Moslem-oorlog Teen Israel en sy Bondgenote

Johan Malan, Suid-Afrika

Opsomming: Verskeie ekstremistiese Moslemgroepe het hulle daartoe verbind om ‘n “heilige oorlog” (jihad) teen Israel en sy bondgenote te voer.

Die vyande van Israel word deur ‘n demonies geïnspireerde haat aangevuur, wat ook teen die God van die Bybel gerig is:

“O God, hou U nie stil nie, swyg nie en rus nie, o God! Want kyk, u vyande maak rumoer, en u haters steek die hoof op. Teen u volk smee hulle listig ‘n plan en hou onder mekaar raad teen u verborgenes. Hulle sê: Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie. Want hulle het van harte saam raad gehou; teen U sluit hulle ‘n verbond: die tente van Edom en die Ismaeliete, Moab en die Hagareners, Gebal en Ammon, en Amalek, Filistea saam met die inwoners van Tirus. Ook het Assur by hulle aangesluit… [Hulle] sê: Laat ons die woninge van God vir ons in besit neem! My God, maak hulle soos strooi, soos stoppels voor die wind. Soos vuur wat ‘n bos verbrand” (Psalm 83:1-9, 13-14).

Dit is duidelik dat Israel se pre-Islamitiese, Ou Testamentiese bure ‘n godsdienstig geïnspireerde uitwissingsoorlog teen die volk van God beplan het. Hulle wou nie alleen hierdie volk van die aarde af uitdelg nie, maar hulle sameswering was ook teen die God van Israel gemik. Hulle wou sy wonings vir hulleself in besit neem. Dit dui op beheer oor die Tempelberg in Jerusalem sodat die heiligdomme van Israel se vyande daar kon verrys.

Dieselfde stryd word met nóg groter ywer in die moderne tyd teen Israel gevoer. Sedert die optrede van Mohammed vroeg in die sewende eeu n.C. was die Moslem geloof die samesnoerende faktor tussen die Arabiese volke in die Midde-Ooste. Die invloed en mag van hierdie volke word nie alleen deur hulle olierykdom versterk nie, maar ook deur die feit dat Islam se invloed reeds baie ver oor die aarde uitgebrei het. 20% van die wêreldbevolking is tans Moslems, en dit is ‘n totaal van 1,4 miljard mense.

Islam se radikale visie van ‘n wêreld onder die politieke en godsdienstige beheer van Allah maak daarvan die grootste antichristelike godsdienstige mag in die moderne wêreld. Baie Christene is nie bewus van die volle implikasies van die opkoms van Islamitiese state in die Midde-Ooste nie. Hulle besef nie dat dié state se magsuitbreiding op die vestiging van ‘n omvattende Islamitiese ideologie in die wêreld gerig is nie. Hierdie ideologie is vyandig teenoor alle ander ideologieë en godsdienste in die wêreld.

Islam het ‘n diep gewortelde afkeer van Judaïsme en die Christendom omdat dit homself as die eksklusiewe en enigste egte monoteïstiese godsdiens sien. Dit is waarom sy aanhangers hierdie geloof in die hele wêreld as die belangrikste en selfs enigste godsdiens wil vestig. Geweld word uitdruklik vir die bereiking van dié ideaal geregverdig.

Ideologiese dryfkrag vir radikalisme

Die ideologiese dryfkrag agter die terreurveldtog teen Israel, Amerika en hulle bondgenote is duidelik in die Moslem-geloof self geleë. Hierdie geloof genereer revolusionêre, anti-kapitalistiese, anti-Christelike en anti-Joodse gesindhede. In sy boek, Muslim Society (1983) sê prof. E. Gellner:

“Van al die wêreldgodsdienste blyk dit dat Islam die grootste politieke ondersteuning in die 20ste eeu geniet. Dit onderskraag ‘n aantal regerings wat geweldig tradisioneel en konserwatief is, maar is ook in staat om intense revolusionêre gesindhede aan te blaas en met uiterste radikalisme te verenig. As ‘n middel vir politieke mobilisasie [het] Islam Marxisme verbygesteek, asook alle ander godsdienste.”

In ‘n artikel “A religion that sanctions violence” sê Patric Sookhdeo, die direkteur van die sentrum vir die Studie van Islam en die Christendom, die volgende in die Londense “Daily Telegraph” van 17 September 2001:

“The contradictory  reactions to the terrorist attacks… are an indication that Islam is not always ‘a religion of peace.’ There are so many Muslims rejoicing at the tragic loss of American lives and the humiliation of the American government that they cannot be dismissed as a few extremists.

“Sura 9 verse 5 of the Koran reads, ‘Then fight and slay the Pagans [non-Muslims] wherever ye find them. And seize them, beleaguer them, and lie in wait for them in every stratagem [of war].’ The note that accompanies this verse in the respected  A. Yusuf Ali translation states that ‘when war becomes inevitable it must be pursued with vigour… The fighting may take the form of slaughter, or capture, or siege, or ambush and other stratagems.’

“In the Muslim faith, the Koran is believed to be the very word of God, applying to all people, in all times, in all places. It is the source of the Muslim faith and the law that orders the Islamic way of life. Killing is not… forbidden. In fact, it was through conquest that Islam spread. In Indonesia today, non-Muslims are offered a choice of conversion to Islam or death. The argument that the above verse was written to refer only to a particular time and people is not valid. The Koran is considered immutable…

“The development of Shariah, Islamic law, created a society where non-Muslims lived as second-class citizens, subject to and humiliated by numerous laws. Those who converted from Islam to another religion were killed, a practice that continues in Afghanistan, Iran and Saudi Arabia. Koran Sura 5 verse 85, which speaks of enmity between Muslims and non-Muslims, reads: ‘Strongest among men in enmity to the [Muslim] Believers wilt thou find the Jews and Pagans.’

