Die Isolering en Beplande Vernietiging van Israel

Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Februarie 2011)

In die eindtyd, kort voor die koms van die Messias, sal Israel deur sy voormalige vriende en bondgenote verlaat word, as ‘n groot struikelblok vir vrede in die Midde-Ooste bestempel word, deur die internasionale gemeenskap veroordeel word vir haat en harde optrede teenoor hulle Arabiese vyande, en uiteindelik deur ‘n Islamitiesgedrewe Russies/Arabiese uitwissingsoorlog gekonfronteer word. Direk ná die Russies/Arabiese inval in Israel sal daar nóg moeiliker tye aanbreek, insluitend die onheilspellende en hoogs misleidende verskyning van die valse messias van alle gelowe.

Die sluit van ‘n verbond met die Antichris sal ná 3½ jaar van valse vrede lei na die grootste verdrukking van alle tye, wat ‘n verdere 3½ jaar lank sal duur. Die skrikbewind van die Antichris sal lei na ‘n Derde Wêreldoorlog wat hoofsaaklik in Israel sal plaasvind – spesifiek in en om Jerusalem. Hierdie oorlog, die slag van Armagéddon, sal gevoer word teen die Messias van Israel, wat ook die Redder en Koning van die hele wêreld is (vgl. Op. 19:11-19). Hy het belowe om na Jerusalem terug te keer, sy vyande te verdelg (insluitend die Antichris en valse profeet, terwyl die duiwel vir 1000 jaar gebind sal word), ‘n oorblyfsel van Israel en die nasies te red, sy koninkryk op aarde te openbaar en die troon van sy aardse koninkryk in Jerusalem te vestig (Sag. 14:4-5; Op. 19:20-21; 20:1-3; Hand. 15:16-17).

Die Antichris en valse profeet wat deur Satan gestuur en bemagtig sal word, en die volle steun van die misleide internasionale gemeenskap sal geniet, sal hulle nuwe wêreldorde teen die koms van die ware Christus verdedig (Op. 16:13,14,16). Dit sal egter ‘n futiele oefening wees om teen dié Een te veg wat alle mag in die hemel en op aarde het. Die nasies is in ‘n toenemende mate besig om die Drie-enige God en sy volgelinge (Israel en die kerk) te verwerp, daarom sal die Here hulle in Israel bymekaarbring en hulle daar oordeel omdat hulle Israel vervolg en uit hulle land verstrooi het, en in die eindtyd ook pogings sal aanwend om die grondgebied van Israel te verdeel of in sy geheel aan hulle vyande te gee (Joël 3:2). Die nie-Joodse volke het ook die evangelie wat eerste in Jerusalem verkondig is en van daar af na alle nasies uitgedra is (Hand. 1:8), toenemend teëgestaan. Deur dit te doen het hulle die God van Israel misken wat aan die Jode hulle land gegee het en Jerusalem bestem het om die bakermat van die Christendom te word, asook die hoofstad van ‘n toekomstige Messiaanse wêreldstaat (Eseg. 11:17; Lukas 24:46-49; Jes. 2:2-4; Jer. 3:17).

God sê dat alle nasies teen Jerusalem versamel sal word (Sag. 12:3; 14:2-3), wat daarop dui dat Israel op diplomatieke gebied heeltemal geïsoleer gaan word en dat hulle land ook ingeval sal word met die doel om alle Jode van die aardbodem af uit te delg. Hierdie situasie sal toegelaat word om verder te versleg totdat Israel in groot benoudheid sal uitroep: “Ons verwagting is verlore; dit is klaar met ons!” (Eseg. 37:11). Dit sal die langtermyn gevolg wees van die feit dat Israel die Messias “uitgeroei” het toe Hy 2000 jaar gelede na hulle toe gekom het (Dan. 9:26; Matt. 23:37-39).

Gedurende die komende verdrukking sal God nie alleen die nasies oordeel nie, maar Hy sal ook sy volk Israel oordeel omdat hulle die rug op die Messias gedraai en ver van die Here se weë van geregtigheid af weggedwaal het (Eseg. 22:17-22). Slegs daardie lede van Israel en die nasies wat ‘n verhouding met die Here Jesus as hulle persoonlike Saligmaker het, sal die oordele van die verdrukking ontvlug (Luk. 21:36; 1 Thess. 1:10; 4:16-17).

Almal wat van harte die evangelie van Jesus Christus aanvaar en ook glo dat die Vader Hom as Verlosser na die wêreld gestuur het, “het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie” (Joh. 5:24). Die Here Jesus het klaar die straf vir hulle sondes gedra (Jes. 53:5; Rom. 4:25). Hulle geloof en lewe in Christus spreek hulle vry van enige vorm van goddelike oordele – nou én in die toekoms: “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees” (Rom. 8:1). Sulke gelowiges sal waaksaam wees teen die vyand se misleiding, veral ook die antichristelike misleiding van die eindtyd, en hulle verhouding met die Here Jesus biddend handhaaf. As gevolg hiervan sal  hulle “waardig wees om al hierdie dinge wat [in die verdrukking van sewe jaar oor die aarde] kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Hulle verwag die Seun van God uit die hemel, “Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos” (1 Thess. 1:10).

