Islam se Beskouings oor die Komende Messias

Daar is verskillende Islamitiese beskouings oor die komende węreldmessias, wat deur hulle die Imam Mahdi genoem word. Baie van die Moslems verwag die herverskyning van ‘n voormalige Imam wat die verskillende faksies in die Moslemgeloof sal verenig, die ongelowiges sal vernietig en ‘n węreldwye regering van Allah in ooreenstemming met die Koran en Islam se Sharia-wette sal instel. Daar is egter ook onder baie Moslems die verwagting dat Jesus van Nasaret die węreldmessias sal wees – nie die Jesus van die Bybel nie, maar die verdraaide Jesus van die Koran, wat net ‘n profeet is. Jesus word 97 keer in die Koran genoem.

Vasberade pogings word aangewend om Jesus in terme van Islamitiese konsepte te definieer, en Hom sodoende as een van Islam se groot profete voor te hou. Hierdie idees word in verskeie boekies gepropageer wat in Riyadh, Saoedi-Arabië, gedruk en węreldwyd deur talle Islamitiese propagandasentrums versprei word. Die volgende is voorbeelde van hierdie publikasies: “We believe in Jesus” deur Soliman H. Al-But’he, “Qur’anic verses about Christianity” deur Abdullah Al-Saeed, “A brief illustrated guide to understanding Islam,” deur I.A. Ibrahim, en “Jesus is coming” deur A.H. Jacob.

Die ‘Islamitiese profeet, Jesus’

In die boekie “Jesus is coming” verwerp A.H. Jacob die Bybel as die onfeilbare Woord van God: “Die Bybel is verdraai, verander en nie meer die Boek van God nie...” (bl. 22). Alle beskouings oor Jesus en die Antichris word gevolglik op die Koran gebaseer. Moslems beskou nie vir Jesus as God of die Seun van God nie (bl. 20,21) en verwerp ook die Bybelse weergawe van sy kruisiging: “Die Koran leer dat Jesus Christus nie gekruisig of deur die Jode doodgemaak is nie” (bl. 25). Volgens dié lering is iemand anders in Jesus se plek en onder sy naam gekruisig.

Die skrywer sę die volgende oor die Antichris: “Die valse messias sal ‘n jongman met growwe hare en ‘n uitpeuloog wees... Hy sal van die pad tussen Sirië en Irak af kom, en links en regs vernietiging en bloedvergieting saai” (bl. 9).

In sy boekie wy die skrywer die meeste aandag aan die identiteit, leerstellings en wederkoms van Jesus Christus, wat volgens hom die groot wegbereider vir Mohammed was. Hy sę:

“Die Messias, seun van Maria, sal in Damaskus na die aarde toe neerdaal. Jesus Christus sal die valse messias (die Antichris) soek, hom naby Jerusalem vang en doodmaak” (bl. 10).

“God se Boodskapper, Mohammed, het gesę dat Jesus, die seun van Maria, binnekort na ons mense (die Moslems) sal neerdaal. Hy sal die mensdom op ‘n regverdige wyse deur die wet van die Koran en die Soenna oordeel en regeer. Hy sal die kruis verbreek en ook die verkoop en eet van varkvleis verbied” (bl. 15).

“Jesus sal as ‘n volgeling van God se laaste Boodskapper, Mohammed, terugkeer om die ware godsdiens, naamlik Islam, te laat herleef... Hy kom terug om die węreld in geregtigheid deur God se finale openbaring aan die mensdom in die heilige Koran te regeer, wat in ooreenstemming met die godsdienstige tradisies van die profeet Mohammed sal wees. Hy sal die mensdom leer om God binne die verband van Islamitiese monoteďsme te dien – om Hom alleen te aanbid, in die voetspore van sy Boodskapper Mohammed te volg, en mense teen die ewige gevolge van politeďsme (die aanbidding van baie gode) te waarsku” (bl. 17,18).

