) vrug te dra.

Dissipels van Christus moet altyd na meer heiligheid en groter diensbaarheid streef. Dit gaan met meer intensiewe reiniging van vleeslikheid en wêreldgesindheid gepaard: “Elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra... Wie in My bly en Ek in hom, hy dra veel vrug” (Joh. 15:2,5). Terwyl ons in Christus bly, groei ons op tot die volwasse man of vrou in Hom (Ef. 4:13) en ontwikkel ook verskerpte geestesvermoëns (Heb. 5:14).

Vleeslike Christene wat nie deur die krag van die Heilige Gees leef en nog nie die toerusting vir dissipelskap ontvang het nie, is steeds onder die oorheersing deur die vlees en dra nie vrugte wat by die bekering pas nie. Hulle lewe word deur die dorings en distels van vleeslikheid verstik en dit veroorsaak dat hulle onvrugbaar in die diens van die Here is.

Kan jy van heiligmaking en toewyding tot diensbaarheid in die Here se koninkryk getuig? Indien wel, hoedanig is die vrug in jou lewe? Is jy met min tevrede of streef jy na groter dinge?

Drie grade van beloning

Daar is duidelik ook van verskillende vorms van beloning voor die regterstoel van Christus sprake. “Ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word... So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee” (Rom. 14:10-12). “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het” (2 Kor. 5:10). Hierdie loon word nie op ons redding gebaseer nie, maar op die werke (vrug van die Heilige Gees) in ons lewe ná bekering. Paulus sê:

“...elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang. Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle. Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ‘n bekwame boumeester die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels – elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen” (1 Kor. 3:8-15).

Elke Christen moet oppas hoe hy sy lewe op die fondament van bekering in Christus lei. Nie almal doen onder die leiding van die Heilige Gees werke wat ewigheidswaarde het nie. Almal se werke sal egter voor die regterstoel van Christus op die proef gestel en genadeloon op grond daarvan toegeken word. In Lukas 19:11-27 word die instaatstellende krag van die Heilige Gees as ‘n penning voorgestel wat aan elke Christen gegee word. Dit is ‘n goddelike werksvermoë wat óf gebruik óf deur lui en halfhartige diensknegte onbenut gelaat kan word. Dit kan ook meer of minder gebruik word. Uit die gelykenis in Lukas 19 is dit duidelik dat die heel eerste saak tydens die wederkoms die beloning van die Here Jesus se diensknegte sal wees. Die drie vlakke van beloning voor die regterstoel word só beskryf:

1. Meer loon: “En toe hy terugkom, nadat hy die koningskap ontvang het, sê hy dat daardie diensknegte aan wie hy die geld gegee het, by hom geroep moes word, sodat hy kon weet wat elkeen met handel verdien het. En die eerste het verskyn en gesê: Meneer, u pond het tien ponde wins gemaak. En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (Luk. 19:15-17). Hierdie persoon het sy hele lewe aan sy Heer gewy, maksimaal gearbei en tot aan die einde getrou gebly.

2. Minder loon: “En die tweede kom en sê: Meneer, u pond het vyf ponde verdien. En hy sê ook vir hierdie een: En jy moet wees oor vyf stede” (Luk. 19:18-19). Hierdie dienskneg was ook aktief aan sy Heer toegewy en het veel bereik. Hy het egter nie tot sy maksimum potensiaal vrug gedra nie. Moontlik het hy nie alle laste afgelê wat in sy pad gestaan het nie (Heb. 12:1). Dit is wêreldse dinge wat nie noodwendig sonde is nie, maar wat baie tyd, geld en aandag in beslag neem, en ‘n persoon sodoende van groter toewyding aan die Here se saak weerhou. Almal van ons moet gedurig ons prioriteite uit ‘n Bybelse oogpunt beoordeel en seker maak dat eerste dinge altyd eerste kom. Moenie die wêreld en sy eer en rykdom begin najaag nie.

3. Geen loon: Volgens Lukas 19:20-26 het die derde persoon sy pond weggebêre en glad nie gebruik nie. Hy was wel ‘n dienskneg van sy heer, maar het met leë hande voor hom verskyn. Vir sulke mislukte dissipels wag daar ‘n twyfelagtige toekoms. Hulle het hulleself net met verganklike dinge (hout, hooi en stoppels) besig gehou en selfs daarmee op die fondament Jesus Christus gebou. Hulle meen verkeerdelik dat hierdie sekulêre dinge wat geen ewigheidswaarde het nie, as goeie werke deur die Here aangesien en beloon sal word. Dit sal nie gebeur nie, want ons beste werke wat sonder die Heilige Gees gedoen word, is vir die Here soos ‘n wegwerplike kleed (Jes. 64:6).

