Israel se Toekoms

Daar is verskeie politieke en godsdienstige verwikkelings in Israel wat groot implikasies vir die land se onmiddellike toekoms inhou. Die Bybel gee ook aan ons duidelike aanduidings oor waarheen die huidige gebeure gaan lei.

Verdeling van die land

‘n Belangrike verwikkeling in Israel in 2005 was die begin van die verdeling van Israel se grondgebied tussen hulleself en die Palestyne. Verskeie Joodse nedersettings is in Gasa en die Wesbankgebied afgebreek om grondgebied aan die ontluikende Palestynse staat te voorsien. Hierdeur is inbreuk op die goddelike mandaat gemaak wat Israel op hulle land het. Die Here het aan Abraham, Isak en Jakob gesê dat Hy die land as ‘n ewige besitting aan hulle en hul nageslagte gee. In 2005 het Israel se eie regering egter aan internasionale druk van veral Amerika af toegegee en dele van hulle godgegewe land vervreem.

Omdat die Here in Joël 3:2 sê dat Hy die nasies sal oordeel wat Israel vervolg en hulle grondgebied verdeel, moet ons verwag dat oordele oor ‘n land soos Amerika sal kom. Daar was inderdaad buitengewone groot orkane wat Amerika kort ná die geforseerde onttrekkings in Israel getref het, en dit het veroorsaak dat daar nog meer Amerikaners was wat uit hulle huise en besighede verdryf is en tydelike verblyf elders moes soek. Amerika het self in die put geval wat hulle vir Israel gegrawe het.

Die onbybelse ontruimings in Israel het ook implikasies vir hulle eie regering, omdat hulle hul samewerking aan planne gegee het wat teen God se raadsplan indruis. Die (voormalige) eerste minister, Sharon, het sy eie party (Kadima) gestig en sodoende die Likud-party geskeur. Dit gaan tot verdere politieke verswakking en rigtingloosheid in die regering lei, wat deur onstabiele koalisies saamgeflans sal word. Dit kan verwag word dat die nuwe regering selfs bereid sal wees om Jerusalem te verdeel deur van groot dele van Oos-Jerusalem af te sien.

Politieke onstabiliteit

Israel staan op die drumpel van nóg groter politieke onstabiliteit. Verskeie lede van die Knesset het die polities wankelende mnr. Sharon, wat onder internasionale druk geswig het om groot dele van sy land weg te gee, na die nuwe party gevolg. Die konserwatiewe Benjamin Netanyahu, ‘n voormalige eerste minister van Israel, is die nuwe leier van Likud. Skielik is Sharon egter deur ‘n ernstige beroerte uit die politieke toneel verwyder. Wat gaan nou gebeur?

Die land se waarnemende eerste minister, Ehud Olmert, word deur baie mense as ‘n politieke swakkeling beskou wat net op sy eie eer ingestel is. Hy is ‘n blinde navolger van Sharon se beleid van “toegee, weggee en padgee.” Olmert word in ‘n artikel soos volg aangehaal: “Ons is moeg om te veg, ons is moeg om dapper te wees, ons is moeg om te wen, ons is moeg om ons vyande te wen.” Dit is die taal van iemand wat ten alle koste vrede wil skep, selfs ten koste van sy eie volk se toekoms in die land wat die Here deur ‘n duidelike belofte aan hulle vaders gegee het.

Olmert sal dus voortgaan met die politieke verraad wat in 2005 teen Israel gepleeg is deur uit Gasa en vier van Samaria se noordelike dorpe te onttrek. Die einddoel met hierdie beleid is om teen 2009 uit al die Wesbankgebiede te onttrek en ook ‘n deel van Jerusalem af te staan. Op dié manier word daar vir Israel se vyande  in strategiese gebiede ruimte geskep. Terroristegroepe is reeds besig om hulleself ongehinderd in die ontruimde gebiede in Gasa en Samaria te vestig, en ook groot hoeveelhede wapens deur hulle grens met Egipte in te bring.

Waarom het Sharon, Israel se “bulldozer,” voete van klei gekry en gekapituleer? Hy het sy rug op verkiesingsbeloftes van 2000 gedraai, toe hy beloof het dat hy nooit die land sou verdeel en van volle beheer oor Jerusalem sou afsien nie. Die rede hiervoor is dat hy nie ‘n godsdienstige Jood met sterk en ononderhandelbare beginsels was nie.