“The World Trade Centre attack cannot be dismissed as merely the work of a small group of extremists. The Muslims celebrating the tragedy in America are doubtless recalling the words of the Koran, urging Moslems to ‘fight a mighty nation, fight them until they embrace Islam.’

“Although there might be moderate elements within Islam, it is the extremist elements that have tended to dominate the development of the religion, with often tragic consequences.”

In die lig van die verklaarde vyandskap teenoor nie-Moslems word die aanhangers van dié geloof geheel en al ontmoedig om hulle met Jode en Christene te bevriend, omdat dit hulle geestelik sal besoedel en die wraak van Allah op die hals sal haal. In Sura 5:56 van die Koran staan daar: “o Gelowiges, moenie vriende maak met die Jode of Christene nie. Hulle is net vriende van mekaar. As enigeen van julle hulle vriende word, sal julle net soos hulle word! Allah sal nie boosdoeners lei nie.”

Interne verdeeldheid

As gevolg van interne verdeeldheid wat oor baie jare ontstaan het, is verskeie Moslemgroepe ideologies en godsdienstig erg verdeeld. Daar is sowat 150 groeperinge onder hulle, waarvan die volgende die belangrikste is.

Die Sjiïete is een van die oudste groepe wat wydverspreid is. Iran het ‘n Sjiïetiese staatsgodsdiens.

Die Soenniete is een van die mees ortodokse groepe. Hulle het uit die Soefiste ontwikkel, wat, waarskynlik onder Boeddhistiese beïnvloeding, ‘n baie mistiese godsdiensvorm ontwikkel het. Die inwoners van Afghanistan is Soenni-Moslems.

Die neo-Ismaeliete word in Pakistan en Indië aangetref.

Die Wahabiete is ‘n sterk puriteinse stroming uit die 18de eeu.

Die Achmaddieja het in 1880 ontstaan. Hulle sê dat Christus nie aan die kruis gesterf het nie, maar na die Ooste getrek het waar Hy in Kasjmir gesterf het en begrawe is.

Leerstellings

Mohammed het gesê: “Daar is geen God behalwe Allah nie, en Mohammed is sy profeet.” Dit is die basiese Moslem leerstelling wat as die Kalima bekend staan. Hierby het hy gevoeg dat die ewige lewe op grond van ‘n individu se goeie werke verkry word. Die reëls vir ‘n goeie lewe staan as Die Vyf Pilare van Islam bekend. Hulle is:

·       Die Kalima geloofsbelydenis wat korrek en hardop uitgespreek moet word.

·       Gebede moet vyf keer per dag gedoen word – teen dagbreek, in die middag, die agtermiddag, die aand en in die nag, terwyl die persoon in die rigting van Mekka neerbuig.

·       Bydraes moet vir die uitbreiding van Islam gemaak word, en ook vir die onderhoud van die armes en siekes.

·       In die maand Ramadan moet daar gevas word.

·       ‘n Pelgrimstog na Mekka moet ten minste een keer in ‘n persoon se lewe onderneem word.

Volgens sekere bronne word daar ook ‘n sesde pilaar bygevoeg, naamlik dié van ‘n heilige oorlog (jihad) as ‘n metode om alle mense aan die gesag van Allah te onderwerp. In die verskillende Moslem sektes is daar fundamentele, ekstremistiese groepe wat baie sterk op die verbintenis tot ‘n jihad staan.

Die uitbreiding van Islam

Deur trekarbeid en emigrasie na ander lande verbrei Islam ook hulle geloof en ideologie. Daar is tans bv. 3,1 miljoen Moslems in Duitsland, waarvan sowat 3200 as potensiële ekstremiste geklassifiseer word. Die Duitse intelligensiediens raam dat daar 30 Islamitiese terroriste-selle in hulle land is, wat deel van ‘n wêreldwye terreurnetwerk is. Duitsland se minister van binnelandse sake, Otto Schily, meen dat die aanvalle op die VSA net die eerste golf van verskeie verdere aanvalle is. Volgens die nuusblad Stern beplan ‘n groep Arabiese terroriste ‘n aanval op die NAVO-hoofkantoor in Brussels.

Hoewel die fundamentele, ekstremistiese groepe ‘n minderheid in die meeste Moslemlande is, wen hulle beweging baie vinnig populêre steun in die Moslemwêreld. Daar is tans groot populêre steun vir ‘n jhad teen Israel en Amerika in lande soos Iran, Irak, Sirië, Libië, Libanon, Afghanistan, Pakistan (hoewel nie hulle regering nie), Egipte (ook nie van regeringskant af nie), Indonesië, asook onder die Palestyne in Israel. Soos in die Islamitiese revolusie in Iran bewys is, kan revolusionêre fundamentalisme vinnig tot ‘n massa-beweging onder die hele gemeenskap uitbrei.

