Gelykvormigheid aan die Beeld van Christus

Die Drie-enige God, Elohim, het tydens die skepping van die mens gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis” (Gen. 1:26). Hierdie gelykvormigheid het in die eerste plek op die geestelike aspek van die mens se bestaan betrekking. God is Gees (Joh. 4:24) en Hy het ‘n wese met ‘n onsterflike gees en siel gemaak, met wie Hy kan kommunikeer. As gevolg van die sondeval het die mens geestelik gesterf. Deur die wedergeboorte wil God egter die gevalle mens geestelik lewend maak, ten nouste met hom identifiseer en deur sy Heilige Gees in sy hart woon (Joh. 14:23).

Omdat die mens vir gemeenskap met God gemaak is, is dit nodig dat hy op geestelike en morele gebied al die verdorwe eienskappe sal aflê wat deur die sondeval teweeggebring is, en hom met die heilige natuur van God beklee (Ef. 4:22-24; Rom. 12:2). Hy moet dus op morele gebied soos God word, daarom sê die Here: “Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet. 1:16). Ander morele eienskappe van God wat ook nagestreef moet word, is liefde, goedheid, barmhartigheid, onpartydigheid, vergewensgesindheid en die haat van sonde.

Die gelykvormigheid aan God se beeld sluit egter nie sy unieke natuurlike attribute soos almagtigheid, alomteenwoordigheid, onnaspeurlikheid en alwetendheid in nie, daarom was die bedoeling nooit dat die mens ‘n klein godjie moes word nie. Die mens het vele beperkings op hierdie terreine en is van die Here afhanklik om sy swakhede te hulp te snel, hom met krag uit die hoogte te beklee en wysheid aan hom te verleen sodat hy deur sy genade vir elke goeie werk toegerus kan word (2 Tim. 3:17).

Die koms van Christus

Met die koms van Jesus Christus het ons ‘n praktiese voorbeeld gekry van hoe ons as kinders van God in ‘n sondige samelewing moet leef. Hy het nie net verlossing aan ons gebied nie, maar ook aan ons gewys hoe ons waardige volgelinge van Hom kan wees: “Soos julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel so in Hom” (Kol. 2:6; vgl. Fil. 2:15). Hoewel baie mense die verpligting tot ‘n heilige lewenswandel probeer omseil, behoort hulle dit nie te doen nie: “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Joh. 2:6). In sy hoedanigheid as Here is ons deur die geloof aan Hom verbind en word ons tot ‘n daaglikse lewe in Hom geroep. Hy het gesê: “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in Hom, hy dra veel vrug” (Joh. 15:5). Dit is die geheim van ‘n oorwinnende, vrugbare lewe.

Ons identifikasie met die Here Jesus is só intiem dat ons by sy Naam genoem word: “Die dissipels is in Antiochië vir die eerste keer Christene genoem” (Hand. 11:26). Verder word ons die gemeente of kerk van Christus genoem (Matt. 16:18; Hand. 20:28; Ef. 1:22;), asook gelowiges (Hand. 5:14; Gal. 3:22), heiliges (Ef. 1:1), kinders van God (Joh. 1:12), dissipels van Christus (Matt. 28:19; Joh. 8:31), volgelinge van Christus (Matt. 8:10), diensknegte van Christus (Matt. 24:45-51; Mark. 10:44-45; Luk. 19:13), lede van die liggaam van Christus (Rom. 12:5; Ef. 5:30), lede van sy bruidsgemeente (2 Kor. 11:2), en, ná ons vereniging met Hom, die vrou van die Lam (Op. 19:7); daarna, in die vrederyk, sal ons konings wees wat saam met Christus regeer (2 Tim. 2:12; Op. 5:9-10; 20:4).

Christenskap is ‘n veel hoër roeping as om ‘n lid van die uitverkore volk, Israel, te wees, daarom word Messiaanse Jode in die NT ook lede van die kerk van Christus. Daar moet geen verwarring tussen die begrippe “kerk” en “Israel” wees nie, want hulle verwys na verskillende groepe mense.

Joodse identiteit

Israel het as volk ‘n unieke roeping, samestelling en toekoms. Die verbond tussen hulle en God sluit ook ‘n toekomstige aardse koninkryk in die land Israel in, en hierdie beloftes is hoegenaamd nie op die kerk van Christus oordraagbaar nie. Daar is dus geen regverdiging vir die gebruik om Nuwe Testamentiese Christene as Jode, Israeliete, of die geestelike Israel te beskryf nie. Die ware of geestelike Israel (Rom. 9:6; Gal. 6:16) dui op geredde Jode, en is ‘n term om hulle van die natuurlike, ongeredde Jode te onderskei.

