Stryd om die Beheer oor Jerusalem

Prof. J.S. Malan

Opsomming: Die eeue oue stryd om die beheer oor Jerusalem is weer besig om hoog op te vlam. Hierdie stryd gaan in die nabye toekoms tot groot konflikte en oorloë lei.

Die groot eindtydse stryd om die beheer oor Jerusalem het begin. By hierdie verdiepende stryd is nie net Israel en die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PBO) van Jasser Arafat betrokke nie, maar ál die Arabiese lande in die Midde-Ooste asook Moslems in verskeie ander lande, insluitende Suid-Afrika. Uiteindelik gaan alle nasies van die wêreld by die stryd teen Israel ingetrek word.

Omdat die vyande van Israel hulleself in ‘n direkte konfrontasie met die God van die Bybel begewe deur sý bepalings oor Israel en die stad Jerusalem in die Bybel te ignoreer, wag daar vir hulle ‘n groot beskaming en neerlaag in hierdie stryd. Hulle sal toegelaat word om teen Jerusalem op te trek, maar dáár sal die Here self met hulle in die gerig tree:

"Kyk, Ek maak Jerusalem vir al die volke rondom tot ‘n beker van bedwelming… In dié dag maak Ek Jerusalem tot ‘n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel sal hom daarmee sekerlik seer maak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word" (Sag. 12:2-3).

Wanneer die nasies se leërs teen Jerusalem optrek, sal die Here se toorn oor hulle uitgestort word omdat hulle Israel sal probeer uitwis met die doel om sy land aan sy vyande te gee wat onregmatiglik daarop aanspraak maak. Hulle sal ‘n duur prys hiervoor betaal:

"Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle ‘n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het" (Joël 3:1-2).

Die land Israel en die stad Jerusalem is deur die Here aan die volk Israel gegee, en nie aan die Palestyne nie (Ps. 105:9-11; Sag. 12:10). Die land se naam is derhalwe nie Palestina, wat die land van die Filistyne is nie, en Jerusalem ook nie ‘n Moslemstad, Al Quds, nie!

Een van die sterkste krete in die mobilisering van soldate vir die Moslem jihad (heilige oorlog) deur die eeue heen was Al Quds – Jerusalem! Hulle beskou dit as húlle stad. Ten spyte van die Israeli-PBO vredesakkoord is dit vandag nog steeds een van die Moslems se belangrikste doelwitte om Jerusalem te verower en te beheer.

Valse vrede

Die PBO, soos die ander Moslemlande, stel nie regtig in vrede met ongelowiges (nie-Moslems) belang nie. Vir hulle is ‘n vredesooreenkoms ‘n taktiese skuif om tyd te wen om vir die volgende militêre aanslag voor te berei. In sy boek The great deception – Philistine (1995:100-101) sê Ramon Bennett die volgende oor die valse vredesooreenkomste wat die Moslems met hulle vyande sluit:

"Dit was Mohammed self wat vir Islam die strategie geskep het van ‘n vredesluiting met hul vyande ten einde hulle op ‘n later, meer geleë tyd, militêr aan te val. In 628 het Mohammed ‘n vredesooreenkoms met die Kuraish stam in Mekka gesluit, in terme waarvan sy Moslem-volgelinge die reg gekry het om by die Kaäba in Mekka te aanbid. Twee jaar later, toe hy meer volgelinge gehad en aansienlik sterker was, het hy die ooreenkoms verbreek, die Kuraish stam aangeval en al die manlike lede daarvan om die lewe gebring.

"Die ooreenkoms tussen Mohammed en die ‘ongelowiges’ van Mekka is as die Vredesooreenkoms van Hudaibija bekend. Dit het in die Islamitiese wet ‘n model vir alle ooreenkomste met nie-Moslems geword. Hierdie vrede is nooit permanent nie en moet nie langer as tien jaar duur nie, met die moontlikheid van verlenging vir ‘n verdere tien jaar – niks meer nie. Islam mag nie sy oorlog teen ‘ongelowiges’ vir langer as dié tydperk opskort nie.