‘n Verskeidenheid metodes word gevolg om die verdere uitbreiding van Islam te verwesenlik. Aan die een kant van die spektrum is daar vreedsame metodes soos die ekumeniese gelykstelling van alle gelowe binne ‘n multigodsdienstige verband. Sodoende word die Christendom in die Weste sy posisie in ‘n Christelik-nasionale bestel ontneem, sodat veral Islam sy invloed sonder noemenswaardige teenkanting kan uitbrei. Dit doen hulle deur finansiële steun aan arm lande, die vertaling en verspreiding van die Koran, asook die bou van moskees as aanbiddingsplekke.

Aan die ander kant van die spektrum is daar die gebruik van openlike geweld en konfrontasie om Islam se invloedsfeer uit te brei en sy opponente aan die beheer van Islamitiese regerings te onderwerp. ‘n Jihad, of heilige oorlog, word teen die teëstanders verklaar en die stryd word deur militêre mag of sabotasie gevoer. Mohammed het die swaard bo ander metodes van uitbreiding verkies. Hy het gesê dat ‘n dag en ‘n nag met die swaard beter as 30 dae van vas en gebed is. Sodoende het hy geweld en oorlogvoering tot ‘n spesiale deug verhef. Tussen 622 en sy dood in 632 het Mohammed 66 oorloë gevoer en die hele Arabiese skiereiland vir Islam verower. In moderne tye, veral ná die herstel van Israel in 1948, neem die jihadiste weer vinnig toe. Daar is verskeie terroristegroepe en fundamentele Moslemgroepe wat ‘n jihad teen Israel en sy bondgenote voer, omdat die Arabiere telkens in oorloë teen Israel verneder is.

Daar word deur die Moslems geglo dat elkeen wat in ‘n jihad sterf, reguit paradys toe gaan. Sulke mense, wat eintlik lafhartige moordenaars is, word as helde in die oorlog van Islam vereer.

Internasionale terrorisme word tot ‘n groot mate georganiseer en gefinansier deur radikale Islamitiese groepe in lande soos Libië, Iran, Irak, en die afgelope dekade ook deur die multi-miljoenêr, Osama Bin Laden uit Afghanistan. Die mees brutale geweld teen onskuldige mense word as die goddelike toorn van Allah geregverdig. Die godsdienstige sanksionering van geweld inspireer die verblinde jihadiste om hulle lewens in selfmoordekspedisies af te lê onder die misleidende idee dat hulle hul oë in die paradys sal oopmaak waar Allah hulle vir hul dade sal prys en beloon.

Verskillende jihadistiese groepe

Die volgende is van die bekende fundamentalistiese groepe wat hulle vir ‘n jihad beywer – óf teen hulle eie regerings, óf teen Israel en sy bondgenote:

Al-Gama’a Al-Islamiya (Die Islamitiese Groep). Dit is Egipte se grootste radikale Moslemgroep wat van 1992 tot 1997 ‘n gewelddadige veldtog teen die Kaïro regering gevoer het met die oog daarop om ‘n fundamentele Islamitiese staat te stig. Meer as 1200 Egiptenare en verskeie toeriste is in die geweldpleging dood. Onder druk van die regering het die groep in Maart 1998 ‘n vrede met die Egiptiese regering gesluit. Daar word vermoed dat verskeie van dié groep se lede sedertdien by Osama Bin Laden se Al-Qaeda groep aangesluit het.

Al-Jihad (Heilige Stryd). Egipte se tweede-grootste militante groep, onder die leiding van Ayman Zawahri, is in 1998 binnelands verswak toe die groep ‘n alliansie met Bin Laden aangegaan het. Zawahri het sedertdien Bin Laden se regterhand geword.

GIA (Gewapende Islamitiese Groep). Algerië se mees radikale en militante groep, die GIA, is gevorm tydens ‘n Islamitiese rebellie wat uitgebreek het nadat die regering die verkiesing gekanselleer het omdat dit op ‘n oorwinning vir die radikales afgestuur het. Die GIA is in die lewe geroep deur Algeriërs wat in die 1980’s saam met Bin Laden se magte teen die Sowjet besetting van Afghanistan geveg het. Bin Laden word ook daarvan verdink dat hy die GIA se netwerk vir die bevordering van sy aktiwiteite in Europa gebruik.

Hamas (Islamitiese Weerstandsbeweging). Dit is die grootste Palestynse fundamentalistiese groep wat spesifiek teen Israel veg. In een van sy aanvalle in Junie vanjaar het ‘n selfmoord-bomaanvaller 21 Israeli’s buite ‘n disco in Tel Aviv om die lewe gebring. Hierdie groep is teen vredesooreenkomste met Israel gekant en streef na Palestynse onafhanklikheid.

Islamitiese Jihad (Islamitiese Heilige Oorlog). Lede van dié groep het in die 1990’s verskeie selfmoordbomaanvalle in Israel uitgevoer, waarin dosyne mense dood is. Hulle stel ook hinderlae op. Hulle veg teen wat hulle ‘die Joodse besetting van die Palestynse grondgebied’ beskryf.

Hizboellah (Party van Allah). Hierdie groep is ná Israel se 1982-inval in Libanon deur Iranse revolusionêre wagte gevorm. Aanvalle deur Hizboellah guerrillas wat deur Sirië en Iran gesteun word, het daartoe gelei dat Israel in Mei 2000 sy 22 jaar lange besetting van Suid-Libanon beëindig het.

