Die Letterlike Vervulling van Israel se Sewe Feeste

Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Februarie 2013)

Daar is wêreldwyd onder Christene ’n toenemende belangstelling in die vervulling van Israel se sewe groot feeste, en dit is die rede waarom duisende van hulle jaarliks die Christelike viering van die sewende fees, naamlik die Loofhuttefees, in Jerusalem bywoon. Baie mense ondersoek nou die dieper betekenis en profetiese toepassing van hierdie feeste en verkry só nuwe insig in Bybelse waarhede.

Die siklus van die sewe groot godsdienstige feeste wat volgens Levítikus 23 jaarliks deur Israel gevier word, werp duidelike lig op die raadsplan van die Here vir die redding en geestelike toekoms van Israel en die nasies. Ons kan hierin die heilsweg volg wat by die kruis en die eerste reiniging van ons sonde begin, na die opstandingslewe en die vervulling met die Heilige Gees voortgaan, en daarna deur die lang pad van wêreldevangelisasie tot aan die einde van die kerkbedeling lei. Hierna vind die wegvoering van die ware kerk plaas, dan die verdelging van die goddelose koninkryke tydens die verdrukking van sewe jaar, gevolg deur die openbare koms van Christus en die vestiging op aarde van sy koninkryk van vrede en geregtigheid.

Die Here bevestig in sy Woord dat hierdie feeste nie menslik in oorsprong is nie, maar deur Homself ingestel is om sy plan vir die verlossing van die verlore mensdom bekend te maak. Met die oog op die toekomstige vervulling daarvan, moet die feeste jaarliks in die regte volgorde gevier word: “Dit is die feestye van die Here … wat julle moet uitroep op hulle bepaalde tyd” (Lev. 23:4). Die sistematiese opeenvolging van die sewe feeste weerspieël ’n duidelike profetiese program.

Omdat hierdie feeste op ’n finale vervulling in die Messias dui, is hulle in hul oorspronklike vorm “’n skaduwee van toekomstige dinge; maar die liggaam [m.a.w. hulle profetiese substansie] behoort aan Christus” (Kol. 2:16-17). Al sewe is Christusfeeste wat in Hom konkrete gestalte verkry. Die feeste is in twee groepe verdeel – die eerste groep van vier is almal vervul tydens gebeure rondom Christus se eerste koms, tot en met die uitstorting van die Heilige Gees, terwyl die laaste drie op gebeure rondom sy wederkoms dui. Die lang tydsverloop tussen die twee groepe feeste dui profeties op die kerkbedeling wat tussen die Here Jesus se eerste en tweede koms verloop.

’n Baie belangrike aspek van hierdie feeste wat in ag geneem moet word, is dat hulle in hul oorspronklike, skaduagtige vorm, aan Israel gegee is om te onderhou sodat hulle op die koms van die Messias voorberei kon word. In die feeste se vervulde, Nuwe-Testamentiese vorm is hulle egter vir alle mense op aarde ter sake omdat dit ’n bloudruk bevat van God se verlossingsplan vir die hele mensdom. Die oomblik toe die eerste van die sewe feeste vervul is, het die perspektief vanaf Israel na die hele wêreld verskuif, en was dit die Here se opdrag aan sy dissipels dat alle mense daarvan moes kennis neem omdat God se verlossingsplan vir hulle almal bedoel is – niemand word uitgesluit nie. Die sewe feeste en hulle toepassings is die volgende:

1. Die Pasga (Paasfees)

Die Pasga word in Nisan gevier, wat die eerste maand op Israel se godsdienstige kalender is. Dit is die lentemaand in die noordelike halfrond – dan is dit gewoonlik Maart op die Gregoriaanse kalender. Israel het ’n maankalender waarin elke maand met die nuwemaan begin. Benewens die godsdienstige kalender het hulle ook ’n siviele kalender wat ses maande later, tydens die herfsmaand op 1 Tisjri begin (meesal in September). Hulle noem daardie dag die Rosh Hashanah, of Nuwejaar. Op die godsdienstige kalender is Tisjri die sewende maand. Volgens Exodus 12:2 het die Here die orde van die maande op Israel se kalender tydens hulle uittog uit Egipte verander sodat Nisan die eerste maand geword het. Die lentemaand simboliseer die begin van ’n nuwe lewe van bevryding ná vier eeue van Egiptiese ballingskap en slawerny aan sonde. Israel het egter nie hulle siviele kalender wat op Rosh Hashanah begin, laat vaar nie en gebruik vandag nog steeds albei kalenders.

