Die Kenmerke van Ons Tyd

Prof. Johan Malan, Middelburg (Januarie 2007)

Ons leef in ‘n deurmekaar en verwarde wêreld sonder vaste morele beginsels en sterk leierskap in die samelewing. Meer as ooit tevore ontbreek daar duidelikheid oor basiese sake soos kulturele identiteit (wie is ek?), morele standaarde (hoe moet ek leef?), politieke ideologie (watter beleid is reg, bv. kapitalisme, sosialisme of pragmatisme?) en godsdienstige waardes (moet ek een van die tradisionele godsdienste aanvaar, agnosties wees of mistiese ondervindings uit die Ooste beoefen?).

Elkeen doen net wat hy of sy wil, en dit veroorsaak dat lede van die samelewing soos dwalende skape sonder ‘n herder is (Jes. 53:6). Salomo sê tereg: “Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spr. 16:25). Die Living Bible  sê: “Voor elke mens is daar ‘n breë en aangename pad wat volgens hom reg is, maar dit eindig in die dood.” Die meeste mense gaan té laat agterkom dat hulle op die verkeerde pad was.

Die volgende is ‘n aantal belangrike kenmerke van ons tyd:

Postmodernisme

Sedert die laaste dekade van die vorige eeu het postmodernisme as ‘n filosofie en leefwyse vinnige inslag in baie wêrelddele gekry. Die direkte gevolg van hierdie ideologie is ‘n gebrek aan duidelike doelstellings in die lewe, ‘n egosentriese lewenswyse wat op persoonlike smaak gebaseer is, en uiteenlopende geestelike sienings as gevolg van ‘n pragmatiese en subjektiewe beoordeling van godsdiens. Alle vaste strukture en duidelike ideologieë wat deel van die moderne tydperk was, insluitende die Christelike beskawing se verbintenis tot die Bybel – waarby inbegrepe was Christelike grondwette, Christelike onderwys en die bevordering van Christelike beginsels in die samelewing – is oorboord gegooi. In die plek daarvan het nuwe kulturele gebruike gekom waarin alle individue hulle eie lewenstyl bepaal wat nie noodwendig met die Bybel, met sosiale standaarde of met familie-tradisies ooreenstem nie.

‘n Sleutelbegrip in postmodernisme is “dekonstruksie.” Dit beteken dat die ou samelewingsorde afgebreek moet word omdat dit nie meer vir die postmoderne mens aanvaarbaar is nie. Die probleem is egter dat niks konkreets in die plek daarvan kom nie. Elke mens word volkome vry verklaar om sy eie lewenswyse te bepaal. Dit bevorder ‘n eklektiese lewenspatroon waarin elkeen sy eie kombinasie van instellings en gebruike bepaal.

Hierdie nuwe denkpatroon lei gewoonlik godsdienstig tot ‘n baie liberale vorm van die Christendom waarin alles net om die mens en sy sekulêre belange gaan. Baie mense verkies egter om agnosties te wees en nie regtig in iets bonatuurliks te glo nie. Ander verval weer in intergeloofsdenke waarin hulle gebruike uit verskillende godsdienste met mekaar vermeng. Sulke mense probeer selfs om die Oosterse en Afrika-gelowe met die Bybel te versoen op grond van ‘n aanname dat almal dieselfde God aanbid.

Ander lewensterreine pas by hierdie deurmekaar styl aan. Volksgrense word nie meer eerbiedig nie, so ook nie Christelike huwelike nie en selfs nie eers basiese idees oor die mens se biologiese identiteit nie. Die gevolg van laasgenoemde is dat homoseksualiteit in die postmoderne samelewing aan die orde van die dag is.

Die nuwe wêreldorde

Uit die puinhope van die ou orde wat in die proses is om heeltemal afgebreek te word, verrys daar nou ‘n nuwe wêreldorde van internasionale eenheid, of globalisme. Dit het die volgende belangrike implikasies:

·       Nasionalisme word deur internasionalisme vervang. Dit word as outyds, eng en verdelend beskou om jou aan “uitgediende” volksgrense of grense van nasionale eenheid gebonde te ag. Die mens moet vir homself breër horisonne skep. Nasionale identiteit moet eers deur ‘n groter streeksidentiteit vervang word. Almal in Europa moet hulleself Europeërs noem, eerder as Engelse, Franse, Duitsers, ens. Hulle moet al hoe meer magte aan die Europese regering oordra en verkieslik ook net van ‘n Europese geldeenheid en ‘n Europese paspoort gebruik maak. Sodoende moet die grense tussen lande geleidelik verdwyn soos wat hulle in die superstaat opgaan. Op dieselfde manier moet daar ook Afrika-eenheid, Amerikaanse eenheid, Asiatiese eenheid en Midde-Oosterse eenheid geskep word. Die einddoelwit is egter dat al die streke in ‘n wêreldstaat opgaan waarin alle lande en kontinente polities verenig word om onder die beheer van ‘n enkele regering te staan. Niemand moet die mag of reg hê om op die plaaslike vlak van die wêreldregering se beginsels en doelstellings af te wyk nie.