"‘n Vredesooreenkoms is deel van Islam te langtermyn oorlogsbeleid, en as sodanig ‘n deel van hulle doelwit om die hele wêreld aan Allah se gesag te onderwerp. Volgens Islamitiese regshandleidings mag ‘n oorlog onderbreek word, wanneer nodig, deur ‘n wapenstilstand van beperkte duur. ‘n Oorlog mag egter nie deur ‘n vredesluiting beëindig word nie – net deur ‘n oorwinning.

"Wanneer die vyand té sterk is, soos Israel homself al by herhaling bewys het, mag ‘n tydelike vredesooreenkoms gesluit word. Die vyand sien dit as vrede, maar Arafat en al die Arabiere sien vrede as ‘n swakheid wat uitgebuit kan word. Die Israeli-PBO vredesakkoord is dus net ‘n taktiese skuif in ‘n breër militêre strategie."

Arafat het sy vrede met Israel al uitdruklik met Mohammed se valse vredesluiting vergelyk. Terwyl hy ooreenkomste met Israel sluit, verag hy hulle in sy hart en gaan onverpoosd met voorbereidings vir ‘n hervatting van die gewapende stryd voort. Dié benadering word ook in die konstitusie van die PBO uiteengesit.

Revolusionêre konstitusie van die PBO

Die konstitusie van die PBO is ‘n revolusionêre dokument wat openlik daarop gerig is om ‘n ingesteldheid van oorlog en gewapende opstand teen Israel en sy bondgenote by alle volkslede, ook kinders, aan te blaas. Die volgende artikels werp lig hierop:

Artikel 7. Dit is ‘n onbetwisbare feit dat daar ‘n Palestynse gemeenskap is wat materiële, geestelike en historiese verbintenisse met Palestina het. Dit is ‘n nasionale plig om individuele Palestyne op ‘n revolusionêre Arabiese manier groot te maak. Alle bronne van inligting en onderwys moet gebruik word om die Palestyn geestelik én materieel so deeglik as moontlik van sy land bewus te maak. Hy moet op ‘n gewapende stryd voorberei word en bereid wees om sy besittings én sy lewe op te offer om sy tuisland terug te wen deur die bevryding daarvan moontlik te maak.

Artikel 8. Die fase in hul geskiedenis waarin die Palestyne hulleself nou bevind, is dié van die nasionale stryd vir die bevryding van Palestina. Die konflikte tussen die Palestynse nasionale magte is sekondêr en moet gestaak word ter wille van die basiese konflik wat daar tussen die magte van Sionisme en imperialisme aan die een kant, en die Palestynse en Arabiese mense aan die ander kant, bestaan. Die Palestynse bevolking – ongeag of hulle in hul nasionale tuisland of in verstrooiing in ander lande is – is individueel én in hulle organisasies die nasionale front vir die herwinning van Palestina en sy bevryding deur ‘n gewapende stryd.

Artikel 9. ‘n Gewapende stryd is die enigste manier waarop Palestina bevry kan word. Dit is die oorkoepelende strategie en nie slegs ‘n taktiese fase nie. Die Palestynse Arabiese mense bevestig hulle vasberadenheid en onwrikbare besluit om met die gewapende stryd voort te gaan, en om hulle vir ‘n gewapende populêre revolusie vir die bevryding van hulle land te beywer, asook vir hulle terugkeer daarheen. Hulle bevestig ook hulle reg om hier te woon en hulle soewereiniteit en selfbeskikkingsreg te beoefen.

Artikel 10. Kommando-optredes vorm die kern van die Palestynse populêre bevrydingsoorlog. Dit vereis ‘n omvattende mobilisasie van alle organisasies en opvoedkundige instellings vir die Palestynse revolusie. Dit vereis ook eenheid in die nasionale stryd tussen verskillende Palestynse faksies, en verder tussen die Palestynse volk en die res van die Arabiese wêreld, sodat die revolusie voortgesit kan word en na ‘n oorwinning lei.

