Prof. Johan Malan, Universiteit van die Noorde
Opsomming: Die sewe groot feeste van Israel wat jaarliks gevier word, het almal 'n profetiese vervulling in die Messias.
Die jaarlikse siklus van die sewe groot godsdienstige feeste wat volgens Levítikus 23 deur Israel gevier word, werp duidelike lig op die raadsplan van die Here vir Israel én die nasies. Hierin kan ons die heilsweg volg wat by die kruis en die eerste reiniging van ons sonde begin, na die opstandingslewe en die vervulling met die Heilige Gees voortgaan, en daarna deur die lang pad van wêreldevangelisasie tot aan die einde van die kerkbedeling lei. Hierna volg die insameling van die oes, die verdrukking, die koms van die Messias en die vestiging van die Messiasryk op aarde.
Die Here bevestig in sy Woord dat hierdie feeste nie menslik in oorsprong is nie, maar deur Homself ingestel is om sy heilsweg vir redding en geestelike groei bekend te maak. Om redes van die toekomstige vervulling daarvan, moet die feeste jaarliks in die regte volgorde gevier word. In Levítikus 23:4 sê Hy: “Dit is die feestye van die Here… wat julle moet uitroep op hulle bepaalde tyd.”
Omdat hierdie feeste op ‘n Nuwe Testamentiese vervulling dui, is hulle in hul oorspronklike vorm “’n skaduwee van toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus” (Kol. 2:16-17). Hulle is dus almal Christusfeeste wat ín Hom konkrete gestalte verkry. Tydens sy eerste koms is die pasga, die fees van die ongesuurde brode en die fees van die eerstelingsgerf vervul, en 10 dae ná sy hemelvaart, m.a.w. 50 dae ná sy opstanding uit die dood, die pinksterfees. In die gebeure rondom sy tweede koms sal die laaste drie feeste, wat saam as die oesfees bekend staan, vervul word.
Christene uit die nie-Joodse nasies word volgens Romeine 11:13-24 in die Olyfboom, Israel, ingeënt. Ons kan dus slegs die profesieë goed verstaan as ons ook ‘n studie van Israel maak.
|
Ou Testamentiese Skaduwee |
Nuwe Testamentiese Vervulling |
|
Pasga: slag van die Paaslam |
Kruisiging van die Lam van God |
|
Fees van die ongesuurde brode |
Die begrafnis van Christus |
|
Die eerstelingsgerf as beweegoffer |
Die opstanding van Christus as eersteling |
|
Ou Testamentiese Pinksterfees |
Nuwe testamentiese Pinksterfees |
|
Tyd vir die insameling van die
oes |
Die tyd vir wêreldevangelisasie voordat |
|
Basuingeklank as begin van die oesfees |
Basuingeklank kondig die wegraping aan |
|
Sewe dae van verootmoediging |
Sewe jaar van verdrukking |
|
Die groot versoendag |
Die wederkoms van Christus |
|
Die loofhuttefees |
Die vrederyk begin |
Die pasga word in Nisan, die eerste maand op Israel se godsdienstige kalender, gevier. Dit is die lentemaand in die Noordelike Halfrond, wat gedeeltelik met Maart en April oorvleuel. Israel het ook ‘n siviele kalender wat met die Rosh Hashanah op 1 Tisri in September of Oktober begin. In die godsdienstige kalender is Tisri die sewende maand. Israel se maande is op die maansiklus gebaseer en begin altyd met die nuwemaan. Omdat 12 maan-maande net 354 dae lank is, het Israel dikwels skrikkeljare met 13 maande elk om weer in pas met die seisoensjare te kom. Dit verklaar die feit waarom hulle feestye jaarliks wisselende datums op die Gregoriaanse kalender het.
Die eerste van die jaarlikse feeste begin met die volmaan in Nisan (twee weke ná die nuwemaan is dit altyd volmaan): “In die eerste maand, op die veertiende van die maand, teen die aand, is die pasga van die Here” (Lev. 23:5).
Met die instelling van die pasga is die eerste formele riglyne gelê waarvolgens God se verlossingsplan vir die mens 1500 jaar later sy finale vervulling in die kruisdood van Jesus Christus sou verkry. Aan Israel het Moses gesê: “Julle moet ‘n lam hê sonder gebrek, ‘n jaaroud rammetjie… En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand; en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand. En hulle moet van die bloed neem en dit stryk aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel… Want Ek sal in hierdie nag deur Egipteland trek en al die eersgeborenes in Egipteland tref… Maar die bloed sal vir julle ‘n teken wees… as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees nie” (Ex. 12:5-7, 12-13).
Die vervulling van die pasga was met die kruisiging van die vlekkelose Lam van God wat in die volheid van die tyd mens geword het om vir ons sy lewe af te lê. Johannes die Doper het na Hom gewys en gesê: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29). Petrus het ook na die pryslose offer van hierdie Lam verwys toe hy gesê het: “…julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pet. 1:18-19). “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Ef. 1:7).