Jesus sal die valse leerstellings wat in sy naam verkondig word, vernietig, soos bv. dat daar ‘n drie-enige God is, wat ‘n politeďstiese geloof is. Hy sal die feit beklemtoon dat God Een is, ‘n absolute eenheid en nie ‘n saamgestelde eenheid nie. Jesus sal Homself nie in ‘n vader-seun-verhouding teenoor God stel nie. Hy sal eerder sy verhouding teenoor God as ‘n meester-slaaf-verhouding sien... Jesus sal ontken dat hy enige van God se attribute het. Hy het nooit daarop aanspraak gemaak dat Hy God is en ook nooit na homself as die seun van God verwys nie. Hy was net ‘n profeet en ‘n dankbare slaaf van God” (bl. 20,21).

“Tydens sy wederkoms sal hy verklaar dat hy ‘n slaaf van God is en ‘n volgeling van sy broeder, Profeet Mohammed, wat die laaste Boodskapper van God is. Jesus sal gebede op die regte manier opsę soos wat die Moslems dit doen, die armes help, gedurende die maand Ramadan vas, die Hajj-pelgrimstog na Mekka onderneem en die Umrah onderhou” (bl. 23). Hy sal die eet van varkvleis verbied en alle varke laat doodmaak (bl. 27-29).

“Jesus kom terug om die valse aanspraak dat die Jode Hom doodgemaak het, te weerlę, asook die oningeligte Christene wat hierdie Jode glo. Hy sal teen die Jode veg en die valse messias doodmaak. Die Jode sal die soldate en volgelinge van die valse messias wees. Tydens sy bewind sal die Jode ‘n baie sterk regering hę, maar net totdat Jesus Christus, die seun van Maria, neerdaal. Hy sal dan die valse messias opspoor en doodmaak. Daarna sal Jesus en sy Moslem-bondgenote teen die Jode veg totdat die oorblywendes van hulle tussen die klippe sal wegkruip... Hy sal ook die Christene doodmaak wat ‘n verering vir die kruis het. Wanneer beide hierdie groepe oorwin en onderwerp is, en die aarde van politeďsme en ongeloof gereinig is, sal daar vrede en harmonie tussen alle mense op aarde wees” (bl. 24).

Moslems sę ook dat Jesus 33 jaar op aarde geleef het, en vir die oorblywende sewe jaar van sy profetiese bediening van 40 jaar moet terugkeer. Hulle sal dus die Antichris as “Jesus” aanvaar!

Die Sjiďtiese Imam

Byna 90% van alle Moslems is Soenniete. Sunnah beteken Tradisie en verwys na die feit dat hierdie groep ‘n versameling tradisies (die hadiths) het wat volle erkenning op dieselfde vlak as die Koran geniet. Hulle erken al die kalifs wat as opvolgers van Mohammed heersers in die Moslem węreld was, terwyl die Sjiďete die eerste drie kalifs as indringers beskou wat wederregtelik hulle posisies verkry het, en wie se leerstellings ook verwerp word. Daar is ‘n bitter stryd tussen die Soenniete en Sjiďete. Daar is groot groepe Sjiďtiese Moslems in Iran en Irak. Iran is die belangrikste vesting van hierdie groep.

Die Sjiďete het ‘n sterk verwagting op die koms van die 12de Imam as węreldmessias. Die leier van Iran, president Mahmoud Ahmadinejad, wat gedreig het om Israel van die węreldkaart uit te wis, het die rol as wegbereider vir die komende Imam aanvaar. Tony Pearce (Light for the Last Days, Des. 2005) sę die volgende oor hierdie diktator:

“Ahmadinejad sę dat die gety van die Islamitiese revolusie spoedig oor die hele węreld sal spoel. Hy glo dat die węreld op ‘n botsing van beskawings afstuur waarin Islam die enigste eerbare alternatief vir Westerse oorheersing is. Hy is daarvan oortuig dat Islam kan en sal wen.

