Prof. Johan Malan, Middelburg, RSA (27 Junie 2008) www.bibleguidance.co.za
Die wêreld stuur op onheil en rampspoed af wat ongekend in sy geskiedenis is. Die Here Jesus het apokaliptiese gebeure beskryf wat kort voor sy wederkoms sal plaasvind, en gesê dat ‘n oorblyfsel van Israel uit hulle land verdryf sal word en haastig na die berge sal moet vlug om die agtervolging van die Antichris te ontkom (Matt. 24:15-20). Dit sal deur ‘n wêreldwye verdrukking gevolg word: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matt. 24:21-22).
Die groot verdrukking sal nie net die gevolg van die Antichris se genadelose diktatuur wees nie, maar ook ‘n tyd van goddelike oordele. Ou Testamentiese profete verwys na die uitstorting van God se toorn in die laaste dae as die dag van die Here. Jesaja sê: “Kyk, die dag van die Here kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde ‘n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg” (Jes. 13:9).
God oordeel net sondaars – dit is bose mense wat sy seëninge en reddende genade wat Hy deur sy Seun, Jesus Christus, aan hulle bied, versmaai het. Die groot hoogtepunt van eindtydse profesieë is die wederkoms van Christus: “Die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (Op. 19:10). Hy sal die geredde mense seën en verheerlik, maar die bose mense oordeel en verdelg. Die eindbestemming van alle mense kan slegs in die lig van hulle verhouding met die Here Jesus reg verstaan word. Hy is óf die Redder van berouvolle sondaars om hulle te verlos en te seën, óf Hy sal die Regter van alle verharde sondaars wees om hulle weens hulle boosheid te veroordeel.
Ten spyte van al God se openbarings en bemoeienis met die mensdom in historiese tye het die meeste van hulle steeds verharde, sondige harte: “En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig, want hulle werke was boos” (Joh. 3:19). Die meeste van hulle verkies ‘n valse, mensgemaakte godsdiens as ‘n plaasvervanger vir diens aan die ware God: “Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie” (Rom. 10:3).
Wanneer dinge in sulke mense se lewens erg verkeerd loop, blameer hulle óf ander mense óf vyandige nasies vir hulle teëspoed, óf hulle blameer God omdat Hy hulle nie geseën en uitgered het nie. Die Bybel sê hulle probleme sal erger raak totdat hulle neerbuig voor Jesus wat die enigste Redder van die wêreld is (Hand. 4:10-12). Hierdie basiese geestelike beginsel geld ewe veel vir die nie-Joodse nasies as vir Israel. Tensy mense hulle eie geestelike en morele verdorwenheid ontdek en hulle deur Jesus Christus tot God bekeer, kan hulle net meer probleme verwag, asook goddelike vergelding weens hulle ongeloof.
Dit sal die sondaars niks help om aan te hou om ander vir hulle teëspoed te blameer indien die Vredevors nog nie in hulle harte regeer nie. Dit is die ernstige boodskap wat Israel en die nasies baie duidelik in hierdie kritieke tye kort voor die uitstorting van goddelike toorn oor ‘n bose mensdom moet hoor.
Israel moet weer baie duidelik met die Bybelse feite oor Jesus as die beloofde Messias gekonfronteer word. Hy bied aan hulle lewe uit die dood (Rom. 11:15) sowel as ewige vrede en vreugde. ‘n Donker toekoms wag op hulle indien hulle sou aanhou om hierdie aanbod te verwerp.
Die volgende is vryvertaalde aanhalings uit die boek, The Holocaust – Where was God? An Inquiry into the Biblical Roots of Tragedy, deur Art Katz, gepubliseer in 1998. Die aanhalings word gebruik met die toestemming van Art Katz Ministries (www.artkatzministries.org).