·       Die wêreldekonomie moet sentraal beheer word. Om dit te kan doen, moet daar eers ‘n wêreldregering met uitvoerende magte wees. Ter wille van meer doeltreffende beheer moet daar ook ‘n kontantlose stelsel van geldoorplasing wees wat sentraal beheer word. Só ‘n stelsel kan gebruik word om alle finansiële transaksies én bewegings van ekonomies aktiewe persone te monitor. Die vryhede van mense sal hierdeur aansienlik beperk word. Die rekenaartegnologie vir só ‘n stelsel is reeds ontwikkel.

·       Grense tussen verskille gelowe moet versag word. Daar word redelik algemeen deur voorstanders van ‘n nuwe wêreldorde geredeneer dat daar ‘n mistiese, godsdienstige broederskap tussen alle mense geskep moet word sodat dit as die grondslag vir ander vorms van eenheid kan dien. Die intergeloofsbeweging is uit hierdie gedagte gebore. Hulle uitgangspunt is dat alle gelowe dieselfde God aanbid, en dus veel by mekaar kan leer oor hoe om God beter te verstaan en te dien.

·       Kosmiese eenheid die einddoel. In verskeie Nuwe Era groepe word die idee gehuldig dat kosmiese eenheid die einddoel van die nuwe wêreldorde is. Volgens hulle is die rede vir die mens se groepsgebondenheid en eng denkpatroon die feit dat hy nog nie by die groter kosmiese werklikheid ingeskakel is nie. Hulle leer mense om deur transendentale meditasie en ander vorms van kontemplasie ‘n nuwe spiritualiteit te ontwikkel wat multigodsdienstig en misties is. Dit werk glo gevoelens van eenheid en vrede tussen alle mense in die hand.

·       Kultuur moet eklekties bepaal word. Kulturele verskeidenheid in die wêreld word aanvaar, maar dit moet nie eng beoefen word nie. Daar word eerder ‘n geleidelike samevloeiing van kulture voorgestaan. Westerlinge word bv. aangemoedig om hulle materialisme, koue, logiese denke en besige lewenswyse deur middel van Oosterse meditasie aan te vul. Dit word ter wille van ontspanning en ‘n nuwe selfbewussyn gedoen. In postmoderne denke is dit mode om volgens eie smaak jou kapitalistiese leefwyse met aspekte van Boeddhisme, Hindoeïsme, Afrika-spiritisme of ander tradisies te vermeng.

Die dae van Noag en Lot

Die Bybel stel dit duidelik dat dit in die eindtyd soos in die dae van Noag en Lot sal wees (Luk. 17:26-30). Wat was die kenmerke van daardie tyd? “Die boosheid van die mens op die aarde was groot en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg... En God sê vir Noag: Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld. En kyk, Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg” (Gen. 6:5,13). In Lot se tyd was sodomie die ergste vorm van boosheid by die mense: “En hulle het na Lot geroep en aan hom gesê: Waar is die manne wat vandag na jou gekom het? Bring hulle na ons toe uit, dat ons hulle kan beken” (Gen. 19:5). Die Living Bible sê oor hierdie insident: “The men of the city – yes, Sodomites, young and old from all over the city – surrounded the house and shouted to Lot: Bring out those men to us so we can rape them. Lot stepped outside to talk to them: Please fellows, he begged, don’t do such a wicked thing.”

Is die tye van Noag en Lot nie absoluut kenmerkend van ons tyd nie? Die groot meerderheid mense is uitermate boos en bedink altyd net slegte dinge. Hulle vervul die wêreld met geweld en alle denkbare vorms van misdaad, tot so ‘n mate dat daar van ‘n internasionale sondekultuur gepraat kan word. Dit is volledig geopenbaarde humanisme. Aggressiewe en skaamtelose homoseksualiteit is deel van die moreel erg vervalle mensdom van die eindtyd. Die geweldenaars en immorele mense kry ook beheer oor regerings, laat boosheid openlik toe en beskerm ernstige misdadigers deur die doodstraf af te skaf. Hulle laat sodomiete toe om te trou, en maak sodoende ‘n bespotting van God se instelling van die huwelik.