Artikel 11. Die Palestyne het drie slagspreuke: nasionale eenheid, nasionale mobilisasie en nasionale bevryding.

Artikel 12. Die Palestyne glo in Arabiese eenheid. Ten einde hulle bydrae tot die bereiking van hierdie ideaal te maak moet hulle egter, in die huidige stadium van die stryd, hulle Palestynse identiteit beskerm en bevorder deur enige plan te verwerp wat dit ongedaan sal maak.

Artikel 13. Arabiese eenheid en die bevryding van Palestina is twee doelstellings wat mekaar onderling komplementeer. Arabiese eenheid sal na die bevryding van Palestina lei, terwyl die bevryding van Palestina op sy beurt Arabiese eenheid in die hand sal werk.

Artikel 15. Die bevryding van Palestina, uit ‘n Arabiese oogpunt, is ‘n nasionale plig waardeur gepoog word om die Sionistiese en imperialistiese aggressie teen die Arabiese tuisland af te weer, en wat ook op die uitskakeling van Sionisme in Palestina gerig is. Die absolute verantwoordelikheid hiervoor rus op die groter Arabiese nasie, met al sy mense en regerings, terwyl die Palestyne aan die voorpunt van die stryd staan. Die Arabiese nasie moet dus al sy militêre, menslike, morele en geestelike hulpbronne mobiliseer om aktief met die Palestyne saam te werk in die bevryding van Palestina. In die huidige stadium van die gewapende Palestynse revolusie moet hulle alle moontlike materiële en menslike ondersteuning bied, en alle middele tot die Palestyne se beskikking stel wat hulle in staat sal stel om hulle rol in die gewapende revolusie te vervul totdat hulle tuislande bevry is.

Artikel 22. Sionisme is as ‘n politieke beweging ten nouste met internasionale imperialisme geassosieer, en as sodanig is dit antagonisties teenoor alle optredes vir die bevryding van progressiewe bewegings in die wêreld. Dit is rassisties en fanaties van aard, aggressief, ekspansionisties en kolonialisties in sy doelstellings, en Fascisties in sy metodes. Israel is die instrument van die Sionistiese beweging, en ‘n geografiese basis vir wêreldimperialisme wat strategies binne-in die Arabiese tuisland geplaas is om die hoop van die Arabiese nasie vir bevryding, eenheid en vooruitgang te beveg. Israel is ‘n konstante bron van bedreiging vir vrede in die Midde-Ooste én ook in die hele wêreld. Omdat die bevryding van Palestina die Sionistiese en imperialistiese teenwoordigheid sal vernietig en tot vrede in die Midde-Ooste sal bydra, verwag die Palestynse volk die ondersteuning van alle progressiewe en vreedsame magte in die wêreld. Daar word by hulle aangedring om, afgesien van hulle affiliasies en gelowe, hulp aan die Palestyne te bied in hulle regverdige stryd vir die bevryding van hulle tuisland.

Artikel 23. Die eise van veiligheid en vrede, sowel as die eise van reg en geregtigheid, eis van alle state dat hulle Sionisme as ‘n onwettige beweging sal beskou, om sy bestaan onwettig te verklaar en al sy aktiwiteite te verban.