“Die wederregtelike toeëiening van die Messias se lyding as ons eie, is die noodwendige gevolg van ‘n Jodedom wat weier om Hom te aanvaar, en as gevolg daarvan verplig is om ‘n verklaring vir ons eie historiese lyding te vind. As ons die Messias, Hy wat só misvormd was dat sy voorkoms nie dié van ‘n mens was nie, as die vervulling van Jesaja 52:13–53:12 verwerp en dan vir Israel in sy plek stel, stuur ons onvermydelik op botsende verklarings af. Die uiteindelike logika van sy verwerping verplig ons dan nie net om teen die Messias gekant te wees wanneer Hy sou kom nie, maar ook om sy posisie te begeer – om self die Messias te wees, om self die lydende Kneg te wees, om self vergoddelik te word, om self die Messiaanse hoop te wees, en om self die ideale beskawing tot stand te bring wat die finale antwoord vir die nasies sal wees” (bl. 30).
“Waarom verkies mense ‘n soort godsdiens wat nie op die ware kennis van God gebaseer is nie? Waarom hierdie instinktiewe en diep weersin in die kennis van God en ‘n voorkeur vir ‘n godsdienstige plaasvervanger? Godsdiens is na my mening ‘n menslike samestelling van gebruike en oortuigings wat ‘n stelsel bied waarby mense tot hulle eie bevrediging kan inskakel, terwyl dit hulle vrywaar van verpligtinge wat die ware kennis van God meebring. Waarom haas ons onsself nie na die ware kennis van God terwyl dit wel beskikbaar is nie? Waarom verkies ons Judaïsme, Katolisisme, Protestantisme of selfs ‘n okkultiese alternatief tot die ware kennis van God? Is dit omdat die ware kennis van God eise aan ons stel? Om God waarlik te ken, is ook om die eise van hierdie kennis te begryp, en dit is nie vir die mens gerieflik nie. Dit is die basiese rede waarom God vermy word en mense vir hulle ‘n god kies wat nie eise stel nie. Selfs die lewende God kan buite ons bereik bly wanneer ons gerief eerder as die waarheid soek, soos wat die geval met die moderne Christendom is. Wat het van ons godgegewe, Bybelse geloof geword toe die Messias-Koning twee millennia gelede gekom het? Dit het in ‘n rigiede stelsel ontaard en die Messias se teenwoordigheid het die voortbestaan daarvan bedreig (kyk Joh. 11:47-50). Ter wille van die voortsetting van hierdie stelsel moes Hy noodwendig sterf. Hy kon nie toegelaat word om te lewe en dit te bedreig nie. Ons het ons verstokte godsdiensstelsel tot die dood toe verdedig. Ons wou dit aan die lewe hou en voortsit, eerder as om die oorgang na ‘n nuwe begin te maak waartoe die God van Israel ons geroep het. Dit is die tragiese herhaling en voortsetting van ‘n selfgedrewe ‘godsdiens’ deur alle geslagte heen” (bl. 39).
“Deur ons weiering om God se oordeel oor sonde in die kruisiging van Jesus van Nasaret te erken, het ons self die omstandighede geskep wat die oordele oor ons in die Tweede Wêreldoorlog onafwendbaar gemaak het. Deur te weier om die katastrofes wat ons self geskep het, reg te vertolk, onderwerp ons onsself aan verdere katastrofes. Dit is die tragiese kringloop tot die einde toe” (bl. 40-41).
“Ons het aan die hand van dié nasie gely vir wie ons juis die hoogste agting gehad het. Ons het geen begrip gehad van die innerlike verdorwenheid van alle mense nie. Ons kon dus nie die boosheid voorsien van dit wat mense aan ander mense kan doen nie – onmenslike en selfs dierlike geweld wat teen ons gepleeg is deur diegene wat volgens ons eie opvatting verteenwoordigend van die mens in sy hoogs ontwikkelde staat was. Ons het ons eie opgeblase en idealistiese siening van onsself op die Duitse beskawing geprojekteer, en ten spyte van die tragedies van die onlangse verlede, vermoed ek ons huldig nog steeds hierdie siening oor onsself! Ons is ‘n volk wat aan selfverhoging en selfverheerliking oorgegee is. Ons godsdiensbeoefening en ons hele kultuur is daarvan deurtrek. Ons is só beïndruk met onsself dat ons blind is vir die inherente korrupsie van die menslike natuur, ‘n korrupsie wat nog dieper as dié van die Duitse beskawing gaan. Ons moet ons eie menslikheid leer ken. Hierdie les het ons nog nie geleer nie” (bl. 46).