Die eerste van die jaarlikse feeste begin met die volmaan in Nisan (twee weke ná die nuwemaan is dit altyd volmaan): “In die eerste maand, op die veertiende van die maand, teen die aand, is die pasga van die Here” (Lev. 23:5). Met die instelling van die pasga is die eerste formele riglyne gelê waarvolgens God se verlossingsplan vir die mens 1 500 jaar later sy finale vervulling met die kruisdood van Jesus Christus sou verkry. Moses het aan Israel gesê: “Julle moet ’n lam hê sonder gebrek, ’n jaaroud rammetjie. … En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand; en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand. En hulle moet van die bloed neem en dit stryk aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel. … Want Ek sal in hierdie nag deur Egipteland trek en al die eersgeborenes in Egipteland tref. … Maar die bloed sal vir julle ’n teken wees … as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees nie” (Ex. 12:5-7,12-13).

Die sewe feeste begin by die slag van ’n lam. Die vervulling van die Pasga was tydens die kruisiging van die vlekkelose Lam van God wat in die volheid van die tyd mens geword het om vir ons sy lewe af te lê. Petrus het na die groot offer van die Lam verwys toe hy gesê het: “…julle weet dat julle nie deur ... silwer of goud losgekoop is uit julle ydele lewenswandel ... nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pet. 1:18-19). Paulus voeg hierby: “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Ef. 1:7).

Jesus is op Vrydag die 14de Nisan (11 April 32) gekruisig, op die dag van die Pasgaviering van daardie jaar. Hy het op die negende uur (3 nm.) die asem uitgeblaas (Mark. 15:34-37), op presies dieselfde uur toe die lam tydens die eerste Pasga in Egipte geslag is. Pilatus was verwonderd dat Jesus so gou gesterf het, en het toestemming vir sy begrafnis verleen (Mark. 15:42-45). Dit is nog voor die Vrydagaand 6-uur afgehandel toe die Sabbat sou begin en niemand dan begrawe mag word nie (Luk. 23:52-54; Joh. 19:31). Volgens die Jode se stelsel van inklusiewe tydsberekening word ’n gedeelte van ’n dag ook as ’n volle dag beskou, daarom hoef daar nie 72 uur te verloop tussen Christus se kruisiging op ’n Vrydagmiddag en sy opstanding vroeg op die Sondagoggend nie.

Van die oomblik af dat Christus die losprys vir ons sonde betaal het, is die vervulling van die sewe feeste direk ter sake vir alle mense op aarde. Johannes die Doper het nog voor Jesus se kruisiging na Hom gewys en gesê: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29). Hy sou nie net vir Israel se sonde sterf nie, maar ook vir dié van die hele wêreld. Na sy soendood sou Hy Homself verder deur die oorblywende ses feeste openbaar.

2. Die Fees van die Ongesuurde Brode

Die tweede fees volg sonder onderbreking op die eerste een en is ’n direkte uitvloeisel daarvan: “…en op die vyftiende dag van hierdie maand is die fees van die ongesuurde brode van die Here; sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet” (Lev. 23:6).

Volgens Johannes 19:31 was die Sabbat wat direk op Christus se kruisiging gevolg het, ’n groot dag. Die rede hiervoor was dat dit tegelyk die weeklikse Sabbat en die belangrike eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brode was. Vir die ortodokse Jode is die betekenis van hierdie fees in selfondersoek en verootmoediging geleë. Suurdeeg is ’n beeld van sonde, daarom simboliseer die eet van ongesuurde brood die nastreef van ’n heilige lewe. Tydens die volle duur van die fees moes suurdeeg, en selfs ook krummels van gesuurde brood, uit hulle huise verwyder en seremonieel verbrand word (Ex. 12:15). Daar word ook van die Messias se volgelinge verwag om hulleself geestelik te reinig van die suurdeeg van sonde en ongeregtigheid.

