Profesieë oor die Volk Israel

Johan Malan, Universiteit van die Noorde

Opsomming: Die roeping, verstrooiing en eindtydse herstel van die volk Israel is duidelike Bybelse temas wat nie met die kerkgeskiedenis verwar moet word nie.

Die volk Israel is van groot betekenis omdat die woorde van God aan hulle toevertrou is (Rom. 3:1-2). Al die Bybelskrywers, behalwe Lukas, was Jode. Volgens Romeine 11:11-15 is Israel nie net tydens hulle geestelike verblinding ‘n seën vir die nasies nie, maar sal dit des te meer wees nadat hulle geestelik herstel is. Omdat die nie-Joodse Christene met hulle bekering in die Olyfboom [Israel] ingeënt word, is dit belangrik dat hulle God se handelswyse met hierdie volk goed verstaan (Rom. 11:17-27).

Roeping, Verstrooiing en Herstel

Die drie hoofmomente in Israel se nasionale lewe is eerstens hulle roeping en volksplanting, tweedens hulle internasionale verstrooiing ná die verwerping van die Messias, en derdens hulle eindtydse herstel en geestelike ontwaking.

Roeping

‘n Groot deel van die Bybel handel oor die volk Israel. In ‘n baie besondere sin is dit die volk van God. Hy het hulle geroep en vir sy diens afgesonder, hulle weens hulle vooortgesette ongehoorsaamheid onder die nasies verstrooi; en dit is dieselfde, onveranderlike verbondsgod van Abraham, Isak en Jakob wat die volk nou in die eindtyd weer na hulle land herstel.

Die roeping van Israel het by Abraham begin, wat die stamvader van hierdie volk is. Die Here het aan hom gesê:

“Slaan tog jou oë op en kyk van die plek waar jy staan, na die noorde en suide, na die ooste en weste; want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid” (Gen. 13:14-15).

Die belofte van die land is aan Isak en Jakob herbevestig (Gen. 26:3; 28:13). Die afstammelinge van die aartsvaders het eers vir 400 jaar lank in Egipte as vreemdelinge vertoef voordat hulle die land van die belofte sou beërf (Gen. 15: 13-14). Hulle het die slawe van die Egiptenaars geword en ernstig tot die Here geroep om hulle te verlos.

Nadat die offerlam geslag is en die eerste pasga in Egipte gevier is, het die Here sy volk met ‘n magtige arm uit Egipteland gelei. Israel moes hierdeur die les leer dat hulle nie uit eie krag die beloftes van God kon beërf nie. In hierdie opsig was die offerlam ook ‘n heenwysing na die Messias wat die ware Lam van God is, wat deur sy offer die volk van hulle geestelike slawerny sou bevry om die koninkryk van God binne te kan gaan.

Israel moes leer dat hulle eers volk van God moes word wat volgens sy wette en weë wandel, voordat hulle in die land wat God aan hulle beloof het, kon woon. Hulle moes ‘n geroepe, heilige en diensbare volk wees waardeur die Here Homself aan die wêreld kon openbaar. Hulle roeping na die land Kanaän het dus implisiet ook ‘n geestelike roeping en verantwoordelikheid ingesluit. Dit word in die formele verbonde tussen God en Israel bepaal, nl. die Abrahamitiese, Kanaänitiese en Dawidiese verbonde. Weens die volgehoue verbreking van hierdie verbonde sou hulle die seën en beskerming van die Here verbeur.

Verstrooiing

Die Here het ‘n geestelike standaard aan Israel gestel vir die voorreg om volk van God genoem te kon word. Indien hulle in gebreke sou bly om hieraan te voldoen, sou hulle die onguns en toorn van die Here op die hals haal. Verlengde tye van nasionale ongehoorsaamheid het daartoe gelei dat die Here sy volk dikwels aan hulle vyande oorgegee het. As gevolg hiervan moes hulle tot besinning kom en besef dat hulle van die Here afgedwaal het. Ná verootmoediging het Hy hulle weer in hulle land herstel (vgl. Lev. 26 en Deut. 28).

Die waarskuwings aan Israel het baie duidelik ook die moontlikheid van ‘n lang, internasionale verstrooiing ingesluit indien hulle sondes en rebellie teen God sou voortduur:

“En die Here sal jou verstrooi onder die volke, van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde” (Deut. 28:64).

“En Ek sal julle onder al die volke verstrooi en ‘n swaard agter julle uittrek; en julle land sal ‘n wildernis en julle stede puinhope word" (Lev. 26:33).

Die Babiloniese ballingskap van Israel, wat net na een gebied was, was nie die internasionale verstrooiing [diaspora] na alle nasies nie. Die diaspora het eers later, in die eerste eeu n.C. plaasgevind, en is deur Jesus self aangekondig nadat Hy as Messias deur Israel verwerp is. In die profetiese rede in Mattheus 23 stel Hy dit aan die goddelose volksleiers dat hulle die maat van hulle vaders se sonde vol maak, en dat Jerusalem as gevolg daarvan verwoes sou word (v. 29-39). In Lukas 21 word aangekondig dat die verstrooiing van Israel baie lank sou duur, en met die tye van die nasies sou saamval:

“En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is… Dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word… Want daar sal ‘n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk. En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is" (Luk. 21:20-24).

Die inval in Israel en die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. deur die Romeinse magte, was die begin van die lang internasionale verstrooiing van Israel wat tot diep in die 20ste eeu sou voortduur. In hierdie tyd was daar in een of ander stadium Joodse ballinge in elke land ter wêreld.

Herstel

Op geen tydstip van Israel se bestaan was daar enige twyfel aan die geldigheid of voortbestaan van die onvoorwaardelike beloftes wat God aan die stamvaders van die volk gemaak het nie. Die Here self was, en is steeds, die waarborg van die verbonde wat die land as ‘n ewige toesegging aan Israel verseker, asook die bestendigheid van die troon van Dawid. Israel se ballingskap uit die land as gevolg van ongehoorsaamheid kan dus nie die verbonde vernietig of opskort nie (Rom. 3:3-4). Al is hulle ook ontrou, God bly ‘n getroue verbondsgod wat die nageslag van Israel sekerlik na die land van hulle vaders sal terugbring.

Hierdie versekering is lank voor die Babiloniese ballingskap en die internasionale verstrooiing reeds aan Israel gegee. Daarmee bevestig die Here sy ewige verbond met ‘n gelowige oorblyfsel van die volk:

“Maar ook dan, as hulle in die land van hul vyande is, verwerp Ek hulle nie en het Ek van hulle geen afsku, sodat Ek ‘n einde aan hulle sou maak en my verbond met hulle sou verbreek nie; want Ek is die Here hulle God. Maar Ek sal tot hulle beswil dink aan die verbond van die voorvaders wat Ek uit Egipteland voor die oë van die nasies uitgelei het om vir hulle ‘n God te wees. Ek is die Here” (Lev. 26:44-45).

