Prof. Johan Malan, Universiteit van Limpopo, Suid Afrika (Maart 2006)
Hierdie artikel is ‘n bespreking van die boek: COVENANT: G-d’s Plan for Israel in the Last Days, deur Baruch Battelstein, 66020 San Giovanni Teatino, Italië: Destiny Image Europe, 2005. Die artikel gaan verder as net ‘n boekbespreking omdat dit ook Christelike oplossings bied vir die probleme wat in die boek gestel is.
Die skrywer bied ‘n uiteensetting van die Ortodokse Joodse geloof aan wat op die Abrahamitiese verbond in die Ou Testament gebaseer is, asook ‘n verduideliking van eindtydse profesieë wat op Israel en die nasies betrekking het. Die boek is streng op Ou Testamentiese uitsprake gebaseer sonder om na enige ander bronne te verwys. Die Abrahamitiese verbond is die sentrale tema van die boek, asook die bittere gevolge van ongehoorsaamheid daaraan. Israel se redding word as ‘n terugkeer tot die verbond beskryf, deur die insettinge daarvan getrou te eerbiedig.
Die Nuwe Testament word geïgnoreer asof dit nie bestaan nie. Die “Tanach” (Ou Testament) word deurgaans “die Bybel” genoem, waardeur duidelik beklemtoon word dat die Joodse Bybel nie ‘n Nuwe Testament het nie. Van die heel eerste hoofstuk af is dit duidelik dat Jesus Christus nie in die minste as Israel se Messias beskou word nie. Hy en sy Joodse dissipels word nie eers een keer aangehaal of na hulle verwys nie. Jesus is selfs ook uit die kalender verwyder deur datums ná Christus as C.E. (Common Era) aan te toon en jare voor Christus as B.C.E. Die skrywer doen dit omdat hy ‘n Ortodokse Jood is en dit nie in sy belang ag om enige erkenning aan Christus te gee nie.
‘n Enkele positiewe verwysing na Christene verskyn in die voorwoord van die boek, en verwys na dié lede van die nasies wat God vrees deur in sy ewige verbond met Israel met betrekking tot hulle land te glo. Die aard van hulle geloof in die Messias word nie bespreek nie.
Ortodokse Jode het die volste reg om hulle geloof te bevestig en te verdedig. Hulle moet egter bewus wees van die feit dat Christene, en veral Messiaanse Jode, ook in hulle geskrifte sal belangstel omdat die Nuwe Testament uit die Ou Testament voortvloei. Die Messias en sy genadewerk vir Israel en alle volke op aarde is per slot van sake die vervulling van ‘n groot aantal Ou Testamentiese profesieë. In hierdie oorsig sal ons die skrywer se verklaring en toepassing van kernstellings in die Ou Testament beoordeel.
‘n Prysenswaardige aspek van die boek is die skrywer se aandrang dat geloof ‘n eienskap is wat meer verhewe as die handhawing van die wet is: “Geloof is ‘n vaste vertroue in die absolute betroubaarheid van God se beloftes aan sy volk, soos wat aan Abraham, Isak, Jakob, Moses, Josua, Dawid, Daniël en al die ander profete in die Ou Testament gemaak is” (bl. 4). Israel word egter verhoog en as die einddoel van God se seëninge voorgehou. Deur hulle getroue nakoming van die Abrahamitiese verbond word hulle geroep om ‘n seën vir die hele wêreld te wees.
Die Here sê aan Abraham: “...in jou nageslag [saad] sal al die nasies van die aarde geseën word” (Gen. 22:18). In die Tanach wat deur die outeur gebruik word, word hierdie teks só vertaal: “Deur jou kinders sal al die nasies van die aarde geseën word” (bl. 15). Verwys die “saad” van Abraham na sy menigte nageslagte, of, in die enkelvoud, na die Messias? Daar is duidelik ‘n baie meer verhewe vervulling van hierdie belofte as om Israel die belangrikste instrument vir God se seëninge aan die wêreld te maak.
Waar was Israel as ‘n volk die afgelope twee millennia gedurende die tye van die nasies? Hulle was oral in die wêreld verstrooi as gevolg van die verbreking van die voorwaardes van hulle verbond (Deut. 28:58-64). Het hulle in hierdie tyd enige geestelike boodskap vir die wêreld gehad? Slegs vir dié Christene wat Israel se sleutelrol in die bewaring van God se Woord, en die latere beskikbaarstelling daarvan aan die wêreld deur Messiaanse Jode, regtig verstaan (Rom. 3:1-3). Die Bybel is ‘n boek wat feitlik uitsluitlik deur Jode geskryf is – met die uitsondering van slegs Lukas.
