John Hagee se Foutiewe Aannames

John Hagee van San Antonio, Texas, is ‘n bekende TV prediker wat dikwels oor eindtydse gebeure soos die herstel van Israel, die wegraping, die Antichris en die verdrukking preke lewer en boeke skryf. Wat profesieë oor Babilon betref, het hy egter (soos Hal Lindsey en andere) in die slaggat van die vervangingsteologie getrap deur hoogs twyfelagtige en ongegronde gevolgtrekkings te maak. Volgens hom het Babilon nou skielik Rome geword, wat natuurlik beteken dat die pous die Antichris moet wees. Dit is nie duidelik hoe die Antichris die Assiriër (Jes. 10:12-14) en die koning van die Noorde (Dan. 11:36-45) genoem sal kan word indien hy uit Rome sou regeer nie.

As Babilon nie Babilon is nie, dan sal dit beslis ook nie Rome wees nie, want Rome is ook nie ‘n belangrike handelstad nie. John Hagee is egter nie konsekwent in sy verklaring vir Babilon nie. Een oomblik sê hy dat Rome die nuwe Babilon is, en die ander oomblik sê hy weer dat Irak Babilon is en dat die profesieë van Jeremia 50 in die Amerikaans-geleide oorlog, Operation Desert Storm, in 1990 vervul is. Dit is net ‘n patriotiese Amerikaner wat baie beïndruk met die wêreldhervormende rol van sy eie land is, wat sulke vergesogte bewerings kan maak. Dit is tog vir enigeen duidelik dat toestande soos dié wat in Jeremia 50:39-40 beskryf word, nie ná die 1990-oorlog in Irak geheers het nie!

Chiliaste moet net by die Bybel bly en glo dat dit letterlik vervul sal word. As die Bybel van Jerusalem of Babilon praat, dan praat dit van bekende stede en nie metafories van ander plekke nie. John Hagee is aanmatigend om Amerika met die vervulling van profesieë oor die vernietiging van Babilon te akkrediteer, want dit sal eers gebeur wanneer goddelike oordele in die komende dag van die Here oor die bose, antichristelike sentrum van die eindtyd uitgestort sal word.

Wat ons huidiglik op televisie sien, is Amerika se onvermoë om terrorisme in Irak te onderdruk, of om  vrede en voorspoed in daardie ontwrigte land te bring. Die Antichris sal hierdie ideaal vir ‘n kort tyd vervul nadat hy as “vredevors” deur al die misleide nasies van die wêreld aanvaar is. Dit sal eers ná die wegraping wees. Intussen sal Amerika net nog ‘n groter gemors van sy inmenging in die Midde-Ooste maak. Wat Amerika wél regkry, is om aan ons te wys dat nie eers die sterkste supermoondheid in die wêreld vrede en voorspoed in die Midde-Ooste kan bring nie. Daar sal ‘n vredevors met bonatuurlike vermoëns na vore moet tree om die mensdom onder sy leierskap te verenig en met volle internasionale samewerking grootskaalse veranderings en herstrukturering in Irak teweeg te bring.

John Hagee het die ekonomiese belangrikheid van Irak heeltemal onderskat toe hy gesê het dat hierdie land só agterlik is dat hulle nie eers ‘n trapfiets kan maak nie. Irak het die tweede-grootste oliereserwes ter wêreld ná Saoedi-Arabië, en selfs John Hagee en sy groot gemeente sal in die toekoms nie sonder hierdie ruolie kan klaarkom om hulle lang V8’s op die pad te hou nie. Hulle sal egter maklik sonder Rome en die pous kan klaarkom as hulle wil! (NS. Lees die artikel: “Babilon se herstel en verwoesting” op www.bibleguidance.co.za).

Ander besware

Die vraag kan gevra word: Waarom kritiseer ons John Hagee oor ‘n profetiese onderwerp waaroor daar verskillende vertolkings kan wees? Die antwoord hierop is dat sy beskouings oor Babilon nie sy enigste wanvoorstelling van die Woord van God is nie. As ‘n uitgesproke ondersteuner van Israel sou ‘n mens kon verwag dat John Hagee ook Joodse evangelisasie sou ondersteun. Hy doen dit egter nie, en maak die onbybelse stelling dat ortodokse Jode sonder die Messias gered kan word. In sy artikel, “The other gospel of John Hagee: Christian Zionism and ethnic salvation,” sê G. Richard Fisher onder meer die volgende:

Hagee het aan die Houston Chronicle gesê dat die Jode reeds ‘n verbondsverhouding met God het en dus nie na die kruis toe hoef te kom nie. Dit is skrikwekkende om so iets te hoor. Hagee het aan die koerant gesê: ‘Ek glo dat elke Joodse persoon wat volgens die wet leef, ‘n verhouding met God het en gered sal word.’ Dit is ‘n skokkende stelling, wat heeltemal in stryd met Christus se eie woorde is, toe Hy gesê het: ‘Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie’ (Joh. 14:6). Johannes skryf ook: ‘Wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie’ (1 Joh. 5:12). Paulus sou Hagee ook weerlê het: ‘Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe’ (Gal. 2:21). Paulus bevestig hierdeur dat niks wat die Ou Testament aanbied, sonder die dood van Jesus ‘n bestaansreg het nie.