Die herstel van Israel uit die internasionale ballingskap is ‘n fisiese herstel na die land van hulle vaders, maar die einddoel daarmee is die geestelike herstel van die volk uit ‘n vervalle toestand sodat hulle God van harte sal dien:

“Daarom, sê vir die huis van Israel: So spreek die Here Here: …Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My ‘n volk en Ek sal vir julle ‘n God wees” (Eseg. 36:22-28).

Daar moet dus ‘n geestelike reinigingsproses plaasvind nadat Israel in hulle land versamel is. Dit sal, uiterlik gesproke, ‘n baie pynlike proses wees omdat dit met groot benoudheid en verdrukking gepaard sal gaan. Die Here sê Hy sal hulle in ‘n smeltoond gooi en smelt (Eseg. 22:19-20). Jeremia verwys ook na dié tydperk: “Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jer. 30:7).

Hierdie benoudheid is die komende groot verdrukking. In die ellende wat oor Israel sal kom, sal hulle om hulp na God roep. Die Here sê ook: “In hulle nood sal hulle My soek” (Hos. 5:15). Israel se herstel is dus progressief – eers word hulle fisies en staatkundig in hulle land herstel, maar nog in dieselfde geestelik vervalle toestand as wat hulle was toe hulle uit die land verstrooi is. Ná hulle herstel laat die Here groot benoudheid oor hulle toe, waaruit ‘n oorblyfsel van die volk gered sal word (Rom. 9:27).

Die status van Jerusalem is ‘n baie belangrike teken van die einde van die tye van die nasies, én van die herstel van Israel. In Lukas 21:24 sê die Here dat Jerusalem vertrap sal word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is. Die eindtydse herstel van die stad Jerusalem weerspieël dus die herstel van Israel as volk, terwyl dit ook die einde van die kerkbedeling uitspel. Dit is egter ‘n progressiewe teken omdat Jerusalem nie oornag volkome herstel is nie. Die verskillende fases van die herstelproses kan soos volg onderskei word:

·       In 1948 met Israel se onafhanklikwording as ‘n Joodse staat, het die volk net beheer oor die nuwe, westelike deel van Jerusalem verkry. Bybelse Jerusalem [die stad van Dawid], wat die Ou Stad en die Tempelberg insluit, was toe nog onder Jordaniese beheer.

·       In 1967 met die Sesdaagse Oorlog het Israel vir die eerste keer sedert die Babiloniese ballingskap weer volle beheer oor die hele Jerusalem verkry toe dit van Jordaniese beheer bevry is. Die stad was toe fisies herstel. Hierna het die Joodse bevolking van Jerusalem vinnig toegeneem.

·       In Augustus 1980 is Jerusalem deur die land se eerste minister, mnr. Menachem Begin, tot die ewige en onverdeelbare hoofstad van Israel verklaar, en is die kabinetsministers se kantore van Tel Aviv af daarheen verskuif. Jerusalem was toe staatkundig herstel deurdat die fisiese én staatkundige vertrapping daarvan verby was.

·       Hierna het nog net die geestelike vertrapping van Jerusalem voortgeduur. Drie Moslem moskees staan op die Tempelberg, en ‘n Moslemkomitee het ook steeds die beheer oor die tempelterrein. Volgens die profesieë gaan die ortodokse geloof van Israel volskaals herleef en die tempel herbou word. Dit sal ook met die volgehoue verwerping van Jesus as Messias gepaard gaan. Die herboude tempel sal egter deur die Antichris ontheilig word wanneer hy homself daarin tot God verklaar (2 Thess. 2:4). Israel sal dan hulle verbond met hom verbreek en haastig uit die stad moet vlug (Matt. 24:15-22). Eers wanneer die ware Messias kom, sal Jerusalem geestelik herstel word en die hele oorblyfsel van Israel ook geestelik ontwaak.

Verwerping van die Drie-enige God

Om die geweldige tragedie van die lang, internasionale verstrooiing van Israel in die regte perspektief te plaas, moet dit teen die agtergrond van die voortgesette goddeloosheid en diepgaande geestelike doodsheid van dié volk verstaan word. Met net enkele uitsonderings van godvresende manne en vroue, het die volk oor baie jare heen die rug op God gedraai, ‘n hoë muur van sonde tussen hulle en Hom opgebou, en die maat van hulle ongeregtigheid vol gemaak.

Dit is duidelik dat Israel die Drie-enige God in drie stadiums verwerp het. Eers het hulle die Vader verwerp, toe die Seun en daarna die Heilige Gees. In die gelykenis van die landbouers (Matt. 21:33-43) word die eerste twee verwerpings deur Jesus aan die Joodse volksleiers uitgespel, naamlik hulle verwerping van die Landbouer [God] deur middel van die verwerping van sy gesante, en daarna die verwerping van die Landbouer se Seun, die Messias.

Verwerping van die Vader

Israel is die volk wat deur die Vader vir Homself afgesonder is. Volgens die gelykenis is hulle vir Hom soos ‘n wingerd wat goed bewerk, omhein en bewaak is, en wat alle geleentheid gehad het om vir Hom veel vrug te dra. In die persone van Moses en die profete het Hy sy spesiale gesante na hulle gestuur om tot eer van sy Naam as geestelike leiers op te tree en sodoende sy doel met Israel te bereik. Onder die aansporing van goddelose konings en valse profete het die volk egter die gesante van God verwerp, mishandel en selfs doodgemaak. In die tyd van Jesus was hierdie gees van rebellie teen God sterk gevestig, daarom het Jesus die duidelike waarskuwing uitgespreek dat die Vader spoedig rekenskap van hierdie goddelose manne sou eis wat sy profete verwerp en party van hulle doodgemaak het:

“Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg, sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaria, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar. Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom" (Matt. 23:34-36).

Die laaste van die profete van God wat Hy gestuur het om vir Hom ‘n oes onder sy volk in te samel, was Johannes die Doper. Die volksleiers het hom egter ook verwerp en geen vinger verroer toe Herodes hom laat vermoor het nie. Jesus het hulle sterk verkwalik omdat hulle hierdie groot profeet van God nie geglo en aanvaar het nie: “Die doop van Johannes, waar was dit vandaan, uit die hemel of uit mense? En hulle het by hulself geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel – dan sal Hy ons vra: Waarom het julle hom dan nie geglo nie?” (Matt. 21:25). So het hulle dan ook op hierdie profeet die rug gedraai en sy vermoording goedgekeur.

Verwerping van die Seun

Jesus is die Seun wat in die volheid van die tyd as die beloofde Messias na Israel gestuur is om hulle soos ‘n kudde in die koninkryk van die Vader te versamel. Vir Hom het die volksleiers egter ook verwerp nadat hulle listig teen Hom raad gehou het:

“Toe kom die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge van die volk bymekaar in die paleis van die hoëpriester wat Kájafas genoem word, en hou saam raad om Jesus met lis gevange te neem en om die lewe te bring” (Matt. 26: 3-4).