In só ‘n samelewing is daar geen agting vir God en sy Woord nie. Dit is waarom God se oppergesag in die meeste lande se grondwette nie erken word nie. Suid-Afrika is een van baie lande wat die Christendom nie meer amptelik erken en van staatskant af navolg nie. Om begryplike redes sal sulke lande en gemeenskappe hulle nie aan die Here se waarskuwings oor komende oordele steur nie. Die oordele sal hulle dus onverwags oorval. In die dae voor die vloed het hulle die waarskuwings van Noag “nie verstaan voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees” (Matt. 24:39). Die wêreld is in ‘n soortgelyke situasie – nie alleen as gevolg van die mensdom se boosheid nie, maar ook weens onkunde oor God se naderende oordele.

By die eindtydse mensdom is daar nog die verswarende omstandigheid dat hulle die Bybel het wat nie net die weg tot saligheid duidelik uiteensit nie, maar ook die volle implikasies van volhardende goddeloosheid. Wat laasgenoemde betref, gaan die geestelik verharde mensdom deur hulle eie toedoen op die randjie van algehele uitwissing te staan kom. Die Here Jesus het gesê: “Dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matt. 24:21-22).

Jesaja het lank voor die tyd reeds oor dieselfde oordele geprofeteer wat oor die eindtydse mensdom sal kom en grootskaalse verwoesting saai: “Kyk, die Here maak die aarde leeg en verwoes dit, en Hy keer sy oppervlakte om en verstrooi sy bewoners... Die aarde word heeltemal leeg gemaak en heeltemal geplunder, want die Here het hierdie woord gespreek... Want die aarde is ontheilig onder sy bewoners: want hulle het die wette oortree, en die insettinge geskend, die ewige verbond verbreek. Daarom verteer die vloek die aarde en moet sy inwoners boet; daarom word die bewoners van die aarde deur ‘n gloed verteer en bly daar min mense oor” (Jes. 24:1,3,5-6).

‘n Verdere vergelyking tussen ons tyd en dié van Noag en Lot is dat die Here eers die regverdiges beveilig voordat Hy sy oordele op die goddeloses uitstort. Noag, Lot en hulle gesinne was nie vir die oordele van hulle tyd bestem nie, en vir dieselfde rede is die gelowiges van ander tye ook nie vir God se oordele bestem nie. Ons word wél vervolg deur ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê, maar nooit deur God geoordeel nie. Om hierdie rede het die Here Jesus gesê: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36).

Swak en arrogante leierskap

Die eindtyd word nie net deur leiers gekenmerk wat swak en onbevoeg is nie, maar hulle is ook arrogant omdat hulle nie die Woord van God in ag neem en daarvolgens handel nie. Sonde en ongeregtigheid floreer onder hulle bewind omdat hulle doen net wat hulle wil. Mettertyd word hulle tiranne wat dink hulle is onaantasbaar – soos klein godjies. Dit is presies wat die Antichris ook sal doen. Hy is “die mens van sonde... die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:3-4).

Hierdie tiranne en hulle bose volgelinge sal in die komende verdrukking deur die Here verneder en neergewerp word: “Kyk, die dag van die Here kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde ‘n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg... Ek sal aan die wêreld sy boosheid besoek, en aan die goddelose hulle ongeregtigheid; en Ek sal die trots van die vermeteles laat ophou en die hoogmoed van tiranne verneder. En Ek sal sterwelinge skaarser maak as fyn goud, en mense as goud van Ofir” (Jes. 13:9-12).

Die tyd van Noag en Lot, asook die eindtyd, is nie net tye van groot morele en geestelike afvalligheid nie, maar ook tye waarin die Here regstreeks in die sake van die mensdom ingryp om die regverdiges uit te red en die goddeloses te straf. In ‘n tyd soos hierdie word dié wat vuil is nóg vuiler, en moet die heiliges nóg heiliger word (Op. 22:11). As volgelinge van die Here Jesus is dit ons plig om ons van die afvalliges en kompromiemakers te distansieer.