Jesus se Joodse identiteit staan in verband met sy menswording in die huis van Dawid in die stam van Juda. Dit beklemtoon sy menslike natuur en nie sy goddelike natuur nie. As God is Hy ver bo Israel verhewe, daarom moes Dawid, van wie Hy as mens afgestam het, Hom profeties Here noem (Matt. 22:41-45). Christus se koninkryk waartoe Hy mense roep, is veel hoër as die aardse koninkryk van Israel, omdat dit nie van hierdie wêreld is nie (Matt. 7:21; Joh. 18:36). Ons word lede van ‘n hemelse koninkryk as ons sy volgelinge word (nie van die volk Israel se koninkryk op aarde nie), daarom is ons burgerskap nie op aarde nie, maar in die hemel, van waar ons ook die Here Jesus Christus verwag (Fil. 3:20).

Die Messias het nie iemand in sy linie van aardse vaders (bv. Josef, Dawid of Abraham) aan ons geopenbaar nie, maar sy hemelse Vader. Hy het vir Filippus gesê: “Hy wat My gesien het, het die Vader gesien” (Joh. 14:9). Hy het ook gesê: “Ek en die Vader is een” (Joh. 10:30). Hy het ‘n hemelse eerder as ‘n Joodse identiteit wat Hy met ons wil deel.

Ons moet dus nie die fout maak om Jesus se aardse, Joodse identiteit na te streef deur Israel se godsdienstige gebruike te beoefen en onsself Jode of Israeliete te noem nie. Hy het nie gesê: “As jy My gesien het, het jy ‘n Joodse Messias gesien nie,” maar: “As jy My gesien het, het jy die Vader gesien.” Die beginsel van die mens se gelykvormigheid aan die beeld van sy Skepper is bepaal lank voordat daar ‘n Joodse volk was, en ons moet net dit nastreef. Paulus het vir Messiaanse Jode gesê dat hy in benoudheid oor hulle is “totdat Christus in [hulle] gestalte verkry” (Gal. 4:19). Dit het nie beteken dat hulle meer Joods moes word nie, want Christus was in die gestalte van God (Fil 2:6). “In Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik” (Kol. 2:9), en dit was die belangrikste openbaring wat Hy aan mense wou oordra.

Ernstige identiteitsverwarring, asook die gevaar van ‘n wettiese lewenswyse, tree in wanneer nie-Joodse gelowiges hulleself as Israeliete sien. Een van die redes vir die aanvaarding van ‘n Joodse identiteit is ‘n verkeerde opvatting oor die beeld van die olyfboom wat in Romeine 11 gebruik word. Die wortel en stam van hierdie boom is Christus, want Hy is die wortel en die geslag van Dawid (Op. 22:16). Net die takke van die olyfboom dui op die Jode, omdat die aartsvaders en hulle afstammelinge deur God geroep is om sy eie volk te wees wat heilig voor Hom leef (Lev. 11:44). Ons moet dus duidelik verstaan dat ons tydens ons redding in Christus ingeënt word en nie in Israel nie. Die olyfboom is ‘n soortgelyke beeld as die wynstok, waarvan die wortels en stam op Christus dui, terwyl die lote daarvan gelowiges uit verskillende volke is wat in Hom geënt is.

Die mak takke van die olyfboom (Israel as God se eiendomsvolk in die Ou Testament) is egter weens ongeloof afgekap. Hulle Joodse identiteit alleen het hulle nie gehelp om te kan oorleef nie – hulle móés in die Messias glo. Gelowiges uit die nie-Joodse nasies (takke van die wilde olyfboom) is in hulle plek ingeënt. Dit maak hoegenaamd nie eers by wyse van assosiasie van gelowiges uit die heidendom “Jode” of “Israeliete” nie; hulle word net Christene omdat hulle in Christus is. Ons weet dat die mak takke (Israel) in die eindtyd weer teruggeënt sal word (Rom. 11:23-24) nadat hulle die Messias as hulle Verlosser aangeneem het (Sag. 12:10; 13:9).