Deur hierdie daad van rebellie het die volksleiers ook die tweede persoon in die Godheid, naamlik die Seun, verwerp. Hierdeur het die leiers hulleself by hulle opstandige voorvaders gevoeg wat die profete doodgemaak het:

“Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaar maak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat! Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:37-39).

Die seëngroet van aanvaarding [“Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here” – Ps. 118:26] sal Israel eers uitspreek wanneer Jesus sy voete ná die donker dae van die groot verdrukking op die Olyfberg neersit. Die ware Messias sál dus aanvaar word wanneer Hy vir die tweede keer na Israel toe kom!

As gevolg van die verwerping van die Seun het God wraak op die landbouers [die geestelike leiers van Israel] én hul misleide volgelinge uitgeoefen. Die Seun het gesien dat die toorn van God onafwendbaar was, en innig jammer vir Jerusalem en sy verblinde inwoners gevoel:

“En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek. Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ‘n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie” (Luk. 19:41-44).

Verwerping van die Heilige Gees

Die Vader het in sy lankmoedigheid en genade die tye van onkunde oorgesien, en aan Israel ná die verwerping en kruisiging van die Seun nog ‘n paar jaar gegee om die aanbod van sy koninkryk te aanvaar. Dit was tydens die bediening van die Heilige Gees in die vroeë Christelike kerk in Jerusalem. Die finale daad van die verwerping van hierdie aanbod was die steniging van Stéfanus, die eerste martelaar van die kerk van Christus.

In ‘n baie lang rede het Stéfanus die volksleiers aan die jare lange wandade van hul voorvaders herinner (Hand. 6:8-7:60). Hy het hulle saamgegroepeer met diegene wat die profete van die Here én die Messias verwerp en doodgemaak het. Verder het hy hulle daarvan beskuldig dat hulle nou ook die Heilige Gees weerstaan en verwerp het:

“Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle. Watter een van die profete het julle vaders nie vervolg nie? Ja, hulle het dié gedood wat vooraf die koms verkondig het van die Regverdige, van wie julle nou verraaiers en moordenaars geword het" (Hand. 7:51-52).

Die volk is deur Stéfanus in die beskuldigdebank geplaas, aan herhaalde rebellie teen God skuldig bevind, en sodoende as volk aan verwerping en veroordeling oorgegee. In beginsel het hulle nou die seël op die verwoesting van Jerusalem en die verstrooiing van Israel geplaas, wat in die jaar 70 gebeur het.

Warren W. Wiersbe (The Bible Exposition Commentary, Vol. 1, 1989, bl. 433) verwys na die drie moorde wat Israel gepleeg het, op grond waarvan hulle die Drie-enige God verwerp en hulle lot verseël het:

“Vir Israel het Stéfanus se dood veroordeling beteken. Dit was hulle derde moord. Hulle het toegelaat dat Johannes die Doper doodgemaak word; hulle het gevra dat Jesus doodgemaak word, en vir Stéfanus het hulle self doodgemaak. Toe hulle Herodes toegelaat het om Johannes dood te maak, het die Jode teen God die Vader gesondig wat vir Johannes gestuur het (Matt. 23:28-32). Toe hulle Pilatus gevra het om vir Jesus te kruisig, het hulle teen God die Seun gesondig. Toe hulle Stéfanus gestenig het, het hulle teen die Heilige Gees gesondig wat deur die apostels en die vroeë kerk in Jerusalem gewerk het. Hierdeur het hulle die oordele oor hulleself as volk gebring.”

As gevolg hiervan is die taak om God se getuies in die wêreld te wees, uit die hande van Israel geneem en op die skouers van die verwerpte dissipels geplaas. Deur hulle prediking is die kerk van Christus op aarde gevestig.

Dit beteken egter nie dat God sy verbond met Israel verbreek het, en dat die kerk nou die “nuwe Israel” is nie – hoegenaamd nie! Ná ‘n baie lang tyd van verstrooiing onder die nasies sal Israel fisies én geestelik herstel word. In ‘n nuwe, kragtige werk van die Heilige Gees sal hulle as volk met trane van berou na die Messias terugkeer wat deur hulle vaders verwerp en gekruisig is (Sag. 12:10).

Huidiglik is die volk nog geestelik verblind, maar  in die komende tyd van die benoudheid van Jakob [die groot verdrukking] sal ‘n oorblyfsel van hulle met die Messias versoen en verenig word (Sag. 13:1, 9).

Die tempel

Hoewel Israel van God vervreem is omdat hulle die Messias verwerp het, het hulle nogtans ‘n ywer vir die Here, maar sonder kennis. Op hulle verblinde manier gaan die ortodokse Jode voort om wette te probeer eerbiedig en sodoende die guns van die Here te wen. Binne hierdie konteks is die afwesigheid van die tempel vir hulle ‘n baie groot probleem.

Die groot ideaal wat in baie Israeli’s se harte leef, is om die tempel in Jerusalem te herbou. Noudat hulle in hul land terug is, is hierdie ideaal aansienlik nader aan verwesenliking. Een van die probleme is egter die hoë profiel van Islam op die Tempelberg, deurdat twee van hul beroemde tempels daar gebou is – die Rotskoepel en die Al Aksa moskee, met ‘n derde een wat later gebou is. Die Moslems beweer dat Mohammed vanaf die rots waaroor die Rotskoepel gebou is, na die hemel opgevaar en weer met ‘n opdrag van God teruggekeer het. Vir hulle is dit die derde heiligste plek op aarde ná Mekka en Medina.

Die feit dat die Rotskoepel onlangs ten duurste gerestoureer is met nuwe goudbeslag op die koepel, is ‘n aanduiding dat Islam geensins van plan is om van die Tempelberg af pad te gee nie. Die mening wat jare lank gehuldig is, naamlik dat die Rotskoepel op die plek staan waar die tempel herbou moet word, blyk met die jongste argeologiese opgrawings nie die geval te wees nie. Die Joodse tempel kan nét noord van die Rotskoepel gebou word, met omtrent drie of vier meter afstand tussen die twee geboue.

Indien die feit in ag geneem word dat die Antichris as die gemeenskaplike Messias van alle gelowe aanvaar sal word, kan verwag word dat die tempel en die moskee inderdaad langs mekaar sal staan. Islam en Judaïsme sal dan vir 3½ jaar as sustergodsdienste saam met al die ander gelowe beskou word. Daarna sal die groot krisis ontstaan wanneer die Antichris homself in die herboude tempel tot God sal verklaar (Dan. 9:27; 2 Thess. 2:4). Die Jode sal hom dan verwerp, hulle verbond met hom verbreek, en haastig vir oorlewing na die woestyn moet vlug.