Al-Qaeda (Die Netwerk van Bin Laden). Volgens ‘n artikel deur Ahmed Rashid in die Londense Telegraph van 16 September beheer Bin Laden ‘n uitgebreide netwerk van terreur met spioene en agente in 34 lande. Dit neem die vorm van ‘n sel-organisasie aan met net sowat vyf persone in elke sel, wat meesal onafhanklik van die ander selle funksioneer. Wanneer ‘n bepaalde sel ontbloot en uitgwis word, dan gaan die res ongehinderd met die beplanning en uitvoering van hulle onheilswerk voort. Hierdie organisasie bestaan al van die vroeë 1990’s af, ná Amerika en sy bondgenote se Golf-oorlog teen Irak. Die meeste agente is werkende burgers in hul gasheerlande waar hulle vir jare lank in fyn detail vir aanvalle beplan. Hoewel die opleiding, finansiering en oorhoofse beheer van die selle van Bin Laden se basis (Al-Qaeda) af kom, is sommige selle selfonderhoudend en het ook hulle eie agenda vir terreur. Al Qaeda het homself letterlik goed ingegrawe vir die stryd. Bin Laden, in samewerking met Noord-Korea, het reeds ondergrondse tonnels in verskeie lande laat grawe (o.a. Afghanistan, Irak en Sirië) waar terreurwapens geberg word en soldate teen lugaanvalle skuiling kan neem.

Die stryd teen Israel

Israel is een van die primêre teikens in die Islamitiese wêreldrevolusie. In sy boek “The Great Deception: Philistine” haal Ramon Bennet vir Jasser Arafat van die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PBO) soos volg aan: “Vrede vir ons beteken die vernietiging van Israel. Ons berei vir ‘n volskaalse oorlog voor… Ons sal nie rus tot die dag wanneer ons na ons land kan terugkeer en Israel vernietig is nie.”

Hierdie revolusionêre gesindheid blyk duidelik uit die konstitusie van die PBO. Uittreksels van enkele artikels daarvan lui só:

“‘n Gewapende stryd is die enigste manier waarop Palestina bevry kan word. Dit is die oorkoepelende strategie en nie slegs ‘n taktiese fase nie. Die Palestynse Arabiese mense bevestig hulle vasberadenheid en onwrikbare besluit om met die gewapende stryd voort te gaan, en om hulle vir ‘n gewapende populêre revolusie vir die bevryding van hulle land te beywer, asook vir hulle terugkeer daarheen. Hulle bevestig ook hulle reg om hier te woon en hulle soewereiniteit en selfbeskikkingsreg te beoefen” (Artikel 9).

“Sionisme is as ‘n politieke beweging ten nouste met internasionale imperialisme geassosieer… Dit is rassisties en fanaties van aard, aggressief, ekspansionisties en kolonialisties in sy doelstellings, en Fascisties in sy metodes. Israel is die instrument van die Sionistiese beweging, en ‘n geografiese basis vir wêreldimperialisme wat strategies binne-in die Arabiese tuisland geplaas is om die hoop van die Arabiese nasie vir bevryding, eenheid en vooruitgang te beveg. Israel is ‘n konstante bron van bedreiging vir vrede in die Midde-Ooste én ook in die hele wêreld…” (Artikel 22).

“Die eise van veiligheid en vrede, sowel as die eise van reg en geregtigheid, eis van alle state dat hulle Sionisme as ‘n onwettige beweging sal beskou, om sy bestaan onwettig te verklaar en al sy aktiwiteite te verban” (Artikel 23).

Hieruit is dit duidelik dat Israel sy voortbestaan geheel en al ontsê word, en dat Sionisme met rassisme gelykgestel word, soos ook op die onlangse konferensie oor rassisme in Durban deur die Moslems gepoog is om te doen. Dit is duidelik dat Israel deur die PBO konstitusie as ‘n basis vir imperialisme beskou word – veral Amerikaanse imperialisme – en dat die Palestyne vir Israel om hierdie rede totaal wil uitdelg.

Dr. Joseph Chambers, die leier van ‘n groot Christelike bediening in die VSA, sê dat alle nasies hulle op ‘n wêreldwye jihad moet voorberei. Wat in Jerusalem en Israel gebeur, is besig om na die res van die wêreld uit te brei. Die aanvalle op New York en Washington is deel van hierdie internasionale aanslag deur ekstremistiese Moslems. Die vals, heidense godsdiens van die Koran dryf mense tot ondenkbare dade van wreedheid. “Hoe keer ‘n mens miljoene aanhangers van ‘n geloof wat van moordenaars verheerlikte martelare maak?” vra dr. Chambers.

Groot getalle kinders én volwassenes word gebreinspoel om selfmoord-bomaanvalle op Jode en Christene te doen. In hierdie jihad wil hulle nie net die Israeli’s uitwis nie, maar uiteindelik ook almal wat in die Bybel glo. Lande wat vir Israel steun, veral die VSA, word spesiaal vir aanvalle geteiken omdat hulle die Moslem-ideaal van die oorname en uitwissing van Israel, en in die besonder hulle oogmerk om die beheer oor Jerusalem, in die wiele ry.

Die aanval op Amerika

Die geweldige terroriste-aanval op Amerika op 11 September is deel van radikale Moslemgroepe se stryd teen Israel en sy Christelike bondgenote. Amerika word deur hulle as “die groot Satan” beskou. Volgens hierdie groepe sou Israel lankal voor die Islamitiese aanslag geswig het as Amerika hulle nie gehelp en bewapen het nie. Alle pogings word nou aangewend om Amerika te laat besef hoe gevaarlik dit kan wees om voort te gaan om Israel te ondersteun.