Israel word, soos baie ander lande in die wêreld, deur swak en onbetroubare leierskap geteister. ‘n Magsvakuum word hierdeur gevestig, wat die algemene publiek na sterk en doelgerigte leierskap laat verlang. Mense oral in die wêreld smag na stabiele, eerlike regering en die handhawing van wet en orde. In Israel is dit nog meer as elders die geval. Hulle eie regering eerbiedig nie meer Bybelse bepalings oor Israel se gebiedsintegriteit nie, hulle leiers is onbetroubaar en die land is in die wurggreep van ‘n eskalerende terroristestryd waarin hulle regering onder Amerikaanse druk selfvernietigende toegewings maak. Wetteloosheid onder hulle jeug, weens ‘n gebrek aan morele leiding, neem ook onrusbarende afmetings aan.

 ‘n Alternatiewe godsdienstige regering

Die huidige politieke vertrouenskrisis in Israel is só ernstig dat ortodokse Jode ‘n geruime tyd al besig is om die grondslag vir ‘n godsdienstig-gebaseerde regering te lê. ‘n Moderne Sanhedrin met 71 lede is in die lewe geroep, wat hoofsaaklik uit godsdienstige leiers bestaan, asook akademici wat die Torah as die grondslag vir die Joodse staatsvorm erken. Hulle sien dit as hulle eerste taak om Israel se vervallende identiteit en godsdienssin te herstel, en ook die tempel as simbool van Israel se godsdienstige, kulturele en politieke lewe te bou.

Rabbi Chaim Richman van dié nuwe raad het gesê dat dit paslik is dat die Sanhedrin met besinning oor die tempel begin, omdat die tempel van sentrale belang in die identiteit van die Joodse volk is. Hy het ook gesê dat die eerste minister, Ariel Sharon, uit sekere gedeeltes van Israel se grondgebied onttrek het en sodoende van Israel se droom van alleenbeheer oor sy historiese gebiede afgesien het. Die Sanhedrin soek egter na maniere om die wortels van die Joodse geloof te versterk en Israel weer rondom die tempeldiens en die Torah te verenig. Dit is hulle doel om die Sanhedrin weer, soos in Bybelse tye, as die oppergesag in Israel gevestig te kry.

Die konflik van godsdienste

Die stryd tussen Israel en die Palestyne het wél ‘n sterk politieke en militêre karakter, maar dit is ten diepste ‘n godsdienstige stryd tussen Judaïsme en Islam. Die huidige terroristestryd (Intifada) het in 2000 begin nadat mnr. Sharon ‘n besoek aan die tempelberg gebring het. Dit word die Al Aksa Intifada genoem, na aanleiding van die groot moskee in die suidelike deel van die tempelberg. Die enigste oorblyfsel van Israel se ou tempelgebou is die sogenaamde Westelike muur, of die Klaagmuur, waar Jode dikwels vir die herbouing van die tempel en die koms van die Messias gaan bid.

Die Palestynse Owerheid maak egter, teenstrydig met onbetwisbare historiese getuienis, op hulle webtuiste daarop aanspraak dat die Westelike muur aan Islam behoort en nie aan Israel nie. Hulle verwys na die muur as Al-Borak. Volgens ‘n Moslem legende het Mohammed sy perd by hierdie muur vasgemaak toe hy na die hemel toe opgevaar en weer teruggekeer het met ‘n opdrag van Allah om sy nuwe geloof oral te vestig. Daar is egter geen verwysings in die Koran na hierdie insident, of na die Al-Borak muur, of selfs na die stad Jerusalem, wat deur die Moslems Al-Kuds genoem word nie. Daar is egter meer as 700 verwysings in die Bybel na Jerusalem as ‘n Joodse stad.

Rabbi Chaim Richman van die Tempel-Instituut in Jerusalem, asook lid van die Sanhedrin, sê: “Die Palestynse Owerheid se aanspraak van besitreg oor die Westelike muur het verreikende implikasies vir Israel. Hulle ontkenning van die bestaan van ‘n Joodse tempel is deel van ‘n veldtog om alle Joodse verbintenisse met die Tempelberg, met Jerusalem én met die land Israel, heeltemal uit te wis. Volgens hulle is daar in argeologiese opgrawings naby die Westelike muur geen aanduidings van vorige tempels gevind nie. Islam is egter vir etlike jare al besig om alle bewyse van die bestaan van die eerste en tweede tempels te vernietig, en sodoende Israel se aanspraak op die Tempelberg ongeldig te probeer maak. Duisende ton argeologiese materiaal is reeds opgegrawe en vernietig.”