Daar is vir etlike jare reeds Israeliese drukgroepe wat hulle vir die herbouing van die tempel beywer. Die bekendste een is Temple Mount Faithful wat pas ná die Sesdaagse Oorlog in 1967 gestig is. Hulle stel hulleself ten doel om die Tempelberg van wat hulle Arabiese besetting noem, te bevry. Ná die verowering van die Tempelberg en die Ou Stad in die 1967 oorlog, het die destydse minister van verdediging, Moshe Dayan, die siviele administrasie van die 35 akker van die Tempelberg aan die Wakf, ‘n Moslemraad, oorgedra om oor hulle moskees toesig te hou. Gershon Solomon, leier van die Temple Mount Faithful, het dit as ‘n geweldige skok beskou. Gedurende die afgelope meer as 30 jaar het Solomon se groep verskeie pogings aangewend om beheer oor die Tempelberg te probeer kry. Hoewel dit steeds ‘n Moslem vesting is, glo hy dat die Jode se tempel in die nabye toekoms hier gebou sal word.

In 1990 het sy groep die aandag van die internasionale media getrek toe hulle toestemming gevra het om ‘n 4½ ton hoeksteen op die tempelterrein te gaan lê. Hoewel hulle nie toestemming gekry het nie, en die Moslem owerhede op die Tempelberg van die weiering verwittig is, het onluste nogtans uitgebreek. Die Moslems het klippe op die Joodse aanbidders by die Klaagmuur gegooi, en Israeli soldate het op die klipgooiers geskiet. Altesame 17 Arabiere het hulle lewens in die geweldpleging verloor.

Nie alle godsdienstige leiers in Israel is bereid om geweld ter wille van die verkryging van Joodse regte op die Tempelberg uit te lok nie. Rabbi Jehuda Getz, hoofrabbi van die Westelike Muur [die Klaagmuur] sê dat dit nie by ‘n mens berus om te besluit hoe die Jode beheer oor die Tempelberg sal verkry nie – dit is ‘n saak vir God.

Getz meen ook dat om geestelike redes die tempel nie nou herbou kan word nie. Hy sê dat daar eers ‘n profeet moet kom wat die presiese plek van die altaar sal aantoon. Intussen kan niemand met bouwerk begin voordat die profeet sy opwagting gemaak het nie. Daar is dus ‘n gees van afwagting vir voorsiening deur die Here (Gen. 22:14).

Ten spyte van hierdie struikelblokke vir die herbouing van die tempel, is ‘n organisasie genaamd die Tempel Instituut, besig om die nodige voorbereidings hiervoor te tref. Hulle hou toesig oor die vervaardiging van goue en silwer voorwerpe, asook seremoniële kruike en houers wat in die herboude tempel gebruik moet word. By die Instituut word verskeie van die voorwerpe uitgestal, soos die linnekleed wat die priesters sal dra, die mus van die hoëpriester, harpe, trompette, verskeie houers, asook vuurpanne.

Chaim Richman, die Instituut se direkteur van openbare sake, sê dat sy organisasie hulle taak in gehoorsaamheid aan die Here doen. Die Instituut beskou homself nie as ‘n politieke organisasie nie, en probeer nie om met die Moslems oor beheer van die Tempelberg te beding, of om hulle uit Israel te verdryf nie. Hulle taak is suiwer godsdienstig binne die raamwerk van die Joodse godsdienstige wette, om langs dié weg die herbouing van die tempel te verhaas.

Verder is daar ook twee skole vir die opleiding van Levitiese priesters in Jerusalem. Indien die tempel op kort kennisgewing herbou word, moet goed opgeleide priesters beskikbaar wees. Dit word aanvaar dat Jode met die vanne van Cohen en Kaplan uit die stam van Levi is, en dus as priesters opgelei kan word. Om ‘n Joodse wetgeleerde te wees, impliseer kennis van 625 wette wat deur die Tora voorgeskryf word, asook verdere rabbynse voorskrifte in die Talmoed. Volgens ortodokse Jode moet hierdie wette en tradisies weer almal in die Messiaanse era wanneer die tempel herbou sal wees, eerbiedig word.

Messiaanse Jode

Hoewel nog baie gering in persentasie, is daar ‘n toenemende aantal Jode wat vir Jesus as Messias aanneem. Hulle word Messiaanse Jode genoem. Messias is van die Hebreeuse term vir Gesalfde afgelei, terwyl Christus van die Griekse vertaling daarvan afgelei is. Om dié rede praat die Jode net van hulle Messias as Jeshua Ha Mashiach (Jesus Christus).

Om begryplike redes word die Messiaanse Jode met groot haat en agterdog deur die ortodokse Jode bejeën. Soos in die eerste eeu, word hulle as ketters beskou wat van die God van hulle vaders afvallig geword het. Namate die Messiaanse Jode meer word, is die geestelike polarisasie tussen hierdie twee groepe besig om te verdiep. Dit spel ‘n tyd van ernstige vervolging vir die Messiaanse Jode in Israel uit.

Die ortodokse Jode het nou 25% verteenwoordiging in die Knesset (Israel se parlement). Lede van hierdie groep beheer ook die departemente van Godsdienssake en Binnelandse Sake. Hulle het dus ‘n magsbasis om hulle doel te verwesenlik om Christelike sendingwerk te verbied en Messiaanse gelowiges te vervolg. Hoewel dit nog nie wydverspreid is nie, het die vervolging van die Messiaanse Jode deur hulle ortodokse landgenote wat nie vir Jesus as Messias aanvaar nie, reeds begin. ‘n Veldtog van hierdie aard is in die Bybel voorspel met duidelike vermelding van die feit dat dit voor die groot verdrukking al sal begin en uiteindelik baie ernstige afmetings sal aanneem:

“En daar sal groot aardbewings op verskillende plekke wees en hongersnode en pessiektes; en daar sal verskriklike dinge en groot tekens van die hemel kom. Maar voor al hierdie dinge sal hulle die hande aan julle slaan en julle vervolg en oorlewer in die sinagoges en gevangenisse… julle sal oorgelewer word ook deur ouers en broers en bloedverwante en vriende, en hulle sal van julle doodmaak. En julle sal gehaat wees deur almal ter wille van my Naam (Luk. 21:11-17). Ja, daar kom ‘n uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy ‘n diens aan God bewys. En dit sal hulle aan julle doen, omdat hulle die Vader nie ken nie en My ook nie (Joh. 16:2-3).

‘n Herhaling gaan dus plaasvind van die eerste eeuse vervolging van Messiaanse Jode. Dieselfde vrese wat in daardie tyd ten opsigte van die ortodokse godsdiensleiers bestaan het, begin om nou weer merkbaar te word:

“Dit het sy ouers gesê omdat hulle bang was vir die Jode; want die Jode het al ooreengekom dat as iemand Hom as die Christus [die Messias] bely, hy uit die sinagoge geban sou word" (Joh. 9:22).