As gevolg van Saddam Hoesein se neerlaag teen Amerika en die geallieerde magte in die Golf-oorlog van 1990, het militante Moslemgroepe hulle tot ‘n georganiseerde terroristestryd gewend om Israel en sy bondgenote ekonomies, sielkundig en militêr te ondermyn en te intimideer. Dit is in die lig hiervan dat Osama Bin Laden en sy internasionale groep terroriste se optrede beoordeel moet word.

Daar is ‘n groot logistieke probleem verbonde aan die gepoogde vernietiging van hierdie terreurstruktuur. ‘n Pakistanse amptenaar het gesê: “Die bombardering van Afghanistan en Bin Laden sal net die punt van die boom wegneem. Dit sal nie die res van die takke raak nie, wat oral versprei is.”

Bin Laden is lid van ‘n skatryk Saoedi-Arabiese familie wat groot konstruksiemaatskappye beheer. Sy persoonlike rykdom word deur die Amerikaanse CIA op digby twee miljard rand (160 miljoen Britse pond) geraam. Hy vul sy rykdom verder deur dwelmsmokkelary en ander vorms van onwettige handel aan.

Hierdie aartsterroris maak op groot suksesse en oorwinnings aanspraak. Hy eis ‘n groot deel van die krediet op vir Afghanistan se oorwinning teen die Sowjet-Unie se Rooi Leër, asook die buit van gesofistikeerde Russiese wapens. Bin Laden se magte het saam met dié van die Afghane teen die USSR geveg. Hy sê ook dat hy hierdeur ‘n aandeel in die latere verbrokkeling van die USSR het, en het ook gesê dat hy Amerika gaan reduseer tot net ‘n skaduwee van wat dié magtige land tans is.

Dit is ook duidelik dat Saddam Hoesein van Irak óf kop-in-een-mus met Bin Laden is, óf dat hy met sy eie handlangers en medewerkers ‘n soortgelyke stryd teen Amerika en Israel voer.

Polarisasie in die Moslemwêreld

Baie mense is verbaas oor die groot mate van steun wat Amerika ook van verskeie Moslemstate kry om Afghanistan aan te val en Bin Laden se terreurnetwerk uit te wis. Sal dit nie die Moslemwêreld se gepoogde oorname en uitwissing van Israel in die wiele ry nie?

Volgens Daniël 11 is daar duidelike sprake van ‘n eindtydse militêre en ideologiese polarisasie in die Moslemwêreld. Dit word as die stryd tussen die koning van die Noorde en die koning van die Suide beskryf. Die koning van die Noorde dui op Assirië [die huidige Sirië en Irak] en die koning van die Suide op Egipte. Beide hierdie groepe is steeds Arabiese lande, wat sedert die 7de eeu die Moslemgeloof aanhang.

Die stryd tussen dié twee ryke word van Daniël 11:36 af na die eindtyd geprojekteer, waarin die koning van die noorde die verpersoonliking van die Antichris word. Sy mag sal deur die koms van die Messias verbreek word (Dan. 11:45; kyk ook 2 Thess. 2:8 en Op. 19:19-20).

‘n Polarisasie van hierdie aard onder die Moslemstate is ‘n geruime tyd reeds aan die gang. Die noordelike groep is die radikale Moslemstate, terwyl die suidelike groep die gematigde state voorstel. Die radikale, militante state sluit Iran, Irak, Sirië, Afghanistan, Libië en ander in, terwyl Egipte, Saoedi-Arabië, Jordanië en ander die gematigdes is. Dié twee groepe gaan ‘n hewige militêre stryd teen mekaar voer:

“Maar in die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom in botsing kom, en die koning van die Noorde sal op hom afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe… Hy sal ook kom in die Pragtige Land [Israel] en baie laat struikel” (Dan. 11:40-41).

Hoewel sommige van die radikale en gematigde Moslemlande noue bande met mekaar het, sal hulle uiteindelik wél polariseer soos in die Bybel geprofeteer is.

Dubbele standaarde

Dubbele standaarde word nie net in die Moslemwêreld aangetref nie, maar ook in die Weste. Terwyl Amerika sekere Moslem-elemente beveg, bevriend hy hom weer met ander. In Washington het 28 Amerikaanse amptenare, hoofsaaklik voormalige diplomate na Arabiese en ander Moslemlande, ‘n brief aan mnr. Bush gekryf om die stigting van ‘n Palestynse staat te bespoedig. Hulle sê dat Amerika nie in vrede sal leef voordat die Palestynse staat ‘n werklikheid is nie. Dit is in elk geval Amerikaanse beleid om dié saak te bevorder en die hoogs revolusionêre PBO wat met Moslem-ekstremiste oor die hele wêreld bevriend is, in “Palestina” tot onafhanklikheid te lei.

Mnr. Tony Blair, die eerste minister van Engeland, het ook ná ‘n twee uur lange onderhoud met Jasser Arafat gesê dat die geleentheid nou aangegryp moet word om die Palestynse staat te stig. Sodoende skaar Amerika en Brittanje hulle tóg agter die vyande van Israel en voldoen aan een van die belangrikste eise van Osama Bin Laden, Saddam Hoessein en andere. Dit is ‘n uiterste vorm van dubbele standaarde wat gehandhaaf word!