Ons moet onsself ook só met Christus as die ongesuurde brood van die lewe vereenselwig dat ons alle suurdeeg van sonde sal aflê. Paulus sê: “Weet julle nie dat ’n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ’n nuwe deeg kan wees – soos julle inderdaad ongesuurd is – want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid” (1 Kor. 5:6-8).

Soos die Jode van ouds hulle huise op hul knieë in kerslig deursoek het om elke krummel brood wat met suurdeeg gebak is, uit te werp, moet ons ook op ons knieë in die lig van God se Woord ons lewens deursoek en van alle ondeug en boosheid afstand doen. Sonde moet bely en laat staan word (Spr. 28:13). Selfondersoek en hertoewyding aan die Here moet gereelde aktiwiteite in ons geestelike lewe wees. Dawid het gebid: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ’n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (Ps. 139:23-24).

3. Die Fees van die Eerstelinge

Die verdere feeste is almal aan verskillende stadiums van die jaarlikse insameling van die oes in Israel gekoppel, en telkens word daar ’n diep geestelike toepassing daarvan gemaak. Die derde fees staan as die Fees van die Eerstelinge bekend: “Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle: As julle in die land kom wat Ek julle gee en sy opbrings oes, moet julle die eerstelingsgerf van julle oes na die priester bring. En hy moet die gerf voor die aangesig van die Here beweeg, sodat julle welgevallig kan wees; die dag ná die Sabbat moet die priester dit beweeg” (Lev. 23:10-11).

Israel is ’n winterreënvalgebied en gedurende die lente word die eerstelingsgerf van die gars as ’n beweegoffer voor die Here gebring. Dit moes uitdruklik op ’n Sondag geskied (die dag ná die Sabbat), en sou ook die besonder gewigtige betekenis hê om die volk vir God welgevallig te maak. Met hierdie fees is dus iets veel meer op die spel as net die jaarlikse insameling van die oes, want iets belangrik moet gebeur wat die volk geestelik aanneemlik maak vir God.

Omdat die Pasga ook in die lentemaand gevier word, is die Fees van die Eerstelinge in sy tydsbepaling én betekenis baie nou aan die Pasga verbonde. Tydens die uittog uit Egipte was die gars, wat effens vroeër as die koring ryp word, reeds in die aar (Ex. 9:31). In die lentemaand is Israel uit Egipte bevry en het aan die begin van ’n nuwe lewe gestaan. ’n Ontmoeting met die Lam van God wat ons sondes wegneem, is ook vir ons die begin van ’n nuwe lewe in die Here. Ons moet aan sy dood én opstanding gelykvormig word (Rom. 6:5).

In die jaar toe Jesus gekruisig is, is die beweegoffer van die eerstelingsgerf op die Sondagoggend gebring toe Hy uit die graf opgestaan het. Dit was die dag ná die Sabbat, m.a.w. die eerste dag van die week: “…nadat Hy opgestaan het, vroeg op die eerste dag van die week, het Hy eers verskyn aan Maria Magdalena” (Mark. 16:9).

Die koringkorrel wat in die grond geval en gesterf het, het op hierdie Sondagoggend sy eerste vrug opgelewer. Dit het die oesseisoen ingelui en die hele oes wat daarna ingesamel sou word, geheilig. Net Jesus alleen kon die eerstelingsgerf wees wat aan God geoffer is om die hele oes wat in sy Naam ingesamel word, te heilig en vir God welgevallig te maak. Hy is die eersteling wat uit die dood opgestaan het, en het dit sodoende vir baie mense moontlik gemaak om uit die dood van die ou lewe op te staan en deel van die groot oes vir die koninkryk van die hemel te word.

Dit is belangrik om te let op die bepaling dat hierdie fees spesifiek op ’n Sondag gevier moes word. Dit verteenwoordig profeties ’n oorgang van die ou verbond na die nuwe verbond. Sondag is die eerste dag van ’n nuwe week, of dispensasie, in God se raadsplan vir die mens. In hierdie bedeling word die opstanding van Jesus spontaan elke week op Sondae as die dag van die Here gevier. Die fees van die eerstelingsgerf in Levítikus 23 is die vroegste aanduiding in die Ou Testament van ’n toekomstige Sondagviering as ’n Christusfees. Op dié dag verkondig ons die boodskap: Hy het opgestaan, Hy leef! Die Here Jesus self het op die Sondag van sy opstanding die eerste byeenkoms van die  nuwe bedeling toegespreek, asook ’n week later, weer op ’n Sondag, die tweede een (Joh. 20:19-29). Daarna het die dissipels spontaan op Sondae bymekaargekom (vgl. Hand. 20:7 en 1 Kor. 16:1-2), terwyl die uitstorting van die Heilige Gees as die geestelike toerusting vir wêreldevangelisasie, ook op ’n Sondag plaasgevind het.

