Arthur Katz
Opsomming: ‘n Messiaanse Jood gee ‘n verklaring vir die groot tragedie van Israel se lyding deur die eeue heen.
Daar moet ‘n Bybelse verklaring vir die verskriklike lyding van Israel gegee word – vir die groot lewensverlies tydens die verwoesting van Jerusalem deur die Romeine, die vervolging van Jode onder die nasies deur die eeue heen, en veral die onbeskryflike menseslagting van ses miljoen Jode gedurende die Tweede Wêreldoorlog, asook die grootste lyding van alle tye wat in die komende groot verdrukking nog op hulle wag. Hierdie vraag word deur ‘n Messiaanse Jood, Arthur Katz, beantwoord in sy boek: “The Holocaust: Where was God? An Inquiry into the Biblical Roots of Tragedy.” Die “Holocaust” van Wêreldoorlog II waarna die skrywer verwys, word as “die Joodse slagting” beskryf. Die volgende is vertaalde aanhalings uit Arthur Katz se boek:
“Die Joodse slagting het op ‘n skokkende wyse ingedruis teen elke gedagte dat die 20ste eeu ‘n tydperk van menslike vooruitgang was – soveel te meer omdat die argitekte van die slagting as een van die mees verligte nasies op aarde beskou is. Die Jodendom was ná hierdie tragedie só platgeslaan en gebroke dat hulle in die eerste 20 jaar geen ernstige geskrifte hieroor geproduseer het nie. Eers daarna kon ons teruggaan om die tragedie indringend te ondersoek. Ons het selfs die mening gehuldig dat die Joodse slagting nie beoordeel of verstaan kán word nie – dat dit bokant die mens se vermoë is om dit te kan begryp en verklaar. Indien dit waar is, dan is die tragedie nóg groter. Kan dit wees dat daar dinge van só ’n omvang gebeur dat dit nie vertolk of verstaan kan word nie, en dus as betekenisloos beskou moet word? Indien dit die geval is, dan beroof sulke gebeurtenisse ons van nugtere denke, en skep ruimte vir toenemende skandale en gewelddadigheid in moderne, immorele samelewings. Dit sal die lewe totaal chaoties en sonder orde, betekenis of doel maak.
“Die Joodse slagting laat baie vrae ontstaan. Waarom het God nie in die midde van die onbeskryflike lyding ingegryp nie? Waar was God wat aanspraak daarop maak dat Hy alomteenwoordig is, almagtig en dat Hy alles weet? Het Hy nie die afgryslike tragedie gesien waarin sy verbondsvolk sistematies en op die mees dierlike en wreedste wyse uitgewis is nie? Hoe kon die lank-verwagte Messias waarvan die Christene praat, reeds gekom het en nogtans die grootskaalse vermoording van sy eie mense toelaat? Waar is die genade van die Nuwe Testamentiese God, indien so-iets in moderne tye deur die bemiddeling van ‘n ‘Christelike’ nasie, Lutherse Duitsland, kon plaasvind? Waarom was God stil?
“Ek moet óf met baie skrywers saamstem dat God dood is, óf ek moet die getuienis van die Skrifte aanvaar dat God se stiltes in direkte verhouding tot ons sondes is. Uit hierdie oogpunt gesien, moet die Joodse slagting as ‘n oordeel beskou word. Dit was nie ‘n afwykende, onverklaarbare historiese gebeurtenis nie, maar ‘n geval dat die grootte van ons lyding in direkte verhouding tot die grootte van ons sonde is. Die oordele van God het oor ons gekom omdat ons ‘n volk is wat die kennis van die Here verwerp het, nie in ooreenstemming met sy verbonde leef en nie ons plig as sy getuies nakom nie. Volgens die Bybel kom hierdie oordele veral in die laaste dae oor ons, in die tydperk kort voor die vestiging van die Messiaanse koninkryk.
“Dit is merkwaardig hoedat die vertolking van die Joodse slagting as ‘n oordeel van God op ‘n duidelike wyse vir God as God verduidelik, en ook by ons die vrees vir die Here as Regter inskerp. Hierdie vrees vir die Here ontbreek pynlik in die bewussyn van die moderne mens. Ons groei op sonder om hoegenaamd ‘n sin vir die ontsag en vrees vir die Here te ontwikkel. Hierdie gebrek moet met die Joodse slagting in verband gebring word.