Die omswaai van Rusland

Volgens Esegiël 38 sal Rusland (Gog, in die land Magog) ook met die noordelike, miltante sektor van die Arabies/Moslem konfederasie saamwerk en ‘n verrassingsaanval op Israel doen (Eseg. 38:3-8, 16). Onder Rusland se Moslem-bondgenote wat genoem word, is Persië (Iran), Togarma (Turkye), Put (Libië) en Kus (Ethiopië) [Eseg. 38:5-6]. Die huidige, positiewe standpunte van Rusland teenoor die VSA in sy stryd teen terreur sal dus nie vir baie lank voortgesit word nie. Dit is hoogstens ‘n rookskerm om hierdie land se ideologiese afkeer van Amerika en ook sy sterk verbintenis tot die stryd van die militante Arabiese en ander Moslemstate te verberg. Uiteindelik sal Rusland sy hulp aan laasgenoemdes verleen om Israel te probeer uitdelg en aan sy Moslem-vyande uit te lewer.

Die Here sê vir Abraham, wat sy fisiese nageslag [Israel] betref: “Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek” (Gen. 12:3). Die kiem van die Antichris se ideologie van haat en vernietiging is in haat teenoor Israel en die evangeliese Christendom geleë. Diegene wat hieraan meedoen, is onmiskenbaar op ‘n weg wat na sekere selfvernietiging sal lei. Almal wat Israel in die stryd teen sy fanatieke vyande steun, voer ‘n regverdige stryd waarin geregtigheid die hoofdoelwit is. Die Heilige van Israel sal hulle sekerlik seën.

Diegene wat Israel se ondergang probeer bewerk en op die verdeling van hulle land met die Palestyne aandring, sal die voorwerpe van God se wraak wees:

“Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle ‘n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het” (Joël. 3:1-2).

“En dit sal die plaag wees waarmee die Here al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond” (Sag. 14:12).

Die posisie van Suid-Afrika

Die vorige regering van Suid-Afrika het vriendskaplike betrekkinge met Israel gehandhaaf, en merkbaar as gevolg daarvan die seën van die Here geniet. Die huidige regering van die land is egter duidelik besig om homself al hoe meer met Israel se vyande te bevriend, naamlik met Iran, Irak, Libië, die Palestyne en ander. Die chaos, misdaad, moorde, korrupsie en ander euwels wat so duidelik in die nuwe Suid-Afrika floreer, is die onafwendbare gevolge wat intree as ‘n land sy rug op die Woord van God en die volk van God draai.

Terselfdertyd word ons poorte wyd vir die Moslemgeloof, asook vir multigodsdienstige denke in die algemeen, oopgegooi. Volgens berigte skenk Bin Laden se familie in Saoedi-Arabië miljoene rande aan die Islamic Propagation Centre International in Durban om die Moslemgeloof hier te bevorder. Hulle het onder meer reeds 100 000 Zoeloe vertalings van die Koran in Suid-Afrika versprei.

Misleidende steun vir die Koran

Hoewel Amerika ‘n geregverdigde stryd teen Moslem ekstremiste voer, maak sy politieke, akademiese en baie van sy geestelike leiers openlike kompromie met ‘gematigde’ Moslems en stel vir Allah en die Koran in ‘n goeie lig – selfs gelyk met die Bybel en die God van die Bybel. Allah is ‘n generiese term wat net die god beteken. Daar moet dus vasgestel word van watter ‘Allah’ die Koran praat voordat enigiets goeds van hom gesê word.

In sy boek ‘Who is this Allah?’ bewys G.J.O. Moshay dat ‘Allah’ bloot ‘die god’ beteken. Die oorsprong van hierdie term word teruggevoer na die pre-Islamitiese, politeïstiese afgodediens wat in Mekka beoefen is. Een van die 365 gode wat hier vereer is, was Allah, die familie-god van Mohammed. Hy het hierdie afgod tot die Skeppergod en Alleenheerser van die heelal verklaar. Hierdie godsdienstige magspel sal ook deur die Antichris (die eindtydse Koning van die Noorde) beoefen word. Hy sal homself “verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:4).

Die bewering dat die naam ‘Allah’ van Siriese oorsprong is en ‘n Joods/Christelike konnotasie het, word deur Moshay verwerp. Daar is ‘n fonetiese ooreenkoms, maar dit is ook al. Wanneer ‘n naam van God uit ‘n ander taal afgelei word, dan moet die volle betekenis van sy naam, asook sy gesag en metode van openbaring, behoue bly. In die geval van Islam het dit nie gebeur nie, want hulle aanbid nie die Drie-enige God wat Homself deur Abraham, Isak, Jakob, die profete, die Here Jesus en sy Woord geopenbaar het nie.

Die Moslems dien ‘n afgod wat ook deur Mohammed se pa, Abdoellah (Dienskneg van Allah) aanbid is – selfs nog voor Mohammed se geboorte. Nadat Mohammed van ‘n monoteïstiese godsdiens by sy Rooms-Katolieke vrou gehoor het, en ook by Siriese Christene, het die idee by hom posgevat om sy eie afgod se status tot dié van Oppergod te verhoog sodat die Arabiere hulle eie, unieke monoteïstiese godsdiens kon hê.

Hoewel Mohammed onder andere met ‘n Rooms-Katolieke en twee Joodse vroue getroud was, het hy nooit ‘n proseliet van die Christendom of Judaïsme geword nie. Hy het hierdie gelowe valse godsdienste genoem en hom ten doel gestel om hulle volgelinge vir Islam oor te wen.