Alle gelowiges is, geestelike gesproke, een in die Messias omdat ons almal kinders van God is. Hoe moet ons die gemeenskaplike geestelike band tussen gelowiges van alle volke verstaan? Paulus sê: “Daar is nie Jood of Griek nie, daar is nie slaaf of vryman nie, daar is nie man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus” (Gal. 3:28). Dit beteken bloot dat Christus alle mense gelyk behandel, of hulle Jode of Grieke, ryk of arm, mans of vrouens is. In Hom is alle gelowiges broers en susters. Dit beteken egter nie dat kulturele, taalkundige, politieke, ekonomiese en geslagsverskille in menslike samelewings afgeskaf word nie. Aangesien die Here grense tussen die nasies gestel het (Hand. 17:26), behoort Christene nie hulle volks- en kulturele identiteit te verwerp nie. God maak nie van ‘n Griek ‘n Jood nie, omdat Hy niemand se etniese identiteit verander nie. Ons kulturele en taalkundige verskille sal tot aan die einde van hierdie bedeling bly voortbestaan (vgl. Op. 5:9-10; 7:9). Ten spyte van ons verskille moet ons nie op ander volke neersien nie aangesien ons, as begenadigdes van die Here, die evangelie van Jesus Christus aan alle ongereddes skuld – ook aan dié Jode wat steeds vir Jesus as Messias verwerp (Rom. 1:14-16). Waardeer die feit dat jy ‘n Afrikaner, Duitser, of Franse gelowige is – moenie jou eie identiteit verwerp en verkeerdelik meen dat jy ‘n Jood of Israeliet word omdat Jesus in ‘n Joodse samelewing gebore is nie. Hy is die Seun van God wat die lig van die hele wêreld is!

Wettisisme

Die gevaar wat daaraan verbonde is indien nie-Joodse gelowiges hulleself as Jode sien, is dat Israel se godsdienstige wette en tradisies deur sulke mense nagevolg word. Hulle gaan as’t ware onder die genade uit en stel hulleself weer onder die wet. Hulle begin om die sabbat te hou, blaas ramshorings, woon ortodokse Joodse feeste by waarop Jesus nie as Messias erken word nie, en woon selfs byeenkomste op Saterdae in die sinagoges by. Daar is selfs mans wat hulle laat besny omdat dit die Ou Testamentiese verbondsteken van Israel is.

Die feit is dat ‘n groot deel van Israel se godsdienstige gebruike net ‘n simboliese en skaduagtige betekenis gehad het, hangende die koms van die Messias in wie dit finaal vervul en derhalwe in hulle oorspronklike, skaduagtige vorm, afgeskaf is. Paulus sê dat die Joodse feeste, sabatte en verwante gebruike “’n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus” (Kol. 2:16-17).

Hoewel Jesus self hierdie skaduagtige gebruike gevolg het, was dit net in die tyd voordat hy gekruisig is en die hele wet vervul het. Die besnydenis, wat ‘n hooggeagte verbondsteken in Israel was, en ook deur Jesus ondergaan is, word ná sy kruisiging en opstanding as ‘n verwerplike daad van ongeloof in die volbragte werk van die Messias beskryf: “Ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie... Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 5:2,4). Waarom hierdie sterk waarskuwing? Paulus sê vir die Messiaanse Jode dat voordat Christus gekom het, hulle onder die wet in bewaring gehou is met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word. Die wet was dus hulle tugmeester na Christus toe. “Maar nou dat die geloof (in Christus) gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie” (Gal. 3:23-25).

Alle Ou Testamentiese wette, insluitende die sabbat én al die komplekse instellings wat aan die tempeldiens verbonde was, is in die Messias vervul. Sy Nuwe Testamentiese wet van die liefde gee uitdrukking aan die verhewe geestelike doelstellings van die wet, maar maak geen voorsiening daarvoor dat ‘n enkele een van die skaduagtige gebruike daarvan kon voortbestaan nie. Indien hierdie gebruike ná die koms van die Messias beoefen word, dan word Hy verloën.

Paulus het vir die Joodse Christene gesê dat hulle uit die laer van wettiese Judaïsme moes kom en die lydende Messias navolg, wat deur die mense wel gesmaad en verwerp is, maar wat by God uitverkore en kosbaar is: “Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra”  (Heb. 13:13). Die Jode wat God regtig wou dien, moes buitekant die kamp van ortodokse Judaïsme gaan, openlik met die verwerpte Messias identifiseer en sy smaad dra. Indien hulle nie geglo het dat Hy die beloofde Messias is wat van God af kom, en ook self God is nie, sou hulle in hul sondes sterf (Joh. 8:24). Die voortsetting van hulle offers, sabbatte en ander skaduagtige gebruike, in plaas daarvan om die Messias te aanvaar en te dien, sou hulle nie een tree nader aan die koninkryk van die hemel bring nie.