Dit is ons taak om vir die jong Messiaanse gemeentes in Israel te bid, sodat hulle in hierdie tyd sterk sal staan in die Here. Die druk wat hulle ervaar, gaan weldra na ander lande ook uitbrei. In Rusland word daar reeds visums aan sendelinge geweier, en in baie ander lande kry die evangeliese Christendom en Christelike onderwys ook die wind sterk van voor as gevolg van druk deur humanistiese regerings en intergeloofsgroepe.

Die valse godsdienste gaan uiteindelik hande vat om ‘n alliansie van wêreldgodsdienste te vorm wat die Antichris as hulle gemeenskaplike Messias sal erken. Hieronder sal ook die ortodokse Jode wees wat die valse Messias sal aanhang en die reg by hom sal verkry om die tempel te herbou. Teen hierdie ernstige oordeelsfout het die Here Jesus hulle gewaarsku:

“Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43).

‘n Diepgaande geestelike polarisasie gaan dus tussen die aanhangers van die ware en valse Messias plaasvind. In ‘n beperkte sin het dit reeds begin.

Houding Teenoor Israel

Daar is wyd uiteenlopende houdings deur die nasies teenoor Israel. Dit is ‘n belangrike saak hierdie, omdat die oordele van die Here oor Israel se vyande uitgespreek is, en sy seën oor diegene wat hulle ondersteun.

Jodehaat

Ten spyte van die geestelike doodsheid van die Joodse volk is daar geen regverdiging hoegenaamd om ‘n haatveldtog teen hulle te voer nie. Trouens, dit is naas die verwerping van God een van die heel gevaarlikste dinge op aarde om te doen! Om in stryd met God se wil en opdragte te handel, is om jouself met baie smarte te deurboor. Kyk net wat met Israel gebeur het omdat hulle God verwerp het. Dieselfde God waarsku egter die vyande en kritici van Israel wanneer Hy vir Abraham sê:

“Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek” (Gen. 12:3).

Nasies en individue wat Israel verwerp, vervolg en beveg, bring ‘n vloek oor hulleself. Hulle grawe ‘n put waarin hulle self sal val. Groot wêreldryke is al vernietig omdat hulle Israel probeer vernietig het. Hieronder is die eens magtige Babiloniese, Assiriese en Romeinse ryke.

‘n Term wat lank as sinoniem vir Jodehaat gebruik is, is anti-Semitisme. Die Arabiere is egter ook Semiete, en hulle tel onder die mees fanatieke Jodehaters in die wêreld vandag. Aangevuur deur die Moslemgeloof, het baie van dié lande al probeer om ‘n uitwissingsoorlog teen Israel te voer. Die Bybel verwys ook na hulle, en die feit dat hulle eintlik ‘n heilige oorlog teen die God van Israel voer. In Psalm 83 word ‘n Arabiese komplot teen Israel beskryf, waarin Israel se bure saamsweer om dié volk heeltemal uit te wis.

Omdat die Arabiere in moderne tye, sedert 1948, nog nie daarin kon slaag om Israel te vernietig nie, probeer hulle nou om druk op Israel uit te oefen om sy land met hulle te deel. Ook die stad Jerusalem moet verdeel word. Die huidige veldtog van die Palestynse Bevrydingsorganisasie [PBO] om onder die leiding van Jasser Arafat aanspraak op ‘n Palestynse staat in Israel te maak, met Oos-Jerusalem [wat Bybelse Jerusalem met die Tempelberg insluit] as hoofstad, is lynreg in stryd met God se beloftes aan Israel.

Die militante aansprake oor die verdeling van Israel sal na die Russies/ Arabiese oorlog van Esegiël 38 en 39 lei. Die PBO en hulle Arabiese buurstate is nie militêr teen Israel  opgewasse nie en sal die hulp van ander lande móét kry. Eségiël sê dat Rusland, Duitsland, Iran, Turkye, Libië en Ethiopië saam met ander lande ‘n verrassingsinval in Israel sal doen (Eseg. 38:3-8). Hierdie bondgenootskap neem nou vinnig gestalte aan. Rusland bewapen nog altyd die Arabiere vir hulle oorloë teen Israel, en is ook ekonomies van hulle olieproduksie afhanklik. Duitsland het dieselfde strategiese belange by Midde-Oosterse olie. Verder is daar groeiende samewerking tussen Duitsland en Rusland, en het Duitsland onlangs die “oormatige geweld” van Israel in sy konflik met die PBO veroordeel. Die ander vier lande is Moslemlande wat in elke geval anti-Israeli is en hulle steun aan die onafhanklikheidstrewe van die PBO toegesê het. Hierdie oorlog kan enige tyd uitbreek en sal waarskynlik na die openbaring van die Antichris en die vestiging van sy sewe jaar lange wêreldregering lei.

Sewe jaar later, aan die einde van die groot verdrukking, sal ‘n wêreldoorlog  [die slag van Armagéddon] uitbreek. Dan sal die Here met Israel se vyande wat die volk verstrooi en hulle land verdeel het, in die gerig tree. Dit is duidelik dat in daardie stadium die hele wêreld teen Israel sal draai en die kant van sy vyande sal kies. Die komende multi-nasionale mag wat in Israel ontplooi sal word, sal deur die Here self verdelg word:

“In dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle ‘n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het” (Joël 3:1-2).

Die swaard van die Here se toorn hang oor die vyande van Israel, en deur hulle dwase optrede verhaas hulle hul eie ondergang. Die nasies van die wêreld wat Palestyne en Moslems se kant kies en hulle ook nog help om die land van Israel te verdeel of van sy regmatige eienaars weg te neem, grawe hulle eie grafte. Sagaria 14 beskryf in duidelike taal die oordele van God wat oor die nasies sal kom wat dwaas genoeg is om teen Jerusalem te veg. Jodehaat is die ideologie van die Antichris omdat dit ten diepste teen die Messias van Israel, Jesus Christus, gerig is. Vermy dit geheel en al!

Die groot toets vir die nasies se houding teenoor Israel is die huidige stryd om die beheer oor Jerusalem. Diegene wat die stad tussen Israel en die Palestyne wil verdeel, of wat internasionale beheer daaroor bepleit, is lynreg in stryd met Israel se Bybelse reg oor die stad. Hulle haal die toorn van God oor hulleself:

“Kyk, Ek maak Jerusalem vir al die volke rondom tot ‘n beker van bedwelming... En in dié dag maak Ek Jerusalem tot ‘n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seer maak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word” (Sag. 12:2-3).