Die Jode was ook tydens hulle verstrooiing op ‘n ander, onopsigtelike, maar ewe werklike manier, ‘n seën vir die wêreld. As gevolg van hulle val, omdat hulle nie in die Messias geglo het nie, het die opdrag gekom om die evangelie aan die ganse nie-Joodse wêreld te verkondig (Rom. 11:11; Matt. 28:19). Ons het dus Israel se geestelike erfenis ontvang, en het nou die verpligting om hulle jaloers te maak deur die manier waarop ons die God van Abraham, Isak en Jakob deur die Messias dien (Rom. 11:11). Ons moet hulle nie kritiseer en veroordeel nie, maar hulle deur ons voorbeeld en geloof na die Messias toe trek. Dit is ‘n groot tragedie dat die Christene hulle dikwels vervolg het en die toorn van die Jode opgewek het omdat hulle nie die ware liefde van die Here Jesus aan hulle vertoon het nie.
Daar was nooit en sal ook nooit in enige stadium van die wêreldgeskiedenis die geringste mate van regverdiging vir die vervolging van Jode wees nie. Ons is baie dank en erkentlikheid aan hulle verskuldig omdat hulle die instrumente was waardeur die Woord van God na ons toe gekom het. Ons is veral baie dankbaar teenoor ‘n Messiaanse Jood soos Paulus, wat God se Woord in die nie-Joodse wêreld in Europa en Klein-Asië bekendgestel het, met besondere beklemtoning van die Messias se boodskap van verlossing.
Die herstelde Israel is ook in ‘n kulturele verband ‘n seën en inspirerende voorbeeld vir die wêreld. Dit is verbasend dat die Jode ná byna twee millennia van verstrooiing onder die nasies steeds as ‘n duidelike etniese groep oorleef het. Hulle vasberadenheid om hulle kulturele identiteit te handhaaf, ten spyte van onredelike druk deur ‘n internasionale gemeenskap wat sy waardes as gevolg van die nuwe wêreldorde se liberale invloede verloor het, is ‘n eienskap om te respekteer en te waardeer.
In ‘n meer direkte, geestelike sin is dit slegs die klein en soms veragte groep Messiaanse Jode wat werklik die evangeliese Christene deur hulle geloof en hoop inspireer. Hulle lewens is deur die “saad” van Abraham verander en geseën, naamlik die Messias wat weer in heerlikheid sal verskyn. Een van die grootste Joodse geestelikes van alle tye, die apostel Paulus, wat die wet aan die voete van Gamaliël bestudeer het, het ‘n lewensveranderende ontmoeting met die Messias gehad. Hy het die volgende oor die groot betekenis van die “saad” van Abraham gesê:
“Christus het ons losgekoop... sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang... Nou is aan Abraham die belofte toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus... Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof” (Gal. 3:13,14,16,24).
Die nie-Joodse wêreld is inderdaad deur die “saad” van Abraham, die beloofde Messias, geseën. ‘n Minderheidsgroep evangeliese Christene wat nie vervangingsteologie beoefen waarin beweer word dat die kerk Israel vervang het nie, aanvaar ten volle die Bybelse beloftes oor die eindtydse herstel en geestelike ontwaking van Israel. Ons sien met verwagting na die vrederyk van die Messias uit wanneer Hy van die troon van Dawid af uit Jerusalem sal regeer en Israel ‘n seën vir die hele wêreld sal wees (Rom. 11:12). Hulle kan egter net ‘n seën vir die wêreld wees nadat hulle self deur die Messias gered en geseën is. Hy is die bron van alle seëninge.
Die Messiaanse perspektief van die “saad” van Abraham ontbreek geheel en al in die boek onder bespreking, wat veroorsaak dat dit ‘n baie eng Joodse toepassing het. Dit behoort nie gedoen te word nie, wat die Here het aan Abraham gesê: “In jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Gen. 12:3). Die toepassing daarvan moet dus universeel wees.
Baruch Battelstein verklaar Israel se internasionale verstrooiing deur aan te toon dat God hulle sewevoudig weens hulle sondes gestraf het (bl. 7; vgl. Lev. 26:28). Hy maak dan ‘n berekening dat die totale periode van Israel se verstrooiing uit hulle land, van die vroegste tye af, 2520 jaar sou wees, en dat dit met hulle nasionale herstel as volk op 14 Mei 1948 geëindig het (bl. 7-9). Dit is onduidelik waarom hierdie berekening onder die volgende opskrif gemaak is: “Versoening vir die ongeregtighede en sondes van die huis van Israel.” Afgesien van die berekenings self word daar slegs aangedui dat Israel weens hulle sondes gestraf is. Dit beteken dat Israel self vir hulle eie sondes gely het en sodoende vir hulle oortredings versoening gedoen het. Geen ander grondslag word vir die versoening van hulle sondes voorgehou nie, wat impliseer dat hulle die “lydende Kneg” van Jesaja 53 is, soos wat verkeerdelik deur sommiges beweer word.