Weens die tipologiese aard van die pasga, as ‘n heenwysing na die offer van die Lam van God, was dit duidelik dat hierdie fees tydens een van sy toekomstige vieringe vervul sou word. Die Here Jesus is inderdaad op die dag van die pasgaviering gekruisig. Volgens Markus 14:1-2 wou die Jode só ‘n situasie vermy: “En die pasga… sou oor twee dae wees; en die owerpriesters en die skrifgeleerdes het gesoek hoe hulle Hom met lis gevange kon neem en doodmaak. Maar hulle het gesê: Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien ‘n oproer onder die volk kom nie.”
Die Jode kon egter nie daarin slaag om die stiptelike vervulling van hierdie fees te voorkom nie, en Jesus is op Vrydag die 14de Nisan (11 April 32) gekruisig. Hy het op die negende uur (3 nm.) die asem uitgeblaas (Mark. 15:34-37), op presies dieselfde uur toe die lam tydens die eerste pasga in Egipte geslag is. Pilatus was verwonderd dat Jesus so gou gesterf het, en het toestemming vir sy begrafnis verleen (Mark. 15:42-45). Dit is nog voor die Vrydagaand 6-uur afgehandel toe die sabbat sou begin en niemand dan begrawe mag word nie (Luk. 23:52-54; Joh. 19:31).
Het jy al hierdie groot offer in die geloof aanvaar? “…die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom… die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom” (Jes. 53:5-6). Die vraag is of jou hart deur die bloed van die Lam gereinig is? As die plaasvervangende dood van die Lam van God nie vir jou toegereken is nie, is jou hart en lewe nog nie gereinig nie – dan sal jy self die straf vir jou sonde moet dra. Die Here sê: “As Ek die bloed sien, sal Ek by [jou] verbygaan” (Ex. 12:13). Hy sê nie: “As ek ‘n goeie lewe, ‘n doopseël of ‘n graad in teologie sien, sal Ek by jou verbygaan” nie. Net die bloed van Jesus Christus reinig ons van alle sonde (1 Joh. 1:7). Die voorwaarde hiervoor is dat ons alle sonde moet bely en laat staan (1 Joh. 1:8-9; Spr. 28:13). Doen dit en jy sal lewe!
Volgens Johannes 19:31 was die sabbat wat direk op Christus se kruisiging gevolg het, ‘n groot dag. Die rede hiervoor was dat dit tegelyk die weeklikse sabbat en die belangrike eerste dag van die fees van die ongesuurde brode was. Vir die ortodokse Jode is die betekenis van hierdie fees in selfondersoek en verootmoediging geleë. Suurdeeg is ‘n beeld van sonde, daarom simboliseer die eet van ongesuurde brood die nastreef van ‘n heilige lewe. Tydens die volle duur van die fees moet suurdeeg, en selfs ook krummels van gesuurde brood, uit hulle huise verwyder en verbrand word (Ex. 12:15). So ook moet mense gereinig word deur afstand van hulle sonde te doen.
Die ongesuurde brood moet saam met die vleis van die offerlam én bitter kruie geëet word (Ex. 12:8). Die volk het nie net verlossing deur die bloed van die lam gekry nie, maar moes hulle ook met die vleis van die offerlam voed en versterk om krag te verkry vir die moeilike reis wat voorlê. Die bitter kruie dui op die lyding wat deur sonde veroorsaak is, asook die lyding wat met die offer gepaard gaan. Die volk moes onder die bloed van ‘n onskuldige offerlam skuil sodat hulle marteling en slawerny aan die sonde beëindig kon word. Die haas waarin die eet van die offermaal moes geskied, was deel van die voorbereidings vir ‘n bevrydingsreis wat onderneem moes word. Die verloste volk van God vertrek op ‘n reis na ‘n nuwe lewe. Hulle is vreemdelinge en bywoners op aarde wat onderweg na hulle ewige tuiste is.
Hierdie fees, wat wesenlik deel van die pasgavieringe is, is deur die sterwe en begrafnis van die Here Jesus vervul. Hy is die koringkorrel wat in die grond geval en gesterf het sodat dit veel vrug kan dra (Joh. 12:24). As die volmaakte en sondelose Lam van God is Hy self die ongesuurde brood van die lewe deur wie se krag ons geestelik kan opgroei; daarom kon Jesus sê: “Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee” (Joh. 6:51). Hy verlos ons nie alleen van die slawerny van die sonde nie, maar stel ons ook in staat om die weg van die verlostes te kan bewandel en die goeie stryd van die geloof te stry.