“Ons Jode het geen perspektief op God as Regter nie. Ons het gevolglik ‘n hoë prys vir ons gebrek aan die verstaan van God betaal – in oordeel sowel as in genade, in gestrengheid sowel as in goedheid. Ons is nie eers bewus van God se handelinge met Israel (in die verlede, hede en toekoms) nie, en neem gevolglik nie van die mees betekenisvolle openbarings van God in die Skrif kennis nie. Daar is iets omtrent God in oordeel wat Hom openbaar soos wat Hy op geen ander manier geken kan word nie. Tóg is dit die een attribuut van God waarvan ons feitlik instinktief wegskram. Ons kan nie die God van genade, liefde en regverdigheid met die God wat oordeel en lyding oor mense bring, versoen nie. Indien ons God sulke dinge doen, dan word juis dit wat vir ons pynlik en onaanvaarbaar is en wat dreig om ons godsdienssin te vernietig, een van die mees kosbare openbarings van God. Is dit nie in hierdie oënskynlike kontradiksie, as ons dit goed deurdink, dat die diepste openbaring van God gevind kan word nie?
“Ons kan nie die Joodse slagting uit God se oogpunt verstaan nie omdat ons dit nie in die lig van die ewigheid beoordeel nie. Slegs ‘n ewigheidsoorweging maak hierdie ramp enigsins verstaanbaar. Dit is slegs in die hoop om die ewige vuur van God se oordele te kan vryspring, dat betekenis aan hierdie vuur verleen word. Indien die een vuur ons iets van die ander een leer en help om ons daarvan te red, dan maak dit baie sin. Indien ons die ewigheid uit ons beredenerings weglaat, dan het ons ook ‘n verwronge beeld van die huidige werklikheid. Vooraanstaande Joodse denkers weier egter om hierdie verklaring te oorweeg, en verhef hulleself daardeur teen God sodat Hy nie sy doel met hulle kan bereik nie. Hulle dwing Hom om te oordeel.
“As ons nie onsself as die skuldige party in die oordele sien wat oor ons gekom het nie, sal ons noodwendig op die punt kom waar ons vir God daarvoor sal blameer. Hy sal dan deur ons beskuldig en veroordeel word omdat Hy nie tot ons hulp gekom het nie! Dit is lasterlik om God as magteloos of kragteloos te sien om ons te red, terwyl ons nalaat om ons eie sondes te erken en ons daarvan te bekeer. Dit is in ons eie belang om die tragedies van die verlede reg te vertolk. Ons sal dwase wees as ons dit nie doen nie, want dan verbeur ons die voordeel om uit vorige ervarings te kan voorsien wat weer sal gebeur indien ons nie daarop ag slaan en onsself bekeer nie. Sulke mense sal hulleself in die groot, eindtydse oordele van God oor Israel bevind, wat in Jeremia 30 as “die tyd van benoudheid vir Jakob” beskryf word.
“Ek het ‘n sterk oortuiging dat hierdie oordele baie naby is, en dat net die hand van die Here dit nog terughou. Die gewig van ons Joodse ongeloof en onbetrokkenheid by God móét ons tot ‘n val bring. As Hy sy hand van ons af wegneem, sal ons in ‘n oomblik se tyd in vernietiging en ondergang wegsink. Ons is reeds onder God se veroordeling totdat ons dié Een ontvang wat ons veroordeling op Homself geneem het, naamlik die Messias van Israel – Jesus van Násaret. In die voortgesette verwerping van God se genadegawe, verkeer alle Israeli’s onder die swaard van veroordeling tot op dié oomblik wanneer God sy hand wegneem en die oordele nie langer sal weerhou nie.
“Ek sou liewer verkeerd bewys wou word, maar ek glo dat die huidige geslag Jode vernietiging op ’n wêreldwye skaal gaan ervaar, wat veel erger as die Nazi-era sal wees. Ons gaan geweldig gehaat, vervolg en skielik verdryf word sodat ons sal moet vlug met net die klere aan ons lyf – sonder om te weet waarheen ons gaan. Die Here het gesê Hy sal met ons in die gerig tree, maar Hy sal ook herstel. Hoe belangrik is dit nie om te weet nie dat dit dieselfde God is wat oordele beloof en dit vervul, wat ook herstel en genesing aan Israel beloof en dit sekerlik sal vervul.”
In die lig van dit wat Arthur Katz heeltemal tereg gesê het, is elke Christen daartoe verbind om die Bybels korrekte pad vir Israel se verdere herstel aan hulle voor te hou. Indien hulle nie teen die komende valse messias en die groot verdrukking gewaarsku word nie, hoe sal hulle ooit die vermoë hê om hierdie situasie reg te kan verstaan en in daardie tyd die regte besluite te neem? Dit help nie om seëninge oor ‘n volk uit te spreek wat steeds volhardend die Messias verwerp nie. Sonder Hom kan hulle nie gered word en in die seën van die Here oor hulleself, hulle land én hulle volk deel nie.