“Daar is niks wat meer gevaarlik in die węreld is as ‘n godsdienstige fanatikus wat daarna streef om sy idees oor geregtigheid deur geweld op ander af te dwing nie. ‘n Deel van Ahmadinejad se oortuigings spruit voort uit sy geloof in die tweede koms van die 12de Imam. Volgens die Sjiďtiese weergawe van Islam het die 12de afstammeling van Mohammed, wat as die 12de Imam of die Mahdi bekend staan, in die jaar 941, meer as ‘n duisend jaar gelede, verdwyn en homself verborge gehou. Die Sjiďete glo dat hy sal terugkom wanneer die węreld vol onderdrukking en tirannie is. Hulle glo dat hy homself in die put Jamkaran in Iran skuilhou. Moslems onderneem pelgrimstogte na dié put en gooi geskrewe versoeke daarin met die hoop dat die Imam dit sal lees en tot hulle hulp sal kom.

“Ahmadinejad sę: ‘Ons revolusie se hoofdoel is om die weg vir die 12de Imam, die Mahdi, se herverskyning voor te berei... Iran se regering het ‘n kabinetsvergadering gehou waarin daar besluit is om ‘n verbond met die 12de Imam te sluit... ‘n Groot aantal van Ahmadinejad se intieme vriende en bondgenote praat openlik oor voorbereidings vir die herverskyning van die verborge Imam, en verbind hierdie voorbereidings uitdruklik aan Iran se kernprogram... Hulle argument is dat hulle boosheid, tirannie en onderdrukking moet bevorder ten einde die koms van die 12de Imam te bespoedig.”

Sjiďete glo dat die Imam Mahdi sewe jaar lank op aarde sal regeer voordat hy in ‘n finale oordeel die einde van die węreld sal meebring. Ahmadinejad se regering het reeds besluit om ‘n verbond met hom te sluit. Daniël sę dat wanneer die valse messias kom, “hy een week lank [van sewe jaar] met baie ‘n sterk verbond sal sluit” (Dan. 9:27).

Daar is diegene in Iran wat die Imam se verskyning binne die volgende twee jaar of so verwag. Ahmadinejad is van mening dat die land vir hierdie groot gebeurtenis voorbereid moet wees deur genoeg hotelle vir die groot aantal toeriste en pelgrims te bou wat Iran in daardie tyd sal besoek.

Toekomstige ontwikkelings

Iran het ‘n baie donker toekoms. Die nuwe geslag revolusionęre leiers het hulleself daaraan verbind om die węreld in boosheid, tirannie en onderdrukking te dompel omdat dit die koms van hulle veglustige messias sal verhaas. Daar is egter ook diegene in Iran wat nie die beoogde botsing tussen Islam en die Weste ondersteun nie. Hoewel hulle aanvanklik die Islamitiese revolusie van die Ajatolla Khomeini ondersteun het, is hulle geskok oor die koers waarin Ahmadinejad nou die land lei.

Mohammed Abtahi, ‘n vorige visepresident van Iran, het uit sy pos bedank en gewaarsku dat radikale Islamitiese leiers alle magsbasisse in die land oorgeneem het. Hy sę: “Vir ons almal lę daar nou ‘n lang nag van duisternis voor. Hierdie mense sal kernkrag gebruik net soos wat hulle węreldterrorisme gebruik om hulle doel te bereik.”

Volgens Esegiël 38 en 39 sal Iran (die voormalige Persië) inderdaad vir Israel aanval in ‘n poging om die land van die węreldkaart af uit te wis. Hierdie oorlog sal ‘n verenigde poging tussen Magog (’n antieke naam vir moderne Rusland), Iran, Turkye, Libië, Ethiopië en verskeie ander volke wees (Eseg. 38:2-8,15-16). Hoewel Rusland ‘n groot arsenaal kernwapens het, dui die beskrywing van hierdie oorlog op ‘n grootskaalse militęre inval in Israel deur grondmagte, en nie op die gebruik van langafstand kernmissiele nie.

Die inval sal noodwendig tot ‘n węreldwye militęre gereedheidstoestand en die ontplooiing van kernmissiele deur verskeie lande lei. Die Here sal egter skielik en onverwags in die oorlog ingryp en die vyandelike magte op die berge van Israel vernietig (Eseg. 38:22;39:1-5). Dit sal ‘n toneel van uiterste vernietiging wees, en die roofdiere en roofvoëls sal hulle in ‘n groot fees verlustig (Eseg. 39: 3-4). Israel sal die buit versamel en dit sal hulle 7 jaar neem om die wapens en verwoeste militęre toerusting te verbrand en op te smelt (Eseg. 39:9).