Drie vlakke van geestelike verval

Daar is ‘n duidelike pad van verval wat betree word wanneer mense aan versoekings toegee. In hierdie proses kan daar ook drie stadiums onderskei word. Jakobus sê: “Elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort” (Jak. 1:14-15).

1. Versoeking. Alle sonde begin by ‘n gedagte, daarom is versoekings sondige gedagtes wat by ‘n mens opkom. Hierdie gedagtes kan uit vleeslike begeerlikhede voortspruit, of dit kan bose suggesties wees wat van die duiwel af kom. Hy skiet vurige pyle op mense af, waardeur vuil gedagtes en bose voornemens in hulle gedagtes geplant word (Ef. 6:16). As ons die pad van geestelike verval weens sonde wil voorkom, moet ons sondige gedagtes weerstaan. Elke gedagte moet gevange geneem word tot gehoorsaamheid aan Christus (2 Kor. 10:5). Indien ons egter nalaat om dit te doen, dan maak ons kompromie, ons regverdig die voorgenome sondes vir onsself en begin na maniere soek om dit te doen. In dié geval is ons suksesvol versoek en sal spoedig na die tweede stap van aktiewe sonde oorgaan.

2. Die pleeg van sonde. Wanneer die persoon deur sy begeerlikhede weggesleep is, dan baar dit mettertyd sonde. Hy gee uiting aan sy verkeerde hartstogte en welluste en doen dan dit wat verkeerd is, waarteen hy nie in sy gedagtes weerstand gebied het nie.

3. Slawerny aan die sonde. Dit is ’n algemene kenmerk van die sonde dat dit ’n houvas op sy slagoffer kry en hom dwing om dit oor en oor te doen. Hy word dus ’n slaaf van die sonde. Mettertyd kom ander sondes ook by wat hom nog stewiger in ’n web van ongeregtigheid vasdraai. Indien hierdie persoon nie voor sy dood van die sonde verlos word nie, sal hy sy oë in die verderf oopmaak, want “die loon van die sonde is die dood” (Rom. 6:23).

Ander voorbeelde van die patroon van drie

Die volgende is nog 15 voorbeelde van die patroon van drie wat in God se skepping en werkswyse weerspieël word – selfs ook in die koninkryk van die duisternis:

Die Drie-eenheid. Die God van die Bybel openbaar Homself as een God wat uit drie persone bestaan: God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees: “Want daar drie wat getuig in die hemel: Die Vader, die Woord en die Heilige Gees” (1 Joh. 5:7; Joh. 1:1,14; Op. 19:13).

Drie ampte. Daar word in die Bybel van drie ampte van Christus melding gemaak, naamlik Profeet, Priester en Koning. Hoewel Hy dié ampte altyd beklee, word hulle in sy aardse bediening chronologies vervul. Tydens sy eerste koms was hy ‘n Profeet wat die verborgenhede van God se koninkryk kom verkondig en ook Homself as ‘n losprys vir ons sonde gebied het. Ná sy hemelvaart tree Hy as ons Hoëpriester op wat altyd leef om by die Vader se troon vir ons in te tree. Wanneer Hy weer kom, kom Hy as die Koning van die konings om tydens die vrederyk op aarde te regeer.

Drie dae in die graf. Christus was drie dae en nagte (of gedeeltes daarvan) in die graf. Dit was tussen sy kruisdood en opstanding uit die dood. Hierdie feite is kern-aspekte van ons Christelike geloofsbelydenis.

Drie millennia. Die Here Jesus se bediening strek oor drie dae van ‘n duisend jaar elk (vgl. 2 Pet. 3:8). Hierdie drie millennia is die 2000 jaar van die kerkbedeling en die duisendjarige vrederyk wanneer Christus as Koning sal regeer (Luk. 13:32). Van hierdie “drie dae” was Israel twee dae in verstrooiing, en sal op die derde dag geestelike lewend wees en voor die Messias wandel (Hosea 6:1-2).

Drie wêrelde. Die Bybel verwys na die toenmalige, pre-Adamitiese wêreld wat deur water vergaan het, die teenwoordige wêreld wat deur vuur vernietig gaan word in die oordeelsdag, en die nuwe wêreld wat nog geskep moet word (2 Pet. 3:5-7,12-13).

Drie hemele. Daar is drie hemele, nl. die atmosferiese hemel (Matt. 6:26), die sterrehemel (Ps. 8:4) en die derde of hoogste hemel waar God woon (Luk. 2:14). Paulus is tot in derde hemel weggeruk (2 Kor. 12:2-4).

