Johan Malan
Opsomming: Die liefde van God vir Israel is die waarborg dat Hy nie sy verbond met hulle sal verbreek nie – selfs al bring Hy ook groot benoudheid oor hulle weens hul sonde.
Die wonderlike eienskappe van God se liefde is in die Ou Testament op ‘n duidelike wyse aan Israel geopenbaar. Hierdie volk het sy hele bestaan en voortbestaan aan God se liefde te danke. Dit moes egter ‘n wederkerige liefde wees, daarom het die verpligting op die volk gerus om God se liefde te beantwoord en altyd in die regte verhouding met Hom te lewe. In Deuteronómium 7 het Moses aan Israel gesê:
Elke lid van die volk wat die Here nie liefhet nie en die rug op Hom draai, sou homself met baie smarte deurboor. Hy sou self die lydende party wees. Aan die ander kant sal diegene wat die Here liefhet, ryklik geseën word:
Om vir hierdie seëninge te kwalifiseer, is daar net die eis van ‘n opregte liefde wat ook in toegewyde liefdesdiens sigbaar moet wees:
Om die Here lief te hê en te dien, het onder andere meegebring dat Hy teen Israel se vyande opgetree en hulle bose planne verydel het. Balak, die koning van die Moabiete, het bv. vir Bileam gehuur om Israel te vervloek.
Bileam het aan Balak die raad gegee om nie vir Israel te vervloek en teen hulle te veg nie, want die Here stry vir Israel. Wat hy vir Balak aangeraai het om te doen, was om hom met Israel te bevriend en te verswaer, en hulle na die feeste van sy gode uit te nooi. Indien Israel hulleself hierdeur laat verlei, sou hulle nie meer die Here liefhê nie maar in plaas daarvan agter ander gode aanloop en húlle vereer.
Hierdie leer van Bileam, wat die leer van kompromie met ‘n goddelose wêreld is, het tot ‘n groot ramp in Israel gelei. Hulle het ‘n uitnodiging na ‘n Baälfees aangeneem, hulle het aan die afgodsoffers meegedoen, en verder het baie van die mans vir hulle Moabitiese vroue geneem. Die volk het hierdeur verraad teen die Here gepleeg deur nie hulle liefdesverhouding met Hom te eerbiedig nie. Die toorn van die Here het as gevolg hiervan teen Israel ontvlam, en Hy het ‘n plaag oor hulle beskik waarin 24 000 mense gesterf het (Num. 25:1-3, 9).
Ten spyte van insidente soos dié, waarin die volk dikwels in die geskiedenis God se toorn afgedwing het, het die Here se liefde vir Israel as volk nie verander nie. Talle individue het weens hulle sondes gesterf, maar dit het nie die Here se verbond met die volk vernietig nie. Sy liefde vir Israel is allesomvattend. Dit sluit nie net beloftes oor hulle geestelike herlewing en fisiese herstel in hulle land in nie, maar ook sy nabyheid elke dag om hulle uit alle benoudhede en gevare te red:
Die vraag kan gevra word: Waarom moet die Here hierdie volk weer uit die vier windrigtings versamel en hulle as verstrooides na hulle land terugbring? Waarom het hulle van die Here afvallig geraak en sy ryke seëninge verbeur? Dit is weens die verhardheid van hulle eie harte. In die plek van die ware God het Israel onder die verleiding van Satan in ‘n lewe van sonde en losbandigheid opgegaan en ook die Baäls aanbid:
Aan hierdie soort liefdeloosheid en afvalligheid teenoor God het Israel hulle dikwels daarna weer skuldig gemaak. Hulle is gewaarsku dat dit uiteindelik na groot rampspoed en ook na hulle internasionale verstrooing sou lei:
Uiteindelik het Israel ook hulle Messias, die Here Jesus, wat die verpersoonliking van God se liefde is, verwerp en die rug op Hom gedraai. Hy het toe die aanbreek van die internasionale verstrooing waarteen Moses hulle gewaarsku het, aangekondig. Van dié volk het Hy gesê:
Israel se verhouding met die Here, wat ook soos die bruidsgemeente van die Nuwe Testament met ‘n huweliksverhouding vergelyk word, het weens haar ontrouheid gebroke geraak. Haar sondes was só groot dat die Here haar aan die mag van haar vyande oorgegee het, en uiteindelik, toe sy haar Messias ook verwerp het, aan groot benoudheid en internasionale verstrooing onder alle nasies.