Van ons word verwag om ons só met Christus as die ongesuurde brood van die lewe te vereenselwig dat ons alle suurdeeg van sonde sal aflê. Paulus sê:
Soos die Jode van ouds hulle huise op hul knieë in kerslig deursoek het om elke krummel brood wat met suurdeeg gebak is, uit te werp, moet ons ook op ons knieë in die lig van God se Woord ons lewens deursoek en van alle ondeug en boosheid afstand doen. Gebruik die volgende skrifgedeeltes as ‘n riglyn vir hierdie selfondersoek en hertoewyding:
Ons moet alle sondes bely en ‘n skoon breek met die verlede maak, sodat ons nie die pad van die Here met ‘n erfenis van onbelyde sondes probeer bewandel nie. Dit sal ons vroeër of later tot struikeling bring. As ons egter alle suurdeeg van ondeug en boosheid uitgewerp het, kan ons met vrymoedigheid na die volgende baken op die weg van die verlostes voortgaan.
Die volgende feeste is almal aan verskillende stadiums van die jaarlikse insameling van die oes gekoppel. Hierdie derde fees staan as die fees van die eerstelingsgerf bekend:
Israel is ‘n winterreënvalgebied en gedurende die lente word die eerstelingsgerf van die gars as ‘n beweegoffer voor die Here gebring. Dit moes uitdruklik op ‘n Sondag geskied (die dag ná die sabbat), en sou ook die besonder gewigtige betekenis hê om die volk vir God welgevallig te maak. Met hierdie fees is dus iets veel meer op die spel as net die jaarlikse insameling van die oes, want iets belangriks moet gebeur wat die volk vir God aanneemlik maak.
Omdat die pasga ook in die lentemaand gevier word, is die fees van die eerste vrugte in sy skedulering én betekenis baie nou aan die pasga verbonde. Tydens die uittog uit Egipte was die gars, wat effens vroeër as die koring ryp word, reeds in die aar (Ex. 9:31). In die lentemaand is Israel uit Egipte bevry en het aan die begin van ‘n nuwe lewe gestaan. ‘n Ontmoeting met die Lam van God wat ons sondes wegneem, is ook vir ons die begin van ‘n nuwe lewe in die Here. Ons word aan sy dood én opstanding gelykvormig.
In die jaar toe Jesus gekruisig is, is die beweegoffer van die eerstelingsgerf op die Sondagoggend gebring toe Hy uit die graf opgestaan het. Dit was die dag ná die sabbat, m.a.w. die eerste dag van die week: “…nadat Hy opgestaan het, vroeg op die eerste dag van die week, het Hy eers verskyn aan Maria Magdalena” (Mark. 16:9).
Die koringkorrel wat in die grond geval en gesterf het, het op hierdie Sondagoggend sy eerste vrug opgelewer. Dit het die oesseisoen ingelui en die hele oes wat daarna ingesamel sou word, geheilig. Net Jesus alleen kon die eerstelingsgerf wees wat aan God geoffer is om die hele oes wat in sy Naam ingesamel word, te heilig en vir God welgevallig te maak. Hy is die eersteling wat uit die dood opgestaan het, en het dit sodoende vir baie mense moontlik gemaak om uit die dood van die ou lewe op te staan en deel van die groot oes vir die koninkryk van die hemel te word:
‘n Verdere belangrike feit is die bepaling dat hierdie fees spesifiek op ‘n Sondag gevier moes word. Dit verteenwoordig profeties ‘n oorgang van die ou verbond na die nuwe verbond. Sondag is die eerste dag van ‘n nuwe week, of dispensasie, in God se raadsplan vir die mens. In hierdie bedeling word die opstanding van Jesus spontaan elke week op Sondae as die dag van die Here gevier. Die fees van die eerstelingsgerf in Levítikus 23 is die vroegste aanduiding in die Ou Testament van ‘n toekomstige Sondagviering as ‘n Christusfees. Op dié dag verkondig ons die boodskap: Hy het opgestaan, Hy leef! Jesus self het op die Sondag van sy opstanding die eerste erediens van die nuwe bedeling gehou, asook ‘n week later, weer op ‘n Sondag, die tweede diens (Joh. 20:19-29). Daarna het die dissipels spontaan op Sondae bymekaargekom (vgl. Hand. 20:7 en 1 Kor. 16:1-2), terwyl die uitstorting van die Heilige Gees as die geestelike toerusting vir wêreldevangelisasie, ook op ‘n Sondag was.
Die fees van die eerstelingsgerf en die pinksterfees is saam as die fees van die eerste vrugte bekend. Hulle staan ook as die fees van die weke bekend omdat hulle presies sewe weke uitmekaar gevier word:
Dit is betekenisvol dat hierdie fees ook op ‘n Sondag gevier word – die dag ná die sewende sabbat. Daar is vyftig dae in hierdie sewe weke. Volgens die reël van inklusiewe berekening is daar agt Sondae omdat beide die eerste en die laaste Sondag getel word. Die fees van die vyftigste dag word die pinksterfees genoem, afgelei van die Griekse woord “pentecoste” wat “vyftigste” beteken.