Die sewe jaar wat op die skielike beëindiging van hierdie oorlog volg, sal waarskynlik die sewe jaar wees waarin Israel en die nasies ‘n verbond met die Antichris sal sluit (Dan. 9:27). Hy sal op ‘n kritieke oomblik tydens of direk ná die vernietiging van die invalsmagte verskyn, en voorgee om ‘n spesiale gesant van God te wees wat net op die regte tyd gekom het om die mensdom van ‘n selfvernietigende kernoorlog te verlos. Israel sal ook uit die kake van die dood gered word.

Die leiers en volk van Israel sal aan die Here die eer vir hierdie magtige verlossingsdaad gee, maar verkeerdelik ‘n sataniese nabootser as die beloofde Messias aanvaar (Joh. 5:43). Die ander nasies sal hulle voorbeeld volg. Die komende vredevors sal op ‘n wit perd ry en homself bo elke god verhef. Hy sal voorgee om die universele messias van alle gelowe te wees – dit is Jesus Christus vir die Christene, die Imam Mahdi vir die Moslems, Krishna vir die Hindoes en die Maitreya Boeddha vir die Boeddhiste.

Ná ‘n aanvanklike tyd van valse vrede sal hy as ‘n uiters gewelddadige man geopenbaar word wat die vrede van die aarde af sal wegneem sodat mense mekaar sal doodmaak (Op. 6:4). “Hy sal met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref... maar hy sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie” (Dan. 11:44-45). Sy einde word in Openbaring beskryf, en dit sal gebeur wanneer die ware Christus terugkeer (Op. 19:19-21; Sag. 14: 2-4,12-13).

Alle messiaanse verwagtings buite die ware Christus, wat die Seun van God en God self is wat in ‘n menslike liggaam geopenbaar is, is op die Antichris gerig. Al die misleide mense in die węreld sal ‘n verbond met die valse messias sluit omdat hulle nie die enigste ware Verlosser van ‘n verlore mensdom persoonlik ken nie (vgl. Joh. 5:43; Hand. 4:12). Daar is baie misleide voorlopers van die valse messias wat die weg vir sy spoedige openbaring baan. Sy regering van sewe jaar sal die węreld se komende uur van duisternis wees.

Addendum

Die volgende kommentaar oor Openbaring 6 deur Jack Kelley van www.gracethrufaith.com ondersteun ook die Bybelse verwagting dat die Antichris uit die Islamitiese węreld in die Midde-Ooste na vore sal tree. Hierdie kommentaar is getiteld “Die vier perderuiters en die Al Mahdi”:

“En ek het gesien toe die Lam een van die seëls oopmaak; en ek het een van die vier lewende wesens hoor sę, soos die geluid van ‘n donderslag: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n wit perd. En hy wat daarop sit, het ‘n boog; en aan hom is ‘n kroon gegee, en hy het uitgegaan as ‘n oorwinnaar en om te oorwin” (Op. 6:1-2).

Die eerste van die sewe seëls word vroeg in die 70ste jaarweek van Daniël gebreek, kort nadat die kerk tydens die wegraping verdwyn het. Liberale teoloë identifiseer dikwels die ruiter op die wit perd as die Here Jesus, op grond van die feit dat hy ‘n kroon dra en ‘n oorwinnaar is. Ek dink hierdie idee van hulle kom van té veel flieks wat hulle as kinders oor die Wilde Weste gekyk het, waarin die goeie ouens altyd op wit perde gery het. Ek sę dit omdat hierdie ruiter beslis nie Jesus is nie. Hy is die Antichris.

Waarom sę ek so? In die eerste plek dra hy ‘n boog. Die wapen wat deur die Here verkies word, is ‘n swaard. Die rede waarom die Antichris nie pyle by hom het nie, is omdat hy tydens sy aanvanklike verskyning op aarde nie van militęre geweld gebruik sal maak nie. Hy sal as ‘n vredemaker kom (Dan. 8:25). Omdat daar baie simboliek in Openbaring is wat elders in die Bybel verklaar word, het ek na die eerste plek in die Skrif gesoek waarin daar van ‘n boogskutter melding gemaak word, in die hoop dat dit aan my ‘n aanduiding van hierdie ruiter se identiteit sou gee. Ek het dit in Genesis 21:20 gevind, waar daar van Ismael gepraat word.