Die outeur se verwysing na “die opstanding van Israel” op 14 Mei 1948, is dubbelsinnig. Hy dui nie aan of hy daarmee Israel se nasionale opstanding as ‘n volk in hulle eie land bedoel, en of hy hulle geestelike opstanding as ‘n volk bedoel wat met God versoen is, of beide nie (bl. 7). Indien hulle deur al die jare van lyding vir hulle sondes versoening gedoen het, mag hy dalk ook hulle geestelike ontwaking in gedagte hê.
Later in sy boek kom hy egter tot die gevolgtrekking dat die herstelde Israel geestelik dood is: “Wat Israel vandag nodig het, is ‘n geestelike herlewing en herstel... Die huidige Israel is geestelik dood en het ‘n dringende behoefte daaraan om te herleef... Van die eerste minister af tot by die rabbi, van die minister van finansies af tot by die priester, is almal dood” (bl. 88). Hy sien egter hulle herlewing as die hernuwing van die Abrahamitiese verbond, waardeur die vrees vir die Here weer in die volk se harte gevestig moet word. Hy bied steeds geen basis vir die versoening van hulle sondes aan nie. Oor die betekenis van offers op die altaar, sê Levitikus 17:11 (vgl. Heb. 9:22) dat daar sonder bloedvergieting geen versoening plaasvind nie.
Die groot Joodse profeet, Johannes die Doper, wat Israel aan die nuwe verbond onder die Messias voorgestel het, het by die Jordaan na Jesus gewys en gesê: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29). Petrus het die Messiaanse Jode daaraan herinner dat hulle “losgekoop is... deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pet. 1:18-19). Paulus het gesê: “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Ef. 1:7). Ná sy eenmalige offer vir die sondes van die wêreld is daar geen ander grondslag vir die versoening van sonde nie. Israel se eie bloed kan nooit (en kon ook nooit) vir hulle sondes betaal nie.
Die veralgemeende bewering van die outeur dat God Israel vir hulle sondes sou straf deur hulle vir meer as twee millennia onder die nasies te verstrooi, moet duideliker verklaar en geregverdig word. Antieke rabbynse bronne dui aan dat haat sonder rede die enigste oorsaak vir die vernietiging van die tempel, asook die verwoesting en verstrooiing van die Joodse volk deur die Romeine was. Dit is egter net die een kan van die storie. Dit is nie vir die skrywer genoeg om net in sy inleidende hoofstuk te sê nie: “Die geskiedenis leer dat die Romeine Jerusalem in die jaar 70 C.E. beleër, die stad en die tempel verwoes het, ‘n miljoen Jode doodgemaak en die oorblywendes onder die nasies verstrooi het” (bl. 1). Die Here sou dit nie toegelaat het indien Israel in sy weë gewandel het nie.
Wat was Israel se eie aandeel in die feit dat hulle aan hul aartsvyand oorgelewer is? Baie belangrike gebeurtenisse moes in die eerste eeu voor die Romeinse inval gebeur het. Omdat hierdie gebeurtenisse egter ten nouste met die Messias in verband staan, het die skrywer hulle doelbewus geïgnoreer. Indien hy wél hierdie gebeurtenisse ondersoek en beskryf het, sou hy nie net God se voorsiening vir die versoening van sonde ontdek het nie, maar ook die rede vir die donkerste nag in Israel se lang en veelbewoë geskiedenis.
In hierdie tyd het Israel God se plan vir hulle verwerp deur te weier om vir Jesus as hulle Verlosser aan te neem – al was daar ook ‘n minderheidsgroep wat Hom wél aangeneem het. Jesus het hulle weiering om Hom aan te neem, betreur:
“Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig die wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat! Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:37-39).
Israel het nie besef dat God hulle in die Persoon van Jesus besoek het nie. Omdat hulle Hom totaal verwerp het, het die ongelowige Jode uiterste ellende en verwoesting oor hulleself gebring (Luk. 19:41-44; 21:20-24). Alle mense op aarde, insluitende die uitverkore volk, het ‘n vrye wil en dus die vermoë om vír of téén die Messias te besluit. Die meerderheid van die Israeliete het moedswillig besluit om Hom te verwerp. Voordat die Joodse leiers die Messias oorgelewer het om gekruisig te word, het hulle selfs gesê: “Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!” (Matt. 27:25). ‘n Meerderheid lede van die nasies verwerp egter ook vir Jesus.
Die outeur moet erkenning kry omdat hy op ‘n openlike en oortuigende wyse die onpopulêre feit beklemtoon dat die geestelik dwalende Israel én die ewe misleide nasies weens hulle rebellie teen God op ‘n tyd van die uitgieting van goddelike toorn afstuur. Uit die oogpunt van Israel word hierna as die “tyd van benoudheid vir Jakob” verwys (Jer. 30:7), terwyl die Messias dit as die “groot verdrukking” beskryf (Matt. 24:21).