Beteken dit dat die Here sy verbond met Israel verbreek en sy liefdesverhouding met dié afvallige vrou beëindig het? Beslis nie!
Paulus bevestig ook die feit dat die Here nie sy volk Israel verwerp het nie. Aan die einde van die tye van die nasies, dit is aan die einde van die kerkbedeling, sal Jerusalem se vertrapping beëindig en Israel as volk weer geestelik herstel word:
Wat ons nou, in die eindtyd, in Israel sien, asook in die redding van ‘n toenemende aantal Messiaanse Jode wat deur Jesus Christus na God terugkeer, is die bevestiging van die vaste belofte dat die Here nooit vir Israel sal prysgee nie. Sy liefde vir Israel is ewig en onveranderlik. Wat sê Hy deur die profeet Hosea van hierdie verlate vrou wat van Hom afgedwaal het?
Ook die profeet Jesaja bevestig die herstelde liefdesverhouding tussen Israel en die Here:
Aan Hosea is hierdie wonderlike vooruitsig ook geopenbaar, en hy sluit sy boek met ‘n profesie oor die herstelde liefdesverhouding tussen Israel en die Here af:
Dit sluit aan by wat die profeet Jeremia oor die ewigdurende liefde wat God vir die volk Israel het, gesê het:
Die liefde van God het dus ‘n duidelik element van tug. Dit laat nie die draers daarvan toe om kompromie met die wêreld te maak, en bandeloos en permissief te leef soos in die humanistiese liefde van die mens die geval is nie. ‘n Ongehoorsame kind wat in sy dwalinge volhard, moet getugtig word. Dit word egter steeds in ‘n gesindheid van liefde gedoen, met die beste belange van die persoon in gedagte. Israel word ook getugtig, maar met die oog op sy bekering en herstel.
Diegene wat smarte oor hulle sonde en afvalligheid het en hulle tot die Here bekeer, sal vind dat Hy hulle roukleed losmaak en hulle met vreugde omgord (Ps. 30:12). Hy sal hulle omring met vrolike gesange van bevryding (Ps. 32:7).
Dit sal ‘n volkome herstelproses wees:
Die dag van Israel se nasionale wedergeboorte sal aanbreek wanneer die Messias, Jesus, aan die einde van die groot verdrukking tot Israel se redding kom en sy voet op die Olyfberg sit. Onder die leiding van die Heilige Gees sal hulle Hom almal met berou en die belydenis van hulle sondes as Messias en Verlosser aanneem:
Die liefdesband wat deur Israel verbreek is as gevolg van hulle afkerighede, sal ten volle tussen hulle en die Here herstel word:
Al die nasies sal van die herstelde verhouding tussen Israel en die Here weet, en graag met Israel assosieer om in die seën te deel:
Israel sal eendragtig in hulle herstelde verhouding met die Here wees, met geen uitsonderings nie. Almal van hulle sal die Here van harte dien:
Dan sal Israel se toewyding as ‘n hele volk wees soos daardie enkele uitstaande godsmanne van die Ou Testament. Die Here sal in almal van hulle ‘n behae hê soos wat Hy ‘n behae gehad het in Dawid. Hy was ‘n man na God se hart, want hy het die Here liefgehad. Dawid skryf ook in een van sy psalms: “Ek het U hartlik lief, Here, my sterkte” (Ps. 18:2). Die psalmis van Psalm 119 betuig ook hierdie liefde vir die Here en sy Woord as hy sê:
Is jou behae ook in die woord van die Here, en oordink jy dit dag en nag? Is jou voetstappe daarin geanker en het jy die woord van die Here in jou hart gebêre dat jy teen Hom nie sal sondig nie? Dan sal die seën van die Here jou ook inhaal en omring, en sal die Heilige van Israel jou beskerm en bewaar. Ook sal Hy ‘n liefde in jou hart uitstort vir die volk Israel. Jy sal vir hulle bid en innig begeer dat hulle as volk sal ontwaak en terugkeer na die God van hulle heil.
Voordat dit kan gebeur, moet daar ‘n hartstogtelike liefde in die Israeli’s se harte vir die stad Jerusalem uitgestort word, sodat hulle daarheen sal terugkeer en dit herbou. Hierdie liefde, wat dikwels in Ou Testamentiese tye sterk gefunksioneer het, het weer in die 20ste eeu opnuut opgevlam. Dit sluit aan by wat die ballinge lank gelede by die riviere van Babel gesê het:
Ons opdrag is om hierdie sentiment en liefdesband wat Israel vir Jerusalem het, te deel en daardeur ook in die seëninge van die Here te deel:
Oor die groot historiese én profetiese betekenis van Jerusalem moet daar in die lig van die volgende feite geen twyfel wees nie:
· Die Here het 3000 jaar gelede al gesê: “In Jerusalem sal Ek my Naam vestig” (2 Kon. 21:4).