“God het ‘n geskil met ons omdat ons van Hom vervreem geraak het. Ons is steeds onwillig om die betekenis van ons eie geskiedenis en die ontsettende gevolge van ons vervreemding van God in die oë te kyk. Ongelukkig is die beoordeling van rampe as ‘n gevolg van (en oordeel oor) sonde geheel en al in stryd met die hedendaagse Joodse manier van selfbeoordeling. Ons is nie eers van só ‘n moontlikheid bewus nie en oorweeg dit gevolglik nie. Ons is inteendeel grootliks onder die indruk van ons eie goedheid en selfgeregtigheid” (bl. 78).
“Rampe, as oordele wat vervul word, is God se voorlaaste voorsiening om die behoefte tot bekering by diegene op te wek wat andersins glad nie van hierdie behoefte bewus sou wees nie. Ons onvermoë om rampe op hierdie manier te beoordeel en sodoende die hand van die Here in ons oordele te sien, lei noodwendig daartoe dat ons ander mense daarvoor blameer. Ons sal die fout by die Duitsers en by Hitler soek. Dit is glad nie te sê dat hulle onskuldig was nie, maar ons bly nogtans in gebreke om die groter waarheid raak te sien. Diegene wat ander mense blameer, eindig gewoonlik by die beskuldiging van God. As ons nie onsself as die skuldige party in ons oordele sien nie, sal ons noodwendig op die punt kom waar ons God as boos sal beskou. Hý word beoordeel en skuldig bevind. Dit is ironies dat die mens wat homself nie as die grondoorsaak vir sy eie oordele kan raaksien nie, daartoe oorgaan om God te veroordeel volgens die siening dat Hy weens ‘n inherente defek in sy skepping oënskynlik magteloos was om tussenbeide te tree en tot die redding van die Jode in hulle groot benoudheid te kom. Ons het ‘n baie groter ingesteldheid om met God fout te vind as met onsself. Dit in sig self som ons betreurenswaardige toestand op... Hoe belangrik is dit nie om ons tragiese verlede reg te vertolk nie! Ons sou dwase wees om nie die voordeel van historiese ervarings te gebruik om te voorsien wat weer in die toekoms sal gebeur indien ons nie die grondoorsaak van ons probleme raaksien en ons daarvan bekeer nie” (bl. 79-80).
“Indien ons oordele in direkte verband tot ons sonde staan en ‘n aanduiding van die groot omvang daarvan is, moet ons oë oopgaan vir iets waarvan ons nie persoonlik en subjektief bewus was nie. Dit is juis weens die gebrek aan hierdie bewustheid dat God benoudheid oor ons bring sodat ons vrae sal vra wat ons andersins nooit aan onsself sou vra nie. Inderwaarheid is ons só hoogs tevrede met ons toestand dat ons meen dit stel die standaard waarna die hele wêreld behoort te streef. Dit sou veel beter vir ons wees om ons werklike toestand te besef – nie in die lig van ons subjektiewe selftevredenheid nie, maar in die lig van die Bybelse oordele wat ons moet ervaar om tot besinning te kom... God strek Homself in sy groot genade na ons uit en stuur gesante na ons toe, maar ons het in die verlede telkens hierdie gesante verwerp. Deur ons herstelkrag vind ons elke keer maniere om ons rampe te oorkom. Sodoende skuif ons dan die blaam van onsself af weg sodat ons nooit die ware oordeelsinhoud daarvan in die lig van ons nasionale sonde sien nie” (bl. 81).
“Dit is merkwaardig hoedat die vertolking van die Joodse slagting (Holocaust) as ‘n oordeel van God op ‘n besondere wyse vir God as God verduidelik, en ook by ons die vrees vir die Here as Regter inskerp. Hierdie vrees vir die Here ontbreek pynlik in die bewussyn van die moderne mens. Ons groei op sonder om hoegenaamd ‘n sin vir die ontsag en vrees vir die Here te ontwikkel. Hierdie gebrek is een van die gevolge van ons onwilligheid om vrae te vra en antwoorde te vind oor die waarheid van die Joodse slagting” (bl. 7-8).