Die ‘onheilige’ oorlog

Dit is duidelik dat die Palestyne se hele bestaan op haat teen Israel gebou is. Kinders word van jongs af deur hierdie revolusionêre gees beset. In ‘n wyer verband geld dit ook vir al die ander Arabiese Moslemstate. Dit is by hulle ‘n ‘heilige’ missie om Israel van die aardbodem af te verdelg en die koepels van Allah se tempels vir ewig van die tempelberg af oor Jerusalem te laat uittroon. In hierdie ‘heilige’ oorlog (jihad) span hulle ten diepste hulle kragte teen die God van Israel saam om sý heiligdomme vir hulle in besit te neem:

"o God, hou U nie stil nie, swyg nie en rus nie, o God! Want kyk, u vyande maak rumoer, en u haters steek die hoof op. Teen u volk smee hulle listig ‘n plan en hou onder mekaar raad teen u verborgenes. Hulle sê: Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie. Want hulle het van harte saam raad gehou; teen U sluit hulle ‘n verbond: die tente van Edom en die Ismaeliete, Moab en die Hagareners, Gebal en Ammon, en Amalek, Filistea saam met die inwoners van Tirus. Ook het Assur by hulle aangesluit… [Hulle] sê: Laat ons die woninge van God vir ons in besit neem! My God, maak hulle soos strooi, soos stoppels voor die wind. Soos vuur wat ‘n bos verbrand" (Ps. 83).

Verblind deur ‘n fanatieke haat vir Jode én Christene sal die Palestyne voortgaan om hulle eie ondergang in ‘n konfrontasie met Israel te bespoedig. Hulle moorde, terreurdade, sabotasieveldtog, uittartende houding en voortgesette provokasie sal waarskynlik in die nabye toekoms daartoe lei dat Israel hulle sal aanval en ‘n groot slagting onder hulle aanrig.

Bewus van die feit dat hulle alleen glad nie teen Israel opgewasse is nie, sal die PBO ‘n komplot met sy Arabiese en ander Moslembondgenote sluit om Israel te probeer verdelg. Hierin sal hulle volgens Eségiël 38 en 39 ook die steun van Rusland verkry. Die huidige stryd in Israel is duidelik ‘n voorloper vir die groot Russies-Arabiese inval in Israel.

Die Komende Russies-Arabiese Inval in Israel

Die Here het vir Eségiël opdrag gegee om oor ‘n groot steeksoorlog te profeteer wat in die eindtyd [in die laaste dae] in Israel sal uitbreek:

"Rig jou aangesig teen Gog, in die land Magog, die vors van Ros, Meseg en Tubal, en profeteer teen hom en sê: So spreek die Here Here: Kyk, Ek het dit teen jou, o Gog, vors van Ros, Meseg en Tubal! En Ek sal jou weglok en hake in jou kakebene sit en jou laat uittrek en jou hele leër... Perse, Kusiete en Puteërs... Gomer en al sy leërs, die huis van Togarma in die uithoeke van die Noorde, en al sy leërs – baie volke saam met jou... Ná baie dae sal jy bevel ontvang; aan die einde van die jare sal jy ‘n land intrek wat van die swaard weer reggekom het, wat versamel is uit baie volke, op die berge van Israel wat gedurigdeur as puinhoop daar gelê het... In dié dag sal daar gedagtes in jou hart opkom, en jy sal ‘n listige plan beraam en sê: Ek sal optrek teen die land wat ooplê, ek sal kom by rustige mense wat in veiligheid woon; wat almal woon sonder muur en geen grendel of poorte het nie... en jy sal optrek teen my volk Israel soos ‘n wolk om die land te oordek. Aan die einde van die dae sal dit wees" (Eseg. 38:1-11, 16).

"En Ek sal jou weglok en jou lei en jou laat optrek uit die agterhoeke van die Noorde en jou laat kom op die berge van Israel. Maar Ek sal jou boog uit jou linkerhand slaan en jou pyle uit jou regterhand laat val. Op die berge van Israel sal jy val, jy en al jou leërs en die volke wat saam met jou is; aan die roofvoëls van allerhande vere en aan die wilde diere van die veld het Ek jou as voedsel gegee. Op die oop veld sal jy val; want Ek het dit gesê, spreek die Here Here" (Eseg. 39:2-5).