4. Die Pinksterfees

Die Pinksterfees staan ook as die Fees van die Weke bekend omdat dit presies sewe weke ná die Fees van die Eerstelinge gevier word: “Dan moet julle tel van die dag ná die Sabbat, van die dag af as julle die beweegoffergerf bring – sewe volle weke moet dit wees; tot die dag ná die sewende sabbat moet julle vyftig dae tel; dan moet julle ’n nuwe spysoffer aan die Here bring” (Lev. 23:15-16).

Dit is betekenisvol dat hierdie fees ook op ’n Sondag gevier word – die dag ná die sewende Sabbat. Daar is vyftig dae in hierdie sewe weke. Volgens die gebruik van inklusiewe berekening is daar agt Sondae omdat beide die eerste en die laaste Sondag as volle dae getel word. Die fees van die vyftigste dag word die Pinksterfees genoem, afgelei van die Griekse woord “pentecoste” wat “vyftigste” beteken.

Op hierdie dag herdenk die Jode die formele begin van die bedeling van die wet. Hulle glo dat die bevryde Israeliete op die 50ste dag ná die viering van die Pasga en hulle uittog uit Egipte by die berg Sinai was waar Moses die tien gebooie ontvang het (Ex. 19:1-3). Dit was vir só ’n ortodokse Pinksterfees dat Jode uit verskillende lande in Jerusalem bymekaar was op daardie besondere Sondagoggend toe die Heilige Gees uitgestort is, soos in Handelinge 2 beskryf.

Die Christelike Pinksterfees is dus vervul op die dag waarop die Ou-Testamentiese Pinksterfees gevier is. Die 50 dae tussen die beweegoffer van die eerstelingsgerf en die Pinksterfees het aan die begin van die Nuwe Testament tussen die opstanding van Jesus en die uitstorting van die Heilige Gees verloop. Ná die Sondag van Jesus se opstanding het 40 dae tot by sy hemelvaart verloop (Hand. 1:2-3), en ’n verdere tien dae tot by die uitstorting van die Heilige Gees. Ná die Donderdag van die hemelvaart het die dissipels hulleself tien dae lank in die bovertrek verootmoedig en gebid om die belofte van die Heilige Gees te ontvang. Op die dag ná die sewende Sabbat sedert Paasnaweek is die Heilige Gees oor hulle uitgestort.

Die ortodokse Jode wat vir hulle Pinksterfees van die wet byeen was, het glad nie gemerk dat die wet oorgegaan het in die genade en dat die bedeling van die kerk onder alle nasies op daardie dag begin het nie. Hulle was geestelik verblind omdat hulle nie vir Jesus as die beloofde Messias en Lam van God wou aanvaar nie, daarom het hulle aan die skaduagtige Ou-Testamentiese feeste bly vashou en dit voortgesit tot vandag toe. Dit is net die Messiaanse Jode, asook Christene uit alle nasies, wat die vervulde Christusfeeste vier.

Wanneer die vervulling van die Pasga deur die kruisdood van Jesus nie erken word nie, bly die verlossingsplan van die Here vir die betrokke persoon ’n verborgenheid. Sulke mense gaan voort om die skaduagtige gebruike van die Ou Testament voort te sit, insluitend die viering van die weeklikse Sabbat op die sewende dag. ’n Christen mag geen deel hê aan hierdie onvervulde feeste wat net van waarde was in die tyd voor die koms van Christus nie. Almal wat die vervulling van die eerste vier feeste ontken, verloën by implikasie ook die Messias wat dit vervul het.