Seën hulle

Om die seën van die Here te verseker moet ons Israel seën. Moenie haastig wees om Israel te verdoem omdat hulle Jesus verwerp en gekruisig het nie. Dit was wél ‘n daad van ongeloof aan hulle kant, maar dit was deel van God se raadsplan vir die redding van sondaars in die hele wêreld. Sonder die plaasvervangende dood van Jesus sou jy en ek nooit Christene kon word nie, daarom hou Israel se struikeling en wandade tóg vir ons ‘n groot seën in:

“Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak. En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie!” (Rom. 11:11-12).

Omdat Israel vir Jesus verwerp en gekruisig het, het die saligheid tot ons, die nie-Joodse volke, gekom. Israel is in sy gevalle toestand dus ‘n bron van seën vir ons! Die Here sê dat hulle in hul geestelik herstelde toestand, in die komende vrederyk, nog ‘n groter seën vir die wêreld sal wees.

Uit enige oogpunt beskou, is ons nét erkentelikheid, seën, voorbidding en onderskraging aan Israel verskuldig. Ons moet hulle jaloers maak op die wyse waarop ons die God van Abraham, Isak en Jakob deur die Messias, Jesus Christus, dien. Ons moet bid vir die vrede van Jerusalem as ons ook in ons eie land in vrede wil leef (Ps. 122:6).

Die rede waarom alle gelowiges ernstig en toegewyd vir Jerusalem moet intree, is omdat die stad histories én profeties ten nouste met Israel en die Christendom verbonde is. Die Here Jesus het Homself hier as Messias-Koning geopenbaar, aan die kruis gesterf om versoening vir ons sondes te doen, op die derde dag uit die dood opgestaan en na die hemel opgevaar. Tien dae ná sy hemelvaart is die Heilige Gees oor 120 getroue, biddende dissipels in Jerusalem uitgestort. Dit was die geboortedag van die Christelike kerk. Van Jerusalem af is die boodskap van verlossing na die eindes van die aarde uitgedra (Hand. 1:8).

Dit is ook na Jerusalem, op die Olyfberg, dat die Messias aan die einde van die groot verdrukking sal terugkeer om die oorblyfsel van Israel te red, die nasies te oordeel en sy koninkryk op aarde te vestig. In antwoord op die gebede van die heiliges, en in ooreenstemming met sy heilige wil, sal die Messias Jerusalem tot die wêreldhoofstad verhef – die stad van die groot Koning! (Ps. 48:3). Dan sal die Here Jesus, die seun van Dawid, die wêreld in die vrederyk van die herstelde troon van Dawid af regeer (Luk. 1:32). Bid jy hiervoor en beywer jy jouself vir die aanbreek van hierdie heerlike dag?

“O Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. O julle wat die Here herinner aan sy beloftes – moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde!” (Jes. 62:6-7; kyk ook Jes. 52:1-2).

Die 70ste Jaarweek van Daniël

Die heilsgeskiedenis van Israel van die einde van die Babiloniese ballingskap af tot met die aanbreek van die Messiasryk, word in Daniël 9:24-27 binne die raamwerk van 70 jaarweke geplaas. Dit is 490 profetiese jare van 360 dae elk. Dit word in vers 24 duidelik gestel dat aan die einde van dié tyd, die maat van Israel se sondes vol sal wees. Dan sal die goddeloosheid van die volk beëindig word en ewige geregtigheid vir hulle aanbreek. Ná die 70 jaarweke sal die volk dus volkome, en in sy geheel, met God versoen wees.

Vandat die woord uitgegaan het om Jerusalem te herbou, tot met die uitroeiing van ‘n Gesalfde [die kruisiging van Christus] sou 69 jaarweke verloop (v. 25-26). Daar het inderdaad 69 jaarweke [483 profetiese jare] verloop vandat koning Artasásta in 445 v.C. aan Nehemia toestemming gegee het om Jerusalem te herbou (Neh. 2), tot met die kruisiging van Christus in 32 n.C. Al wat hierna in die heilsgeskiedenis van Israel as volk oorbly totdat die Messiasryk aanbreek, is sewe jaar – die veelbesproke sewentigste jaarweek van Daniël.

Met die geboorte van Jesus hét die Messias gekom, en kon die Messiasryk in beginsel vir Israel aangebreek het indien hulle Hom as hulle Messias-Koning aanvaar het. Dit het egter nie gebeur nie, en die Gesalfde is ‘uitgeroei’ sonder iets vir Hom (Dan. 9:26). Hy het na sy eie mense gekom en hulle het Hom nie aangeneem nie. Deur hierdie daad van verwerping het God se horlosie vir Israel wat hulle heilsgeskiedenis as volk betref, gaan staan. Die gevolg was dat daar ‘n baie lang tydsgaping tussen die 69ste en 70ste jaarweke ingetree het, waarin die koninkryk van God op aarde hoofsaaklik onder die nie-Joodse volke gevestig is.

Ná sy opstanding het Jesus aan sy dissipels opdrag gegee om die evangelie aan die ganse mensdom op aarde te verkondig (Mark. 16:15). Dit is die tye van die nasies [nie die tyd van Israel nie], waarin die nie-Joodse nasies ‘n kans sou kry om gered te word. Individuele Jode sou ook in hierdie tyd gered word, maar Israel as volk sou in ‘n verworpe toestand bly voortbestaan. Dit sal so bly tot aan die einde van die kerkbedeling wanneer Jerusalem en Israel herstel sal word en die 70ste jaarweek ‘n aanvang sal neem:

“Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24).

Ons leef nou in die tyd van die progressiewe herstel van Israel en Jerusalem. Die 70ste jaarweek van die volk se heilsgeskiedenis kan dus enige tyd begin. Volgens Daniël 9:26-27 sal dit ‘n aanvang neem wanneer die vors van ‘n volk wat sal kom [die Antichris, of valse Messias] ‘n verbond met Israel én baie ander lande sluit. Sy toetrede tot die wêreldtoneel sal waarskynlik met ‘n ernstige oorlogsituasie verband hou [die Russies-Arabiese inval in Israel – Eseg. 38 en 39], en hy sal die krediet vir die oorwinning opeis. Hy sal dus op ‘n kritieke oomblik as ‘n vredevors tot Israel se redding kom, en ook deur al die nasies geloof word omdat hy ‘n moontlike derde wêreldoorlog afgeweer en ‘n internasionale ekonomiese ineenstorting voorkom het.

Hierdie hoogs dramatiese gebeure sal ‘n verreikende invloed op die Joodse volk, hulle regering en godsdiensleiers hê. Om die opgewondenheid tot nog hoër hoogtes te voer, sal dié verlosser aanspraak op die troon van Dawid maak en waarskynlik ‘n vervalste geslagsregister hê om sy aanspraak as Messias te bewys. Israel sal ‘n verbond met hom sluit waarin hulle hom as die beloofde Messias aanvaar (Joh. 5:43). Hy sal ook aan hulle die reg gee om die tempel te herbou en die offerdiens weer in te stel.