Gog is Rusland

Die identiteit van Gog word uit drie verskillende oogpunte baie duidelik as die moderne Rusland bevestig:

1. Die land Magog

Volgens die register van nasies in Génesis 10 was Magog ‘n kleinseun van Noag (v. 1-2). Die afstammelinge van Magog het ten noorde van die Kaukasusgebergte in die huidige Rusland gewoon, en is die belangrikste antieke volk waaruit die moderne Russe afgestam het.

2. Die vors van Ros, Meseg en Tubal

Ros, of Rus, was een van die stamme wat van Magog afgestam het. Hulle het lank in die omgewing van die Wolga gewoon. Meseg en Tubal was jonger broers van Magog (Gen. 10:2) en het ook in die gebied van die huidige Rusland gevestig. Meseg was die stigter van die Moski, en van dié naamwoordstam is ‘Moskou’ afgelei. Tubal is die stamvader van die Tibereni wat langs die Swart See gewoon het.

3. Die agterhoeke van die Noorde

Moskou, die hoofstad van Rusland, is reg noord van Jerusalem in die agterhoeke van die Noorde geleë. Onmiddellik noord van Israel was Assirië, die land van die koning van die Noorde. Rusland word egter onderskei as geleë in die agterhoeke van die Noorde.

Eindtydse Rusland

Die profesie in Eségiël 38 en 39 het duidelik op die laaste dae betrekking, en is dus nie in Ou Testamentiese tye vervul nie. Dit verwys uitdruklik na ‘n aanval op ‘n herstelde volk Israel, wie se land gedurigdeur as ‘n puinhoop gelê het (Eseg. 38:8).

Die Sowjet-Unie het ná Wêreldoorlog II militêr in ‘n sterk moondheid ontwikkel wat uitgesproke vyandig teenoor Israel was. Sedert Israel se herstel in 1948 is die Arabiese lande telkens van groot arsenale Russiese wapens (AK 47’s), pantservoertuie, misiele en vegvliegtuie voorsien om ‘n uitwissingsoorlog teen die volk Israel te voer. Al hierdie oorloë was voorlopers vir die geprofeteerde Russies-Arabiese inval in Israel.

Russiese bondgenote

Eségiël noem die volgende bondgenote wat saam met Rusland ‘n inval in Israel sal doen:

1. Persië

Die naam van Persië is in 1935 na Iran verander. Ná die Islamitiese revolusie van die Ajatolla Khomeini het hierdie land uitgesproke anti-Israels geraak en baie sterk in Rusland se magsfeer beland. In samewerking met Russiese wetenskaplikes het Iran onlangs sy Shihab-3 ballistiese misiele ontwikkel wat teikens in Israel kan tref. Binnekort sal Iran oor kernplofkoppe vir sy misiele beskik. Iran en Irak het ook nou vrede gesluit ter wille van hulle gemeenskaplike stryd teen Israel en sy magtige bondgenoot, Amerika.

2. Kus

Kus is die oorspronklike Hebreeuse benaming vir Ethiopië. Ná die val van Haile Selassie se bewind in 1974 het Ethiopië eers in ‘n kommunistiese diktatuur verander, en later in ‘n Islamitiese staat. Beide hierdie ideologieë het ‘n sterk anti-Joodse ingesteldheid tot gevolg.

3. Put

Put is die Hebreeuse naam vir Libië. Dié land is deur die militante kolonel Gaddafi tot ‘n sosialistiese republiek verklaar. Hy handhaaf noue bande met Rusland, en dit is sy verklaarde beleid om Israel te verdelg en sy grondgebied aan die Palestyne te oorhandig. Libië beskik oor ballistiese misiele wat van Noord-Korea aangekoop is, waarmee Israelse teikens uit Libië bestook kan word.