Christelike nasionalisme

Ons moet opleef na die hoë roeping van God in Christus Jesus (Fil. 3:14). In elke volk moet ons onsself vir Christelik-nasionale instellings beywer, bv. ‘n Christelike grondwet, Christelike onderwys, Christelike moraliteit, asook ander Christelike beginsels as riglyne vir mense se lewens. Elke volk moet dus ‘n Christelike volk word sonder om Israel of enige ander volk na te boots. Christelike beginsels het ‘n universele toepassing. In ‘n Messiaanse profesie oor Jesus sê God: “Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde” (Jes. 49:6). Die geestelike en kulturele beginsels van God se heil geld vir alle volke.

Hierdie Messiaanse beginsels geld ook vir Israel, maar tot dusver verwerp hulle dit as volk en hou aan die uitgediende skaduwees van die Ou Testament vas. In die oë van God het hulle geestelik nutteloos en verwerplik geword. Die Here sê: “Die huis van Israel het vir My skuim geword... Omdat julle almal skuim geword, kyk, daarom sal Ek julle binne-in Jerusalem bymekaarmaak... en met die vuur van my grimmigheid teen julle blaas... En julle sal weet dat Ek, die HERE, my grimmigheid oor julle uitgegiet het” (Eseg. 22:18-22). Skuim is lugborrels wat geen substansie het nie. Dit is soos die skaduwees van die wet, wat geen inhoud en betekenis meer het in die tyd nadat die Messias gekom het nie. Omdat Israel nog nie in die Messias die substansie ontdek het waarop die skadu’s van die wet dui nie, wandel hulle steeds in geestelike duisternis en stuur gevolglik op die tyd van Jakob se benoudheid af (Jer. 30:7).

Diegene wat hierdie gebruike nog in stand hou, is soos mense wat helder oordag met kerse rondloop en sê dat hulle vir die son wag om op te kom. Die son van geregtigheid, die Messias wat die lig van die wêreld is, het lankal gekom. Sommige mense onder Israel én die nasies is egter geestelik só verblind dat hulle Hom nie kan of wil sien nie. Ons moet met groot vrymoedigheid die Messias se reddende genade verkondig, ook aan Israel, want Hy wat die Seun nie het nie, het nie die lewe nie (1 Joh. 5:12).

Feeste

Wat die Joodse feeste betref, mag ons wél ‘n Christelike loofhuttefees vier, net soos wat ons ‘n Christelike Paasfees, ‘n Opstandingsfees op Sondae en ‘n Pinksterfees tien dae ná Jesus se hemelvaart vier. Hierdie feeste sentreer uitdruklik rondom die kruisiging en opstanding van Christus, asook die uitstorting van die Heilige Gees. Op ‘n Christelike loofhuttefees moet die wederkoms van Jesus Christus, die insameling van die oes onder al die nasies, asook die vestiging van sy koninkryk op aarde, sentrale temas wees. Ortodokse Joodse feeste en ander geestelike byeenkomste waarin daar verskeie mooi simboliese rituele en gebare is sonder om die vervulling daarvan in Jesus Christus te erken, kom prakties op die verloëning en verwerping van Jesus as Messias neer. Geen Christen mag enige deel in hierdie daad van ongeloof hê nie.

Ons kan Israel net jaloers maak, soos wat ons ook moet doen (Rom. 11:11), as ons God van harte dien deur die opstandingsfees van die Messias te vier (en dit het beslis nie op die sabbat gebeur nie) en só in die lig te wandel dat die blydskap en vrede van die Messias in ons gesien kan word. Jode wat ernstig is om die Here te dien, moet steeds buitekant die laer van Judaïsme na die verwerpte Messias kom as hulle waarlik geluk en vrede wil vind. Dan sal hulle Messiaanse Jode word wat deur die ortodokse Jode verwerp sal word, maar deur hulle voorbeeld sal baie ander uit die duisternis van ongeloof en wettisisme na die wonderbare lig van die Messias getrek word. In Hom alleen sal hulle waarlik vry wees van die las van sonde en die juk van die wet, omdat God se wet van liefde deur die Heilige Gees op die tafels van hulle harte geskryf sal wees.

Wil jy vir jou eie volk én vir Israel iets beteken? Wandel dan in die volle lig van die Messias, vervul jou roeping as ‘n getuie vir die Verlosser, en moet geen deel aan enigiets hê waardeur die Messias nie uitdruklik en regstreeks verheerlik word nie. Ons gaan spoedig voor Hom verskyn om rekenskap van ons lewens ná bekering te gee (2 Kor. 5:10).