Op hierdie dag herdenk die Jode die formele begin van die bedeling van die wet. Hulle glo dat die bevryde Israeliete op die 50ste dag ná die viering van die pasga en hulle uittog uit Egipte by die berg Sinai aangekom het waar Moses die tien gebooie ontvang het (Ex. 19:1-3). Dit was vir só ‘n ortodokse pinksterfees dat Jode uit verskillende lande in Jerusalem bymekaar was op daardie besondere Sondagoggend toe die Heilige Gees uitgestort is, soos in Handelinge 2 beskryf.
Die Christelike pinksterfees is dus op die dag waarop die die Ou Testamentiese pinksterfees gevier is, vervul. Die 50 dae tussen die beweegoffer van die eerstelingsgerf en die pinksterfees het aan die begin van die Nuwe Testament tussen die opstanding van Jesus en die uitstorting van die Heilige Gees verloop. Ná die Sondag van Jesus se opstanding het 40 dae tot by sy hemelvaart verloop (Hand. 1:2-3), en ‘n verdere tien dae tot by die uitstorting van die Heilige Gees. Ná die Donderdag van die hemelvaart het die dissipels hulleself tien dae lank in die bovertrek verootmoedig en gebid om die belofte van die Heilige Gees te ontvang. Op die dag ná die sewende sabbat sedert paasnaweek is die Heilige Gees oor hulle uitgestort.
Die ortodokse Jode wat vir hulle pinksterfees van die wet byeen was, het glad nie gemerk dat die wet oorgegaan het in die genade en dat die bedeling van die kerk onder alle nasies op daardie dag begin het nie. Hulle was geestelik verblind omdat hulle nie vir Jesus as die beloofde Messias en Lam van God wou aanvaar nie, daarom het hulle aan die skaduagtige Ou Testamentiese feeste bly vashou en dit voortgesit tot vandag toe nog. Dit is net die Messiaanse Jode wat die vervulde Christusfeeste vier.
Watter verskil sou dit nie gemaak het as hulle oë vir hierdie groot waarhede oop was nie! Op Sinai, waar die volk op die 50ste dag ná die paga die wet gekry het, het 3 000 mense gesterf omdat die wet hulle afgodery rondom die goue kalf veroordeel het. In Jerusalem, waar die Heilige Gees op die 50ste dag ná paasnaweek uitgestort is, is 3000 Jode op een dag gered! Die letter van die wet maak dood, maar die Gees maak lewend (2 Kor. 3:6). Hierdie volmaakte tydsberekening vir die uitstorting van die Heilige Gees dui onmiskenbaar daarop dat die bedeling van genade, wat ook die bedeling van die kerk of die bedeling van die Heilige Gees genoem word, die bedeling van die wet vervang het.
Dit is verder opmerklik dat die pinksterfees nie in isolasie beskou word nie, maar deur middel van ‘n aftelling van 50 dae aan die paasgebeure gekoppel word. Dit is dus nie ‘n losstaande gebeurtenis nie, maar ‘n uitvloeisel van die voorafgaande feeste. Om hierdie rede moet die vervulling met die Heilige Gees altyd in sy noue verband met die sterwe en opstanding van die Here Jesus gesien word. Daar is vandag baie mense wat nalaat om hierdie eenheidsverband te sien. Hulle lê soveel klem op die Gees, en veral die gawes van die Gees, dat Jesus en sy kruisdood heeltemal in die agtergrond verdwyn.
Soms raak mense só op wonderwerke ingestel dat Jesus nie meer as die gekruisigde voorgestel word nie. Paulus waarsku teen ‘n verwronge en eensydige voorstelling van die evangelie, van die Heilige Gees én van Christus. Hy sê: “Ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Kor. 11:3-4). Die waarheid moet altyd van valse voorstellings daarvan onderskei word.
Een ander aspek van die pinksterfees wat opvallend is, is die feit dat twee brode wat met suurdeeg gebak is, as beweegoffers aan die Here gebring moes word. Dit is eienaardig, want suurdeeg is altyd ‘n simbool van sonde. Dit is dus duidelik dat hierdie brode nie op Christus dui nie, omdat Hy die ongesuurde, sondeloos, volmaakte brood van die lewe is, soos voorgestel deur die ongesuurde brode wat tydens die paasfees geëet word. Die twee gesuurde brode dui op die gelowiges uit Israel én die heidendom, m.a.w. op die kerk van Christus wat op hierdie fees sy beslag gekry het. Hoewel hulle 'n opdrag het om heilig te leef, is hulle nie sondeloos volmaak nie – daarom hierdie besondere wydingspelgtigheid om nie in die vlees te leef nie, maar met die Heilige Gees vervul te word en deur sý krag te leef.