Uit ‘n Christelike oogpunt is dit noodsaaklik om Islam as ‘n valse monoteïstiese godsdiens te sien, en dit glad nie as ‘n openbaring van die God van die Bybel te aanvaar nie. Marius Baar het 25 jaar lank sendingwerk onder die Moslems gedoen, en is ‘n kenner van die Koran en die Arabiese taal. Hy beskou Islam as ‘n ernstige vorm van misleiding. In sy boek ‘The unholy war’ (1980:64-65) sê hy:

“Op baie lewensterreine is ‘n gesindheid van verdraagsaamheid prysenswaardig. In die Westerse wêreld lei ‘n gees van verdraagsaamheid egter dikwels tot die aanvaarding van ‘n leuen in die plek van die waarheid. ‘n Voorbeeld van hierdie naïwiteit is die idee dat ‘Allah’ (die god van die Moslems soos in die Koran gedefinieer) en Jahweh (die self-openbarende God van die Ou en Nuwe Testamente) dieselfde God is. Hierdie idee word deur die Rooms-Katolieke publikasie ‘One God – all Brothers’ gepropageer. Niks is verder van die waarheid af nie.”

Op die Rotskoepel-moskee in Jerusalem is ‘n inskripsie wat lui: “Allah het nie ‘n Seun nie.” Dit is dus duidelik dat die Moslems self ten sterkste daarteen gekant is om hulle god met die Drie-enige God van die Bybel gelyk te stel.

Hoe sogenaamde Christen-lande soos Amerika ekstremistiese Moslemgroepe kan beveg wat deur die Koran geïnspireer word om terreurdade te pleeg, terwyl hulle terselfdertyd aan die Koran en sy valse god geloofwaardigheid gee, maak geen sin nie. Hierdie verkeerde insig wat deur baie Amerikaners én hulle president geopenbaar word, het reeds daartoe gelei dat hulle die idee van ‘n Palestynse staat binne-in Israel, asook die verdeling van die stad Jerusalem, ondersteun. Dit sal uiteindelik daartoe lei dat hulle tot hulle eie ondergang die rug op Israel draai.

Die Here sê: “In dié dag maak Ek Jerusalem tot ‘n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seer maak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word” (Sag. 12:3).

Amerika is só daarop ingestel om terreur te beveg dat hy besig is om die hulp van talle ‘gematigde’ Moslemlande te aanvaar, terwyl goeie opmerkings deur mnr. Bush oor hulle geloof gemaak word. Die meeste van hulle het in die verlede egter al oorloë teen Amerikaans-gesteunde Israel gevoer, en is dus glad nie so gematigd as wat hulle voorkom nie. Saoedi-Arabië is fanaties teen die Christendom gekant, maar steun die VSA se veldtog teen Bin Laden omdat laasgenoemde ook die Saoedi-regering se koppe eis om ‘n fundamentalistiese Moslem-regering in hulle plek te stel. Pakistan se militêre regering steun Amerika om sy skuld afgeskryf te kry, maar sit op ‘n kruitvat in sy eie land waar die meerderheid vir Bin Laden ondersteun.

Amerika én sy naïewe Westerse bondgenote stuur duidelik op ‘n dag van onheil af wanneer hulle ter wille van hulle ‘gematigde’ Moslem vennote Israel se Bybelse soewereinitiet oor hulle grondgebied, en ook die stad Jerusalem, sal prysgee. Hulle sal dit doen deur druk op Israel uit te oefen en dié land met die opskorting van alle hulp te dreig indien hulle nie hulle land en hoofstad met die Palestyne deel nie.

Wanneer dít gebeur, sal Israel se vyande wat al vir meer as 50 jaar lê en loer, saam met Rusland ‘n inval in Israel doen sonder die vrees vir Amerikaanse en Britse hulp aan die geïsoleerde Joodse staat. Dan sal hulle ‘n uitwissingsoorlog teen Israel voer met die oog daarop om ook Islam se heiligdomme vir altyd op die Tempelberg te bestendig.

‘n Wêreldvisie vir onheil en ongeregtigheid

Die hele wêreld is die teiken vir die uitbreiding van die Moslemgeloof, omdat alle nie-Moslems in die Koran as ongelowiges beskryf word. Vroeër of later sal hierdie onheilige oorlog die meeste mense op aarde regstreeks of onregstreeks raak, in ‘n poging om dié valse monoteïstiese godsdiens oral te vestig. Dit is betekenisvol dat die Antichris volgens Daniël 11 uit die gebied van die koning van die noorde (Irak en Sirië) sal kom. Hy sal homself egter groot hou bo elke god (Dan. 11:36; 2 Thess. 2:4), deurdat hy homself as die hoof van al die wêreldgodsdienste as universele messias aan die mensdom sal voorhou.

‘n Verdere agenda wat die koninkryk van die duisternis volg is om groot spanning, onsekerheid, oorloë, rampe, ellende, armoede, pessiektes deur middel van kiemoorlogvoering, asook die verbrokkeling van ou strukture, in die hand te werk. Individue én nasies se sekuriteit en stabiliteit moet verdwyn. Die omstandighede waaronder mense leef, moet onseker, vloeibaar en hoogs veranderlik word. In die proses moet probleme buite beheer raak.