Verskeie Messiaanse sowel as Ortodokse gelowiges huldig die onbybelse siening dat die Joodse slagting in Wêreldoorlog II (die “Holocaust”) die tyd van benoudheid vir Jakob was. Hulle verwerp enige beskouing oor ‘n komende verdrukking onder die bewind van die valse messias (die Antichris). Die meeste van hulle verwag net ‘n magtige herlewing waardeur Israel en miljoene ander mense in die koninkryk van God ingetrek sal word, gevolg deur die openbare verskyning van die Messias.
Die outeur hou nie hierdie valse hoop aan Israel voor nie, maar sê vir hulle dat die groot verdrukking hulle sal verneder en platslaan sodat hulle tot bekering sal kom en vir redding tot God roep. Hy sê:
“Die ‘tyd van benoudheid vir Jakob’ (Jer. 30:4-11) is ‘n tyd van groot angs vir die volk Israel... Hierdie ‘dag van oordeel’ is baie naby vir die Jode... Dit is ‘n tyd wanneer die hele aarde deur geweld geskud en deur vrees oorweldig sal word... In hierdie verse in Jeremia sien ons in die nabye toekoms ‘n tyd van groot benoudheid vir Israel en Juda, ‘n tyd só geweldig en vernietigend dat dit die Joodse slagting van die Tweede Wêreldoorlog in die skadu sal stel. Die magtige arm van God sal direk in die sake van mense ingryp, en Hy sal die nasies totaal verslaan wat probeer het om Israel en die Joodse volk te vernietig” (bl. 105-106).
Die beklemtoning van hierdie Bybelse scenario is waar, en ook noodsaaklik om die toekoms reg te kan verstaan. Die skrywer laat egter na om die Jode in te lig dat, volgens Sagaria 13:8, soveel as twee-derdes van hulle in hierdie tyd sal omkom omdat hulle die Messias verwerp en verkies het om liewer die valse messias te aanbid, wie se beeld in die herboude tempel opgerig sal word (Dan. 11:31,36). Miskien voorsien die skrywer wél ‘n tragedie van hierdie omvang, omdat hy sê dat dit veel erger as die Joodse slagting sal wees. Gedurende hierdie slagting is 60% van die Jode in Europa op die gruwelikste en mees barbaarse maniere om die lewe gebring.
Watter werklike doel dien dit om mense teen hierdie verwoestende gebeure te waarsku sonder om ‘n duidelike, Bybelse oplossing daarvoor aan te bied, naamlik bekering en die aanvaarding van die Here Jesus as Messias? In ‘n Messiaanse profesie sê Hosea dat die Messias soos ‘n jong leeu vir die huis van Juda sal wees. Hy sal hulle verskeur en dan na sy woning in die hemel terugkeer, wat op sy hemelvaart dui nadat Hy die verstrooiing van Juda aangekondig het omdat hulle Hom verwerp het. Daarna maak Hy die volgende, baie belangrike stelling in verband met Israel se bekering gedurende die komende tyd van benoudheid: “Dan gaan Ek heen, Ek keer na my woonplek [in die hemel] terug, totdat hulle skuld beken en my aangesig soek. In hulle nood sal hulle My soek” (Hos. 5:14-15).
Die oorblyfsel in Israel sal sê: “Kom en laat ons terugkeer tot die Here; want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind. Hy sal ons ná twee dae [van ‘n duisend jaar elk, vgl. 2 Pet. 3:8] lewend maak, op die derde dag [die derde millennium ná Christus] ons laat opstaan, sodat ons voor sy aangesig kan lewe” (Hos. 6:1-2).
‘n Sentrale tema in hierdie boek is die verbond – Israel se verbond met God. Daar word ook van ‘n satanies-geïnspireerde verbond met Islam se valse god melding gemaak, omdat dit deur bose mense gebruik word om Israel van sy erfenis te beroof. Uit Israel se oogpunt is daar egter ook ‘n derde, baie noodlottige verbond wat tot die misleiding en dood van miljoene Jode sal lei, en dit is hulle verbond met die komende valse messias. Die skrywer noem nie dié verbond nie.
Hoe is dit moontlik dat Baruch hierdie belangrike saak kon miskyk? Hy gee baie aandag aan profesieë in Daniël 9 en 12, maar ignoreer die profesie oor die 70 jaarweke in Daniël 9:24-27. Die klaarblyklike rede hiervoor is dat dié profesie bo enige twyfel bewys dat Jesus die Messias van Israel en die Redder van die wêreld is, wat sy lewe vir ons sondes afgelê het.
Die profeet Daniël beskryf die laaste 70 jaarweke (490 profetiese jare van 360 dae elk) wat in die geskiedenis van Israel sal verloop voordat die tyd van ewige geregtigheid vir hulle sal aanbreek (Dan. 9:24-27). Van hierdie tydperk het daar 69 jaarweke (483 jaar) verloop tussen die opdrag deur Artasasta in die jaar 445 v.C. om Jerusalem te herbou (Neh. 2:1-8), en die dood van die Messias aan die kruis in 32 n.C. (“’n Gesalfde word uitgeroei” – Dan. 9:26).