Gelowiges het egter ter wille van  die bevestiging en versterking van hulle geloof alle rede om die belangrike gebeurtenisse wat tydens Jesus se eerste koms plaasgevind het, te herdenk. Ons vier so dikwels as wat ons wil Nagmaal, maar veral ook tydens Paasnaweek, om die soendood en opstanding van die Lam van God in herinnering te roep. Hiermee saam gaan ook die selfondersoek en hertoewyding wat kenmerkend van die Fees van Ongesuurde Brode is (1 Kor. 5:6-8). Ons moet ten volle met Jesus Christus as die brood van die lewe identifiseer sodat ons sy heiligheid deelagtig kan word.

Die feit dat die Pinksterfees deur ’n aftelling van 50 dae aan die Paasfees gekoppel is, is ’n aanduiding dat dit wesenlik deel daarvan is. Dit staan in verband met die geestelike toerusting wat Christene nodig gehad het, en nog steeds nodig het, om getuies vir Jesus te kan wees wat geroep is om die wêreld te evangeliseer: “En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge. En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Luk. 24:46-49).

Die dissipels het hulleself inderdaad vir tien dae lank in Jerusalem verootmoedig voordat hulle met die Heilige Gees vervul is. Toe eers het hulle die krag ontvang om getuies vir Jesus te kon wees. Hy het net voor sy hemelvaart gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8).

Op die dag toe die Heilige Gees uitgestort is, het die dissipels in ’n aantal bekende tale gepraat wat deur hoorders uit vyftien verskillende lande of volke verstaan is, hoewel die dissipels self nie al dié tale en dialekte geken het nie (Hand. 2:6-12). Dit was duidelik ’n transisionele gawe tydens die oorskakeling van ’n Israelgeoriënteerde evangelie na ’n evangelieboodskap wat op die geestelike behoeftes van alle volke en tale op aarde ingestel is. Die vervulling van die sewe feeste het ten nouste met die redding van alle mense te doen, daarom moet almal in hulle eie taal oor die hele raad van God vir die redding van ’n verlore mensdom ingelig word.

Die insameling van die oes

Ná die Pinksterfees volg daar ’n onderbreking van vier maande waarin die oes ingesamel word. Aan die einde hiervan, in die sewende maand op Israel se godsdienstige kalender, word die oorblywende drie feeste kort ná mekaar gevier. Die lang periode tussen die twee groepe feeste dui profeties op die bedeling van die kerk, waartydens ’n oes vir die koninkryk van die hemele ingesamel word. Dit is ’n tyd waarin volgehoue arbeid in die oeslande verrig moes word sodat die opgelegde taak binne die toegelate genadetyd afgehandel kon word. Jesus het sy dissipels só tot aksie aangespoor: “Sê julle nie: Dit is nog vier maande dan kom die oes nie? Kyk, Ek sê vir julle, slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes” (Joh. 4:35).

Jesus het vir agnostiese Jode gesê wat Hom tydens sy eerste koms verwerp het: “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39). Die voegwoord “totdat” beteken “tot op die oomblik dat...”, en impliseer dus baie duidelik ’n einde aan die lang tydperk van Israel se nasionale ongeloof. Wanneer Christus terugkom, sal Hy sy voete op die Olyfberg in Jerusalem sit (Sag. 14:4-5), en dit veronderstel dat die Bybelse inwoners van Jerusalem (die Jode) terug moet wees in hulle land. Tydens hierdie tweede ontmoeting sal hulle Hom nie weer verwerp nie, maar ten volle aanvaar. Hulle sal opsien na Hom vir wie hulle deurboor het, en bitterlik oor Hom ween (Sag. 12:10). Die hele oorblyfsel van Israel sal dan met Hom versoen word.

Die Here Jesus het weer die woord “totdat” gebruik toe Hy vir die Joodse volksleiers gesê het: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Wanneer Hy aan die einde van die verdrukking, ná die bedeling van wêreldevangelisasie, op die Olyfberg neerdaal, sal die herstel van Israel en Jerusalem ’n finale stadium bereik. Hy sal deur die Kidronvallei en die oospoort wat tans nog toegebou is, na die Tempelberg opgaan en die vervalle koninkryk van Dawid weer oprig (Luk. 1:32; Hand. 15:16-17). Dan sal die vertrapping van Jerusalem finaal beëindig word, want die Tempelberg is tans nog onder die beheer van Moslems.