Die kerk van Laodicéa

‘n Baie algemene kenmerk van ons tyd is dié van geestelike selfmisleiding in afvallige kerke. Mense staan in die algemeen sterker op hulle standpunte, of dit dwalings is of nie, en verdedig dit met groter geesdrif. Die gevolg is dat minder mense ‘n leerbare gees het en dit al hoe moeiliker raak om hulle van standpunt te laat verander. Die meeste persone verklaar hulleself salig, óf sluit by kerke met lae geestelike en morele standaarde aan, waar predikante hulle sonder ‘n duidelike getuienis van wedergeboorte salig verklaar.

Uit hierdie afgewaterde evangelie van eiegeregtigheid groei die eindtydse kerk van Laodicéa. Hulle roem in hul eie prestasies en sê: “Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie” (Op. 3:17). Hulle rykdom blyk uit hulle hoë inkomste, groot, katedraalagtige kerke, hoogs geleerde predikers, groot lidmaattalle, hoë aansien in die samelewing, en die groot waarde wat aan kerklike ampsdraers en kerklike rituele geheg word. Dit word as voldoende vir saligheid beskou, daarom word kerklidmaatskap, eerder as Jesus Christus, as die poort gesien wat na die hemel lei.

“Laodicéa” beteken “Menseregte” en is ‘n aanduiding dat hierdie kerk meer op die mens en sy regte as op die eer van die Here en ‘n lewende verhouding met Hom deur die Heilige Gees ingestel is. Hulle verbintenis tot die bevordering van menseregte word só ver gevoer dat hulle selfs die sonde van homoseksualiteit aanvaar en weier om dit as ‘n gruwel in die oë van die Here te beskou. Die politieke regte en sosio-ekonomiese omstandighede van mense word as só belangrik beskou dat hierdie kerk maklik by humanitêre programme vir die verbetering van mense se alledaagse lotgevalle betrokke raak. Min of geen klem word op mense se geestelike lewe geplaas nie.

Wat sê die Here Jesus van hierdie misleide kerk? “Jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (Op. 3:17). Vir hierdie dooie vormgodsdiens waarin mense op ‘n misleidende wyse salig verklaar word, is daar net een oplossing en dit is dat die misleides tot bekering sal kom en die deur van hulle harte vir die Here Jesus sal oopmaak. Hy sê: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My” (Op. 3:20).

Koninkryk-nou

Misleide gelowiges het nie ‘n sterk ingesteldheid op die hiernamaalse lewe en die openbaring van Christus se koninkryk tydens sy wederkoms nie. Hulle wil hier en nou ‘n koninkryk hê waarin hulle al die seëninge van rykdom, heerskappy oor die mensdom, vrede op aarde en probleemvryheid op alle terreine kan geniet. Dit is waarom hulle transformasie-byeenkomste het om die koninkryk in te stel, asook strategiese geestelike oorlogvoering om Satan van alle mag wat hy op aarde het, te ontneem. Hulle aanvaar gladnie die feit dat ons nou vreemdelinge en bywoners in ‘n wêreld is wat in die mag van die Bose lê nie, en kan ook nie die duidelike uitsprake aanvaar dat Christene in hierdie bedeling vervolg sal word nie (Joh. 15:18-20; 16:33; Hand. 14:22; 2 Tim. 2:3; 2 Tim. 3:12; 1 Pet. 4:12-13).

Koninkryk-nou aanhangers glo dat die wêreld as gevolg van hulle eie geloof en al hulle pogings ‘n beter plek sal word totdat die koninkryk ten volle geopenbaar is. Hulle aanvaar nie Bybelse profesieë wat sê dat die wêreld al hoe slegter word en op die openbaring van die Antichris as die mens van sonde afstuur nie (2 Thess. 2:3; 1 Tim. 4:1; 2 Tim. 3:1-5). Hulle glo ook nie dat daar aan die einde van hierdie bedeling ‘n groot verdrukking gaan wees nie (vgl. Matt. 24:21-30; Luk. 21:25-27), en hulle verwerp die belofte van die wegraping as ‘n ontvlugting van ware gelowiges uit die komende verdrukking (Luk. 21:36; 1 Thess. 4:16-17). In koninkryksteologie word die mens, asook sy belange, geluk en voorspoed, voorop gestel. Die Here se Woord word verdraai om hierby aan te pas.

