Geestelike Betekenis van Jerusalem

Deur prof. Johan Malan

Opsomming: God het Jerusalem verkies as ‘n plek waar Hy Homself aan Israel én die hele wêreld sou openbaar. Groot en wonderlike dinge gaan nog in die toekoms ook hier gebeur.

Die heilsgeskiedenis van Jerusalem het 4000 jaar gelede begin toe ‘n Man van God, Melgisédek, die koning van Salem was. In Hebreërs 7:1-3 lees ons van hom:

“Want hierdie Melgisédek was koning van Salem, priester van God, die Allerhoogste, wat vir Abraham tegemoetgegaan het by sy terugkeer toe hy die konings verslaan het, en hom geseën het; aan wie Abraham ook ‘n tiende deel van alles gegee het – hy was in die eerste plek, volgens uitleg, koning van die geregtigheid en dan ook koning van Salem, dit is koning van vrede; sonder vader, sonder moeder, sonder geslagsregister, sonder begin van dae of lewenseinde, maar gelykgestel aan die Seun van God, bly hy priester altyddeur.”

Melgisédek was ‘n tipe van Jesus, of, volgens sommige verklaarders, ‘n Ou Testamentiese verskyning van Jesus. Hy is die priester-koning van geregtigheid en vrede. Dit is titels van die Here Jesus, want Hy is priester volgens die orde van Melgisédek. Verder is Hy die Koning van die Jode én die hele wêreld, met sy aardse troon in Jerusalem. Hy is ook ons geregtigheid en ons vrede. Abraham het na Salem gegaan (waar die latere Jerusalem op die berg Sion en die tempelberg, Moria, gebou is) om tiendes aan Melgisédek te gee. Só sou Israel én miljoene Christene in die eeue wat kom, na die “huis” van die Here optrek om hulle besittings én hulle lewens aan Hom te offer.

Abraham het later na die berg Moria teruggekeer om sy seun Isak aan die Here te offer. Die Here se opdrag aan hom was: “Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moria en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys” (Gen. 22:2).

Hier, waar die tempel van die Here ‘n duisend jaar later gebou sou word, en baie diere geoffer sou word as heenwysings na die uiteindelike offer van die Seun van God nét buite Jerusalem, moes Abraham sy enigste seun aan die Here offer. Isak was ‘n tipe van die Here Jesus, want hy moes onskuldig geoffer word nadat hy die hout vir die brandoffer op sy eie skouers gedra het. Op die laaste oomblik het die Here ‘n bok aan Abraham gegee om in die plek van Isak te offer, want Isak was maar net ‘n tipe van die lam van God wat in die volheid van die tyd vir die sondes van die hele wêreld geoffer sou word.

Hierdie plek, waar Melgisédek priester was en waar Abraham sy seun aan die Here moes offer, was baie spesiaal omdat dit deur die Here self uitgekies is om sy Naam daar te laat woon. Vyfhonderd jaar ná Abraham het Moses aan die volk gesê:

“Julle sal deur die Jordaan trek en woon in die land wat die Here julle God julle laat erwe… Dan moet julle na die plek wat die Here julle God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, alles bring wat ek julle beveel: julle brandoffers en julle slagoffers, julle tiendes en die offergawe van julle hand…” (Deut. 12:10-11).

Nog vyfhonderd jaar later, m.a.w. ‘n duisend jaar voor Christus, het koning Dawid die stad Jerusalem van die Jebusiete verower en dit Jerusalem genoem: dit beteken “Vredebesit.” Die stad is ook “Sion” genoem as gevolg van die berg Sion waarop dit gebou is, en “Die Stad van Dawid.” Koning Dawid was die belangrikste vegtende koning wat ooit in Jerusalem regeer het. Hy het groot oorwinnings vir die Here behaal. Dit was ook uit die geslag van Dawid dat die Messias gebore is. Dawid wou vir die Here ‘n huis in Jerusalem bou, maar die Here het gesê dat sy seun ná hom die huis sou bou (2 Sam. 12-13). Nadat Salomo die tempel gebou het, het die Here gesê: “Ek het hierdie huis wat jy gebou het, geheilig deur my Naam daar te vestig tot in ewigheid” (1 Kon. 9:3). Jerusalem is deur God genoem: “Die stad wat Ek vir My verkies het om my Naam daar te vestig” (1 Kon. 11:36). God se Naam is vir ewig aan Jerusalem verbonde.