Paulus Het ook na Israel se lang tyd van geestelike verharding verwys, en aangetoon dat dit met die bedeling van wêreldevangelisasie sou saamval, waarna Israel as volk gered sal word: “...die verharding het ten dele oor Israel gekom totdat die volheid van die heidene (dit is die nie-Joodse volke) ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:25-26).

Israel se progressiewe eindtydse herstel is vir ons ’n vaste aanduiding dat die tye van die nasies, m.a.w. die tyd van wêreldevangelisasie, na sy einde spoed. Daarna sal die laaste drie feeste vervul word, waarna die koninkryk van God as ’n sigbare werklikheid op aarde gevestig sal word.

5. Die Fees van Basuingeklank

Die sewende maand (gewoonlik in September) is die einde van die oesseisoen en dit word ingelui deur ’n heilige dag van basuingeklank: “Spreek met die kinders van Israel en sê: In die sewende maand, op die eerste van die maand, moet dit vir julle ’n rusdag wees, ’n gedenkdag deur basuingeklank, ’n heilige vierdag” (Lev. 23:24). Die ortodokse Jode blaas op hierdie dag, asook op die 2de Tisjri, op verskillende tye van die dag die ramshoring (shofar) in hulle sinagoges. Op die tweede dag, teen die aand, blaas die laaste basuin om die finale insameling van die oes aan te kondig. Dit is nie die laaste van alle basuine nie, maar die laaste basuin van die oesfees.

Die fees van die basuine sal vervul word wanneer Jesus Christus die hemelse oes onder alle nasies insamel. Paulus sê: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees” (1 Thess. 4:16-17).

In Israel se feesprogram volg daar ná die 1ste en 2de Tisjri die sogenaamde “sewe verskriklike dae” waarin gelowige Jode hulleself verootmoedig, vas, hulle sondes bely en goed aan andere doen sodat hulle die guns van die Here kan wen. Dit word gedoen as voorbereiding vir die groot versoendag wat op die 10de van Tisjri gevier word, sodat die Here hulle moet seën en nie verwerp en veroordeel nie.

Hierdie sewe dae dui profeties op die sewe jaar van die verdrukking, wat Daniël se 70ste jaarweek sal wees (Dan. 9:27). In tye van groot benoudheid sal Israel en die nasies óf die ware Messias soek en aanneem, óf tot hulle eie ondergang ’n verbond met die valse Messias sluit.

6. Die Groot Versoendag

Die Groot Versoendag (Yom Kippur) is die belangrikste godsdienstige feesdag in Israel, en dit was tradisioneel die enigste dag van die jaar waarop die hoëpriester die Allerheiligste agter die voorhangsel kon binnegaan om versoening vir die volk se sondes te doen: “Op die tiende van hierdie sewende maand is dit die versoendag. ’n Heilige vierdag moet dit vir julle wees; dan moet julle jul verootmoedig en aan die Here ’n vuuroffer bring” (Lev. 23:27).

Hierdie fees sal profeties vervul word wanneer die Messias met sy wederkoms sy voet op die Olyfberg sit en elke oog Hom sal sien, ook hulle wat Hom deursteek het. Op daardie dag sal Hy met Israel as volk versoen word. Dan sal daar, volgens Daniël 9:24, ewige geregtigheid vir Israel aanbreek, en dit sal ook in die heerlikheid van die ten volle herstelde Jerusalem gesien kan word. Op hierdie baie dramatiese dag ná die groot verdrukking sal daar ook ’n oorblyfsel van die nasies met Christus versoen word. Volgens Matthéüs 24:29-30 sal al die stamme van die aarde rou bedryf oor hulle sonde wanneer hulle die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel.

Vir ons as Christene is die kruisiging die Groot Versoendag, maar talle ongereddes in Israel en die nasies sal eers tydens Jesus se wederkoms sy soenoffer aanvaar en ween oor hulle sonde. Hulle grootste sonde sal wees omdat Hom as Verlosser van die wêreld verwerp het.

7. Die Loofhuttefees

“Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit sewe dae lank die huttefees vir die Here. … Sewe dae lank moet julle in hutte woon; almal wat in Israel gebore is moet in hutte woon, sodat julle geslagte kan weet dat Ek die kinders van Israel in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipteland uitgelei het. Ek is die Here julle God” (Lev. 23:34,42-43).