4. Togarma

Dit is ‘n verwysing na Turkye, ‘n land wat ‘n oorheersende Moslembevolking van omtrent 97% het. Turkye is nog net nominaal ‘n NAVO-bondgenoot en vriend van Israel. Ná die onlangse mislukte Camp David vredesberaad tussen Israel en die PBO, het Jasser Arafat Turkye besoek waar hy ongekwalifiseerde steun vir die stigting van ‘n Palestynse staat met Oos-Jerusalem as hoofstad gekry het. Israel kan nie meer vir voortgesette steun op Turkye reken nie, maar die PBO kan wél.

5. Gomer

Deur die naam Gomer word Duitsland as een van die bondgenote in die oorlog teen Israel geïdentifiseer. Daar is groeiende ekonomiese, politieke en selfs militêre bande tussen Duitsland en Rusland, aangesien Rusland deur die Duitse regering as ‘n belangrike faktor vir die toekomstige stabiliteit van Oos-Europa beskou word.  Goeie verhoudinge met olieproduserende Arabiese state sal ook vir dié lande bondgenote in hulle stryd teen Israel verkry. Vir Duitsland se ekonomiese ontwikkeling is dit ‘n baie belangrike strategiese oorweging om die voorgesette lewering van olie uit die Midde-Ooste te verseker. Waarskynlik sal hulle, soos baie ander lande, hulle vriendskap met Israel hiervoor opoffer.

Oorwinning én misleiding

Die uitslag van die Russies-Arabiese inval in Israel sal hoogs verrassend, onverwags en uiters dramaties wees. Die een oomblik sal Israel nog deur uitwissing in die gesig gestaar word terwyl die inval dreig om in ‘n wêreldoorlog te ontaard, dan sal die Here die invallende leërs op die berge van Israel verdelg. Daar sal selfs vuur uit die hemel neerdaal (Eseg. 39:4-6), terwyl ‘n groot aardbewing ook sal voorkom (Eseg. 38:19-23).

Dit sal Israel sewe maande neem om die lyke van hul vyande te begrawe, en hulle sal sewe jaar lank van die oorlogsbuit gebruik (Eseg. 39:9-12). Hulle sal hulle grootliks in in hierdie ingryping deur die Here verbly, omdat hulle van gewisse dood en nasionale ondergang gered is. Hulle blydskap sal geen perke ken nie.

Hierdie situasie sal waarskynlik deur Satan uitgebuit word om die ergste moontlike misleiding te doen in ‘n poging om die Antichris as wêreldmessias deur Israel, die Moslemlande én al die ander nasies aanvaar te kry. Die Antichris met sy bonatuurlike [duiwelse] magte sal die krediet vir die oorwinning opeis deur te beweer dat God hom na die aarde toe gestuur het om ‘n dreigende kernoorlog af te weer en sodoende die hele wêreld van ondergang en uitwissing te red. Israel en die nasies sal ‘n baie ernstige oordeelsfout begaan deur hierdie man as die beloofde Messias te aanvaar en ‘n verbond met hom te sluit (Dan. 9:27; Joh. 5:43; Op. 13:3-4).

Die Antichris kom beslis en sal homself later ook in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar. Indien hy tydens die Russies-Arabiese inval in Israel geopenbaar word, dan beteken dit dat die wegraping van die kerk ook in hierdie tyd moet plaasvind. Hulle is die teëhouer teen die openbaring van die Antichris:

"Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde [die Antichris] geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is… En nou, julle weet wat hom teëhou sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak; hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid" (2 Thess. 2:3-12).

Die Antichris sal in die misleiding van die wêreld deur die valse profeet bygestaan word. Hy sal skouspelagtige tekens en wonderwerke doen, en selfs vuur uit die hemel laat neerdaal. Dit sal daartoe lei dat feitlik alle mense op aarde die Antichris as God sal aanbid (Op. 13:11-15).

‘n Nuwe vlaag Jodehaat

In die middel van die verdrukking van sewe jaar, wanneer die Antichris homself tot God sal verklaar, en ook ‘n afgodsbeeld van homself in die tempel sal laat oprig, sal Israel hulle verbond met hom verbreek. Hulle sal aanvanklik bereid wees om hom as die beloofde Messias te erken, maar weier om afgodediens te beoefen en hom as God te aanbid.