Die heerlikheid van die Here

Salomo het die eerste tempel gebou en die heerlikheid van die Here het sy intrek in die gebou geneem. Die Here is hier vereer en aanbid, en Hy het Homself ook deur die diens van die priesters en profete aan die volk geopenbaar. Tye van geestelike verval het egter in Israel ingetree, en tot die verwaarlosing van die tempeldiens in Jerusalem gelei. Godvresende konings het die tempeldiens herstel, waarna verval maar weer ingetree het. As gevolg van die volhardende goddeloosheid het die heerlikheid van die Here uiteindelik die tempel verlaat, en het Hy die volk aan hulle vyande oorgegee. Die tempel én die stad is geplunder en verwoes, en die Babiloniese ballingskap van Israel het gevolg.

Dit het egter nie die Here se ewige verbintenis tot Jerusalem beëindig nie. Ná sewentig jaar is Israel in hulle land herstel en is Jerusalem en die vervalle eerste tempel weer opgebou. Dit het as die tempel van Serubbábel bekend gestaan. Weer het goddeloosheid ingetree, wat daartoe gelei het dat die Here sy teenwoordigheid aan die tempel onttrek het, en ná Maleágie vir 400 jaar nie weer ‘n profeet na Israel gestuur het nie. Die volk is ook aan hulle vyande oorgegee en die tempel het uiteindelik heeltemal bouvallig geraak. Geestelike duisternis het in Israel én hulle vervalle heiligdomme in Jerusalem geheers.

Sedert omtrent 40 v.C. het Herodes die Grote as koning van Judéa regeer. Om die Jode se guns te wen en ook hulle Messiaanse verwagtinge te onderdruk, het hy ‘n nuwe tempel in Jerusalem laat bou. Dit staan as die tweede tempel, of die tempel van Herodes, bekend. Die tempeldiens is weer ten volle herstel.

Die koms van Jesus

Die grootste openbaring van God aan Israel én die hele mensdom het egter met die koms van sy Seun, Jesus, na die aarde plaasgevind. Die engel het aan Maria gesê: “Jy sal ‘n Seun baar en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (Matt. 1:21). Jesus was die opgaande lig uit die hoogte vir ‘n volk wat in duisternis gewandel het.  Hy is egter veel meer as dit, want Hy is die lig van die hele wêreld. In ‘n Messiaanse profesie in Jesaja 49 het God van Jesus gesê: “Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde” (Jes. 49:6). Johannes die Doper het na Hom gewys en gesê: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29).

Die Here Jesus het in Jerusalem, daardie unieke stad van godsopenbaring, die boodskap van die ewige lewe verkondig. Hy het ook in die tempel geleer. Hy én sy boodskap is egter deur die groot meerderheid van die leiers en inwoners van die stad verwerp. Hierdeur het hulle groot ellende oor hulleself gebring. Tydens sy intog in Jerusalem op ‘n esel was Jesus baie bewoë oor die stad en sy geestelik verblinde inwoners:

“En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek. Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ‘n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie” (Luk. 19:41-44).

God het Homself deur sy Seun aan Jerusalem se inwoners openbaar, maar hulle het dit ten spyte van talle duidelike Messiaanse profesieë nie raakgesien nie, en Hom verwerp. Jesus is in ‘n proses van beplande verraad gevange geneem, in die stad verhoor, bespot, verneder en onskuldig veroordeel. Die Joodse volksleiers het só sterk op sy kruisiging aangedring dat die Romeinse goewerneur, Pontius Pilátus, daaraan toegegee het.

Die Here Jesus is nét buite Jerusalem by Gólgota, in die steengroewe van Salomo, gekruisig. Hier is die groot soenoffer vir die sondes van ‘n verlore mensdom aan God betaal. Vir ewig sal Gólgota uitstaan as die uitdrukking van God se neerbuigende liefde en vergewensgesindheid, en as die enigste poort tot die ewige lewe. Daar is geen ander naam onder die hemel gegee waardeur mense gered kan word nie – net Jesus Christus en Hom as die gekruisigde.