Drie stadiums van menswees. Dit is die ou mens wat geestelike dood is as gevolg van die sonde en misdade (Ef. 2:1), die herskepte, weergebore mens (Ef. 2:5; 1 Kor. 15:22), en die verheerlikte mens wat tydens die wederkoms van Christus ‘n onsterflike opstandingsliggaam sal kry (1 Kor. 15:51-53; 1 Thess. 4:16-17).

Drie menslike attribute. Die mens bestaan uit ‘n gees, ‘n siel en ‘n liggaam (1 Thess. 5:23).

Drie groepe mense. Daar is drie breë etniese vertakkinge van die menslike geslag wat onderskeidelik van Sem, Gam en Jafet afgestam het.

Drie geestelike groepe. Uit ‘n geestelike oogpunt kan die mensdom verdeel word in Israel, die kerk en die heidene (nie-Joodse nasies).

Drie vlakke van geestelike verloëning én herstel. Petrus het die Here drie maal verloën (Luk. 22:61). Daarna het hy drie maal plegtig belowe dat hy die Here sou dien en sy kudde bewaak (Joh. 21:15-17).

Drie openbarings van Elia se krag. Daar is drie openbarings van Elia se gees en krag. Die eerste was in die bediening van die Ou Testamentiese profeet, Elia. Die tweede was in die lewe van Johannes die Doper wat in die gees en krag van Elia gekom het (Luk. 1:17), en die derde sal ‘n spesiale getuie van die Here wees wat in die eerste helfte van die verdrukking ook in die gees en krag van Elia sal optree (Mal. 4:5; Op. 11:3-6).

Die sataniese driemanskap. Satan, die Antichris en die valse profeet sal in die komende verdrukking as ‘n bose driemanskap optree om oor die wêreld te regeer en hulle grootste aanslag nóg teen die koninkryk van God te loods (Op. 13:1-18; 19:19-20; 20:1-2).

Drie reekse oordele. Daar sal drie reekse oordele van God in die verdrukking wees, naamlik die sewe seëls, die sewe basuine en die sewe laaste plae.

Drie groepe mense in die millennium. Tydens die millennium sal die volgende drie groepe mense op aarde wees: Eerstens die opgewekte en verheerlikte gelowiges van alle tye wat soos engele sal wees en saam met Christus oor sy koninkryk regeer (Matt. 22:30; 1 Thess. 4:16-17; Op. 5:9-10; 20:6); tweedens die volk Israel wat nog sterflike liggame sal hê, maar wat almal gered sal wees en die spesiale taak sal hê om die wêreldbevolking in die millennium te evangeliseer (Jer. 31:33-34; Jes. 27:6; Sag. 8:23); en derdens die nasies wat nog sterflike liggame sal hê, waarvan die kinders steeds met ‘n sondige natuur gebore sal word en dus geëvangeliseer sal moet word. Omdat die duiwel in daardie tyd gebind sal wees, sal die nasies in vrede leef, die Here soek en dien, maar nie altyd van harte nie (Op. 20:1-3; Jes. 2:2-4; Jer. 3:17; Sag. 14:16-17). Aan die einde van die vrederyk, wanneer die duiwel vir ‘n kort tyd losgelaat word, sal die nasies grootskaals deur hom verlei word om teen God en die stad van die heiliges (Jerusalem) te rebelleer en oorlog te voer (Op. 20:7-10).

Uit al hierdie voorbeelde van die gebruik van die syfer drie in die Bybel, is dit duidelik dat daar ‘n komplekse patroon in die geestelike sfeer is waarvan ons beslis moet kennis neem. Daar is nie net ‘n basiese onderskeid tussen lig en duisternis nie, maar grade van heerlikheid en ook grade van geestelike verduistering. Vir die Christen is daar altyd die uitdaging om na hoër hoogtes uit te styg, meer vrug te dra, meer heilig te wees en nader aan die Here Jesus te leef. Daar is ook ‘n meervoudigheid van verskynsels in God én Satan se koninkryke waarvan ons kennis moet neem. Indien ons dit in ag neem, sal ons nie slagoffers van dwalings en simplistiese voorstellings van geestelike werklikhede wees nie. Ons moet altyd seker maak dat ons die volle omvang van ‘n saak begryp en presies weet waar ons in ons verhouding met die Drie-enige God staan. Ons moet ook ons verantwoordelikhede goed begryp, dan sal ons as mense van God “volkome wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim. 3:17).