In God se raadsplan vir Israel het die horlosie toe opgehou om te loop, sodat die tyd van die evangelisering van die nie-Joodse wêreld kon verloop. Dit beteken dat Israel tydelik sy posisie as ‘n unieke volk en die verteenwoordiger van God op aarde verloor het. In hierdie tyd kry alle mense op aarde, insluitende die verstrooide Jode, die geleentheid om die Here Jesus as Messias te aanvaar en sodoende deelgenote van sy hemelse koninkryk te word.
Met die huidige herstel van Israel en die stad Jerusalem is ons nou baie naby aan die einde van die tye van die nasies: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24).
Aan die begin van die 70ste jaarweek van sewe jaar sal Israel ‘n verbond met die valse messias sluit: “En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit” (Dan. 9:27). Die valse messias sal as ‘n diplomaat en valse vredevors op die toneel verskyn. Hy sal met al Satan krag beklee wees (Op. 13:2), en hierdie krag gebruik om groot tekens en wonders te doen (2 Thess. 2:9), waardeur hy Israel en die nasies sal mislei om met hom ‘n verbond te sluit. Die Here Jesus het die Jode teen hierdie komende bedrieër gewaarsku toe Hy gesê het: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43).
Die meeste Jode sal hierdie man onmiddellik as hulle messias aanvaar. Hy sal waarskynlik ‘n vervalste geslagsregister gebruik wat hulle sal oortuig dat hy inderdaad aan die stam van Juda behoort en ‘n direkte afstammeling van koning Dawid is. Die wêreldwye vrede en eenheid wat hy sal skep, asook die feit dat hy die Jode sal aanmoedig om die tempel te herbou, sal van hom ‘n nasionale held in Israel maak. Hy sal spoedig ook die held en messias van alle nasies op aarde word.
Israel én alle ander lande sal ondertekenaars van die valse messias se vredesverbond wees, en hy sal van die Mediterreense alliansie van die herstelde Romeinse Ryk gebruik maak om ‘n onbetwiste vredemaker en wêreldleier te word. Met sy magte en diplomatieke vermoëns sal hy feitlik alle mense mislei. Daar sal min mense wees wat dit in die vroeë stadium van sy bewind sou waag om te beweer dat hy met die grootste misleiding en bedrog van alle tye besig is, en dat hy binne ‘n paar jaar die ergste diktator in die wêreldgeskiedenis sal word!
Halfpad deur die sewe jaar periode sal Israel wreed ontnugter word uit die toestand van valse vrede wat hulle vir drie en ‘n halwe jaar lank geniet het (Dan. 9:27). Die valse messias sal homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar en die aanbidding van alle mense op aarde opeis. Hy sal ook ‘n beeld van homself in die tempel laat oprig. Die ware Messias het hieroor gesê:
“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom… moet dié wat in Judea is na die berge vlug; en wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie. Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae. En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie. Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes [Israel] sal daardie dae verkort word” (Matt. 24:15-16, 21-22). Israel sal dus nooit uitgewis word nie.
Die nuwe verbond met die Messias is so uiters belangrik dat Satan alle pogings sal aanwend om Israel en die nasies te mislei om ‘n verbond met die valse messias te sluit. Dit is baie belangrik dat alle mense in staat moet wees om ‘n duidelike onderskeid tussen die ware Messias en die valse messias te tref.
Israel moet dringend tot die besef kom dat hulle Messias 2000 jaar gelede by hulle was. “Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie. Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo” (Joh. 1:11-12). In Nuwe Testamentiese tye is daar geen ander manier om ‘n kind van God te word as net deur die Messias nie.
Selfs al het Israel die Messias verwerp en gekruisig, roep die Here hulle én alle ander mense steeds tot bekering op deur die Messias as hulle Verlosser te ontvang (Hand. 17:30-31). Dit is die enigste manier waarop die oorblyfsel in Israel gered kan word. Die Messias sê: “Oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind. In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem” (Sag. 12:10-11).
“In dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant... Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!... En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (Sag. 14:4-5,9). Wat sal die eerste woorde wees wat die oorblyfsel in Israel aan hulle komende Koning sal rig wat van die troon van Dawid af sal regeer? “Watter wonde is daar tussen u hande?” Hy sal antwoord: “So is Ek geslaan in die huis van my vriende” (Sag. 13:6).
Israel besef duidelik nie dat die regerende Messias wat aan die einde van die verdrukking kom, dieselfde Persoon is wat tweeduisend jaar gelede as die lydende Messias gekom het nie. Hy sal steeds die wonde aan sy hande en voete hê wat Hy tydens sy kruisiging opgedoen het. Jesaja sê: “Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid... Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en ons smarte – dié het Hy gedra... Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom” (Jes. 53:3-5).