“Ons het geen perspektief van God as Regter nie; gevolglik het ons ‘n hoë prys betaal vir ons gebrek aan insig oor God in oordeel sowel as in genade, in gestrengheid sowel as in goedheid. Ons is nie eers bewus van God se handelinge met Israel (in die verlede, hede en toekoms) nie, en neem gevolglik nie van die mees betekenisvolle openbarings van God in die Skrif kennis nie. Daar is iets omtrent God in oordeel wat Hom openbaar soos wat Hy op geen ander manier geken kan word nie. Tog is dit die een attribuut van God waarvan ons feitlik instinktief wegskram. Ons kan nie die God van genade, liefde en regverdigheid versoen met die God wat oordele en lyding oor mense – veral Joodse mense – bring nie. Indien óns God sulke dinge doen, dan word juis dit wat vir ons pynlik en onaanvaarbaar is en wat dreig om ons godsdienssin te vernietig, een van die mees kosbare openbarings van God. Is dit nie in hierdie oënskynlike weerspreking, as ons dit goed deurdink, dat die diepste openbaring van God gevind kan word nie?” (bl. 9).
“Ons kan nie die Joodse slagting uit God se oogpunt verstaan nie, omdat ons dit nie in die lig van die ewigheid beoordeel nie. Slegs ‘n ewigheidsoorweging maak hierdie ramp enigsins verstaanbaar. Dit is alleenlik in die hoop om die ewige vuur van God se oordele te ontkom, dat betekenis aan die vuur van die Joodse slagting verleen kan word. As die een vuur ons van die ander vuur leer en help om ons daarvan te red, maak dit algehele ewigheidsin. Indien ons die ewigheid uit ons beredenerings weglaat, het ons ‘n verwronge beeld van wat realiteit beteken. Vooraanstaande Joodse denkers weier egter om hierdie verklaring te oorweeg. Hierdeur verhef hulle hulleself teen God sodat Hy nie sy doel met hulle kan bereik nie. Hulle dwing Hom om te oordeel” (bl. 9-10).
“Ek was bevoorreg om die beroemde skrywer, Elie Wiesel, ‘n Roemeense Jood en voormalige Nobelpryswenner, te ontmoet. Hy het die Joodse slagting van die Tweede Wêreldoorlog oorleef en was een van die bekendste sprekers oor hierdie onderwerp... Ná sy openbare toespraak het ek alleen met hom gepraat en hom gevra: ‘Mnr. Wiesel, tot watter mate sou u bereid wees om te erken dat die lyding wat ons as Jode in ons geskiedenis ervaar het, en veral die Joodse slagting, die vervulling was van God se oordele waarteen ons profeties in die laaste hoofstukke van Levitikus en Deuteronomium gewaarsku is?’ Hy het my ‘n oomblik in geskokte stilte aangekyk en toe geantwoord: ‘Ek weier om dit te aanvaar.’ Het hierdie stelling nie sedertdien telkens in die hemele weerklink nie? Is dit nie in werklikheid ‘n opsomming van die mens se selfverheffing teen God nie? Dit is betekenisvol dat hierdie stelling met die woord ‘Ek’ begin. In hierdie geval gaan dit nie soseer daaroor of die stelling waar of vals is nie, maar iets wat hoër as God se Woord is, kom hierin na vore – die ‘Ek’ wat God se Woord kan aanvaar of verwerp! Is dit menslike hoogmoed wat veroorsaak dat hy sy opinies, gedagtes en wil bokant God self verhef? Weiering om God se Woord te oorweeg, is selfverheffing bokant die Woord; dit impliseer weerlegging van die Woord en effektief is dit verwerping van die Woord. Is dit nie presies wat ons in historiese tye gedoen het toe die profete na ons gestuur is nie?” (bl. 11-12).