Sjeik Riyad Salah, hoof van die Islamitiese Beweging in Israel, verkondig ook aktief die beginsels van ‘n Islamitiese revolusie. “Ons is voor die poorte van ‘n Islamitiese revolusie,” sê hy aan die Arabiere van Israel. “Die wêreldwye magte van boosheid sal in ‘n Islamitiese revolusie uitgeskakel en deur ‘n Islamitiese wêreldstaat vervang word, met Jerusalem as hoofstad.” Salah se organisasie het bygedra tot pogings om Arabiese moskees op die Tempelberg te restoureer, en ook om Joodse oudhede op die Tempelberg te vernietig. Duisende jong Arabiere neem aan die party se jeugbeweging deel onder die banier van “Byeenkomste om Revolusie te Verkondig.” Hierdie beweging het onlangs naby die Rotskoepel op die Tempelberg ‘n banier gespan met die woorde: “Revolusie is ‘n opdrag van Allah.” Die jeuggroep is deur ander partylede begroet met die woorde: “Volgende jaar in Jerusalem, onder die beheer van die Islamitiese revolusie.”

Alle Moslemstate in die Midde-Ooste verleen hulle aktiewe steun aan die Palestynse Owerheid en verskeie Islamitiese drukgroepe om uiteindelik volle beheer oor die hele Israel te verkry, insluitende Jerusalem en die Tempelberg. Die toegewings wat Israel se regering onder buitelandse druk vir die vestiging van ‘n Palestynse staat in sekere Joodse gebiede maak, is vir die Palestyne én Islam in die algemeen, net die eerste tree na die uitwissing van Israel en die vestiging van ’n Islamitiese “Palestina” in sy plek. Amerika se Padkaart na vrede in die Midde-Ooste is in werklikheid ‘n Padkaart na die verswakking en uiteindelike vernietiging van Israel. Die Europese Unie, Rusland en die VN steun ook hierdie beleid.

Hamas se oorwinning

Die politieke nederlaag wat na Israel se onttrekking uit Gasa en dele van Samaria gelei het, is deur ‘n groot oorwinning gevolg wat deur hulle vyande, Hamas, gedurende ‘n Palestyne verkiesing aan die einde van Januarie 2006 behaal is. Die twee gebeurtenisse staan in ‘n direkte verband met mekaar. Hamas het al die krediet vir die “bevryding” van die besette gebiede geëis, en daardeur die ondersteuning van die Palestyne gewen wat steeds weerwraak teen Israel soek vir hulle wrede strafaanvalle oor jare heen. Hierdie mense glo dat die stryd moet voortduur.

Dit is ‘n bekende feit dat Hamas nie die bestaan van Israel erken nie, en hulle vir die totale vernietiging van die Joodse staat beywer. In hulle veldtog word hulle deur radikale Islamitiese groepe in verskeie land ondersteun. Sterk ondersteuning kom uit Sirië en Iran, en ook van sekere groepe in Egipte. Daar is ‘n aantal nie-Islamitiese lande wat in Hamas belangstel, en aangedui het dat hulle onderhandelings wil voer – veral Rusland.

Die eindtyd het inderdaad vir Israel én die hele wêreld aangebreek. Die Here het gesê: “Kyk, Ek maak Jerusalem vir al die volke rondom tot ‘n beker van bedwelming, en ook teen Juda sal dit wees tydens die beleëring van Jerusalem” (Sag. 12:2). Die Joodse staat én Jerusalem sal omring wees deur vyande wat tot hulle vernietiging verbind is. Die Here sal tussenbeide tree, maar nie voordat die vyandige magte Jerusalem gedeeltelik verwoes het nie (Zech. 14:2-4).