Hy is nie net die Messias en Verlosser van Israel nie, maar van die hele wêreld. Die Here sê van Hom: “Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde” (Jes. 49:6).
Die engel van die Here het aan Josef, Jesus se aardse vader, gesê: “Jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (Matt. 1:21). “Jesus” (Heb. “Yeshua”) beteken “Die Here is Verlossing.” Hoe anders kan Israel van hulle sondes verlos word?
Baruch Battelstein weet dat die Messias in Israel gebore moes word. Hy sê: “Isak was waarlik uniek omdat dit slegs deur sy bloedlyn is dat Jakob gebore sou word, deur Jakob se bloedlyn sou later koning Dawid kom, en deur sy bloedlyn die Messias” (bl. 13). Die geslagsregister van Jesus as ‘n afstammeling van Dawid in die stam van Juda word duidelik in die Bybel genoem (Matt. 1:1-17), en dit is nie deur een van die Joodse kenners of leiers van daardie tyd betwis nie. Daar is geen huidige Joodse familie wat hulle direkte afkoms in die senior, koninklike linie van Dawid af kan bewys nie. Israel kan slegs vir Jesus, die Seun van Dawid, as hulle Koning aanvaar, of hulle sal deur ‘n valse koning regeer word wat verkeerdelik sal voorgee dat hy die “nuwe Dawid” is.
Die outeur skenk baie aandag aan die huidige fase van Israel se herstel. Hy wys heeltemal tereg daarop dat die land vir eeue lank al “Israel” of “die berge van Israel” genoem is, en nie Palestina of die Wesbank nie (bl. 49-51). Die Israeli-regering word sterk gekritiseer omdat hulle met die VSA se Padkaart saamwerk om hulle land te verdeel. Hulle is ontrou aan Israel se goddelike mandaat oor die land, en verdeel nou die land ter wille van vrede, terwyl daar geen vrede is nie (bl. 23-25). Op dié manier sal hulle net hul probleme vererger.
Hy sê dat die internasionale gemeenskap “die Islamitiese verbond vir een spesifieke rede aanvaar het, en dit is om die land te verdeel en dit aan ‘n volk as besitting te gee wat ‘n vreemde god, Allah, aanbid” (bl. 46). Volgens Joël 3:2,11-15, sal God die nasies oordeel omdat hulle Israel se grondgebied verdeel het. Dit is ‘n baie ernstige saak hierdie wat nie deur die leiers van die nasies verstaan word nie. Die wêreld is toenemend besig om die toorn van God uit te lok omdat hulle die Messias verloën en verwerp, en ook vir Israel vervolg, benadeel en hulle land verdeel. Wat hou die nabye toekoms in?
Dit is paslik om hierdie boekbespreking af te sluit met ‘n beoordeling van wat die skrywer in sy Voorwoord gesê het: “In Julie 2005 is Israel ‘n volk wat by ‘n historiese vurk in die pad gekom het... die een pad wat reguit aangaan, het ‘n padteken met die woorde: ‘God se pad’ en die vurk na die linkerkant toe ‘n teken met die woorde: ‘Die mens se pad.’ Die ideologie van die mens se pad is dié van ‘geen keuse nie.’ Die mantra daarvan is ‘vrede teen enige prys!’ Die ideologie van ‘geen keuse nie’ word baie sterk in Israel aangehang.”
Is daar regtig net twee paaie waartussen Israel moet kies? By nadere ondersoek is dit duidelik dat daar drie paaie voor Israel is. Die een na die linkerkant toe is wel die onbybelse pad van die verdeling van die land deur ‘n tweestaat-oplossing na te streef – Israel en Palestina. Die een na die regterkant toe is die Ortodokse Joodse pad waarin hulle volle beheer oor die land, die stad Jerusalem en die Tempelberg wil neem sonder om Jesus as die Messias te erken. Dit is onuitvoerbaar. Die derde een is die pad reguit vorentoe, wat die Here Jesus se pad is. Hy is “die weg, die waarheid en die lewe” (Joh. 14:6). Net die verlostes van die Here is op hierdie nuwe en lewende weg, en sal in die finale oorwinning oor God se vyande by die slag van Armageddon aan die kant van die Oorwinnaar wees, en ook saam met Hom in sy vrederyk regeer. Dit is die smal en onpopulêre pad waarop net ‘n minderheid van die mensdom is.