“Ons het ‘n groter verantwoordelikheid as die nie-Jode omdat ons die verbondsvolk is. Die Here het ons uitverkies en ons het die voordeel gehad van sy openbarings aan ons, van die wet wat by Sinai aan ons gegee is, en van alle openbarings daarna wat eerste na ons as sy getuies gekom het. Oor ons rus daar dus ‘n groter oordeel. In watter opsig is die Jode van vandag anders as die Jode op wie God se oordele in die verlede geval het? Die blote verloop van tyd het niks aan ons toestand verander nie. Om dus te beweer dat die huidige geslag Jode geen oordele verdien nie, is ‘n verwaande manier om te impliseer dat die historiese oordele onverdiend en ongeldig was. Om die geldigheid en geregtigheid van daardie oordele nietig te verklaar, kom daarop neer om ook vir God nietig te verklaar. Die God van toorn en oordeel tóé, is nóú ook God. Hy sal weer, om dieselfde redes as in die verlede, sy toorn en oordele uitstort voordat hierdie bedeling tot ‘n einde kom. Dit is waarom Hy ons oproep om ons nou van ons onafhanklike eiesinnigheid en menslike opinies te bekeer en onsself aan die Heilige van Israel oor te gee terwyl ons nog kan. In sy genade roep Hy ons tot bekering op voordat die groot eindtydse oordele uitgestort word (kyk Jes. 13:6; 65:6-7; Jer. 30; Dan. 12:1; Joël 2; Amos 8:8-10; Sef. 1:12; Sag. 14:1-5)” (bl. 88).
“Ek is oortuig dat hierdie oordele baie naby is, en dat net die hand van die Here dit nog weerhou. Alles is in plek en kan in ‘n oomblik tot uitbarsting kom. Die gewig van ons Joodse ongeloof en onbetrokkenheid by God móét ons tot ‘n val bring. As Hy sy hand van ons af wegneem, sal ons onmiddellik in vernietiging en ondergang wegsink. Ons is reeds onder God se veroordeling totdat ons dié Een ontvang wat ons veroordeling op Homself geneem het, naamlik die Messias van Israel – Jesus van Nasaret. In die voortgesette verwerping van God se genadegawe verkeer alle Israeli’s onder die swaard van veroordeling, tot op dié oomblik wanneer God sy hand sal wegneem en die oordele nie langer sal terughou nie. Ek sou liewer verkeerd bewys wou word, maar ek glo dat die huidige geslag Jode vernietiging op ‘n wêreldwye skaal gaan ervaar, wat veel erger as die Nazi-era sal wees” (bl. 89).
“Ons gaan geweldig gehaat, vervolg en skielik verdryf word sodat ons sal moet vlug met net die klere aan ons lyf – sonder om te weet waarheen ons gaan. Ons gaan dubbel vir al ons sondes ly, maar die Here het ook gesê: ‘Ek sal herstel.’ Hoe belangrik dan om te glo dat die God wat oordele beloof en dit volvoer, ook dieselfde God is wat herstel beloof en dit sal vervul... As ons nie in God se oordele as die vervulling van sy woord glo nie, vernietig ons ook alle hoop om in sy toekomstige ingryping te glo. Die scenario vir die laaste dae is die herstel van Israel deur die grenslose genade van God wat onverdiend aan ons geskenk word. Die Jode is verteenwoordigend van die hele mensdom. In ons menslikheid maak ons ‘n stelling waardeur alle ander mense gewaarsku moet word. Die Here het ons as sy getuies teenoor ander mense gekies om Homself aan hulle te openbaar – indien nie deur ons goeie voorbeeld nie, dan wel deur die gevolge van ons verdorwenheid” (bl. 90).
“Die nasies wag onbewustelik op ons herstel na God, omdat ons ‘n teokratiese bestemming het as ‘n ‘koninkryk van priesters’ (Ex. 19:6) en ‘n ‘lig vir die nasies’ (Jes. 42:6)... God wag op ons om die dood van ons Messias vir onsself toe te eien en sodoende ons verlossing aan die gang te sit. As ons op enige manier probeer om hiervan vrygestel te word, is ons hopeloos verlore. Die mag van ons misleiding en ons selfregverdiging wat weerspieël word deur ons voortgesette verwerping van Jesus van Nasaret, stel ons in konflik met God en moet verbreek word. Hierdie selfde God gaan aan ons ‘n historiese geleentheid bied om ons patetiese mislukking te erken. Dié van ons wat die komende verdrukking sal oorleef, sal nooit weer misluk nie, want God sal aan ons nuwe harte gee” (bl. 92; einde van aanhalings uit Art Katz se boek).