Almal wat ná die wegraping agterbly, gaan probleme ervaar soos nog nooit tevore in die geskiedenis van die wêreld nie. Geestelike misleiding gaan reeds voor die verdrukking die ergste denkbare vorm aanneem en na die groot afval van die laaste dae lei, wat sal uitloop op wydverspreide geloofsversaking en ook die selfvergoddeliking van die Antichris (1 Tim. 4:1; 2 Thess. 2:3-4). Die miljoene misleides sal hom ten koste van die ware Christus aanvaar, navolg en aanbid (Op. 13:3-4). Morele verval sal onder die heerskappy van die mens van sonde ook sy kruin in ‘n God-verwerpende samelewing bereik (2 Tim. 3:1-5). Oor hierdie verdorwe wêreld waaruit die lig van die ware kerk skielik verdwyn het, sal die Here ook sy oordele uitstort. Dit sal lei na “‘n groot verdrukking soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matt. 24:21-22).

Kort voordat die sewe jaar van verdrukking aanbreek, sal die gees van die Antichris al sodanig werksaam wees dat Israel en die evangeliese Christendom toenemend onder druk sal kom om van hulle beginsels en oortuigings af te sien en deel van ‘n multigodsdienstige nuwe wêreldorde te word. Die ware kerk het die vooruitsig om die komende oordele te ontvlug, maar Israel (behalwe vir ‘n klein groepie Messiaanse gelowiges) stuur weens hulle voortgesette verwerping van Jesus as Messias, op die tyd van ongekende verdrukking af. ‘n Oorblyfsel van Israel sal uiteindelik gered word, maar eers nadat groot ellende oor hulle gekom het.

Die benoudheid van Israel

Israel se probleme en benoudheid is besig om te verdiep. Jodehaat is aan die toeneem terwyl Israel se belangrikste bondgenoot, die Verenigde State, besig is om hulle onder die Obama-administrasie die rug toe te keer. Obama is ongeneë om die lewering van militêre toerusting aan Israel goed te keur, en dit sal Israel se vermoë verswak om hulleself te verdedig teen die gesofistikeerde wapentuig wat hulle vyandige bure die afgelope paar jaar bekom het. Iran het langafstand missiele wat enige teiken in Israel kan tref, en hulle is tans op die punt om kernplofkoppe te vervaardig.

Die grootste probleem is dat radikale Islam die geïsoleerde Israel sien as ‘n relatief maklike teiken om in ‘n oorlog hierdie Sionistiese vyand van hulle te verdryf uit die land Palestina, wat deur hulle as die regmatige besitting van die Arabiese Moslems beskou word. Hulle agenda is om onbetwiste Islamitiese opperheerskappy in die Midde-Ooste, en veral oor Jerusalem, te vestig. Sonder die aktiewe hulp en steun van Amerika sal Israel waarskynlik nie op die oomblik ‘n verenigde Arabiese aanslag teen hulle kan oorleef nie. Hulle sal nog veel minder van ‘n kans hê indien die Arabiere en hulle Islamitiese bondgenote die hulp en militêre betrokkenheid van Rusland verkry. Baie van die Moslems het ‘n eskatologiese visie van ‘n Islamitiese wêreldstaat in die Midde-Ooste met Jerusalem as hoofstad. Om hierdie droom te kan verwesenlik, moet hulle Israel eers oorwin en uitwis.

Die ontdekking van groot olie- en gasreserwes in Israel se kusgebied in die Middellandse See is nie ‘n onvermengde seën nie omdat dit Israel se posisie verder kompliseer. Afgesien van die feit dat terroristegroepe in Libanon aanspraak maak op ‘n deel van hierdie fonds op grond van ‘n geskil oor die grens tussen die twee lande se gebiedswaters, het Israel nou in die algemeen meer strategiese waarde uit die oogpunt van sy vyande wat die rykdom vir hulleself begeer.

Die einde van gematigde Egipte

Gedurende die vroeë jare van die moderne Joodse staat was Egipte een van hulle verbete vyande. Hulle het ‘n beleid gevolg wat ooreenkom met dié van die huidige Iran en Sirië. Hulle diep vyandigheid het veral duidelik geblyk uit die 1967- en 1973-oorloë teen Israel. Daarna het Egipte egter ‘n vredesooreenkoms met Israel gesluit en selfs radikale Islamitiese partye soos die Moslem Broederskap verban. President Mubarak was ‘n gematigde, pro-Westerse leier, baie soos koning Abdullah van Jordanië.

Hierdie situasie is vinnig besig om te verander. Die magte van radikale Islam word teen hierdie gematigde regerings gemonster, en daar is alle aanduidings dat hulle in hul doel sal slaag. Uit ‘n menslike oogpunt het Israel nie goeie vooruitsigte vir die toekoms nie. Hulle gaan weer eens omring word deur hoogs vyandige nasies wat hulle ondergang soek (Ps. 83). Hierdie eindtydse vyandigheid en oorlogvoering sal gedurende die regering van die Antichris na die tyd van benoudheid vir Jakob lei (Jer. 30:7). Ware Christene sal deur die wegraping weggeneem word voordat die valse messias op die toneel verskyn (2 Thess. 2:6-8).