Soos wat daar meer besonderhede oor die Islamitiese eskatologie bekend word, ontdek studente van Bybelse profesieë ‘n treffende ooreenkoms tussen die Moslem messias, die Al Mahdi, en die persoon wat deur Christene as die Antichris beskryf word. Albei van hulle sal in ‘n tyd van groot onrus op aarde op die toneel verskyn, albei van hulle sal die begeerte uitspreek om die vrede op aarde te herstel, albei sal sewe jaar lank regeer, albei sal aan die hoof van ‘n węreldregering en ‘n węreldgodsdiens staan, albei sal op ‘n bonatuurlike oorsprong aanspraak maak, en albei se bewindstermyne sal in ‘n groot oorlog tussen goed en kwaad eindig wat na ‘n oordeel oor die aarde sal lei.

Die lys van ooreenkomste tussen hierdie twee persone is beslis nie toevallig nie, want dit brei verder uit namate meer kennis oor die Al Mahdi bekend raak. Met die verband tussen die Bybel se eerste boogskutter en die man met die boog in Openbaring aangetoon, val daar nog ‘n stukkie van hierdie legkaart in plek. Mohammed was ‘n afstammeling van Kedar, die tweede seun van Ismael, en die Al Mahdi is die twaalfde Imam wat van Mohammed afgestam het. In die artikel “Die derde pilaar van die Antichris,” maak Jack Kinsella ‘n baie oortuigende saak uit dat Islam die godsdiens van die Antichris sal wees (The Omega Letter Intelligence Digest, Vol. 53 uitgawe 25 – Februarie 25, 2006 www.omegaletter.com). Uit die lees van hierdie artikel is dit duidelik dat nadat die ware kerk weggeraap is, lede van die valse kerk geen probleem sal hę om Islam as ‘n sustergodsdiens te aanvaar nie. Wanneer die Antichris ook groot wonderwerke sal doen om die mensdom verder te mislei (2 Thess. 2:9), sal sy węreldgodsdiens deur almal aanvaar word.

In die tweede plek dra dié ruiter die verkeerde kroon. Die Griekse woord vir ‘n koninklike kroon is diadem. Hierdie persoon dra egter ‘n stefanos, wat ‘n oorwinnaarskroon is. Dit is die kroon wat by die antieke Olimpiese Spele aan oorwinnaars toegeken is. Dit was ‘n lourierkrans. Die woord stefanos is van krans afgelei, en identifiseer die draer daarvan as ‘n oorwinnaar en nie as ‘n koninklike persoon nie. In Openbaring 13 waar die tweede helfte van die verdrukking (die groot verdrukking) begin, word gesę dat aan die Antichris mag gegee is “om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin” (Op. 13:7). Hy sal mag oor elke stam en taal en nasie hę. Waarom sou Jesus teen die heiliges in die verdrukking oorlog voer om hulle te oorwin? Die Antichris sal dit wél doen, want hy is die een wat die mensdom sal mislei om te dink dat hy die Christus is.

“En toe Hy die tweede seël oopgemaak het, hoor ek die tweede lewende wese sę: Kom kyk! En ‘n ander perd, ‘n vuurrooie, het uitgekom, en aan hom wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en ‘n groot swaard is aan hom gegee” (Op. 6:3-4).

Dit is die oomblik wanneer die Antichris homself tot militęre geweld sal wend om sy gesag oor menslike regerings te vestig en die hele węreld te dwing om net sy geloof te beoefen. Volgens Moslem profesieë sal hierdie geloof Islam wees, en die Koran hou bekering of die dood as die enigste twee alternatiewe aan ongelowiges voor. Huidige studies dui daarop dat Europa reeds diep in die post-Christelike era is, en dat die meeste mense gereed is om die groeiende Moslem invloed te aanvaar. In ander dele van die węreld sal Islam teëgestaan word, en dit sal na baie bloedvergieting lei.