“Die Houston Chronicle se artikel lui verder: ‘John Hagee glo dat Jode gered kan word sonder om deur Christus te kom. Hy sê: ‘Ek probeer nie om Jode tot die Christelike geloof te bekeer nie. Dit is ‘n mors van tyd om Jode te probeer bekeer. ‘n Jood wat sy wortels in Judaïsme het, sal homself nie tot die Christendom bekeer nie. Daar is nie ‘n vorm van Christelike evangelisasie wat so jammerlik misluk het as Joodse evangelisasie nie. Hulle het reeds ‘n geloofstruktuur. Enige iemand anders, of hulle nou Boeddhiste of Bahai’s is, moet in Jesus glo, maar Jode hoef dit nie te doen nie. Die Jode het reeds ‘n verbond met God, en dit is nooit deur die Christendom vervang nie,’ het hy gesê.

Hagee het voortgegaan om aan die koerant se verslaggewer te sê dat Paulus die idee verwerp het dat Jode na Jesus toe moet gaan, toe hy homself na die heidene gewend het.  Joodse evangelisasie, huidiglik én in die vroeë eeue, was egter nie ‘n mislukking soos wat Hagee beweer nie. Hiervan kan verskeie sendelinge getuig. Die Christelike Navorsingsinstituut het ook oor hierdie onbybelse beskouing van Hagee verslag gedoen: ‘Inligting wat uit ander bronne oor John Hagee verkry is, dui daarop dat daar ernstige verskille tussen hom en die meerderheid dispensasionaliste is omdat hy glo dat Jode nie gered hoef te word nie omdat hulle onder ‘n ander verbond is” (einde van aanhaling).

‘n Ander beswaar teen John Hagee is dat hy die voorspoedsevangelie verkondig. Hy beskou armoede as ‘n vloek en sê dat die Here Jesus ons aan die kruis van armoede verlos en die rykdomme van Abraham aan ons gegee het. Hy verdraai die beskrywings in die Evangelies skaamteloos deur vir Jesus in aardse terme as ‘n ryk man voor te stel. Hy sê: “Jesus was nie arm nie... Jesus het ‘n mooi huis gehad! Volgens Johannes 1:38-40 het Hy sy volgelinge genooi om saam met Hom te kom. Hulle het toe vir Hom gevra waar Hy woon, waarop Hy gesê het: “Kom kyk.” Hy het daarna die hele skare saam met Hom geneem en hulle het die dag in sy huis by Hom gebly. Dit beteken dat Hy ‘n groot huis gehad het. Jesus het ook mooi klere gedra. Volgens Johannes 19:23 het Hy ‘n naatlose kleed gedra. Romeinse soldate het aan die voet van die kruis gedobbel om dit te kon kry. Dit was ‘n ontwerperskleed wat so waardevol was dat hulle dit graag wou hê... Armoede word deur sonde en ongehoorsaamheid aan God se Woord veroorsaak... Armoede is ‘n vloek.”

Dit is nie moeilik om hierdie stellings uit die Bybel te weerlê nie. Aan ‘n skrifgeleerde wat vir Jesus wou volg, het Hy gesê: “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie” (Matt. 8:20). Hy het nie ‘n permanente tuiste gehad nie en het nie roem en gemak aan sy volgelinge gebied nie. Jesus het gesê dat dit vir ryk mense moeilik is om in die hemel te kom, omdat hulle op hul rykdom vertrou eerder as op die Here (Matt. 19:23). Hulle het op die Here Jesus en sy nederige lewenswandel neergesien en sodoende die rykdom van sy genade verbeur. Die ryk gemeentelede van Laodicéa het dit ook gedoen, en is as gevolg daarvan deur Christus as geestelik bankrot verklaar en verwerp (Op. 3:16-17). Jesus het aan sy dissipels gesê dat hulle nie skatte op aarde bymekaar moet maak nie, maar in die hemel (Matt. 6:19-20). Moenie deur die valse lerings van die voorspoedsevangelie meegesleur word nie! Ons kan nie twee here diens nie.

Ons het meer as ooit tevore geestelike onderskeidingsvermoë nodig om te verhoed dat ons deur die baie verkeerde leringe in die wêreld mislei word. ‘n Goeie kennis van die Bybel sal jou voetstappe weg van die paaie van sonde, ongeregtigheid en misleiding af lei (Ps. 119:101,133; Josua 1:7).