In reaksie hierop sal die Antichris ‘n Joodse volksmoord gelas en hulle sal vinnig moet wegvlug na ‘n plek in die woestyn waar die Here ‘n oorblyfsel van hulle vir die laaste 3½ jaar van die groot verdrukking sal bewaar (Matt. 24:15-22; Op. 12:13-16). Oral waar Jode en Christene aangetref word, sal hulle tereggestel word omdat hulle sal weier om die Antichris te aanbid.

Onder demoniese aanhitsing sal die nasies van die wêreld in Israel, en ook in en om Jerusalem, versamel word om die oorblyfsel van Israel uit te wis en by die Olyfberg teen die geprofeteerde koms van die ware Messias van Israel te veg (Op. 16:13-16; 19:19-21). Hier sal die Here met hulle in die gerig tree en hulle uitdelg:

"Want Ek sal die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem… En dit sal die plaag wees waarmee die Here die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond. En in dié dag sal ‘n groot verwarring van die Here onder hulle kom… en die hand van die een sal hom verhef teen die hand van die ander… en almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar ná jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees [in Jerusalem] te vier" (Sag. 14:2, 12-13, 16).

Jerusalem die wêreldhoofstad

Met Jesus Christus se wederkoms sal Jerusalem herstel word en wêreldhoofstad in die vrederyk wees (Hand. 15:16-17; Luk. 1:32; Jes. 2:2-4). “In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17). Die geredde Israel sal hulle verbly in die Here, Hom van harte dien, en sy lof onder al die nasies verkondig (Jes. 12: 3-6; 40: 9). Hulle sal die hele wêreld in dié tyd evangeliseer en vol vrugte maak (Jes. 27:6). “In dié dag sal die Here van die leërskare wees tot ‘n sierlike kroon en ‘n pragtige krans vir die oorblyfsel van sy volk” (Jes. 28:5). Israel se geestelike volheid sal die rykdom van die nasies wees (Rom. 11:12) en Jerusalem die glansende wêreldhoofstad.

In die komende vrederyk sal die nasies die Here in Jerusalem om genade kom smeek, en ook die guns van die geredde Joodse volk soek omdat God met hulle is:

"So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die Here van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die Here om genade te smeek… In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van 'n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is" (Sag. 8:22-23).

In die lig van die wonderlike toekoms van Israel en Jerusalem, is dit duidelik waarom Jodehaat en die verwerping of verdeling van Jerusalem as die hoofstad van Israel die kern van Satan en die Antichris se ideologie is. Die wêreld, insluitende die VN, toon toenemende tekens van die veroordeling van Israel en die verpligte verdeling van hulle land en hoofstad met die Palestyne.

Dit is ‘n totaal onaanvaarbare en onbybelse beleid waardeur die nasies die toorn van God oor hulleself sal haal (Gen. 12:3; Joël 3:1-2). Suid-Afrika het homself ook met die vyande van Israel bevriend, en pluk reeds die wrange vrugte van ernstige teëspoed in sy ekonomie en nasionale lewe. Die feit dat die Drie-enige God se oppergesag nie in in die RSA se grondwet erken word nie, is ‘n konkrete bewys daarvan dat hierdie regering dit nie vir hulleself ten doel stel om in die weë van die Here te wandel nie. Geen wonder dat van hulle beste vriende (bv. die Palestyne, Libië en Iran) onder die mees venynige haters van Israel tel nie!

     Ons leef in kritieke tye waarin individue én nasies standpunte inneem en dade doen waardeur hulle ewige lotsbestemming bepaal sal word – óf nader aan die Here en sy barmhartigheid, óf weg van sy aangesig af waar hulle die voorwerpe van sy toorn sal wees!