Gedurende die feestelikhede wat met die inhuldiging van die valse Messias gepaard sal gaan, sal ‘n geestelike herlewing plaasvind waarin 144 000 Jode hulle van hul regering se verbond met Satan se ‘Engel van die Lig’ sal distansieer en vir Jesus Christus (Jeshua Ha Mashiach) as die ware Messias sal aanvaar. Hulle sal openlik standpunt teen die valse Messias inneem, en dit sal tot hewige vervolging teen hulle aanleiding gee.

Die valse vrede wat die Antichris sal bewerk, sal net 3½ jaar lank hou. In die middel van die jaarweek van sewe jaar sal hy in die herboude tempel se Allerheiligdom ingaan en homself daar tot God verklaar (2 Thess. 2:4). ‘n Beeld van hom sal in die tempel geplaas word, en almal sal gedwing word om hom en sy beeld te aanbid (Op. 13:14-15). Dan sal hy Israel se nasionale godsdiens en offerdiens verbied:

“…gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees” (Dan. 9:27).

Israel sal as ‘n volk hulle verbond met die Antichris verbreek en hom as Messias verwerp. Hy sal in woede op hulle toeslaan en ‘n Joodse volksmoord gelas. Dan sal die Jode vir hulle lewens moet vlug en geen oomblik verloor in hulle poging om van die Antichris se magte af weg te kom nie:

“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting [die Antichris en sy beeld] waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom… dan moet die wat in Judéa is na die berge vlug; wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie… en bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie. Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matt. 24:15-22).

Daniël verwys na dieselfde tyd van verskrikking wat in al sy felheid oor Israel sal losbars. Paniek sal heers en baie mense sal nie weet wat om te doen nie. Sommige van die Jode sal die valse Messias erken in die hoop om vrede, sekuriteit en ekonomiese voordele van hom te verkry. Die ander sal hom egter verwerp en as gevolg daarvan heftig vervolg word:

“En deur hom [die valse Messias] sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel [‘n beeld van die valse Messias] opstel. En die wat goddeloos handel teen die verbond, sal hy met vleiery afvallig maak, maar die volk wat hulle God ken, sal vashou en optree. En die verstandiges onder die volk sal baie tot insig bring; maar hulle sal struikel deur swaard en vlam, deur gevangenskap en berowing, dae lank. En terwyl hulle struikel, sal hulle met ‘n klein hulp ondersteun word; dan sal baie uit listigheid by hulle aansluit [spioene van die valse Messias]. En van die verstandiges sal sommige struikel, om onder hulle loutering en reiniging en suiwering aan te bring tot die tyd van die einde – want dit sal nog duur tot op die vasgestelde tyd” (Dan. 11:31-35).

Nadat die verbond tussen Israel en die valse Messias verbreek is, sal daar nog 42 maande (1 260 dae) verloop voordat die ware Messias sy verskyning op die Olyfberg maak. Wanneer die bestemde tyd nader kom, sal die Jode van hulle plek van ontvlugting af na Jerusalem terugkeer. Hulle sal vasbeslote wees om op die Groot Versoendag (die Jom Kippoer) by die Olyfberg te wees. Dit sal met lewensgevaar gepaard gaan omdat die valse Messias steeds met sy verklaarde Joodse volksmoord sal voortgaan. In daardie stadium sal ‘n groot multinasionale mag in Jerusalem en omstreke ontplooi wees. Hulle sal onder die bevel van die valse Messias wees, met hulle militêre hoofkwartier tussen Jerusalem en die Middellandse See (Dan. 11:45).

Die Jode wat na Jerusalem sal optrek om die Messias in te wag, sal sterk van sy koms oortuig moet wees omdat die vyandelike magte oral in en om Jerusalem ontplooi sal wees. Soos wat die voortvlugtendes vorder, sal hulle deur die vyand omsingel word. Huise in die stad sal geplunder en geboue vernietig word. In paniek sal die inwoners in die rigting van die Olyfberg vlug omdat hulle hul uitredding daar sal verwag. Sommige sal in wanhoop uitroep: “Ons verwagting is verlore – dit is klaar met ons!” (Eseg. 37:11).

Die slag van Armagéddon

Wanneer die valse Messias op die punt sal staan om die oorblyfsel van Israel uit te wis, sal die dramatiese gebeurtenis van die Messias se koms plaasvind:

“Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking sal nie uit die stad uitgeroei word nie. En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ‘n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide. En julle sal vlug in die dal van my berge – want die dal van die berge sal loop tot by Asal – en julle sal vlug soos julle gevlug het vir die aardbewing in die dae van Ussia, die koning van Juda. Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U! En in dié dag sal daar geen lig wees nie… en dit sal ‘n enige dag wees… maar teen die aand sal dit lig word… En die Here sal Koning wees oor die hele aarde… En dit sal die plaag wees waarmee die Here al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond. En in dié dag sal ‘n groot verwarring van die Here onder hulle kom, sodat die een die hand van die ander sal gryp, en die hand van die een hom sal verhef teen die hand van die ander” (Sag. 14:2-7, 9, 12-13).

Die oomblik wanneer die Messias sy verskyning op die planeet aarde maak, sal die Olyfberg in twee gesplit word en ‘n groot dal vorm waarin die vlugtelinge skuiling teen die vyand sal soek. Die duisternis van God se oordele sal oordag toesak soos wat dit 2000 jaar gelede gebeur het toe sy oordeel vir die sonde van die wêreld deur Jesus aan die kruis buite Jerusalem gedra is (Matt. 27:45).

Op die hoogtepunt van sy oordele oor sondaars sal die genade van die Here nog steeds aangebied word aan dié wat hulle toevlug by Hom neem. Die oorlewende Jode wat deur die magte van die valse Messias omsingel is, sal sien hoedat die Olyfberg in twee verdeel wanneer die Messias kom. Hulle sal in die geopende rotsskeure in die berg vlug terwyl die duisternis toesak. Daar, letterlik aan die voete van die Here Jesus, sal hulle veilig wees.

In hierdie beslissende oomblikke sal daar groot verwarring onder die vyande van Israel heers terwyl hulle deur goddelike oordele getref en verdelg word. Hulle sal mekaar ook begin doodmaak. Die valse Messias en die valse profeet, as die twee leiers van die wêreldwye rebellie teen God en sy volk, sal gevang en lewendig in die poel van vuur gegooi word (Op. 19:19-20).

Wanneer dit weer begin lig word, sal die oorblyfsel van Israel vol verwondering en aanbidding voor die Messias neerval. As hulle na Hom opkyk, sal hulle verbasing baie groot wees om wonde in sy hande te sien. Hulle eerste vraag aan Hom sal wees: “Watter wonde is daar tussen u hande?” Dan sal Hy aan hulle sê: “So is Ek geslaan in die huis van my vriende” (Sag. 13:6).