‘n Ander Jesus

Dit is kenmerkend van die eindtyd dat die godheid van die Here Jesus, wat saam met die Vader en die Heilige Gees een van die ewige en selfbestaande Persone van die goddelike Drie-eenheid is, toenemend ontken word. Hiermee saam word ook sy maagdelike geboorte ontken, sodat Hy as ‘n blote mens voorgestel word wat net ‘n groot profeet was. Op hierdie manier word Hy nie net vir sondaars meer aanvaarbaar nie, maar ook vir ander gelowe, en kan Hy selfs ‘n rol as die universele Messias van alle gelowe speel. Dit kan egter net gebeur as Hy só ver in status verlaag word dat Hy as ‘n volgeling van Mohammed en ‘n verpersoonliking van Boeddha voorgestel kan word. Die sondaars stel Hom in godslasterlike Hollywood-films soos Jesus Christ Superstar, The Last Temptation of Christ en Jesus of Montreal as ‘n tipiese sondaar voor.

Dit is verbasend dat daar selfs baie Christelike teoloë is wat Jesus Christus se godheid en maagdelike geboorte ontken. Hulle noem Hom net Jesus, asof Hy hulle gelyke is, en nie Here Jesus soos wat die apostels Hom meesal ná die uitstorting van die Heilige Gees en die volle openbaring van sy godheid genoem het nie. Vir baie mense is Jesus steeds net die seun van Josef en Maria, en kan hulle nie onder die leiding van die Heilige Gees vir Hom sê: “My Here en my God!” (Joh. 20:28), soos wat Thomas en andere gedoen het nie.

Die Joodse leiers het dieselfde probleem gehad en wou nie erken dat Jesus ook God is nie. Hulle wou Hom stenig omdat Hy Homself met die Vader gelykgestel het: “Die Jode antwoord Hom en sê: Dit is nie oor ‘n goeie werk dat ons U stenig nie, maar oor godslastering, en omdat U wat ‘n mens is, Uself God maak” (Joh. 10:33). Hulle het Jesus se hemelse oorsprong verwerp en wou Hom nie as Seun van God of God self wat een met die Vader is (Joh. 10:30; 14:8-9), aanvaar nie. Hulle het Hom slegs as ‘n mens soos hulle gesien, wat in Betlehem gebore is. Die Here Jesus het Homself egter as die ewige EK IS aan hulle voorgestel: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek” (Joh. 8:58). Dit was van groot belang om sy godheid te erken, want daarsonder kan niemand gered word nie. Christus het gesê: “As julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe” (Joh. 8:24). Die Modern King James Version vertaal hierdie twee tekste tereg só: “If you do not believe that I AM, you shall die in your sins... before Abraham came into being, I AM!”

Die groot beweegrede agter die eindtydse veldtog teen die Here Jesus se godheid is ‘n postmodernistiese proses van dekonstruksie waarin Hy van sy Bybelse identiteit en goddelike attribute gestroop word in ‘n poging om iemand anders in sy plek as “Jesus” of “die Christus” te aanvaar. Die Jode is lankal reeds teen hierdie soort misleiding gewaarsku, toe die Here Jesus vir hulle gesê het: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43).

Die miljoene misleides onder die nie-Joodse nasies sal dieselfde doen. Hulle sal ook ‘n verbond met die valse Messias sluit (Dan. 9:27), verwonderd agter hom aangaan en hom aanbid (Op. 13:3-4). Hulle sal die groot misleier van Satan navolg omdat hulle sal dink dat dit die ware Christus is. Om mense te kan mislei om iemand anders in Christus se plek as die kosmiese Christus van alle gelowe te aanvaar, moet Jesus se beeld eers verander word en ‘n beweerde band van broederskap valslik tussen alle gelowe aangetoon word. In die proses kry oningeligte mense die krag van die dwaling om die leuen te glo (2 Thess. 2:11) en sal hulle met Satan se vervalser ‘n verbond sluit.

Wat ons nou in die wêreld beleef, is ‘n intensiewe dekonstruksieproses om die Here Jesus se Bybelse beeld só te verander dat Hy in ‘n verenigende sin as die Messias van alle gelowe voorgehou kan word. Hy word ook toenemend van sy kruis en die stort van sy bloed vir die verlossing van ons sonde losgemaak. Daar word deur ‘n bril van positiewe denke na Hom gekyk, wat tot gevolg het dat alles wat as negatief beskou word – bv. sy kruis en die oordeel van God oor sonde – weggelaat word asof dit geen belangrik rol vervul nie. Jesus word net as ‘n vredemaker voorgestel, wat gekom het om die mensdom van al sy ellendes soos armoede, diskriminasie, verwerping deur ander en politieke verdeeldheid te verlos. Vir hierdie mense het Hy ‘n nuwe samelewingsorde kom instel waarin almal gelukkig is en in vrede leef.