Israel speel ‘n sentrale rol in eindtydse profesieë, veral dié wat betrekking het op oorloë in die Midde-Ooste, die verskyning van die Antichris, die verdrukking van sewe jaar (Daniël se 70ste jaarweek), die koms van die ware Messias, die vernietiging van Israel se vyande, die redding van die oorblyfsel in Israel, en die vestiging van die Messias se duisendjarige vrederyk. Scenario’s vir eindtydse gebeure word op verskeie webwerwe gepubliseer en wêreldwyd versprei. Sommige van hierdie beskrywings is baie tegnies en gekompliseerd, met die gevolg dat dit moeilik is om ‘n presiese beeld van eindtydse oorloë en die opeenvolging van ander rampe en tekens te verkry. Daar is ‘n groot gevaar dat Christene só by ‘n studie van eindgebeure betrokke kan raak dat hulle die Here Jesus uit hulle gedagtes verloor en baie min van Hom praat, sy opdrag van wêreldevangelisasie marginaliseer (die werk wat ons moet doen terwyl die nag van God se oordele nader kom), en ook nalaat om goed voorbereid te wees vir ons afspraak ná die wegraping wanneer ons rekenskap van ons lewens voor Christus se regterstoel in die hemel sal moet gee (2 Kor. 5:10; Rom. 14:10-12).
Só baie kenners van die eskatologie gee selde of ooit hulle getuienis van redding en heiligmaking, en hulle raak so intensief betrokke by die beoordeling van sekulêre nuusgebeure of militêre maneuvers wat die oorlog van Eségiël 38-39 of Psalm 83 kan verhaas, dat hulle nalaat om die tekens van die tye geestelik te beoordeel. Wat ook al met individue of nasies gebeur, moet altyd in die lig van hulle geestelike status voor God beoordeel word.
Wat Israel betref, is dit beslis verkeerd om voortdurend uit te wy oor hoe hulle hul vyande sal vernietig en altyd as “die uitverkore volk van God” aan die wenkant sal wees weens hulle militêre vermoëns, gevorderde wapentuig en die seëninge van die Here wat hulle geniet. Die feit is dat die groot meerderheid Jode steeds nie vir Jesus as Messias aanvaar nie en gevolglik op die tyd van benoudheid vir Jakob afstuur (vgl. Jer. 30:7; Eseg. 22:19-22).
Dieselfde geestelike afvalligheid geld ook vir die nie-Joodse volke, daarom stuur alle nasies op ‘n groot verdrukking af soos wat daar van die begin van die wêreld af nog nooit gewees het nie (Matt. 24:21). Israel en die nasies sal onder God se oordele ly. In sy geestelike en morele verdorwenheid verhef die mens homself nog verder en vertrou op sy eie voortreflikhede en militêre vernuf, onbewus van die spoedige uitstorting van goddelike toorn op ‘n wêreldwye skaal.
Ons sal ons eie mense ernstig moet vermaan om die toorn wat aan die kom is, te ontvlug (1 Thess. 1:10). Israel moet teen die ernstige gevolge van hulle voortgesette verwerping van die Messias gewaarsku word, eerder as om onvoorwaardelike beloftes van groot oorwinnings in die komende oorloë in die Midde-Ooste aan hulle te beloof. In plaas daarvan dat hulle landsgrense uitgebrei gaan word, sal hulle in die groot verdrukking as vlugtelinge in die woestyn eindig (Matt. 24:15-22; Op. 12:13-16). Eers aan die einde van dié tyd sal ‘n oorblyfsel van hulle gered word. In die voorgaande aanhalings uit die boek van Art Katz, ‘n vooraanstaande Messiaanse Jood wat in 2007 oorlede is, word die basiese oorsaak van tragedie in die Joodse geskiedenis beskryf, terwyl ernstige waarskuwings oor die komende toorn van God aan hulle gerig word. Ongeredde lede van die nie-Joodse volke sal eweneens die voorwerpe van God se toorn wees en moet dieselfde waarskuwings ter harte neem.