Let op watter geweldige effek die huidige veldtog van die verspreiding van miltsiekte-kieme in posstukke het. Terwyl baie lande se posdienste en kommunikasiestelsels hierdeur ontwrig word, saai vrese vir dié dodelike kontaminasie paniek in sekere gebiede. Op ‘n posstuk met antraks-kieme wat in Amerika afgelewer is, kondig die afsender die dood van baie mense aan, en vra of hulle daarvoor bang is. Sy laaste drie stellings lui só: “Death to America. Death to Israel. Allah is great.” Hieruit alleen is dit duidelik dat die moordveldtog deur die Koran gemotiveer is, dat die uitwissing van Israel hulle einddoelwit is, en dat Amerika moet sterf omdat hulle Israel ondersteun en dit ook waag om op baie plekke teen Moslems te veg.

Die biologiese terroriste kan enige tyd op enige plek toeslaan om hulle vernietigingswerk te doen. Die vrees is ook reeds uitgespreek dat kieme deur die voedselketting en in water- en lugvoorsieningskanale versprei kan word. Hoe sal dít beheer of voorkom kan word sonder om elke drie treë ‘n polisieman aan diens te stel om oor almal se skouers te loer? Só ‘n groot en lomp polisiemag sal in elk geval maklik deur die vyand geïnfiltreer en lamgelê kan word.

Die Bybel sê op die aarde sal daar “benoudheid van nasies [wees] in hulle radeloosheid wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom” (Luk. 21:25-26). “Radeloosheid” beteken dat daar geen oplossing meer vir knellende probleme sal wees nie – veral op ekonomiese, gesondheids- en militêre terreine.

Krisissituasies soos hierdie sal uitgebuit word om die ideologie van globalisme te bevorder. Mense sal oral gedwing word om saam te staan en na ‘n nuwe oplossing vir wêreldvraagstukke te soek. In die proses sal die wêreld verenig word, ook in sy soeke na ‘n leier met wêreldhervormende vermoëns. Na hom sal opgesien word om die wêreld uit sy chaos te lei, ‘n dreigende derde wêreldoorlog af te weer en ‘n nuwe wêreldorde van universele eenheid in te stel. Hierdie eenheid moet polities, godsdienstig én ekonomies van aard wees.

Die persoon wat hierdie eenheid en valse vrede op aarde sal skep, sal uit die koninkryk van die duisternis kom. Dit sal die Antichris wees, in samewerking met die valse profeet (Op. 13). As deel van die nuwe internasionale hervormings sal Amerika sy leidende politieke, ekonomiese en militêre posisie as supermoondheid verloor, want die komende nuwe wêreldorde sal uit die Midde-Ooste en Europa beheer word. In hierdie ryk sal Jerusalem en Babilon baie prominent figureer. Die agteruitgang van Amerika, asook ander ekonomies sterk lande soos Japan, sal vir almal baie duidelik wees omdat dit die hele wêreldekonomie sal aftrek. Terselfdertyd sal Europa en die Midde-Ooste sterk na vore tree.

Dit is duidelik dat die koninkryk van Satan besig is om ‘n krisis van wêreldwye omvang te skep, en terselfdertyd ook aan ‘n valse oplossing daarvoor te werk. Sodoende sal sy oogmerk verwesenlik word om mense deur groot benoudheid en dreigende uitwissing saam te snoer, en dan ‘n regering van wêreldeenheid te skep waarin die Antichris mag sal hê oor elke stam en taal en nasie (Op. 13:7). Hierdie mag sal totaal demonies van aard wees, want die draak [Satan] sal aan die Antichris sy krag gee, en sy troon en groot mag (Op. 13:2).

Ontvlugting

Dit is vir Christene noodsaaklik om al hierdie verwikkelinge as tekens van die naderende koms van Jesus Christus te sien. Terwyl die spanning oral styg en die probleme krisisafmetings begin aanneem, moet ons ook weet dat ons verlossing naby is (Luk. 21:31).

“Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Wat is “al hierdie dinge wat kom”? Die Here Jesus het gesê: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matt. 24:21-22).

Ná die wegname van die gemeente (1 Thess. 4:16-17) sal die Antichris geopenbaar word en sy valse eenheid en vrede wat 3½ jaar lank sal duur, ‘n aanvang neem. Daarna sal hy homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar, waarna ‘n groot verdrukking van nog 3½ jaar sal verloop (2 Thess. 2:3-10; Matt. 24:15-21). Die einde van die Antichris se sewe jaar lange regering sal deur ‘n wêreldoorlog [die slag van Armagéddon] gekenmerk word, asook deur die openbare koms van Christus, sy heiliges en sy hemelse leërs om die vyand te verdelg, die oorblyfsel van Israel uit te red en sy koninkryk op aarde te vestig (Op. 19:19-21, Sag. 12:10; 14:4-5; Hand. 15:16-17; Op. 11:15).

“En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:29-30).

Dit is nie nou ‘n tyd om beswaar te word en deur die sorge van die lewe geestelik afgetrek te word nie, maar om vas te staan in die Here en profetiese begrip te hê vir die verslegtende wêreld waarin ons leef. Op die hoogtepunt van hierdie donker toestande sal die ware Vredevors, Jesus Christus, op die Olyfberg verskyn om sy vrederyk op aarde te vestig! Sal jy deel daaraan hê? Die keuse is joune!

Die Here Jesus het beloof om hom [of haar] wat na Hom toe kom, nooit uit te werp nie (Joh. 6:37). Genadetyd is besig om min te raak. Neem jou toevlug tot Hom terwyl dit ‘dag’ is, want Hy is barmhartig en genadig.