Ná die fees van die eerste vrugte volg daar ‘n onderbreking van vier maande waarin die oes ingesamel word. Aan die einde hiervan, in die sewende maand op Israel se godsdienstige kalender, word die oorblywende drie feeste kort ná mekaar gevier. Die lang periode tussen die twee groepe feeste dui profeties op die bedeling van die kerk, waartydens ‘n oes vir die koninkryk van die hemele ingesamel word. Dit is ‘n tyd waarin volgehoue arbeid in die oeslande verrig moet word sodat die opgelegde taak binne die toegelate genadetyd afgehandel kan word. Jesus het sy dissipels só tot aksie aangespoor: “Sê julle nie: Dit is nog vier maande dan kom die oes nie? Kyk, Ek sê vir julle, slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes” (Joh. 4:35).
By ‘n ander geleentheid het die Here Jesus gesê: “Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes dat Hy arbeiders in sy oes uitstuur” (Luk. 10:2). In een van sy gelykenisse word na die hele wêreld as ‘n saailand verwys en na die finale insameling van die oes as die voleinding van die wêreld (Matt. 13:38-39).
Hoe lank dit sal duur voordat die oes onder die nie-Joodse volke ingesamel sal wees, blyk onder meer uit die stelling van Jesus dat Jerusalem vertrap sal word deur die nasies totdat die die tye van die nasies vervul is (Luk. 21:24). Die feit dat die Ou Stad (Bybelse Jerusalem) in die Sesdaagse Oorlog in Junie 1967 saam met die hele Wesbankgebied tot teen die Jordaanrivier deur Israel herower is, is ‘n belangrike keerpunt in die herstel van Jerusalem. In 1980 is Jerusalem tot die ewige en onverdeelbare hoofstad van Israel verklaar, en die regeringsetel van Tel Aviv af daarheen verskuif. Tans is dit nog net die 35 akker van die tempelterrein wat nie onder volle Israelse beheer is nie en steeds deur ander nasies vertrap word. Drie moskees is op hierdie baie spesiale terrein opgerig en vorm die basis vir nie-Joodse aansprake oor Jerusalem. Groot oorloë gaan volgens Sagaria 12 tot 14 in die eindtyd oor Jerusalem gevoer word.
Hierdie verwikkelinge dui sonder twyfel daarop dat die tye van die nasies, m.a.w. die tyd van wêreldevangelisasie, vinnig sy einde nader. Israel se nasionale bekering sal eers ná die kerkdispensasie plaasvind. Dit sal gebeur nadat hulle deur die tyd van die benoudheid van Jakob gegaan het en die Messias met sy wederkoms aan die einde van die groot verdrukking sy voete op die Olyfberg sit (Jer. 30:7; Sag. 12:10; 14:4-5). Paulus verwys ook na die beëindiging van hulle geestelike verharding aan die einde van die kerkbedeling: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:25-26).
Noudat ons die einde van die kerbedeling nader, moet ons enige oomblik die vervulling van die vyfde fees te wagte wees…
Die sewende maand (gewoonlik in September) is die einde van die oesseisoen en dit word ingelui deur ‘n heilige dag van basuingeklank. Die ortodokse Jode blaas op hierdie dag, asook op die 2de Tisri, op verskillende tye van die dag die ramshoring (shofar) in hulle sinagoges. Op die tweede dag, teen die aand, blaas die laaste basuin om die finale insameling van die oes aan te kondig.
Hierdie twee dae word op Israel se siviele kalender as die nuwejaarsfees (Rosh Hashanah) gevier. Hulle glo dat die Here in die maand Tisri die aarde geskape het, en dit is altyd as die eerste maand gereken totdat die Here tydens die uittog uit Egipte die orde van die maande verander het (Ex. 12:2). Die bedoeling met hierdie reëling was dat die volk hulle verlossing uit die slawehuis van Egipte as ‘n nasionale wedergeboorte en die begin van ‘n nuwe lewe moet sien.
In rabbynse geskrifte word gesê dat die Here op die eerste dag van die sewende maand drie boeke oopmaak. In die eerste is die name van die regverdiges, saam met die seën en gunsbewyse wat hulle van die Here ontvang. Dit sluit geestelike én materiële seëninge in, soos ‘n godvrugtige lewenswandel, goeie gesondheid, voldoende oeste en oorwinning oor die vyand. In die tweede boek is die name van diegene wat nie volkome regverdig is nie, maar ook nie totaal goddeloos nie. Die meeste mense is in hierdie kategorie. Hulle word aan loutering oorgegee en tot ware toewyding aan die Here opgeroep. In die derde boek is die name van die goddelose mense én die oordele van God wat op hulle rus.