Klink dit dalk vir u onmoontlik? In historiese tye is daar aan dapper vegters ‘n groot swaard gegee wat met albei hande hanteer is. Met brute krag het hulle vyandelike linies binnegedring terwyl hulle die soldate links en regs van hulle afmaai. Sodoende het hulle ‘n pad oopgeveg waarop hulle deur die gewone soldate gevolg is. Op dieselfde manier sal die Antichris van bonatuurlike kragte gebruik maak om paniek onder sy teëstanders te saai en sodoende sy wil op die mensdom af te dwing. Onthou ook dat die oordele van die seëls net die begin van Daniël se 70ste jaarweek is. In die tweede helfte daarvan, wat die groot verdrukking genoem word, sal nog veel meer dodelike plae en groter oorloë volg.

“En toe hy die derde seël oopgemaak het, hoor ek die derde lewende wese sę: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n swart perd; en hy wat daarop sit, het ‘n skaal in sy hand. En ek het ‘n stem tussen die vier lewende wesens hoor sę: ‘n Rantsoen koring vir ‘n penning en drie rantsoene gars vir ‘n penning; en moenie die olie en die wyn beskadig nie” (Op. 6:5-6).

Twee dinge gebeur wanneer die węreld in onsekerheid gedompel word en daar oorloë uitbreek. Eerstens kom daar inflasie voor wat veroorsaak dat die pryse van alles die hoogte inskiet. Toe Johannes hierdie profesie geskryf het, was ‘n penning die gemiddelde loon vir ‘n dag se werk, gevolglik sal dit ‘n dagloon kos net om genoeg koring vir ‘n dag se voedsel te koop. Dink daaraan. Vir baie mense sal hulle hele loon vir die dag nouliks genoeg wees om kos vir daardie dag te koop. Die volgende dag sal dit dieselfde wees, met nooit geld vir enigiets anders nie.

Die ryk mense baat altyd by inflasie. Wanneer hulle dit sien kom, omskep hulle hul bates  in beleggings wat teen inflasie bestand is, of wat in sulke tye in waarde vermeerder. Die vroegste voorbeeld hiervan is in die boek Genesis, waar Josef namens Farao die beheer oor Egipte se koringopbrengs verkry het, en uiteindelik die hele rykdom van Egipte in ruil daarvoor verkry het. Dit is wat Johannes bedoel met sy stelling dat die olie en wyn nie beskadig moet word nie. In sy tyd was dit simbole van welvaart. In sy visioen het hy hongersnood te midde van oorvloed gesien. In die boek Daniël sowel as in Moslem profesieë word die Antichris/Al Mahdi voorgestel as iemand wat groot geskenke aan sy volgelinge gee terwyl hy sy vyande in onderdanigheid indwing (Dan. 11:39,44).

“En toe hy die vierde seël oopgemaak het, hoor ek die stem van die vierde lewende wese sę: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde” (Op. 6:7-8).

‘n Verdere gevolg van oorloë is hongersnood en pessiektes. Oeste en stoorplekke vir voedsel word gewoonlik vernietig. Vervoernetwerke word ook ontwrig. Lyke word nie almal begrawe nie en openbare gesondheidstelsels stort in duie. Grootskaalse hongersnood en siektes eis dikwels meer slagoffers as die oorloë waardeur dit veroorsaak word. Diere raak desperaat vir voedsel en val ook mense aan. Sommige mense meen dat “’n vierde deel van die aarde” op ‘n geografiese gebied dui, terwyl ander meen dat ‘n kwart van die aarde se bevolking sal sterf. Hoe dit ook al sy, baie mense sal in hierdie tyd ly en sterf, terwyl diegene wat nie in die direkte pad van die oorloë is nie, ‘n valse vorm van vrede en voorspoed sal geniet.

“En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het. En hulle het met ‘n groot stem uitgeroep en gesę: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie? En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesę dat hulle nog ‘n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees” (Op. 6:9-11).

Net soos die volheid van die nasies wat in die kerkbedeling gered moet word (Rom. 11:25), moet die volheid van die martelare in die verdrukking ná die verdwyning van die ware kerk, ook inkom.