Nuwe terroristebasisse

Benewens die versterking  en “wettiging” van Hamas, is daar ook ander Islamitiese terreurgroepe wat by die Joodse onttrekking uit sekere gebiede baat. Die Hizbullah-groep wat deur Iran gefinansier word, het hulle operasionele beheersentrum uit Beiroet na Gasa verskuif nadat Israel in September uit dié gebied onttrek het. Van hier af word instruksies ook gegee en geld aan terroriste in die Wesbankgebied voorsien, sodat hulle in Judea en Samaria kan optree. Hulle werf ook plaaslike rekrute vir hul groep.

Ten spyte van al Israel se politieke kompromieë handhaaf hulle steeds hulle militêre beleid van ‘n oog vir ‘n oog. Wanneer selfmoordbomaanvalle gedoen of vuurpyle op nedersettings afgeskiet word, slaan die Israeli’s hard terug – nie net op die huise van bomplanters en hulle gesinne nie, maar ook op die leiers van die groepe wat verantwoordelikheid vir hierdie dade aanvaar.

Die bedreiging van buite

In die Midde-Ooste heers daar tans ‘n baie plofbare situasie. Op die laaste Vrydag van Ramadan 2005 het die president van Iran ‘n oproep gedoen dat Israel van die wêreldkaart af uitgewis moet word. Hy is die derde president van revolusionêre Iran sedert die Ajatolla Khomeini wat ‘n oproep vir die totale uitwissing van Israel gedoen het. Intussen ontwikkel Iran sy kerntegnologie verder, wat beteken dat hulle binnekort die vermoë sal hê om uitvoering aan hulle dreigemente te gee. Hulle is ook fanaties teen Amerika en Engeland gekant.

Amerika besef die groot bedreiging wat Iran vir Israel inhou, maar dit lyk of hulle vuisvoos is ná hulle ervaring in Irak. ‘n Onlangse Amerikaanse weermagverslag stel dit duidelik dat Amerika nie diplomatieke of militêre pogings gaan aanwend om Iran van sy kernontwikkelingsprogram te laat afsien nie. In hierdie verslag, getiteld “Getting ready for a nuclear-ready Iran” word die mening gehuldig dat die aftakeling van Israel se kernwapens die enigste manier is om ‘n kernwedloop in die Midde-Ooste te voorkom. Die aanbeveling word gemaak dat aktiwiteite by Israel se kernreaktor op Dimona gestaak en dat die aanleg vir inspeksies deur die internasionale atoomenergie-agentskap oopgestel moet word. Israel moet ander lande in die streek dan versoek om dieselfde te doen.

Israel het nog nooit erken of ontken dat hulle kernwapens het nie, maar wél gesê dat hulle nooit die eerste sal wees om dit te gebruik nie. Dit sal slegs in teenaanvalle gebruik word. Daar is aanduidings dat Israel in 2006 aanvalle op Iran se kernaanlegte beplan. Israel ontwikkel op die oomblik ‘n onbemande langafstand vliegtuig wat heelwat goedkoper as die Amerikaanse Global Hawk sal wees. Hiermee kan ‘n hoë mate van presisie in aanvalle verseker word. Israel se robot-tegnologie is baie ver gevorderd.

Israel se bevolking

‘n Baie belangrike faktor wat Israel se politieke en godsdienstige posisie ten nouste raak, is hulle verteenwoordigende posisie in die Jodendom wêreldwyd. Van die 14 miljoen Jode in die wêreld is daar na raming 5,5 miljoen in Israel en ‘n geraamde 5,8 miljoen in Amerika. Wanneer Israel die grootste enkele groep Jode op aarde is, m.a.w. meer as die Amerikaanse Jode, sal hulle volgens ortodokse leiers verteenwoordigend wees en die reg hê om namens die hele Jodendom bindende besluite te neem, bv. om die tempel te herbou, om met die komende Messias ‘n verbond te sluit, ens. Israel behoort hierdie posisie in die volgende twee tot drie jaar te bereik – ‘n posisie wat laas in die eerste eeu bestaan het voordat Israel in 70 n.C. byna deur die Romeine uitgewis, uit hulle land verdryf en die tweede tempel tot op die grond afgebreek is.