Jesus is net buite die stadsgebied van Jerusalem begrawe en het drie dae later uit die dood opgestaan. Op die Sondag van sy opstanding het Hy die eerste erediens van die Christelikie bedeling in Jerusalem aan sy dissipels gelewer, en ‘n week later die tweede een (Joh. 20:19-29). Veertig dae ná sy opstanding het Jesus van die Olyfberg af na die hemel opgevaar. Nét voor dit het Hy die opdrag van wêreldevangelisasie aan sy dissipels gegee. Dit sou egter eers gebeur nadat nóg ‘n belangrike heilsgebeurtenis in Jerusalem plaasgevind het:

“En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge. En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Luk. 24:49).

Dit was die belofte van die uitstorting van die Heilige Gees: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8). Op pinksterdag, toe die Heilige Gees oor die dissipels uitgestort is, het die proses van wêreldevangelisasie begin. Op daardie dag is drieduisend siele gered en het die kerk van Christus sy geboorte in Jerusalem gehad. Daarvandaan sou die boodskap in die hele wêreld verkondig word, van Jerusalem af en verder…

Die profetiese rede

Die groot vraag is: Was die rol van Jerusalem as ‘n plek van godsopenbaring hiermee vervul en uitgedien? Wat van die Here se besluit dat Hy sy Naam vir ewig in Jerusalem sou vestig? Het dit tot ‘n einde gekom toe Israel vir Jesus verwerp en laat kruisig het? Allermins! Die langtermyn toekoms van Jerusalem was nog altyd, en is nog steeds, binne God se raadsplan seker en gewis.

Om meer duidelikheid hieroor te kry, moet die profetiese rede van die Here Jesus bestudeer word. Hierin het Hy die eerste én laaste geslag in die huidige dispensasie tussen sy eerste en tweede koms beskryf. Altwee hierdie geslagte staan direk in verband met gebeure wat in Jerusalem plaasgevind het, en in die toekoms nog hier sál plaasvind.

Die eerste geslag is deur die verwerping en kruisiging van Jesus deur die inwoners van Jerusalem ingelui, en deur die vernietiging van die stad en die tempel in die jaar 70 n.C. beëindig. Oor sy verwerping as Messias en die gevolglike verwoesting van Jerusalem het Jesus aan die geestelik verblinde volksleiers gesê:

“Maak die maat van julle vaders dan vol!… sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagarai, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar. Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom. Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat! Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:32, 35-39).

Lukas beskryf die verwoesting van Jerusalem en die verstrooiing van Israel só:

“En wanneer julle Jerusalem deur leërs onsingeld sien, moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie. Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word… want daar sal ‘n groot nood in die land wees en torn oor hierdie volk. En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:20-24).

Die eerste geslag het dus begin met die verweping van Jerusalem se Messias-Koning, en daardie geslag is met die verwoesting van die stad beëindig. Hierna het die lang internasionale verstrooiing van Israel gevolg, waartydens Jerusalem deur die nasies vertrap is. Let egter daarop dat Jerusalem nie onbepaald vertrap word nie, maar totdat die tye van die nasies vervul is. Aan die einde van die tydperk van wêreldevangelisasie, wanneer die nie-Joodse nasies die geleentheid het om in die koninkryk van die Here in te kom, sal Israel, hulle land én hulle stad weer herstel word. Paulus sê hieroor:

“Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:25-26).

Israel gaan dus gered word nadat die volheid van die heidene ingegaan het – dit is die oes onder die nie-Joodse nasies. Die Here Jesus het vir die Jode gesê: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is.” Daar kom dus ‘n keerpunt aan die vertrapping van Jerusalem en die gepaardgaande internasionale verstrooiing van Israel! Wanneer Israel in hulle land terug is en Jerusalem herstel is, sal die Messias-Koning vir ‘n tweede keer na hulle toe kom, en dié keer sal hulle Hom aanvaar. Tydens sy eerste koms het Jesus na hierdie wonderlike herontmoeting verwys toe Hy gesê het: “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!”

Dit vind in die laaste geslag van hierdie bedeling plaas. Die herstel van Israel in 1948 was ‘n belangrike voorspel tot die herowering van Jerusalem en die begin van die laaste geslag. In Junie 1967, in die Sesdaagse Oorlog, het hulle die Ou Stad [dit is Bybelse Jerusalem] van Jordanië verower. Hierna sou nog net die vertrapping van die tempelterrein deur die Moslems voortduur.