Die finale scenario

Die tyd het aangebreek wanneer Israel se vyande, soos in Esegiël 38 en 39 beskryf, vinnig gemobiliseer sal word in ‘n volskaalse poging om die Joodse volk uit te wis. Tot die groot verbasing van beide partye sal die Here egter ingryp en die oprukkende leërs op die berge van Israel vernietig (Eseg. 39:1-5). As gevolg van hierdie duidelike aanduiding van goddelike intervensie, sal Israel en hulle nie-Joodse vyande in vrees en bewing tot die Here nader en erkenning aan sy oppergesag gee. Hy sal geloof word omdat Hy ingegryp en ‘n moontlike derde wêreldoorlog afgeweer het.

Satan sal hierdie situasie egter met groot lis uitbuit deur ‘n valse vredevors te bemagtig en in die naam van God uit te stuur. Hierdie man sal homself in die Midde-Ooste openbaar en daarop aanspraak maak om die beloofde Messias te wees van Israel, die Moslems, die Christene én alle ander gelowe. Hy sal inderdaad as sodanig deur alle nasies aanvaar en aanbid word: “En die hele wêreld het verwonderd agter die dier [die universele valse messias] aan gegaan ... en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?” (Op. 13:3-4).

Die valse messias en valse profeet sal as gevolg van hulle sataniese magte in staat wees om groot tekens en wonders te doen, en selfs vuur uit die hemel te laat neerdaal (Op. 13:11-13). Die Antichris sal krediet opeis vir die daad van God waardeur Hy die invallende magte in Israel deur vuur uit die hemel verdelg het (Eseg. 39:1-6). As gevolg daarvan sal hy aanvaar word as ‘n Messias en vredevors met groot magte. Hy sal ook internasionaal aanvaar word en spoedig na ‘n posisie van onbetwiste leierskap uitstyg waarin hy ook volle beheer oor die wêreldekonomie sal verkry (Op. 13:7,16-18).

Die wegraping is ‘n uiters belangrike gebeurtenis in die vervulling van hierdie eindtydse scenario. Die valse, multigodsdienstige messias van die koninkryk van die duisternis kan slegs geopenbaar word nadat die een wat hom teëhou (dit is die ware kerk van Christus) uit die weg geruim is tydens die wegraping (Luk. 21:36; 2 Thess. 2:6-8). Dit sal die situasie skep vir die koms van die Antichris en die sluit van ‘n sewe-jaar lange verbond tussen hom en Israel. Dié verbond sal hierdie misleier se posisie as Messias bevestig, terwyl dit ook aan Israel die reg sal verleen om die tempel te herbou. Die ander nasies sal ook almal ‘n soortgelyke verbond met hom sluit op grond van die aanname dat almal van hulle, insluitend Israel, dieselfde God aanbid en daarom ook volgelinge van dieselfde wêreldmessias is.

Die bewind van die Antichris sal saamval met goddelike oordele oor ‘n rebelse en sondige mensdom. As gevolg van hierdie rampe sal daar nie bestendige vrede en voorspoed tydens die regering van die valse messias wees nie. Afvalliges sal teen hom in opstand begin kom en hom selfs in ‘n sluipmoordaanval om die lewe bring (Op. 13:3,12). Nadat die Antichris weer (waarskynlik deur Satan en die valse profeet se groot magte) lewendig geword het, sal hy ‘n baie gewelddadige man word en ‘n ongekende militêre diktatuur op aarde instel. Hy sal homself ook vergoddelik en alle mense dwing om hom as God te aanbid (Matt. 24:15,21; 2 Thess. 2:4; Op. 13:15).

Wanneer die ware Messias terugkom en sy voete aan die einde van die groot verdrukking op die Olyfberg sit, sal Hy sy vyande verdelg en ‘n oorblyfsel van Israel en die nasies red (Sag. 14:4-5,12-13; Matt. 24:29-30; Sag. 12:10).

Die mees basiese rede vir die verdrukking en benoudheid van Israel en die nasies het hulle oor hulleself gebring omdat hulle deur hulle eie toedoen vervreemd is van die ware Messias. Hy was “bestemd tot ‘n val en ‘n opstanding van baie in Israel” én ook onder die nie-Joodse volke (Luk. 2:34). Om Hom te volg en te dien is om die weg van vrede te bewandel wat na die hemel lei. Deur Hom te verloën en te verwerp, is die weg van misleiding, ontnugtering en die oordele van God wat oor alle sondaars uitgestort gaan word. Waarom wil jy in die bose mag van die duiwel se valse messias beland aangesien jy reeds genooi is om na die ware Messias te kom vir vergifnis en ‘n nuwe lewe? Hy het aan ons ‘n hemelse erfenis beloof en ook ‘n huis in die hemel wat só wonderlik is dat dit nie in mensetaal beskryf kan word nie (1 Kor. 2:9).