Bybelse beoordeling

Dit is baie belangrik om sekulêre gebeurtenisse in Israel uit ‘n Bybelse oogpunt te beoordeel, want daarin kry ons ‘n vaste aanduiding van waarheen alles gaan beweeg. Die volgende duidelike stellings kan gemaak word:

Die valse messias. Israel se nasionale geestelike blindheid as volk sal voortduur totdat hulle volgens Daniël 9:27 ‘n verbond van sewe jaar met die valse messias sal sluit omdat hulle verkeerdelik sal meen dat hy die ware Messias is. Die Here Jesus het hulle teen die Antichris gewaarsku: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43). In hierdie noodlottige besluit sal misleide politieke en geestelike leiers dit met mekaar eens wees.

Herbouing van die tempel. Israel sal onder die leiding van die valse messias die tempel in Jerusalem herbou. Dit sal in die teken van die voortgesette verwerping van die ware Messias se eenmalige offer vir die sondes van die hele wêreld aan die kruis staan (vgl. Joh. 1:29). Die Antichris sal die verdere oogmerk met die herboude tempel hê om homself daarin tot God te verklaar. Paulus sê dat hy homself bokant God sal verhef “sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:4).

Joodse ontvlugting. Israel se sewe jaar lange verbond met die valse messias sal in die middel van die sewe jaar beëindig word wanneer dié leier homself tot die misnoeë van die volk tot God sal verklaar. Hulle sal volgens Matt. 24:15-22 en Op. 12:6,14-16 voor die Antichris se magte moet wegvlug na die woestyn, waar die Here ‘n oorblyfsel van hulle sal beskerm. Daar kom dus nog baie swaar tye oor hierdie volk omdat hulle steeds die Messias verwerp. Beter tye sal eers aanbreek wanneer hulle sal opsien na Hom [die Messias] vir wie hulle deurboor het (Sag. 12:10).

Moderne Jihad. Die hewige stryd tussen Islam en Judaïsme sal voortduur en selfs in intensiteit toeneem. ‘n Moderne weergawe van die verklaring deur Israel se vyande in Psalm 83:5 sal weer uitgereik word: “Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie.” Hierdie oorlogsverklaring sal alle Jode op aarde teiken, sowel as alle lande en individue wat dit sou waag om enige ondersteuning aan hulle te verleen. Die moderne jihad sal dus baie groot in omvang wees.

Volskaalse oorlog. Israel se stryd teen Iran gaan ernstige gevolge hê. Dit kan heel moontlik na botsings lei wat die groot oorlog van Esegiël 38 en 39 sal veroorsaak. Volgens dié profesie sal verskeie Moslem-lande waaronder Iran, Turkye, Ethiopië en Libië, onder die leiding van Rusland ‘n inval in Israel doen. Eseg. 38:8 en 16 sê dat dit in die laaste dae sal gebeur, wanneer ‘n menigte vyande Israel soos ‘n wolk sal oordek en deur uitwissing bedreig. Volgens Eseg. 39:1-12 sal die Here die invalsmag verdelg en dit sal Israel sewe maande lank neem om die lyke te begrawe.

Die Messias. Die kritieke faktor in al hierdie gebeure is die Messias, Jesus. Hy is bestem tot ‘n val en ‘n opstanding van baie in Israel en tot ‘n teken wat weerspreek sal word (Luk. 2:34). Israel én alle ander mense op aarde se toekoms hang ten nouste van hulle verhouding teenoor Jesus Christus af. Ons kom tot ‘n ewige val as ons Hom nie as ons persoonlike Verlosser ken nie, maar vir almal wat Hom ken, is Hy die opstanding tot die lewe. Hy het gesê: “Salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie” (Matt. 11:6).

Gebed. Wil jy vir Israel bid? Bid dan dat hulle met die Messias versoen sal word. Jerusalem sal nie sonder sy ware Koning vrede hê nie. Sonder Hom sal hulle ‘n verbond met die valse messias sluit, wat ‘n verbond met die dood is. Op hierdie weg wag daar net smarte en oordele. Israel het nie besef wat hulle aan hulleself doen nie, toe hulle gesê het: “Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom” (Matt. 27:25). Die huidige geslag ortodokse Jode verwys nie na Jeshua Hamashiach (Jesus die Messias) nie, maar na “Jemach Shemo” (dit beteken: “Mag sy naam en herinnering uitgewis word”). Hierdie geestelike rebellie sal voortduur tot hulle in die komende verdrukking in ‘n toestand van uiterste benoudheid opreg na hulle verwerpte Messias sal soek (Jer. 30:7; Hos. 5:14–6:2).