Die vervulling van die fees van basuingeklank sal plaasvind wanneer die Here die oes van die regverdiges in die hemel insamel:
Wanneer dít gebeur, kry die regverdiges hulle genadeloon voor die regterstoel van Christus in die hemel (2 Kor. 5:10; Rom. 14:10). Op aarde sal dan ‘n besondere donker tyd van oordele aanbreek, wat met die skrikbewind van die Antichris gepaard sal gaan. Israel sal deur ‘n louteringsproses gaan, sodat ‘n oorblyfsel van die volk gered kan word. Onder die nasies sal daar ook ‘n oorblyfsel wees wat die Here sal soek en ten koste van hulle lewe sal weier om ‘n bondgenootskap met die Antichris aan te gaan. Die ongeredde vormgodsdienstiges, asook die teruggevallenes en al die geestelik onverskilliges en ongelowiges sal dan finaal moet besluit wie hulle wil dien – die ware Christus of die Antichris. Oor die goddeloses wat ‘n verbond met die Antichris sal sluit deur hom te aanbid en sy nommer op hulle regterhand of voorkop te ontvang, sal die oordele van God uitgestort word.
In Israel se feesprogram volg daar ná die 1ste en 2de Tisri die sg. “sewe verskriklike dae” waarin die gelowige Jode hulle verootmoedig, vas, hulle sondes bely en goed aan andere te doen sodat hulle die guns van die Here kan wen. Dit word gedoen as voorbereiding vir die groot versoendag wat op die 10de van Tisri gevier word, sodat die Here hulle moet seën en nie verwerp en veroordeel nie.
Hierdie sewe dae dui profeties op die sewe jaar van die verdrukking, wat Daniël se 70ste jaarweek is (Dan. 9:27). In tye van groot benoudheid sal Israel en die nasies óf die ware Messias soek, óf tot hulle eie ondergang navolgers van die valse Messias word.
Hierdie is die belangrikste godsdienstige feesdag in Israel, en dit was tradisioneel die enigste dag van die jaar waarop die hoëpriester die Allerheiligste agter die voorhangsel kon binnegaan om versoening vir die volk se sondes te doen. Hierdie fees sal profeties vervul word wanneer die Messias met sy wederkoms sy voet op die Olyfberg sit en elke oog Hom sal sien, ook hulle wat Hom deursteek het. Op daardie dag sal Hy met Israel as volk versoen word. Dan sal daar vir hulle, volgens Daniël 9:24, ewige geregtigheid aanbreek. Dit geld net vir Israel in volksverband omdat hulle nog nie deur Jesus met God versoen is nie. Hierdie ontstellende gedagte het die profeet laat uitroep: “Die oes is verby, die somer is ten einde, en óns is nie verlos nie!” (Jer. 8:20). Hosea bevestig egter die uiteindelike geestelike herstel van Israel: “Ook vir jou, o Juda, is daar ‘n oes beskik as Ek die lot van my volk verander” (Hos. 6:11). Oor hierdie aangrypende gebeurtenis sê Sagaria:
Die Christene se groot versoendag is die kruisiging van die Here Jesus op Goeie Vrydag. Die toekomstige dag van versoening (Jom Kippoer) moet dus as ‘n Joodse feesdag gesien word wat hoofsaaklik vir Israel van belang is omdat dit na die unieke geleentheid van hulle nasionale bekering verwys. Die Here het t.o.v. Israel gesê: “Ek sal die skuld van hierdie land op een dag uitdelg” (Sag. 3:9). In Jeremia 31:34 word gesê dat die hele oorblyfsel van Israel gered sal word, en Sagaria 8:23 bevestig dat hulle grootliks geëer sal word deur al die nasies.
Daar sal op hierdie dag ook ‘n oorblyfsel uit die nasies gered word wat die groot verdrukking en die slag van Armagéddon oorleef het en ook nog nie ‘n verbond met die Antichris gesluit gesluit het nie. In sy profetiese rede sê die Here Jesus van dié dramatiese dag van sy verskyning:
Johannes sê in Openbaring 1:7: “Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf.”
Op hierdie dag van versoening met ‘n gelowige oorblyfsel uit Israel en die nasies, sal die Here ook sy vyande in toorn verdelg. Israel weet uit ervaring in die verlede dat as hulle nie gedurende die “sewe verskriklike dae” voor die groot versoendag guns in die oë van die Here gevind het nie, Hy die hoëpriester se offer kon verwerp en die volk aan hulle vyande oorgee. Met sy wederkoms sal Hy genade bewys aan dié wat in die geloof na Hom opsien, maar vir die goddelose sal dit ‘n dag van goddelike wraak wees (Op. 19:19-21).