Die vurk na die linkerkant toe lei na die nuwe wêreldorde wat spoedig onder die regstreekse beheer van die universele messias van alle gelowe sal wees. Hy is die valse messias of Antichris, wat ‘n misleidende eenheid en broederskap sal aankondig waarin al die voorheen vyandige volke, opponerende bewegings en strydende godsdienste sal saamkom en hande vat. Die oordele van God sal in die groot verdrukking, en spesifiek ook tydens die wederkoms van Christus, oor die valse messias en sy volgelinge uitgestort word. Die Here sê dat Hy al die nasies sal versamel om teen Jerusalem te veg, waar Hy hulle dan sal vernietig (Sag. 14:2,12-13). Hulle sal onder die bevel van die valse messias wees, en hulle hoofdoel sal wees om oorlog te voer teen die Messias wat met sy wederkoms sy voete op die Olyfberg sal sit (Sag. 14:5; Op. 19:19). Dit sal vir die valse messias ‘n oorlewingstryd wees, omdat die koms van die ware messias die einde van sy sataniese nuwe wêreldorde sal wees. Dit is die rede waarom hy met die behulp van demone alle moontlik militêre magte op aarde vir hierdie oorlog sal mobiliseer (Op. 16:13-16).
Die vurk na die regterkant toe verteenwoordig Ortodokse Judaïsme. Die valse messias sal hulle op ‘n baie slinkse manier mislei en manipuleer om ‘n verbond met hom te sluit, wat hulle ook sal doen. Hy sal aan hulle die reg verleen om die tempel te herbou, waarin hulle hul grootliks sal verbly. Die valse messias weet dat die hervatting van die offerdiens in die tempel die voortgesette verwerping van Jesus, die ware Lam van God, se eenmalige offer sal verseker. Hy sal ook die tempel nodig hê om homself in die Allerheiligste daarvan tot God te verklaar (Dan. 11:36-37; 2 Thess. 2:4). Hierdie ekstreme daad van selfvergoddeliking sal egter na die verbreking van Israel se verbond met die valse messias lei, asook na hulle vlug na die woestyn en die uiteindelike aanvaarding van die ware Messias deur ‘n oorblyfsel van hulle.
Die Bybelse pad reguit vorentoe, is die Here Jesus se pad. Op die oomblik word sy dissipels vervolg deur ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê. Jesus het hulle gewaarsku: “In die wêreld sal julle verdrukking hê, maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin” (Joh. 16:33). Hy het ook gesê: “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het” (Joh. 15:18).
Ware Christene oral ondervind een of ander vorm van weerstand en verwerping deur die wêreld – in sekere samelewings meer as in ander. Paulus het aan Messiaanse Jode gesê: “Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra” (Heb. 13:13). Hy het hulle daardeur vermaan om nie geheime volgelinge van die Messias te wees nie, maar om buitekant die kamp van Ortodokse Judaïsme te gaan en in die openbaar sy smaad as die verwerpte Messias te dra. Aan Timotheus het hy gesê: “As ons verdra, sal ons met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën” (2 Tim. 2:12). Petrus het gesê dat dit ‘n eer is om ‘n deelgenoot aan die Messias se lyding te wees (1 Pet. 4:12-13).
Die kritieke faktor in al hierdie gebeure is die Messias, Jesus. Hy is bestem tot ‘n val en ‘n opstanding van baie in Israel en tot ‘n teken wat weerspreek sal word (Luk. 2:34). Israel én alle ander mense op aarde se toekoms hang ten nouste van hulle verhouding teenoor Jesus Christus af. Ons kom tot ‘n ewige val as ons Hom nie as ons persoonlike Verlosser ken nie, maar vir almal wat Hom ken, is Hy die opstanding tot die lewe (Joh. 11:25). Hy het gesê: “Salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie” (Matt. 11:6).
Baruch het ‘n baie belangrike stelling gemaak dat die regverdige uit die geloof sal leef, en dat die Abrahamitiese verbond bedoel was om ‘n seën vir Israel én alle nasies te wees. Ou Testamentiese beloftes is egter soos saad wat in hulle bestemde tyd moet ontkiem, groei en tot volle wasdom kom. Daar is so baie Messiaanse profesieë wat letterlik in die lewe van Jesus as die lydende Messias vervul is, dat dié wat op sy wederkoms dui wanneer Hy in mag en majesteit as die Koning van die konings en die Here van die here sal kom, net so ernstig opgeneem moet word. Deur pogings om sy status as Messias te ontken, word Israel en die nasies van God se enigste voorsiening vir die versoening van mense se sondes ontneem. Niemand kom na die Vader behalwe deur Hom nie (Joh. 14:6).
Die voortgesette verloëning van die Messias sal die oordele wat met die tyd van die benoudheid vir Jakob in verband staan, verhaas. Net die ware dissipels van Jesus sal die oordele ontvlug. Hy het gesê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe” (Joh. 5:24). Baruch, indien Israel geestelik dood is, van die eerste minister af tot by die rabbi, is daar net een oplossing en dit is die belofte van die ewige lewe wat steeds deur die Messias aan Israel en nasies gebied word. “Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie” (1 Joh. 5:12).