Hoe verklaar Israel die feit dat die Messias, volgens die profeet Sagaria, wonde in sy hande sal hê wanneer Hy op die Olyfberg neerdaal? Waar het Hy die wonde opgedoen? Dit kan tog nie in die hemel wees nie! Hulle sal opsien na Hom vir wie hulleself, as Joodse volk, deurboor het toe Hy met sy eerste koms Homself as die Lam van God bereid verklaar het om aan ‘n kruis vasgespyker te word en vir die sondes van die hele wêreld te sterf:

“Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind” (Sag. 12:10).

Die ontmoeting tussen Israel en hulle Messias sal uiters gevoelvol en hartlik wees. Die volk wat kort tevore nog deur totale uitwissing in die gesig gestaar is, sal in aanbidding aan die voete van hulle Verlosser neerval. Hulle vreugde sal deur trane van berou afgewissel word terwyl elke lid van die oorblyfsel van Israel met Jeshua Ha Mashiach versoen word. Op een dag sal al die skuld van die land uitgewis en ‘n volk weergebore word (Sag. 3:9).

Gevolge van die Messias se koms

Nadat die Messias sy verskyning op die Olyfberg gemaak, sy vyande verdelg en Homself as Redder, Verlosser en Koning geopenbaar het, sal ‘n tydperk van verlengde rouklag vir Israel oor hulle sonde aanbreek. In opregtheid van hart sal hulle dit eerlik bely en volkome daarmee breek:

“In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem… En die land sal rouklaag by geslagte… In dié dag sal daar ‘n geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid. En in dié dag, spreek die Here van die leërskare, sal Ek die name van die afgode uit die land uitroei, sodat aan hulle nie meer gedink sal word nie" (Sag. 12:11-13:2).

Die nasionale rouklag sal waarskynlik 30 dae lank duur, soos wat gebruiklik in Israel was: “En toe die hele vergadering sien dat Aäron gesterf het, het die hele huis van Israel Aäron beween dertig dae lank” (Num. 20:29). “Toe het die kinders van Israel Moses beween in die vlaktes van Moab, dertig dae lank” (Deut. 34:8).

Sagaria vergelyk die dood van die Messias met dié van ‘n enigste seun en ‘n eersgeborene. Die rou vir sulke persone was buitengewoon groot. Met die dood van ‘n enigste seun is die lig van ‘n familie uitgedoof, en met die dood van ‘n eersgeborene is die eer van ‘n familie, die mees geliefde en die eerste paaiement van die Here se seëninge, van hulle af weggeneem.

Die rouklag vir die Messias word verder met dié vir koning Josia vergelyk. Proff. Walvoord & Zuck (The Bible Knowledge Commentary, bl. 1567) sê:

“Die toekomstige rouklag van Israel oor die Messias word ook vergelyk met die geween op die dag toe die godvresende koning Josia, die laaste hoop van die kwynende Judese koninkryk, by Haddat-Rimmon in die vlakte van Megiddo gesneuwel het. Die omvang van die rouklag by hierdie laaste uitstorting van die Heilige Gees kan slegs met die rou vir ‘n buitengewone persoon vergelyk word, asook met ‘n nasionale ramp wat die volk getref het.”

In Daniël se skedule van eindtydse gebeure word daar, onder andere, vir Israel se 30 dae van rou ná die koms van die Messias aan die einde van die groot verdrukking voorsiening gemaak:

“…dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word… En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal 1290 dae verloop. Welgeluksalig is hy wat bly verwag en 1335 dae bereik” (Dan. 12:1, 11-12).

Die volgende tydsbepaling is uit dié gedeelte duidelik:

·       Van die tyd af dat die valse Messias die offerdiens sal verbied en die tempel ontheilig deur ‘n beeld van homself daarin te plaas, sal 1260 dae verloop totdat die ware Messias sy voete op die Olyfberg sit (Dan. 9:27; Op. 13:5). Ná ‘n verdere 30 dae van rou sal die geestelike vereniging tussen Israel en die Messias voltooi wees. Dan sal daar 1290 dramatiese dae verloop het sedert daardie donker dag van openlike rebellie teen die koninkryk van die hemel, toe die valse Messias homself in die tempel tot God verklaar het.

·       ‘n Verdere 45 dae sal deur die bruilofsmaal van die Lam, die herstel van die troon van Dawid in Jerusalem en die oordeel oor die nasies in beslag geneem word (Op. 19:7-9; Hand. 15:16-17; Mt. 25:31-32). Wanneer die Messiasryk formeel begin, sal 1335 dae verstryk het sedert die aanvang van die valse Messias se skrikbewind toe sy afgodsbeeld in die tempel opgerig is. Jode wat hierdie verskriklike tyd oorleef, sal ná die 1260 dae van die groot verdrukking (Mt. 24:15-22) die koms van die Messias aanskou. Ná 1290 dae sal hulle geestelik met Hom versoen wees, en ná 1335 dae sal hulle die beloofde ryk van die Messias binnegaan. Dan sal ewige geregtigheid vir hulle as volk van God aanbreek.

Die geredde Israel sal hulle verbly in die Here, Hom van harte dien, en sy lof onder al die nasies verkondig (Jes. 12:3-6 en 40:9). Hulle sal die hele wêreld in dié tyd evangeliseer en vol vrugte maak (Jes. 27:6). “In dié dag sal die Here van die leërskare wees tot ‘n sierlike kroon en ‘n pragtige krans vir die oorblyfsel van sy volk” (Jes. 28:5). Dan sal Israel se volheid die rykdom van die nasies wees (Rom. 11:12), en Jerusalem die wêreldhoofstad:

“En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge… en al die nasies sal daarheen toestroom… Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem” (Jes. 2:2-3).

Die nasies wat deur Israel geëvangeliseer sal word in die vrederyk, sal ‘n ongeredde oorblyfsel van die volke uit die huidige bedeling wees. Hulle sal die slag van Armagéddon oorleef, maar nog nie die nommer van die dier ontvang het nie, en sodoende die vrederyk binnegaan:

“En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier. En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die Here van die leërskare, te aanbid nie – hulle sal geen reën kry nie” (Sag. 14:16-17).

Israel se toekoms is dus seker omdat die God met wie hulle voorvaders plegtige verbonde gesluit het, getrou is. Die ontrouheid van die volk het hulle egter in die loop van die geskiedenis baie duur te staan gekom. In die komende groot verdrukking wag daar op die ongelowige en onbekeerlike Jode die ergste oordele van alle tye. Vir die gelowige oorblyfsel van Israel wat met die Messias versoen word, sal die vreugde van God se wonderlikste beloftes in die vrederyk aanbreek. Die Here Jesus sal weldra kom om self God se heerlikheid aan Israel en die nasies te openbaar:

“Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen” (Hand. 15:16-17).