Ek wil ernstig pleit by almal van ons wat andere van die nabyheid van die wegraping probeer oortuig, asook van die uitstorting van goddelike toorn in die daaropvolgende verdrukking, om ‘n hoë geestelike standaard van heiligheid na te streef as gereedmaking om die Here in die lug te ontmoet. Ons moet ‘n diep meegevoel hê met die miljoene Jode én nie-Jode wat die voorwerpe van God se toorn en die Antichris se misleiding en vervolging sal wees, en ons moet daarteen waak om net oppervlakkig, ter wille van sensasie, na die tekens van die tye kyk.
Christus sal ons as gelowiges op grond van die geestelike standaard beoordeel wat ons in ons lewe bereik het (persoonlike heiligheid, leerstellige suiwerheid en evangelisasie-ywer). Dit is waarna ons in die kerkbedeling moet streef, en nie na kennis oor die presiese tyd en omstandighede van ons ontmoeting met die hemelse Bruidegom nie. Ek is nogtans baie in die tekens van die tye geïnteresseerd omdat dit my aanmoedig in my pogings om verlossing aan die verlorenes te verkondig (dit mag vir baie van hulle die laaste kans op redding wees), terwyl die tekens my ook help om geestelike tendense in hierdie tyd van groot afvalligheid reg te bepaal. Verder is hierdie kennis belangrik omdat dit my help om geestelik op die regte pad te bly sodat ek, as ‘n wederkomsprediker, nie dalk self sal agterbly wanneer die Here Jesus kom nie (vgl. 1 Kor. 9:27).
Mag die Here almal van ons help om eerste dinge eerste te stel en, natuurlik, altyd sy skielike koms te verwag! As Jesus Christus, sy reddende genade, sy opdrag tot heiligheid, die belofte van sy wederkoms en al die gebeurtenisse wat met sy koms in verband staan, nie sentraal in ons gedagtes en geskrifte oor die eindtydse wêreld is nie, mis ons ‘n baie belangrike perspektief op ons lewe en toekoms. In Hom alleen is die ewige lewe, en Hy is ook die Regter van al die verlorenes (Hand. 17:30-31). Elke knie sal voor Hom buig.
Menslike selfverheffing teen die Woord van God, en dus ook teen God self, kom nie net in Israel voor nie, maar ook baie algemeen in die nie-Joodse Protestantse wêreld (insluitende SA). Uitdrukkings soos die volgende word al hoe meer gehoor: “Ek glo nie die Bybel is die geïnspireerde Woord van God nie; Ek glo nie in Jesus se maagdelike geboorte, sy godheid, die betekenis van sy kruisdood of sy opstanding uit die dood nie; Ek glo nie in ‘n duiwel of ‘n hel nie; Ek glo nie in ‘n wegraping, ‘n Antichris, ‘n groot verdrukking of in enige oordele van God nie; Ek glo nie die Christendom is die enigste geloof waardeur ‘n mens salig kan word nie; Ek kan nie deur God verwerp word nie, want ek is goed genoeg net soos ek is...” Die lys word feitlik daagliks langer, veral weens die invloed van totaal afvallige kweekskole en die media. Dit verhoog mense se agnostisisme en lae standaarde.
Die noodwendige gevolg van hierdie betreurenswaardige toestand is dat al hoe meer mense deur hulle optrede die reddende genade van die Here versmaai en Hom dwing om hulle te oordeel. Alle aanduidings is daar dat dit gou gaan gebeur. Selfs wanneer die grootste oordele hulle tref, sal die meeste mense nie tot besinning kom nie en voortgaan om die Here te laster (Op. 16:9). In die plek van God sal hulle die Antichris vereer, navolg en aanbid (Op. 13:3-4,8).