Wie is hierdie “Seun”? Hy is as ‘n Joodse Kind in die huis van Dawid gebore, maar Hy is ook die “Sterke God” en “Emmanuel” – God met ons (Jes. 7:14; Matt. 1:23). Die Joodse profeet Jesaja sê: “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk” (Jes. 9:5-6). Paulus het die vervulling van hierdie profesie bevestig toe hy gesê het dat die Messias uit Israel gebore is, en dat Hy “oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid” (Rom. 9:4-5).
Hoe is dit moontlik dat ‘n “Seun” wat in die koninklike familie van Israel gebore is, nie net bestem is om hulle Koning op die troon van Dawid te wees nie, maar ook as die “Sterke God” en “Ewige Vader” beskryf word? Sagaria sê van Hom: “Die Here my God sal kom... en die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (Sag. 14:5,9). Hy is die grote God wat een is met die Vader! Johannes noem Hom die “Woord” en sê: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Joh. 1:1-3). Hy is God wat van alle ewigheid af bestaan. Dit is waarom Jesus aan die Jode gesê het: “Voordat Abraham was, Is Ek” (Joh. 8:58). “As julle nie glo dat dit Ek Is nie, sal julle in jul sondes sterwe” (Joh. 8:24).
Hy is ook die Skepper van die wêreld (vgl. Kol. 1:15-17). Hy is dus in ‘n skeppende sin, nie in ‘n verwekkende sin nie, die Ewige Vader van die skepping. In die volheid van die tyd het Hy “vlees geword en onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid” (Joh. 1:14). Hoe het Hy vlees geword? Die Bybel sê:
“In die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na ‘n stad in Galilea met die naam van Nasaret na ‘n maagd wat verloof was aan ‘n man met die naam van Josef, uit die huis van Dawid; en die naam van die maagd was Maria... En die engel sê vir haar... Kyk, jy sal swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid” (Luk. 1:26-33).
Daniël verwys ook na Hom as die Seun van die mens: “...met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens” (Dan. 7:13). Aangesien Hy “God” is, asook “Seun van die mens” in die huis van Dawid, word dit duidelik gestel dat Hy mens geword het deur in ‘n Joodse familie gebore te word. Daarna het Hy na die hemel toe opgevaar ten einde in staat te wees om daarvandaan as die “Seun van die mens” neer te daal. Hy kon nie in die hemel “mens” geword het nie. ‘n Ander bewys dat Hy as die Seun van die mens op aarde was, is die wonde aan sy liggaam. Hy het dié wonde beslis nie in die hemel opgedoen nie!
Ek het aan ‘n plaaslike rabbi die feit genoem dat die Joodse Messias volgens die beskrywing van Sagaria wonde in sy hande het, waarmee die rabbi saamgestem het, en ek wou van hom weet waar die wonde vandaan kom. Hy het gesê dat hy nie weet nie, en dat die Jode dit ook nie sal weet wanneer die Messias op die Olyfberg in Jerusalem verskyn nie, daarom hulle vraag: “Watter wonde is daar tussen u hande?” (Sag. 13:6). Nadat die Messias aangedui het dat Israel Hom verwond het, sal hulle oor Hom ween. In ‘n Messiaanse profesie sê die Messias: “...hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het” (Sag. 12:10; my beklemtoning).
Kort voor sy kruisiging het die Messias na die wonderlike gebeurtenis van sy wederkoms as die “Seun van die mens” verwys. Dit sal aan die einde van die tyd van benoudheid vir Jakob gebeur, wat ‘n tyd van wêreldwye verdrukking en goddelike oordele sal wees:
“En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:29-30). Diegene wat oor Hom sal rou bedryf, sal nie net die oorblyfsel in Israel wees nie, maar ook ‘n oorblyfsel Egiptenare, Palestyne, Siriërs, en mense uit alle ander nasies.
Jesaja verwys na die inklusiewe aard van die Messias se toekomstige koninkryk op aarde: “En die Here sal die Egiptenaars slaan... en hulle sal hulle tot die Here bekeer, en Hy sal hulle verhoor en hulle genees. In dié dag [dit is die dag van die Here in die komende vrederyk] sal daar ‘n grootpad wees van Egipte na Assirië en Assiriërs sal in Egipte kom en Egiptenaars in Assirië; en Egipte sal saam met Assirië die Here dien. En in dié dag sal Israel die derde wees naas [saam met] Egipte en Assirië, ‘n seën in die midde van die aarde, omdat die Here van die leërskare hom geseën het met die woorde: Geseënd is my volk Egipte en my maaksel Assirië en my erfdeel Israel!” (Jes. 19:23-25).
Dit is die groter prentjie. Teen daardie tyd sou die Messias as die “saad” van Abraham sy sending vervul het om die lig van ‘n donker wêreld en God se heil tot aan die eindes van die aarde te wees (Jes. 49:6). ‘n Groot menigte uit alle nasies sal dan gered wees: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16).