Die skokkende feit is dat daar verskeie Christelike groepe en kerke is waarin daar reeds tot só ‘n mate onder die aanstigting van die duiwel ‘n “ander Jesus,” ‘n “ander evangelie” en ‘n “ander gees” verkondig word (2 Kor. 11:2-4), dat hulle onbewustelik wegbereiders vir die “ander Jesus” van die eindtyd is – dit is die Antichris. Wanneer hierdie misleier op ‘n wit vredesperd kom om die wêreld te seën, te verenig en tydelik uit ‘n dreigende wêreldoorlog te red (Op. 6:2), sal feitlik almal hom as “die Christus” aanvaar en verwonderd agter hom aangaan (Op. 13:3). Hulle sal hom ook aanbid (Op. 13:4).

Mense wat die Here Jesus se beeld só verander het dat dit met dié van die Antichris ooreenstem, glo uit die aard van die saak nie dat daar ‘n persoonlike Antichris kom nie. Hulle profetiese perspektief is totaal verwronge, en hulle soek na ‘n aardse koninkryk onder die leiding van die universele messias van alle gelowe. Hulle besef nie dat hy die Antichris sal wees nie.

Ware Christene kan geen deel in die valse voorstelling van die Here Jesus hê deur Hom van sy godheid en maagdelike geboorte te ontneem nie, want dan het ons nie ‘n Verlosser uit die hemel nie. Paulus sê Hy is “die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus” (Tit. 2:13). Petrus sê dat Jesus Christus  “onse God en Saligmaker” is (2 Pet. 1:1) en Johannes sê “Hy is die waaragtige God en die ewige lewe” (1 Joh. 5:20). Ons kan ook nie die groot betekenis van sy kruisdood verswyg nie. Saam met Paulus moet ons sê: “Ek het my voorgeneem om niks ander onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde” (1 Kor. 2:2).

Nugtere denke en koersvastheid

As ons nie mislei wil word nie, moet ons sorg dat ons die Bybel goed ken. Alle aansprake moet in die lig van Bybelse stellings getoets word. “Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus” (1 Pet. 1:13).

Bybelse profesieë oor die eindtyd help ons om te verstaan wat in die wêreld aangaan, daarom hoef ons nie in die duisternis te wandel en op Satan se dwaalweë te beland nie: “Ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn” (2 Pet. 1:19). As ons in die lig van God se Woord wandel, sal ons nie links of regs van die smal weg afwyk nie en met goeie gevolg handel oral waar ons gaan (vgl. Jos. 1:7).

Moenie op prinse vertrou en vriende, familie of kollegas probeer behaag nie, maar wees in alle opsigte navolgers van die Here Jesus: ”Word nie aan hierdie [verdorwe] wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom. 12:2).

Onthou dat ons na ‘n hemelse bestemming op pad is en verantwoording van ons lewens voor die regterstoel van Christus moet doen (Rom. 14:10-12). As ons ‘n sterk wederkomsverwagting het, sal ons nougeset en heilig leef (1 Joh. 3:2-3). As ons wederkomsverwagting verflou of verdwyn, dan vergeet ons ook wie die Here van ons lewe is. Sulke mense raak arrogant en verval in ‘n vleeslike leefwyse: “As daardie slegte dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom – en hy sy medediensknegte begin slaan en saam met die dronkaards begin eet en drink, dan sal die heer van dié dienskneg kom op ‘n dag dat hy dit nie verwag nie... en sal hom pynig en hom ‘n deelgenoot van die geveinsdes maak” (Matt. 24:48-51).

Ons leef in ‘n wêreld waarin die meerderheid mense nog altyd die Here Jesus en sy Woord verwerp en hulle eie paaie bewandel (Joh. 3:19). Die groot uitdaging voor ons is nie net om hard te stry om deur die nou poort in te gaan nie (Luk. 13:23-24), maar om daarna ook elke las af te lê én die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop te loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof (Heb. 12:1-2).

Die bose kenmerke van ons tyd bied geen verskoning aan Christene om hulle standaarde te verlaag en aan die wêreld gelykvormig te word nie. Ongelukkig is daar baie gelowiges wat aan sonde meedoen en daardeur hulle eie geestelike lewe ondermyn. Die Here Jesus het gesê: “Omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matt. 24:12). Moenie toelaat dat dit gebeur nie.