Die 70ste jaarweek van Daniël

In die laaste sewe jaar van die laaste geslag sal die 70ste jaarweek van Daniël verloop. Dit is die verdrukking van sewe jaar onder die bewind van die Antichris. Hierdie jaarweek sal uit twee duidelik onderskeibare helftes van 3½ jaar elk bestaan. Tydens die eerste 3½ jaar sal daar ‘n valse vrede op aarde heers, wanneer Israel die Antichris as die beloofde Messias sal aanvaar. Jesus het hierna verwys toe Hy vir hulle gesê het: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43).

Kort ná die openbaring van die Antichris sal die derde tempel met sý goedkeuring in Jerusalem herbou word. In die middel van die verdrukking sal die Antichris homself in hierdie tempel tot God verklaar en ook ‘n afgodsbeeld van homself daar laat oprig (2 Thess. 2:4; Op. 13:14-15). Israel sal dan besef dat hy ‘n valse messias was, en hulle verbond met hom verbreek. Daar sal ook uit ander oorde opstand teen die Antichris se wêreldryk wees, en dit sal hom tot ‘n militêre skrikbewind laat oorgaan. Hy sal opstandelinge deur geweld onderwerp en Israel as volk probeer uitdelg. Die volgende 3½ jaar word in die Bybel as ‘n groot verdrukking beskryf soos daar nog nooit op aarde was nie (Matt. 24:15-22).

Vir Israel sal hierdie 3½ jaar ‘n louteringsproses wees, sodat hulle hulself kan ondersoek en tot die ware God bekeer. Die Here het gesê: “Ek sal julle versamel en met die vuur van my grimmigheid teen julle blaas” (Eseg. 22:21). In Hoséa 6:15 sê Hy: “In hulle nood sal hulle My soek.” Uit die komende groot verdrukking, wat as ‘n geestelike louteringsproses oor ‘n afvallige Israel sal kom, sal daar ‘n oorblyfsel gered word. Jeremia sê: “Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jer. 30:7).

Die Antichris sal weet dat die ware Messias aan die einde van die sewe jaar lange verdrukking na Jerusalem sal terugkeer, daarom sal hy ‘n wêreldmag in Israel ontplooi om teen die Messias te veg. Hy én sy magte sal egter hier verdelg word (Op. 19:19-21). Die oorblyfsel in Israel weet ook uit die Ou testament dat die Messias na Jerusalem kom, en dat dit tot hulle redding sal wees:

“En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ‘n baie groot dal… En julle sal vlug in die dal van my berge… Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!… In dié dag sal daar lewende waters uit Jerusalem uitvloei, die een helfte daarvan na die Oostelike [die Dooie See] en die ander helfte daarvan na die Westelike See [die Middellandse See]… En die Here sal Koning wees oor die hele aarde… en almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier” (Sag. 14:4-5, 8-9, 16).

Die nasionale bekering van Israel

Daar sal ‘n hartroerende ontmoeting tussen Israel en hulle Messias-Koning wees, wanneer hulle vir Hom sal sê: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here.” Die Here het beloof:

“Oor die huis van Dawid en die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind… In dié dag sal daar ‘n geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid… Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die Here, my God!” (Sag. 12:10; 13:1, 9).

Nadat die volk met die Here Jesus versoen is, sal Hy ook die troon van Dawid in Jerusalem herstel. Dan sal ‘n belofte vervul word wat die engel van die Here reeds voor Jesus se geboorte aan Maria gemaak het: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee” (Luk. 1:32). Jesus het nog nooit van die troon van Dawid af regeer nie, maar ná sy wederkoms sal Hy dit wél doen:

“Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen” (Hand. 15:16-17; vgl. Amos 9:11-12 en Jes. 16:5).

Jerusalem as wêreldhoofstad

Jerusalem sal verhef word tot die hoofstad van die wêreld. Die Here Jesus sal die Koning van die konings wees, en vrede sal oral op aarde heers:

“Baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie (Jes. 2:3-4). In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17).

Omdat Satan in daardie tyd gebind sal wees, sal hy die nasies nie tot haat, rebellie, oorlogvoering en ander sondes kan aanhits nie. Hulle sal spontaan die Here se guns in Jerusalem soek, asook dié van sy volk Israel, en in sy weë wandel:

“So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die Here van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die Here om genade te smeek… In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ‘n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:22-23).