· Omdat Jerusalem deur die eeue heen ‘n plek van godsopenbaring was, het die stad, sy inwoners en sy heiligdomme baie vyande gehad en is aanhoudend vanuit die koninkryk van die duisternis bedreig en aangeval. Wanneer God se volk in sy weë gewandel het, was die stad oninneembaar. Die Here het self hiervoor gesorg: “En Ek sal vir [Jerusalem] wees, spreek die Here, ‘n vurige muur rondom en tot heerlikheid daar binne-in” Van die Inwoners het Hy gesê: “Wie julle aanraak, raak sy oogappel aan” (Sag. 2:5, 8).
· In die volheid van die tyd het die beloofde Messias die koninkryk van God in Jerusalem verkondig. Omdat Hy egter deur die Joodse volksleiers hier verwerp is, het Hy ook die verwoesting van Jerusalem aangekondig: "Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Matt. 23:37-38). Hierdie profesie word in Lukas in meer besonderhede uitgespel: “En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is… Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word… want daar sal ‘n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk. En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenis geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:20-24). Let daarop dat die vertrapping van Jerusalem nie onbepaald voortduur nie, maar net tot aan die einde van die tye van die nasies, m.a.w. aan die einde van die tyd van wêreldevangelisasie, wanneer die nie-Joodse volke in die koninkryk van God ingenooi word. Daarna sal Jerusalem weer herstel word, tesame met sy inwoners.
· Nadat Jesus in Jerusalem geleer en die weg van verlossing verkondig het, is Hy in die stad verhoor en onskuldig tot die dood veroordeel. Hy was die vlekkelose Lam van God wat sy lewe as ‘n losprys vir die sondes van alle mense gegee het – Jode én nie-Jode. Dit was die grootste uitdrukking van God se liefde vir ‘n verloregaande wêreld. Hy is nét buitekant die stad gekruisig en begrawe. Op die derde dag het Hy uit die dood opgestaan, en 40 dae later van die Olyfberg af wat voor Jerusalem lê, na die hemel opgevaar.
· Tien dae later is die Heilige Gees in Jerusalem uitgestort, en het die kerk van Christus op aarde ook in hierdie stad sy ontstaan gehad. Jesus se opdrag aan sy dissipels was: “En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Luk 24:49). Van hierdie stad af wat God verkies het om sy Naam in te vestig, is die boodskap van Jesus se reddende genade wêreldwyd uitgedra. Aan die dissipels is ook gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8).
· Aan die einde van die kerkdispensasie, wanneer die opdrag van wêreldevangelisasie uitgevoer is, kom die Here Jesus na Jerusalem terug: “En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ‘n baie groot dal… Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!… En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (Sag. 14:4-5, 9).
· Hierna sal Jerusalem herbou en herstel word tot ‘n lof op aarde. Die Here sê: “Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen” (Hand. 15:16-17). Dit sal op die nasionale bekering van Israel volg, wanneer die hele oorblyfsel van Israel met die Messias versoen sal word (Sag. 13:9). Hulle vreugde oor die Messias se verlossingswerk en sy koningskap in Jerusalem, sal geen perke ken nie: “Jubel, en wees bly, o dogter van Sion! Want kyk, Ek kom om in jou midde te woon, spreek die Here. En baie nasies sal hulle in dié dag by die Here aansluit… En die Here sal besit neem van Juda as sy erfdeel op die heilige grond en Jerusalem weer verkies” (Sag. 2:10-12). Jesaja bevestig ook die feit dat Jerusalem in die vrederyk die hoofstad van die wêreld sal wees: “Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke” (Jes. 2:3-4). Ook Jeremia kyk na hierdie tyd vooruit wanneer hy sê: “En in dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17).
· In die lig van al hierdie wonderlike beloftes kan ons nie een oomblik langer aan die Here se groot liefde en ewige plan met sy volk, Israel, twyfel nie. Ons moet vir hulle bid omdat hulle Messias ook ons Verlosser is. Ons kan nie ophou om sy lof onder die nasies te verkondig nie, omdat Hy die hele wêreld liefhet en die genadedeur vir almal oopgemaak het.