Hierdie is ‘n vreugdefees wat ná die finale insameling van die oes gevier word om die Here vir al sy weldade van daardie betrokke jaar te bedank, insluitende die oes wat gemaak is. Tweedens het dié fees ‘n terugwaartse verwysing na die uittog uit Egipte toe die kinders van Israel in hutte in die woestyn gebly het. Ter herinnering hieraan slaap baie mense nou ook in hutte of onder takskerms in hulle tuine en dank die Here dat Hy hulle voorvaders veilig deur die gevaarlike woestyn gelei en na die Beloofde Land gebring het. Derdens het die fees ‘n toekomsgerigtheid deurdat dit duidelik met die koms van die Messias verbind word. Dan sal die oes onder Israel en die nasies ingesamel wees en die Messias op aarde uit Jerusalem regeer.
As gevolg van die sterk Messiasverwagting tydens hierdie fees het Jesus se broers Hom in Johannes 7 versoek om die viering van die huttefees in Jerusalem by te woon en Homself daar as Messias bekend te stel. Daar is baie oor Hom geredeneer, maar die owerstes van die volk het Hom nie as die beloofde Messias aanvaar nie. By sy tweede koms sal hulle dit wél doen. Jesus het na sy hemelvaart en tweede koms verwys toe Hy aan hulle gesê het: “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39). Dit is ‘n uitdrukking wat ook in Psalm 118:26 voorkom en deel van die liturgie van die loofhuttefees is. Die rabbi’s sê dit op sonder om te besef dat dit op Jesus se wederkoms betrekking het! Op hierdie fees lees hulle ook Sagaria 14 in die sinagoges voor. Dit handel oor:
· die koms van die Here met al sy heiliges (v. 4-5);
· die koningskap van die Messias (v. 9);
· die verhoging van Jerusalem (v. 8-11);
· die vernietiging van die vyande van Israel (v. 12-15); en
· die verpligte deelname deur ander nasies aan die huttefees in Jerusalem gedurende die Messiasryk (v. 16-18).
In Sagaria 14:16 is daar ‘n duidelike bepaling dat lede van nie-Joodse nasies aan hierdie fees sal deelneem nadat die Messias-Koning van Israel gekom het: “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier.”
Op grond van dieselfde skrifgedeelte het Christene uit verskillende wêrelddele besluit om hulle solidariteit met Israel te bewys deur ook hierdie fees te vier. In 1980, die jaar toe Jerusalem deur ‘n voormalige eerste minster, mnr. Menachem Begin, tot die hoofstad van Israel verklaar is, het ‘n duisend Christene uit 20 lande in Jerusalem aan ‘n huttefees deelgeneem wat hulle self gereël het. Groot was hulle verbasing toe die Joodse leiers hulle met ope arms verwelkom het, en hierdie gebaar in die lig van Sagaria 14 as ‘n duidelike teken aanvaar het dat die koms van die Messias naby is. Positiewe publisiteit is hieraan verleen, en die Christene is ook versoek om in ‘n ereplek voor die Israeli-weermag aan die Jerusalem-mars deur die strate van die stad deel te neem.
Op die laaste dag van die fees is ‘n Christenambassade in Jerusalem gestig, wat namens die internasionale Christengemeenskap met die Israeli-regering skakel en hulle Bybelse reg op die land Israel ten volle erken. Hulle help ook met die hervestiging van Jode wat uit ander lande na Israel verhuis, veral die migrasie van duisende arm, Russiese Jode. Verrigtinge by die ambassade word daagliks met gebede vir die veiligheid van Jerusalem begin, soos deur Psalm 122:6 en Jesaja 62:6-7 beveel word. Bid om die vrede van Jerusalem!
In 1981 het Christene se bywoning van die fees drasties toegeneem toe daar 3500 persone uit 35 lande was – onder meer 400 uit Suid-Afrika. In die negentigerjare het die getal gegroei na sowat 6000 mense uit meer as 80 lande.
Met die koms van Christus sal die loofhuttefees in volle vervulling gaan. Dan sal ons saam die Here loof vir ons verlossing uit die slawerny van sonde, en ook dat Hy ons in moeilike tye in ons pelgrimsreis op aarde deurgedra het totdat ons ons ewige tuiste bereik het. Vir die groot oes van gelowiges wat ingesamel is, sal eer en danksegging aan Hom gebring word.
Hiermee sal die heilsplan van God wat sy oorsprong by die slag van die Paaslam gehad het, tot volvoering gebring word. Die oes onder Israel en die nasies sal dan ingesamel wees, die vyande van God verdelg en die koningskap van die Messias in die vrederyk bevestig wees.