In hierdie tyd sal Jerusalem ‘n stad van glansryke heerlikheid wees. Na hierdie tyd van groot heerlikheid en vrede op aarde moet elke kind van die Here reikhalsend uitsien en Jerusalem nou reeds toeroep:

“Ontwaak, ontwaak, beklee jou met sterkte, o Sion, trek jou sierlike klere aan, o Jerusalem, heilige stad!” (Jes. 52:1).

“Aanskou Sion, die stad van ons feestelike samekoms! Jou oë sal Jerusalem sien as veilige woonplek, as tent wat nie wegtrek nie, waarvan die penne nooit meer uitgeruk word nie en geeneen van sy toue ooit losgeskeur word nie. Maar daar sal die Here vir ons heerlik wees… Want die Here is ons Regter, die Here is ons Aanvoerder, die Here is ons Koning” (Jes. 33:20-22).

“Nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang… Jou poorte sal altyddeur oopstaan; hulle sal bedags of snags nie gesluit word nie, om na jou toe aan te bring die rykdom van die nasies en hulle konings in triomftog. Want die nasie en die koninkryk wat jou nie sal dien nie, sal ondergaan, en dié nasies sal sekerlik verwoes word… Die seuns van hulle wat jou verdruk het, sal gebukkend na jou toe trek; en almal wat jou verag het, sal hulle neerbuig by jou voetsole; en hulle sal jou noem: Stad van die Here, Sion van die Heilige Van Israel… Van geweld sal in jou land nie meer gehoor word nie – van geen verwoesting of verbreking in jou grondgebied nie; maar jy sal jou mure Heil noem en jou poorte Lof” (Jes. 60:3, 11-12, 14, 18).

Gebede vir Jerusalem

Omdat Jerusalem in die vrederyk ná die wederkoms ‘n seën vir die hele aarde sal wees, moet ons nou al in afwagting op daardie tyd saam met Jesaja uitroep: “Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie en ter wille van Jerusalem nie stil wees nie, totdat sy geregtigheid uitbreek soos ‘n glans en sy heil soos ‘n fakkel wat brand” (Jes. 62:1). In hierdie donker dae van aanvegtinge teen Jerusalem as die stad van die Groot Koning, moet ons die Here ook voortdurend aan sy beloftes herinner. Hy self sê:

“O Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. O julle wat die Here herinner aan sy beloftes – moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde!” (Jes. 62:6-7).

Moet dus nie Jerusalem as ‘n plek van godsopenbaring vergeet nie – nie sy verlede nie, en ook nie sy wonderlike toekoms nie! Dawid sê in Psalm 122:6: “Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe!” Die stryd om Jerusalem is ‘n stryd tussen lig en duisternis. Die Here Jesus kom terug na Jerusalem en Hy gaan die aarde hiervandaan regeer. Dit is waarom die magte van die duisternis hierdie stad wil oorneem en verwoes.

Kom ons bid vir die vrede van Jerusalem. Laat ons saam met die ballinge van Israel sê toe hulle by die riviere van Babel was en die heiligedomme van die Here in puin gelê het: “As ek jou vergeet, o Jerusalem, laat my regterhand dan homself vergeet! Laat my tong kleef aan my verhemelte as ek aan jou nie dink nie, as ek Jerusalem nie verhef bo my hoogste vreugde nie” (Ps. 137:5-6).

Omdat die Here besluit het om sy Naam in Jerusalem te vestig, het hierdie stad ‘n ewige toekoms. Nie net sal dit in die vrederyk die hoofstad van die wêreld wees nie, maar op die nuwe aarde sal ons in die nuwe Jerusalem woon wat die Here Jesus op die oomblik vir ons voorberei. Hierdie wonderstad met sy goue strate en pêrelpoorte sal uit die hemel op die nuwe aarde neerdaal. Daar sal die bruid vir ewig saam met die Lam woon. Johannes sê in Openbaring 21:

“Ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees… En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Op. 21:2-4; vgl. Jes. 25:8).

Maak seker dat u deur die wedergeboorte ‘n lid van die bruidsgemeente is, sodat u in die ewige heerlikheid van God se koninkryk kan deel. Dit wat deur die toedoen van die Here in die aardse Jerusalem gebeur het, moet in die hele wêreld verkondig word omdat dit die poort na die hemelse Jerusalem vir alle mense open.