Hierdie is ’n vreugdefees wat ná die finale insameling van die oes gevier word om die Here vir al sy weldade van daardie betrokke jaar te bedank, insluitend die oes wat gemaak is. Tweedens het dié fees ’n terugwaartse verwysing na die uittog uit Egipte toe die kinders van Israel in hutte in die woestyn gebly het. Ter herinnering hieraan slaap baie mense nou ook tydens die fees in hutte of onder takskerms in hulle tuine en dank die Here dat Hy hulle voorvaders veilig deur die gevaarlike woestyn gelei en na die Beloofde Land gebring het. Derdens het die fees ’n toekomsgerigtheid deurdat dit duidelik met die koms van die Messias verbind word. Dan sal die oes onder Israel en die nasies ingesamel wees en die Messias op aarde uit Jerusalem regeer.

Met die koms van Christus sal die loofhuttefees in volle vervulling gaan. Dan sal ons saam die Here loof vir ons verlossing uit die slawerny van sonde, en ook omdat Hy ons in moeilike tye in ons pelgrimsreis op aarde deurgedra het totdat ons ons ewige tuiste bereik het. Vir die groot oes van gelowiges wat ingesamel is, sal eer en danksegging aan Hom gebring word. Hierdie fees sal dus ook ’n wêreldwye vervulling hê.

Persoonlike belewenis

Wat is jou persoonlike belewenis van hierdie Christusfeeste? Elke geredde mens se geestelike pelgrimsreis begin by die Lam wat vir ons geoffer is, m.a.w. by die kruis van Jesus waar die straf vir ons sonde betaal is. Ná die belydenis en aflegging van ons sondes, staan ons saam met Christus in ᾿n nuwe lewe op. Hierna gaan ons voort om deur verootmoediging en ᾿n volle oorgawe op die vervulling met die Heilige Gees te wag. Die toerusting met krag uit die hoogte stel ons in staat om getuies vir Jesus te wees en betrokke te raak by die insameling van die oes vir die koninkryk van die hemele. Hiermee wil die Here ons besig vind wanneer die basuin vir die ontmoeting met Hom weldra sal blaas.

Diegene wat agterbly wanneer die Here sy kinders kom haal, sal die grootste verdrukking van alle tye onder die tirannie van die Antichris in die gesig staar. Wanneer die heiliges ná sewe jaar saam met Christus terugkeer aarde toe, word die Antichris se ryk by die slag van Armagéddon verdelg en die Messiasryk op aarde gevestig. Om in die finale triomf van die Here Jesus te deel, moet ons die hele pad met Hom loop en ook ondervind wat dit is om deur die wêreld verdruk en verwerp  te word. Dit is slegs as ons saam met Hom ly, dat ons ook saam met Hom verheerlik sal word en saam met Hom sal regeer (Rom. 8:17; Fil. 1:28-29; 2 Thess. 1:5; 2 Tim. 2:12; 1 Pet. 5:10).

Omdat die volgelinge van Jesus ᾿n moeilike en smal paadjie moet bewandel, is baie van hulle nie bereid om hulle kruis op te neem en as dissipels van Christus hulle lig in ᾿n bose wêreld te laat skyn nie (Luk. 9:23). Hulle skuif liewer die swaarkry, opofferings en lyding eenkant toe en eis nou reeds die voordele van probleemvryheid, koningskap en oorvloed op wat eers in die vrederyk ons deel sal wees. Die waarheid is dat hulle nie regtig die kruis wil opneem waaraan hulle vir die wêreld en die wêreld vir hulle gekruisig is nie. Die koste om die dikwels eensame paadjie van diensbaarheid en stryd saam met die Here Jesus te bewandel, is vir hulle té hoog.

In Egipte was daar slegs redding vir diegene wat onder die bloed van die lam geskuil het. Hulle het met ᾿n reis begin wat ná baie toetse en beproewings uiteindelik na die Land van Belofte gelei het. Is jy ook op hierdie reis, en maak jy vordering in jou geestelike lewe? Die jaarlikse feeste, as uitdrukkings van ons geloof in Christus, is bedoel om tye van verkwikking voor die aangesig van die Here te wees (Hand. 3:19). Dit versterk jou visie en toewyding, en jy word opnuut met krag uit die hoogte toegerus om jou roeping as Christen in ᾿n bose wêreld te kan vervul.