Wat is jou persoonlike belewenis van hierdie Christusfeeste? Elke geredde mens se geestelike pelgrimsreis begin by die Lam wat vir ons geoffer is, m.a.w. by die kruis van Jesus waar die straf vir ons sonde betaal is. Ná die belydenis en aflegging van ons sondes, staan ons saam met Christus op in ‘n nuwe lewe. Hierna gaan ons voort om deur verootmoediging en ‘n volle oorgawe op die vervulling met die Heilige Gees te wag. Die toerusting met krag uit die hoogte stel ons in staat om getuies vir Jesus te wees en betrokke te raak by die insameling van die oes vir die koninkryk van die hemele. Hiermee wil die Here ons besig vind wanneer die basuin vir die ontmoeting met Hom weldra sal blaas.
Diegene wat agterbly wanneer die Here sy kinders kom haal, sal die grootste verdrukking van alle tye onder die tirannie van die Antichris in die gesig staar. Wanneer die heiliges ná sewe jaar saam met Christus terugkeer aarde toe, word die Antichris se ryk by die slag van Armagéddon verdelg en die Messiasryk op aarde gevestig.
Om in die finale triomf van die Here Jesus te deel, moet ons die hele pad met Hom loop en ook ondervind wat dit is om deur die wêreld verdruk en verwerp te word. Dit is slegs as ons saam met Hom ly, dat ons ook saam met Hom verheerlik sal word en saam met Hom sal regeer (Rom. 8:17; Fil. 1:28-29; 2 Thess. 1:5; 2 Tim. 2:12; 1 Pet. 5:10).
Omdat die volgelinge van Jesus ‘n moeilike en smal paadjie moet bewandel, is baie van hulle nie bereid om hulle kruis op te neem en as dissipels van Christus hulle lig in ‘n bose wêreld te laat skyn nie (Luk. 9:23). Hulle skuif liewer die swaarkry, opofferings en lyding eenkant toe en eis nou reeds die voordele van probleemvryheid, koningskap en oorvloed op wat eers in die vrederyk ons deel sal wees. Die waarheid is dat hulle nie regtig die kruis wil opneem waaraan hulle vir die wêreld en die wêreld vir hulle gekruisig word nie. Die kosteberekening om die dikwels eensame paadjie van diensbaarheid en stryd saam met die Here Jesus te bewandel, is eenvoudig vir hulle té hoog.
In werklikheid deins die meeste mense heeltemal weg van die kruis, en begin nie eers met hierdie pelgrimsreis deur die sewe feeste heen na ewige heerlikheid nie. Tydens Jesus se aardse bediening was dit ook so. Hy het skares populêre ondersteuners gehad toe Hy genesings en ander wonderwerke gedoen het. Hulle het graag na sy preke geluister en in duisendtalle saamgetrek waar hy die brode vermeerder het. Met alle geweld wou hulle Hom koning van Israel maak. Toe Hy egter van sy kruisdood spreek, en die feit dat mense ook deel van sy liggaam en bloed moes kry om gered te kan word, het die groot getal opportuniste dit as ‘n harde woord beskou, belangstelling verloor en weggegaan. Selfs sy gereelde volgelinge, behalwe die twaalf, het Hom ook om dieselfde rede verlaat (Joh. 6:51-69).
Is dit nie vandag ook nét so nie? Waar genesings en wonderwerke plaasvind en voorspoed vir almal verkondig word, trek groot skares mense saam. Die opwinding staan hulle aan en die boodskap streel hulle gehoor. Verder as dit gaan dit egter nie. Wanneer daar gepraat word van die kruis van Christus, van selfverloëning en die komende oordele, kry hulle gou koue voete en onttrek hulleself. Hulle wil nie soldate van die kruis wees nie, maar soek na die voordele en mag wat in ‘n koninkryk-nou teologie aan hulle gebied word.
Omdat Israel nie die kruisweg aanvaar het nie, het God se heilsplan – behalwe vir ‘n klein groepie Messiaanse Jode – by hulle verbygegaan en is aan die heidene aangebied. In die nie-Joodse wêreld is daar ook maar ‘n relatief klein groepie wat die smal pad van Gólgota af na die oop graf, die pinkstersaal en die oeslande van die wêreld volg. Die populêre volgelinge van die Here Jesus wat net op die ‘byvoordele’ van die Christendom ingestel is, verval gou in geestelike verwarring, verloor hulle visie en raak die spoor totaal byster. Baie van hulle word navolgers van mense en raak by kultusse betrokke (Matt. 24:4-5).
In Egipte was daar slegs redding vir diegene wat onder die bloed van die lam geskuil het. Hulle het met ‘n reis begin wat ná baie toetse en beproewings uiteindelik na die Land van Belofte gelei het.
Is jy ook op hierdie reis, en maak jy vordering in jou geestelike lewe? Die jaarlikse feeste is bedoel om tye van verkwikking voor die aangesig van die Here te wees. Dan word jou visie en toewyding versterk en word jy opnuut toegerus met krag uit die hoogte om jou roeping as Christen te kan vervul.